Nico Smith

Junie 20, 2010 in Sonder kategorie

Die eerste keer dat ek van Nico Smith gehoor het, was toe ek ’n berig oor hom in, ek dink, die Vrye Weekblad gelees het. Wat ’n heerlik verfrissende, subversief-bevrydende ervaring om as jong teologiestudent oor so ’n anderster dominee te lees – een wat sonder om doekies om te draai teen die bestaande politieke orde praat en ook daad by die woord gevoeg het deur sy akademiese pos aan die Universiteit Stellenbosch (US) se fakulteit teologie prys te gee en ’n beroep na die township Mamelodi buite Pretoria te aanvaar. Meer nog: om self in die township te gaan woon – destyds iets ondenkbaars, en boonop onwettigs, vir enige wit mens. By die artikel was ’n foto van ’n man met langerige hare, ’n armband (’n armband!) en so ’n wrang dog vrolike, lewensomhelsende laggie. En so wás Nico.

 

Later sou ek ook die boek Wit Afrikane?, wat deur ’n klompie jong intellektuele, onder andere Nico se skoonseun Murray Hofmeyr, saamgestel en aan Nico opgedra is. Dit het my sterk onder die indruk gebring van hoeveel jong Afrikaners se denke en lewenshouding ten goede deur Nico beïnvloed is.

 

My eerste persoonlike ontmoeting met hom was aan huis van sy dogter Lientjie en skoonseun Murray in die Thathevondo-woud naby Thohoyandou in Limpopo, waar ons ook toe ’n tyd lank gewoon en gewerk het. Hulle het op die stoep gesit toe ons kom hallo sê. Hy het presies soos in daardie foto gelyk. Toe ek ’n sigaret aansteek, het hy ook vir een gevra. (’n Paar jaar later het hy ’n keer toe hy weer ’n sigaret by my geneem, en ek hom uitgevra, het oor hoekom ek hom dan so selde sien rook, verduidelik dat hy glo alle plesiere moet in matigheid geniet word; hy was gekant teen geheelonthouding. As eksroker wens ek vandag nog dat ek dit, soos hy, kon regkry om net soms te rook!) Hy het daardie dag baie gepraat en baie gelag. Hy het my ook sterk aangeraai om die geleentheid wat toe pas my kant toe gekom het om in Nederland by sy vriend Vincent Brümmer my doktorsgraad te gaan doen, aan te gryp.

 

Ek en my vrou was op daardie stadium lidmate van die Verenigende Gereformeerde kerk Tshilidzini in Thohoyandou, wat toevallig deur Nico opgerig is. Sy vrou, Ellen, het as dokter die hospitaal wat vandag nog die belangrikste in die omgewing is, begin. Nico het baie gelag oor die manier waarop dit alles gebeur het: Hulle was op pad terug van die Krugerwildtuin toe hulle deur die omgewing gery en die roeping gevoel het om as sendelinge daar betrokke te raak. Deur kontak met Hendrik Verwoerd via dié se skoonseun Carel Boshoff is die stuk grond in die Venda-“tuisland” vir die sendingstasie aan hulle beskikbaar gestel. Ja, die hele sending is onderneem binne die denkraamwerk van ’n kombinasie van apartheidsdenke en piëtisme. Dit is juis op grond van hierdie sendingervaring dat Nico later professor in sendingwetenskap aan die US geword het. En ywerige lid van die Broederbond. Maar dit is ook vanuit dieselfde ervaring – sowel in Venda as in Stellenbosch – dat hy mettertyd tot radikaal ander insigte gekom het.

 

Een bekende storie is dat Nico, kort na hul aankoms, deur ’n groep Duitse sendelinge en hul gemeentelede verwelkom is. Toe dit middagetetyd word, het Nico eenkant gestaan omdat hy geglo het dis verkeerd dat wit en swart saam eet. Een van die Duitse vroue wat verstaan het (maar sekerlik nie goedgekeur het nie) hoe destyds se Afrikanernasionaliste se koppe werk, het sy ete vir hom buite toe geneem. Toe Nico later hieraan teruggedink het, het hy hom diep daaroor geskaam. Dit was dan ook die inspirasie vir een van sy wonderlikste inisiatiewe as predikant in Mamelodi: Koinonia, ’n aksie om gereeld wit en swart mense saam te laat eet – ’n radikaal kritiese praktyk in daardie tyd en myns insiens een van die beste vergestaltings van wat die Nagmaal veronderstel is om te wees.

