Jy blaai in die argief vir 2010 Julie.

Hoe blind is regstellende aksie?

Julie 29, 2010 in Sonder kategorie

Vandeesmaand se miniseminaar gaan oor regstellende aksie, en met name oor hoe dit gestremdes raak (of juis nie). Wilhelm van Deventer, wat dikwels aan gesprekke op hierdie blog ook deelneem, het die eerste bydrae geskryf uit sy ervaring as gesiggestremde met ‘n werksaansoek aan een van ons universiteite. Nog bydraes tot hierdie belangrike gesprek sal eersdaags in die Seminaarkamer verskyn. Lees dit en lug jou mening hier.

Klik hier vir William Rowland se bydrae tot die miniseminaar.

 

En hier vir Jaco Barnard-Naude s’n.

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Hoe lank sal “questions” nog ge-“beg” kan word?

Julie 29, 2010 in Sonder kategorie

“‘n Lelike ding het sy kop daar agter die berg uitgesteek,” het my standerd 1- oftewel graad 3-juffrou die dag begin, en ek het onwillekeurig by die klasvenster uitgeloer na die enigste baken in die Ooste van Pretoria wat dalk as “die berg” sou kon kwalifiseer: so ‘n heuwelagtigheid na die kant van Pretoria Boys High toe. In my geestesoog het ek my verbeel hoe ‘n “lelike ding” se kop sou lyk as dit so agter die berg uitkom: donkerswart met sulke skerp oortjies …

 

Dit blyk egter toe dat die juffrou iets anders in gedagte gehad het, en dat die berg (en, snaaks genoeg, ook die kop) dus metafories bedoel was. Ja, die lelike ding wat sy kop daar agter die berg uitgesteek het, is dat kopluise in die omloop (verskoon die woordkeuse) was!

 

Nou ja, ‘n lelike ding het al weer sy kop uitgesteek, nie van agter die berg nie, maar in koerante en tydskrifte, en op die internet: ‘n verkeerde gebruik van die frase “to beg the question”. Ek kan sweer ek het hierdie lelike ding eers die afgelope paar maande die eerste keer sy kop sien uitsteek. Is dit toeval dat ek dit nog nie raakgesien het nie, of is dit (soos ek vermoed) ‘n splinternuwe meem wat in ‘n kort tyd die taal van duisendes begin besmet het?

 

Let wel, ek praat nie hier van mense wat Afrikaans, Nederlands of ‘n ander vorm van nie-Engels as moedertaal het, en daarom, in plaas van Engels, eerder Ingels, Nederlish of Seffrican English besig nie. Ek praat van moedertaal-Engelssprekendes, en geleerdes daarby. ‘n Voorbeeld uit ‘n resensie van Timothy Parsons se boek The Rule of Empires:

 

“… in the case of Roman Britain, armed revolts beginning in 47 C.E. not only killed tens of thousands of Romans, but also desecrated Roman temples and other cultural symbols – begging the question as to why the Britons valued the Roman Empire as ‘good for them’.”

 

Wat die resensent natuurlik wóú sê, is “… raising the question …”: Die aaklige gevolge van Romeinse oorheersing in Brittanje laat die vraag ontstaan, of roep die vraag op, hoekom die stomme Britte dit dan as goed vir hulle beskou het.

 

Nog ’n voorbeeld (die opskrif van ’n artikel op autoblog):

 

“Delayed Civic begs the question: Has Honda lost the plot?”

 

En nog een (nogal uit die Telegraph – en dus nadat dit deur ’n sub se oë gegaan het):

 

“Tiger Woods: his televised apology begs the question of sincerity”

 

Nee! Nee! Nee!

 

“Begging the question” beteken nie om vir ’n vraag te bedel nie, maar (soos Wikipedia dit tereg uitlê) dieselfde as “petitio principii” of “assuming the initial point”. Dit verwys na “a type of logical fallacy in which the proposition to be proved is assumed implicitly or explicitly in the premise”. Hier is ’n voorbeeld van die korrekte gebruik (uit Stephen E. Lammers en Allen Verhey se On Moral Medicine):

 

The Pope rejects this view by stating simply that a single intercourse made intentionally infecund is intrinsically dishonest. But this begs the question. It is being argued precisely that the honesty of intercourse derives, not just from the individual act, but from the whole orientation of the marriage.” (kursief bygevoeg)

 

Die pous reageer op ’n argument deur een van die kerk se adviserende kommissies. Volgens die kommissie kan die eerlikheid van ’n seksuele daad nie in isolasie van die aard van die betrokkenes se verhouding beoordeel word nie. Die blote feit dat ’n spesifieke seksdaad doelbewus onvrugbaar gemaak word, maak dit dus nie oneerlik nie. Wanneer die pous nou sy teenargument aanvoer, is een van die premisses daarin dat enige seksdaad wat doelbewus onvrugbaar gemaak word oneerlik is. Daarmee neem hy uit die staanspoor egter reeds aan wat hy wil bewys. Hy “beg” dus die “question”.

