Jy blaai in die argief vir 2011 Januarie.

Kom luister net as jy in die opstanding glo (of nie)

Januarie 28, 2011 in Sonder kategorie

As jy jou in die omgewing van Stellenbosch bevind (tot sover as, sê maar, Beitbrug of Dar es Salaam) en in die lewendige Suid-Afrikaanse debat oor die opstanding belangstel (excuse the pun) – ongeag hoe jy self oor die saak dink – het jy eintlik geen ander keuse nie as om eerskomende Maandag van 09:00 tot 13:00 na ’n gesprek oor hierdie onderwerp in Stellenbosch te kom luister. So, lees die gegewens hieronder en sorg dat jy daar is …..

 

Die akademiese jaar van die Fakulteit Teologie, Universiteit Stellenbosch word op Maandag 31 Januarie 2011 ingelei met die Teologiese Dag wat plaasvind van 09:00 – 13:00 in die Hofmeyrsaal, Kerkstraat, Stellenbosch (skuins oorkant D’Ouwe Werf Hotel). Vanjaar se tema is Die opstanding en die lewe.

 

Prof Elna Mouton sal die program begin met ’n Skrifmeditasie oor Lukas 24. Prof Dirkie Smit se bydrae handel oor Die opstanding van Christus: ‘n teologiese oriëntering, waarna Ds Danie du Toit van die NG Kerk Waterkloof praat oor Die opstanding en kuns. Die program word afgesluit deur Dr Clint le Bruyns met ’n bespreking oor Die opstanding en die publieke lewe.

 

Bywoning is gratis en almal is welkom! Let asseblief daarop dat die geleentheid nie weer vanjaar in die Attie van Wijk Ouditorium aangebied word nie, maar verskuif na die Hofmeyrsaal in Kerkstraat. Parkering is beperk en gaste word aangeraai om op die volgende areas te parkeer: in die Laan, op die walle van die Eersterivier (oorkant Paul Roos Gimnasium) of die nuwe onderdak parkeerarea van die Eikestad Mall (ingang in Pleinstraat). Laat ruim tyd toe vir verkeersdruk.

 

NG Kerk predikante van die Wes-Kaap wat die Teologiese Dag bywoon kom in aanmerking vir VBO-punte. Kontak Dr Robert Vosloo, Tel: 021 808 3256 vir enige verdere navrae.

 

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Geloof, bygeloof en ander sprokies … oor die kwaad

Januarie 26, 2011 in Sonder kategorie

My jongste rubriek in die Kerkbode:

 

Lank-lank gelede kyk mense ’n keer om hulle na “die son en maan, die aarde, sterre, wolke”. Hulle “sien die veld, die bosse, berge, vlaktes” en “hoor hoe fluister gras en stroom en wind” (Lied 464). Kyk net! “Daar’s vissies in die water; kyk hoe swem hul rond. Daar’s voëltjies in die lug en daar’s diere op die grond. Daar’s blomme op die velde en biesies in die vlei …” Glimlaggend konkludeer hulle, daar waar hulle veilig, gesond en gelukkig in harmonie feesvier: “Wie sou dit als gemaak het? Die Here dit is Hy!”

 

Naïef. Goedgelowig. Wanneer alles mooi, goed en lekker was (soos dit glo soms was), was dit rede om die “liewe Here” te loof, maar wanneer dinge verkeerd geloop het, ongemaklik, hartseer, pynlik, het hulle nooit gewonder waar die “liewe Here” nou skielik is nie. Laasgenoemde vraag is eers deur die vroeëmoderne filosoof Leibniz uitgedink. Sedertdien het die moderne mens toenemend bewus geraak van die ellende in die wêreld. Ons vind dit al hoe moeiliker om in ’n “liewe Here” te glo. Sommiges klou vas aan hul geloof, maar weet nie raad met die moeilike lydingsvraag wat hul kinderlike geloof so teister nie.

 

Kortom: Die “probleem van die kwaad” is ’n komplikasie wat nie deur gelowiges voorsien is totdat dit onder hul neus gedruk is nie. Geloof is soos ’n skynbaar aanneemlike hipotese (“Die liewe Here verklaar die mooi wêreld”) wat hom vasloop in vernietigende bewyse tot die teendeel (“Al ooit aan die kwaad gedink?”). Die “ontdekking” van boosheid vang die geloof onkant.

