Die vergesogtheid van die evangelie

Augustus 18, 2010 in Sonder kategorie

My jongste rubriek in die Kerkbode:

 

Een rede hoekom hy die evangelie geloofwaardig vind, skryf CS Lewis, is dat “we could not have invented it ourselves”: “It has the rough … taste of reality.” Die leer van die Drieëenheid, byvoorbeeld, “is something we could not have guessed”.

 

Inderdaad. Maar dieselfde oorweging maak dit ook weer moeilik om te glo. Gotthold Lessing skryf in die 18de eeu dat die “toevallige” waarhede van die geskiedenis en die “noodsaaklike” waarhede van ’n redelike godsdiens deur ’n “aaklige kloof” van mekaar geskei is. Volgens hierdie siening moet godsdienstige oortuigings ’n sekere vanselfsprekendheid hê. Die lewe van Jesus kan dalk help om ons aan dié ewige waarhede te herinner, maar daar is geen noodsaaklike verband tussen boodskap en boodskapper nie.

 

Lessing se probleemstelling word dikwels met die moderne denke geassosieer, maar in werklikheid dateer dit uit die antieke wêreld. In die Grieks-Romeinse kultuur is ook oor godsdiens gedink in terme van ewige, noodsaaklike waarhede. In die volkswysheid het dit uitdrukking gevind in die mitologie, wat nie feitelike weergawes van die gode se doen en late wou wees nie, maar kleurvolle illustrasies van blywende lewenswaarhede. Hierdie stories was destyds die teiken van spot deur geleerdes en gesofistikeerdes. Tog het laasgenoemdes se filosofiese bespiegelings oor God as “hoogste idee” met die mitologie gemeen dat dit óók oor ewige, noodsaaklike waarhede gaan: insigte wat by nadere refleksie heel redelik en vanselfsprekend lyk, en wat gister net so geldig was soos dit vandag is en môre nog sal wees.

 

Sedert die vroeë 20ste-eeuse teoloog Rudolph Bultmann vir ’n “ontmitologisering” van die evangelie gepleit het – wat inhou dat die “eksistensiële selfverstaan” wat in die Nuwe Testament tot uitdrukking kom in eietydse filosofiese taal verpak moet word – het dit in sekere kringe gebruiklik geword om Bybelse vertellings oor dinge soos die maagdelike geboorte, opstanding en hemelvaart van Christus as mitologies te dui. Om hierdie verhale “mak te maak” deur dit as illustrasies van ewige waarhede oor mens en wêreld te lees is egter ’n mistasting.

 

Wat die evangelieverhale lastig maak, is juis dat daarin klaarblyklik aansprake gemaak word, nie oor ewige waarhede nie, maar oor wat God op ’n gegewe tyd en plek gedoen het. Anders as die destydse mitologie, het die Bybelse getuienis oor God se dade in die geskiedenis nie ’n boodskaap wat ook deur ander verhale oorgedra sou kon word nie.

 

Dis hoekom Paulus se toespraak in die Areopagus, ná aanvanklike belangstelling onder die toehoorders, uiteindelik afgelag is (Hand. 17:16vv.). Dat daar ’n “onbekende God” is, klink na ’n houdbare spekulasie. Maar dat dié God ’n naam en geskiedenis het, ’n persoon is wat eers dít doen en dan dát, soos in die lewe en lotgevalle van Jesus van Nasaret – dít klink te arbitrêr, te “toevallig”, om as godsdienstige waarheid te kwalifiseer. Hoekom sal God juis híér, eerder as dáár, of nóú, eerder as tóé, vir ons kenbaar word of ’n sekere verhouding met ons aangaan? Hoekom ’n voorspelbare reëlmaat in die wêreld handhaaf net om dit weer van tyd tot tyd te deurbreek? Vrae soos dié word al reg van die begin aan Jode en Christene gestel.

 

Die “noodsaaklike” waarhede waarna Lessing op godsdiensgebied hunker, adem dus, paradoksaal genoeg, ’n mitologiese gees. Daarteenoor verteenwoordig die evangelie ’n opstand teen die mitologiese en “natuurlike” godsdiens met sy elegante logiese deursigtigheid. Dis wat dit so vergesog maak.