  

’n Wenk: As “begs the question” of “begging the question” gevolg word deur ’n dubbelpunt wat ‘n vraag inlei, of deur “whether”, “of”, of iets dergeliks, dan kan ’n mens byna seker wees dit word verkeerd gebruik. Die frase moet gevolg word deur ‘n punt, ‘n kommapunt of iets soos “because” of “since”.

 

Maak dit saak as dit verkeerd gebruik word? Ja! Want die gevolg van die verkeerde gebruik van ‘n bruikbare frase is dat die regte gebruik ook onmoontlik word: As iemand nou, soos in die laaste aanhaling hierbo, die frase reg gebruik en daarmee iets belangriks sê, dan gaan hy of sy verkeerd verstaan word. Dit word dus al hoe moeiliker om iets wat dikwels (alte dikwels!) nodig het om gesê te word, gesê te kry. En dan kom mense soos die pous weg met “begging the question”.

 

Ten minste kon hierdie spesifieke lelike ding nog nie sy kop in Afrikaans uitsteek nie, want in plaas van “dit bedel die vraag”, sê ons mos sommer: “Dis ’n sirkelredenering!”

 

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Pieter se vyfpuntplan

Julie 26, 2010 in Sonder kategorie

As jy een van daardie intellektuele is wat rugbypraatjies as benede jou beskou, hoef jy hierdie inskrywing nie te lees nie, wants dis aan die ontleding van daardie hoogs komplekse en intelligente sport gewy – spesiek aan Springbokafrigter Pieter de Villiers, vir wie ek van die begin af met hart en siel ondersteun het, se nuutgekose vyfpunt-spelpatroon, soos uit die afgelope drie wedstryde blyk.

 

Dit werk so:

 

1) Laat van die beste spelers (Juan de Jong, Dewald Potgieter en Gio Aplon [behalwe as ’n sekere senter nie op vleuel beskikbaar is nie] uit die span.

 

2) Haal ons briljantste losskakel en doelskopper van die veld net wanneer ons dringend punte nodig het.

 

3) Sorg dat geen voorspeler dit in ’n losskram waag om goeie balbesit te verseker nie; dis die agterspelers se taak terwyl die voorspelers in die agterlyn op ’n bal wag soos op Godot.

 

4) Hou ’n kaptein wat op sy dag miskien die beste in die wêreld was teen elke prys in die span, ook al lewer hy bykans geen bydrae meer tot die spel nie, en al ondermyn dit sy gesag en motiveringsvermoë as kaptein – veral aangesien ’n gebore kaptein, Dewald Potgieter, beskikbaar is en daar nog ’n jaar tyd is om hom in daardie rol te vestig.

 

5) Laaste maar nie die minste nie: Ontmoedig spelers om die nodige dissipline aan die dag lê om hulself van geniepsige spel te weerhou; anders kry ons nie geel kaarte nie.

 

Sover slaag hierdie plan uitstekend (vir die opposisie).

 

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Die siel herbesoek

Julie 22, 2010 in Sonder kategorie

Na aanleiding van sy kommentaar op my vorige blog-inskrywing, en die kort gesprek wat daarop gevolg het, stuur Stroebel Hofmeyr vir my ‘n opvolg-e-pos. Ek vind dit so helder, beredeneerd en weldeurdag dat ek nie anders kan nie as om dit (met sy toestemming) met my lesers te deel. Stroebel skryf:

 

Beste Gerrit,

 

Jou artikel bly in my kop draai, en dan miskien meeste hierdie argument van jou: Volgens fisikaliste speel ons innerlike voorstellings van die werklikheid immers geen oorsaaklike rol in die ketting van oorsaak en gevolg wat tot gedrag aanleiding gee nie, en in die evolusie van spesies is dit fisieke eienskappe en gedrag, eerder as innerlike gedagtes, wat ’n beter kans op oorlewing en suksesvolle voortplanting bied. Daarom slaag ’n bakterie, ’n amoeba of ’n ensiem – wat vermoedelik nie menings oor die werklikheid huldig nie, maar wel met gedrag daarop reageer – net so goed soos ons mense daarin om sy gene voort te plant.”

