Jy blaai in die argief vir 2010 November.

As werklikheid skyn en skyn werklikheid word

November 28, 2010 in Sonder kategorie

My onlangse rubriek in Die Burger:

 

Jij hebt het niet van mij, maar … Dit is die titel van ’n nuwe boek deur Joris Luyendijk wat die tonge los het in Nederland. Die subtitel: Een maand aan het Binnenhof. Luyendijk het naamlik soos ’n wafferse antropoloog (sy eie vergelyking) ’n maand lank die gedrag van politici en staatsamptenare in Den Haag dopgehou en met hulle gesels om ’n idee te kry van hoe dit alles werk.

 

Dit blyk dat ministers weinig mag het, dat die belangrikste beleidsbesluite agter geslote deure tussen staatsamptenare en “lobbyisten” geneem word, en dat debatte in die kamer (die parlement) basies toneelspel is, aangesien die beslissings lankal reeds geval het teen die tyd dat verkose politici daaroor stry. Frustrerend vir joernaliste, want hulle kan eers oor beleidsontwikkelings verslag doen wanneer dié skyn-drama hom begin afspeel; hulle word van die binnegesprekke weggehou.

 

Verras dit u?

 

Daar was ’n tyd, skryf die filosoof Slavoj Žižek, toe die publiek vermoed het dat wat politici voorhou nie noodwendig die waarheid is nie. Daardie tyd is verby, meen hy, want vandag wéét ons dat politici toneelspelers is wat fiksies aan ons verkoop – en hulle weet dat ons weet! Dis ’n soort verstandhouding; ons verwag nie eens meer “eerlikheid” van hulle nie. Ons hou die raserige borrels op die oppervlak dop en probeer raai wat regtig daaronder aangaan.

 

Maar sê nou die borrels is al wat daar is – dat wat na iets onder die oppervlak lyk ’n illusie is, soos die skynbare water en vissies op ’n plat betonvloer in ’n wetenskapsmuseum. Dis nogal wat ons hedendaagse kultuur suggereer.

 

Dink maar aan kosmetiese chirurgie. Dertig jaar gelede, toe dit nog ’n nuutjie was, het mense gewonder of daardie formidabele bates “haar eie” is. Deesdae word nie eens gepoog om die aangeplaktheid natuurlik te laat lyk nie. Daar word juis gepronk met die feit dat Mevrou haar borste “laat doen” het – nes haar neus, lippe en (ja, so verneem ek oor die nuutste trend in die VSA) haar mees private dele.

 

Dis ook lankal nie meer net vroue wat hulle so laat plastiseer nie. Mans doen net so gretig mee aan botox en daardie vreemde donkerbruin kleur op die gesig wat in die vorige eeu nog soos ’n natuurlike sonbruin probeer lyk het. Om van haar-inplantings en hormoon-inspuitings, wat die spiere van ’n 60-jarige soos ’n 20-jarige s’n laat bult, nie eens te praat nie. In ’n samelewing waar skyn en werklikheid nie onderskei word nie, word skyn uitgestal.

 

’n Voorbeeld op TV is die reeks Desperate Housewives, waarin valsheid en agterbaksheid as doodnormaal en nouliks afkeuringswaardig uitgebeeld word. (Ja, dis komedie, maar many a true word is spoken in jest.) Daar is ook “realiteitsreekse” soos die een waarin aspirant-modelle mekaar katterig ondermyn en in die rug steek terwyl hulle huilend, slordig en “in ’n toestand” bitter onooglik daar uitsien voordat hulle in glans op die loopplank verskyn. Die kyker weet dat die verskyning ’n lugspieëling is, nes die drama “agter die skerms” (maar voor die kameras!). Skyn is werklikheid, werklikheid skyn.

 

Byna ’n eeu gelede het CS Lewis gewaarsku teen ’n oordrewe wetenskaplike agterdog wat alewig déúr dinge wil sien. ’n Mens kyk immers deur iets, soos ’n venster, om iets anders te kan sien. As ’n mens deur álles wil kyk, sien jy later niks meer nie. Dan gewaar jy nie meer ’n werklikheid agter die skyn, ’n diepte onder die oppervlak, nie.

 

Tog is dit regte mense wat só kyk en miskyk, en regte mense wat deur dié blik verontmenslik word. As ons iets nie kan sien nie, beteken dit mos nie dis nie daar nie?

