Gehoor, maar nie verstaan nie

Desember 4, 2010 in Sonder kategorie

My jongste rubriek in die Kerkbode:

 

Keiser Konstantyn was met sy leër op pad om nog ’n vyand te verslaan toe hy in die hemelruim ’n kruis gewaar met daarby die woorde: “In hierdie teken sal jy oorwin.” So vertel Eusebius, die eerste kerkhistorikus.

 

Die gevolge vir die kerk was ingrypend. Nie net is die vervolging van Christene gestaak, en die Christelike geloof tot “toelaatbare godsdiens” verklaar, nie, maar Konstantyn het homself as Christen-keiser begin sien, met die verantwoordelikheid om die ortodokse leer te verdedig. Later sou invloedryke teoloë soos Augustinus, Aquinas en die Hervormers dit vanselfsprekend ag dat die owerheid kettery moet bestry.

 

Waar die keiserryk sedert die Nuwe Testamentiese era as onder meer “antichris” (1 Joh. 2:22), “dier” (Op. 13:1), “draak” (Op. 13:2) en “dronk … van die bloed van die gelowiges” (Op. 17:6) voorgestel is, en keiserlike titels soos “Here”, “Seun van God” en “Koning” astrant deur Christene toegeken is aan die een “wat gely het onder Pontius Pilatus”, is die keiser nou in die Oosterse kerk as heilige vereer en in die Weste “Konstantyn die Grote” gedoop.

 

Dis slegs teen hierdie agtergrond dat die Kruistogte, die Godsdiensoorloë in Europa en die kolonisering van Latyns-Amerika en Afrika in die naam van Christenskap verklaar kan word. Ook die gewelddadige onderdrukking van protes teen apartheid is as verdediging van die Christelike beskawing teen die goddelose kommunisme regverdig. (Die SA kapelaansdiens se leuse was dan ook “in hoc signo vinces”, “in hierdie teken sal jy oorwin”.) George W. Bush het dieselfde taal gepraat, en wanneer ons in SA kerkleiers hoor sê dat God “aan die kant van die ANC” is, is die wysie bekend.

 

Daarom is dit met verbystering dat ek onlangs ’n artikel van die teoloog John Milbank lees waarin hy ’n lansie vir die “Konstantinisme” breek. Hy distansieer hom van die “post-Konstantinisme” van pasifistiese teoloë soos John Howard Yoder en Stanley Hauerwas. (’n Mens sou ook Isaiah Shembe, Martin Luther King jr., Albert Luthuli en Desmond Tutu kan noem.) Vir die kerk om aan te dring op geweldloosheid en “krag deur swakheid”, sê Milbank, is onverantwoordelik, want wat as die “vrederyk” wat die kerk wil wees self in gedrang is? Moet die kerk sy eie ondergang aanvaar?

 

Die voorveronderstelling hierby is dat die kerk nie net (soms) baat kan vind by ’n simpatieke owerheid nie, maar dat só ’n owerheid ’n noodsaaklike voorwaarde vir die kerk se voortbestaan is. Die kerk kan nie oorleef as die “beskawing” wat hom dra, vergaan nie.

 

Bestaan die kerk dan by grasie van wêreldse maghebbers? Luister na Psalm 33: “Dit is nie waar dat die perd die oorwinning gee en dat sy groot krag redding bring nie. Dit is die Here wat sorg vir dié wat Hom eer, vir dié wat op sy mag vertrou.” En Jesaja 7:9: “julle sal nie standhou as julle nie in geloof standhou nie.”

 

Was Jesus “strategies naïef” of “onverantwoordelik” deur tot aan die kruis slegs op sy Vader te vertrou vir sy behoud en sy volgelinge te beveel om dit ook te doen? Toon die opstanding nie dat God regeer, ook wanneer die keiser skynbaar triomfeer, nie? Het Israel in die woestyn, die Jode in ballingskap en die vroeë kerk in die drie eeue voor Konstantyn nie in magteloosheid stand gehou nie?

 

Die Belydenis van Belhar sê mos: “Ons glo in die drie-enige God … wat deur sy Woord en Gees sy kerk versamel, beskerm en versorg van die begin van die wêreld af tot die einde toe.”