Soos ek dit het , word die oordrag van ‘n bepaalde genoom grootliks daardeur bepaal of die draer van die genoom voor afsterwe nageslag verwek.  Verskillende spesies het verskillende geneties-bepaalde “strategië” wat hulle laat lewe tot by voortplanting.  Die menslike genoom maak taal en denke moontlik wat die vorming van “meme”  (buite die gene, maar binne die geheue) moontlik maak, wat ‘n groot invloed op oorlewing kan hê. Binne die komplekse samestelling van elke spesie is daar sekere eienskappe wat daardie spesie in sy bepaalde lewensruimte oorlewingsvoordeel gee.  Daardie bepaalde eienskap het egter nie universele oorlewingsvoordeel nie (Dit sou my min help as ek soos ‘n slak slym afskei so vêr ek loop).  Innerlike gedagtes sal min vir ‘n slak beteken, maar die voortbestaan vir die mens is ondenkbaar  sonder sy geneties bepaalde vermoë tot innelike gedagtes.

 

 Ek volg jou argument oor die “ketting van oorsaak en gevolg wat tot gedrag aanleiding gee…”  ook nie goed nie.  As iets in my brein plaasvind op grond van ‘n stimulus van een of ander aard wat by my ‘n oortuiging laat ontstaan, dan voer daardie oortuiging as ‘n lus terug in my brein wat die die denke en handelingsproses dramaties beinvloed – soveel so dat die denkende mens voortdurend verander en nooit weer kan word wat hy was nie.

 

So min soos liefde en haat  fisies beskryf kan word, so seker is dit dat ons nie die toerusting het om dit sonder ons brein te be-oefen nie. Is daar sin in om iets van die mens los te bedink van sy fisiese bestaan?  Vir my as gelowige beteken dit dat God die vonk van lewe, vanuit sy almag, aan die fisiese gebind het.  Al die filosofie in die ondermaanse sal daardie band nie kan ontstrengel nie.  En al sou die wetenskaplikes uiteindelik ‘n “geloofsgeen” kon identifiseer, sou dit geen verskil aan die misterie van God en sy bemoeienis met sy skepping tot stand kan bring nie.

 

***

 

Tot sover Stroebel se gewaardeerde skrywe. Ek het soos volg daarop geantwoord:

 

Beste Stroebel

 

Dankie vir jou gedagtes, wat baie duidelik en presies geformuleer is en ’n hele klomp geldige punte maak.

 

1. Jy skryf: “Die menslike genoom maak taal en denke moontlik wat die vorming van ‘meme’  (buite die gene, maar binne die geheue) moontlik maak, wat ‘n groot invloed op oorlewing kan hê.”

 

Ek stem volmondig hiermee saam, maar juis daarom kan ek fisikalisme nie aanvaar nie, want as taal en denke qua hul inhoud “’n groot invloed op oorlewing kan hê”, dan beteken dit daar is wat in die philosophy of mind tweerigting-oorsaaklikheid genoem word: die betekenisse en oortuigings, die meem, wat self iets abstraks is, word nie net deur fisiese prosesse veroorsaak nie, maar veroorsaak ook weer iets in die fisiese prosesse – iets wat logies uitgesluit is as daardie bewussynsinhoude volledig tot byprodukte van suiwer fisiese prosesse gereduseer word.

 

2. Verder sê jy: “As iets in my brein plaasvind op grond van ‘n stimulus van een of ander aard wat by my ‘n oortuiginging laat ontstaan, dan voer daardie oortuiging as ‘n lus terug in my brein wat die denke en handelingsproses dramaties beinvloed.”

 

 Dis presies wat ek betoog: daar is tweerigtingoorsaaklikheid, ’n “lus”: ’n onsigbare, ontasbare bewussynsinhoud (die oortuiging of vermoede dat iets abstraks, naamlik ’n bepaalde proposisie, waar is) werk terug op die fisiese aspek wat die basis daarvan vorm. Die bewussynsinhoud is dus nie net ’n gevolg van fisiese stimuli nie, maar is self ’n stimulus wat weer oorsaaklik op die fisiese prosesse inwerk.

 

3. Ek kan net Amen sê wanneer jy skryf: “So min soos liefde en haat  fisies beskryf kan word, so seker is dit dat ons nie die toerusting het om dit sonder ons brein te be-oefen nie.”

 

Dis my punt: Albei waarhede moet vasgehou word – dat “liefde en haat (nie) fisies beskryf kan word” nie én dat ons dit nie “sonder ons brein (kan) beoefen nie”.

