Die “Sunday Times” in Zoeloe!

November 8, 2010 in Sonder kategorie

Die Sunday Times het ’n Zoeloe-uitgawe op die been gebring (lees hier meer daaroor). Dat dit so lank moes duur voordat een van die gevestigde Engelse of Afrikaanse koerante tot hierdie stap oorgaan, is vreemd. Immers, Zoeloe-koerante is al geruime tyd onder die beste verkopers in die land. Ons weet mos ook dat tydskrifte, radiostasies en televisiekanale wat Afrikatale (en nie net die Afrikataal wat Afrikaans heet nie) gebruik vooruit boer.

 

Die rede vir die huiwering tot dusver, weet ek van ten minste een media-onderneming, is die uitslae van marknavorsing. Nou ja, marknavorsing snarknavorsing. As daar nou een nuttelose bedryf is, dan is dit die een. Die einste onderneming weet uit eie ervaring dat as ’n mens in fokusgroepe vir lesers van ’n koerant vra wat hulle graag daarin wil sien, dit glad nie volg dat hulle wel daardie soort inhoud gaan lees as dit wel voorsien word nie.

 

Dat marknavorsing onsin is, is ook gewoon logies. Die verwysingsraamwerk in terme waarvan verbruikers nadink oor wat hulle graag wil hê, is ’n uitvloeisel van wat hulle al iewers gesien, of waarvan hulle gehoor, het. Die meeste mense het nie die verbeelding om aan totaal nuwe soorte produkte te dink wat tot hulle sal spreek nie. Dis eers wanneer mense die nuwe produk waaraan hulle nooit self sou gedink het nie sien en proe dat hulle weet hulle wil dit hê. Om sulke produkte uit te dink is die werk van kreatiewe entrepreneurs.

 

Ek praat sake-taal, al is dit nie my moedertaal nie. Ek doen dit omdat die mense wie se moedertaal dit veronderstel is om te wees dit stotterend praat. Hulle het hulp nodig. Self sou ek eerder op idealisme as winsgerigtheid wil fokus, maar die argument teen idealistiese projekte wat gefinansier wil word, is te dikwels dat dit nie finansieel lewensvatbaar is nie. (’n Voorbeeld is die Vrye Afrikaanse Universiteit.)

 

Dink egter hieraan: Die Burger, waaruit die grootste media-onderneming in Afrika gegroei het – ’n multinasionale reus – is deur ’n klompie idealistiese Afrikaners begin – totaal teen die stroom in. Dat ons vandag nie al die ideale van daardie ondernemende klompie nasionaliste deel nie (hoewel die strewe om ’n ander stem as die destyds heersende imperialisties-gesinde te laat hoor opsigself nie ’n slegte idee was nie), verander niks daaraan dat hulle die marknavorsers van alle tye se naam krater gemaak het nie.

 

Daar is ’n politieke les: Die ANC speel van tyd tot tyd met die idee om ’n eie koerant te begin. Ek dink dit sal ’n veel beter opsie wees as om die bestaande media te probeer muilband, wat tans die gedagte is. Dit sal veral ’n knuppel in die hoenderhok gooi as die ANC so ’n koerant nie (net) Engels maak nie, maar byvoorbeeld streekuitgawes in die verskillende amptelike tale het. Hulle hoef nie eens te wag totdat hulle ’n koerant het nie. Hulle kan sommer met hul eie webwerf, en veral Umrambulo, begin. Hulle kan in die parlement ander tale as his master’s voice gebruik. Hulle kan ’n taalbeleid instel wat, ooreenkomstig die Grondwet, al die amptelike tale billik behandel.

 

Dalk is dit te veel gevra dat politici die samelewing se belange op die hart sal dra. En kerke stel oor die algemeen blykbaar ook nie belang om met almal te kommunikeer nie.

 

Intussen is ons dus in groot mate afhanklik van ondernemings wat ’n geldjie wil maak uit alles wat hulle doen. Mag hulle dan ten minste die potensiaal van koerante en boeke in verskillende tale insien – veral in ’n tyd dat die meeste gevestigde koerante se sirkulasie daal. Die persentasie Suid-Afrikaners wat hoegenaamd koerante of boeke lees, is bitter klein – dít in ’n land met relatief hoë geletterdheid. Publikasies soos die Son goed omdat hulle hul op ’n deel van die bevolking rig wie se behoeftes (waarvan hulle selfs nie eens wis nie) tot dusver nie deur die media bevredig is nie. Tale wat tans nog nie die koerantwêreld betree het nie is die sleutel tot die onsluiting van daardie potensiële reusemark.

