Ditsem, Elsa Joubert!

Augustus 3, 2010 in Sonder kategorie

Ek is so bly dat Elsa Joubert nou sommer dubbel en dwars (met sowel die Universiteit van Johannesburg- as die Recht Malanprys) vir Reisiger, die tweede aflewering van haar outbiografie, bekroon is. Ek het nog maar net begin om Reisiger te lees, maar die eerste aflewering, ‘n Wonderlike geweld, het ek destyds met plesier verslind. Dit het my só laat vóél hoe dit moes gewees het in die jare van oprukkende Afrikanernasionalisme dat ek, wat eers dekades later gebore is, my dit byna helder voor die gees kan roep! ‘n Mens het mos soms die ervaring dat jy iets “onthou” wat jy nooit meegemaak het nie. Dis nie elke skrywer wat daardie gevoel kan oordra nie.

Die boek is toe nie met die geesdrif ontvang wat dit verdien het nie, en ten minste een voorste literator het dit taamlik negatief geresenseer (wat natuurlik sy goeie reg is), so ek is bly daar kom nou erkenning.

 

Die swerfjare van Poppie Nongena is lankal reeds op internasionale, en met name Afrika-, vlak as ‘n belangrike werk erken. Een van die merkwaardige dinge daarvan was dat ‘n wit Afrikaanse skryfster ‘n swart karakter so lewend en oortuigend kon aanbied. Maar miskien was wat Joubert in ‘n Wonderlike geweld reggekry het, naamlik om haar eie mense in ‘n veelbewoë fase van hul geskiedenis simpatiek en oortuigend uit te beeld – sonder om dit so te doen dat dit in ‘n apologie ontaard nog indrukwekkender, hoe paradoksaal dit ook mag klink. Wat ek al van Reisiger gelees het, voltooi, lyk dit my, die sirkel deur, meer nog as in ‘n Wonderlike geweld, die mens Elsa Joubert vir lesers te laat lewe maar dan só dat iets duidelik word van hoe die identiteit van “ander Afrikaners” (Johann Roussouw se term) in daardie tyd daaruit kon sien. Ja, hulle was ook deurgaans daar, en in Joubert se vertellings word hulle vir ons regte mense.

 

Ek hoef nie meer te sê nie. Baie geluk, Elsa Joubert! Die bekronings is welverdiend.

 

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

3 antwoorde op Ditsem, Elsa Joubert!

  1. Altyd bly om te hoor ander voel ook so!

  2. WILHELM VAN DEVENTER SKRYF:

    “Vir my as jarelange ‘sendeling’ was MISSIONARIS ide hoogtepunt! Daaarin het ek meer van myself geleer as van die storie self. Dankie Elsa!”

  3. Stefaan het gesê op Augustus 3, 2010

    Ek het jare gelede “Die swerfjare van Poppie Nongena” gelees. Dankie vir hierdie erkenning aan Elsa Joubert Gerrit, want nou is ek aangevuur om haar ander skrywes ook te gaan lees!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.