Wegneem-filosofie

Junie 30, 2010 in Sonder kategorie

Stel jy belang in filosofie (al is jy dalk nie ’n “professionele” filosoof nie)? Wel, ek het twee heerlike webwerwe ontdek waarop voedsame en smaaklike (hoewel nie noodwendig altyd gesonde nie) “philosophy light”, oftewel wegneem-filosofie (of “complexity made simple”, soos Desmond Painter onlangs na ‘n filosofiese artikel verwys het), geniet kan word.

 

Die een is die New York Times se blog The Stone, waarop vooraanstaande hedendaagse filosowe soos Peter Singer, Nancy Bauer en J.M. Bernstein op ’n ingeligte en deurdagte dog toeganklike manier (vir lesers wat darem bereid is om te konsentreer) gedagtes wissel. Dis ’n lekker manier om jou breinselle aktief te hou terwyl jy ook op die hoogte van nuwe denkrigtings (weliswaar hoofsaaklik in die Amerikaanse konteks) bly, en ook van tyd tot tyd van ou en nuwe publikasies te hore kom.

 

Die ander webwerf (waaroor ek juis op bogenoemde blog uitgevind het) is AskPhilosophers.org, waar ’n span filosowe kort antwoorde waag op vrae van die publiek oor ’n magdom onderwerpe, van “sex” en “freedom” tot “death” en “gender”. Dis sommer net groot pret om die vrae en antwoorde te lees, en soms selfs insiggewend en informatief.

 

Dit alles het my laat dink aan daardie Woody Allen-fliek (watter een is dit nou weer?) waarin sy karakter vertel dat hy ’n keer ’n beroemde besoekende rabbi gevra het wat die sin van die lewe is, en dié hom toe geantwoord het – maar in Hebreeus …

 

Lees gerus ook Allen se Complete Prose, met hoofstukke soos “My Philosophy” en “My Apology”.

 

* Stuur ’n pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

4 antwoorde op Wegneem-filosofie

  1. WILHELM VAN DEVENTER SKRYF:

    “Wie’s nou weer die filosoof wat gesê het dat filosofie die wetenskap van gewone dinge is wat dmv komplekse taal verwoord word?”

  2. Ek is nie seker nie, Wilhelm. Was dit nie dalk Wilhelm van Deventer nie?

  3. Unicorn007 het gesê op Junie 30, 2010

    Dankie vir die “links”. Pop filosofie is omtrent al wat ek moontlik kan probeer verstaan.

  4. gerritbrand het gesê op Julie 1, 2010

    Dit geld die meeste filosowe ook, hoor …

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.