“Oh Lord …”

September 27, 2010 in Sonder kategorie

My jongste Kerkbode-rubriek:

 

“Oh Lord …,” staan dit geskrewe op die advertensieborde vir ’n luukse Duitse motor – glo nie bedoel om aanstoot te gee nie, maar tong in die kies, met verwysing na ’n Janis Joplin-liriek. Slim, nè? Dit trek aandag en stook omstredenheid. Christene stuur protes-e-posse rond: “Godslasterlik!” Van kerkleiers word gevra om standpunt in te neem. “Niemand sal dit met die Moslems waag nie,” sê iemand (asof Moslems nie in God glo nie). “Ons Christene kan gerus ’n blaadjie uit hul boek neem.”

 

Soos Petrus wat oor Jesus se lydingsaankondiging sê: “Mag God dit verhoed, Here! Dit sal beslis nie met U gebeur nie!” (Matt. 16:22) Einste Petrus wat later, by Jesus se inhegtenisname, sy swaard uitpluk (Joh. 18:10). (“Hang on Lord, we’re gonna fight for you!” gee die musiekspel Jesus Christ Superstar dit weer.) Waarop Jesus antwoord: “Moenie in my pad staan nie, Satan!” (Matt. 16:23) En: “Hou op daarmee!” (luk. 22:41) (In JCS: “Why are you obsessed with fighting? Stick to fishing from now on.”)

 

Daar is humor in hierdie tragiek: gelowiges wat dink hulle moet God beskerm. “Dink jy Ek kan nie my Vader om hulp vra nie?” lui Jesus se retoriese vraag (Matt. 26:53). In sy almag kies Hy die lydensweg; in ons onmag wil ons baklei.

 

Wat dan van die gebod dat jy die naam van die Here jou God nie mag misbruik nie (Eks. 20:7)? Moet mense wat hulle hieraan skuldig maak dan ongestraf bly?

 

Dink hieraan: die gebod is aan Israel gerig, aan God se volk, nie aan die heidene nie. Ons kan so maklik óns teer ego’s met God se eer verwar. By “ydel gebruik” dink ons eerste aan mense wat God se naam as kragwoord inspan of ligsinnig die spot met geloof dryf, maar is dit regtig die ergste?

 

In ons vroom verontwaardiging (“O God, ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie …” – Luk. 18:11) vergeet ons hoe juis selfvoldane Christene deur die eeue God se heilige naam misbruik het: om wêreldse mag op te eis, bloedige kruistogte te voer, vergifnis vir geld te probeer verkoop, lande te koloniseer, volksmoord te regverdig, slawe aan te hou, goedkoop genade te soek, Hitler se lof te besing, apartheid uit die Bybel te verdedig, God aan die kant van die ANC te verklaar, die president messias te noem, die VSA se militêre aggressie te heilig, en ja, ’n voorspoed-evangelie te verkondig.

 

Kyk ons, wanneer ons die “Oh Lord”-advertensie sien, dalk in ’n spieël? Word daarin nie die waardes van ons samelewing gereflekteer nie? En van ’n godsdiens wat Jesus as onder die Wabenzi voorstel en hom dáárom verheerlik?

 

’n Stukkie Romeinse graffiti uit die eerste eeu ná Christus (herinner kollega Johan Cilliers my onlangs) beeld ’n mensfiguur uit wat opkyk na ’n donkie wat aan ’n kruis hang, met daarby die woorde: “Alexamenos aanbid sy god.” Só is destyds met Christene gespot, want hul lewenstyl het lynreg teen die heersende waardes in Rome ingedruis. Elders in dieselfde vertrek staan ook geskryf: “Alexamenos is getrou.” Al sou ook dit spottend bedoel gewees het, het dit, wie weet, dalk ’n stukkie waarheid bevat: “Sorg dat julle gewete skoon bly, sodat dié wat julle oor julle goeie lewenswandel in Christus belaster, daaroor skaam kan kry dat hulle kwaad van julle gepraat het.” (1 Pet. 3:16-17)

 

Joplin sing: “Oh Lord, won’t you buy me a Mercedes Benz? / My friends all drive Porsches, I must make amends. / Worked hard all my lifetime, no help from my friends, / So Lord, won’t you buy me a Mercedes Benz?” Met wie spot sy?

 

Dalk moet “Oh Lord …” as Kyrie eleison (Here, ontferm U) vertaal word? Of selfs: “O God, wees my, sondaar, genadig.” (Lukas 18:13)

 

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na [email protected] om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

21 antwoorde op “Oh Lord …”

  1. Gerrit, weereens kry jy dit reg om mens totaal en anderste te laat dink oor goed…….

    Jou argument maak sin vir my, een vraag….Waarom laat dit mens dan ongemaklik voel? Die Calvinisme in ons?