 

Ek dink die Here hét met Konstantyn gepraat: “In hierdie teken …”, in die kruis … Die keiser het gehoor, maar nie verstaan nie.

 

Klik hier om Danie Goosen se deurdagte en uiters leesbare essay in die Seminaarkamer, waarin hy die teenoorgestelde (min of meer) standpunt as ek verdedig, te lees, en reageer dan hieronder daarop.

 

(Ook Robert Vosloo en Bram van de Beek se bydraes tot hierdie gesprek kan nou gelees word.)

 

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

16 antwoorde op Gehoor, maar nie verstaan nie

  1. Kirpan het gesê op Desember 5, 2010

    Nee,maar jy het wel verstaan? Miskien. Maar ons moet aanvaar dat mens opgroei met gedagtes en doctrines wat hom wys wat juis is.
    Jy kan jou daaraan nie meer onttrek nie.
    Miskien ken mense oor 50 jaar nog Milbank (nooit van gehoor nie) maar weet hulle nie van die mannetjies wat jy noem nie. Ons noem dit geskiedenis. Of jy nou saamstem of verontwaardig is – so gaan dinge. Stel dat jy NOU in die kringe van Milbank vertoef het dat jy dieselfde gedagtes sou hê?
    Jy kan tog ook nie anders as die gedagtes oordraag wat in jou brein geplaas is, net in ‘n bepaalde periode van die wêreldtyd en van jou eie lewe nie?

    Gewoonlik sal politiek jou opvattings oor geloof rigting gee. En die tydgees bepaal.
    Dit kos moeite maar ons moet onsself afvra waarom ons meer reg sou hê as ‘n ander.
    Gelukkig sterf ons voordat ons weet hoe die wêreld verander het en waarom.

    Cornelis

  2. Is dit nie interresant nie? As Konstantyn nie die kruis en woorde in die lug gesien het nie, was die westerse beskawing nie vandag christene nie.

  3. Cornelis, as jy heeltemal gelyk het (ek meen jy het wel deels gelyk), dan het jy nie gelyk nie, want dan sou jy gelyk he oor die feit dat ‘n mens nooit as te nimmer “meer reg sou he as ‘n ander” nie, wat dan sou beteken dat jy nie gelyk het nie …

    Mens noem dit selfverwysend inkoherent.

  4. Jy’s dalk reg. My punt is dat dit uit ‘n Christelike hoek dalk nie so sleg sou gewees het nie. In kulture wat nie Christelik geword het nie, is die kerk dalk meer “regtig” kerk as in kulture wat sogenaamd verchristelik is.

  5. Bedoel jy met “die hoender ruk” geweld in die naam van geloof?

  6. Soos die Engelse se^: It begs the question. As die Christelike geloof nie die amptelike geloof van die Wes Romeinse Ryk geword het nie, sou daar ook geen ander “christelike” kerke daaruit voortgevloei het nie. Ons sou dalk almal vandag heidene of boediste gewees het.

  7. Die regering van die ou bedeling het nie bloot simpatiek gestaan teenoor die kerk nie, maar het ‘n daadwerklike ondersteunende rol in die kerk gespeel.
    Nou dat hierdie stutte, wat deur die destydse regering voorsien is, weggeneem is, is die kerk besig om sy vere reg te skud om weer onafhanklik van die staat te bestaan. Ek glo dat die kerk alleenlik volledig Kerk kan wees indien sy hoop weer op die Grondlegger van die kerk gebou is. Die kerk behoort lynreg in stryd met die staat te wees, soos die genoemde persone in jou skrywe, dit was.
    Simpatie of ondersteuning vir die kerk van regeringskant, maak die kerk swak in sy getuinenistaak. Die ontstaan van Belhar is ‘n goeie voorbeeld hiervan.

