Pleidooi vir anargisme

November 24, 2010 in Sonder kategorie

My jongste bydrae in die Nederlandse Maandblad Zuid-Afrika:

(Dit sluit tematies by ‘n onlangse Kerkbode-rubriek aan)

 

Die skrywer Jan Rabie het ’n keer gesê hy het nie ’n vaderland nie, maar ’n moedertaal. Daarmee het hy patriotisme van die hand gewys. Volgens nog ’n skrywer, Oscar Wilde, is patriotisme “the virtue of the vicious”. Sameul Johnson beaam dit: “Patriotism is the last refuge of a scoundrel.”

Ek is geneig om saam te stem. In Suid-Afrika was die eerste vorm van patriotisme Britse imperialisme. Trou aan die koningin as simbool van die Britse ryk het die ywer aangevuur van diegene wat SA onder die Britse vlag wou kry en hou.

Die historiese figuur wat hierdie soort patriotisme in sy mees fanatiese vorm verpersoonlik het, was Alfred Milner, wat die Britse anneksasie van die Boere-republieke – met al die lyding en lewensverlies wat daardeur veroorsaak is – aggressief bevorder en in Brittanje verkoop het. Sy motiverings was suiwer patrioties: Die moontlikheid dat die Transvaalse republiek, danksy die ontdekking van goud in sy grondgebied, uiteindelik die Britte se Kaapkolonie as toonaangewende staat in die streek sou vervang, was vir hom heiligskennis.

Ná die verwoestende oorlog het Afrikaners se verset teen ’n “Suid-Afrikanisme” wat op lojaliteit aan die Britse kroon berus die vorm van Afrikanernasionalisme aangeneem – ’n alternatiewe patriotisme. Terselfdertyd het die swart weerstand teen die naoorlogse Unie-grondwet se weerhouding van stemreg van swartes mettertyd van ’n aandrang op gelyke Britse-onderdaanskap oorgeslaan na Afrika-nasionalisme: “Afrika vir die Afrikane!”. Nogmaals’n alternatiewe patriotisme.

In die latere periode toe Afrikaner-nasionalisme polities oorheersend geword het, was die stryd toenemend tussen dié nasionalisme en swart nasionalisme. Laasgenoemde gee sedert 1994 die toon aan, met die African National Congress stewig in die saal. Die oproep tot patriotisme, nasietrots en dergelike burgerlike “pligte” is lewenskragtiger as ooit. Dit hou onder meer in dat die land (en by implikasie die regering) se reputasie hoog gehou moet word – ook deur die media, wat daarom nie alte vrye teuels moet hê nie.

Daar is iets oudmodies aan hierdie soort nasiestaat-patriotisme waarvoor die meeste Suid-Afrikaners hoek, lyn en sinker val. In sy South Africa: The First Man, the Last Nation lig die politieke kommentator R.W. Johnson hierdie eienaardigheid uit: Die land waar die eerste lid van die spesie homo sapiens bes moontlik gebore is, is ook die land waar nasietrots sy laaste skuilplek vind. In die res van die wêreld, betoog Johnson, bestaan so iets nie meer nie.

Hy is waarskynlik reg hieroor, maar by hom hang dit vermoedelik saam met ’n spesifieke siening van hoe ’n post-nasionalistiese samelewing sou moet lyk: ’n samelewing wat op “rasionele” oorwegings soos die ekonomie berus. Regerings se taak is nie meer om nasies te bou nie, maar om ’n sakevriendelike omgewing te skep. Sou die SA regering hom daarop toespits, sou dit beter gaan, lyk Johnson te suggereer. Hoewel hy dus nasionalisme en patriotisme verwerp, glo hy – tipies liberaal – steeds in die moontlikheid van ’n goeie regering. Hieroor is ek skepties. Ek pleit vir iets radikaler: anargistiese.