 

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Pleidooi vir anargisme

November 24, 2010 in Sonder kategorie

My jongste bydrae in die Nederlandse Maandblad Zuid-Afrika:

(Dit sluit tematies by ‘n onlangse Kerkbode-rubriek aan)

 

Die skrywer Jan Rabie het ’n keer gesê hy het nie ’n vaderland nie, maar ’n moedertaal. Daarmee het hy patriotisme van die hand gewys. Volgens nog ’n skrywer, Oscar Wilde, is patriotisme “the virtue of the vicious”. Sameul Johnson beaam dit: “Patriotism is the last refuge of a scoundrel.”

Ek is geneig om saam te stem. In Suid-Afrika was die eerste vorm van patriotisme Britse imperialisme. Trou aan die koningin as simbool van die Britse ryk het die ywer aangevuur van diegene wat SA onder die Britse vlag wou kry en hou.

Die historiese figuur wat hierdie soort patriotisme in sy mees fanatiese vorm verpersoonlik het, was Alfred Milner, wat die Britse anneksasie van die Boere-republieke – met al die lyding en lewensverlies wat daardeur veroorsaak is – aggressief bevorder en in Brittanje verkoop het. Sy motiverings was suiwer patrioties: Die moontlikheid dat die Transvaalse republiek, danksy die ontdekking van goud in sy grondgebied, uiteindelik die Britte se Kaapkolonie as toonaangewende staat in die streek sou vervang, was vir hom heiligskennis.

Ná die verwoestende oorlog het Afrikaners se verset teen ’n “Suid-Afrikanisme” wat op lojaliteit aan die Britse kroon berus die vorm van Afrikanernasionalisme aangeneem – ’n alternatiewe patriotisme. Terselfdertyd het die swart weerstand teen die naoorlogse Unie-grondwet se weerhouding van stemreg van swartes mettertyd van ’n aandrang op gelyke Britse-onderdaanskap oorgeslaan na Afrika-nasionalisme: “Afrika vir die Afrikane!”. Nogmaals’n alternatiewe patriotisme.

In die latere periode toe Afrikaner-nasionalisme polities oorheersend geword het, was die stryd toenemend tussen dié nasionalisme en swart nasionalisme. Laasgenoemde gee sedert 1994 die toon aan, met die African National Congress stewig in die saal. Die oproep tot patriotisme, nasietrots en dergelike burgerlike “pligte” is lewenskragtiger as ooit. Dit hou onder meer in dat die land (en by implikasie die regering) se reputasie hoog gehou moet word – ook deur die media, wat daarom nie alte vrye teuels moet hê nie.

Daar is iets oudmodies aan hierdie soort nasiestaat-patriotisme waarvoor die meeste Suid-Afrikaners hoek, lyn en sinker val. In sy South Africa: The First Man, the Last Nation lig die politieke kommentator R.W. Johnson hierdie eienaardigheid uit: Die land waar die eerste lid van die spesie homo sapiens bes moontlik gebore is, is ook die land waar nasietrots sy laaste skuilplek vind. In die res van die wêreld, betoog Johnson, bestaan so iets nie meer nie.

Hy is waarskynlik reg hieroor, maar by hom hang dit vermoedelik saam met ’n spesifieke siening van hoe ’n post-nasionalistiese samelewing sou moet lyk: ’n samelewing wat op “rasionele” oorwegings soos die ekonomie berus. Regerings se taak is nie meer om nasies te bou nie, maar om ’n sakevriendelike omgewing te skep. Sou die SA regering hom daarop toespits, sou dit beter gaan, lyk Johnson te suggereer. Hoewel hy dus nasionalisme en patriotisme verwerp, glo hy – tipies liberaal – steeds in die moontlikheid van ’n goeie regering. Hieroor is ek skepties. Ek pleit vir iets radikaler: anargistiese.

Laat ek eers verduidelik hoekom ek teen nasionalisme is. Dis eintlik eenvoudig. Nasionalisme plaas die belange van die eie volk voorop: my eerste taak as patriot is om my land se belange te dien. Dit lei onvermydelik tot verhewigde konflik. Die selfverstaan van ’n nasie is immers intrinsiek uitsluitend: wie nie vir ons is nie, is teen ons, en word met agterdog bejeën. Verder lyk geweld ’n noodsaaklike voorwaarde vir volhoubare patriotisme te wees. Die Nazi’s het in die aanloop tot die Tweede Wêreldoorlog verkondig dat oorlog goed is omdat dit die volk sterk en lewenskragtig hou, maar ook waar dit nie uitdruklik so gestel word nie, is die sentiment dikwels aanwesig. Eenheid in die volk word versterk deur ’n gedeelde vyand. As vrede te lank heers, raak mense verveeld met vlag swaai en patriotiese liedere sing.