 

Dit herinner aan Plato se grot-gelykenis: In ’n donker grot sit mense, rug na die grot-opening, teen ’n muur en staar. Sonlig van buite projekteer dinge wat buite die grot verbybeweeg teen die muur. Die staarders dink hulle sien die regte wêreld. Eendag draai een om, gaan na buite en ontdek die regte wêreld. Hy hardloop terug om vir sy mense te vertel dat hul wêreldbeeld nogal verwronge is, maar niemand glo hom nie. Só maak blinkoog-gelowiges wanneer kritici hulle herinner dat alles nie rooskleurig is nie: “Hear no evil, see no evil, speak no evil.”

 

Die dapper “realis”, daarenteen, sien die werklikheid soos dit is en troos homself nie met sprokies nie (behalwe die een oor die grot).

 

’n Mooi storie, maar geen ware verhaal nie. Daar was nooit ’n “goeie, oue tyd” toe die lewe maklik en pynloos, en mense “salig onbewus” van gebrokenheid was, nie. Geloof in ’n “liewe Here” was nooit vanselfsprekend of natuurlik nie. Die meeste ou godsdienste het die werklikheid geskets as resultaat van kinderagtige gode se alewige getwis of, soos Plato, as slegte kopie van ’n volmaakte ideëryk.

 

Die eerste skeppingsverhaal in Genesis, oor hoe die wêreld uit God se hand kom en “baie goed” is, nes die Eksodus-vertelling oor Israel se uittog uit Egipte, is neergeskryf in en deur platgeslane Jode in ballingskap. Jesus se boodskap van sy Abba, Vader, onder wie se nabye heerskappy Gods kinders soos blommetjies en voëltjies geklee en gevoed word, is deur armes en randfigure aangeneem terwyl voorspoediges dit afgelag (maar tog veiligheidshalwe uitgedoof) het.

 

Jare gelede publiseer die Nederlandse kollektief Loesje ’n plakaat: “Wees stil en weet, er is geen God.” Só praat ’n samelewing wat alles het, maar nie kan ophou verbruik nie. Dis geen derdewêreld-plakaat nie.

 

Geloof in die “liewe Here” het ontkiem en oorleef in die hart van lydende mense. Die “probleem van die kwaad” was die begin van hul nadenke oor God, nie ’n terloopse nagedagte nie.

 

Wat het hulle dan besiel om van ’n “liewe Here” te praat?

 

Dis ‘n lang storie. Dit staan geskrywe.

 

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Self-ortogonale Latynse vierkante van orde 10 in Afrikaans

Januarie 26, 2011 in Sonder kategorie

My jongste rubriek in die Nederlandse Maandblad Zuid-Afrika:

 

Al ooit gewonder oor die enumerasie van self-ortogonale Latynse vierkante van orde 10? Ek ook nie. Ten minste, ek dink nie so nie …

 

Wat my wel opgewonde maak, is dat ‘n wetenskaplike artikel oor genoemde wiskundige onderwerp onlangs in LitNet Akademies se splinternuwe Natuurwetenskappe-afdeling verskyn het.

 

Nie te lank gelede nie het ‘n paar van ons, onder andere ook Chisto van der Rheede van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA), gewonder hoe Afrikaans weer as geskrewe akademiese taal nuwe lewe ingeblaas kan word. Dit is naamlik so dat, oor die algemeen, bloedweinig artikels in vaktydskrifte nog in Afrikaans gepubliseer word. Om hieroor te kla en op die absurditeit daarvan te wys (gesien die feit dat ander tale, veral in Europa, tog nog ‘n sterk teenwoordigheid in akademiese tydskrifte het), maak nie juis hond haaraf nie. Ons droom was dus ‘n vaktydskrif spesiaal vir Afrikaans (en uiteindelik ook vir die ander Afrikatale).