Laat ek eers verduidelik hoekom ek teen nasionalisme is. Dis eintlik eenvoudig. Nasionalisme plaas die belange van die eie volk voorop: my eerste taak as patriot is om my land se belange te dien. Dit lei onvermydelik tot verhewigde konflik. Die selfverstaan van ’n nasie is immers intrinsiek uitsluitend: wie nie vir ons is nie, is teen ons, en word met agterdog bejeën. Verder lyk geweld ’n noodsaaklike voorwaarde vir volhoubare patriotisme te wees. Die Nazi’s het in die aanloop tot die Tweede Wêreldoorlog verkondig dat oorlog goed is omdat dit die volk sterk en lewenskragtig hou, maar ook waar dit nie uitdruklik so gestel word nie, is die sentiment dikwels aanwesig. Eenheid in die volk word versterk deur ’n gedeelde vyand. As vrede te lank heers, raak mense verveeld met vlag swaai en patriotiese liedere sing.

Die opvolgende nasionalismes in SA illustreer dit mooi, al het hul pleitbesorgers hulself en andere probeer oortuig dat ’n vriendelike nasionalisme moontlik is. Britse imperialiste het geglo dis in ander volke se belang om by die Britse Ryk ingelyf te word. Volke wat weerstand gebied het, is as barbaars beskou. Die middel van geweld teen sulke groepe is deur die doel van insluiting in die Ryk geheilig. Die oogmerk was dat elke knie sal buig en elke tong bely dat die Britse nasie die grootste van alle nasies is. Koloniale oorloë is ook dikwels gebruik om patriotiese sentimente in Brittanje self’n hupstoot te gee.

Die Afrikanerweergawe van nasietrots is weer as Christelike nasionalisme verkoop. Nasionalisme, so is vroom betoog, kan lelik word as die eie volk verafgod word en homself ten koste van andere handhaaf (’n implisiete kritiek op Britse imperialisme). Christelike nasionalisme, daarenteen, gun aan elke volk sy regmatige plek, maar stel God eerste sodat verafgoding van die eie volk uitgesluit, en billike optrede teenoor ander volke vereis, word. Christene hoef dus nie skaam te vol oor hul nasietrots nie. Trouens, hulle is eintlik daartoe verplig! Afrikaners se nasionalistiese strewe is dus geregverdig, selfs al kos dit onmenslike wetgewing en brutaliteit. Immers, volkskap word ook aan ander bevolkingsgroepe gegun. Dis net as hulle “ons” reg op volkskap bedreig dat ons met die nodige kragdadigheid reageer, Daarvoor het ons Goddelike sanksie.

En in die nuwe SA? Behalwe dat haatspraak teen “verdagte” rasminderhede aan die orde van die dag is, juis uit die logika dat hierdie mense vermoedelik nie lojaal aan die nuwe nasie is nie, vier vreemdelingehaat ook hoogty. Immigrante uit ander Afrikalande hoort immers nie onder “ons” nie. Hulle moet teruggaan na waar hulle vandaan kom. Hulle steel “ons” werk, vry “ons” vrou af, bring dwelms en misdaad na ons land. Ons voel sterk en eensgesind wanneer ons hulle laat les opsê.

Nee wat, as die verskynsel van nasietrots uitsterf, sal ek nie ’n enkele traan stort nie. Hoe minder patriotisme, hoe beter.

Dit beteken nie dat ons tevrede kan terugsit sodra die regering sy kinderagtige nasionalisme agtergelaat en hom op die doeltreffende bestuur van ’n liberale demokrasie begin toespits nie. Daarin verskil ek met Johnson en kie, maar ook met Marxiste en ander linkses wat dink nasionalisme is in orde solank dit met sosialisme, eerder as kapitalisme, gepaard gaan. Moet my nie verkeerd verstaan nie: Ek verkies ’n liberale demokrasie bo ondemokratiese regeringsvorme, en ek hel eerder na sosialisme as na kapitalisme oor. “Beter” is egter nog nie “goed” nie. Die ou cliché lui mos: Demokrasie is die slegste regeringsvorm … behalwe vir al die ander. Dis ’n cliché wat ons ernstig moet opneem. Om nog ’n cliché aan te haal: demokrasie vereis “eternal vigilance”.

Maar anargisme: gaan dit nie te ver nie? Veral in SA met sy sterk Christelike bevolking?

