Alexander oor nasiebou en subnasionale identiteite

Augustus 12, 2010 in Sonder kategorie

Ek voorspel dat vandeesmaand se LitNet-essay vir dekades nog gelees gaan word. Neville Alexander skryf oor “Nasiebou en subnasionale identiteite in Suid-Afrika na 1994”, maar neem onder daardie tema omtrent elke denkbare maatskaplike vraagstuk onder die loep. Alexander glo nie in mooi broodjies bak nie, maar ook nie in histerie nie. Sy ontledig is klinies en simpatiek tegelyk. Lees dit en kom gesels hier verder saam daaroor.

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word

15 antwoorde op Alexander oor nasiebou en subnasionale identiteite

  1. Alexander sou nie kultuur en wereldbeeldverskille ontken nie. Hy skryf iewers dat dit wel ‘n realiteit is, maar tipies Marxisties is hy (myns insiens tereg) agterdogtig oor ‘n reifisering daarvan as sou dit onveranderlik en inherent aan sekere groepe mense wees, en sal hy beklemtoon dat kulturele gewoontes, ook denkgewoontes, nie los gesien kan word van die materiele kondisies waardeur dit medegvorm word nie.

    Self dink ek (en hy sal, dink ek, saamstem) dat die skep van ‘n meertalige publieke ruimte veel kan bydrae tot meer gelyke interaksie en wedersydse beinvloeding tussen kulture. Ek stem ook met hom saam dat die fokus op ras juis tot reifisering en veralgemening bydra, en sodoende die dinamiese, veranderende karakter van kultuur misken en in die weg staan.

  2. Uitstekend en insiggewend. Het my aan die dink.

  3. Bly jy ervaar dit ook so. Dis nie meer so dikwels dat ‘n mens refleksie van hierdie gehalte teekom nie.

  4. Stefaan het gesê op Augustus 13, 2010

    Daar is een pad vorentoe vir ons as “wit” mense in hierdie land. Aanpas of ondergaan. Aanpas beteken oa. dat ons aanvaar ons woon in Afrika en nie in Europa, waar die “ballgame” totaal anders is nie. Die gedagte het by my begin groei dat ek my nie meer as sg. Afrikaner beskou nie, maar as `n Afrikaanssprekende Suid-Afrikaner, met die klem op laasgenoemde.

  5. “Adapt or die” (of “adapt” or dye”, soos Pieter-Dirk Uys dit gemaak het …) geld eintlik almal oral in die wereld, nie net wittes in SA nie.

    Identiteit is ‘n komplekse verskynsel. Wie ‘n mens is, tot watter groep jy behoort of nie, word nie net bepaal deur hoe jy self kies om daaroor te dink nie, maar ook deur hoe ander daaroor dink: Sien ander jou as dit of dat? Self is ek ook ‘n Afrikaanssprekende Suid-Afrikaner, maar ek kan nie daarvan wegkom dat ek ook ‘n Afrikaner is nie – nie omdat ek besondere waarde daaraan heg of dit soseer WIL wees nie, maar omdat dit, binne die identiteitspolitiek van SA, is hoe ander my sien – sowel Afrikaners as nie-Afrikaners.

    Die alte maklik afsweer van Afrikanerskap as identiteit lyk vir my ook problematies – nie net omdat andere jou nog steeds as Afrikaners gaan sien nie, maar ook omdat dit kan neerkom op ‘n poging om nie jou historiese erfenis – en dan spesifiek die problematiese, moeilike deel daarvan – vir jou rekening te neem nie.

    Maar goed, dis ‘n nimmereindigende debat!

  6. Ek wonder net of Alexander se argument nie te veel steun op die idee dat stereotipes noodwendig vals is en dat rasverskille deur die wetenskap weerl^e is. Sover ek kan agterkom het moderne genetika lankal reeds die sofistiese argumente van die rasontkenners agtergelaat. Dit is slegs danksy politieke korrektheid dat die publiek nog onder die indruk verkeer dat ras slegs ‘n sosiologiese konstruk is sonder enige basis in biologie. Dit is duidelik dat Alexander se Marxistiese denkbeelde fataal ondermyn sal word sou rasverskille as gegewe aanvaar word.

