Jy blaai in die argief vir 2010 September.

So min tale as jy kan?

September 28, 2010 in Sonder kategorie

My jongste rubriek in die Nederlandse Maandblad Zuid-Afrika:

 

In Stellenbosch, waar ek woon, is ’n Lutherse pastor, nog skaars ’n jaar uit Duitsland, wat nie net goed Engels praat (soos deesdae die meeste jong Europeërs geld) nie, maar ook uitstekende Afrikaans. Aan die teologiese fakulteit waar ek self werk, is ook ’n doktorale student uit Nederland wat Afrikaans byna foutloos praat. ’n Landgenoot van haar, ’n teoloog, bring ook heelwat tyd in ons dorp deur en beheers Afrikaans met gemak. Ek sou nog talle voorbeelde kan noem – ook van Europeërs en ander buitelanders wat ander Afrikatale as Afrikaans bemeester het en gebruik.

 

Daarteenoor ken ek ook baie buitelanders, selfs Nederlanders en Vlaminge, wat al jare, selfs dekades, in Suid-Afrika woon – selfs in ’n oorwegend Afrikaanse gebied soos die Boland waar Stellenbosch geleë is – maar nie ’n woord Afrikaans – of enige ander SA taal – kan praat nie. My vriendin die Lutherse pastor spreek onlangs haar verwondering hieroor teenoor my uit, en suggereer dat ’n openbare gesprek oor hierdie verskynsel dalk nodig is. Hoekom leer sommige buitelanders in SA graag Afrikaans of ander plaaslike tale, terwyl andere glad nie belang stel nie?

 

Toe ek hieroor begin nadink, besef ek dat ek tydens my en my gesin se verblyf in Nederland, wat byna vyf jaar geduur het, oor dieselfde ding gewonder het. Vir ons was dit voor die hand liggend dat ons Nederlands sou leer. Vir Afrikaanssprekendes is dit immers maklik, gesien die noue verwantskap en grootliks identiese woordeskat van die twee tale. Selfs wat totaal vreemde tale – sê maar Russies of Spaans – betref, lyk dit vir my logies dat ek die taal van ’n land waar ek lank vertoef, sal wil leer. En as die taal van die ander land so naby aan Afrikaans “soos dêmmit aan ’n vloekwoord” is (om ’n Afrikaanse sê-ding te gebruik), dan des te meer.

 

Om ’n nuwe taal te leer, is immers nie ’n las of ’n straf nie; dis ’n geleentheid om jou leefwêreld en ervaring te verruim – ’n ander kultuur jou eie te maak, in nuwe begrippe te kan dink, toegang tot meer boeke, films en media te kry as wat jy andersins sou kon, iets van jou ongebruikte self (Hennie Aucamp) te aktiveer en op ’n veel intiemer en intenser manier as wat andersins moontlik sou wees met die sprekers van daardie taal te kommunikeer. Soos Nelson Mandela dit gestel (en dikwels prakties geïllustreer) het: “As jy met ’n mens in sy tweede taal praat, praat jy met sy kop, maar as jy in sy moedertaal met hom praat, praat jy met sy hart.” Die spreekwoord “Soveel tale as jy kan, soveel male is jy man” is nie sonder rede in Afrikaans en Nederlands bekend nie.

 

En tog is daar mense vir wie die aanleer van ’n nuwe taal, selfs as hulle in die land tuisgaan waar daardie taal dominant is, geen aantrekkingskrag inhou nie – of in elk geval nie soveel aantrekkingskrag dat hulle bereid is om die poging aan te wend nie. Dit was die geval met heelparty Suid-Afrikaners en ander buitelanders wat ek in Nederland leer ken het, en ek het dikwels gewonder: Hoe is dit moontlik?

 

Meer as een Suid-Afrikaner het dit soos volg aan my verduidelik: Suid-Afrikaners se Engels is oor die algemeen baie beter as Nederlanders s’n. As ’n mens Engels met Nederlanders praat, het jy dus die upper hand, ’n voorsprong. As jy egter Nederlands praat, is dit jy wat oor jou woorde struikel en jou swak uitdruk, en kan Nederlanders oor jou loop.

