God is nie ‘n Groot Meneer nie, maar …

September 16, 2010 in Sonder kategorie

My jongste rubriek in die Kerkbode:

 

’n Aantal jaar gelede het ’n debat in Nederland gewoed oor die gebruik van die woord (de) HEER om die Ou-Testamentiese Godsnaam JHWH te vertaal. Onze Taal (Oktober 2004) vertel van ’n protesaksie hierteen met die slagspreuk: “De Heer – dat kan niet meer.” Die hoofbeswaar was dat HEEReen exclusief mannelijke aanduiding is, die niet past bij het godsbeeld in de huidige tijd”. Alternatiewe vertalings wat aan die hand gedoen is, sluit in: Eeuwige, Aanwezige, Levende, Ene, G., Ik ben, Wezer en OSWIAD (“O Schitterend Wonder In Alle Dingen”).

  

Ook ander benamings vir God en Jesus stem sekere mense ongemaklik: “Koning”, “Almagtige”, “Vader” en “Seun van God”, byvoorbeeld. Dit geld ook ’n frase soos “koninkryk van God”. Wil ons in ’n demokratiese era God as ’n monarg voorstel?

In die Afrikateologie is al voorgestel dat Christus “Voorouer” genoem moet word. Heelparty kritici, veral vroue, is skepties hieroor. Help dit nie patriargale waardes en ’n oordrewe stambewussyn in stand hou nie?

Hierdie soort kritiek word soms onverskillig afgelag – verkeerdelik. Gelowiges móét herinner word dat die God wat ons in Jesus ontmoet die God van liefde, weerloosheid en oënskynlike swakheid is – nie ’n Groot Meneer nie! Daarom word God in die Bybel ook met anderster beelde geskets: moeder, hen, minnaar, eggenoot, losser, vriend en so meer. (Oor vrouvriendelike beelde van God kan belangstellendes gerus ’n Groter God deur Julie Claassens raadpleeg.)

Ons moet egter nie té gretig van “ongemaklike” Godsbeelde afstand doen nie. Die ongemak ontspring dalk aan ’n probleem wat ons s’n, eerder as die Bybelskrywers s’n, is. Ons onderskat dikwels die revolusionêre aard van Bybelse taal. Ons lees die Christologiese titels eenvlakkig, ondubbelsinnig, verbeeldingloos.

Neem die titel “Here” soos dit in die Nuwe Testament gebruik word: ’n titel wat destyds na die keiser verwys het en, saam met ander eretitels (soos “gode-seun”), sy onaantasbare oppergesag en goddelike status wou aandui. Deur Jesus Here te noem, wil die eerste Christene nie sê dat Jesus soos die keisers, of soos die godheid wat deur die keisers beliggaam word, is nie. Juis nie!

“Jesus is Heer” moet nie gelees word met die klem op die laaste woord (“Jesus is Heer”), asof die soort heerskap wat ons in ’n siek wêreld ken, wys hoe Jesus is nie. Die klem val op die éérste woord: “Jesus is Heer.” Nie die keiser nie, maar Jesus, die lydende kneg, die veroordeelde en vervloekte wat deur Pontius Pilatus, die keiser se verteenwoordiger, tereggestel is. Om Jesus só Heer te noem, is om ’n omkering te bewerkstelling – in Nietzsche se terme: ’n “Umwertung aller Werte”, ’n “ómwaardering” van alle waardes. Wat hier met “Heer” bedoel word, is juis die radikale afwysing van heerskap soos ons daaraan gewoond is.

Kwame Bediako verduidelik die gebruik van “Voorouer” as Christologiese titel ook so: Wie bely dat juis Jesus Voorouer is, stroop die ander voorouers van hul sakrale status. Anders as by hulle, berus Jesus se voorouerskap nie op mense se goedkeuring nie, maar op God se opwekking van Jesus. Die band wat Voorouer Jesus met sy “nageslag” het, is nie geneties nie, maar oorskry die grense van familie en stam. Anders as die meeste ander voorouers beliggaming Jesus nie patriargie nie, maar is hy Voorouer as, en op grond van, sy assosiasie en identifikasie met vroue, en sy “moederende” eienskappe.

