Goeie nuus vir religieus gestremdes

Augustus 6, 2010 in Sonder kategorie

My jongste rubriek in die Kerkbode:

 

Op die vraag hoe ’n mens kan weet dat jy uitverkies is (en hier wil ek nie oor uitverkiesing skryf nie!), het die Gereformeerde skolastici (ook genoem die Ortodoksie) van ná die Reformasie geantwoord met die syllogismus practicus et mysticus: As jy in jouself ’n al hoe heiliger lewenswyse (practicus) en ’n ware geloof (mysticus) bemerk, kan jy daaruit logies aflei (syllogismus) dat jy uitverkies is, want genadige uitverkiesing is sowel ’n noodsaaklike as ’n voldoende voorwaarde vir geloof en heiliging.

 

Dis een van die minder gelukkige voorstellings uit ons erfenis – nie net omdat dit die gelowige se aandag op sy eie innerlike lewe, eerder as op Christus, rig nie, maar ook omdat dit ’n antwoord aanbied wat dieselfde vraag net op ’n ander manier weer oproep – en daarmee is die vertwyfeling terug: As ek glo, kan ek weet ek is uitverkies (so lui die argument), maar hoe weet ek of ek glo? Glo ek regtig?

 

In sy Hanna’s Child: A Theologian’s Memoir skryf die beroemde Amerikaanse teoloog Stanley Hauerwas dat God nie vir hom, soos vir sommige ander Christene, “there” is nie. Hy sukkel ook maar met bid, erken hy, want hy is (helaas) “a card-carrying citizen of ‘our age’”, die beliggaming van “world”.

 

“I certainly count myself a Christian,” skryf hy, maar huiwer dan: “more accurately, I have friends who count me as a Christian.” In dieselfde toonaard: “I believe what I write, or rather, by writing I learn to believe.” En dan weer: “I live most of my life as if God does not exist.”

 

Miskien is laasgenoemde opmerking dié sleutel tot wat Hauerwas bedoel. Vir “belief”, sê hy, het hy nie veel tyd nie, want: “‘Belief’ implies propositions about which you get to make up your mind before you know the work they are meant to do … I am far more interested in what a declaration of belief entails for how I live my life.”

 

Dit gaan in geloof dus nie primêr oor die stelligheid van ’n mens se opinies of die intensiteit van jou geestelike ervarings nie (ook religieus gestremdes kan glo!), maar oor “a life (that) is unintelligible if the God we Christians worship does not exist”. Om te glo is om op ’n sekere manier te lééf.

 

Dit beteken nie werke word bo geloof geplaas nie. Daar is eerder ’n verstengeldheid van leef en glo, met die een wat deurgaans die ander oproep en aktiveer. En dis nie iets om op te roem nie – eerstens omdat “I am such a beginner when it comes to knowing how to be a Christian”, en tweedens omdat dit nie oor my en my “projek” gaan nie, maar oor “the friends who have made me who I am” en “the God who has forced me to be who I am”.

 

As “die beste teoloog in Amerika” (volgens die tydskrif Time, tot Hauerwas se verleentheid) só praat, kan dit tot troos wees vir mense wie se syllogismus, nes Hauerwas s’n, nie noodwendig ’n positiewe konklusie oplewer as dit by die premisses van practicus en mysticus begin nie. Geloof is nie van ons nie, maar van God.

 

Die Nederlandse teoloog Bram van de Beek het, in sy onlangse preek by die begrafnis van sy Stellenbosse vakgenoot Flip Theron, vertel hoe Theron intens besig gehou is deur die ontdekking dat van die Bybeltekste wat gewoonlik as “die geloof ín Christus” vertaal is, meer akkuraat as “die geloof ván Christus” weergegee kan word. Wat ons nie kan doen nie, het Hy vír ons gedoen, en doen Hy ook ín ons.

Miskien is geloof nie om seker te wees dát nie, maar om te leef asóf. Of eerder: om te probéér leef asof. Of om daartoe genóóp te voel om te probeer leef asof.

 

Of so iets …

 

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

15 antwoorde op Goeie nuus vir religieus gestremdes

  1. Stefaan het gesê op Augustus 7, 2010

    Gerrit, jy skryf tereg dat om te glo is om op `n sekere manier te leef. Die boek Jakobus wil dit juis so stel dat werke nie bo geloof is nie, maar dat die ware geloof in Christus sigbaar sal word in werke. Geloof, sonder die werke as vrug, is `n dooie geloof. Soos iemand dit onlangs mooi vir iemand anders gevra het:”Is dit jou hart wat praat of is dit net lippe en tong?” Integtiteit is afgelei van die woord integrasie. As daar dus integrasie is tussen wat ek sê en wat ek doen, het ek met integriteit te doen.

  2. WILHELM VAN DEVENTER SKRYF:

    “In Matt 25 lees ons juis van Jesus wat vir sy dissipels vertel van al die wonderlike goed wat hulle gedoen het. Toe vra hulle: wanneer het ons dit gedoen? Dis geloof!”

  3. Netso!

  4. En die twee kan nie los van mekaar gedink word nie.

  5. hilgaard het gesê op Augustus 8, 2010

    Thornton Wilder het die volgende gesê : Moet nooit ‘n man vra wat hy glo nie! Let maar net op waarvan hy gebruik maak! “Glo” is ‘n doodse woord en dit bring die dood mee.