 

Toe ek eenkeer uit Nederland op besoek in Suid-Afrika was, het ek vir Nico op sy plot buite Pretoria gaan besoek om met hom oor my proefkrif in wording te praat. Hy was toe professor in sendingwetenskap aan Unisa. Hy het my op die plot rondgewys – onder meer die ou klipkraal wat hy daar ontdek het en aan die heroprig was. Twee mans was ook besig om ’n tradisionele Afrika-hut te bou – volgens Nico se instruksies – wat hy as ’n verblyfplek vir oorsese besoekers wou aanwend. Nico het geweet hoe om planne op te trek, fondamente te grawe en messelwerk te doen – nie net in letterlike sin nie.

 

’n Voorbeeld hiervan was sy toetrede tot die toerismebedryf, gemotiveer deur verhale wat hy gehoor het oor die onkritiese en selfs rassistiese manier waarop sommige wit toergidse Suid-Afrika aan buitelandse toeriste beskryf het. Hy was ook besorg oor die feit dat byna geen swart toergidse al die bedryf betree het nie. Sy plan was om jong aspiranttoergidse saam met hom op sy reise te neem en hulle sodoende te help oplei. Alles wat Nico gedoen het, was gemik op die bestryding van onreg en die herstel van mense se waardigheid. Hy was ’n baie suksesvolle en populêre toergids.

 

By die verdediging van my proefskrif in Utrecht was Nico as medepromotor teenwoordig. Ek het die eer gehad om ’n vraag deur hom, in Afrikaans, te beantwoord – ook in Afrikaans. Dis vir my ’n enorme eer dat sy naam voor in my proefskrif pryk. Ná die promosieplegtigheid het ek aan huis by Vincent en Jean Brümmer ’n geselligheid vir my promotore, medestudente en vriende in Nederland gehou. Nico het die pap gemaak en die vleis gebraai terwyl hy tong in die kies vir die Nederlanders verduidelik oor “minerale-soute” (bloed) en ander braaiterme en -reëls – iets waaraan alle teenwoordiges my nog steeds dikwels herinner. Nico was ’n warm, opgewekte, joviale mens met ’n wonderlike sin vir humor.

 

Daarna het ek en my gesin die voorreg gehad om hom dikwels ook op sosiale vlak te ontmoet. Ek en hy kon gereeld oor sake van die dag praat – kerklike gebeure (veral die hartseer onwilligheid van die NG Kerk, mý kerk, om die Belydenis van Belhar as belydenisskrif te aanvaar), teologiese ontwikkelings (Nico het altyd op datum gebly met die nuutste denkrigtings), politieke gebeure en so meer. Wat my altyd weer van hom getref het, is hoe hy sy skerp kritiese opmerkings, vertellings en argumente kon kombineer met ’n egte respek en waardering ook vir sy politieke en teologiese teenstanders. My indruk is dat hy nooit iemand gehaat het of ’n persoonlike wrok teen iemand gekoester het nie. Baie mense het sy uitlatings en optredes – onder meer sy onlangse boek oor sy jare in die Broederbond – as ’n uitdrukking van bitterheid gelees, maar wie hom persoonlik geken het, het geweet dis nie waar nie. In hierdie opsig was en is Nico vir my ’n inspirerende voorbeeld van “die waarheid in liefde praat” (Ef. 4).

 

Wat dit betref, kan ek met vrymoedigheid, selfs in ’n huldeblyk, sê dat ek oor baie dinge met Nico verskil het. Vir die taalaktivisme waarby ek intens betrokke was en is, het hy nie ooghare gehad nie. Oor sy idee dat die NG Kerk deur regsaksie gedwing moet word om met die VGK saam te smelt, was ek nie te spreke nie – nie net sou so ’n aksie nooit kan slaag nie; dit is ook ongewens. Sy onlangse betoog dat wit mense, en Afrikaners in die besonder, nie so skerp krities oor die huidige regering en die toestand van die land moet wees nie omdat dit die wrewel teenoor wit mense sou opjaag en selfs tot rassegeweld kan lei, vind ek misplaas. Sy skeptisisme oor die blywende relevansie van die Gereformeerde tradisie deel ek hoegenaamd nie. Ook nie sy oorwegend positiewe beoordeling van (wat my betref) oppervlakkige “vernuwende” bewegings in die teologie, soos die “Nuwe Hervorming” en die Jesus-seminaar nie. Ek het soms die indruk gehad dat Nico baie hedendaagse debatte en konflikte steeds vanuit sy weerstand teen die destydse hegemonie van Afrikanernasionalisme benader en bedink het.