 

Verkieslik, het ons gevoel, moet daar by so ‘n tydskrif ook konkrete (geldelike) aansporings wees om akademici te kry om weer in Afrikaans te publiseer. Met die tydskrif LitNet Akademies het hierdie dalk vergesogte droom werklikheid geword – aanvanklik net as ‘n geesteswetenskappe-publikasie. In die private sektor was genoeg ondersteuning vir die idee dat die SBA uit daardie oord finansiering kon kry om die aksie, wat onder die visionêre leiding van Etienne van Heerden deur LitNet in die praktyk gerealiseer is, te ondersteun. Intussen het die Dagbreektrust die ondersteuningsrol oorgeneem, wat onder meer die nuwe natuurwetenskappe-afdeling, wat deel van die oorspronklike droom was, moontlik gemaak het.

 

LitNet Akademies is nie net ‘n geakkrediteerde tydskrif nie (dit beteken dat akademici wat daarin publiseer subsidie vir hul universiteit verdien), maar gee regstreekse geldelike vergoeding vir die skrywers van artikels wat ná ‘n streng proses van eweknie-evaluering gepubliseer word. Dit beteken dat ook navorsers wat nie amptelik aan ‘n universiteit verbonde is nie aangespoor word om vakkundig in Afrikaans te publiseer. Omdat dit ‘n oop aanlyn-publikasie is, kan enigiemand gratis die artikels daarin lees (iets wat net by ‘n handjievol bestaande Suid-Afrikaanse vaktydskrifte moontlik is). Verder is daar ‘n gespreksruimte waarop verder oor artikels gesels kan word. Behalwe dat LitNet Akademies dus vakkundige publikasies in Afrikaans bevorder, demokratiseer dit ook wetenskaplike interaksie, terwyl dit nogtans die hoogste akademiese standaard handhaaf.

 

Volgende stappe, reken ek, sou kan wees dat die tydskrif Afrikaans-Nederlands, eerder as slegs Afrikaans, moet wees (daar is reeds buitelanders op die advieskomitee, en Afrikaans se internasionale moontlikhede kan só net versterk word), en dat ander Afrikatale ook toegang tot LitNet Akademies, of ‘n soortgelyke tydskrif, kry. Dit mag onrealiseerbaar klink, maar dit wat reeds gerealiseer het, was nie te lank gelede nie ook maar ‘n mal idee.

 

Van “mal idees” gepraat. Van der Rheede (ja, al weer hy!) se inisiatief om ‘n Vrye Afrikaanse Universiteit (VAU) tot stand te bring (“vry” in die sin van onafhanklik en vrydenkend, maar ook gratis) is nou al op die stadium dat ‘n verkose komitee ‘n sakeplan aan die ontwikkel is. Ook universiteitsonderrig in Afrikaans moet immers bestendig en uitgebrei word. Die VAU wil nie bestaande universiteite wat (nog) Afrikaans gebruik, teenwerk nie, maar wil tot daardie universiteite se pogings bydra deur ‘n stap verder te gaan. Dit sal vir almal wees wat in Afrikaans wil studeer, maar die fokus is op die gebruik van Afrikaans as bemagtigingsmiddel vir Afrikaanssprekendes en ander Afrikaansgebruikers wat nie net in die verlede op grond van hul “ras” benadeel is nie, maar ook tans deur ‘n tekort aan Afrikaanse onderrig op universiteitsvlak, die onbekostigbaarheid van studiebeurse aan universiteite, en amptelike diskriminasie uitgesluit word. Hierdie groepering het tans die laagste vlak van toegang tot hoër onderwys van alle gemeenskappe in die land. Met ondersteuning van bestaande SA universiteite en groot belangstelling in Nederland en Vlaandere lyk dit glad nie meer so “mal” om te verwag dat hierdie “mal idee” ‘n werklikheid kan word nie.

 

Daar is ook nog ander verblydende inisiatiewe. Een daarvan is die Nederlands-Afrikaanse Wysgerige Genootskap, wat eersdaags sy vierde kongres (hierdie keer in Stellenbosch) aanbied. Referate op die gebied van die filosofie word daar in Afrikaans en Nederlands gelewer en bespreek. Ek hoop dat soortgelyke Nederlands-Afrikaanse genootskappe ook in ander vakgebiede opgerig sal word, want ook in die wêreld van wetenskaplike kongresse is ander tale as Engels al hoe minder teenwoordig. Ek het onlangs ‘n inhoudelik baie interessante kongres in Nederland bygewoon waarby slegs Afrikaans- en Nederlandssprekendes teenwoordig was, maar waar lesings slegs in Engels gegee is – nie omdat enigiemand Afrikaans of Nederlands minag nie, maar omdat by vorige geleenthede ook anderstaliges die kongres bygewoon het, en daardie moontlikheid ook hierdie keer nie uitgesluit was nie.

