Om hoog en laag by menseregte te sweer

Januarie 20, 2011 in Sonder kategorie

My jongste rubriek in Die Burger (wat ook op Sol Iustitiae gelees kan word):

Ek dink “menseregte” verwys na iets wat ons nie aan medemense toeken nie, maar bloot in hulle herken. Almal het hierdie regte, ongeag of andere dit respekteer.

Ons is sekere dinge aan mekaar verskuldig, of ons dit erken of nie. Ek beskou menseregte as “objektief”; ek huldig ’n “hoë” siening van menseregte.

Hierdie siening is tans uit die mode. Hoewel baie oor menseregte gepraat word, is dit meestal asof menseregte slegs bestaan as dit wetlik erken of as daarvoor geveg word. Voor- én teenstanders van menseregte deel hierdie soort menseregtetaal.

’n Mens sien dit in konserwatiewe klagtes dat mense “te veel regte” het, maar ook in die uitlatings van ’n regeringsverteenwoordiger wat meen Suid-Afrika en China word albei gekonfronteer met die “probleem” van menseregte wat “in die pad staan” van transformasie-agendas, asook in die manier waarop party akademici oor die menseregte-“konstruk” teo­re­ti­seer.

Die implikasie is dat menseregte “subjektief” is. Daaruit volg ’n “lae” siening van menseregte. Dit open die moontlikheid om menseregte as ’n slegte idee te beskou – asof dit beter sal wees om nie iets soos menseregte te erken en sodoende te skep nie.

In sommige gevalle hanteer voorstanders van die “lae” benadering ’n strenger menseregtemaatstaf as waarmee ’n voorstander van die “hoër” benadering gemaklik kan wees, byvoorbeeld wanneer kritiek op ’n standpunt gelewer word en mense dan terugkap met dié beswaar: “Wie is jy om andere se denke te kritiseer? Is elkeen nie geregtig op sy standpunt nie?”

Dieselfde word oor mense se optrede gesê: “Hoe durf jy die optrede van mense wat sus of so doen, bevraagteken? Hulle het tog die reg om self te besluit.”

Ek snap nie die logika van sulke besware nie. Natuurlik is ons almal op ’n mening geregtig, maar dit beteken nie ons mening  is korrek nie.

As jy my siening kritiseer, beteken dit nie jy ontneem my die reg om dit te huldig nie. Die reg op ’n mening sluit die reg op ’n verkeerde mening in, en die reg op spraakvryheid die reg om daardie mening verkeerd te noem.

So ook my reg om te doen wat ek wil (mits ek nie andere se regte aantas nie): Dat ek die reg het om soos ’n skoorsteen te rook, my salaris uit te dobbel of ’n verwerplike skinderblad te publiseer beteken nie dit is ’n goeie idee om dit te doen of dat niemand my mag kritiseer nie.

Net so min soos my reg op ’n mening daardie mening waar maak, maak my reg op eie lewenskeuses daardie keuses verstandig.

Miskien hang die weiering om hierdie elementêre punt raak te sien in ’n selfs radikaler relativisme as die “lae”, “subjektiewe” menseregtebegrip.

Nie net die “objektiewe” werklikheid van menseregte nie, maar selfs waarheid en goedheid as sodanig word nie meer erken nie.

Dan word die onderskeid tussen wat jy mag glo en wat waar is, of tussen wat jy mag doen en wat verstandig is, betekenisloos. Jou reg om iets te dink of te doen, maak dit dan ook waar en goed.

Vir die mens van ons tyd (dit is nou ons almal) is die hoogste goed om jou lewe te beheer, self jou sake te reël en van niemand afhanklik te wees nie.

Selfs wat waar en goed is, wil jy bepaal.

Menseregte (as dit “jou ding” is) is dan nie die minimum wat mense mekaar skuld nie, maar bron van geluk: Ek besluit wat waar en goed is, en dié “vryheid” waarborg my geluk.

As menseregte egter, soos waarheid en goedheid, los van mense se erkenning daarvan bestaan, volg die insig dat menseregte nie daar is om gelukkig te maak nie.

Die VSA-grondwet sê dit mooi: Ons het ’n reg op die “pursuit of happiness”.