Karl Barth praat so van God as Vader: Ons moenie dink ons weet wat vaderskap is, en dit dan op God toepas, nie. As God Vader is, kry vaderskap ’n ander betekenis, een wat die kenmerkende soort vaderskap van die pater familias uitdaag en ondermyn: die Abba-vader van Jesus, in al sy moederlike sorgsaamheid.

Die Bybelskrywers praat metafories, paradoksaal, uitdagend. As ons die “ongemaklike” terme wegvertaal, ontneem ons die woorde van hul skerpte en transformerende krag.

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na [email protected] om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

26 antwoorde op God is nie ‘n Groot Meneer nie, maar …

  1. Watter Bybelwetenskaplike wil God se naam/bestaan wegvertaal – kan aan paar name dink?

  2. Wat die Ou-Testamentiese Godsnaam JHWH betref, wat by die lees as Adonai (heer/meester) uitgespreek, en in die Griekse vertaling van die OT as Kurios vertaal is, waarna hierdie woord in die NT met verwysing na Jesus gebruik is, het die debat in Nederland gegaan oor hoe dit in Nederlands vertaal moet word.

    Tradisioneel is dit HEER in die OT, en Heer in die NT. Sommige mense is ongemaklik hiermee, nie uit ateistiese oorwegings nie, maar omdat hulle ‘n minder manlike en keiserlike Godsbeeld wil hanteer. Ek argumenteer teen hulle, al verdedig ek ook nie ‘n manlike en keiserlike Godsbeeld nie.

    Wat God self betref: Daar is natuurlik baie mense, en sekerlik ook Bybelwetenskaplikes (‘n mens hoef nie gelowig te wees om die Bybel te bestudeer nie), wat die bestaan van die Bybelse God ontken, maar in my ervaring bekommer hulle hulle nie oor die vertaling van God se naam nie. Hulle aanvaar die bestaande vertalings en ontken bloot dat dit na iets werkliks verwys.

  3. Daardie “ydelik” is ‘n interessante tema opsigself. Ons is geneig om dit te verbind aan mense wat die een of ander Godsnaam as ‘n vloekwoord gebruik. Ek hou ook nie daarvan as mense dit doen nie, maar wat erger is vir my, is as mense God se naam skynbaar baie vroom gebruik, maar dit in werklikheid dan misbruik deur God vir hul eie doelwitte, wat niks met God s’n te doen het nie, te probeer inspan. Apartheidsteologie, mense wat verklaar God is aan die ANC se kant, Busch en kie wat in God se naam oorlog maak, voorspoedsteologie en so meer is die eintlike voorbeelde van hoe God se naam ydelik gebruik kan word. Die ding is, ons is almal daartoe geneig. Dis maklik om af te leer om “God” of “Here” as kragwoord te gebruik, of om (soos ek hier) na andere se misbruik van God se naam vir twyfelagtige doeleindes te verwys. Moeiliker is om agter te kom wanneer ons dit self doen – dikwels juis wanneer ons op ons heiligste en vroomste voel. Of miskien juis dan?

  4. Kwame Bediako gaan nog verder as hy praat van die wolk van getuienis van Heb. 11 as voorouers. Dit lyk my was die fout van die eerste sendelinge om alle verwysings na voorouers af te wys. Dankie vir ‘n puik artikel, en veral weer opnuut die klem op Jesus wat die Here is in teenstelling met alle ander keisers, konings,presidente of wat ookal.
    Groete

  5. En ek sal nog verder as Bediako wil gaan, want hy wil slegs ruimte maak vir ‘n eervolle herdenking VAN die voorouers, terwyl ek geen probleem daarmee sien as Christen-Afrikane ook kommunikasie MET die voorouers in stand hou nie.

  6. Dankie vir hierdie artikel. Ek dink die Franse denker, Jacques Ellul se waarskuwing dat ons versigtig moet wees om teologiese insigte by elke tydsgees of filosofiese stroming aan te pas, geld nog steeds (In sy werk, vryelik vertaal: Die Ondermyning van die Christelike geloof). Hy dui aan hoe die kerk en teologie deur die eeue telkens voor hierdie selfde versoeking geswig het.

    Ek hou ook van Karl Barth se standpunt van God as die “Gans Andere” en dat ons nie ons inhoud van begrippe op God moet toepas nie – ons siening van ‘n “vader” is nie die beeld van hoe God is nie, maar God as Vader is die (voor-)beeld van hoe ‘n vader behoort te wees. Ek dink daar is pragtige voorbeelde beelde of metafore van God se Vaderskap in onder andere die Boek Hosea.