Die opvolgende nasionalismes in SA illustreer dit mooi, al het hul pleitbesorgers hulself en andere probeer oortuig dat ’n vriendelike nasionalisme moontlik is. Britse imperialiste het geglo dis in ander volke se belang om by die Britse Ryk ingelyf te word. Volke wat weerstand gebied het, is as barbaars beskou. Die middel van geweld teen sulke groepe is deur die doel van insluiting in die Ryk geheilig. Die oogmerk was dat elke knie sal buig en elke tong bely dat die Britse nasie die grootste van alle nasies is. Koloniale oorloë is ook dikwels gebruik om patriotiese sentimente in Brittanje self’n hupstoot te gee.

Die Afrikanerweergawe van nasietrots is weer as Christelike nasionalisme verkoop. Nasionalisme, so is vroom betoog, kan lelik word as die eie volk verafgod word en homself ten koste van andere handhaaf (’n implisiete kritiek op Britse imperialisme). Christelike nasionalisme, daarenteen, gun aan elke volk sy regmatige plek, maar stel God eerste sodat verafgoding van die eie volk uitgesluit, en billike optrede teenoor ander volke vereis, word. Christene hoef dus nie skaam te vol oor hul nasietrots nie. Trouens, hulle is eintlik daartoe verplig! Afrikaners se nasionalistiese strewe is dus geregverdig, selfs al kos dit onmenslike wetgewing en brutaliteit. Immers, volkskap word ook aan ander bevolkingsgroepe gegun. Dis net as hulle “ons” reg op volkskap bedreig dat ons met die nodige kragdadigheid reageer, Daarvoor het ons Goddelike sanksie.

En in die nuwe SA? Behalwe dat haatspraak teen “verdagte” rasminderhede aan die orde van die dag is, juis uit die logika dat hierdie mense vermoedelik nie lojaal aan die nuwe nasie is nie, vier vreemdelingehaat ook hoogty. Immigrante uit ander Afrikalande hoort immers nie onder “ons” nie. Hulle moet teruggaan na waar hulle vandaan kom. Hulle steel “ons” werk, vry “ons” vrou af, bring dwelms en misdaad na ons land. Ons voel sterk en eensgesind wanneer ons hulle laat les opsê.

Nee wat, as die verskynsel van nasietrots uitsterf, sal ek nie ’n enkele traan stort nie. Hoe minder patriotisme, hoe beter.

Dit beteken nie dat ons tevrede kan terugsit sodra die regering sy kinderagtige nasionalisme agtergelaat en hom op die doeltreffende bestuur van ’n liberale demokrasie begin toespits nie. Daarin verskil ek met Johnson en kie, maar ook met Marxiste en ander linkses wat dink nasionalisme is in orde solank dit met sosialisme, eerder as kapitalisme, gepaard gaan. Moet my nie verkeerd verstaan nie: Ek verkies ’n liberale demokrasie bo ondemokratiese regeringsvorme, en ek hel eerder na sosialisme as na kapitalisme oor. “Beter” is egter nog nie “goed” nie. Die ou cliché lui mos: Demokrasie is die slegste regeringsvorm … behalwe vir al die ander. Dis ’n cliché wat ons ernstig moet opneem. Om nog ’n cliché aan te haal: demokrasie vereis “eternal vigilance”.

Maar anargisme: gaan dit nie te ver nie? Veral in SA met sy sterk Christelike bevolking?

Hoewel Paulus se brief aan die Romeine (hoofstuk 13) dikwels aangehaal word om die noodsaak van ’n regering en “onderdanigheid aan die owerheid” te motiveer, word dikwels mis gekyk dat, in dieselfde brief, hy ook skryf (Rom. 8:38): “geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie.” So asof hulle sou wil probeer! Die Griekse woord wat hier met “magte” vertaal word, is αρχαι (argai), waarvan die woord “anargisme” afgelei is. In Efesiërs 2:2 is weer die αρχοντα (argonta), die “vors” onder wie die gelowiges “tevore gewandel het”, maar waarvan hulle nou bevry is, aan die orde.