 

Dis seker een manier om daarna te kyk! Maar gaan ’n mens se lewe in ’n vreemde land dan daaroor om met die plaaslike inwoners ’n stoeigeveg aan te gaan? Buitendien is ek nie so seker dat die gebruik van Engels – ook as jy dit beter as die locals praat – ’n mens noodwendig ’n kompetitiewe voorsprong gee nie. Toe ek my proefskrif in Nederland moes verdedig, het my promotore my aangeraai om dit in Nederlands, eerder as Engels of Afrikaans, te doen (al was laasgenoemde volgens die reëls toelaatbaar), omdat dit gewoon ’n beter indruk sou skep – ook al was (en bly) my Nederlands baie gebrekkig en vol foute. Wys dit dan nie juis ’n mens se “superioriteit” (as superioriteit is waarna jy streef – wat ek maar raar vind) as jy, benewens jou eie taal, ook nog die “opponent” se taal kan gebruik nie?

 

’n Nou verwante oorweging is die blote feit dat mense bang is om ’n gek van hulself te maak. Dit is natuurlik so dat sommige mense jou vreemd aankyk, jou nie verstaan nie of selfs vir jou lag as jy hul taal gebrekkig praat – een Nederlandse vrou het selfs aan my en my vrou bely dat sy aanvanklik gedink het ons is verstandelik gestrem! – maar is dit nou genoeg rede om jouself die verryking van ’n nuwe taal te ontneem? Moet ’n mens se ego só swaar weeg?

 

Dieselfde geld ’n ervaring wat baie Afrikaanssprekendes met Nederlands het: die feit dat hulle ietwat belaglik voel wanneer hulle probeer om Nederlands verstaanbaar vir Nederlanders uit te spreek – byna asof hulle oordrewe moet praat, asof hulle ’n grap probeer maak. Het sommige Nederlandstaliges dalk dieselfde gevoel teenoor die “kindertaaltje” Afrikaans (soos sommiges dit ervaar) – dat dit simpel voel om só te praat? Nou ja, soos die Suid-Afrikaanse teoloog Douglas Lawrie ’n keer op ’n kongres oor menswaardigheid (“human dignity”) gesê het: om daarna te streef om “undignified” te wees is ’n “waardiger” doelwit as om vir “dignity” te mik.

 

Trots speel op nog ’n manier ’n rol. In ’n wêreld waar Engels oorheersend is, is daar ’n sekere status aan verbonde om dit goed te kan praat. In SA is dit beslis so. Die vrees dat iemand kan dink, omdat jy jou moedertaal gebruik, dat jy nie Engels kán praat nie is vir baie van my landgenote omtrent net so erg soos (of kom dalk op dieselfde neer as) om van domheid verdink te word. Let maar op: Afrikaanssprekendes en sprekers van die ander Afrikatale lyk meestal sommer ekstra selfingenome wanneer hulle besig is om hul Engels ten toon te stel. Hulle dryf dan ook graag self die spot met “agterlikes” uit hul eie taalgroep wat nie die Rooitaal met grasie kan gebruik nie. Die feit dat hulle dikwels in die proses die vermoë verloor om hul eie taal keurig en kragtig te gebruik, kan hulle nie skeel nie. Inteendeel, selfs dít dien vir sommiges as ’n statussimbool.

 

Iets soortgelyks het ek ook wel onder Nederlanders teëgekom: dat baie van hulle dit darem net té lekker vind om te wys hoe goed hulle Engels kan praat. Om in SA te wees, waar Engels as lingua franca van die middelklas en boontoe funksioneer, is dan ’n uitstekende geleentheid om te pronk!