    Dieselfde geld natuurlik van begrippe soos “liefde” en dies meer. In die Duitse Teologie – en dit sal jy beter weet as ek – is daar pragtige dinge daaroor geskryf. Selfs van RK kant. Terloops, ek sien nou onlangs Barth se werke staan nog steeds op die rakke van boekwinkels in Duitsland. Word nog steeds. Hier by ons praat jy met ‘n jong dominee en dan lyk dit of hy nie lekker weet van wie jy nou praat nie. Ek is nog altyd dankbaar dat iemand my oorreed het om van sy boeke te lees. Nog steeds sinvol, al sien ek sommige beweer dat “die teologie” nou al by Barth verby is.

  7. Gerrit ek stem saam met die siening dat Christen-Afrikane kommunikasie met voorouers in stand mag hou. Trouens ek dink daar sou veel minder vyandigheid teenoor die sendelinge gewees het,indien hulle hierdie aspek ongehinderd gelaat het. Ek sien nerens dat voorouers aanbid word nie, hulle word wel vereer.

  8. Barth is ongetwyfeld die invloedrykste teoloog van die vorige eeu. By hom kom mens nie verby nie.

  9. Keisers word aanbid. Presidente word aanbid (ook hier in ons land). Selebriteite word aanbid. Miskien is daar ook mense wat voorouers aanbid, maar daar is niks noodwendigs aan nie. Dis myns insiens die kritiese funksie van die Christelike geloof in ‘n kultuur van voorouerverering. Nie om die verering uit te rooi nie, maar om dit telkens wanneer dit nodig blyk te ontsakraliseer.

  10. Twee opmerkings: Paul Tillich-‘n tydgenoot van Barth en het ‘n betekenisvolle bydrae tot godsbegrip gelewer. Hy is beroemd vir sy beskrywing van God as bestaansgrond (ground of our being). Daarmee het hy m.i. betekenisvol die blikrigting van bo (bo-aards) na benede verskuif. Soek jy God? Hy is onder jou! Hy dra jou. Die tweede is die verwysing na Nietzsche in hierdie konteks. Dit kan tog sekerlik nie misgekyk word dat Nietzsche die Dood van God aangekondig en self ook aktief bevorder het nie. Vir Nietzsche is God ‘n struikelblok op die pad na self-standigheid: ‘n onaanvaarbare Groot Meneer.

  11. WILHELM VAN DEVENTER SKRYF:

    “Jaap Durand het iewers gedurende die sewentigerjare geskryf dat die ongemaklike Godsterme ons daaraan herinner dat Hy méér is as wat ons selfs van Hom in die Skrif leer ken. Vir Durand het dit toe nie gegaan om God wat “anders” is as wat Hy Homself openbaar nie, want dan sou dit Sy bekendmaking aan ons tot leuen reduseer. Nee, sê Durand, Hy is méér en daarom mag ons maar met ongemak oor Hom nadink en praat.”

  12. Mooi! Dis ‘n heel ander perspektief as die een wat ek hierbo ontwikkel, maar belangrik. God is nie ons speelmaat nie.

  13. Die aspek van Nietzsche se denke waarna ek verwys het te doen met sy minagting vir die Christelike geloof omdat dit ‘n omwaardering van alle waardes inhou: dit verhef die swakke en veroordeel die sterke. Vir hom was dit nie ‘n pluimpie vir die Christendom nie. Wat ek wil se is dat Nietzche reg is in die sin dat hy beter as die meeste moderne Westerlinge verstaan wat die evangelie regtig se. Maar die ander, kontrasterende aspek wat jy uitlig is ook belangrik om Nietzsche te verstaan: Hy wil God dood he (al rou hy ook oor sy dood), want dit maak die mens vry en sterk. Hy kan aan mag nie anders dink nie as aan ‘n beperkte hulpbron: as God meer daarvan het, het ons minder, en as God alles het, het ons niks. Jesus verstaan mag natuurlik anders.

    Tillich is belangrik. Dankie vir die verwysing na hom. Hy wys (soos Anselmus en Thomas eintlik reeds in die Middeleeue gedoen het) dat almal met die een of ander Godsbegrip werk. Die punt is natuurlik: Hoe stel jy jou die grond van die synde voor? Hoe is die mees werklike werklikheid? Christene se: Kyk na Jesus; dis hoe God is. Skandalig!