Wanneer Paulus dan in Romeine 13:4 skryf “die owerheid is ‘n dienaar van God tot jou beswil”, is die idee nie dat die owerheid ’n mak hond is wat gedwee sy meester gehoorsaam nie. Dit gaan juis om ’n relativering van die “magte” – soos wanneer in Jesaja 48 oor die Persiese heerser Kores gesê word dat hy JHWH se “dienskneg” is, “ook al ken hy [JHWH] nie”. JHWH gebruik Kores sonder laasgenoemde se medewete! Die magte is aan God ondergeskik; hulle het geen eie gesag nie.

Paulus skryf wel: “’n Mens hoef nie vir die owerhede bang te wees as jy goed doen nie.” In die Nuwe Testament word hierdie stelling egter altyd gerelativeer. 1 Petrus 3:13 vra retories: “Wie sal julle kwaad aandoen as julle julle beywer vir wat goed is?” Daarop volg egter: “Maar selfs as julle sou ly omdat julle doen wat reg is …” Laasgenoemde bly altyd ’n moontlikheid. Die vroeë Christene het geen illusies oor die gevare en potensiële boosheid van politieke mag gehad nie. Hulle het dit in vervolging aan hul lyf gevoel. (Paulus is self tereggestel.)

Noam Chomsky definieer ’n anargis as “someone who distrusts government”. Let wel, nie “the government” nie, maar “government”, enige regering. Dit resoneer nogal met Bybelse sentimente. Anargiste in hierdie sin kan hulle sonder selfweerspreking vir (die behoud van) demokrasie beywer – omdat die alternatiewe erger is. Hulle sal egter geen blinkoog-vertroue in die demokratiese regeringsvorm hê nie, maar altyd waaksaam bly, aangesien hulle géén regering vertrou nie. Alle regerings is geneig tot magsmisbruik. Dit is goeie burgers se plig om daarvoor op hul hoede te bly. Nasionalisme en patriotisme is sleg, ja, maar om dit te besef is nie genoeg nie.

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Hoof en hart

November 19, 2010 in Sonder kategorie

My jongste Kerkbode-rubriek:

 

“Volg je hart, gebruik je hoofd.” Waar ek tans in Nederland vertoef, is hierdie bank-advertensie op stasieperronne te sien. Die implisiete boodskap: Wat jou hart begeer, is binne jou bereik – mits jy jou kop gebruik deur by die regte bank te belê.

 

Wat die kopieskrywer waarskynlik nie in gedagte gehad het nie is die resonansie met Jesus se raad in Matteus 10:16: “Wees dus versigtig soos slange en opreg soos duiwe.” ’n Mens sou die eerste byvoeglike naamwoord ook kan vertaal as “slim” of “verstandig” (Grieks: frônimos). Dieselfde woord word in die Griekse vertaling van Genesis 3:1 gebruik: “Die slang was listiger as al die wilde diere …”

 

Die verhaal van Eva en die slang is die klassieke illustrasie van “slim vang sy baas”. In die wêreld waar die verhaal ontstaan het, het die slang verwondering gewek: elke keer as hy sy vel verwissel, is hy weer nuut. Hy ken oënskynlik dus die diepste van alle geheime: die geheim van onsterflikheid. (Eva is dan ook gretig om hom te glo wanneer hy sê: “Julle sal beslis nie sterf nie” – Gen. 3:4.) Daarom was hy simbool van wysheid, skranderheid. Dat dit juis hý moet wees wat Eva in die verderf lei!

 

David Kramer druk dié paradoks netjies in sy album Hemel en aarde uit: in een lied Moeder Aarde wat sing “die ape het te slim geword”; in ’n ander die wanhopige refrein: “Hoekom is die mensdom so dom, dom, dom?”

 

Die 18de-eeuse Verligting wou ons laat glo dat, as ons maar ons kop gebruik, “vir onsself dink” (Kant), ons sal weet wat goed is én dit doen. Toe kom die “meesters van agterdog”, Darwin, Freud en Marx, en herinner die moderne mens daaraan dat die verstand gereedskap is – dikwels in diens van duistere, redelose dryfvere.