 

Of is dit? Lewis praat van “the suspicious a priori lucidity of Pantheism or of Newtonian physics”, en kontrasteer dit met “the seemingly arbitrary and idiosyncratic character which modern science is slowly teaching us to put up with in this wilful universe”. Die evangelie lyk meer soos laasgenoemde.

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

45 antwoorde op Die vergesogtheid van die evangelie

  1. WILHELM VAN DEVENTER SKRYF:

    ‘”In die begin was daar die evangelie. Toe sê Paulus, Lewus, Lessing, Bultmann, Brand, Van Deventer en ‘n hele lot ander “skrifgeleerdes”: Laat daar teologie wees”. En daar was chaos!

    ‘Ek het al baie gewonder of die kanon nie maar tot die vier evangelies beperk moet word nie? Is dit nie juis die eenvoudige eietydse en binne-kontekstuele verhale aangaande Jesus wat gelees en geleef moet word nie?

    ‘En hoe moet die evangelies verstaan word? Toe sê René Padilla: “Die gemeente is die primêre hermeneutiese gemeenskap!”‘

  2. Wat is die punt van hierdie betoog? Dat Lewis se uitsprake soos hierbo aangehaal absurd is? Dat die Evangelies absurd is? Dat die leer van die Drieëenheid geloofwaardig is?

  3. Wilhelm, met jou slotopmerking stem ek volmondig saam, maar nie met jou voorgestelde kanon nie. Paulus se briewe is ouer as die sinoptiese evangelies, en dus nader aan die vroegste getuienis aangaande Jesus. Dit afgesien daarvan dat die kontras tussen Paulus en die evangeliste myns insiens erg oordryf word, soos ‘n groeiende korpus resente Nuwe-Testamentici ook betoog.

  4. Lyk my ek skryf baie onduidelik, vuurklip. In kort is die punt dit: juis die feit dat die evangelie “nie die soort ding is wat ons sou kon raai nie” maak dit tegelyk moeiliker en makliker om te glo. Die werklikheid is altyd verrassend.

    Vir die rekord: ek vind nie Lewis se uitsprake, die evangelie of die Triniteitsleer “absurd” nie. Nie eens die kerkvader Tertullianus, wat beroemd is vir sy uitspraak: “Ek glo omdat dit absurd is!”, het die evangelie absurd gevind nie.

    Mense sukkel maar met paradoks, lyk my, en verwar dit alte maklik met teenstrydigheid. En ons hou van dit wat eenduidig, eenvoudig en voorspelbaar is.

  5. Die geloofwaardigheid van die Evangelie aanvaar ek sonder probleme-miskien juis as gevolg van die paradoksale aard daarvan.Met die Triniteitsleer het ek egter n probleem.Ek lees op die oomblik Flip Schutte se boek “Diaspora van die nuwe Christene” en hy sê onder andere dat Christene in die Grieks -Romeinse wêreld aanvaar het dat daar net een God is-maar toe sit hulle met ‘n probleem: Wat dan nou van Jesus? Toe maak hulle hom “die Seun van God”.Na sy dood vergoddelik hulle Hom soos wat maar met die meeste Romeinse keisers na hulle dood gedoen is.Jare later volgens hom besluit ‘n sinode toe dat God en sy Seun eintlik in wese een is,want hulle het-volgens die sinodebesluit-een Gees wat van beide uitgaan.Hulle vorm dus ‘n “drie-eenheid”.Ek is nie seker dat sy uiteensetting inderdaad korrek is nie maar hy verwoord myns insiens baie mense se ongemak met die triniteitsleer.Is daar dalk ‘n manier uit hierdie ongemak?

  6. WILHELM VAN DEVENTER ANTWOORD:

    “Ek het nie die evangelies en Paulus noodwendig in kronologiese verband bedoel nie, net die verskil in genre. Schutte het onlangs ‘n boek gepubliseer waarin hy wel die Evangeliese en Pauliniese weergawes van die Jesus-verhale sterk kontrasteer. Miskien té sterk, maar dit bring nogtans die onderskeie genres ten opsigte van die kronieke van Jesus na vore, waarmee deurgaans deeglik rekening gehou moet word in die gemeente se lees, verstaan en leef van die Evangelie.