 

Een ding wat gedreig het om in die weg te staan van my en my vrou se poging om Nederlands te leer, was ook dat Nederlanders veels te gretig is om na Engels oor te slaan wanneer hulle agterkom Nederlands is nie jou moedertaal nie. Ons het aanvanklik maar Afrikaans gebruik en mettertyd het ons die Afrikaans wat ons met Nederlanders gepraat het so omgebuig dat dit uiteindelik meer soos Nederlands as soos Afrikaans geklink het. (Dit het meer as ’n jaar se uitspraakoefening gekos voordat Nederlanders die naam van die straat waar ons gewoon het, Keukenstraat, kon uitmaak wanneer ons dit gesê het!) Maar glo my, dit was ’n opdraande-stryd met die Nederlanders wat alewig wou Engels praat. Toegegee, die motivering by sulke Nederlanders was nie altyd om hul Engelsvaardigheid ten toon te stel nie, maar was dikwels ook gewoon ’n misplaaste poging om buigsaam en hulpvaardig te wees.

 

Omgekeerd merk ek dieselfde gewoonte in SA op: Afrikaanssprekendes wat outomaties begin Engels praat wanneer hulle met ’n Nederlandstalige of ander buitelander te doen het. Dis dalk ook ’n rede hoekom buitelanders soms sukkel om Afrikaans te leer. (Dis my indruk dat Vlaminge oor die algemeen minder huiwerig as Nederlanders en Afrikaanses is om hul moedertaal teenoor anderstaliges te praat – en mens ook minder vreemd aankyk wanneer jy as anderstalige hul taal probeer praat.)

 

Wat die saak vererger, is dat by sommige mense ’n sekere stigma aan Afrikaans kleef. Was Afrikaans dan nie die taal van apartheid, die onderdrukkerstaal, nie? Is Afrikaans nie in anderstaliges se keel afgedruk nie? Logies en feitelik is hierdie gedagte – wat meer onder middelklas-Suid-Afrikaners as onder die meerderheid nie-Afrikaanssprekendes voorkom – natuurlik onsin. Dit misken die feit dat die meerderheid Afrikaanssprekendes nie wit is nie en slagoffers, eerder as toepassers, van apartheid was, asook die feit dat Engels in die SA geskiedenis ewe veel, selfs meer, as Afrikaans bevoordeel en op mense (ook Afrikaanse mense) afgeforseer is – en steeds word. Hoe kan ’n taal (in teenstelling tot sommige mense wat dit praat) in elk geval sleg of skuldig wees? Dis tog onsin!

 

Wanneer dit by taalhoudings kom, weeg persepsies en aannames, hoe absurd dan ook, egter swaarder as feite, en in die geval van Afrikaans word sulke vooroordele dikwels aan besoekende buitelanders oorgedra – soms meer, en soms minder, subtiel. Die persentasie mense van enige land of taal wat selfstandig en teen die stroom in kan dink en handel, is nou maar eenmaal klein.

 

En dan is daar natuurlik doodgewone slegtigheid. Ek self het in Pretoria grootgeword, maar nooit Noord-Sotho behoorlik geleer nie …

 

Klik hier vir ‘n LitNet-miniseminaar oor dieselfde onderwerp.

 

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

 

“Oh Lord …”

September 27, 2010 in Sonder kategorie

My jongste Kerkbode-rubriek:

 

“Oh Lord …,” staan dit geskrewe op die advertensieborde vir ’n luukse Duitse motor – glo nie bedoel om aanstoot te gee nie, maar tong in die kies, met verwysing na ’n Janis Joplin-liriek. Slim, nè? Dit trek aandag en stook omstredenheid. Christene stuur protes-e-posse rond: “Godslasterlik!” Van kerkleiers word gevra om standpunt in te neem. “Niemand sal dit met die Moslems waag nie,” sê iemand (asof Moslems nie in God glo nie). “Ons Christene kan gerus ’n blaadjie uit hul boek neem.”