 

Nou moet ons egter nie te maklik vir die Rasionalisme se teenpool, die Romantiek, met sy ophemeling van gevoel en intuïsie, val nie. Daaruit kom nie net Romantiese poësie, musiek en kuns voort nie, maar ook volksromantiek, bloed en bodem, die irrasionele dryfkrag van fascisme; en op ’n meer persoonlike vlak verskynsels soos “kunstenaars” wat hul gesin in die steek laat, vriende verraai en mense misbruik met die verskoning dat hulle “sensitiewe siele” is. Het Eva (dis nou ons almal) nie “haar hart gevolg” toe sy haar hand na die verbode vrug uitgesteek het nie?

 

Nóg die “suiwer rede”, nóg ongebreidelde passie, nóg ’n kombinasie van dié twee (’n dodelike brousel!) kan ons red. Dit het Augustinus al ingesien. Hy reken ’n mens kan net goed leef as jou verstand, emosies én wil op die regte plek is. Anders word ons, soos C.S. Lewis skryf, “men without chests” – mense sonder ’n vrye wil (wat volgens die antieke mensbeskouing in die borskas gesetel is).

 

Volgens Augustinus is passie ’n Godsgawe, maar ’n mens moet die regte passies of “liefdes” hê – as jy reg liefhet, sê hy, kan jy doen wat jy wil. Die verstand is ook nie inherent sleg nie (inteendeel!), maar dit moet in diens van die regte passies ingespan word, en met die nederigheid wat weet dat jy, in die soeke na egte lewenswysheid, nie outonoom nie, maar diep afhanklik, is. Alleen só kan die gebonde wil van die oorheersing deur hart en verstand bevry, en in sy regmatige heerskappy herstel, word.

 

Martin Luther King het “versigtig soos slange en opreg soos duiwe” met “a tough mind and a tender heart” vertaal. Daarby kom Spreuke 9:10: “Wysheid begin met die dien van die Here; wie die Heilige ken, het werklik insig.”

Dit kan jy egter nie self bewerkstellig nie, en jou bank nog minder.

 

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Lees, dink en praat teologie op Sol Iustitiae

November 8, 2010 in Sonder kategorie

Op Sol Iustitiae, die fakulteit teologie van die Universiteit Stellenbosch se openbare gespreks-ruimte, is tonne nuwe leesstof gelaai:

          Skakels na twee stukke, Serving Two Masters: Shariah Law and the Secular State en Religion and the Liberal State Once Again, deur Stanley Fish

          Jurgens Hendriks se indrukke oor die evangelies-ekumeniese byeenkoms Lauzanne 3

          Ian Nel se resensie van die boek Een huis voor de ziel deur Henk de Roest

          Julie Claassens se verslag van die stigtingsvergadering van die Kring van Besorgde Afrika-vroueteoloë se Stellenbosch-tak en haar preek Keep your Eyes on the Prize, Hold on

          Nico Koopman oor die middelmatigheid wat van drome nagmerries maak en Reformed churches, economy and ecology in the context of glocalisation

          Twee artikels, Culture, Power and Religion en Reply to Frits de Lange’s Paper “The Hermeneutics of Dignity”, deur Gerrit Brand

          Dirkie Smit se lesing oor Belhar en kerkeenheid by ’n onlangse sinode van die Verenigende Gereformeerde Kerk

          Teologiestudente se gedagtes oor Wie lees teologie ooit?, Poverty and the Impact of Lending and Borrowing, Stigmatization and VVF-HIV/Aids among young adult females, Moraliteit, etiek en Facebook, The “Decade to Overcome Violence”, Teen biblisistiese interpretasie

          Vier resensies van teologiese boeke

          Tonne nuus oor teologiese en verwante gebeure

Onthou, dis nie net vir lees nie; dis ook vir saam gesels!

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Die “Sunday Times” in Zoeloe!

November 8, 2010 in Sonder kategorie

Die Sunday Times het ’n Zoeloe-uitgawe op die been gebring (lees hier meer daaroor). Dat dit so lank moes duur voordat een van die gevestigde Engelse of Afrikaanse koerante tot hierdie stap oorgaan, is vreemd. Immers, Zoeloe-koerante is al geruime tyd onder die beste verkopers in die land. Ons weet mos ook dat tydskrifte, radiostasies en televisiekanale wat Afrikatale (en nie net die Afrikataal wat Afrikaans heet nie) gebruik vooruit boer.