    “Ek sou so graag die tyd wou hê om ‘n boek te skryf, sê maar: DIE EVANGELIE VOLGENS MARKUS deur DIE VGK GEMEENTE PROMOSA.”

  7. Wilhelm, ek sal graag daardie boek wil lees! Wat is die titel van daardie bevrydingsteoloog se boek? “The Gospel in Solentiname”, of so iets.

  8. Hilgaard, ek is redelik oortuig daarvan dat hierdie soort weergawe van waar die Triniteitsleer vandaan kom nie akkuraat is nie. Dis wel ‘n populere voorstelling. Verskeie gerekende Nuwe-Testamentici beklemtoon juis opnuut dat die Goddelikheid van Christus reeds in die vroegste kerk as uitgangspunt gedien het, en dat die Trinitariese denke dan ook reeds daar sy oorsprong gehad het, in die sin dat reeds in die NT konsekwent vasgehou word aan sowel die Goddelikheid van Vader, Seun en Gees, as die onderskeid en verhoudings tussen Vader, Seun en Gees.

    ‘n Goeie bespreking van hierdie tendens in die NT navorsing is te vinde in Bram van de Beek se boek “Jesus Kyrios” (wat in sowel Nederlands as Engels verskyn het). Die posisie wat jy aan Schutte toeskryf (ek het self nog nie sy boek gelees nie), is nie nuut nie, maar gaan ‘n eeu of meer terug in die ontwikkeling van die Bybelwetenskappe. Dis myns insiens uitgedien.

    Die Triniteitsgedagte is ‘n uiters komplekse onderwerp, maar as ‘n mens dit durf opsom, sal dit iets moet wees soos: Daar is nie ‘n ander God “agter” die God wat ons in Jesus Christus ontmoet nie; God is insigself nie anders as in die openbaring in Jesus nie.

  9. Moontlik is ek totaal naïef hieroor – behalwe oor iets soos dat die dissipel (Paulus) meermale “slimmer” is as die profeet (Jesus) – maar is dit nie maar ’n manier om die verwoorde begrip van een leefwêreld binne die van ’n ander leefwêreld te plaas nie?

    Is Drieëenheid nie maar ’n manier van bymekaarbring van WAS maar ook IS nie? Hoe verduidelik mens in die wêreld van die mitologie die onbetrokke gode van eie belang met die God van jóú belang?: Jy versoen die afwesige God wat skep (Vader) deur sy Seun (Verlosser) met die teenwoordige God (Heilige Gees).

    Gerrit miskien verstaan ek jou standpunt heel verkeerd want ek sou die sin: “Anders as die destydse mitologie, het die Bybelse getuienis oor God se dade in die geskiedenis nie ’n boodskaap wat ook deur ander verhale oorgedra sou kon word nie.” Verwoord het as “Anders as die destydse mitologie, het die Bybelse getuienis oor God se dade in die geskiedenis ’n boodskap wat nie ook deur ander verhale oorgedra sou kon word nie.”

  10. Die Evangelie “nie die soort ding is wat ons kan raai nie”. Werklik?

    Die wereld is vol boeke en films wat meer fantasties is as die evangelies – en daagliks kom daar meer by.

    Die Evangelies is juis die soort stof wat ons kan versin – en waarskynlik wel versin het.

    My “probleem” is nie paradoks of teenstrydigheid nie, maar die blinde geloof in die ongeloofbare oorgelewerde dogma.

    Die geloof en uitsprake van middeleeuse (of self moderne) filosowe dra ongelukkig geen gewig in die afwesigheid van waarneembare kriteria nie.

  11. Hendrik, jou skuif van die “nie” in daardie sin verstaan ek nie heeltemal nie. Dit lyk vir my asof dit dieselfde se: Die Bybel het ‘n boodskap oor God se dade in die geskiedenis, en daardie boodskap kan slegs oorgedra word deur die verhale oor die dade van God te vertel – nie deur ander verhale nie.