 

Die wonder van vriendskap is egter dat ’n mens oor baie dinge kan verskil – nee, móét verskil – in ’n gees van wedersydse respek, agting, waardering en openheid. Waar ons saamgestem het, het hy my intellektueel onderskraag; waar ons verskil het, het hy my geslyp en selfkrities gehou. Aan sy opregtheid en integriteit het ek nooit getwyfel nie, en sy ruimhartigheid het my laat voel dat ek sonder skroom my gedagtes – spesifiek ook my kritiese gedagtes teenoor sommige van sy standpuntnames – met hom kon deel.

 

Iets waarvoor ek hom altyd gerespekteer het, is die manier waarop hy steeds, as ’n saak van beginsel, na homself as ’n Afrikaner verwys het – nie uit nasionalistiese trots nie (daaraan sou ek ’n afkeer hê), maar juis omdat hy nie die maklike, goedkoop opsie gekies het om deur ’n ontkenning van sy Afrikanerskap aan die problematiese aspekte van sy erfenis, en aan die verantwoordelikhede wat dit meebring, te ontsnap nie. Ek bly skepties oor Afrikaners wat so graag benadruk dat hulle nie Afrikaners is nie, en hulself sodoende op die skouer klop. Nico het daardie skeptisisme gedeel.

 

Iets soortgelyks het sy gesindheid teenoor die NG Kerk gekenmerk. Hy het my eenkeer vertel die enigste rede hoekom hy hom, ook as VGK-ampsdraer, steeds by die NG Kerk betrokke bly voel het – ten spyte van dié kerk se “hoerering” met ’n onbybelse, anti-evangeliese apartheidsteologie – is “dat ’n mens se ma jou ma bly, ook al word sy ’n prostituut”. Dit mag vir sommige mense kras klink, maar vir my het daar altyd ’n groot diepsinnigheid in geskuil: Die NG Kerk was Nico se “ma”, het aan hom geboorte gegee. Op ’n wonderlike manier, en langs ’n vreemde, misplaaste pad – onder meer via die verwronge sendingmotiewe wat hy op ’n tyd gekoester het – het hy gegroei tot iemand wat teologies ver van die destydse NG Kerk staan, maar wat nietemin die begin van sy weg steeds na dié moeder kon terugvoer. Dit sluit aan by die manier waarop hy oor hierdie weg gepraat het: nooit as iemand wat homself as ’n morele held of dapper denker gesien het nie, maar as iemand wat deur kragte buite sy beheer in ’n bevrydende rigting gestuur is. As sodanig was sy lewe ’n uitmuntende illustrasie van “regverdiging” en “heiligmaking” uit God se genade alleen.

 

Verlede jaar was Nico en Ellen in Stellenbosch vir ’n kongres ter viering van die fakulteit teologie se 150-jarige bestaan. ’n Mens kon sien dat hy oud geword het, maar dieselfde lewenslustigheid, warmte, opgewektheid en humor was nog voluit teenwoordig. Nico het pas verneem dat ek as dosent by die fakulteit aangestel is en was hartlik bly en opgewonde daaroor. Hy was bekommerd oor die feit dat so min jong teoloë in Suid-Afrika die Afrikateologie ernstig opneem, en het my aangespoor om die bietjie werk wat ek op dié terrein gedoen het voort te sit. Soos altyd was dit sommer net lekker om vir hom en Ellen te sien.

 

Ek mis al klaar vir Nico, maar ek weet ook dat ek, en letterlik duisende ander mense uit ’n verstommende verskeidenheid agtergronde, hom altyd net met vreugde en dankbaarheid, en met ’n glimlag, sal onthou.

 

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

26 antwoorde op Nico Smith

  1. Dis ‘n baie mooi eerbetuiging aan Prof Nico. Ek het hom nie persoonlik geken nie, maar het wel onlangs sy biegboek, oftewel sy ‘uitkom’ boek gelees. Ek kon dit nie neersit nie. Dit was dapper wat hy gedoen het en hy behoort onthou te word saam met name soos Beyers Naude, Ben Marais, Albert Geyser en dan natuurlik die reus wat ons onlangs ontval het, Van Zyl Slabbert.