  2. Ek dink dit behoort ons ongemaklik te laat voel, maar oor ander redes as wat ons dalk mag dink – nie omdat dit disrespek teenoor “ons” God uitdruk (soos baie Christene daaroor voel) nie, maar omdat dit onbedoeld iets oor ons ontmasker: ons materialisme, wat ‘n fundamenteler disrespek vir God is. In laasgenoemde speel “Calvinisme” hopelik wel ‘n rol. Een van die sterk punte van Calvyn se teologie is juis dat dit hierdie neiging ontmasker vir wat dit is: afgodery. Jy verwys dalk eerder na ‘n ander kant van die tradisie wat sy oorsprong in Calvyn het, naamlik ‘n tikkie vrees voor die hoge God wat tog net nie beledig moet word nie. Maar is dit spesifiek Calvinisties?

  3. Dankie Gerrit, ek sal gaan herkou hieraan…. geniet jou aand!

  4. Insgelyks! Die ervaring van “Calvinisme” wat jy verwoord is baie algemeen, veral in SA, en is nie sonder ‘n waarheidsmoment nie. Ek wil dit dus nie van die tafel vee nie. Daar is egter ‘n ander kant aan Calvyn en die Gereformeerde tradisie: ‘n waardering vir soberheid en ‘n aandrang daarop dat mense, as beeld van God, met agting behandel word. Hierdie ander kant is waardevol in ons tyd van verbruikerisme en reuse-ongelykhede.

  5. wow, dankie…stem my tot diepe nadenke!

  6. Uitstekend geskryf. Die gebruik van die Godsnaam word soms misbruik soos jy betoog, maar nou wonder ek of daar nie groter lofprysende uitroepe moet wees wanneer die more breek, die son sak, vrou kraam, of ‘n man sterf nie-dus waarom net negatief wil ‘prosudeer’ met die gebruik van die Godsnaam. Dalk is dit iets met opvoeding te doen

  7. Uiteindelik is dit waaroor dit moet gaan, ja. Die punt wat ek probeer maak, is dat God se naam ook in “lofprysing” misbruik kan word, soos wanneer God geprys word omdat hy my met rykdom beloon het. Aan die ander kant moet ek God natuurlik prys as dit met my goedgaan. Dit moet net nie ‘n stuk legitimasie van my voorspoed word, wat dan impliseer ‘n veroordeling van ander wat nie so gelukkig soos ek is, nie. Trouens, dit moet my aanspoor om te deel, om my rykdom te gebruik om ander te bemagtig en te verryk, en my dank en lof moet wees omdat God my die geleentheid geskenk het om dit te kan doen. Uiteindelik gaan dit om die “onderskeiding van geeste”.

  8. Lekker artikel Gerrit,eers het ons geskree dat die staat ons moes help,nou dat ons grootliks ontmagtig is op daardie gebied, moet die kerkleiers optree. Dit is maar net ons inherente sug na magsuitoefening. Ek het lankal twyfel gehad oor mense wat so protesteer oor die misbruik van God se naam terwyl ons dit voltyds doen deur ons optrede. Mooi dag.

  9. Die sug na mag is altyd die probleem (vir ons almal!), maar nie mag as sodanig nie. Eerder ‘n sekere soort mag. Die moeilikste, maar wonderlikste ontdekking om (weer en weer) te maak, is dat daar ‘n ander soort mag is wat na swakheid lyk.

  10. Ek stem saam. Die mag wat na swakheid lyk is in werklikheid God se mag soos geopenbaar in die lyding van Christus. Dit is maar ‘n stryd om afstand te doen van hierdie drang na beheer, wat ook maar eintlik mag is.
    Groete

  11. Ek het gisteraad ‘n wonderlike artikel deur Marilyn McCord-Adams gelees waarin sy oor Julian van Norwich skryf. Volgens laasgenoemde bestaan die mag van God daarin dat Hy (of dan Sy – Julian praat van “Moeder Jesus”) nie ophou om ons lief te he nie, maak nie saak wat ons doen nie. Teen so ‘n mag kan mens nie wen nie!

  12. WILHELM VAN DEVENTER SKRYF:

    “Oh my God!”

  13. Philip Yancey skryf: “Grace means there is nothing we can do to make God love us more — and grace means there is nothing we can do to make God love us less.” Is die mag van God verweef met sy genade,of is genade gelyk aan God se mag om ons lief te he? Hierdie soort mag is oorweldigend.