 

4. Jy vra (retories): “Is daar sin in om iets van die mens los te bedink van sy fisiese bestaan?”

 

Ek sou sê nee. Ek pleit dan ook nie vir ’n los dink van die “siel” of “gees” van die liggaam nie. Nes die Middeleeuse denkers (Thomas, Scotus ens), sien ek dit as twee dimensies of aspekte van die mens wat enersyds nie reduseerbaar tot mekaar is nie, maar andersyds ook nooit los van mekaar gedink kan word nie. Descartes het hierin afstand van die Middeleeue geneem (hoewel baie moderne skrywers verkeerdelik meen dat hy met sy vorm van dualisme aan ’n Middeleeuse sienswyse vasgeklou het). Vir Descartes is gees en liggaam twee losstaande goed (die res cogitans en die res extensa). In die klassieke Christelike denke word die twee as geïntegreer, verweef en verstrengel gedink: die mens is nie ’n dualiteit (in Leibniz se terminologie: twee “monades” wat naas mekaar bestaan) nie, maar ’n “komposisie”, ’n geheel. Binne hierdie sienwyse is ’n gees sonder ’n liggaam nie volwaardig mens nie; daarom dan ook die klem, sowel in die Joodse as in die Christelike en Islamitiese tradisie, op “die opstanding van die vlees”, teenoor die Griekse “onsterflikheid van die siel”.

 

5. Jou laaste opmerking, waarmee ek weer eens heelhartig akkoord gaan, laat my wonder of ek dalk op ’n belangrike punt nie duidelik genoeg gemaak het wat ek nié wil sê nie. Jy skryf: “al sou die wetenskaplikes uiteindelik ‘n ‘geloofsgeen’ kon identifiseer, sou dit geen verskil aan die misterie van God en sy bemoeienis met sy skepping tot stand kan bring nie.”

 

Jy het volkome gelyk. Ek verwerp die “God van die gapings”. Wat my argument wil “bewys”, is nie dat die geloof op ’n sekere punt iets beter verklaar as wat die wetenskap dit kan doen nie. Ek is vreeslik allergies vir enige argument wat geloof in God  geloofwaardiger wil laat lyk deur te wys op iets wat die wetenskap (nog) nie kan verklaar nie.

 

Om jou voorbeeld van ’n “geloofsgeen” te gebruik: Die oortuiging dat dit God is wat die geloof aan ons skenk, word geensins ondermyn deur die ontdekking dat die verskynsel geloof ’n meem is wat deur genetiese, neurologiese, sielkundige, sosiale en ander oorsake tot stand gebring word nie. Dis hier dat Daniel Dennet ’n fundamentele denkfout maak in sy boek Breaking the Spell: Religion as a Natural Phenomenon: hy dink dat namate die wetenskap godsdiens kan verklaar dit al hoe onmoontliker word om te glo dat godsdiens “van God af kom”, maar dié argument is non sequitur. Die punt van ’n gelowige verstaan van geloof, wat geloof as “gawe van Gods Gees” interpreteer, is nie dat geloof “onnatuurlik” is of deur geen “natuurlike” oorsake verklaar kan word nie. Dis eerder dat die “natuurlike” proses teïsties vertolk word, dat die gelowige nie sy of haar geloof tot die natuurlike oorsake wil reduseer nie.

 

My protes is nie teen “natuurlike” verklarings nie, maar teen sogenaamde “nothingbutism” (“nothing but …”). Die groot knal en evolusie deur natuurlike seleksie maak nie geloof in ’n Skepper minder geloofwaardig nie (soos jy tereg ook sê), want dit volg nie daaruit dat groot knal en evolusie die enigste goed is wat oor die ontstaan van die dinge gesê kan word nie. ’n “Geloofsgeen” maak nie die oortuiging dat geloof ’n transendente oorsprong en verwysing het minder geloofwaardig nie (nes die ontdekking van ’n “wetenskapsgeen” nie die wetenskap sou ondermyn nie), want die ontdekking van so ’n geen sou nie bewys dat geloof “nothing but” daardie geen is nie. En fisiese verklarings van menslike denke, emosies en gedrag maak dit nie minder geloofwaardig om daarvan uit te gaan dat mense vrye persone met verskillende handelingsmoontlikhede is wat deur denke en keuses die gang van sake ook in die fisiese (wat insluit hul eie fisieke) werklikheid kan beïnvloed nie, want dit volg nie uit sulke fisiese verklarings dat die mens in al sy komplekste dimensies niks anders as die fisiese prosesse is nie.

 

Ek het ‘n vermoede dat ons óf saamstem, óf nie vreeslik met mekaar verskil nie?