  2. Netso.

  3. WILHELM VAN DEVENTER SKRYF:

    Ja Gerrot. alles wat jy oor Nico geskryf het, is so waar. So het ek hom leer ken as dosent, as die een wat my en Claire getrou het, wat my tot die bediening georden het en my vriend en mentor was tot en met sy dood. Nog laasweek het hy en ek lank oor die telefoon oor alles en nog wat gesels en onder andere beplan om ‘n boek saam te skryf. Sy teologiese onderrig, praktiese uitlewieng van sy teologie, mens-menswees, ernstige gesprekke, humor, kookkuns en benutting van sy laaste paar jare wat hy telkens as “gendadetyd” getipeer het, sal bly voortleef in ons en ons kinders se lewens.

    So baie staaltjies, maar twee staan uit:

    1. Claire en ek was die vorige aand by hom vir voorhuwelikse berading en het darna lekker langs die Eersterivier gaan vry. Die volgende oggend het ek en drie ander klasmaats ‘n mondeling by hom gedoen. Nodeloos om te sê dat ek ge-him en ge-ha het. Aan die einde van die mondeling het hy gesê” Nou ja, Mnr Van Deventer, ons sal maar moet sien…

    2. Met sy kookkunsklasse en onthaal van vriende, het hy in ‘n geselsskap vertel dat dit vir hom soos ‘n “nutritional orgasm” is om te kook en te bedien. Ek het hom gevra of dit die tipe “orgasm” is wat oorbly as ‘n mens jou sewentigs bereik en hy’t al te lekker gelag en blykbaar die storie oor en oor vertel aan familie en vriende.

    En dan is daar Ellen, Claire se rolmodel deur al die jare. En toe hy en sy by ons bevestiging was op Tshilidzini, was dit vir hulle ‘n voltooide sirkel, die dominee-dokter kombinasie.

    En so vloei die herinneringe … waarvoor die NG Kerk hom ook seker soos Beyers Naudé na sy dood sal vereer?

    Gegroet in Nico se naam

  4. DonkerNag het gesê op Junie 21, 2010

    Hi Gerrit, ek moet erken dat ek het nie veel ooghare vir Nico Smith gehad het gebasseer op van die uitlatings wat hy gemaak het in die koerant.

    Na jou hulde skrywe moet ek egter erken dat ek beter verstaan vanuit watter hoek hy dit benader het en dat ek verkeerd was.

    Ek besef net weer dat dit jammer is dat ‘n groot gees se sienings nie meer beslag kon vind in die algemene menings wat gevorm word elke dag nie.

    Amper soos met Oom Bey, eers na die tyd, as jy ‘n outobiografie lees of ‘n hulde blyk soos die van jou dat mens ‘n klein biekie verstaan van die opofferings en goeie werk wat daar gedoen word!

    Ek hou van jou nugter manier van dink en skryf, selfs in ‘n hulde blyk gee dit mens baie om oor te dink.

    Mooi aand vir jou

  5. Dankie, Donker Nag. Soos jy hierbo gesien het, verskil ek self met die standpunt wat Nico kort voor sy dood nog in die koerante verdedig het. Ek is bly as ek ‘n wyer lens kon bied waardeur dit in perspektief gestel is. Elke mens het maar sekere blinde kolle en problematiese standpunte wat dan daaruit voortvloei; dit doen nie afbreuk aan die grootsheid van so ‘n persoon indien hy of sy inderdaad grootsheid geopenbaar het nie. ‘n Tyd gelede toe almal Nelson Mandela se groot ronde verjaardag gevier het, het ek op my blog (toe nog die blog Veelskrywer by Die Burger) geskryf dat, as ons Mandela regtig respekteer, ons ook bereid moet wees om hom te kritiseer. Dit geld ook ‘n groot gees soos Nico Smith.