 

Soos Petrus wat oor Jesus se lydingsaankondiging sê: “Mag God dit verhoed, Here! Dit sal beslis nie met U gebeur nie!” (Matt. 16:22) Einste Petrus wat later, by Jesus se inhegtenisname, sy swaard uitpluk (Joh. 18:10). (“Hang on Lord, we’re gonna fight for you!” gee die musiekspel Jesus Christ Superstar dit weer.) Waarop Jesus antwoord: “Moenie in my pad staan nie, Satan!” (Matt. 16:23) En: “Hou op daarmee!” (luk. 22:41) (In JCS: “Why are you obsessed with fighting? Stick to fishing from now on.”)

 

Daar is humor in hierdie tragiek: gelowiges wat dink hulle moet God beskerm. “Dink jy Ek kan nie my Vader om hulp vra nie?” lui Jesus se retoriese vraag (Matt. 26:53). In sy almag kies Hy die lydensweg; in ons onmag wil ons baklei.

 

Wat dan van die gebod dat jy die naam van die Here jou God nie mag misbruik nie (Eks. 20:7)? Moet mense wat hulle hieraan skuldig maak dan ongestraf bly?

 

Dink hieraan: die gebod is aan Israel gerig, aan God se volk, nie aan die heidene nie. Ons kan so maklik óns teer ego’s met God se eer verwar. By “ydel gebruik” dink ons eerste aan mense wat God se naam as kragwoord inspan of ligsinnig die spot met geloof dryf, maar is dit regtig die ergste?

 

In ons vroom verontwaardiging (“O God, ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie …” – Luk. 18:11) vergeet ons hoe juis selfvoldane Christene deur die eeue God se heilige naam misbruik het: om wêreldse mag op te eis, bloedige kruistogte te voer, vergifnis vir geld te probeer verkoop, lande te koloniseer, volksmoord te regverdig, slawe aan te hou, goedkoop genade te soek, Hitler se lof te besing, apartheid uit die Bybel te verdedig, God aan die kant van die ANC te verklaar, die president messias te noem, die VSA se militêre aggressie te heilig, en ja, ’n voorspoed-evangelie te verkondig.

 

Kyk ons, wanneer ons die “Oh Lord”-advertensie sien, dalk in ’n spieël? Word daarin nie die waardes van ons samelewing gereflekteer nie? En van ’n godsdiens wat Jesus as onder die Wabenzi voorstel en hom dáárom verheerlik?

 

’n Stukkie Romeinse graffiti uit die eerste eeu ná Christus (herinner kollega Johan Cilliers my onlangs) beeld ’n mensfiguur uit wat opkyk na ’n donkie wat aan ’n kruis hang, met daarby die woorde: “Alexamenos aanbid sy god.” Só is destyds met Christene gespot, want hul lewenstyl het lynreg teen die heersende waardes in Rome ingedruis. Elders in dieselfde vertrek staan ook geskryf: “Alexamenos is getrou.” Al sou ook dit spottend bedoel gewees het, het dit, wie weet, dalk ’n stukkie waarheid bevat: “Sorg dat julle gewete skoon bly, sodat dié wat julle oor julle goeie lewenswandel in Christus belaster, daaroor skaam kan kry dat hulle kwaad van julle gepraat het.” (1 Pet. 3:16-17)

 

Joplin sing: “Oh Lord, won’t you buy me a Mercedes Benz? / My friends all drive Porsches, I must make amends. / Worked hard all my lifetime, no help from my friends, / So Lord, won’t you buy me a Mercedes Benz?” Met wie spot sy?

 

Dalk moet “Oh Lord …” as Kyrie eleison (Here, ontferm U) vertaal word? Of selfs: “O God, wees my, sondaar, genadig.” (Lukas 18:13)

 

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

God is nie ‘n Groot Meneer nie, maar …

September 16, 2010 in Sonder kategorie

My jongste rubriek in die Kerkbode:

 

’n Aantal jaar gelede het ’n debat in Nederland gewoed oor die gebruik van die woord (de) HEER om die Ou-Testamentiese Godsnaam JHWH te vertaal. Onze Taal (Oktober 2004) vertel van ’n protesaksie hierteen met die slagspreuk: “De Heer – dat kan niet meer.” Die hoofbeswaar was dat HEEReen exclusief mannelijke aanduiding is, die niet past bij het godsbeeld in de huidige tijd”. Alternatiewe vertalings wat aan die hand gedoen is, sluit in: Eeuwige, Aanwezige, Levende, Ene, G., Ik ben, Wezer en OSWIAD (“O Schitterend Wonder In Alle Dingen”).

