Wanneer die verlede weer die hede word

Desember 15, 2010 in Sonder kategorie

My jongste rubriek in Die Burger:

In Europa word nog essays gepubliseer. Ek bedoel nie op webwerwe of in koerante en tydskrifte nie, maar in boekvorm.

Meer as tien jaar gelede het ’n huisgenoot in die Utrechtse Zuid-Afrikahuis my byvoorbeeld ’n boekie in die hand gestop met die filosoof Richard Rorty se twee Spinoza-lesings (eintlik essays) aan die Universiteit van Amsterdam. Die eerste een het my bygebly: “Is it Desirable to Love Truth?”

’n Enkel-essay in boekvorm wat my lewensuitkyk (veral my mensbeskouing) ingrypend beïnvloed het, is C.S. Lewis se The Abolition of Man, wat in 1943 verskyn het en sedertdien nog nooit uit druk was nie. Verskyn sulke goed nog in Suid-Afrika: ’n boek bestaande uit ’n enkele essay? Dit behoort te gebeur, want so ’n publikasie verleen gewig aan wat andersins maklik onderskat kon word.

Wat mooi is van Nederlandse essayboekies is nie net die hoëkwaliteit-inhoud nie, maar ook die keurige aanbieding: duursame omslag en papier wat esteties én sinesteties bevredig; goed gekose lettertipe; grondige visuele en taalkundige versorging. Kortom: ’n klein kunswerkie.

Wat verskaf meer vreugde as om so iets by ’n boekwinkel te koop (teen ’n billike prys) en dit in jou binnesak te bêre, in die trein te lees en daarna op ’n koffietafel of in jou boekrak te laat tuiskom? Of dit vir iemand te gee – sommer so terloops oor ’n kuiertafel.

Daar is iets aan sulke boekies wat ’n mens laat voel jy is terug in die era van die salons (op sy Frans uitgespreek) waarna ’n filosoof soos Jürgen Habermas hunker: ’n era toe “menings geëmansipeer is van die kettings van ekonomiese afhanklikheid”. Vrye, stylvolle meningsuiting tussen gesofistikeerde bourgeois gespreksgenote, netjies uitgevat, sigaar en borrel in die hand.

Nou goed, dié idille het nooit bestaan nie, maar dit beteken nie ’n mens kan dit nie mis nie!

Enige essayis wat sy sout werd is, behoort in elk geval daardie soort gespreksgemeenskap as sy lesers te verbeel. Daar is iets speels aan ’n goeie essay (hoe ernstig die strekking ook al). Dis soos goeie geselskap.

Vat nou maar Rob Riemen se nuwe donkerblou boekie, De Eeuwige Terugkeer van het Fascisme. (Dankie aan die nagraadse student aan die Vrije Universiteit wat dit onder my aandag gebring het.) Vir die leser wat wil weet wie Riemen is, word hy op die agterplat as “filosoof en essayis” beskryf. Pragtig! Die boek beslaan 64 bladsye (A5-formaat) met ’n omvouflap voor en agter, het by Uitgeverij Atlas verskyn en kos sowat R100. Watter niefiksie-skrywer wil nie só ’n boekie op sy naam hê nie?

Riemen begin sy betoog met Albert Camus se roman Die Plaag (1947): die dokter na wie niemand wil luister nie omdat hy (tereg) die grootskaalse rotvrektes in die stad as die terugkeer van die 14de-eeuse Swart Dood verklaar.

So gaan dit ook met die fascisme, verduidelik Riemen. Nes ons dink dis verby (die Nazisme is lank­al dood), keer dit terug. Eers ongemerk, want net soos die stadsinwoners nie na Camus se hoofkarakter wil luister wanneer hy die woord “pes” gebruik nie, vind die hedendaagse Europeaan die woord “fascisme” in verband met die opkomende vreemdelingehaat in Europa onsmaaklik.

Riemen verwys (lekker voetnootvry, soos dit ’n essayis betaam) na talle skrywers van die 19de en vroeë 20ste eeu wat die roeringe van die opkomende fascisme-ramp aangevoel het nog voordat die meeste intellektuele die geringste vermoede gehad het. Hy vergelyk wat toe gebeur het met hedendaagse tendense, met name die politiek van Geert Wilders se Partij voor de Vrijheid en die diskoers van “Islamisering” wat so aan Hitler en kie. se “Judaïsering” herinner.

Deel van die oorsaak, reken Riemen, is die soort mens wat deur die onderwysstelsel en die media gekweek word: “Er is een… massamens ontstaan, dat niet in rationaliteit gelooft, dat zichzelf niet wil verheffen. Een verwend, aggressief mensentype dat anderen de schuld geeft als het tegen zit.”

Vir Suid-Afrikaners behoort dit bekend te klink. Vandaar die vreemdelingehaat, die wit rassisme en die meerderheid se resentiment jeens minderhede? Wie dié siekte wil teëgaan, moet dalk help skep aan ’n samelewing waarin essays weer uitgegee en gelees word.

Vir meer oor Rob Riemen, kyk ook na hierdie webwerf.

11 antwoorde op Wanneer die verlede weer die hede word

  1. elgado het gesê op Desember 16, 2010

    Mooi.

  2. My “The plague,” van Albert Camus is so 237 bladsye dik. As dit is wat jy bedoel, is daar heelwat in Suid-Afrika te kry, in Engels natuurlik. Op die terrein van fiksie bestaan daar natuurlik heelwat, ek dink hier veral Abraham de Vries, Hennie Aucamp en Audrey Blignaut en andere. Selfs ‘n ou soos Ferdinand Deist het uitgeblink in ligte essays.

  3. Die Afrikaanse vertaling, ‘Die Plaag’, is, as ek reg onthou, nie te lank gelede nie deur Praag heruitgegee.

    Ja-nee, die genre van die essay is hoegenaamd nie vreemd aan die Afrikaanse wereld nie. Inteendeel. Die groot meester was natuurlik Van Wyk Louw. Ek bedoel spesifiek die enkel-essay-boek. Daarvan het ek lanklaas iets gesien. Vir my het juis hierdie soort uitgawe ‘n besondere waarde omdat dit groter gewig aan die betrokke essay verleen en daarmee ‘n sekere soort intellektuele en gespreksatmosfeer skep.

  4. Dankie.

  5. Vetjan het gesê op Desember 18, 2010

    En dan is daar Elize Botha se Afrikaanse Essayiste. Eerste druk in 1965 , vierde een in 1974.

  6. Netso. Maar dink nou net as daardie essay een-een as afsonderlike boekies kon verkyn het.

  7. abrham het gesê op Desember 31, 2010

    ja, en toe kak ons almal in die pomp!

  8. Your point being …?

  9. Ek lees pas nou eers hierdie inskrywing. Uistekend! Ek is dit met jou eens, oor essays, maar ook oor die fascisme.

  10. Wat van fascistiese essays? Ek kan aan ‘n paar van hierdie soort essayiste in SA dink …

  11. Ja-nee, daardie soort sien nogal so nou en dan die lig (al sien hulle skrywers gewoonlik nie die lig nie)…

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.