Hoewel Paulus se brief aan die Romeine (hoofstuk 13) dikwels aangehaal word om die noodsaak van ’n regering en “onderdanigheid aan die owerheid” te motiveer, word dikwels mis gekyk dat, in dieselfde brief, hy ook skryf (Rom. 8:38): “geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie.” So asof hulle sou wil probeer! Die Griekse woord wat hier met “magte” vertaal word, is αρχαι (argai), waarvan die woord “anargisme” afgelei is. In Efesiërs 2:2 is weer die αρχοντα (argonta), die “vors” onder wie die gelowiges “tevore gewandel het”, maar waarvan hulle nou bevry is, aan die orde.

Wanneer Paulus dan in Romeine 13:4 skryf “die owerheid is ‘n dienaar van God tot jou beswil”, is die idee nie dat die owerheid ’n mak hond is wat gedwee sy meester gehoorsaam nie. Dit gaan juis om ’n relativering van die “magte” – soos wanneer in Jesaja 48 oor die Persiese heerser Kores gesê word dat hy JHWH se “dienskneg” is, “ook al ken hy [JHWH] nie”. JHWH gebruik Kores sonder laasgenoemde se medewete! Die magte is aan God ondergeskik; hulle het geen eie gesag nie.

Paulus skryf wel: “’n Mens hoef nie vir die owerhede bang te wees as jy goed doen nie.” In die Nuwe Testament word hierdie stelling egter altyd gerelativeer. 1 Petrus 3:13 vra retories: “Wie sal julle kwaad aandoen as julle julle beywer vir wat goed is?” Daarop volg egter: “Maar selfs as julle sou ly omdat julle doen wat reg is …” Laasgenoemde bly altyd ’n moontlikheid. Die vroeë Christene het geen illusies oor die gevare en potensiële boosheid van politieke mag gehad nie. Hulle het dit in vervolging aan hul lyf gevoel. (Paulus is self tereggestel.)

Noam Chomsky definieer ’n anargis as “someone who distrusts government”. Let wel, nie “the government” nie, maar “government”, enige regering. Dit resoneer nogal met Bybelse sentimente. Anargiste in hierdie sin kan hulle sonder selfweerspreking vir (die behoud van) demokrasie beywer – omdat die alternatiewe erger is. Hulle sal egter geen blinkoog-vertroue in die demokratiese regeringsvorm hê nie, maar altyd waaksaam bly, aangesien hulle géén regering vertrou nie. Alle regerings is geneig tot magsmisbruik. Dit is goeie burgers se plig om daarvoor op hul hoede te bly. Nasionalisme en patriotisme is sleg, ja, maar om dit te besef is nie genoeg nie.

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

18 antwoorde op Pleidooi vir anargisme

  1. Dit laat my dink aan die Ier wat as skipbreukeling op ‘n strand uitspoel en dadelik vra wie die regering is, en dan antwoord dat hy teen die regering is wie dit ookal is.
    Miskien is dit beter om saam met Paulus te se : “Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook ons Verlosser verwag die Here Jesus Christus.” ( Fil.3:20 OAV ).

  2. Ek hoor wat Natasha se, maar daar is tog ook ‘n ander kant van nasionalisme. Hans Kohn, ‘n bekende Amerikaanse skrywer oor nasionalisme, beweer dat dit die belangrikste ideologie van die neentiende en twintigste eeue geword het. ‘n Ander gevierde historikus se : “The central fact of modern history, most observers agree, is the existence of the sovereign nation state as the unit of political organization.” Alle ander ideologiee is beperk tot sekere groepe en tot sekere gedeeltes van die aarde, maar nasionalisme word by alle rasse en op alle vastelande aangetref.
    Alle nasionalismes kan nie vereenselwig word met die totalitere en imperialistiese nasionalisme van die Hitlertydperk nie.
    Baie mense het nie ‘n duidelike begrip van wat nasionalisme is nie, hulle liefde of afkeer is hoofsaaklik op vermoedens, gissings en wensdenkery gebaseer en nie op wetenskaplike kennis nie.