Die pursuit is nie self die happiness nie.

Laasgenoemde moet ek langs ander weë vind.

Daardie ontdekking sou selfs kan inhou dat ek my vryheid gebruik om my regte onbelangriker te ag as my verpligtings teenoor, afhanklikheid van, en behoort aan andere.

Vreemd, nè, dat juis “objektiewe” menseregte die mag tot selfrelativering het?

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

8 antwoorde op Om hoog en laag by menseregte te sweer

  1. In daardie geval glo jy nie in menseregte nie, want wat menseregte van ander regte (bv. kontraktuele regte) onderskei, is dat ‘n mens hulle besit bloot omdat jy ‘n mens is.

    Gestel gevangenes in die tronk word permanent gemartel – onafgebroke totdat hulle stadig sterf. Sal jy dit goedkeur? (Ek sal nie.)

  2. Wat ‘n sinlose rubriek. As ek nie van beter geweet het nie sou ek dink dat die ‘n antwoord van ‘n eerstejaar was op ‘n vraag waarvoor hy nie geleer het nie. (Ek vra om verskoning as ek enige eerstejaars beledig.)

  3. Gerrit, dit is nou die derde keer dat ek hierdie skryfsel van jou met belangstelling lees. Een ding pla my, en dit is die ou in die tronk wat aanspraak maak op menseregte nadat hy ander mense se menseregte geskend het, bv. deur moord of roof of wat ookal. Hoe skend jy ander se reg op lewe, die reg op besittings ens. en maak dan aanspraak op menseregte?
    Natuurlik moet ons die begrip menseregte eers korrek begryp. Daar is tog elke mens se basiese reg op lewe. Die reg om te assosieer met ander mense ens. En dan is daar die reg op menswaardige behandeling, selfs vir die ou in die tronk. Dus al skend ek menseregte op ‘n primere wyse, is ek nog geregtig op sekondere menseregte. Ja, ‘n mens gooi tog nie die ou in die tronk en laat hom verhonger nie, nee hy moet versorg word, menswaardig behandel word, sy reg op lewe moet gerespekteer word al het hy ander se mensereg radikaal geskend. Vreemde gedagte, maar nogtans waar.

  4. Fanie, ek dink baie in dieselfde lyn. Menseregte maak ‘n absolute aanspraak, maar kan nooit volledig gerealiseer word nie. Hulle is dus nie ‘absoluut’ in die sin dat onbeperkte aansprake in die naam daarvan gemaak kan word nie. Ek mag my reg (wat ek nooit kan verloor nie) nie so gebruik dat ek andere van hulle s’n ontneem nie; daarin sit die beperking. Ook die misdadiger het die reg om vrylik rond te beweeg, maar as hy daardie reg gebruik om ander se regte aan te tas, dan gee dit die gemeenskap die reg om daardie misdadiger se reg aan te tas (ja, dit bly ‘n aantasting!) in die mate waartoe dit noodsaaklik is om verdere menseregte-aantastings te voorkom. Of so iets!

  5. Dankie, Stephen. Ek voel sommer weer jonk.

  6. Nice pos – dit sluit vir my aan by die liberale verkleinering van “Value Judgements” – so asof, wanner jy ‘n opinie het, dit geminag moet word, want dis gebaseer op ‘n stel waardes…

  7. Ag, kom ons hou dit maar vriendelik!

  8. As alle mense verantwoordelikhede het, dan volg dit logies daaruit dat alle mense regte het. Immers, as ek, byvoorbeeld in ‘n kontrak, die verantwoordelikheid het om my ooreengekome verpligtinge teenoor jou na te kom, het jy ook die reg om op dit wat ek jou skuld aan te dring. Die kontrak gee my die verantwoordelikheid, waarvan die keersy jou reg is.

    As daar iets is wat ek aan ALLE mense skuld (byvoorbeeld om hul lewe te respekteer), dan is die keersy daarvan dat alle mense ‘n aanspraak, oftewel die reg, het om so deur my behandel te word.

    Logies kan verantwoordelikhede of verpligtinge dus nie teen regte of aansprake afgespreel word nie omdat dit twee kante van dieselfde munt is.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.