  7. Karl, my verstaan van die gegewens is weer dat daar nie juis sterk argumente vir biologies-gebaseerde rasverskille is nie. Maar gestel daar sou wees? Wat sou daaruit volg? Ons weet dat mans en vrouens meer as net liggaamlik van mekaar verskil. Dis ‘n feit dat mans oor die algemeen aggresiewer is, ‘n aktiewer libido het, meer geneig tot misdaad is, minder kommunikatief is, beter met sommige dinge, en slegter met ander, is.

    Twee punte is hier van belang:

    1. Die stellings hier bo bly veralgemenings – daarom “oor die algemeen”. Daar is uitsonderings. Enige onmiddellike verwagting dat ‘n man of ‘n vrou sus of so sal wees, is inderdaad dus ‘n vooroordeel.

    2. Niemand waarvan ek weet, bepleit dat daar wetlike implikasies aan die verskille tussen mans en vrouens gekoppel moet word nie. Behoort mans op grond van versagtende omstandighede (naamlik hul geslag) minder swaar strawwe vir geweld- en seksmisdade te kry? Moet mense se geslag in ag geneem word wanneer hulle vir ‘n beurs of werk aansoek doen? Moet ons onbesorg wees as ons ontdek dat drasties minder mans, of drasties minder vroue, matriek slaag of ‘n graad kry?

    My punt? Ook al sou daar die soort rasverskille wees wat jy meen daar is, dan sien ek nie dat dit in die konteks van Alexander se betoog, of in die algemeen, van veel belang is nie.

  8. Alexander se betoog is basies dat swartes in die materieel slegter af is weens diskriminasie, met die veronderstelling dat gelykheid bewerkstellig kan word sonder regstellende aksie. Maar wat as materi”ele ongelykheid in die algemeen saamval met ongelyke intellektuele vermoe”ens – soos wat talle studies in Westerse lande bewys? Sonder regstellende aksie sal sulke ongelykhede eenvoudig bly voortbestaan en, by ontkenning van rasseverskille, ipso facto as bewys van informele rassevooroordeel dien. Om realiteite te ignoreer is om verdoem te wees tot ‘n pendelgang tussen twee uiterstes van wetlike diskriminasie en non-diskriminasie tot ons eendag die ware nulpunt van illusion^er gelykheid bereik.

  9. Karl, as ek jou reg verstaan, pleit jy VIR (rasgebaseerde) regstellende aksie, op grond daarvan dat (na jou en ander se mening) die groter armoede onder swart mense meer aan hul inherente rasse-eienskappe as aan diskriminasie en benadeling in die verlede te wyte is? Dis ten minste oorspronklik! Gewoonlik pleit diegene wat die soort rasse-navorsing waarna jy verwys, oortuigend vind eerder TEEN regstellende aksie, juis omdat hulle meen dat ongelykhede nie agv benadeling nie, maar weens rasseverskille, voorkom.

    Self vind ek die bevindings van die betrokke navorsing nie oortuigend nie – onder meer omdat vooraanstaande genetici, soos Francis Collins, dit bevraagteken. Ek is egter geen kenner op die gebied nie. Maar weer eens: ek glo nie dat dit ons maatskaplike modus operandi sou moet beinvloed, selfs al sou jy blyk reg te wees, nie.

    Vir my gaan regstellende aksie daaroor om mense wat uitgesluit, arm en sonder geleenthede tot lewensverbetering is, by te staan en ‘n hupstoot te gee. Of die lyding nou weens benadeling in die verlede of agv biologiese faktore is, is irrelevant.