  3. Natasha, in alle regverdigheid, ek het nie bedoel dat jy jou aan vermoedens, gissings en wensdenkery skuldig maak nie. maar die mens in die algemeen wat kommentaar lewer op nasionalisme.
    Ek stem saam met Gerrit se pleidooi vir anargisme. Maar dan is dit tog ‘n spesiale vorm van anargisme. ‘n Anargisme nie soos die wereld dit bedryf nie, maar soos Christus dit vir ons voorgeskryf het, veral in die bergpredikasie. ‘n Interessante bespreking hieroor het ek raak gelees in een van Brian McLaren se boeke,Everything Must Change. Hy se onder andere : “If Jesus’ message of the kingdom of God is true, then everything must change- – – what could change if we applied the message of Jesus – the good news of the kingdom of God – to the world’s greatest problems?”
    Lees dit gerus, vir ‘n goeie oefening in Christelike anargisme!
    Anderdag gesels ons dalk verder oor die voor en nadele, of moet ek eerder se, die toepassing en die misbruik van nasionalisme.

  4. Die ideaal van die demokrasie is wel dat die stemvolk ‘n regering by die stembus kan ontsetel en met ‘n nuwe een vervang. Dit skep ten minste die moontlikheid dat ‘n regering se mag beperk kan word. Dit beteken egter nie die nuwe regering sal die volk se belange op die hard dra nie, en selfs waar dit wel die geval is, is daar baie ander faktore waarmee ‘n regering rekening moet hou – soos die belange van die geldmakers wat ook ‘n regering kan maak of breek, en wat nie die volk se belange nie, maar wins, eerste stel. Regerings se oplossing is dan bemarking van die een of ander aard: skep die indruk dat jy die volk se belange dien. Ook wat dit betref funksioneer ‘n regering soos ‘n kommoditeit: dit moet verkoop word …

  5. Die Israel-kerk (dit bestaan al lank as die Brits-Israelisme omdat hulle glo “British” kom van die Hebreeuse “Beriet iesj”, en dat dit dui op blankes uit Europa wat nasate van die verlore tien stamme van Israel is, terwyl vandag se Jode nie regtig van die ander twee stamme afstam nie) is nie anargisties nie, want soos Christian Reconstructionism en ander groepe, glo hulle in ‘n teokrasie – nie in die sin dat God regeer nie, maar in die sin dat ‘n Christelike regering moet regeer. Hulle wantrou dus ‘N regering, maar nie regering as sodanig nie.

  6. Met laasgenoemde stem ek saam, maar dan moet ons die Hemele sien as God se toekoms vir die wereld, nie as ‘n ander wereld nie. Daarby moet ook kom dat God nou reeds regeer, maar verhuld. Dis myns insiens die radikaalste vorm van anargisme.

  7. Jy skryf: “Alle nasionalismes kan nie vereenselwig word met die totalitere en imperialistiese nasionalisme van die Hitlertydperk nie.” Jy het gelyk, so erg gaan dit darem nie altyd nie! Maar die nasiestaat teer steeds op geweld. Belangrik om in te sien, is dat demokrasie nie noodwendig nasionalisme impliseer nie.

  8. Jy is reg oor die nasiestaat en die moontlike eise wat deur verskillende komponente gestel kan word.
    ‘n Nasie,en hier haal ek prof. D.J. Kotze aan, is ‘n groep mense wat hulself as ‘n eenheid beskou en bewustelik daarna streef om ‘n eie onafhanklike staatsverband te besit. ‘n Nasie is dus ‘n eenheidsbewuste en politiek-gerigte gemeenskap.
    Baie interessant is dat ‘n nasie ook ‘n nasie kan bly, selfs al verloor dit sy staatkundige onafhanklikheid. Solank as wat die groep homself as ‘n eenheid beskou, en begeer om WEER staatkundig onafhanklik te word, is dit nog steeds ‘n nasie.
    Nasionalisme is ‘n gedagtesisteem waarin die nasie sentraal geplaas word. Dit gaan van die standpunt uit dat die nasie sekere besondere gemeenskaplike kenmerke, waardes of belange verteenwoordig en ‘n besondere taak te verrig het, en dat dit aan hom ‘n bepaalde identiteit verleen wat hom van ander nasies onderskei. Die nasie moet ook die hoogste liefde, eer. trou en lojaliteit ontvang. Dit kan slegs gebeur indien die nasie ‘n eie soewereine staatsverband besit.