 

Benewens Nederlands-Afrikaanse vakgenootskappe moet myns insiens veel meer van nuwe taaltegnologie en tolking gebruik gemaak word om akademiese kongresse wêreldwyd weer meertalig te maak. Ook eenvoudige strategieë, soos om gedrukte Engelse vertalings van referate wat in ander tale as Engels gelewer word, uit te deel, kan hiertoe bydrae. Dit behoort myns insiens tot die wese van ‘n wetenskaplike kultuur dat dit in verskeie tale tot uitdrukking kom. ‘n Eentalige akademiese wêreld is ‘n verarmde, eenogige akademiese wêreld wat bowendien (meestal onbedoeld) die belange van oorheersende state en ondernemings help bestendig. Slegs ‘n meertalige akademiese wêreld kan die heersende orde krities uitdaag en alternatiewe diskoerse (onder meer egte interkulturele dialoog) beliggaam en in stand hou.

 

Nog ‘n droom: ‘n fonds, gefinansier deur die owerheid en/of private stigtings, wat die vertaling van buitelandse (meestal Engelstalige) wetenskaplike boeke in Afrikatale, en van wetenskaplike boeke in Afrikatale in ander tale, moontlik maak. In Nederland, waar ek my tans bevind, maar ook in ander Europese lande, kan byna enige wetenskaplike boek van betekenis in die plaaslike taal gekoop of uitgeleen word. (Dit geld ook literêre publikasies – Antjie Krog se Begging to be Black is byvoorbeeld reeds in Europese tale vertaal, maar nog nie in Afrikaans nie.) Die rede daarvoor is dat die staat en bepaalde stigtings dit finansier, eerder as dat iemand ‘n wins daaruit maak. Deur vertalings word die akademiese woordeskat in die teikentaal voortdurend bygehou en word wetenskaplike kennis en insigte breër toeganklik gemaak.

 

Nog ‘n praktiese oorweging hierby is dat handboeke in Afrikaans en ander Afrikatale dan weer in onderrig gebruik kan word. As dosent ervaar ek die belangrikheid hiervan voortdurend. Daar is hier en daar nog goeie Afrikaanse boeke wat as handboek gebruik kan word, maar wat gemaak met die studente wat nie Afrikaans kan lees nie? ‘n Alternatiewe boek? Die moeilikheid is: alternatiewe boeke se inhoud kom nooit heeltemal met die hoofhandboek s’n ooreen nie. Dikwels is ‘n Engelse handboek die enigste moontlikheid, maar dan sukkel die Afrikaanse studente, en studente met ‘n ander Afrikataal as moedertaal, soms weer met die Engels. Vroeër jare is handboeke wel in twee tale gepubliseer (dink maar aan die Jordaans se sielkundehandboek Mens in Konteks of talle teologiese handboeke). Pedagogies is dit meer verantwoord as om slegs Engelse handboeke te gebruik. Hoekom kan dit nie weer gebeur nie?

 

Buite die hoëronderwys-terrein in enger sin (universiteite) doen ‘n vakbond soos Solidariteit en ‘n stigting soos die SBA (nogmaals!) baie om naskoolse vakopleiding aan veral arm gemeenskappe in Afrikaans moontlik te maak. Hierin werk hulle ook toenemend onderling saam. Dis ‘n feit dat die fokus in SA te veel net op universiteitsopleiding is. Vir loodgieters, werktuigkundiges en ander vakmense is daar egter waarskynlik nog meer moontlikhede en geleenthede as vir graduandi. Ook hierin kan Afrikaans as bemagtigingshefboom aangewend word, en gebeur dit reeds in toenemende mate danksy genoemde en ander organisasies. 

 

As dit by die ondersteuning van Afrikaans as akademiese taal kom, moet ouer instansies, soos die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, nie vergeet word nie. Deur die Tydskrif vir Geesteswetenskappe, en deur navorsing, toekennings en ander aksies, lewer hulle steeds ‘n reusebydrae. Daar is ook toenemend goeie samewerking tussen sulke instansies en nuwere organisasies – onder meer danksy die netwerkfunksie van die Afrikaanse Taalraad, wat meer as 40 Afrikaanse organisasies verteenwoordig.

