“Na raming”

Junie 28, 2010 in Sonder kategorie

My jongste Brandpunte-rubriek in die Nederlandse Maandblad Zuid-Afrika:

 

’n Vriend in Nederland stuur onlangs vir my ’n hoofstuk uit Jan Kuitenbrouwer se boek De woorden van Wilders en hoe ze werken. Daarin pas Brouwers die begrip ‘framing’, soos dit deur George Lakoff en andere gebruik is, op Geert Wilders se sêgoed toe. Een voorbeeld is Wilders se geliefde ‘islamisering’. Nes met die Amerikaanse ‘tax relief’, word so ’n woord gebruik om ’n beleid of verskynsel skynbaar bloot aan te dui, terwyl daardeur in werklikheid ’n waardeoordeel gesuggereer word. Die suggestie is gewoonlik (semi-)onbewus. ’n Woord wat vanself bepaalde positiewe of negatiewe beelde en gevoelens by mense oproep, word gebruik om te verwys na iets wat die spreker daarmee positief of negatief wil kleur.

 

‘Het jy ook voorbeelde van hierdie tegniek uit die Suid-Afrikaanse politiek?’ vra my vriend. Die antwoord is: ja. Voordat ek voorbeelde bespreek, eers ’n taalkundige opmerking. Anders as in Nederlands, beteken ‘raam’ in sy letterlike betekenis in Afrikaans dieselfde as ‘frame’ (en kan dit, soos in Engels, as naamwoord óf werkwoord dien). In Engels kan ‘framing’ metafories egter ook beteken om ’n onskuldige skuldig te laat lyk (‘I was framed’). Lakoff en kie voeg ’n verdere metaforiese betekenis daaraan toe, naamlik dat ’n publieke saak (byvoorbeeld belastingvermindering) ook, soos ’n persoon, ‘framed’ kan word. Iets onskuldigs begin dan ‘skuldig’ lyk, of omgekeerd. Hierdie twee metaforiese gebruike geld nie die Afrikaanse ‘raming’ nie, maar laasgenoemde het wel ’n sekondêre metaforiese betekenis wat weer in Engels (en Nederlands?) onbekend is. ‘Na raming’ kan naamlik ook ‘ongeveer’ of ‘na skatting’ beteken. Met ‘framing’ vind daar mos ook ’n soort inskatting of beoordeling plaas – ’n rowwe skets of voorstelling wat iets in ’n goeie of slegte lig stel. Met al hierdie meersinnigheid sal ek dus die woord ‘raam’ en ‘raming’ as Afrikaanse vertaling van ‘frame’ en ‘framing’ gebruik.

  

Rasgebaseerde benadering
Seker die bekendste raam in die SA openbare diskoers is die woord ‘transformasie’. Dit kan in alledaagse taal wel neutraal en selfs negatief gebruik word, maar gewoonlik het dit ’n positiewe strekking: dit dui op ingrypende verandering ten goede. Die soort beelde wat deur die woord ‘transformasie’ opgeroep word, is byvoorbeeld dié van ’n persoon wie se voorkoms of gesondheid drasties verbeter het, of ’n huis of tuin wat herontwerp en verfraai is. In SA word dit met die oorgang van apartheid na demokrasie verbind, maar dis net die implisiete agtergrond. Meer spesifiek verwys dit na die verandering van ’n verskeidenheid instellings se rasseprofiel. Gesien die feit dat swart mense nog in die meeste instellings onderverteenwoordig is, en dat dit die gevolg van rassediskriminasie in die verlede is, kan verandering ten goede (so word geredeneer) ook slegs op grond van ras geskied. Werkgewers moet dus onder druk geplaas, of gedwing, word om voortdurend die getal swart mense in veral senior poste op te stoot. Hoëronderwys-instellings moet nie net, soos private ondernemings en staatsdepartemente, hul personeelkorps meer divers maak nie, maar ook maniere vind om dit te bewerkstellig dat die aantal swart studente en beurshouers steeds toeneem. Sportmanne en -vroue moet nie net op grond van prestasie by spanne ingesluit word nie, maar ook op grond van velkleur. Deur hierdie beleid ‘transformasie’ te noem, word dit vir skeptici moeilik gemaak om kritiek daarop te lewer, want wie kan nou teen transformasie wees? Baie min Suid-Afrikaners sal verskil oor die feit dat hul samelewing in vele opsigte moet verander – ook wat die blywende gevolge van rassediskriminasie in die verlede betref. Waaroor daar verskil van mening is, is oor die vraag of hierdie verandering die beste op grond van ras nagejaag kan word.

