Jy blaai in die argief vir 2010 Desember.

Wanneer die verlede weer die hede word

Desember 15, 2010 in Sonder kategorie

My jongste rubriek in Die Burger:

In Europa word nog essays gepubliseer. Ek bedoel nie op webwerwe of in koerante en tydskrifte nie, maar in boekvorm.

Meer as tien jaar gelede het ’n huisgenoot in die Utrechtse Zuid-Afrikahuis my byvoorbeeld ’n boekie in die hand gestop met die filosoof Richard Rorty se twee Spinoza-lesings (eintlik essays) aan die Universiteit van Amsterdam. Die eerste een het my bygebly: “Is it Desirable to Love Truth?”

’n Enkel-essay in boekvorm wat my lewensuitkyk (veral my mensbeskouing) ingrypend beïnvloed het, is C.S. Lewis se The Abolition of Man, wat in 1943 verskyn het en sedertdien nog nooit uit druk was nie. Verskyn sulke goed nog in Suid-Afrika: ’n boek bestaande uit ’n enkele essay? Dit behoort te gebeur, want so ’n publikasie verleen gewig aan wat andersins maklik onderskat kon word.

Wat mooi is van Nederlandse essayboekies is nie net die hoëkwaliteit-inhoud nie, maar ook die keurige aanbieding: duursame omslag en papier wat esteties én sinesteties bevredig; goed gekose lettertipe; grondige visuele en taalkundige versorging. Kortom: ’n klein kunswerkie.

Wat verskaf meer vreugde as om so iets by ’n boekwinkel te koop (teen ’n billike prys) en dit in jou binnesak te bêre, in die trein te lees en daarna op ’n koffietafel of in jou boekrak te laat tuiskom? Of dit vir iemand te gee – sommer so terloops oor ’n kuiertafel.

Daar is iets aan sulke boekies wat ’n mens laat voel jy is terug in die era van die salons (op sy Frans uitgespreek) waarna ’n filosoof soos Jürgen Habermas hunker: ’n era toe “menings geëmansipeer is van die kettings van ekonomiese afhanklikheid”. Vrye, stylvolle meningsuiting tussen gesofistikeerde bourgeois gespreksgenote, netjies uitgevat, sigaar en borrel in die hand.

Nou goed, dié idille het nooit bestaan nie, maar dit beteken nie ’n mens kan dit nie mis nie!

Enige essayis wat sy sout werd is, behoort in elk geval daardie soort gespreksgemeenskap as sy lesers te verbeel. Daar is iets speels aan ’n goeie essay (hoe ernstig die strekking ook al). Dis soos goeie geselskap.

Vat nou maar Rob Riemen se nuwe donkerblou boekie, De Eeuwige Terugkeer van het Fascisme. (Dankie aan die nagraadse student aan die Vrije Universiteit wat dit onder my aandag gebring het.) Vir die leser wat wil weet wie Riemen is, word hy op die agterplat as “filosoof en essayis” beskryf. Pragtig! Die boek beslaan 64 bladsye (A5-formaat) met ’n omvouflap voor en agter, het by Uitgeverij Atlas verskyn en kos sowat R100. Watter niefiksie-skrywer wil nie só ’n boekie op sy naam hê nie?

Riemen begin sy betoog met Albert Camus se roman Die Plaag (1947): die dokter na wie niemand wil luister nie omdat hy (tereg) die grootskaalse rotvrektes in die stad as die terugkeer van die 14de-eeuse Swart Dood verklaar.

So gaan dit ook met die fascisme, verduidelik Riemen. Nes ons dink dis verby (die Nazisme is lank­al dood), keer dit terug. Eers ongemerk, want net soos die stadsinwoners nie na Camus se hoofkarakter wil luister wanneer hy die woord “pes” gebruik nie, vind die hedendaagse Europeaan die woord “fascisme” in verband met die opkomende vreemdelingehaat in Europa onsmaaklik.

Riemen verwys (lekker voetnootvry, soos dit ’n essayis betaam) na talle skrywers van die 19de en vroeë 20ste eeu wat die roeringe van die opkomende fascisme-ramp aangevoel het nog voordat die meeste intellektuele die geringste vermoede gehad het. Hy vergelyk wat toe gebeur het met hedendaagse tendense, met name die politiek van Geert Wilders se Partij voor de Vrijheid en die diskoers van “Islamisering” wat so aan Hitler en kie. se “Judaïsering” herinner.

Deel van die oorsaak, reken Riemen, is die soort mens wat deur die onderwysstelsel en die media gekweek word: “Er is een… massamens ontstaan, dat niet in rationaliteit gelooft, dat zichzelf niet wil verheffen. Een verwend, aggressief mensentype dat anderen de schuld geeft als het tegen zit.”

Vir Suid-Afrikaners behoort dit bekend te klink. Vandaar die vreemdelingehaat, die wit rassisme en die meerderheid se resentiment jeens minderhede? Wie dié siekte wil teëgaan, moet dalk help skep aan ’n samelewing waarin essays weer uitgegee en gelees word.

Vir meer oor Rob Riemen, kyk ook na hierdie webwerf.