 

***

 

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

 

“Red my siel … as ek een het”

Julie 15, 2010 in Sonder kategorie

My jongste rubriek in die Kerkbode:

 

Ons ken die grappie: “Liewe Heer, as U bestaan, red my siel, as ek een het …” En die bekroonde Amerikaanse romansier Marilynne Robinson pleit in verskeie essays en onderhoude dat “die skoonheid en vreemdheid van die individuele siel” weer ontdek moet word. Het mense dan ’n siel?

 

Wat hierdie vraag lastig maak (behalwe die teologiese misvatting dat God “siele”, eerder as hele mense en die ganse skepping, red), is dat ons die siel dikwels as ’n ruimtelike, byna fisiese “iets” voorstel wat iewers “in” die liggaam wegkruip – ’n “ghost in the machine”, soos die Britse filosoof Gilbert Ryle spottend daarna verwys.

 

Boonop ag baie ingeligte moderne mense dit ’n bewese feit dat die siel nie bestaan nie. Het neuroloë met hul suiwer fisiese verklarings van gedagtes, emosies en gedrag, en psigiaters met hul toenemend suksesvolle chemiese ingrepe om toestande soos depressie, angsversteurings en psigose te verlig, nie reeds alle skuilplekkies vir die siel toegestop nie – soos, volgens sommiges, met die “God van die gapings” ook gebeur het?

 

Wat dit betref, moet darem ook daarop gewys word dat reduksionistiese “fisikalisme” (die geloof dat slegs materie bestaan) sy eie probleme oproep. As materie (dink aan ’n skootrekenaar of ’n robot) nie subjektief oortuigings kan huldig, emosies kan ervaar of keuses kan maak nie, hoe sou die brein (daardie “dog’s breakfast”, soos Kurt Vonnegut dit noem) dit dan kan doen? Is dit nie, soos die Nederlandse psigiater-filosoof Guus Labooy betoog, aksiomaties dat materie nie subjektiewe bewussynservarings kan hê nie?

 

Om sake verder te kompliseer argumenteer die Amerikaanse filosoof Alvin Plantinga (nes CS Lewis dekades voor hom) dat die fisikalisme logies selfondermynend is. Gestel dit sou waar wees dat elke innerlike gedagte die regstreekse gevolg van ’n ongebroke wetmatige ketting in die fisiese wêreld is. Hoe waarskynlik sou dit dan wees dat ons “kennisgereedskap” in enige spesifieke geval ’n waarheid oor die werklikheid sou ontdek? Volgens fisikaliste speel ons innerlike voorstellings van die werklikheid immers geen oorsaaklike rol in die ketting van oorsaak en gevolg wat tot gedrag aanleiding gee nie, en in die evolusie van spesies is dit fisieke eienskappe en gedrag, eerder as innerlike gedagtes, wat ’n beter kans op oorlewing en suksesvolle voortplanting bied. Daarom slaag ’n bakterie, ’n amoeba of ’n ensiem – wat vermoedelik nie menings oor die werklikheid huldig nie, maar wel met gedrag daarop reageer – net so goed soos ons mense daarin om sy gene voort te plant.

 

Maar die fisikalisme is self ’n standpunt, ’n oortuiging, oor die werklikheid – ’n gedagte-inhoud. Fisikalisties gesien, is fisikalisme dus ’n bloot toevallige byproduk van ’n geslote ketting van fisiese prosesse, en is daar geen rede om te dink dat fisikalisme waar is nie. Anders gestel: as die fisikalisme waar is, is dit waarskynlik vals!

 

Kortom: wie oorsaaklike krag aan gedagtes, emosies en vrye keuses toeskryf, kan nie terselfdertyd volhou dat daardie subjektiewe bewussynservarings tot die fisiese gereduseer kan word nie, maar gaan implisiet reeds daarvan uit dat mensheid ’n onsigbare, niefisiese dimensie het.

 

Is dit van teologiese belang?

 

Die Amerikaanse wetenskapjoernalis Robert Whitaker en ander nieteologiese kenners wys op ’n groeiende tendens in ons kultuur om alle emosionele en gedragsprobleme te medikaliseer (as siektetoestande te dui) en met medikasie te behandel. Natuurlik het medikasie op sy tyd ’n sekere nut, maar as mense meer as net fisies is, kom ’n eksklusief-mediese fokus op ’n gevaarlike reduksie van menswees neer. En dit is ontmenslikend – druis in teen die Christelike oortuiging dat mense as denkende, strewende, vrye en verantwoordelike wesens “na die beeld van God” geskape is en dááraan hul waardigheid ontleen.

 

 

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

‘n Oomblik van waarheid?