    Natuurlik sal dit in die praktyk so uitwerk dat die meeste mense wat hierdie soort regstellende hulp nodig het swart sal wees (myns insiens weens benadeling in die verlede; volgens jou weens biologiese faktore). Dit volg egter nie daaruit dat swart mense as ‘n groep (en by implikasie dus as ‘n eenvorminge groep wat almal om dieselfde redes ewe goed in die samelewing geplaas is) vir regstellende aksie geteiken moet word nie. Dit is soos om skape te tel deur eers die bote te tel en dan deur vier te deel! Tel liewer die skape. Kyk liewer wie het hulp nodig en gee dan die hulp wat nodig is.

  10. Gerrit, die navorsing waarna ek verwys gaan oor korrelasie tussen IK en inkomstevlakke. Die ander feit waarop ek by implikasie steun is die welgedokumenteerde een standaardafwyking in IK tussen (selfbeskrewe) swart en wit Amerikaners. Of Collins saamstem dat ras ‘n biologiese kategorie is is dus nie ter sake nie. (Ek wonder wat hy dink van die onlangse navorsing wat bewys dat die 80 vernaamste honderasse nog minder van mekaar verskil as die blykbaar onbenullige 0,01% tussen menserasse. Daar is vasgestel dat slegs sewe! lokusse op die DNA van honde verantwoordelik is vir al die verskillende subspesies. In navolging van diegene soos Collins moet ons voortaan aanneem dat dit van geen belang is of die hond wat jou bestorm ‘n Engelse bulhond of ‘n chihuahua is nie. Dit is slegs ons stereotipiese verwagtings wat sal bepaal of ons lewend of dood van so ‘n onderonsie sal afkom.)

    Ek verskil nie met jou oor die kwessie van naastehulp nie, maar in billikheid teenoor onsself moet ons ook nie die skuld aanvaar vir ander groepe se agtergesteldheid nie. Ek het noudiedag ‘n wit bedelaar wat aan Vigs ly gehelp met kos en klere omdat ek jammer gevoel het vir hom, nie omdat ek aandadig was aan sy lot nie. As iemand egter ‘n beskuldigende vinger na my wys en vereis dat ek my besittings met die agtergeblewenes deel dan word my morele agentskap die slagoffer van ‘n politieke magspel. Solank ek die skuld betwyfel het so ‘n beroep op sosiale geregtigheid geen aanspraak op my morele gewete nie, alhoewel ek op grond van selfbehoud daaraan sal voldoen.

  11. Karl, oor die navorsing waarna jy verwys, sal mens jare lank kan argumenteer (en daar word al jare lank oor geargumenteer). Die waarde van IK as ‘n aanduiding van intelligensie, en van die mate waarin opvoeding en ander omgewingsfaktore ‘n invloed op IK uitoefen, is een aspek daarvan. Maar soos ek al gese het: ek is ‘n leek op die gebied.

    Wat my ongemaklik maak van jou argument is dat jy hierdie soort navorsing verontskuldigend wil gebruik. Nie omdat ek so graag skuld wil uitdeel nie (ek weet buitendien niks van jou bydrae, hetsy positief of negatief, nie), maar omdat skuld uiters kompleks is. Dis nooit enkelvoudig nie. Selfs al sou die rassenavorsing geldig wees, sodat dit dan ‘n rol in ‘n sekere groep mense se maatskaplike posisie speel, dan sou dit nog nie daaruit volg dat daardie groep mense nie ook in die verlede benadeel is nie.

    Onthou, in die vroee 20ste eeu het Britse waarnemers dikwels die armoede en agtergesteldheid van Afrikaners aan hul vermeende inherente, oorerflike swakhede toegeskryf. Destyds was hierdie soort denke baie algemeen, en is dit as “wetenskaplik” en “bewese” beskou. Dit het dan ook, vanwee daardie status van redelikheid, as uitstekende manier gedien om Britse verantwoordelik vir die lyding van Afrikaners te misken.

    Die vraag of swartes oor ‘n lang tyd sistematies deur wittes benadeel is, hoef nie langs die omweg van biologiese teoriee benader te word nie. Ons weet mos wat die wette was en so meer. Myns insiens is dit oorweldigend duidelik dat swartes in SA gruwelik benadeel is en dat ‘n groot deel van die probleme wat ons vandag op talle vlakke het daaraan te wyte is. En dit sou waar bly, ook al sou die navorsing waarna jy verwys korrek wees.