  6. MURRAY HOFMEYR (NICO SMITH SE SKOONSEUN) SKRYF OP FACEBOOK:

    “My vriend Reiner Kuhn, predikant van die Gereformeerde Kerk in Hamburg, Duitsland, het die volgende geskryf oor sy ontmoetings met Nico, nadat ek Gerrit se stuk aan hom gestuur het:

    Ein schöner Artikel von Gerrit. Meine Erinnerungen sind natürlich gerade in Bezug auf eine deutsche Sichtweise der Apartheid Vergangenheit anders gepolt. Ich weiß noch, als wir beide das erste Mal in Nicos Rundhütte auf seiner Farm untergebracht waren – sein Projekt, das neue Südafrika den Europäern näher zu bringen. Was mir gefiel, war seine ungebändigte Neugier, sein Unternehmergeist und seine posiitve Grundhaltung in vielen Dingen.

    Dann waren wir zusammen in Schleswig-Holstein unterwegs auf der Suche nach seinen Vorfahren – in der alten Kirche und auf dem Friedhof, auf dem seine Vorfahren lagen. Ganz zu schweigen von den vielen Diskussionen und Einblicken, die er uns als Reisegruppe gegeben hat.

    Er war es, der uns in dem Township Mamelodi mit schwarzen Gemeindegliedern zusammenbrachte, so dass wir dort übernachten konnten. Wow! das was eine sehr afrikanische Begegnung, unter dem freien Himmel in einer armseligen Hütte zu schlafen und den Pap morgens mit anderen aus einer Schüssel zu essen – damals habe ich auch noch Fleisch gegessen. Nico war auch ein Gourmet – er genoss das Essen, konnte sich freuen über die Gaben auf dem Tisch. Was hat er nicht alles auf den Tisch gebracht, um es den Gästen recht zu machen.

    Nico hat mir Südafrika entschlüsselt, decodiert, interpretiert und hat die Liebe für diesen Kontinent in mir geweckt. Das klingt ein wenig pathetisch, ist aber genau so. Und jedes Mal, wenn er scharf ins Gericht ging mit der weißen Vergangenheit, hörte ich als Unterton die generelle Zuneigung zu dem einzelnen Menschen heraus. Das war eine so bereichernde Erfahrung: kostbar und einmalig.'”

  7. SANDRA DE LANGE SKRYF, OOK OP FACEBOOK:

    “Ek het ‘n paar maande gelede nog ‘n onderhoud met hom gevoer. Ek het die naweek ‘n volledige verslag oor sy lewe en dood saamgestel. Ek het eers daarna opgesien, want dis nooit maklik om na iemand se afsterwe met familielede, kollegas en vriende te gesels nie. Dit was op die ou einde ‘n fantastiese ondervinding. Omdat hy so ‘n merkwaardige mens … See Morewas, het niemand omgegee nie. Ek bewonder veral sy vrou, Ellen. Sy is so sterk, en het so mooi gepraat oor hom en hulle lewe saam. Sy het ook vertel van die tyd wat hulle in Mamelodi gewoon het, van hoe daai besluit hulle ongewild gemaak het in ‘n tyd wat dit uit die mode was om jouself teen Apartheid uit spreek. Sy het ook vertel van die dreigemente, ervaringe en hoe hulle moes sterk staan in dit waarin hulle geglo het. Dit was baie interessant. Hy was ‘n merkwaardige man!”

  8. EN DAN IS DAAR MIKE SMUTS SE FACEBOOK-KOMMENTAAR:

    “Nico Smith , wat ek as ‘Oom Nico’ geken het, is die naweek oorlede. Hy was ‘n unieke en besondere mens gewees. Nico was destyds met my oorlede oupa bevriend gewees, maar ek het hom eers na my oupa se afsterwe ontmoet via toerisme. Ek het die voorreg gehad om ‘n paar keer saam met hom te reis, alleen, asook met groepe A…merikaanse en Nederlandse toeriste. Mettertyd het ek baie waardering vir Nico gekry. Ek is dankbaar vir die baie gesprekke, kuier en lag dat die trane rol wat ek met hom kon deel. Ek het Gerrit Brand se broer goed geken op Tukkies en via Nico weer met Gerrit self kontak gehad tydens sy studies in Utrecht. Sy beskrywing van Nico, waarna ek hier link, strook 100% met my belewenis van hom. Ek het met hartseer verneem van sy afsterwe, maar my oorheersende emosie was die van dankbaarheid vir ‘n lewe wat vol en goed geleef is. Totsiens Oom Nico, dankie vir alles!”