  9. Om ‘n mens deel te voel van ‘n gemeenskap wat deur sekere “familietrekke” soos gedeelde gewoontes, taal, geskiedenis ens identifiseerbaar is, is normaal, onafwendbaar. Die oomblik wanneer dit ‘n “nasie” word, met “nasietrots” en dies meer, begin die moeilikheid.

  10. Ek stem saam oor die “moeilikheid” wat voortspruit uit “nasietrots”. Dit lyk egter asof die begrip nasie by ons sal wees tot die einde: “Hierna het ek ‘n groot menigte gesien wat niemand kon tel nie. Hulle was van elke NASIE, volk en taal en het voor die troon en voor die Lam gestaan- – -.” (Opb.7:9)
    Miskien moet ons konsentreer op die begrip, volk, dan is ons minstens in goeie geselskap as volk van God.

  11. Interessant!

    Vertaling is altyd ‘n lastige ding (een rede hoekom ‘n fundamentalistiese Skrifbeskouing nie kan werk nie, maar dit tersyde). In die Grieks is die gebruikte terme “ethnoes”, “fuloon” en “lahoon”. In die sosiale konteks van toe het hierdie terme ‘n betekenis gehad wat geen moderne term het nie, en die moderne begrippe “volk”, “nasie” ens. het destyds nie bestaan nie. Begrippe soos “stam”, “familie” en “geslag” sou myns insiens hier nader aan die oorspronklike kom as wat nou in die Afrikaanse vertaling staan.

    Anders gestel: daar was ‘n tyd toe die begrip “nasie” (en “volk”) soos ons dit ken nie bestaan het nie (omdat die moderne nasiestaat nie bestaan het nie), so daar is niks noodsaakliks of onafwendbaars aan die begrippe nie.

  12. Touche !
    Wys jou hoe maklik trek ons begrippe van 2000 jaar en selfs baie langer (OT) deur na bekende begrippe van vandag.
    Ek het ‘n broertjie dood aan enige vorm van fundamentalisme, moes dus van beter geweet het. Dit wys maar net weer dat ons nie Bybelteksies vir elke argument kan(mag) aanvoer nie.
    Vrede !

  13. Dat Israel in die OT as uitverkore gemeenskap gesien word, en dat daardie gemeenskap in die OT geskiedenis ‘n tyd lank ook ‘n “staatkundige” vorm aangeneem het, is korrek, maar die begrip “volk” soos moderne mense dit verstaan, was nie aan die orde nie. Die “staat” Israel in daardie tyd was nie ‘n nasiestaat nie, maar ‘n stammeverbond waarop ‘n soort monargie ge-ent is. Die deurlopende gedagte, ook voor en na die bloei van die “staat”, was dat Israel ‘n geloofsgemeenskap is. Die profete was uiters krities op die konings, en in vele opsigte het Israel se roeping die beste vervul in tye toe hierdie “staat” nie bestaan het nie.

  14. Hieronder het jou antwoord tog deurgekom. Dankie daarvoor.

  15. Fanie, ek verdink jou darem nie van fundamentalisme nie!

  16. al stem ek nie 100% saam nie Gerrit, is dit briljant geskryf.

  17. Jy se twee goed waarvan ek baie hou, maar waarvan ek net die een regtig glo … Dankie!

  18. abrham het gesê op Desember 9, 2010

    ons taks geld koop 13.5 milj stemme vir die anc in die vorm van toelaes. vertel daai mense dat as hulle nie anc stem nie is hul hul geldjie kwyt, en siedaar majority rules. al die minderhede saam is nieerrs 13.5 nie. the numbers does not add up, my dear watson

Los ’n antwoord vir bloukaap. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.