Hoof en hart

November 19, 2010 in Sonder kategorie

My jongste Kerkbode-rubriek:

 

“Volg je hart, gebruik je hoofd.” Waar ek tans in Nederland vertoef, is hierdie bank-advertensie op stasieperronne te sien. Die implisiete boodskap: Wat jou hart begeer, is binne jou bereik – mits jy jou kop gebruik deur by die regte bank te belê.

 

Wat die kopieskrywer waarskynlik nie in gedagte gehad het nie is die resonansie met Jesus se raad in Matteus 10:16: “Wees dus versigtig soos slange en opreg soos duiwe.” ’n Mens sou die eerste byvoeglike naamwoord ook kan vertaal as “slim” of “verstandig” (Grieks: frônimos). Dieselfde woord word in die Griekse vertaling van Genesis 3:1 gebruik: “Die slang was listiger as al die wilde diere …”

 

Die verhaal van Eva en die slang is die klassieke illustrasie van “slim vang sy baas”. In die wêreld waar die verhaal ontstaan het, het die slang verwondering gewek: elke keer as hy sy vel verwissel, is hy weer nuut. Hy ken oënskynlik dus die diepste van alle geheime: die geheim van onsterflikheid. (Eva is dan ook gretig om hom te glo wanneer hy sê: “Julle sal beslis nie sterf nie” – Gen. 3:4.) Daarom was hy simbool van wysheid, skranderheid. Dat dit juis hý moet wees wat Eva in die verderf lei!

 

David Kramer druk dié paradoks netjies in sy album Hemel en aarde uit: in een lied Moeder Aarde wat sing “die ape het te slim geword”; in ’n ander die wanhopige refrein: “Hoekom is die mensdom so dom, dom, dom?”

 

Die 18de-eeuse Verligting wou ons laat glo dat, as ons maar ons kop gebruik, “vir onsself dink” (Kant), ons sal weet wat goed is én dit doen. Toe kom die “meesters van agterdog”, Darwin, Freud en Marx, en herinner die moderne mens daaraan dat die verstand gereedskap is – dikwels in diens van duistere, redelose dryfvere.

 

Nou moet ons egter nie te maklik vir die Rasionalisme se teenpool, die Romantiek, met sy ophemeling van gevoel en intuïsie, val nie. Daaruit kom nie net Romantiese poësie, musiek en kuns voort nie, maar ook volksromantiek, bloed en bodem, die irrasionele dryfkrag van fascisme; en op ’n meer persoonlike vlak verskynsels soos “kunstenaars” wat hul gesin in die steek laat, vriende verraai en mense misbruik met die verskoning dat hulle “sensitiewe siele” is. Het Eva (dis nou ons almal) nie “haar hart gevolg” toe sy haar hand na die verbode vrug uitgesteek het nie?

 

Nóg die “suiwer rede”, nóg ongebreidelde passie, nóg ’n kombinasie van dié twee (’n dodelike brousel!) kan ons red. Dit het Augustinus al ingesien. Hy reken ’n mens kan net goed leef as jou verstand, emosies én wil op die regte plek is. Anders word ons, soos C.S. Lewis skryf, “men without chests” – mense sonder ’n vrye wil (wat volgens die antieke mensbeskouing in die borskas gesetel is).

 

Volgens Augustinus is passie ’n Godsgawe, maar ’n mens moet die regte passies of “liefdes” hê – as jy reg liefhet, sê hy, kan jy doen wat jy wil. Die verstand is ook nie inherent sleg nie (inteendeel!), maar dit moet in diens van die regte passies ingespan word, en met die nederigheid wat weet dat jy, in die soeke na egte lewenswysheid, nie outonoom nie, maar diep afhanklik, is. Alleen só kan die gebonde wil van die oorheersing deur hart en verstand bevry, en in sy regmatige heerskappy herstel, word.

 

Martin Luther King het “versigtig soos slange en opreg soos duiwe” met “a tough mind and a tender heart” vertaal. Daarby kom Spreuke 9:10: “Wysheid begin met die dien van die Here; wie die Heilige ken, het werklik insig.”

Dit kan jy egter nie self bewerkstellig nie, en jou bank nog minder.

 

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

11 antwoorde op Hoof en hart

  1. Deur voor te stel dat mens moet kies tussen reg en verkeerd neem jy ook aan dat daar n gevolg is aan jou besluite wat uiteindelik saak maak.

  2. Gewis. Kan jy uitbrei?

  3. Ek hoop jy bedoel tawwe en nie sawwe nie …

  4. jannel1 het gesê op November 20, 2010

    Laat jy my nou diep suig aan ‘n Stuyvesant:

    Ons harte moet ons lewens met verstandigheid regeer.

  5. Lank, lank gelede was dit vir my altyd a Camel. Ai, soms mis ek dit darem! Maar dit was hart (of longe) sonder verstand. Aan die ander kant: ek dink altyd in die hemel sal mens kan rook sonder dat dit ongesond is, en die sigarette sal ekstra lekker wees.

  6. jannel1 het gesê op November 20, 2010

    Hehehe, nou’t jy my prentjie van die hemel lekker vervongfaai! Maar ek hou daarvan!

  7. By my was dit nie camels of stuyvesants nie maar ‘n lekker kromsteel. Staan nou nog onder die wind as iemand pyp rook. Dankie Gerrit dat daar dalk hoop is vir die hemel, of dan die nuwe aarde, want dit is mos waar ons gaan leef, dan nie?
    Goeie artikel ek hou van fronimos,1Kor. 4:10noem dit verstandig in Christus,Rom.12:16 praat in die negatief as dit se “moenie eie wys” wees nie (nie fronimos ?)
    Sagte harte en verstandige koppe, inderdaad.

  8. Fanie, jy’s heeltemal reg: sowel in 1 Kor 4:10 as in Rom 12:16 is die woordstam ‘fronimos’. Dit het ek danksy jou vraag nagegaan. Dankie. ‘n Mens sou ‘n hele boek oor ‘fronimos’ kan skryf, lyk dit my!

  9. Stefaan het gesê op November 22, 2010

    Dankie Gerhard, dis goed gedoen gedoen so! Verstand en intuisie. Christus het die alles mooi tot eenheid gebring en ook die onderskeid behou deur te sê dat ons die Here moet liehê met ons hele hart en ons hele verstand. Dis nie die een of die ander nie, maar albei.Ek sluit `n paar opmerkings oor intuisie in: “Intuision tells you what to do long before your head has figured it out. All great men are gifted with intuition. They know without reasoning or analysis, what they need to know. Intuition is a unjustified belief”

  10. Interessante blik op Nietzsche!

  11. WILLEM-HENRI DEN HARTOG SKRYF:

    Hallo Gerrit,

    Dankie vir die interessante bydrae op jouw blog.

    Die bank waaroor jy praat is die Triodos Bank. Hulle is ’n Antroposofisch Bank in Zeist. http://www.triodos.nl/nl/hart-hoofd-campagne/ Volg je hart gebruik je hoofd wil denk ek volgens hulle een holistische mensbeeld weerspiegel.

    Lekker dag.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.