 

 Kritici van hierdie pro-swart diskriminasie – soos die voormalige anti-apartheid-stryder Neville Alexander – meen dat ’n voortgesette fokus op ras slegs die negatiewe sosiale gevolge van die vorige politieke bedeling in stand hou. Hy (en andere) argumenteer verder dat die rassefokus die feit verbloem dat diegene wat voordeel uit ‘transformasie’ trek meestal nie die mees benadeeldes of agtergesteldes is nie, maar juis die relatief bevoorregtes met politieke konneksies. Vir ’n instelling wat naarstiglik probeer om, sê maar, meer swart mense in hoë poste aan te stel, of meer swart studente (in sekere studierigtings) in te skryf, is dit makliker om juis daardie swart individue wat reeds goeie opleiding, ervaring en geldelike middele het aan te lok as om vir die moeisame langtermyn-alternatief van, byvoorbeeld, ’n belegging in onderwys en opleiding te kies.

 

 In stede van ’n rasgebaseerde benadering stel Alexander voor dat die betekenis van ‘transformasie’ verander word om te verwys na die verskaffing van onderwys, opleiding, dienste en geleenthede aan daardie landsburgers wat dit tans die nodigste het (en wat in elk geval meestal, hoewel nie eksklusief nie, swart is), asook na infrastruktuur-ontwikkeling. Alexander is ook onder diegene wat van mening is dat ’n aggressiewe beleid van veeltaligheid, eerder as die huidige Engels- (en daarom: elite-) georiënteerde taalbenadering, veel meer as rasgebaseerde pogings kan doen om mense wat steeds onder die gevolge van onreg in die verlede ly se omstandighede te verbeter. In sy eie woorde: ‘A policy of de facto unilingualism, that is one that in effect promotes English… as the only language of power for use in high-status functions, necessarily at this moment and for the foreseeable future excludes the vast majority of ‘the common people’ from the most important decision-making processes, marginalises and disempowers them, and ultimately undermines the very democracy South Africans pride themselves on having attained.’

 

 Glibberige begrip
Die uitdaging wat iemand soos Alexander in die gesig staar, is dat wat hy met rasionele argumente betoog moeilik hond haaraf maak teen ’n strategie van raming of ‘framing’, wat op ’n subliminale, eerder as rasionele, vlak funksioneer. Wanneer Suid-Afrikaners die woord ‘transformasie’ hoor, dink hulle onwillekeurig aan pro-swart diskriminasie. Die strewe na ’n beter, meer gelyke en menswaardige samelewing word sodoende met slegs een moontlike model van sosiale verandering verbind, sodat ’n debat oor hóé die samelewing omvorm moet word byna onmoontlik word. Die raam van ‘transformasie’ laat eintlik net ruimte vir vrae soos: Is jy daarvóór of daartéén? Kies jy vir transformasie of stagnasie? Streef jy na ’n beter toekoms of hunker jy terug na die verlede?

 

Ander rame wat daartoe bydra, is ‘regstellende aksie’ (‘affirmative action’) en ‘swart ekonomiese bemagtiging’. Soos met ‘transformasie’ word die spesifieke strategieë waarna hiermee verwys word so nou met positiewe waardes soos regstelling, affirmasie en bemagtiging verbind dat dit byna onbehoorlik word om dit te opponeer, want wie kan nou teen sulke lofwaardige ideale wees?

 

Raming kom ook van die kant van sommige teenstanders van ‘transformasie’. Hulle pleit dikwels vir ’n klem op ‘meriete’ eerder as ras. Die woord ‘meritokrasie’ word ook gebruik. Die gedagte is dat mense aangestel, tot studie toegelaat of beurse gegee, moet word, nie op grond van ras nie, maar op grond van meriete. Maar soos ‘transformasie’ is meriete ’n glibberige begrip. Wat beteken dit? Moet dit op bekwaamheid dui? Hoekom dan nie van bekwaamheid praat nie? ‘Meriete’ het ondertone van verdienste, selfs inherente gehalte. Die suggestie is dat swart mense wat vooruitkom in die lewe dit nie verdien nie, of nie oor die kwaliteite en bekwaamhede beskik om hul werk te doen nie. In sekere kringe – byvoorbeeld die wit middelklas – slaag ’n term soos ‘meriete’ goed daarin om die transformasie-problematiek ’n sekere kleur (ekskuus vir die woordkeuse) te gee, maar dit slaag nog nie daarin om die voorstanders van ‘transformasie’ in ’n hoek te druk nie.