Julie 1, 2010 in Sonder kategorie

My jongste “Draadloos”-rubriek in die Vlaamse tydskrif Streven:

 

In my kinderjare, in die dae van apartheid (of wat later sou blyk die laaste stuiptrekkings van apartheid te gewees het), was rassistiese taal teenoor swartes vir baie wittes taamlik aanvaarbaar – en nie net in die kroeg of om die braaivleisvuur nie. Die K-woord (afkomstig van die Arabiese kafir, wat heiden of barbaar beteken) was onder meer algemeen in gebruik. Self is ek grootgemaak om nie só oor medemense te praat nie en protes aan te teken wanneer ek ander dit hoor doen, maar ek het nietemin in ’n milieu geleef waarin sulke taal die orde van die dag was. ’n Onderwyser in my hoërskool (destyds uiteraard eksklusief wit) sou byvoorbeeld hardop oor die vierkant waar ons ná pouses versamel het, uitroep: “Moenie so raas nie! Julle klink soos ’n klomp …” (afgesluit met ’n skeldnaam vir swartes). Daar was smaaklose grappe waarvan ek talle voorbeelde hier sou kan noem, maar liewers nie sal nie. En daar is dikwels in gesprekke, selfs informeel in klaskamers, beweer dat swart mense dom, onbevoeg, moreel onsensitief en so meer is.

 

Hierdie rassistiese diskoers was weliswaar nie deel van die amptelike ideologie van die regerende party nie. Apologete vir apartheid – of “afsonderlike ontwikkeling”, soos hulle verkies het om daarna te verwys – het altyd volgehou dat dit in dié beleid om gelyke respek vir, en gelyke behandeling van, die verskillende volke in Suid-Afrika gaan: Die selfbeskikking op eie grondgebied wat wittes vir hulself opeis, gun hulle ook aan Zoeloes, Sotho’s, Venda’s en so meer, is gesê. Dit was die amptelike verhaal, maar in die praktyk is grond, hulpbronne en geleenthede uiters onregverdig verdeel en is die stelsel so ontwerp dat dit die maksimale eksploitasie van goedkoop swart arbeid bevorder, en van swartes tweedeklasburgers gemaak, het. Die rassistiese diskoers op grondvlak het hierby die belangrike funksie vervul om die onregverdige politieke bestel te help legitimeer. Immers, as swartes minder mens is, is dit nie so erg om hulle uit te buit en te onderdruk nie.

 

Europeërs sal dalk iets hiervan in hul eie geskiedenis herken. Die opkoms van pseudowetenskaplike rasseteorieë in die Weste het saamgeval met die opkoms van slawerny, en die volksmoord op die Jode in Duitsland is voorafgegaan deur ’n sterk antisemitisme wat die Duitse volk as ’t ware moreel sag gemaak het vir wat sou kom.

 

Iets soortgelyks het in Rwanda gebeur voordat die volksmoord daar plaasgevind het. Vir maande lank is oor die radio en ander media onder meer van die Hutu’s as “slange” gepraat, slange synde gevaarlike reptiele wat verdien om van die gras af gemaak te word. ’n Rwandees (’n Tutsi) met wie ek hieroor gesels het, meen selfs dat hierdie sistematiese vestiging van ’n hatige manier van praat, eerder as enige politieke of ekonomiese faktore, die enkele belangrikste verklaring is vir wat in Rwanda gebeur het.

 

Etniese, rasse- of godsdiensgebaseerde geweld vereis kennelik ’n diskoers wat die menslikheid van die potensiële slagoffers in twyfel trek. In Suid-Afrika was dit nie anders nie. Omdat mense met minagting oor swartes gepraat het – soos met die destyds algemeen bekende sêding “Die enigste goeie k****r is ’n dooie k****r” – was voorvalle van sadistiese geweld teen swartes ook nie skaars nie.

 

Toe die swartbewussynsleier Steve Biko in die jare sewentig in aanhouding doodgemartel is, het die destydse minister van justisie byvoorbeeld die berugte kommentaar gelewer: “Dit laat my koud.” So laat as twee jaar voordat oudpres. F.W. de Klerk in 1990 die einde van apartheid aangekondig het, het ’n jong polisiereservis, Barend Strydom, in die middestad van Pretoria lukraak met sy pistool op swart omstanders losgebrand, bloot omdat hulle swart is. In sy verhoor het hy sonder om te blik of te bloos ter verduideliking verklaar dat swartes na sy oortuiging nie mense is nie. (Hy is ter dood veroordeel, maar De Klerk het kort daarna ’n moratorium op doodsvonnisse verklaar, en ná ’n sterk “Bevry Barend”-veldtog onder regse wittes is Strydom vrygelaat, kwansuis “inruil” vir die vrylating van anti-apartheid- politieke gevangenes.) Dit is maar twee voorbeelde, maar daar was honderde ander gevalle, en selfs in die “nuwe” Suid-Afrika kom sulke dade teenoor swart mense sporadies voor.