  12. Wat my betref is dit geensins ‘n uitgemaakte saak dat swartes as sodanig deur apartheid benadeel is nie. Die enkele talentvolles ja, maar deur hulle opname in die wit ekonomie te verhinder het dit juis swart gemeenskappe bevoordeel. ‘n Swart dokter wat verhoed is om in die wit gemeenskap te praktiseer moes noodgedwonge sy dienste veel goedkoper aan sy eie gemeenskap beskikbaar stel ens.

    Vermoedelik is jy vertroud met die feite rondom verbeterde lewensverwagting, drastiese verlagings in kindersterftes en uitbreiding van skooltoegang wat swartes onder apartheid geniet het. Vanuit ‘n demografies perspektief beskou het swartes veel beter gevaar in die 20ste eeu as blankes, met hul getalle wat vertiendubbel het teenoor ‘n blote verdubbeling van ons eie. Swart Suid-Afrikaners het in die algemeen beter materiele welstand geniet as hul broeders elders op die kontinent, soveel so dat die apartheidstaat elektriese heinings moes oprig om hulle buite te hou. Dus, al was daar relatiewe benadeling in vergelyking met blankes, was swartes in absolute terme steeds beter daaraan toe.

    In die boek IQ and the Wealth of Nations is daar aangetoon dat daar ‘n baie hoe”e korrelasie bestaan tussen lande se gemiddelde IK en hul welvaart. Daar is natuurlik gekontroleer vir ekonomiese stelsel – vryemark vs sosialisties, maar die enigste anomalie was Suid-Afrika wat veel beter presteer het as wat sy gemiddelde IK voorspel. Die outeurs se gevolgtrekking was dat dit juis danksy apartheid was. Dit het die talentvolle minderheid se ekonomiese deelname verskans teen teenproduktiewe kwotavereistes.

  13. Karl, die vraag of swartes deur apartheid (en die rassediskriminasie wat dit voorafgegaan het) benadeel is (wat myns insiens vergelykbaar is met die vraag of die aarde rond is), is die vraag waaroor dit eintlik gaan. Jy verwys na literatuur. Ek kan ook na literatuur verwys (bv. Sampie Terreblanche se meesterlike “A History of Inequality in SA” of Herman Giliomee se “Nog altyd hier gewees”). Ons kan vir ewig daarmee aanhou. Feit bly, die vraag of daar inherente verskille in intelligensie tussen rasse is, is polities irrelevant – nes die vraag of daar inherente verskille tussen mans en vrouens, of tussen jou en my, is, polities irrelevant is.

  14. Gerrit, solank as wat die IK-komponent van materiële ongelykheid ontken word sal dit polities relevant wees omdat die rykes altyd aangekla sal staan dat hulle van die armes steel. Jy spreek ook nie die kwessie van relatiewe vs absolute benadeling aan nie. Die feit van die saak is is dat swartes in absolute terme voordeel getrek het uit apartheid soos objektief gemeet kan word aan die verhoging in gemiddelde lewensverwagting en die gevolglike bevolkingsontploffing. Was dit nie vir die bevolkingsontploffing en gevolglike ooraanbod in arbeid sou hulle lewensstandaard selfs in relatiewe terme nie sleg afgesteek het teen die wit bevolking s’n nie. Die grootste rede vir relatiewe deprivasie was juis dat daar te veel van hulle was om te absorbeer in die ekonomie of, soos Terreblanche dit sou wou hê, uit te buit.

  15. Karl, is ‘n bevolkingsontploffing (wat altyd onder die armer deel van ‘n bevolking voorkom – ongeag hul ras) noodwendig ‘n verbetering in lewenskwaliteit? Maar dit daargelaat: Ook al het swartes in SA sekere voordele en vooruitgang in die apartheidsperiode beleef (onderwys is byvoorbeeld na meer swartes as ooit te vore uitgebrei), beteken dit nie dat hulle relatief tot wittes nie erg benadeel is nie.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.