 

Identiteit versus geregtigheid
Negatiewe raming – hier kom die Engelse ‘framing’, in die sin van ‘vir ’n skurk uitmaak’, werklik tot sy reg – kom ook voor. So word wit, manlike Afrikaanssprekende voorstanders van veeltaligheid ‘taalbulle’ genoem. ’n Bul is ’n groot, lomp, stomme dier wat (soos in die Engelse spreekwoord) heel onsensitief ’n ‘China shop’ binnestorm. Hy is manlik en aggressief. So is (volgens die raam) ook diegene wat die oorheersing van Engels teenstaan. Hulle is (natuurlik) teen transformasie, hunker terug na die verlede en is heimlike rassiste. Wie wil nou met sulke mense geassosieer word? Die ‘taalbulle’-raam is uiters suksesvol. Dit maak dat die talle swart en vroulike voorstanders van veeltaligheid hulle versigtig en terughoudend daaroor uitspreek (ten minste in die openbaar), sodat hul stemme nouliks impak maak. Wanneer sommiges dit tog waag om hulle ondubbelsinnig daaroor uit te spreek, word hulle óf geïgnoreer (dit wat nie in die raam pas nie, word misgekyk), óf daarvan verdink dat hulle deur die ‘taalbulle’ gekoöpteer of misbruik word. Vanselfsprekend veroorsaak die raam ook dat wit mans – die ‘taalbulle’ par excellence – niks kan sê of doen om aan die ‘taalbul’-stigma te ontsnap nie.

 

In die algemeen word die taalkwessie so geraam dat dit enige energieke taalaktivisme uit die staanspoor verdag laat lyk. Taal – of meer presies: ander tale as Engels – word outomaties met identiteit, kultuur en etnisiteit verbind. Natuurlik word dan gesê dat hierdie sake belangrik is, maar onmiddellik ook bygevoeg dat probleme soos armoede, werkloosheid en aansteeklike siektes prioriteit moet geniet. Wie kan – as die raam van ‘identiteit versus geregtigheid’ eers aanvaar word – nie met dié prioritisering saamstem nie? Buitendien dra die begrippe ‘identiteit’, ‘kultuur’ en ‘etnisiteit’ reeds negatiewe assosiasies in ’n land waar dit in die verlede as politieke rame misbruik is. Dat taalbeleid dalk juis ’n geregtigheidskwessie is en alles met die stryd teen armoede, werkloosheid en aansteeklike siektes te make het, is ’n moontlikheid wat binne hierdie raam nie eens oorweeg kan word nie. Nog rame, waarby ek nie hier kan stilstaan nie, is ‘nasiebou’, ‘patriotisme’, ‘versoening’, ‘diversiteit’ en ‘diensbillikheid’.

 

Kan rame teengegaan word sonder om bloot nuwe misleidende en eensydige rame in hul plek te plaas? Miskien lê deel van die antwoord daarin om die breë publiek toenemend bewus te maak van wat rame is en hoe hulle werk. Of is dít net nog ’n raam?

 

Gerrit Brand is als senior lector systematische theologie verbonden aan de Universiteit van Stellenbosch. Hij schrijft deze rubriek op persoonlijke titel.

4 antwoorde op “Na raming”

  1. MarieHeese het gesê op Junie 29, 2010

    Besonder verhelderend, dankie hiervoor.

  2. Komend van jou stel ek jou opmerking hoog op prys!

  3. Dankie Gerrit. Baie stimulerend. Net die volgende: 1) Framing/Raming het naas alles wat jy genoem het, dus diep psigologiese wortels – ons doen dit almal, nie-willens en nie-wetends.
    2) Sal dit nie help as gemeenskappe/individue gehelp word om te RE-FRAME nie, m a w waar pas “reframing” in?
    3) Sien bv Peter Seligman (positiewe sielkunde) se opmerking oor die BP olieramp in die Golf van Meksiko. Dis baie bad, ens = FRAMING, maar daarmee saam = beste teachable moment om mense bewus te maak van die gevare van omgewingsbesoedeling = REFRAMING?

  4. Ek dink jy’s reg. Ons sal nooit regtig van raming wegkom nie. Wat nodig is, is dat ons bewus is van hoe ons raam en wat die implikasies daarvan is. Nog iets: herraming (?) moet net nie beteken dat enigiets op enige manier geraam kan word nie. Die olieramp is ‘n geleentheid vir leer oor omgewingskwessies, ja, maar dit bly ‘n ramp! Is dit dalk so dat sommige rame hulle onontwykbaar aan ‘n mens opdring?

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.