    Ek stem saam met jou dat dit by Paulus en by die kerkvaders (bv rondom die Triniteit) bloot gaan om ‘n soek na woorde waarmee dit wat geglo word, gese kan word. Dit het elke Bybelskrywer gedoen: woorde uit sy tyd en omgewing so probeer gebruik dat dit die waarheid oor God praat. En dit doen ons vandag nog.

  12. vuurklip, hoe lyk ‘n “waarneembare kriterium”? Meer soos ‘n waarneembare veronderstelling, of eerder soos ‘n waarneembare idee?

  13. Pomp is besig om te sak so my gedagtes is tussen kuns, ontwerp, biodanza, singles, expats en sulke goed.

    Al wat ek wou sê – deur die nie te skuif – is dat die Bybel ’n ánder boodskap het wat nie deel is van die mitologiese manier van vertel nie. Deur die dade van God in die verlede kan die dade van God in die hede immers werklikheid word. Kollektief is dit ’n slaggat. Individueel word dit ’n twee gesprek.

    Sou mens dit so lees is die moontlike verskil duideliker:
    – nie ’n boodskap wat ook deur ander verhale oorgedra sou kon word nie
    – ’n boodskap wat nie [ook] deur ander verhale oorgedra [sou] kon word nie

    Seker is dit dieselfde ding die aksent skuif net ietwat.

  14. Gerrit,
    Ek het bietjie verkoue op die oomblik, so aan die begin van die Herfs in Engeland, maar ek sukkel om die presiese punt van jou preek beet te kry. Dit klink vir my na ‘n vinnig-gepende hitspot van gedagtes. Jy admireer Lewis se siening van die ‘elegante logiese deursigtigheid’ van die evangelie, maar ek is bevrees hierdie artikeltjie is bietjie bewolk. Of miskien is dit net my dik kop en die baie pille.

  15. Ag, kom nou – ek verwys na die filosowe se ge-hannahanna oor God in die afwesigheid van enige waarneembare getuienis dat Hy hoegenaamd bestaan.

  16. Dalk het ons dieselfde dik kop! Ek kon ook nie mooi die strekking ontrafel nie – sien my kommentaar laer af …

  17. Stefaan het gesê op Augustus 19, 2010

    Die Sosiologie het my destyds gehelp om die triniteit beter te verstaan. Dit gaan oor rolle wat ons beklee. So kan ek bv my vrou se eggenoot wees, my kind se pa en die buurman se vriend. Sekere rolle kan ek nie meng nie, soos om my kind se pa asook eggenoot te wees nie. Ander rolle kan ek egter “meng”, soos om my vrou se eggenoot te wees asook terselfdertyd haar vriend. Daar is net een God. Hy kan egter oa drie rolle “speel” en hulle “meng”. Die rol van God die Vader, waar Hy vir my sorg; die rol van mens, toe Hy Hom op aarde aan my kon voorstel het met die noemnaam Jesus; die rol van die Heilige Gees, waar Hy elke oomblik by en met my is. Dalk lê die problematiek daarin dat ons praat van die drie persone van die Goddelike drie-eenheid. Wat van die Persoon van God, wat verskillende rolle vertolk? Natuurlik, omdat Hy God is, speel of vertolk Hy dit nie, maar is Hy daardie rolle.

  18. Net so iets en nog wat: Gaan dit in die Grieke se reaksie in Hand 17 nie meer oor die Grieke – in elk geval van die populêre filosofiese strominge onder hulle – se bekouing van die liggaam as “tronk” waaruit die “siel” bevry moet word, daarom vind hulle die opstanding onaanvaarbaar nie?

  19. Dis presies waaroor dit gaan, ja. Vir hulle is die onsterflikheid van die siel OK. Die siel is ewig en keer terug na sy bron. Wat aanstoot gee is die opstanding van die liggaam – eerstens omdat die liggaam ‘n tronk is, en tweedens omdat dit iets is wat op ‘n spesifieke tyd en plek gebeur, eerder as dat dit ‘n ewige waarheid is. Die twee aspekte hang saam: die klassieke Griekse denke het ‘n voorkeur vir die abstrakte, bowereldse en ewig-onveranderlike, en hou nie van die konrete, fisiese en historiese nie. Tyd gaan saam met liggaamlikheid en die fisiese.

