Jy blaai in die argief vir 2010 Augustus.

‘Creature Magazine’ kook

Augustus 31, 2010 in Sonder kategorie

Creature Magazine is ’n splinternuwe aanlyn-tydskrif wat pas onder my aandag gekom het. Gaan loer gerus in. Dis vars, jonk en uitdagend.

Die lokreël lui: “God serves the creature.” Dis waarskynlik as bietjie van ’n skoktaktiek bedoel, maar dis ironies genoeg heel ortodoks (jammer meneer die redakteur!): hierdie idee dat die Skepper nie op eie belang nie, maar op die belang van die skepping uit is.

Dit sal oulik wees as die inhoud nie net in Engels is nie, maar nou ja. Dit is beslis ’n publikasie om dop te hou. Alle sukses daarmee, redaksie!

(Belangeverklaring: Die redakteur, Christian G Lee, is ’n nefie van my. Hy kan, behalwe skryf, ook nog toneel speel, sing … noem maar op!)

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Hoekom buitelanders Afrikaans leer (of nie)

Augustus 30, 2010 in Sonder kategorie

‘n Nuwe miniseminaar het in die Seminaarkamer begin – oor hoekom sommige buitelanders in Suid-Afrika Afrikaans en/of ander Afrikatale aanleer, en andere nie. Die eerste bydrae, wat nou gelees kan word, is deur Almatine Leene. Die ander bydraes volg binnekort. Lees dit en gesels hier saam – in enige taal.

Lees nou ook Christiane Simon se gedagtes, as ‘n Duitser in SA, oor hierdie onderwerp.

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Die vergesogtheid van die evangelie

Augustus 18, 2010 in Sonder kategorie

My jongste rubriek in die Kerkbode:

 

Een rede hoekom hy die evangelie geloofwaardig vind, skryf CS Lewis, is dat “we could not have invented it ourselves”: “It has the rough … taste of reality.” Die leer van die Drieëenheid, byvoorbeeld, “is something we could not have guessed”.

 

Inderdaad. Maar dieselfde oorweging maak dit ook weer moeilik om te glo. Gotthold Lessing skryf in die 18de eeu dat die “toevallige” waarhede van die geskiedenis en die “noodsaaklike” waarhede van ’n redelike godsdiens deur ’n “aaklige kloof” van mekaar geskei is. Volgens hierdie siening moet godsdienstige oortuigings ’n sekere vanselfsprekendheid hê. Die lewe van Jesus kan dalk help om ons aan dié ewige waarhede te herinner, maar daar is geen noodsaaklike verband tussen boodskap en boodskapper nie.

 

Lessing se probleemstelling word dikwels met die moderne denke geassosieer, maar in werklikheid dateer dit uit die antieke wêreld. In die Grieks-Romeinse kultuur is ook oor godsdiens gedink in terme van ewige, noodsaaklike waarhede. In die volkswysheid het dit uitdrukking gevind in die mitologie, wat nie feitelike weergawes van die gode se doen en late wou wees nie, maar kleurvolle illustrasies van blywende lewenswaarhede. Hierdie stories was destyds die teiken van spot deur geleerdes en gesofistikeerdes. Tog het laasgenoemdes se filosofiese bespiegelings oor God as “hoogste idee” met die mitologie gemeen dat dit óók oor ewige, noodsaaklike waarhede gaan: insigte wat by nadere refleksie heel redelik en vanselfsprekend lyk, en wat gister net so geldig was soos dit vandag is en môre nog sal wees.

 

Sedert die vroeë 20ste-eeuse teoloog Rudolph Bultmann vir ’n “ontmitologisering” van die evangelie gepleit het – wat inhou dat die “eksistensiële selfverstaan” wat in die Nuwe Testament tot uitdrukking kom in eietydse filosofiese taal verpak moet word – het dit in sekere kringe gebruiklik geword om Bybelse vertellings oor dinge soos die maagdelike geboorte, opstanding en hemelvaart van Christus as mitologies te dui. Om hierdie verhale “mak te maak” deur dit as illustrasies van ewige waarhede oor mens en wêreld te lees is egter ’n mistasting.

 

Wat die evangelieverhale lastig maak, is juis dat daarin klaarblyklik aansprake gemaak word, nie oor ewige waarhede nie, maar oor wat God op ’n gegewe tyd en plek gedoen het. Anders as die destydse mitologie, het die Bybelse getuienis oor God se dade in die geskiedenis nie ’n boodskaap wat ook deur ander verhale oorgedra sou kon word nie.