  9. MIKE SMUTS VOEG HIERAAN NOG TOE:

    “@Sandra. Hy was inderdaad. Dankie vir die deel :-). Tannie Ellen is ‘n formidabele vrou. Sy’t nog tot onlangs voortgegaan om pasi… See Moreënte te sien en het ‘n passie vir haar professie. Ek onthou nog hoe Nico my vertel het dat met hul semi-aftrede (aftrede kom nie natuurlik vir mense soos hulle…) tannie Ellen begin dans klasse neem het en dit op daardie stadium terdeë geniet het. Ek dink dit was ‘ballroom dancing’ en sy was rondom 70.

    “Oom Nico was ‘n uitsonderlike mens, maar die goed wat hy aangepak het uiterste geduld en deursettingsvermoë geverg – ek ken nie iemand wat daai paadjie so goed kon saamloop soos Tannie Ellen nie. Sy was natuurlik nie net ‘n passasier nie, sy’t self pionierswerk gedoen. Ek wil my verbeel dat oom Nico my vertel het hoe sy met die bou van die hospitaal in Venda (hulle het dit van die grond af opgebou) op tye selfs veearts moes speel omdat daar ‘n behoefte was en beeste in dié wêreld gelyk is aan rykdom.

    “@Murray. Ek het ‘n vriendin in Nederland, Gerda de Zanger, wat vir Nico verafgod 🙂 en deur hom so ‘n liefde vir Afrika en Suid-Afrika ontwikkel het dat dit op tye amper gevaarlik is! Vele van haar landsgenote is deur haar hierheen saamgesleep en het onder Nico deurgeloop! Die ervaring om by ‘n gesin in Mamelodi, of in ‘n modder hut in Venda, te slaap is vir meeste wit Suid-Afrikaners uitsonderlik, om nie te praat van buitelanders nie.

    “Jy sal waarskynlik onthou dat ek destyds saam met Nico na julle, en na Venda, gereis het. Dit was die ‘road trip’ van my lewe. Dit was eintlik ‘n intellektueel-filosofiese reis, uiters genotvol, en met iemand wat in ‘n totaal ander wêreld en tydsgreep as ek groot geword het. En sy vertellings rondom sy ervaringe in die OB en AB was verskriklik snaaks (teen my verwagting in…).

    “Omdat hy sterk standpunt ingeneem het oor sensitiewe sake het baie (wit) mense hom waarskynlik as ongenaakbaar gesien, ek dink Gerrit verwys ook daarna, maar as mens hom leer ken het, het jy iemand ontdek wat liefdevol was en vir homself kon lag. Ek glimlag telkens as ek terug dink aan hom.

    “Ek onthou ook hoe ons in Venda by mense sou aankom en hulle glad nie verras was om hom te sien nie, want die ‘bos telegraaf’ het die nuus versprei dat Nico op die pad gesien was. So kan mens aanhou…”

  10. jsvdwatt het gesê op Junie 22, 2010

    Baie dankie hiervoor Gerrit! Jou eerlike beskrywing van jou en oom Nico se verhouding is treffend. Ek het die voorreg gehad om hom in 2001 te ontmoet in Stellenbosch by ‘n konferensie wat krities wou nadink oor die NGK-familie se identiteit in ‘n nuwe era van demokrasie. Die blootstelling aan sy manier van dink en doen het my gehelp om gesonde skuiwe te maak in my siening tot die kerkgroepe se doen en late. Hy laat ‘n groot erfenis na…

  11. Soveel mense wat deur hom geraak en gevorm is!

  12. CARINA LE GRANGE (VERMAARDE JOERNALIS) SKRYF OP FACEBOOK:

    “Dit raak my so diep. Het destyds in die township waar hy gewoon het onderhoude met hom gaan doen en kon altyd sien hoe gefrustreerd (maar sonder om te oordeel) hy was oor sy mede-witmense wat nie hul lewens en die land met die hele bevolking wou deel nie. Hy was altyd so sonder ophou ook vol vreugde vir, en van, hoe hy daardie lewe ervaar het; en dit staan langsaan sy ander aangesig – die een wat uit die media en sy kritici (wat byna nooit n eie hand in die bors of boesem! gesteek het nie) aan ons verskaf is. Hy was so onpatriargaal, en dit alleen was al so n groot deel van die wonderlike ervaring elke keer wat mens enigiets met hom te doen te doen had in die jare toe ek oor kerksake gerapporteer het. En hy was ten volle ekumenies – om goddelose mense soos ek in te sluit by sy sieninge.”

