Nou is daar ook wegneem-teologie

September 8, 2010 in Sonder kategorie

In ’n vorige inskrywing het ek van twee webwerwe vertel wat “wegneem-filosofie” verskaf. Nou kan ek met vreugde aankondig dat iets soortgelyks op teologiese gebied tot stand gebring is: die fakulteit teologie van die Universiteit Stellenbosch se webwerf Sol Iustitiae, waarvan ek en Julie Claassens die trotse redakteurs is.

 

Die idee daarmee is dat teoloë aan die fakulteit en elders in ’n openbare ruimte oor hul vak kan nadink en gedagtes wissel – nie net met mekaar nie, maar met alle belangstellendes. Volgens David Tracy het die teologie immers drie publieke: 1) die kerk of geloofsgemeenskap van die tradisie waaroor hulle reflekteer, 2) die akademie met sy wye verskeidenheid vakgebiede en 3) die breër samelewing waarvan kerk en akademie deel uitmaak. Sol Iustitiae is op al drie hierdie gehore – en dus ook op die derde een – gemik.

 

Belangstellendes binne en buite die kerk en die akademie word dus genooi om nie net te verneem waaroor teoloë dink en gesels nie, maar ook daarop te reageer.

 

Wegneem-teologie (die gesonde soort!) is daar wel, maar ook stewiger akademiese bydraes, asook boekbesprekings, nuus en so meer. Gaan loer dus dadelik in!

 

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na [email protected] om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

5 antwoorde op Nou is daar ook wegneem-teologie

  1. wow, cool inisiatief!

  2. WILHELM VAN DEVENTER SKRYF:

    “Twee van die grootste probleme met die teologie is dat die wetenskaplike besinnning daaroor nie genoegdoende erns maak met die gemeente as primêre hermeneutiese gemeenskap nie én nog minder sigself onderwerp aan kritiese evaluering vanuit die samelewing en ander nie-teologiese vakgroepe.

    “Ek hoop regtig dat hierdie gespreksforum nie maar net weer sal verval in teoloë en predikante wat as ‘gemeente’ en ‘samelewing’ oor teologie sal praat nie!”

  3. Net so, Wilhelm. Dis die bedoeling: dat die professionele beoefenaars van teologie nie net met die kerk en samelewing in hul kop nie, maar ook met die regte mense wat daardie kerk en samelewing uitmaak, oor hul teologiese idees in gesprek kan tree. En ek stem saam dat teologie vanuit ‘n geloofspraktyk, ‘n gemeentelike konteks, beoefen moet word. Anders word dit suiwer spekulatief.

  4. Dis ‘n baie welkome platform vir debat. Dankie. Hoop net die redakteur pas die “geen vuil taal en haatspraak” baie streng toe en voeg daarby die beskaafde standaarde van billike en respekvolle dialoog. Ek, vir een, is siek en sat vir die uitskel en slegse wat as debat aangebied word. Sensuur, selfsensuur? As dit moet, dan moet dit dan maar, want die alternatief is die aaklig om te bedink.

  5. Die kriteria wat jy stel, is heeltemal geldig, hoewel dit nie altyd maklik is om te bepaal wanneer die grens oorgesteek is nie. Met sensuur het dit niks te doen nie. Sensuur is ter sprake wanneer iemand nie toegelaat word om te skryf wat hy of sy wil nie. Redaksionele besluite oor wat om te publiseer verhoed niemand om te skryf wat hulle wil nie, want as Beeld of die Mail & Guardian of LitNet of Sol Iustitiae nie jou skrywe wil plaas nie, kan jy dit altyd elders plaas. Anders sou alles wat mense vir publikasie aanbied altyd geplaas moet word. Dit was nog nooit op enige plek of tyd die geval nie. Immers, elke publikasie, gedruk of aanlyn, het ‘n sekere fokus, sekere doelwitte en sekere standaarde. Dit geld ook Sol Iustitiae. Kritiek en opponerende of omstrede standpunte sal egter nooit as gronde vir uitsluiting dien nie – net laster, haatspraak, plagiaat, persoonlike beledigings en kru taal sal verwyder word.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.