  20. Daarmee kan ek akkoord gaan. Soos enige model is dit oop vir misverstand en word sekere aspekte nie daardeur belig nie, maar dit maak dit nie verkeerd nie.

  21. Patat, ek dink Lewis verwys juis na die kwantumfisika wanneer hy se dat ons toenemend leer dat die werklikheid nie die soort ding is wat ons sou kon raai nie. Ek is dit daarin met hom eens.

    Dat daar van ‘n drieheid in talle spirituele tradisies sprake is, val nie te ontken nie, maar dit beteken nie dat dit dieselfde funksie vervul, of dieselfde betekenis en implikasies in al die tradisies het, nie. Die manier waarop in die vroee Christendom oor die Triniteit gepraat word, berus nie op ‘n insig waartoe nadenke en meditasie mens sou kon lei nie, maar op getuienisse oor iets wat gebeur het.

    Die verskil bly vir my dat die Joods-Christelike tradisie die historiese beklemtoon, die feit dat God ‘n pad met die skepping loop, en dat God in daardie geskiedenis as die Drie-enige bekend word.

    Lewis sou waarskynlik se dat die drieheidmotiewe in ander spirituele tradisies “good dreams” is wat deur God in daardie tradisie geplant is. Die kerkvader Irenaeus sou dit noem die “logos spermaticus”, die saad van die Woord/Logos wat oor die wereld verstroei is.

    Ek dink nie alle godsdienste kom basies op dieselfde neer nie. Dit beteken egter nie dat alle ander godsdienste vals en nutteloos is nie. Dis beslis nie hoe ek daaroor dink nie.

  22. KLETSKERK, jy dink ek “admireer Lewis se siening van die ‘elegante logiese deursigtigheid’ van die evangelie”, maar dis nie wat ek geskryf het nie. Lewis se punt is juis dat die evangelie NIE oor die ‘elegante logiese deursigtigheid’ van byvoorbeeld panteisme en Newtoniaanse fisika beskik nie, en dat hy (dis die interessante van sy posisie) die evangelie juis om daardie rede gelofowaardig vind: Dis meer soos kwantumfisika as Newtoniaanse fisika. Lewis (en ek) is juis agterdogtig oor wereldbeskouings wat deur ‘elegante logiese deursigtigheid’ gekenmerk word.

  23. vuurklip, as jy nie die strekking kon ontrafel nie is dit seker omdat ek so sleg skryf. Jammer daaroor. Maar as jy nie weet wat ek geskryf het nie, hoe kan jy dan weet dat jy daarmee verskil?

  24. Dis seker moontlik, maar ek dink die redes vir ongeloof (en vir geloof!) is baie divers en kompleks. Ek respekteer eerlike ongelowiges.

  25. Daar is ‘n interne kontradiksie in jou argument: As mens nie oor dinge kan praat waarvoor daar geen waarneembare getuienis is nie, dan behoort jy ook nie die eis van waarneembare getuienis te onderskryf nie, want daar is geen waarneembare getuienis vir die geldigheid van daardie eis nie.

    Daar is buitendien ook nie waarneembare getuienis vir ‘n klomp ander goed wat jy as waar beskou nie, vuurklip: Kan wiskundige stelling met waarneembare getuienis ondersteun word? Nee, want getalle en hul onderlinge verhoudings is nie waarneembaar nie.

    Die eis van waarneembare getuienis, wanneer dit toegepas word op onderwerpe wat per definisie nie vir empiriese ondersoek vatbaar is nie (soos wiskundige en metafisiese stellings), is ‘n irrasionele eis. Daarom aanvaar ek dit nie.

    Jy kan dit “filosofiese ge-hanahana” noem, maar dis baie eenvoudig. Dis logika, soos 1+1=2. As jy logika verwerp, nou ja, hoekom dan hoegenaamd oor enigiets argumenteer?