  14. Gerrit, hoekom sou jy sê dat ‘n omwaardering van waardes ‘n goeie ding is? Ek verstaan dit is wat Jesus uitgeleef het en dit mag miskien rewolusionêr wees, maar dit is waar baie dominees stop – ek soek die toepassing – wat beteken dit vir my elke dag? Wat is die implikasies van “Jesus is Heer”? Jy sou instem dat baie mense hier die “question beg”; ons moet die sterke veroordeel want Jesus sê so. Dit is nie oortuigend. Natuurlik vra dit vir ’n langer gesprek as wat jy hier kan reageer, maar ek sou graag (eendag) wou weet.

  15. So terloops, is dit “dink net aan al die wonderlike vooruitsigte” (jou optimistiese/hoopvolle kant), of “dink net vir ’n slag damnit” (jou kritiese kant), of bloot platonies “dink netwerk”?

  16. Regardt, eers oor jou eerste vraag: Hoekom, as Jesus alle waardes omwaardeer het, moet ons dit as ‘n goeie ding sien? Uitstekende vraag! Dis op hierdie punt waar, meen ek, ‘n liberale teologie nie ‘n antwoord kan gee nie. Hoekom? Omdat die NT se logika van die antwoord op jou vraag die opstanding sentraal stel. Die opstanding word gesien as God se vindikasie van Jesus. In Jesus het ons dus met God self te doen. God is die een wat alle waardes omwaardeer. Ek weet dit is (en was nog altyd – ook vir antieke mense) ‘n absurde, selfs aanstootgewende belydenis, maar daarsonder maak gelowiges se verering van Jesus, en die gesag wat aan hom toegeken word, geen sin nie.

  17. Die antwoord op jou twee vraag (oor wat met DinkNet bedoel word): All of the above!

  18. Gerrit
    Interessante artikel!

    So wonder ek maar… het die Godsnaam, soos die term “Christen” nie so met die tyd pejoratief verander nie?

    Die benaming “God” moet eers in konteks gesien word voor die gebruik daarvan vertsaan word. As iemand van “God” praat moet mens dikwels eers verder uitvra oor wie of wat presies bedoel word.

    “Heer” is vir my ietwat nikseggend. Ek aanvaar wat die oorspronklike bedoeling en betekenis was maar ou Griekse terminologie is sekerlik nie meer so betekenisdraend as aanvanklik nie.
    “Koning” is ‘n ou begrip met negatiewe konnotasies in die huidige tyd.
    “Vader” is weer “mannerig” en paternalisties.
    Die tetragrammaton “JHWH” is miskien die mees korrekte maar gee miskien nie die veranderde NT beeld weer nie. (?)
    “Skepper” roep weer na kreasionisme met die se gepaardgaande bagasie.
    “Voorvader” is baie toepaslik binne die Afrika konteks maar moet ook weer verduidelik word voor dit korrek verstaan word.

    Ek twyfel of daar gou ‘n algemeen aanvaarde enkele “Naam” sal wees.

    Die tyd sal seker leer.

    Al die kommentaar is toepaslik en wys vir my op die kompleksiteit van die enkeling se “Godservaring”.

  19. Ek stem saam met alles wat jy hier skryf. Daar is nie ‘n maklike antwoord of oplossings nie. Die probleem was ook nog altyd daar. Wat belangrik is, is inderdaad dat ons telkens weer mekaar moet uitvra oor wat ons met terme bedoel. Almal het byvoorbeeld die een of ander godsbegrip, ‘n idee van wat die mees fundamentele werklikheid is. Die belangrike teologiese vraag is dan nie “Glo jy in God?” nie, maar “Wat/wie is God?” of “Hoe is God?” Die geloof dat Christus God is, is iets vreemds as jy daaraan dink, maar ons kyk dit mis omdat ons gewoond is om dit te hoor. Ons dink ons weet wie God is, en probeer dan uitpluis hoe daardie God mens kan word, maar die punt van die belydenis is dat ons natuurlike idee van wie God is totaal verkeerd is – dat God heeltemal anders as dit is. Al wat ons kan doen is om hierdie omkerings telkens weer uit te wys.