 

Wat het dit alles met Nederlanders te doen? Eerstens staar die Nederlandse taal op akademiese gebied baie van dieselfde uitdagings as Afrikaans in die gesig, al is dit op hierdie stadium nog in ’n mindere mate. Vroegtydige ingrepe en kreatiewe inisiatiewe kan die proses in sekere mate stuit. Hierin kan die Nederlandstalige gemeenskap baie uit die ervaring van Afrikaans en ander Afrikatale leer: ’n akademiese taal kan nie sommer vanself voortbestaan en floreer nie; dit moet (soos Engels) aktief bevorder word. Samewerking met Afrikaans kan help om hierdie uitdaging suksesvoller aan te pak.

 

Tweedens word egter tog ook, in alle eerlikheid, deur Afrikaanses ’n bakhand uitgehou: Help ons! Die realisering van ’n meertalige akademiese kultuur in SA ontvang geen noemenswaardige steun van die owerheid nie. Inteendeel, die oorheersing van Engels ten koste van ander tale op hierdie terrein word aangehelp. Dit beteken dat die projek deur vrywillige organisasies gedra moet word. Sulke organisasies het alle hulp nodig wat hulle kan kry. Dit sal die Nederlandstalige gemeenskap, sowel die staat as ander instellings, tot eer strek as hulle hierin ’n leidende rol kan speel.

 

* Stuur ‘n e-pos met die woord ‘Ja’ in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Om hoog en laag by menseregte te sweer

Januarie 20, 2011 in Sonder kategorie

My jongste rubriek in Die Burger (wat ook op Sol Iustitiae gelees kan word):

Ek dink “menseregte” verwys na iets wat ons nie aan medemense toeken nie, maar bloot in hulle herken. Almal het hierdie regte, ongeag of andere dit respekteer.

Ons is sekere dinge aan mekaar verskuldig, of ons dit erken of nie. Ek beskou menseregte as “objektief”; ek huldig ’n “hoë” siening van menseregte.

Hierdie siening is tans uit die mode. Hoewel baie oor menseregte gepraat word, is dit meestal asof menseregte slegs bestaan as dit wetlik erken of as daarvoor geveg word. Voor- én teenstanders van menseregte deel hierdie soort menseregtetaal.

’n Mens sien dit in konserwatiewe klagtes dat mense “te veel regte” het, maar ook in die uitlatings van ’n regeringsverteenwoordiger wat meen Suid-Afrika en China word albei gekonfronteer met die “probleem” van menseregte wat “in die pad staan” van transformasie-agendas, asook in die manier waarop party akademici oor die menseregte-“konstruk” teo­re­ti­seer.

Die implikasie is dat menseregte “subjektief” is. Daaruit volg ’n “lae” siening van menseregte. Dit open die moontlikheid om menseregte as ’n slegte idee te beskou – asof dit beter sal wees om nie iets soos menseregte te erken en sodoende te skep nie.

In sommige gevalle hanteer voorstanders van die “lae” benadering ’n strenger menseregtemaatstaf as waarmee ’n voorstander van die “hoër” benadering gemaklik kan wees, byvoorbeeld wanneer kritiek op ’n standpunt gelewer word en mense dan terugkap met dié beswaar: “Wie is jy om andere se denke te kritiseer? Is elkeen nie geregtig op sy standpunt nie?”

Dieselfde word oor mense se optrede gesê: “Hoe durf jy die optrede van mense wat sus of so doen, bevraagteken? Hulle het tog die reg om self te besluit.”

Ek snap nie die logika van sulke besware nie. Natuurlik is ons almal op ’n mening geregtig, maar dit beteken nie ons mening  is korrek nie.

As jy my siening kritiseer, beteken dit nie jy ontneem my die reg om dit te huldig nie. Die reg op ’n mening sluit die reg op ’n verkeerde mening in, en die reg op spraakvryheid die reg om daardie mening verkeerd te noem.

So ook my reg om te doen wat ek wil (mits ek nie andere se regte aantas nie): Dat ek die reg het om soos ’n skoorsteen te rook, my salaris uit te dobbel of ’n verwerplike skinderblad te publiseer beteken nie dit is ’n goeie idee om dit te doen of dat niemand my mag kritiseer nie.