  8. In positiewe of negatiewe sin (dit wat jy in die laaste sin skryf)?

  9. Spekulasies oor “sou” is natuurlik vrugteloos, want wie weet wat “sou” gebeur het “as”? Hoe toets mens dit? Tog kan mens spekuleer. Een punt waarop jy ‘n fout maak, is dat jy die voortvloei van Christelike kerke aan die ontstaan van ‘n Christelike Wes-Romeinse Ryk toeskryf. Immers, die kerk was al drie eeue oud toe dit vir die eerste keer as toegelate religie in die Romeinse Kerk aanvaar is, so die oorsaaklikheid in jou verhaal strook nie. Verder het Christelike kerke in onder meer Egipte en Indie eeue sonder enige ondersteunende politieke mag voortbestaan. Daar gaan dit nie om “sou” nie, maar om “was” en “is”. Of verstaan ek jou verkeerd?

  10. My opinie, Gerrit, reg of verkeerd: As Keiser Konstantein nie besluit het hy hou van die Christelike geloof nie, wel, dan was ons nie. Die keiser het ons amptelik, die geloof van die Westerse wereld gemaak. Jy is n bright ou Gerrit. Erken nou maar…daar is geen god, geen verlosser…en dis OK.

  11. Beslis in ‘n positiewe sin. Artikel 4 van Belhar lui so: “- – – dat Hy in ‘n wereld vol onreg en vyandskap op ‘n besondere wyse die God van die noodlydende, die arme en die veronregte is en dat Hy sy kerk roep om Hom hierin na te volg;- – -“
    Indien die regering nie sy taak teen diesulkes na kom nie, moet die kerk hom(die regering)hierin teenstaan. Ook natuurlik in baie ander onregte wat ‘n staat maar kan pleeg teen sy inwoners.

  12. SpekBek, jy het in groot mate gelyk, maar ek dink jy veralgemeen dalk te kwaai. “Die kerk” is darem ‘n baie bree kategorie.

    Ek hoor graag ‘n keer meer oor wat jy as inkonsekwenthede in Belhar sien.

    (Kan jy dalk vir my ‘n skakel na die genoemde kommentaar van jou gee? Ek sukkel om dit op te spoor.)

  13. Beslis. En die kerk moet in eie kring ook uitleef wat hy van die regering eis.

  14. Darwinia, op wat jy oor Konstantyn skryf, het ek hieronder by jou ander inskrywing gereageer.

    Of ek “bright” is, weet ek nie (ek sien ‘n aantal uitgesproke ateiste soos Daniel Dennet het ‘n adollessente “movement” begin om na mense wat soos hulle dink as “brights” te verwys …), maar as ek ooit nie meer glo in die God van die Bybel en in verlossing nie, sal jy die eerste wees om dit te hoor!

  15. As dit so is, hoor ek graag die uitleg.

  16. Iets wat ek aan my rubriek hierbo wil toevoeg, is dat die debat nie, soos Milbank onder andere suggereer, oor mag of die afwesigheid daarvan gaan nie, maar oor die soort mag wat aan die orde is.

    Anders as moderne liberale denkers soos Habermas, wat in die moontlikheid, of ten minste die denkbaarheid, van “magsvrye kommunikasie” glo, meen ek (meer in die lyn van Foucault) dat mag alomteenwoordig en onvermydelik is. ‘n Mens kry egter verskillende soorte mag: mag wat deur (die dreiging van) geweld uitgeoefen word en onderdrukkende mag, byvoorbeeld, maar ook die mag van die waarheid, van opregtheid en integriteit, van die bereidheid om te ly eerder as te laat ly (die Pauliniese mag deur swakheid).

    Die eerste soort mag is ‘n beperkte kommoditeit: hoe meer een persoon of instelling daarvan het, hoe minder het andere. In hierdie sin is dit ‘n ontmagtigende mag. Die ander soort is in beginsel onbeperk: dat A baie daarvan het, beteken nie dat B noodwendig minder moet he nie. Dat God byvoorbeeld almagtig is (onbeperkte mag het), beteken nie dat niemand anders enige mag besit nie. Hierdie soort mag, wat in Christus aan die kruis beliggaam is, is bemagtigend (bevrydend) eerder as ontmagtigend.

    My kritiek op Konstantyn en sy verdedigers is dus nie ‘n afwysing van mag as sodanig nie, maar van die soort mag wat in daardie tradisie as noodsaaklik en heilsaam beskou word.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.