  

Ook ander benamings vir God en Jesus stem sekere mense ongemaklik: “Koning”, “Almagtige”, “Vader” en “Seun van God”, byvoorbeeld. Dit geld ook ’n frase soos “koninkryk van God”. Wil ons in ’n demokratiese era God as ’n monarg voorstel?

In die Afrikateologie is al voorgestel dat Christus “Voorouer” genoem moet word. Heelparty kritici, veral vroue, is skepties hieroor. Help dit nie patriargale waardes en ’n oordrewe stambewussyn in stand hou nie?

Hierdie soort kritiek word soms onverskillig afgelag – verkeerdelik. Gelowiges móét herinner word dat die God wat ons in Jesus ontmoet die God van liefde, weerloosheid en oënskynlike swakheid is – nie ’n Groot Meneer nie! Daarom word God in die Bybel ook met anderster beelde geskets: moeder, hen, minnaar, eggenoot, losser, vriend en so meer. (Oor vrouvriendelike beelde van God kan belangstellendes gerus ’n Groter God deur Julie Claassens raadpleeg.)

Ons moet egter nie té gretig van “ongemaklike” Godsbeelde afstand doen nie. Die ongemak ontspring dalk aan ’n probleem wat ons s’n, eerder as die Bybelskrywers s’n, is. Ons onderskat dikwels die revolusionêre aard van Bybelse taal. Ons lees die Christologiese titels eenvlakkig, ondubbelsinnig, verbeeldingloos.

Neem die titel “Here” soos dit in die Nuwe Testament gebruik word: ’n titel wat destyds na die keiser verwys het en, saam met ander eretitels (soos “gode-seun”), sy onaantasbare oppergesag en goddelike status wou aandui. Deur Jesus Here te noem, wil die eerste Christene nie sê dat Jesus soos die keisers, of soos die godheid wat deur die keisers beliggaam word, is nie. Juis nie!

“Jesus is Heer” moet nie gelees word met die klem op die laaste woord (“Jesus is Heer”), asof die soort heerskap wat ons in ’n siek wêreld ken, wys hoe Jesus is nie. Die klem val op die éérste woord: “Jesus is Heer.” Nie die keiser nie, maar Jesus, die lydende kneg, die veroordeelde en vervloekte wat deur Pontius Pilatus, die keiser se verteenwoordiger, tereggestel is. Om Jesus só Heer te noem, is om ’n omkering te bewerkstelling – in Nietzsche se terme: ’n “Umwertung aller Werte”, ’n “ómwaardering” van alle waardes. Wat hier met “Heer” bedoel word, is juis die radikale afwysing van heerskap soos ons daaraan gewoond is.

Kwame Bediako verduidelik die gebruik van “Voorouer” as Christologiese titel ook so: Wie bely dat juis Jesus Voorouer is, stroop die ander voorouers van hul sakrale status. Anders as by hulle, berus Jesus se voorouerskap nie op mense se goedkeuring nie, maar op God se opwekking van Jesus. Die band wat Voorouer Jesus met sy “nageslag” het, is nie geneties nie, maar oorskry die grense van familie en stam. Anders as die meeste ander voorouers beliggaming Jesus nie patriargie nie, maar is hy Voorouer as, en op grond van, sy assosiasie en identifikasie met vroue, en sy “moederende” eienskappe.