  26. Nee, ek het nie verskil oor die artikel as sulks nie maar ons debat gaan het begin met jou kommentaar op my kommentaar! Hier het ons dus begin verskil …

  27. Ek stem saam!

  28. “As mens nie oor dinge kan praat waarvoor daar geen waarneembare getuienis is nie, dan behoort jy ook nie die eis van waarneembare getuienis te onderskryf nie, want daar is geen waarneembare getuienis vir die geldigheid van daardie eis nie.”

    Nee, ons kan wel praat oor die onwaarneembare maar ons kan nie eienskappe daaraan toedig nie.

    “Daar is buitendien ook nie waarneembare getuienis vir ‘n klomp ander goed wat jy as waar beskou nie, vuurklip: Kan wiskundige stelling met waarneembare getuienis ondersteun word? Nee, want getalle en hul onderlinge verhoudings is nie waarneembaar nie.”

    Die hele wiskunde is op aksiomas (lees aannames) gegrond en is dus net so geldig soos die aannames. Die struktuur van die verkillende wiskundige velde is sigbaar vir elkeen wat dit wil ondersoek en toets. Ons gebruik dit as ‘n hulpmiddel om die wêreld te ondersoek. Dit verg geen geloof nie. Ek sien een appel, en nog ‘n appel, dus twee appels. Ek sien geen appels, dus 0 (nul) appels. Ek sien een god, en nog ‘n god, dus twee gode. Ek sien géén god, dus nul gode.

    “Jy kan dit “filosofiese ge-hanahana” noem, maar dis baie eenvoudig. Dis logika, soos 1+1=2. As jy logika verwerp, nou ja, hoekom dan hoegenaamd oor enigiets argumenteer?”

    1+1=2 is ‘n wiskundige konstruk en net logies binne streng definisies van die getallestelsel. Logika kom wel by die opstel van sodanige definisies ter sprake. logika is iets soos “Alle soogdiere is warmbloedig. Alle Katte is ‘n soogdiere, dus: alle katte is warmbloedig.” Ek verwerp dus nie logika as sulks nie, maar ek beskou die geloof aan die onwaarneemare as buite die logika en nog verder van die logika verwyderd die toeskryf van eienskappe aan die onwaarneembare. Dit is onsinnig (onlogies) om aan onwaarskynlike oorlewerings te glo in die afwesigheid van getuienis. Feitlik die hele dogma van religië bestaan hoofsaaklik uit aannames met weinig interne samehangende struktuur soos wat ons by die Wiskunde vind.

  29. vuurklip, jy gee in jou reaksies op my stellings eintlik telkens toe dat my stelling korrek is. Myns insiens volg dit logies (in die streng sin van die woord) uit hierdie stellings dat empiristiese kriterium wat jy voorstaan nie koherent is nie.

  30. Nee, wat, hierdie “logika” ontgaan my – ons laat dit maar rus …

  31. Nes jy wil.

  32. Regardt, ek stem, dink ek, saam met alles wat jy skryf. Ek sou net nog iets toevoeg aan my argument teen vuurklip se (oenskynlike) empirisme: Enige voorskrif (empiristies of nie) oor wat ‘n mens mag glo, behoort te glo, nie behoort te glo nie en so meer, is onuitvoerbaar om die eenvoudige rede dat “glo”, anders as “opstaan”, “stap”, “eet” en so meer, nie iets is wat mens vryelik kan kies om te doen of nie te doen nie. As jy iets nie glo nie, dan glo jy dit nie, en omgekeerd. Dit kan verander, maar nie soos jy kies nie. Om ‘n eis te stel wat nie uitvoerbaar is nie is onredelik. Enige eis oor wat mens mag glo of nie is dus onredelik.

  33. Ek kan aansluiting vind met jou en Regardt se argumente. Die spekulatiewe of teoretiese fisika is nie anders as “Normale Fisika” nie. Dit kyk na dieselfde ding vanuit ‘n ander hoek. As ek nou vir te vertelle het dat daar so ‘n ding-etjie-etjie (Vreeslik klein!) soos ‘n neutralino-gravitino geon vanuit die “self-symmetry” (SUSY) teorie bestaan en jy vra my om jou een te wys gaan ek effe sukkel. Die goete is nog nooit waargeneem nie. Wiskundig en hipoteties bestaan dit wel en word tans so aanvaar tot die teendeel bewys word. (Geduld o geduld.) Onse tegnologie is nog nie opgewasse vir daai takie nie.