  14. Die vreemde van die Christelike belydenis is dat God se mag nie in spanning met God se liefde en genade is nie, maar daarin tot uitdrukking kom, sou ek dink: “Ek glo in God die Vader [versorger], die Almagtige …”

  15. Dankie, dit is goed genoeg vir my.

  16. Stefaan het gesê op Oktober 3, 2010

    Die “O Lord” oor die Mercedes sou sekerlik as misbruik van die Here se Naam gesien kon word, indien die motief nie dankbare aanbidding is vir die groot geskenk om so `n motor te mag hê nie. As `n kind van die Here nou wel so `n kar kan bekostig en opreg dankbaar “O Lord, thank You” sou kon sê, is daar mos nie fout mee nie, of hoe? Ek het egter al met ander soort gelowiges te doen gehad wat `n siening het van “name it, claim it”. Hulle uitgangspunt is dat jy nie net vir die Here sal vra om `n Mercedes nie, maar dat jy spesifiek in jou gebede moet wees en nog spesifiseer dat dit `n rooi Mercedes sal wees. Hierdie voorspoedsteoloë misbruik dan op dieselfde manier die Naam van die Here as `n ydelike “O Lord” wanneer dit maar net `n stopwoord is.

  17. faan, ek hoor wat jy se, maar ek wonder ook: se ons nie te maklik vir die Here dankie nie vir dinge wat nie ‘n Godsgeskenk is nie, maar “ill-gotten gain”? En is “ill-gotten gain” net dit wat langs oneerlike of onwettige weg bekom is, of is in sekere sin alle “gain” “ill-gotten” solank daar nog armoede en tekort in die wereld is? Is die regte gebed: “Dankie, God, dat ek nie soos die armes ly nie”, of eerder: “Wees my, sondaar, barmhartig!”?

  18. U verwysing(asof Moslems nie in God glo nie).Impliseer dit dat die Moslems in God Drie-enig glo ?

  19. Die triniteitsleer het sy oorsprong in die belydenis dat, in die mens Jesus, God self na ons gekom het. Hoewel Moslems Jesus as ‘n baie belangrike profeet sien, glo hulle nie in sy Goddelikheid nie. Daarom sien hulle God dan ook nie as drie-enig nie, soos jy weet. (Selfs die apostels het nie voor die Jesus-gebeure in Trinitariese terme aan God gedink nie – net soos Abraham, Isak, Jakob en kie voor hulle. Dit beteken nie hulle het ‘n ander God aanbid as die God wat ons as drie-enig bely nie, of hoe?) Maar in die konteks van my inskrywing hierbo is dit in elk geval nie ter sake nie. Die advertensie rep nie ‘n woord oor die Triniteit nie. My punt is doodeenvoudig dat daar geen rede is hoekom Christene spesifiek meer ge-afronteer as mense van ander gelowe moet voel nie.

    (Terloops, is jy die Kelbrick wat saam met my op skool was?)

  20. Dankie vir jou antwoord.Ek is ‘n boer en het ‘n neef omtrent jou ouderdom wat op Hangklip was .

    Ek het dit geensins vir of teen die advertensie nie.
    Ek is net gevoelig as mense sê ons aanbid tog op die ou end dieselfde God. Na my mening is dit foutief omdat die Woord in die begin daar was en daar nie ‘n ander god bestaan as God drie-enig nie. Dus, en dit is die punt,volgens my kan ‘n mens nie in die tyd wat ons nou lewe nie ‘n ander god aanbid nie omdat so ‘n god nie bestaan nie.

    Ek besef ek is van die punt af, maar sal graag jou kommentaar hieroor wil hoor .

    Jou antwoord is korrek.Dis net uitlatings in ons huidige tydsgewrig deur mense ( hier is jy uitgesluit )wat ek nie kan begryp nie.
    Groete

  21. Man, dit hang af wat ‘n mens bedoel met die uitspraak dat ons almal “dieselfde God aanbid”. Daar is immers net een God, so dis nie moontlik om ‘n ander God te aanbid nie, of hoe?

    As ek jou reg verstaan, gaan dit daaroor dat, byvoorbeeld Moslems en Christene, verskillend oor God dink, verskillende Godsvoorstellinge daarop na hou. Dis natuurlik waar. In daardie sin verskil “hulle God” (hul verstaan van God) van “ons God” (ons verstaan van God). Dieselfde, moet ek se, geld ook tussen Christene onderling. Ek is nie altyd seker of ek en sekere ander Christene “dieselfde God aanbid” nie: hul idee van wie en hoe God is, verskil van myne.

    Feit is: Moslems, Jode en Christene glo almal dat God een is, dat God persoonlik is, dat God die wereld geskep het en in die wereld handel, ens. Daar is oorvleuling in ons Godsbegrippe. Verskille, ja, maar ook ooreenkomste. En onthou, God is nie ‘n konsep nie. “Ons” het sekerlik almal ook sekere idees oor God wat nie heeltemal klop nie; dit beteken nie God verander nie. Uiteindelik is daar net Een wat mense se gebede hoor, en daardie Een is vry om daardie gebede te verhoor.

    Ek sou dus liewer nie se ons “aanbid nie dieselfde God” nie. Ek sal eerder se ons dink verskillend oor die een God.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.