Net so min soos my reg op ’n mening daardie mening waar maak, maak my reg op eie lewenskeuses daardie keuses verstandig.

Miskien hang die weiering om hierdie elementêre punt raak te sien in ’n selfs radikaler relativisme as die “lae”, “subjektiewe” menseregtebegrip.

Nie net die “objektiewe” werklikheid van menseregte nie, maar selfs waarheid en goedheid as sodanig word nie meer erken nie.

Dan word die onderskeid tussen wat jy mag glo en wat waar is, of tussen wat jy mag doen en wat verstandig is, betekenisloos. Jou reg om iets te dink of te doen, maak dit dan ook waar en goed.

Vir die mens van ons tyd (dit is nou ons almal) is die hoogste goed om jou lewe te beheer, self jou sake te reël en van niemand afhanklik te wees nie.

Selfs wat waar en goed is, wil jy bepaal.

Menseregte (as dit “jou ding” is) is dan nie die minimum wat mense mekaar skuld nie, maar bron van geluk: Ek besluit wat waar en goed is, en dié “vryheid” waarborg my geluk.

As menseregte egter, soos waarheid en goedheid, los van mense se erkenning daarvan bestaan, volg die insig dat menseregte nie daar is om gelukkig te maak nie.

Die VSA-grondwet sê dit mooi: Ons het ’n reg op die “pursuit of happiness”.

Die pursuit is nie self die happiness nie.

Laasgenoemde moet ek langs ander weë vind.

Daardie ontdekking sou selfs kan inhou dat ek my vryheid gebruik om my regte onbelangriker te ag as my verpligtings teenoor, afhanklikheid van, en behoort aan andere.

Vreemd, nè, dat juis “objektiewe” menseregte die mag tot selfrelativering het?

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Toeris en gasheer is nie dieselfde soort mens nie …

Januarie 20, 2011 in Sonder kategorie

My jongste rubriek in die Nederlandse Maandblad Zuid-Afrika:

 

Wat is toerisme? Wat is kultuur? ’n Toeris is iemand wat toer, iemand in beweging, ’n reisiger. As toeris ís ’n mens nie iewers nie; jy’s in deurtog. Die plekke waar jy kom, is nie jóú plek nie. Selfs al bevind jy jou daar, betrag jy dit op ’n sekere afstand (terwyl jy dit wat in jou vêraf tuiste gebeur aan jou lyf vóél).

 

Brandpunte

Gerrit Brand

 

‘Sal ons hierheen gaan, of daarheen? Wat wil jy graag vandag sien? Sal ons oorbly of verder ry?’ Dis die soort vrae wat toeriste vra. Selfs as hulle ‘diep’ by iets in die vreemde landstreek betrokke raak, is dit meestal ’n gekose betrokkenheid en geraaktheid.

Dit is anders as vir die mense in wie se wêreld jy vertoef. Hulle is nie altyd uit keuse daar nie; kan nie altyd gaan waar, en ervaar wat, hulle wil nie; het gewoonlik nie die tyd om sommer rond te hang en ervarings te verslint nie. Daar is werk om te doen, verantwoordelikhede om na te kom. Wat vir die toeris ‘so mooi’ en ‘tog te oulik’ is, lyk dikwels anders vir die boorling. (Die plaas mag mooi wees, maar die boerdery moet geld maak.) Dit wat vir die toeris ’n nuutjie is, en daarom opwindend en interessant, is vir die plaaslike inwoners dalk afgesaag of ’n irritasie. Die werklikheidsbetrokkenheid, die tyd-ruimtelike syn, van ’n toeris verskil van dié van die ‘gashere’. Toeris en gasheer bestaan letterlik op verskillende maniere. Hulle is nie dieselfde soort mens nie.

 

Kompleks is die verhouding tussen inwoner en besoeker! Hulle het mekaar nodig – vir inkomste, vir dienste, maar ook (vermoed ek) vir erkenning en waardering. Geen toeris wil voel dat hy of sy onwelkom is nie, en boorlinge wil nie die indruk kry dat die eksotiese besoeker op hulle neerkyk nie. Dit skep dan ook spanning, want ‘hulle’ het dikwels nie waardering vir wat ‘ons’ mooi en belangrik vind nie.