    As mens waarhede soos binne die normale fisika vir die Godheid soek gee dit ook ‘n gesukkel af. Myns insiens is deel van die probleem dat die Godsoekende mens vir God binne die taal en beginsels van Fisika (Lees wetenskap) soek. Ons Godsoekende tegnologie miskien nog nie so lekker by nie.

    Sommiges reken hulle vind “Dit” in die Kwantumfisika. Ek dink dis maar net dat die KF se taal so ‘n bietjie misterieus klink. “Dit” is myns insiens nie “daar” nie. Dit is in jouself.

    Wat ek hier bo kwytraak is gladnie die hele argument nie. Verskoon dus asseblief die “hoekoms, waaroms, ja-maars” ens.

  34. Wel, Gerrit, ek het nogal taamlik nadenke in my blognaampie ingesit: ‘Kletsgras’, maar ek sien jy het dit verwring of verbeter tot ‘Kletskerk’. Dalk gebruik ek dit nog later! Ek aanvaar jou korreksie van my. Ek het jou verwysing misgelees. Ek sien ook nou jou punt beter raak. Die evangelie het ‘n historiese karakter, ‘n onafheid, ‘n rowwigheid wat dit nie pasklaar en afgerond laat lyk nie. Dit gee die indruk van outentisiteit. Daar is egter baie fabrikasie en konstruksie by betrokke! Dit is immers volledig mensgemaak. Nie waar nie?

  35. Ekskuus, Klitsgras! Daar is mos ‘n Kletskerk, en ek het gedink dis dalk die redakteur wat hier praat …

    Baie min dinge is suiwer mensgemaak. Die mens is nie so magtig nie! Daar is altyd ook sosiale en natuurlike kragte wat ‘n uitwerking het op mense se verstandsmatige konstruksie van die werklikheid – soos Marx en Freud ons onder andere geleer het. Gelowiges gaan natuurlik daarvan uit dat, in en deur dit alles, die Heilige Gees ook handel, maar dit beteken natuurlik nie dat die evangelie, soos ons dit verstaan, ooit foutloos is nie. Die kerk en sy verkondiging bly (in Nietzsche se taal) “menslik, alte menslik”.

  36. Die verskil met die vreemde gepostuleerde entiteite van die kwantumfisika is dat geloofsoortuigings baie minder suksesvol as verklarings van sekere waarnemings slaag. Ek dink dan ook dis ‘n fout om geloofsoortuigings te meet aan die mate waartoe dit waarnemings kan verklaar. Dis ‘n fout wat sowel kritici as verdedigers van die geloof maak.

  37. Waar het Regardt (en sy kommentare) heen verdwyn?

  38. Vergun my om bietjie aspris te wees. Is die Heilige Gees nie mens gemaak nie? Waar kom godsdiens vandaan? Ek weet ons bely ‘n metafisiese, supranaturele, geinspireerde ensovoorts oorsprong, maar dit is tog ook deel van ons blik, van ons gesitueerdheid en van ons geloofsbelydenis en dus deel van die intrinsieke waarheidsaanspraak van die religie. Is ons nie nou al by die punt waar ons kan erken dat hierdie dissipline soos die kuns en die wetenskap ook (resloos) mens gemaak is nie? Jy hoef nie te antwoord nie, maar ek dink dit is ‘n vraag wat ons vroeer of later vierkant in die oog sal moet kyk.

  39. Ek hoor sommer vir Cupitt in jou woorde! En daar is regtig iemand soos hy. Hy is nie net ‘n figment van my verbeelding nie. So dink ek in elk geval. Daar was ‘n tyd toe ek ‘n nie-realis wou wees, maar ek kon dit nie regkry nie. Trouens, niemand kry dit, dink ek, ooit regtig reg nie. As die werklikheid was wat ek dit met my denke gemaak het, dan sou dit heel anders daar uitgesien het! Ek is seker maar ‘n “kritiese realis”: Konstruksie help die werklikheid maak wat dit is, maar die werklikheid transendeer ook ons konstruksies. Dit geld die diepste grond van werklikheid by uitstek. Anders gestel: ek verstaan wat jy bedoel; ek stem net nie saam nie!