 

Mag die Sunday Times se waagstuk (as dit ’n waagstuk is) gróót dividende oplewer!

 

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

 

8 antwoorde op Die “Sunday Times” in Zoeloe!

  1. Dalk skrik die Sunday Times vir die koms van “New Age”, dit is mos die naam van die ANC se koerant,of nie ?
    Ek stem saam dat marknavorsing en verwante opnames onlogiese snert is. Ek merk volgens gister se Rapport, dat die NG-Kerk se linmaattal bereken is, onder meer, op die bywoning van eredienste. Dit is mos nie appels wat met appels vergelyk word nie.

  2. Ek weet nie of die Sunday Times vir die ANC se beoogde New Age skrik nie (o, ek hoor al hoe ‘n sekere tipe Christene te kere gaan oor daardie naam!), juis omdat daar (sover ek weet) geen aanduidings is dat die ANC beoog om Afrikatale in New Age te gebruik nie.

    Ja, kerkbywoning en kerklidmaakskap is twee verskillende goed, maar ek dink die fokus op getalle is in elk geval misplaas. Wat sou die “oplossing” wees as die getalle val? Dat die evangelie so ‘n bietjie verander moet word om beter in die mark se behoeftes te voorsien? Dalk ‘n ontkleevertoning in die kerksaal?

  3. Ja’k ons kan lekker bespiegel oor metodes om die kerk (weer?)vol te kry.
    Sommige gemeentes doen dit alreeds by uitnemendheid, wonder of dit werk op die lang termyn ?
    Ons kan ons maar klaar maak vir die storm oor “New Age”! Storm van binne en van buite, gewis.

  4. Vir my is die vraag of dit “werk” nie ter sake nie. Die klassieke “merktekens” van die kerk is, soos die Hervormers dit gestel het, die suiwer verkondiging van die Woord en die regte gebruik van die sakramente. In hierdie lig is die ware kerk nie altyd die kerk wat “werk” nie. Daarenteen kan die valse kerk baie goed “werk”.

    ‘n Predikantvriend van my vertel dat sy kerkraad op ‘n stadium vuur en vlam was om “strategiese ontwikkeling” (destyds die groot mode in die kerk) in te voer. (Later sou dit metodes van “church growth” word.) Sy reaksie het uit die Johannesevangelie gekom: Toe die mense aanstoot neem oor dinge wat Jesus kwytgeraak het, en toe sommer ook geloop het, toe bly daar net ‘n paar dissipeltjies agter. Jesus verbly hom toe nie oor die feit dat hulle ten minste nog daar is nie. Nee, Hy vra hulle wat hulle nog daar soek! “Hoekom loop julle nie maar ook nie?” sou mens kan parafraseer.

  5. Ek stem met jou saam oor die klassieke “merktekens” van die kerk. Of dit nog vir almal belangrik is, is ‘n ander vraag. Soms voel ‘n mens half uitgesluit as jy praat oor hierdie “merktekens” en hulle belangrikheid vir die kerk.
    Ek is deur al die prosesse van strategiese beplanning en “Church Growth” programme. Stem saam met jou vriend oor Jesus se antwoord!

  6. Ek is nogal opgefire oor die merktekens-ding (en so ‘n bietjie aspris met die gebruik van sulke “ou” taal) omdat ek pas ‘n wonderlike boekie, “Is God terug?” deur die Nederlandse teoloog Bram van de Beek, gelees het waarin hy nogal vurig hieroor skryf.

    Belangrik vir my (dis ‘n punt wat Dirkie Smit dikwels ook maak) is dat ons die merktekens nie moet gebruik as ‘n manier om ander kerke te “toets” en te bepaal of hulle nog “ware kerk” is nie. Ons moet ons nie eens aanmatig om te dink ons kan oordeel of ons eie kerk nog “ware kerk” is nie. Daardie oordeel kom slegs God toe. Wat die merktekens vir ons moet doen, is om ons te herinner wat ons moet wees ás ons “ware kerk” wil wees, waarop ons ons moet toelê. Groot lidmaattalle en aansien in die samelewing is nie onder daardie merktekens nie.

  7. Ek het nog net Prof. Braam se “Waarom” gelees. Gee nogal perspektief op baie vrae. Sal hierdie een ook kry.
    Ek aanvaar jou punt oor lidmaattalle want ek was nog nooit beindruk deur getalle nie. Persoonlik geniet ek nie massa-saamtrekke nie, nie eers om te praat van ‘n “Mighty Mens” konferensie nie.

  8. As dit gebeur, lees ek elke Sondag die Rapport. In Zoeloe. “Ons praat jou taal”

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.