Karl Barth praat so van God as Vader: Ons moenie dink ons weet wat vaderskap is, en dit dan op God toepas, nie. As God Vader is, kry vaderskap ’n ander betekenis, een wat die kenmerkende soort vaderskap van die pater familias uitdaag en ondermyn: die Abba-vader van Jesus, in al sy moederlike sorgsaamheid.

Die Bybelskrywers praat metafories, paradoksaal, uitdagend. As ons die “ongemaklike” terme wegvertaal, ontneem ons die woorde van hul skerpte en transformerende krag.

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Nou is daar ook wegneem-teologie

September 8, 2010 in Sonder kategorie

In ’n vorige inskrywing het ek van twee webwerwe vertel wat “wegneem-filosofie” verskaf. Nou kan ek met vreugde aankondig dat iets soortgelyks op teologiese gebied tot stand gebring is: die fakulteit teologie van die Universiteit Stellenbosch se webwerf Sol Iustitiae, waarvan ek en Julie Claassens die trotse redakteurs is.

 

Die idee daarmee is dat teoloë aan die fakulteit en elders in ’n openbare ruimte oor hul vak kan nadink en gedagtes wissel – nie net met mekaar nie, maar met alle belangstellendes. Volgens David Tracy het die teologie immers drie publieke: 1) die kerk of geloofsgemeenskap van die tradisie waaroor hulle reflekteer, 2) die akademie met sy wye verskeidenheid vakgebiede en 3) die breër samelewing waarvan kerk en akademie deel uitmaak. Sol Iustitiae is op al drie hierdie gehore – en dus ook op die derde een – gemik.

 

Belangstellendes binne en buite die kerk en die akademie word dus genooi om nie net te verneem waaroor teoloë dink en gesels nie, maar ook daarop te reageer.

 

Wegneem-teologie (die gesonde soort!) is daar wel, maar ook stewiger akademiese bydraes, asook boekbesprekings, nuus en so meer. Gaan loer dus dadelik in!

 

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Anzil Kulsen: “Geleerdes soek skoor met ons taal “

September 7, 2010 in Sonder kategorie

Vandeesmaand se LitNet-essay is deur die skrywer Anzil Kulsen, en is getitel “Geleerdes soek skoor met ons taal“. Kort en kragtig, wel deurdag, in baie opsigte verrassend en uitdagend. Lees dit en gesels hier saam daaroor.

 

Lees ook Anzil se bydrae tot vandeesmaand se miniseminaar.

 

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Verklarings (soos sommer) is nie redes nie

September 7, 2010 in Sonder kategorie

My jongste rubriek in die Kerkbode:

 

Iets wat my telkens ietwat verbaas wanneer ek die werk van godsdienskritici soos Richard Dawkins en Daniel Dennet lees, is die ywer waarmee hulle die stelling verdedig dat “ook ateïste moreel kan wees”. Dit verbaas my, aangesien ek, as Christen, nog nooit daaraan getwyfel het (of aan enige rede kan dink om te twyfel) dat ateïste, of enige ander groep mense, morele oortuigings kan huldig of moreel kan optree nie. Daar is seker Christene wat dit betwyfel – wat dink die enigste rede wat ’n mens kan hê om die goeie te doen, is vrees vir God se straf – maar sulke Christene verstaan nie die evangelie nie. Verdien so ’n ondeurdagte posisie regtig die oormatige aandag wat ateïstiese skrywers daaraan bestee?

  

Daar is egter nog iets wat my van hierdie skrywers se aanpak verbaas: Hoewel ek saamstem dat “ook ateïste moreel kan wees”, vind ek die argument wat hulle ter verdediging van hierdie standpunt aanvoer ongeldig. Hierdie argument loop min of meer só: Die feit dat mense moreel is – dat hulle sekere dade, karaktereienskappe en stande van sake as goed of sleg, reg of verkeerd, verplig, verbode of toelaatbaar beoordeel – is nie ’n onverklaarbare misterie nie, maar iets wat heel gemaklik deur die wetenskap, en met name Darwinisties, verklaar kan word. So ’n verklaring vir die verskynsel moraliteit kom, eenvoudig gestel, daarop neer dat morele gesindhede en gedrag op die een of ander manier ’n oorlewing- en voortplantingsvoordeel inhou, wat dan beteken dat dit deur natuurlike seleksie geleidelik al hoe sterker inslag in die menslike spesie gevind het.