Sê die locals onder mekaar: ‘Ai, die klomp toeriste darem! Hulle kom kwansuis hierheen om te sien hoe dit is, maar as hulle eers hier kom, stel hulle net belang in dit wat is soos hulle dit sien. Al die ou kitsch stereotipes – dís wat tot hulle spreek!’

Sê die toeris: ‘Dié mense besef nie eens hoe mooi hul land is nie; hulle kla net al die tyd oor dit en dat. As ék nou hier gewoon het …’

Dan praat ek nog nie eens van die verskillende gewoontes wat tot soveel misverstande kan lei nie. Om van die ‘swak diens’ van sommige plaaslike werkers en die ‘arrogansie’ van sommige gaste nie eens te praat nie.

 

Kultuur as ‘ belewenis’

Toeriste verskil nie net van die ‘inheemse’ bevolking nie, maar ook – selfs nog meer – van die immigrant en die vlugteling. Met laasgenoemde het hulle gemeen dat hulle nie tuis is nie. Dis egter hul eie keuse (’n reuseverskil) en hulle sal binnekort weer terugkeer. Al is hulle vêr van hul plek af, is hulle nog knus daaraan vas, nie daarvan ontwortel nie. Hul vêr-vandiehuiswees getuig van relatiewe welvaart en sekuriteit, nie weerloosheid en vrees nie. Anders as vlugtelinge, is toeriste nie voorkeur-teikens vir brutale vreemdelingehaat nie. Inteendeel, hulle word meestal op die hande gedra.

Immigrante bevind hulle in ’n tussenposisie. Hulle is ook uit eie keuse in die vreemde, en dit bly nog lank die vreemde, maar hulle gaan steeds nie terugkeer nie – ten minste nie vir die voorsienbare toekoms nie. Hulle kan nie bekostig om, soos toeriste, hul nuwe blyplek met sterretjies in die oë te benader nie. Hulle kan egter ook nie toegee aan die plaaslike inwoners se vreemd aanloklike pessimisme nie. Hulle voel hulle moet hulle verdedig. ‘Waarom het julle weggegaan?’ en ‘Wat soek julle nou eintlik hier?’ is die vrae wat by hulle bly spook.

Iets wat nie toeriste geld nie (behalwe as speelse parodie), geld wel die immigrant en die vlugteling. Dit is die spreekwoord: ‘When in Rome, do as the Romans do.’ Dis makliker gesê as gedaan. Wat vir die ‘Romeine’ tweede natuur is, moet deur die vlugteling en immigrant bewustelik nageboots, en stuk-stuk aangekweek, word. Die plaaslike ‘taal’ moet bemeester word – nie net die spreektaal of -tale nie, maar ook die betekenis van gebare, gesigsuitdrukkings, kossoorte, selfs besittings. ’n Faux pas kan ’n mens duur te staan kom! En al woon jy nou in die nuwe land, al is jou lot daarmee verstrengel, word jou mening daaroor nie altyd op prys gestel nie. Jy moet jou mond na twee kante hou. Of só voel dit ten minste.

 

Dit bring ons by kultuur: ’n groep mense se gewoontes; hul habitus; die seine en simbole waardeur hul wêreld vir hulle sin maak; die taal wat hulle praat; die konsepte waarmee hulle die wêreld orden; hul selfverstaan; die gebruike, geboue, museums en artefakte wat hul manier van lewe anker. Vir die toeris is die boorlinge se kultuur ’n besienswaardigheid, soos ’n trop leeus in die Krugerwildtuin; of ’n ‘belewenis’, soos ’n safari: opsioneel en vryblywend. Jy kan stukkies daarvan (of wat lyk na stukkies daarvan) aanskaf, dit saam huis toe neem en dit dan buite konteks in jou voorkamer uitstal, ’n souvenir. Vir die immigrant, daarenteen, is die nuwe kultuur ’n uitdaging, en vir die vlugteling, bevreemdend, selfs bedreigend. En vir dié wie se kultuur dit is? Tweede natuur, ja, die lug wat hulle adem, maar daarom ook lewensnoodsaaklik. Dit is deel van wie hulle is; dit konstitueer hul wêreld; dis alles behalwe uitruilbaar. ’n Mens kan nie jou kultuur, jou manier van lewe, sommer so afskud en ’n ander in die plek daarvan aantrek nie, want tussen die uit- en die aantrek is jy nie net kaal nie; jy ís nie meer nie. Jy kan kulturele gewoontes van elders in joune inweef en sodoende die kleur, vorm en tekstuur stuk-stuk verander, maar dan moet jy êrens begin, nie nêrens nie. Dit is ook makliker as jy dit gelydelik kan doen – wat die vlugteling se trauma help verklaar.