  20. Dankie Gerrit, maar ek verstaan nie so mooi jou antwoord op my eerste vraag nie. Jy sê dit is eintlik God wat alle waardes omwaardeer. My vraag het nie soseer te doen met wie (God of Jesus) Christene bely die waardes omwaardeer het nie, maar wat dit vir my beteken in my alledaagse bestaan. Gestel ons aanvaar daar is nie ’n God nie, hoekom sou dit dan ’n goeie ding wees om dinge op sy kop te keer. Dit is ’n pragmatiese vraag. Hoe help dit my met my alledaagse interaksie met mense vandag?

  21. Jy vra: “Gestel ons aanvaar daar is nie ’n God nie, hoekom sou dit dan ’n goeie ding wees om dinge op sy kop te keer?” Die antwoord is maklik: Dit sou in daardie geval nie ‘n goeie ding wees nie. Dit sou waansin wees.

    Watter verskil sou dit prakties in ‘n mens se lewe maak as jy wel in ‘n God sou glo wat al ons waardes omkeer? Wel, jy sou begin uitkyk vir die nuwe werklikheid wat wat op daardie waardes gebaseer is en wat in die onderstebo wereld soos ons dit ken aan die deurbreek is. En jy sal die “right way up” wereld van God wil dien, eerder as om dit te weerstaan. Ens. Ens. Ens.

  22. Dan het jy my toe die eerste keer beantwoord. Ek dink ek verstaan nou. Daar is twee stelle waardes; die waaraan ons as wêreldse mense gewoond is en God se omwaardeerde waardes. Die omwaardeerde waardes van God het waarde, omdat dit per definisie God is wat dit omwaardeer. Daar is dus geen wêreldse (dit wat vir die mens sin maak) kriteria wat ek kan aanwend om die omwaardeerde waardes as goed of sleg te beoordeel nie. Jy sien dus selfs die moontlikheid in dat om volgens hierdie omwaardeerde waardes te leef soms nadelig (soos wat ons “nadelig” as wêreldse mense verstaan) vir die mens is, maar steeds uitgeleef moet word omdat God dit so het. As daar geen kriteria bestaan waarvolgens ons God se omwaardeerde waardes positief kan beoordeel nie, hoekom dan ons wêreldse waardes laat vaar – veral as dit nie noodwendig vir ons negatief is nie.
    Maar dan sê jy die volgende: “En jy sal die ‘right way up’ wêreld van God wil dien, eerder as om dit te weerstaan”. As jy sê “wil dien”, dan klink dit vir my jy maak tog ruimte daarvoor dat die mens tog daarvan oortuig kan word, binne sy wêreldse raamwerk/waardes, dat dit beter is om die “right way up” lewe te volg. Wat is dit wat mense binne hulle menslike/aardse/wêreldse raamwerke kan oortuig om hierdie manier van lewe te volg? OK, miskien verstaan ek dan nie so mooi nie.

  23. Nee, jy verstaan baie goed! Dat God iets wil, is een ding, om daarmee saam te stem ‘n ander. Party mense mag dit ketters vind, maar so is dit. Hoekom maak dit dan wel ‘n verskil dat God dit wil? Wel, daar is iets verleideliks aan die ontdekking van ‘n God wat die God van die armes is, van die wat honger en dors na geregtigheid, en wat die magtiges van hul trone ruk. God se droom is aansteeklik. Jesus het nie in die eerste plek inligting oorgedra nie. Hy het ‘n gemeenskap tot stand gebring, ‘n anderster gemeenskap. In die gemeenskap met hom ervaar mense die nuwe wereld en word oorgewen.

    Daar is ook iets anders: Sommige mense “sou graag wou” leef volgens die omgekeerde, subversiewe waardes, maar sien nie kans nie, dink nie dis moontlik of verstandig nie. As mens glo dat God die een is wat agter daardie waardes sit, en wat dit sal realiseer, dan kan ‘n mens waag. As mens glo in die opstanding, dan glo jy dat selfs waar die omgekeerde ideale skynbaar misluk, dit nogtans oorwin. Dis om in meer moontlikhede te glo as waarin ons vanself geneig is om te glo.

    Die kort, “vromer” antwoord dus: die Gees lei ons daartoe.