 

Dis hoekom Paulus se toespraak in die Areopagus, ná aanvanklike belangstelling onder die toehoorders, uiteindelik afgelag is (Hand. 17:16vv.). Dat daar ’n “onbekende God” is, klink na ’n houdbare spekulasie. Maar dat dié God ’n naam en geskiedenis het, ’n persoon is wat eers dít doen en dan dát, soos in die lewe en lotgevalle van Jesus van Nasaret – dít klink te arbitrêr, te “toevallig”, om as godsdienstige waarheid te kwalifiseer. Hoekom sal God juis híér, eerder as dáár, of nóú, eerder as tóé, vir ons kenbaar word of ’n sekere verhouding met ons aangaan? Hoekom ’n voorspelbare reëlmaat in die wêreld handhaaf net om dit weer van tyd tot tyd te deurbreek? Vrae soos dié word al reg van die begin aan Jode en Christene gestel.

 

Die “noodsaaklike” waarhede waarna Lessing op godsdiensgebied hunker, adem dus, paradoksaal genoeg, ’n mitologiese gees. Daarteenoor verteenwoordig die evangelie ’n opstand teen die mitologiese en “natuurlike” godsdiens met sy elegante logiese deursigtigheid. Dis wat dit so vergesog maak.

 

Of is dit? Lewis praat van “the suspicious a priori lucidity of Pantheism or of Newtonian physics”, en kontrasteer dit met “the seemingly arbitrary and idiosyncratic character which modern science is slowly teaching us to put up with in this wilful universe”. Die evangelie lyk meer soos laasgenoemde.

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Alexander oor nasiebou en subnasionale identiteite

Augustus 12, 2010 in Sonder kategorie

Ek voorspel dat vandeesmaand se LitNet-essay vir dekades nog gelees gaan word. Neville Alexander skryf oor “Nasiebou en subnasionale identiteite in Suid-Afrika na 1994”, maar neem onder daardie tema omtrent elke denkbare maatskaplike vraagstuk onder die loep. Alexander glo nie in mooi broodjies bak nie, maar ook nie in histerie nie. Sy ontledig is klinies en simpatiek tegelyk. Lees dit en kom gesels hier verder saam daaroor.

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word

Moet howe die vanselfsprekende uitspel?

Augustus 9, 2010 in Sonder kategorie

Uit die koerant verneem ek die Kovsies-bestuur het ’n hofbevel bekom wat oproerige studente verbied om eiendom te beskadig, mense te bedreig en so meer. Soortgelyke hofbevele is ook al teen vakbonde uitgeryk. Dis iets wat ek, as ’n regsleek, nie mooi verstaan nie. Is saakbeskadiging en aanranding nie in elk geval onwettig nie? Kan mense wat hulle daaraan skuldig maak nie in elk geval vervolg word nie? En is dit nie ’n regsbeginsel dat onkundigheid oor die wet geen verskoning is nie? Watter doel dien die hofbevel dan?

 

Ek is seker daar moet ’n antwoord wees. Kan iemand verduidelik?

 

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na gbrand@sun.ac.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Goeie nuus vir religieus gestremdes

Augustus 6, 2010 in Sonder kategorie

My jongste rubriek in die Kerkbode:

 

Op die vraag hoe ’n mens kan weet dat jy uitverkies is (en hier wil ek nie oor uitverkiesing skryf nie!), het die Gereformeerde skolastici (ook genoem die Ortodoksie) van ná die Reformasie geantwoord met die syllogismus practicus et mysticus: As jy in jouself ’n al hoe heiliger lewenswyse (practicus) en ’n ware geloof (mysticus) bemerk, kan jy daaruit logies aflei (syllogismus) dat jy uitverkies is, want genadige uitverkiesing is sowel ’n noodsaaklike as ’n voldoende voorwaarde vir geloof en heiliging.

 

Dis een van die minder gelukkige voorstellings uit ons erfenis – nie net omdat dit die gelowige se aandag op sy eie innerlike lewe, eerder as op Christus, rig nie, maar ook omdat dit ’n antwoord aanbied wat dieselfde vraag net op ’n ander manier weer oproep – en daarmee is die vertwyfeling terug: As ek glo, kan ek weet ek is uitverkies (so lui die argument), maar hoe weet ek of ek glo? Glo ek regtig?

 

In sy Hanna’s Child: A Theologian’s Memoir skryf die beroemde Amerikaanse teoloog Stanley Hauerwas dat God nie vir hom, soos vir sommige ander Christene, “there” is nie. Hy sukkel ook maar met bid, erken hy, want hy is (helaas) “a card-carrying citizen of ‘our age’”, die beliggaming van “world”.