Die probleem met hierdie soort argument is nie dat dit as ’n verklaring van die verskynsel moraliteit misluk nie. Sover ek kan uitmaak, slaag dit heel goed. En al sou daar dimensies van moraliteit wees wat nog nie langs hierdie weg verklaar kan word nie, dan sou dit nie daaruit volg dat ’n mens na die een of ander bowêreldse verklaring moet gryp nie. Daar is baie dinge wat die wetenskap eers nie kon verklaar nie, maar later wel verklaar kon kry, en dit is ’n steeds voortgaande proses. Daarom voel ek my nie tuis in sekere Christene, soos Francis Collins, die hoof van die Amerikaanse menslikegenoom-projek, se argumente dat ’n verskynsel soos moraliteit nie ten volle biologies verklaar kan word nie. Selfs al sou hulle gelyk hê, sou dit nie noodwendig ’n “oorwinning” vir geloof wees nie.

Die probleem met ’n Darwinistiese bewys dat “ook ateïste moreel kan wees”, is dat, hoewel dit ’n verklaring vir moraliteit verskaf, daar geen réde uit volg hoekom ’n mens sou kies om moreel goed te probeer leef nie. Om ’n sekere soort gedrag te verklaar is iets ander as om ’n rede te gee hoekom sulke gedrag nastrewingswaardig is.

Dink maar aan bygeloof, byvoorbeeld die oortuiging dat astrologiese voorspellings betroubaar is: ’n Mens kan hierdie bygeloof op allerlei maniere verklaar – onder meer ook Darwinisties, met verwysing na hoe die verskynsel van bygeloof in die spesie homo sapiens ontwikkel het – maar geld dit dan as ’n rede om astrologie ernstig op te neem? Wat van geweldsmisdaad: sou ons ’n kriminologiese, sosiologiese of genetiese verklaring daarvan as ’n argument ter aanmoediging van misdadige gedrag beskou? Sekerlik nie!

Wat Dawkins, Dennet en kie moet aantoon (as hulle regtig energie daaraan wil bestee om iets vanselfsprekends te bewys), is nie dat moraliteit (of godsdiens of wetenskap of tennis) verklaar kan word nie, maar dat daar goeie redes is om moreel goed te probeer leef – ook vir mense wat nie glo in ’n God wat morele eise stel nie. Daar is sulke redes. Darwinistiese verklarings is nie een daarvan nie.

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Wat het ons uit die Afrikaanse Taalraad se konferensie geleer?

September 1, 2010 in Sonder kategorie

Die Afrikaanse Taalraad (ATR), wat meer as 40 Afrikaanse organisasies en om en by 400 000 lede verteenwoordig, het pas sy tweede jaarvergadering gehad en dit laat aansluit by sy reusekonferensie oor Afrikaans en die onderwys. Verskeie kenners op hierdie gebied het oor drie dae referate gelewer wat elke denkbare aspek van die problematiek behandel het, en baie positiewe insigte het na vore gekom. (Klik hier vir van die referate wat op die konferensie gelewer is.)

In diie jongste miniseminaar op LitNet se Seminaarkamer, deel antwoord Wannie Carstens (ATR-voorsitter) en Michael le Cordeur (ATR-ondervoorsitter) op die vraag: Wat het ons uit die ATR se onderwyskonferensie geleer? Anzil Kulsen, skrywer en nuwe ATR-direksielid, se bydrae tot hierdie bespreking sal ook binnekort verskyn.

Verder beoog LitNet om so veel moontlik van die lesings wat op die konferensie gelewer is te publiseer. Lees, leer en praat saam!

Anzil Kulsen se bydrae is nou ook gelaai; klik hier om dit te lees.

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.