Grappig en komies

Desember 15, 2010 in Sonder kategorie

Martien Brinkman vertel gister van Grietje wat ná baie jare weer in haar tuisdorp terugkom en die ou priester van jare gelede weer raakloop. “Wat doen jy deesdae, Grietjie?” vra hy. “Ek het prostituut geword,” antwoord sy. “Wat?!” reageer die ou priester geskok. “Prostituut. Ek is nou ‘n prostituut,” sê Grietje weer. “O, dankie tog,” sug die priester verlig, “ek dog jy sê jy’t Protestant geword!”

 

Aangesien Kersfees naderkom, voel ek ook verplig om hierdie skakel na die Kompleks-kollektief se musiekvideo “Kersfees Lamsboud” as geskenk vir my lesers aan te bied. Ek vermoed slegs Suid-Afrikaners sal dit regtig verstaan, maar mens weet nooit.

 

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Gehoor, maar nie verstaan nie

Desember 4, 2010 in Sonder kategorie

My jongste rubriek in die Kerkbode:

 

Keiser Konstantyn was met sy leër op pad om nog ’n vyand te verslaan toe hy in die hemelruim ’n kruis gewaar met daarby die woorde: “In hierdie teken sal jy oorwin.” So vertel Eusebius, die eerste kerkhistorikus.

 

Die gevolge vir die kerk was ingrypend. Nie net is die vervolging van Christene gestaak, en die Christelike geloof tot “toelaatbare godsdiens” verklaar, nie, maar Konstantyn het homself as Christen-keiser begin sien, met die verantwoordelikheid om die ortodokse leer te verdedig. Later sou invloedryke teoloë soos Augustinus, Aquinas en die Hervormers dit vanselfsprekend ag dat die owerheid kettery moet bestry.

 

Waar die keiserryk sedert die Nuwe Testamentiese era as onder meer “antichris” (1 Joh. 2:22), “dier” (Op. 13:1), “draak” (Op. 13:2) en “dronk … van die bloed van die gelowiges” (Op. 17:6) voorgestel is, en keiserlike titels soos “Here”, “Seun van God” en “Koning” astrant deur Christene toegeken is aan die een “wat gely het onder Pontius Pilatus”, is die keiser nou in die Oosterse kerk as heilige vereer en in die Weste “Konstantyn die Grote” gedoop.

 

Dis slegs teen hierdie agtergrond dat die Kruistogte, die Godsdiensoorloë in Europa en die kolonisering van Latyns-Amerika en Afrika in die naam van Christenskap verklaar kan word. Ook die gewelddadige onderdrukking van protes teen apartheid is as verdediging van die Christelike beskawing teen die goddelose kommunisme regverdig. (Die SA kapelaansdiens se leuse was dan ook “in hoc signo vinces”, “in hierdie teken sal jy oorwin”.) George W. Bush het dieselfde taal gepraat, en wanneer ons in SA kerkleiers hoor sê dat God “aan die kant van die ANC” is, is die wysie bekend.

 

Daarom is dit met verbystering dat ek onlangs ’n artikel van die teoloog John Milbank lees waarin hy ’n lansie vir die “Konstantinisme” breek. Hy distansieer hom van die “post-Konstantinisme” van pasifistiese teoloë soos John Howard Yoder en Stanley Hauerwas. (’n Mens sou ook Isaiah Shembe, Martin Luther King jr., Albert Luthuli en Desmond Tutu kan noem.) Vir die kerk om aan te dring op geweldloosheid en “krag deur swakheid”, sê Milbank, is onverantwoordelik, want wat as die “vrederyk” wat die kerk wil wees self in gedrang is? Moet die kerk sy eie ondergang aanvaar?

 

Die voorveronderstelling hierby is dat die kerk nie net (soms) baat kan vind by ’n simpatieke owerheid nie, maar dat só ’n owerheid ’n noodsaaklike voorwaarde vir die kerk se voortbestaan is. Die kerk kan nie oorleef as die “beskawing” wat hom dra, vergaan nie.

 

Bestaan die kerk dan by grasie van wêreldse maghebbers? Luister na Psalm 33: “Dit is nie waar dat die perd die oorwinning gee en dat sy groot krag redding bring nie. Dit is die Here wat sorg vir dié wat Hom eer, vir dié wat op sy mag vertrou.” En Jesaja 7:9: “julle sal nie standhou as julle nie in geloof standhou nie.”

 

Was Jesus “strategies naïef” of “onverantwoordelik” deur tot aan die kruis slegs op sy Vader te vertrou vir sy behoud en sy volgelinge te beveel om dit ook te doen? Toon die opstanding nie dat God regeer, ook wanneer die keiser skynbaar triomfeer, nie? Het Israel in die woestyn, die Jode in ballingskap en die vroeë kerk in die drie eeue voor Konstantyn nie in magteloosheid stand gehou nie?

 

Die Belydenis van Belhar sê mos: “Ons glo in die drie-enige God … wat deur sy Woord en Gees sy kerk versamel, beskerm en versorg van die begin van die wêreld af tot die einde toe.”

 

Ek dink die Here hét met Konstantyn gepraat: “In hierdie teken …”, in die kruis … Die keiser het gehoor, maar nie verstaan nie.

 

Klik hier om Danie Goosen se deurdagte en uiters leesbare essay in die Seminaarkamer, waarin hy die teenoorgestelde (min of meer) standpunt as ek verdedig, te lees, en reageer dan hieronder daarop.

 

(Ook Robert Vosloo en Bram van de Beek se bydraes tot hierdie gesprek kan nou gelees word.)

 

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.