  40. Ek dink nogal teologiese non-realisme is meer haalbaar en volhoubaar as filosofiese non-realisme. Dit is ‘n verdedigbare posisie om teologies non-reel te wees of om dan na die Bybelwetenskap te hop, Bultmannisties te wees. Die seismiese golwe van Tillich se aanverwante invloed is ook nog sterk met ons. Ons kan die teologiese taal behou, maar die semantiek daarvan verander. Dis waar ek persoonlik struikel, soos ek reeds laat blyk het. Ek voel die waarheidseis en die eis van deursigtige eerlikheid is vir my deel van die etiek van teologie en religie. Cupitt het nie van sy non-realistiese fase weggebeweeg omdat dit ‘n onvolhoubare posisie is nie. Hy het aanbeweeg omdat hy ‘n eksistensialisties-nihilistiese, filosofiese flinder is wat verveeld geraak het.

  41. Ek is nog hier, my kommentaar wel nie. Ek het ‘n gedaantewisseling ondergaan, of ten minste my profile. Die sisteem maak nie voorsiening vir evolusie nie en het my ou-ek afgemaak.

  42. Oor Cupitt se beweegredes weet ek niks, maar ek weet dat die filosofiese raamwerk waarin hy teologie probeer doen (het) nie werk nie. ‘n Nie-realistiese teologie werk ook nie, omdat geloofstaal suiwer emosie-ekspressie word wanneer dit so vertolk word. Dit verloor dan ook alle kritiese, uitdagende, lewensveranderende krag. Die waagstuk van geloof (en dit sluit nie net Christelike of ander tradisioneel religieuse geloof in nie, maar ook geloof as algemeen menslike gegewe in elke denkbare vorm) is juis dat dit nie kan ontsnap aan die risiko om vanuit waarheidsaannames te leef nie – met die wete dat baie wat vir waar gehou word dalk nie waar is nie. Nogmaals: Dit geld nie net “geloof” in konfensionele sin nie; dis die menslike kondisie. Geen vlug van realisme kan ons daarvan bevry nie.

  43. Die vraag is nou: Is jy nog dieselfde individu?

  44. Ek stem saam, en mens het dit by Cupitt en ook die ouer radikale toeloe gesien dat teologiese non-realisme moeilik konsekwent gehandhaaf kan word. Maar is dit regtig omdat die posisie so onverdedigbaar is? Daar is twee kragte wat myns insiens die posisie destabiliseer. Eerstens is daar die trekkrag van tradisie wat die posisie verketter. Dit word geweeg en te lig bevind. Sonder om te verdiskonteer dat die liggewig aspek daarvan sy groot wins verteenwoordig. Dit is dun en lig, deel van die flietende en vrolike ‘lightness of being’ en daarom onder druk en onder skoot van mense wat verknog en gewend is aan die swaarheid en dit dus ‘unbearable’ vind, omdat hulle dit so maak. Dan is daar ‘n stootkrag. Die posisie open kreatiewe moontlikhede, maak vry, ontketter vrye denke en assosiasie. Dit is kenoties en soos die brander wat die land tref, breek dit en stoot saggies (en plat) op die sand uit. Die belade lewe perspektief loop uit in ‘n ligte, eksistensiele lewensfilosofie (Cupitt tipeer sy finale posisie as ‘radical empty humanism). Die vraag is dan: is dit nog teologie? Ek dink dit is teologie wanneer ons nog in gesprek met die wereld van die Bybel bly. Dan kan ons begrippe soos kenosis gebruik en ons kan beaam as Jesus sê: My juk is sag en my las is lig’; en ‘julle lê laste op die mense wat te swaar is vir hulle om te dra’. (Verwant aan die kritiese, siniese Jesus van Crossan)

  45. My kritiek berus op iets baie eenvoudigers as die twee kragte wat jy identifiseer: logika. Nie-realisme is self-referensieel inkoherent. Dit is selfweersprekend.

    Wat die “lightness of being” betref: Onthou, vir Kundera is dit uiteindelik “unbearable” …

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.