 

Die rede vir die huiwering tot dusver, weet ek van ten minste een media-onderneming, is die uitslae van marknavorsing. Nou ja, marknavorsing snarknavorsing. As daar nou een nuttelose bedryf is, dan is dit die een. Die einste onderneming weet uit eie ervaring dat as ’n mens in fokusgroepe vir lesers van ’n koerant vra wat hulle graag daarin wil sien, dit glad nie volg dat hulle wel daardie soort inhoud gaan lees as dit wel voorsien word nie.

 

Dat marknavorsing onsin is, is ook gewoon logies. Die verwysingsraamwerk in terme waarvan verbruikers nadink oor wat hulle graag wil hê, is ’n uitvloeisel van wat hulle al iewers gesien, of waarvan hulle gehoor, het. Die meeste mense het nie die verbeelding om aan totaal nuwe soorte produkte te dink wat tot hulle sal spreek nie. Dis eers wanneer mense die nuwe produk waaraan hulle nooit self sou gedink het nie sien en proe dat hulle weet hulle wil dit hê. Om sulke produkte uit te dink is die werk van kreatiewe entrepreneurs.

 

Ek praat sake-taal, al is dit nie my moedertaal nie. Ek doen dit omdat die mense wie se moedertaal dit veronderstel is om te wees dit stotterend praat. Hulle het hulp nodig. Self sou ek eerder op idealisme as winsgerigtheid wil fokus, maar die argument teen idealistiese projekte wat gefinansier wil word, is te dikwels dat dit nie finansieel lewensvatbaar is nie. (’n Voorbeeld is die Vrye Afrikaanse Universiteit.)

 

Dink egter hieraan: Die Burger, waaruit die grootste media-onderneming in Afrika gegroei het – ’n multinasionale reus – is deur ’n klompie idealistiese Afrikaners begin – totaal teen die stroom in. Dat ons vandag nie al die ideale van daardie ondernemende klompie nasionaliste deel nie (hoewel die strewe om ’n ander stem as die destyds heersende imperialisties-gesinde te laat hoor opsigself nie ’n slegte idee was nie), verander niks daaraan dat hulle die marknavorsers van alle tye se naam krater gemaak het nie.

 

Daar is ’n politieke les: Die ANC speel van tyd tot tyd met die idee om ’n eie koerant te begin. Ek dink dit sal ’n veel beter opsie wees as om die bestaande media te probeer muilband, wat tans die gedagte is. Dit sal veral ’n knuppel in die hoenderhok gooi as die ANC so ’n koerant nie (net) Engels maak nie, maar byvoorbeeld streekuitgawes in die verskillende amptelike tale het. Hulle hoef nie eens te wag totdat hulle ’n koerant het nie. Hulle kan sommer met hul eie webwerf, en veral Umrambulo, begin. Hulle kan in die parlement ander tale as his master’s voice gebruik. Hulle kan ’n taalbeleid instel wat, ooreenkomstig die Grondwet, al die amptelike tale billik behandel.

 

Dalk is dit te veel gevra dat politici die samelewing se belange op die hart sal dra. En kerke stel oor die algemeen blykbaar ook nie belang om met almal te kommunikeer nie.

 

Intussen is ons dus in groot mate afhanklik van ondernemings wat ’n geldjie wil maak uit alles wat hulle doen. Mag hulle dan ten minste die potensiaal van koerante en boeke in verskillende tale insien – veral in ’n tyd dat die meeste gevestigde koerante se sirkulasie daal. Die persentasie Suid-Afrikaners wat hoegenaamd koerante of boeke lees, is bitter klein – dít in ’n land met relatief hoë geletterdheid. Publikasies soos die Son goed omdat hulle hul op ’n deel van die bevolking rig wie se behoeftes (waarvan hulle selfs nie eens wis nie) tot dusver nie deur die media bevredig is nie. Tale wat tans nog nie die koerantwêreld betree het nie is die sleutel tot die onsluiting van daardie potensiële reusemark.

 

Mag die Sunday Times se waagstuk (as dit ’n waagstuk is) gróót dividende oplewer!

 

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

 

Christelike anargisme?

November 4, 2010 in Sonder kategorie

My jongste Kerkbode-rubriek:

 

Volgens Friedrich Nietzsche hoort Jesus en die anargiste eintlik in dieselfde kamp. As ’n mens na die Christendom kyk, sou jy dit egter nie raai nie, want, meen Nietzsche, Christene het die subversiewe Jesus in ’n mak simbool van burgerlike fatsoen omskep.