  6. Dis raak gese! Ons maak dikwels die fout om aan “glo” primer te dink as die een of ander inderlike toestand – ‘n “gevoel” dat iets (dalk) waar is. Daardie aspek speel, dink ek, wel ‘n rol, maar die kern van die saak is inderdaad “waarvan jy gebruik maak”. ‘n Mens kan ook se: waarop jy reken, waarmee jy rekening hou, waarop jy waag (of “wet” – om Pascal se metafoor te gebruik). Die aspek van “vir waar hou”, van opinie, dus, is belangrik omdat ‘n mens nie op iets gaan waag of wet of reken as jy geen verre vermoede eens het dat dit iets is wat verdien om op gewaag, gewet of gereken te word nie. Aan die ander kant is sekerheid en die afwesigheid van twyfel egter nie ‘n voorvereiste nie.

  7. Tog wil dit voorkom asof ons nie werklik die lewe van geloof wil leef nie; dit is soveel makliker (en lekkerder?) om te koop en te verbuik, te stereotipeer, te diskrimineer en uit te buit; maar terselfde tyd wil ons glo met vergoeding ‘n ewige lewe van (verbuikers?) genot!

    Is hierdie dan nie juis bydraend tot die neiging om geloof te reduseer tot ‘n spirituele keuse of selfs die resultaat van ‘n Goddelike uitverkiesing nie? Dan het my leefstyl of niks daarmee uit te maak nie, of bitter min neigend na niks.

    of so iets… 😉

  8. Ja, Jakobus!

    Stel dit so: Gee geloof onvoorwaardelik toegang tot heil (sodat my “leefstyl” irrelevant word), of is daar, naas geloof, nog ‘n verdere voorwaarde, te wete ‘n passende lewenswyse? Eersgenoemde is meer die Protestantse neiging, laasgenoemde meer die Katolieke.

    Die swakheid in albei analises is dat geloof, lewenspraktyk en verlossing as drie verskillende goed gesien word wat in die een of ander verhouding tot mekaar staan. Maar gestel die heil is nie ‘n beloning vir (Katoliek), of ‘n aansporing tot (Protestants), ‘n sekere lewenspraktyk nie, maar dat die heil BESTAAN IN, dws dat dit NIKS ANDERS IS NIE AS, die lewenspraktyk. Om “gered te word” beteken dan dat dit vir jou moontlik word om so te lewe, en dit word vir jou moontlik gemaak deurdat jy geloof ontvang – geloof synde om die oortuiging te huldig dat dit die enigste sinvolle manier is om te leef. Dit gaan dan nie oor drie sake nie, maar oor verskillende aspekte van een saak.

    Dit sou kon wees?

  9. hilgaard het gesê op Augustus 9, 2010

    Flip Theron het in sy boekie “Onbegrensde Genade” die volgende gesê:Ware geloof beteken dat jy niks van jou geloof verwag nie, maar alles van Christus.Ware geloof is om met jou ongeloof te vlug na Jesus.Om soos Paul Althaus te sê: Of ek glo weet ek nie maar ek weet in Wie ek glo.

  10. Juistement.

  11. 🙂

    Ek hou natuurlik van beide antwoorde – dankie.

    Veral van die manier om te praat oor geloof, verlossing en lewenspraktyk as 3 “gesigte” van een realiteit (na aanleiding van Dirkie Smit se Gesigte van Liefde).

    Is die verdeling van die drie nie die resultaat van ‘n Hellenistiese wereldbeeld (3 verdiepings) gekombineerd met die Dualistiese mensbeeld wat die siel oorwaardeer in relasie tot die liggaam in ‘n tyd wat ‘n radikale individualisme beklemtoon word nie? Op die manier is ‘n geformuleerde uiting genoegsaam vir ewige genot.

    As dit natuurlik genoegsaam is kan ‘n mens die formules van ‘n paar gelowe uiter, net om seker te maak dat jy multi-dekking het. Net vir ingeval…

    Dankie Gerrit vir die blog inskrywings, dit is great om hierdie dinge telkens in oenskou te neem en (in my geval ten minste te probeer) om nuut te dink daaroor.

  12. “Simul iustus et peccator” het Luther die gelowige genoem, en ook geskryf: “Sondig met oorgawe!”. Soos altyd met Luther, sit hier sowel humor as paradoks in.

  13. Stefaan het gesê op Augustus 11, 2010

    In die boek Romeine lê die klem daarop dat mens uit genade alleen gered word, dat geloof `n gawe is, dat mense se werke tot geen verdienste gereken word nie. Jakobus beklemtoon die uitvloeisel hiervan. As ek dan deur die geloof lewe, word dit sigbaar in dade, anders is die geloof wat ek bely nie die papier werd waarop dit geskryf is nie. `n Vriend het eendag die opmerking gemaak oor `n ander ou se doen en late:” Mens kan sien dat hy ook van die boom van die lewe eet.”

  14. In beginsel ja. Waarvoor ek skrikkerig is, is die idee dat gelowiges, as hulle stip genoeg na hul naaltjie staar, die vrugte sal bemerk. Selfs die verwagting dat ons dit noodwendig in ‘n ander se lewe sal raaksien, is gevaarlik, want (soos Luther uitgewys het) heiligmaking kan ook verborge wees – dis self ook ‘n saak van geloof. Ons ken nie ander se harte, of selfs ons eie hart, nie, en terselfdertyd kan dit wat na heilige dade lyk iets anders wees.

  15. Stefaan het gesê op Augustus 11, 2010

    Christus het gesê dat ons aan ons dade geken sal word, want `n goeie boom dra goeie vrugte. Die goeie vrugte wat gesien word is juis nodig, “sodat julle Vader wat in die hemel is verheerlik sal word(Joh 15)”. As iemand dus in sy naeltjie vaskyk, gaan dit nie meer om die eer van God nie, maar om sy eie eer.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.