 

Wie sou jy die swerwer noem?

Kan ’n boorling ’n vreemdeling in sy of haar eie kontrei word?

Is dit nie wat imperialisme doen? ’n Buitelandse moondheid kom forseer hom op die ‘maagdelike’ landskap af; vestig sy manier van lewe met militêre mag as oorheersend; ‘bekeer’, ‘beskaaf’ en ‘ontwikkel’ die inboorlinge. Wie vooruit wil kom, moet nou ook vêr buite ‘Rome’ soos die Romeine maak! ‘Latyn’ word die amptelike taal van die gekoloniseerde lande, en bly dit ná ‘onafhanklikwording’. Die owerheid kommunikeer daarin; die jong mense gaan daarin skool en studeer daarin; die arbeidsveld vereis dit as toegangskaartjie. (Handig vir toeriste, want nou kan hulle maklik aanwysings vra of ’n bier bestel.) Die plaaslike drag word vir ‘Romeinse’ kleding verruil (behalwe wanneer die Romeine vermaak wil word). Soos Neville Alexander dit stel: die meerderheid word in hul eie land soos ’n minderheid behandel.

Kom die barbare in opstand? Nie so dat jy dit sal agterkom nie. Omdat die koloniste getallegewys so dun gesaai is, kan slegs ’n klein groepie onder die plaaslike bevolking werklik in die nuut-dominante leefwyse gedompel word en dit sodoende hul eie maak. Dit bring vir hulle voordele, terwyl die meerderheid van hul landgenote op die marges agterbly.

Juis die skaarste van vaardigheid in die nuwe taal, maak dit des te meer gesog. Die agtergeblewenes jaag dit (meestal tevergeefs) met toenemende ywer na – wat die onaantasbare status daarvan verder versterk. Die minderheid onder hulle wat dit wel maak, probeer dalk hul landgenote ‘help’ om ‘in te haal’, maar ook dít versterk die status van die ‘Romeinse’ lewenswyse net verder, en help die magteloses verder ontmagtig. Ook die goedbedoelende toeris doen soms hieraan mee deur ‘opheffingswerk’ te ondersteun.

 

Natuurlik speel die ‘ongeletterde’ barbaar nooit die rol van toeris nie. Hy of sy veg om oorlewing. Daar is nie geld vir rondry nie, nie eens in die eie land nie. Van die instromende besoekers – ten minste dié wat ’n visum en buitelandse valuta dra – word ’n geldjie afgebedel of met ’n werkie ‘verdien’. (‘’n Mens kan darem goedkoop in hierdie land rondkom!’ gesels die ‘Romeine’ onder mekaar.) Jy sal dan ook wees wat die toeriste wil hê jy moet wees. Jy sal na hul pype dans. Die ‘ander’ besoekers, wat van soortgelyke omstandighede vlug, en daarom sonder visum of valuta aanland, word deur plaaslike gekoloniseerdes as konkurrente beleef. ‘Laat hulle teruggaan na waar hulle vandaan kom!’ klink die refrein.

Dit kan dus gebeur dat toeriste in die vêr land meer tuis as hul ‘gashere’ is.

Só kry Koos du Plessis se lirieke in die lied ‘Swerwers’ nuwe betekenis: jy wat jou op die wysheid roem / wie sou jy die swerwer noem: / die een met tas en reisbiljet / of elkeen wat nog drome het? / of wie?

 

Ja, dis die vraag. En daarmee groet ek dan uit ’n herfskleurige Nederland, waar ek tans op werkbesoek is. Maar dit is weer ’n ander storie …

 

Gerrit Brand is senior lector systematische theologie aan de Universiteit van Stellenbosch. Hij schrijft deze rubriek op persoonlijke titel. Zijn blog DinkNet is te lezen op www.litnet.co.za.

 

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.