  

Kan daar so iets soos Christelike anargisme wees? Van Christelike nasionalisme weet ons, en van bevrydingsteologie. Ook van Christelike humanisme. Ondanks die spanninge tussen hierdie verskillende vertolkings van Christelikheid, het hulle tog gemeen dat hulle die een of ander staatkundige reëling as ideaal stel: die staat moet deur, of met die samewerking van, Christene in stand gehou, hervorm of vervang word. Anargisme, daarenteen, beteken dat die staat of regering as sodanig radikaal bevraagteken word. Maar sê Paulus dan nie dat gelowiges aan die owerhede onderdanig moet wees nie?

  

Wel, Paulus was nie alte onderdanig nie. Hy het aangehou om ’n Gekruisigde – dit wil sê (in die heersende logika van destyds) ’n Godslasteraar en veroordeelde skuldige aan hoogverraad – as Heer te verkondig, ook nadat hy uitdruklik opdrag gegee is om daarmee te staak. Hy het die gevangenis van binne leer ken en uiteindelik gesterf vir sy gebrek aan onderdanigheid. In die Pauliniese korpus word van dieselfde owerhede waaraan die Christene beveel word om hulle te onderwerp ook gesê dat die Here “hulle in die openbaar tentoongestel en daardeur oor hulle getriomfeer het” (Kol. 2:15). Die Griekse woord wat hier vir die maghebbers gebruik word, is archê, waarvan die woord anargisme afgelei is.

Hoe bring ’n mens dié kloutjie by die oor? Sou dit kan wees dat die “onderwerping” waarvan Paulus praat, net soos in byvoorbeeld die Petrusbriewe, eintlik geen onderwerping is nie, maar juis vryheid? Moenie die goeie doen omdat julle bang vir straf is nie, skryf Paulus, maar uit jul eie gewete, in vryheid dus (Rom. 13:5). En as julle dan tog vervolg word omdat jy die goeie doen, eggo 1 Petrus 3:14 hierdie gedagtegang, moet julle dit as ’n voorreg beskou. “Moenie vir mense bang wees of julle laat afskrik nie.”

Volgelinge van Jesus laat hul gedrag nie bepaal deur vrees vir wêreldse gesag nie, maar deur hul vrye gehoorsaamheid aan ’n “Opstandeling”, Een wat hom nie aan die doodsbewerkende magte onderwerp het nie, maar opgestaan, en hulle sodoende ontmasker en oorwin, het.

Uit ’n bekende brief van ’n vroeë Christen aan ene Diognetus blyk dat Christene destyds van dislojaliteit aan die Romeinse ryk verdink is – nie sonder rede nie, want hulle het geweier om aan die keiserkultus, wat in wese op onvoorwaardelike onderwerping aan die keiser neergekom het, mee te doen. Die briefskrywer se verweer is dat die Christene juis die beste onderdane is omdat hulle geen vaderland het nie. Dit maak hulle die wêreld se lewegewende “siel”. Hulle dien die samelewing, paradoksaal genoeg, juis deurdat hulle die staat se aansprake relativeer.

Noam Chomsky definieer ’n anargis (soos hy homself ook noem) as “someone who distrusts government”. Let wel, nie “the government”, hierdie of daardie bose regering, nie, maar “government”, regering as sodanig. Regeerders het nou maar eenmaal die geneigdheid om absolute gesag op te eis.

Die moderne nasiestaat, sê die teoloog Stanley Hauerwas, berus op geweld, en eis van sy burgers die bereidheid om vir die staat te sterf en te dood. Op die vraag of ’n Christen as verkose lid van die regering kan dien, antwoord hy dat dit kan, maar dan slegs vir een termyn. Immers, as hy sy taak op ’n Christelike manier uitvoer, sal hy nie herkies word nie. Te ekstreem?

Kan mense wat die Gekruisigde as Heer belei anders as om elke ander mag en gesag – ook hul eie, vir sover hulle dit besit – te wantrou?

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Etienne Britz oor Noord-Korea en Suid-Afrika

November 1, 2010 in Sonder kategorie

Die skrywer van LitNet se essay vir die maand Oktober was Etienne Britz. Tans woonagtig in China, het hy ‘n besoek aan Noord-Korea gebring. In sy essay, “Raakpunte tussen die Suid-Afrika van Apartheid en die DPRK”, skryf hy oor sy indrukke na aanleiding van sy reis. Lees dit en gesels saam op hierdie blog.

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.