 

Soos mense geleer het om te praat, so doen hulle ook. Die Engelse spreekwoord “Sticks and stones can break my bones, but words can never hurt me” is eenvoudig nie waar nie. Woorde kán gevaarlik wees. Dodelik gevaarlik.

 

Die post-apartheid-Grondwet van Suid-Afrika is buitengewoon toegeeflik wanneer dit by spraakvryheid kom. Anders as in Duitsland, waar dit teen die wet is om die Jodeslagting te ontken, of in Nederland, waar die koningin nie beledig mag word nie, kan Suid-Afrikaners byna enigiets sê, mits dit nie op haatspraak neerkom nie. Laasgenoemde word in die Grondwet verstaan as “propaganda vir oorlog, regstreekse aanhitsing tot geweld of die verkondiging van haat op grond van ras, etnisiteit, geslag of godsdiens, en wat neerkom op aanhitsing om iemand leed aan te doen”. Tog is lede van die regerende party al meer as een keer deur ’n Grondwetlike instelling of ’n hof oor haatspraak veroordeel.

 

Reeds ’n aantal jaar gelede het die Menseregtekommissie bevind dat die sing van ’n gewilde lied by byeenkomste van die African National Congress (ANC), “Kill the Boer, Kill te Farmer”, op ’n oortreding van die Grondwet neerkom en gestaak moet word, en meer onlangs is deur ’n hof – en dus met groter gesag – ’n verbod geplaas op die sing van ’n soortgelyke “vryheidslied” (sic), “Dubula iBhunu” (Skiet die Boer), wat die laaste tyd onder die leiding van Julius Malema, leier van die ANC se jeugliga en lid van die party se Nasionale Uitvoerende Komitee, populêr geword het.

 

Dat ondubbelsinnige oproepe om lede van ’n sekere etniese groep te vermoor hoegenaamd in die ANC geduld word, is opsigself skokkend, maar met die laaste hofbeslissing het boonop iets gebeur wat na my wete tot dusver nog nie voorgekom het nie: Sowel Malema as die ANC se sekretarisgeneraal, Gwede Mantashe, het in reaksie op die hofuitspraak eenvoudig aangekondig dat hulle nie die hof se bevel sal gehoorsaam nie, en Malema het daad by woord gevoeg deur kort daarna weer die gewraakte lied by ’n openbare byeenkoms te sing.

 

Die rede wat hiervoor aangevoer word, is dat die betrokke liedere, wat in die stryd teen apartheid gesing is, “deel van die geskiedenis en kultuur” van die ANC is – ’n argument wat herinner aan die regse wit politikus Andries Treurnicht se betoog, jare gelede in sy boek Credo van ’n Afrikaner, dat dit deel van die erfenis en kultuur van Afrikaners is om ’n sterk afkeer in rasvermenging te hê (iets wat ek as Afrikaner ontken), en dat hulle die reg het om hierdie afkeer ook wetlik – dit wil sê deur middel van apartheid – tot uitdrukking te bring.

 

In die verlede het dit al herhaaldelik gebeur dat ANC-woordvoerders die regbank se gesag ondermyn – pres. Jacob Zuma (toe nog net presidentskandidaat) het byvoorbeeld gesê die ANC is belangriker as die Grondwet, en ’n regeringswoordvoerder het gekla dat “maatskaplike transformasie in Suid-Afrika, soos in China, deur menseregte aan bande gelê word” – maar dit het nog nie voorheen gebeur dat blatant gesê word die hof sal nie gehoorsaam word nie. Met uitlatings soos dié van Malema en Mantashe, wat nie deur Zuma bestraf word nie, kan inderdaad gesê word dat – tensy daar ’n drastiese wending in die politiek kom – Suid-Afrika op ’n situasie afstuur waarin die Grondwet kragteloos is en die menseregte van landsburgers straffeloos aangetas kan word. Howe beskik immers oor geen mag om hul beslissings af te dwing nie; hulle ontleen hul effektiewe gesag uitsluitlik aan die eerbiediging daarvan deur regeringsorgane.

 

Intussen duur die geweldspraatjies en verwante geweldadige optredes voort. Nie lank gelede nie het verskeie dele van die land in ’n orgie van geweld teen immigrante uit ander Afrikalande ontbrand. Die inwoners van die townships (histories swart woongebiede) wat hieraan meegedoen het, het ’n gunstelinglied van Zuma, “Umshini Wami” (Bring my masjiengeweer) gesing terwyl hulle immigrante afgemaai het. En natuurlik is hierdie gebeure voorafgegaan deur grootskaalse haatspraak oor immigrante, wat kwansuis mense se werk afvat en agter die misdaadvlaag in die land sit.