 

“I certainly count myself a Christian,” skryf hy, maar huiwer dan: “more accurately, I have friends who count me as a Christian.” In dieselfde toonaard: “I believe what I write, or rather, by writing I learn to believe.” En dan weer: “I live most of my life as if God does not exist.”

 

Miskien is laasgenoemde opmerking dié sleutel tot wat Hauerwas bedoel. Vir “belief”, sê hy, het hy nie veel tyd nie, want: “‘Belief’ implies propositions about which you get to make up your mind before you know the work they are meant to do … I am far more interested in what a declaration of belief entails for how I live my life.”

 

Dit gaan in geloof dus nie primêr oor die stelligheid van ’n mens se opinies of die intensiteit van jou geestelike ervarings nie (ook religieus gestremdes kan glo!), maar oor “a life (that) is unintelligible if the God we Christians worship does not exist”. Om te glo is om op ’n sekere manier te lééf.

 

Dit beteken nie werke word bo geloof geplaas nie. Daar is eerder ’n verstengeldheid van leef en glo, met die een wat deurgaans die ander oproep en aktiveer. En dis nie iets om op te roem nie – eerstens omdat “I am such a beginner when it comes to knowing how to be a Christian”, en tweedens omdat dit nie oor my en my “projek” gaan nie, maar oor “the friends who have made me who I am” en “the God who has forced me to be who I am”.

 

As “die beste teoloog in Amerika” (volgens die tydskrif Time, tot Hauerwas se verleentheid) só praat, kan dit tot troos wees vir mense wie se syllogismus, nes Hauerwas s’n, nie noodwendig ’n positiewe konklusie oplewer as dit by die premisses van practicus en mysticus begin nie. Geloof is nie van ons nie, maar van God.

 

Die Nederlandse teoloog Bram van de Beek het, in sy onlangse preek by die begrafnis van sy Stellenbosse vakgenoot Flip Theron, vertel hoe Theron intens besig gehou is deur die ontdekking dat van die Bybeltekste wat gewoonlik as “die geloof ín Christus” vertaal is, meer akkuraat as “die geloof ván Christus” weergegee kan word. Wat ons nie kan doen nie, het Hy vír ons gedoen, en doen Hy ook ín ons.

Miskien is geloof nie om seker te wees dát nie, maar om te leef asóf. Of eerder: om te probéér leef asof. Of om daartoe genóóp te voel om te probeer leef asof.

 

Of so iets …

 

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Ditsem, Elsa Joubert!

Augustus 3, 2010 in Sonder kategorie

Ek is so bly dat Elsa Joubert nou sommer dubbel en dwars (met sowel die Universiteit van Johannesburg- as die Recht Malanprys) vir Reisiger, die tweede aflewering van haar outbiografie, bekroon is. Ek het nog maar net begin om Reisiger te lees, maar die eerste aflewering, ‘n Wonderlike geweld, het ek destyds met plesier verslind. Dit het my só laat vóél hoe dit moes gewees het in die jare van oprukkende Afrikanernasionalisme dat ek, wat eers dekades later gebore is, my dit byna helder voor die gees kan roep! ‘n Mens het mos soms die ervaring dat jy iets “onthou” wat jy nooit meegemaak het nie. Dis nie elke skrywer wat daardie gevoel kan oordra nie.

Die boek is toe nie met die geesdrif ontvang wat dit verdien het nie, en ten minste een voorste literator het dit taamlik negatief geresenseer (wat natuurlik sy goeie reg is), so ek is bly daar kom nou erkenning.

 

Die swerfjare van Poppie Nongena is lankal reeds op internasionale, en met name Afrika-, vlak as ‘n belangrike werk erken. Een van die merkwaardige dinge daarvan was dat ‘n wit Afrikaanse skryfster ‘n swart karakter so lewend en oortuigend kon aanbied. Maar miskien was wat Joubert in ‘n Wonderlike geweld reggekry het, naamlik om haar eie mense in ‘n veelbewoë fase van hul geskiedenis simpatiek en oortuigend uit te beeld – sonder om dit so te doen dat dit in ‘n apologie ontaard nog indrukwekkender, hoe paradoksaal dit ook mag klink. Wat ek al van Reisiger gelees het, voltooi, lyk dit my, die sirkel deur, meer nog as in ‘n Wonderlike geweld, die mens Elsa Joubert vir lesers te laat lewe maar dan só dat iets duidelik word van hoe die identiteit van “ander Afrikaners” (Johann Roussouw se term) in daardie tyd daaruit kon sien. Ja, hulle was ook deurgaans daar, en in Joubert se vertellings word hulle vir ons regte mense.

 

Ek hoef nie meer te sê nie. Baie geluk, Elsa Joubert! Die bekronings is welverdiend.

 

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.