  24. Wanneer jy sê “daar is iets verleideliks aan die ontdekking van ’n God wat die God van die armes is, van die wat honger en dors na geregtigheid, en wat die magtiges van hul trone ruk,” dan noem jy tog kriteria waarvolgens daar in die menslike bestaanswêreld beoordeel kan word. Ek dink nie die mens kan sy menslike toestand ontsnap nie. “Verleidelik” impliseer tog daar is iets positiefs omtrent die idee van, byvoorbeeld, magtiges wat uit hulle trone geruk word. Wat dit so verleidelik maak moet sekerlik in meer omslagtige woorde verduidelik kan word (is dit nie wat dominees in preke doen nie?), anders kan dit mos nie so verleidelik wees nie? Ek voel die meeste konvensionele verduidelikings van dit wat die “blye boodskap” veronderstel is om, wel, “bly” te maak, maak my nie besonders bly nie. Nie noodwendig hartseer nie, maar ek vind dit bloot onoorspronklik, argaïes en te eenvoudig om die kompleksiteit van die menslike toestand sinvol aan te spreek. Ek het geen twyfel daaraan, volgens my wêreldse beoordeling, dat dit ‘n goeie idee is om armes in hulle swaarkry by te staan nie – maar wat is so revolusionêr (of omwaarderend) omtrent hierdie “droom van God”? Dan voel ek mense is meer eerlik as hulle sê, “ek glo in God want ek is vrek bang vir die moontlikheid van ’n hel!” – meer wêreldse kriteria as dit kry jy nie.

  25. Ek sukkel ook met die idee van die Heilige Gees wat hierdie verleiding in die menslike gemeenskap bewerkstellig. Die enigste manier hoe ek kan insien dat die Heilige Gees die “onderstebo wêreld” van God in Christene laat “deurbreek” is dat hulle in vervoering gebring word wat op een of ander idiosinkratiese manier sin maak – hierop het ek nie ‘n antwoord. Óf, soos jy noem, dat die Heilige Gees ’n anderste gemeenskap tot stand bring. Maar, soos ons weet, is hierdie gemeenskap nie baie homogeen nie. En om te sê dat daardie mense wat glo die “enigste rede wat ’n mens kan hê om die goeie te doen, is vrees vir God se straf” nie die evangelie verstaan nie, is na my mening ietwat arrogant. Want dan verstaan baie mense nie die evangelie nie. My grootste struikelblok is miskien dan die volgende; om die bruikbaarheid en relevansie van die evangelie te laat voldoen aan die eise van die mens en sy redelike kritiek (gerig vanuit die wetenskap, teologie en filosofie), moet dit so verintellektualiseerd word dat dit nie langer as ‘n boodskap van eenvoud vir die eenvoudiges bestempel kan word nie (hierdie gesprek getuig hiervan). Bly dit eenvoudig dan raak dit niks meer as ‘n hemel vs hel stryd nie.

  26. Regardt, Augustinus het baie gemaak van ‘n Latynse woordspeling met “wysheid” en “smaak”. Volgens hom bestaan wysheid daarin om ‘n smaak vir die goeie (soos God dit sien) te he. Dis nogal nie so gek nie, as jy daaraan dink. ‘n Mens kan ‘n smaak vir wyn ontwikkel, dan is wyn vir jou lekker. ‘n Oorspronklik selsugtige mens kan ‘n smaak vir gemeensaamheid en onbaatsugtigheid ontwikkel en daarin sin en vreugde begin vind. Is dit beter as om bo alles ‘n smaak vir egoistiese eer, roem en mag te he? Wel, as die wereld (ons ingesluit) so in mekaar sit dat werklik volkome geluk slegs daarin bestaan om aan selfgesentreerdheid te ontkom, dan is dit, lyk my, verstandig om daarna te streef. Die logika hiervan is eintlik baie alledaags. En heel rasioneel of dan “intellektualisties”.

    Terloops, ek is “all for” intellektualisering as jy daarmee bedoel kritiese nadenke, tot beter verstaan kom, nuwe moontlikhede oorweeg, jou kop gebruik. Maar ons bly, soos Alisdair MacIntyre skryf, “dependent rational animals”. Rasionale diere ja, maar steeds afhanklik. Dinge wat met ons gebeur, wat ons ervaar, wat ongekose en onvoorsiend na ons toe kom, het ‘n reuse-invloed op hoe ons leer dink en wat ons leer waardeer, of ons nou tradisioneel gelowig is of nie.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.