Christelike anargisme?

November 4, 2010 in Sonder kategorie

My jongste Kerkbode-rubriek:

 

Volgens Friedrich Nietzsche hoort Jesus en die anargiste eintlik in dieselfde kamp. As ’n mens na die Christendom kyk, sou jy dit egter nie raai nie, want, meen Nietzsche, Christene het die subversiewe Jesus in ’n mak simbool van burgerlike fatsoen omskep.

  

Kan daar so iets soos Christelike anargisme wees? Van Christelike nasionalisme weet ons, en van bevrydingsteologie. Ook van Christelike humanisme. Ondanks die spanninge tussen hierdie verskillende vertolkings van Christelikheid, het hulle tog gemeen dat hulle die een of ander staatkundige reëling as ideaal stel: die staat moet deur, of met die samewerking van, Christene in stand gehou, hervorm of vervang word. Anargisme, daarenteen, beteken dat die staat of regering as sodanig radikaal bevraagteken word. Maar sê Paulus dan nie dat gelowiges aan die owerhede onderdanig moet wees nie?

  

Wel, Paulus was nie alte onderdanig nie. Hy het aangehou om ’n Gekruisigde – dit wil sê (in die heersende logika van destyds) ’n Godslasteraar en veroordeelde skuldige aan hoogverraad – as Heer te verkondig, ook nadat hy uitdruklik opdrag gegee is om daarmee te staak. Hy het die gevangenis van binne leer ken en uiteindelik gesterf vir sy gebrek aan onderdanigheid. In die Pauliniese korpus word van dieselfde owerhede waaraan die Christene beveel word om hulle te onderwerp ook gesê dat die Here “hulle in die openbaar tentoongestel en daardeur oor hulle getriomfeer het” (Kol. 2:15). Die Griekse woord wat hier vir die maghebbers gebruik word, is archê, waarvan die woord anargisme afgelei is.

Hoe bring ’n mens dié kloutjie by die oor? Sou dit kan wees dat die “onderwerping” waarvan Paulus praat, net soos in byvoorbeeld die Petrusbriewe, eintlik geen onderwerping is nie, maar juis vryheid? Moenie die goeie doen omdat julle bang vir straf is nie, skryf Paulus, maar uit jul eie gewete, in vryheid dus (Rom. 13:5). En as julle dan tog vervolg word omdat jy die goeie doen, eggo 1 Petrus 3:14 hierdie gedagtegang, moet julle dit as ’n voorreg beskou. “Moenie vir mense bang wees of julle laat afskrik nie.”

Volgelinge van Jesus laat hul gedrag nie bepaal deur vrees vir wêreldse gesag nie, maar deur hul vrye gehoorsaamheid aan ’n “Opstandeling”, Een wat hom nie aan die doodsbewerkende magte onderwerp het nie, maar opgestaan, en hulle sodoende ontmasker en oorwin, het.

Uit ’n bekende brief van ’n vroeë Christen aan ene Diognetus blyk dat Christene destyds van dislojaliteit aan die Romeinse ryk verdink is – nie sonder rede nie, want hulle het geweier om aan die keiserkultus, wat in wese op onvoorwaardelike onderwerping aan die keiser neergekom het, mee te doen. Die briefskrywer se verweer is dat die Christene juis die beste onderdane is omdat hulle geen vaderland het nie. Dit maak hulle die wêreld se lewegewende “siel”. Hulle dien die samelewing, paradoksaal genoeg, juis deurdat hulle die staat se aansprake relativeer.

Noam Chomsky definieer ’n anargis (soos hy homself ook noem) as “someone who distrusts government”. Let wel, nie “the government”, hierdie of daardie bose regering, nie, maar “government”, regering as sodanig. Regeerders het nou maar eenmaal die geneigdheid om absolute gesag op te eis.

Die moderne nasiestaat, sê die teoloog Stanley Hauerwas, berus op geweld, en eis van sy burgers die bereidheid om vir die staat te sterf en te dood. Op die vraag of ’n Christen as verkose lid van die regering kan dien, antwoord hy dat dit kan, maar dan slegs vir een termyn. Immers, as hy sy taak op ’n Christelike manier uitvoer, sal hy nie herkies word nie. Te ekstreem?

Kan mense wat die Gekruisigde as Heer belei anders as om elke ander mag en gesag – ook hul eie, vir sover hulle dit besit – te wantrou?

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

10 antwoorde op Christelike anargisme?

  1. Nooit aan myself gedink as ‘n anargis nie. Maar as Chomsky reg is, is ek beslis ‘n anargis – het ‘n behoorlike wantroue in regerings, insluitend die ‘kerk-regerings’.

  2. Welkom in die klub! Solank ons net teenoor onsself ook wantrouig bly.

  3. Inderdaad. Maar dalk is “ons” rol nie eerstens om die wereld te verbeter nie, maar om, soos Stanleu Hauerwas dit stel, die wereld werelds te hou en die goddelikheid aan God oor te laat. Regerings neig tot grootheidswaan en ambisieuse planne wat meer kwaad as goed doen. ‘n Profetiese stem bring dit terug aarde toe: “Doen jul werk: beskerm mense teen geweld, bestuur burgers se belastinggeld verantwoordelik, doen die alledaagse dinge ordentlik.”

  4. Ek sal gaan kyk. Is dit op LitNet?

  5. Die antwoord op jou eerste vraag is ja (behalwe dat dit nie NET daarop geskoei is nie, maar onder meer daarop), maar op jou tweede vraag: nee. ‘n Ja op die tweede vraag volg eenvoudig nie op ‘n Ja op die eerste vraag nie. Die moderne chemie het ontstaan uit die premoderne alchemie, maar dit beteken nie chemici is eintlik alchemiste nie.

    Nogtans: een van my Ou Testament-professors, Jurie le Roux, het altyd gese hy kan verstaan dat mense die son kan aanbid. Ek stem nogal saam!

  6. Ek weet van hom, ja. So hy het nie ‘n blog nie?

  7. Stefaan het gesê op November 6, 2010

    Gerrit, van son aanbid gepraat, ek het `n mooi beeld oor God en die son. God is te groot om Hom met my menslike denke te omvat. Om God te sien in Sy grootheid, is om na die son te kyk met jou blote oog. Dis onmoontlik, want jy sal permanente skade kry. In die lig van die son kan ek alles om my helder en duidelik sien. Jesus sê in Joh 8 dat Hy die lig vir die wêreld is en wie Hom volg sal nooit in die duister wandel nie maar die lig van die lewe hê. Die lig van Christus sal my nooit verblind nie maar juis lei. As ek Christus mis begin ek oor God wonder op `n ongesonde manier.

  8. Ja, dis ‘n klassieke beeld. Dit sluit aan by die verhaal oor Moses wat gevra het om God te sien, en God wat toe ingestem het dat Moses Hom sien, maar net as Hy verby gegaan het, van agter af! Hendrikus Berkhoff skryf wonderlik daaroor in sy Christelijk Geloof (Engelse vertaling: Christian Faith)

  9. Soos ons almal!

  10. Stefaan het gesê op November 7, 2010

    Gerrit, dit is vir my `n mooi nuwe manier van dink oor myself as jy skryf: “Solank ons net teenoor onsself ook wantrouig bly.” Die boodskap van die Boek is juis dat ons vertroue nooit op onsself nie maar op die Here alleen sal wees. Ek het op `n dag `n boekie se titel gesien wat my bybly: ” Die vertou op God alleen terapie.” Ek is maar altyd bietjie wantrouig teenoor mense wanneer ek die idee kry hulle het geariveer (in eie oë!)

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.