 

Onlangs is die verregse wit leier van die Afrikanerweerstandsbeweging, Eugène Terre’blanche, wreedaardig deur twee van sy swart werkers op sy plaas vermoor. Die moord was waarskynlik nie politiek gemotiveer nie – dit het met ’n geskil oor vergoeding te make gehad – maar omdat daar al letterlik duisende wit boere oor die laaste jare vermoor is, het die geval van ’n bekende met wie dit gebeur – veral in die konteks van die omstredenheid oor Malema se moordlied – ’n soort simboliese betekenis in die openbare gees gekry. Malema se reaksie, dat hy niks te sê het oor die dood van “sulke mense” nie, herinner dan ook aan die berugte uitspraak oor die dood van Biko waarna ek reeds verwys het. In reaksie is daar nou weer wittes wat vra dat iemand Malema moet skiet …

 

Nog ’n voorbeeld: Toe ’n groep prominente ANC-leiers ’n tyd gelede van die party weggebreek het om die Congress of the People (Cope) te stig – juis omdat hulle bekommerd was oor die regering se minagting vir die Grondwet – is in ANC-kringe openlik na Cope-ondersteuners as “slange” en “kakkerlakke” verwys – ’n soort taalgebruik wat aan die Rwanda-ervaring herinner. Daaraan is toegevoeg die beskuldiging van towery, ’n beskuldiging wat tot vandag toe in sommige landelike gebiede tot moord aanleiding gee, en wat in die jare van die stryd teen apartheid dikwels as motivering vir die openbare verbranding van vermeende infiltreerders in anti-apartheidsgeledere gedien het.

 

Met swartes wat wittes, en wittes wat swartes, geweld aandoen terwyl mense mekaar blatant tot rassegeweld aanhits, het menselewens in Suid-Afrika selfs goedkoper geword as wat reeds weens die hoë voorkoms van geweldsmisdaad die geval was. Nie net die haatspraak en geweld illustreer dit nie, maar ook die manier waarop mense daarop reageer. In Suid-Afrika word dit as onpatrioties beskou om (soos ek in hierdie artikel doen) teenoor buitelanders op die geweld en rassehaat in die land te wys. Suid-Afrikaners moet almal immers saamwerk om Suid-Afrika as “handelsmerk” te bevorder en ’n goeie beeld van die land na buite uit te straal.

 

Ná die moord op Terre’blanche het ’n Suid-Afrikaanse radio-omroeper byvoorbeeld haar skok uitgespreek oor die feit dat hierdie gebeurtenis in die buitelandse media as voorbeeld voorgehou word van hoe gevaarlik die lewe in Suid-Afrika geword het – ’n “persepsie” wat mense kan ontmoedig om die komende Wêreldbeker-sokkertoernooi in Suid-Afrika by te woon. Die statisties bewese feit dat die kans om in Suid-Afrika vermoor te word inderdaad veel hoër as in enige min of meer beskaafde land is, gaan haar blykbaar nie aan nie. Wat tel, is nie die menslike lyding van die slagoffer nie, maar Suid-Afrika se beeld in die buiteland. Die omroeper se reaksie is kenmerkend van die media se interpretasie van die gebeure.

 

Haatspraak en geweld hou in Suid-Afrika verband met die feit dat armoede en werkloosheid sedert die einde van apartheid toegeneem het. Mense se materiële omstandighede het versleg. Die billike verwagting wat die meeste Suid-Afrikaners (ook ek) ná die eerste demokratiese verkiesing gekoester het, naamlik dat die meerderheid se omstandighede daadwerklik sou verbeter, het beskaam, en is deur ’n gevoel van woede en frustrasie vervang. Suid-Afrika is tans amptelik die mees ongelyke samelewing in die wêreld. Dit skep ’n uiters plofbare situasie in die land, en tans lyk dit nie asof politici gemoedere probeer kalmeer nie. Inteendeel.

 

Daar kom ’n tyd dat die waarheid gepraat moet word, hoe bitter dit ook op die tong mag lê. ’n Situasie kan so gevaarlik word dat die ongemaklike waarheid oor daardie situasie ’n soort laaste kans bied om mense wakker te laat skrik en te voorkom dat die ergste gebeur. Myns insiens het so ’n tyd in Suid-Afrika aangebreek. Om tot dié gevolgtrekking te moet kom, verskaf my geen vreugde hoegenaamd nie. Oor hierdie morbiede essay kan ek dus net sê: Dit spyt my.

 

* Stuur ’n pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.