    EN (ook op Facebook):

    ” … got the news that Dr Nico Smith has died and a torrent of sadness for the SA of the previous regime (and now), and all it’s victims overwhelms me …”

  13. katrina het gesê op Junie 22, 2010

    Pragtige huldeblyk!

  14. Beste Gerrit,

    Hartelijk dank voor jouw prachtige In memoriam. Ik ken Nico Smith alleen maar van jouw promotie in Utrecht, maar bij die gelegenheid heeft hij indruk op mij gemaakt. Vanochtend las ik in de krant dat hij was overleden (wij lopen hier in Nederland een beetje achter als het om Afrikaanse zaken gaat) en later op de dag sprak ik Vincent Brümmer, die me op jouw In memoriam wees. Goed om te lezen!

  15. Goed om van jou te hoor, Marcel. Dankie dat jy ook jou herinnering deel.

  16. Vuurpyl het gesê op Junie 25, 2010

    Dankie vir goeie en gebalanseerde inligting, Gerrit. In die tyd van Nico se verblyf in Mamelodi het die NP ‘establishment’ wat destyds ook in die naburige blanke Ring teenwoordig was, Nico met smaad bespreek. Ek was net ‘n jong teol student wat 5 km van Mamelodi gewoon het, maar is tog spyt dat die NG kerk van 1970-1980 nie meer moeite gedoen het om Nico te akkomodeer nie – moeilik te dink dat dit sou waar word as 2 van ‘n plaaslike NG Gemeente se kerkmense later dosente van die AP Kerk geword het.
    Goed om ook weer die naam Murray Hofmeyer raak te lees- was saam studente by Tuks.

  17. Moeilik om te dink, ne: dat ‘n mens daardie dae so helder voor oe kan sien, maar dan tog nie kan dink dat dit moontlik was nie. Wat waansinnighede kyk ons dalk vandag mis?

  18. elthea het gesê op Junie 25, 2010

    Hallo Gerrit, oom Nico was dapper om die dinge te doen en die vrae te vra wat mens se gesonde verstand eintlik konstant dikteer maar waarvan die polities/religieus korrekte tyd nog nie aangebreek het nie… en miskien juis nie het nie, omdat daar nie genoeg Nico Smitte was vir ‘n kritiese massa nie?! Regte of verkeerde benaderings of te not, sy rol as (tereg ongeduldige) fluitjieblaser en krapper aan klakkelose aanvaarding van onbesonne sosiale norme, was vir my sy grootste bydrae. Groete uit die Soutpansberge. (Wat, in ‘n neutedop, weet jy van John S Mbiti? Iemand het sy boek African Religions and Philosophy in my hand gestop om te lees, maar dis dik,klein gedruk en my tyd min… of dan wat presies bedoel julle teoloë as julle praat van “Afrikateologie”?)

  19. Hallo, elthea! John Mbiti se boek is ‘n klassiek. Lees dit gerus. Dit het egter ook onder baie kritiek deurgeloop. Wat hy gedoen het, was baanbrekerswerk. Uit die filosofiese hoek (ja, daar is ook ‘n Afrikafilosofie!) kan jy gerus Heinz Kimmerle se ‘Mazungumzo’, wat gratis op die internet beskikbaar is, raadpleeg. Op sy webwerf is ook baie meer inligting. Oor Afrikateologie het ek ‘n boekie geskryf: ‘Speaking of a Fabulous Ghost’. Daarin probeer ek my siening van Afrikateologie weergee. Maar dis ook lank en kleingedruk! Soek dus eerder op LitNet (in die Ou-LitNet-argief) na my artikel “Theologische lessen uit Afrika”. Ek hoop dit help! En wanneer kom julle kuier?

  20. albertus7 het gesê op Junie 28, 2010

    Hallo Gerrit, dankie vir jou baie raak beskrywing van Nico Smith; het dit met heimwee gelees, maar ook dankbaarheid dat ek as jong teologiese student die voorreg kon he om klas te loop by hom vir 4 jaar. Ek sal nooit vergeet hoe dat hy durentyd die apartheidsdenke kon dekonstrueer vanuit ‘n diep Gereformeerde teologiese raamwerk. Niemand kon dit doen soos hy nie, behalwe ook ‘n Willie Jonker, en ‘n paar ander sendingwetenskaplikes nie. By sy begrafnisdiens in Bosmanstraat verlede week het ek teruggedink aan die diep erbarmlike manier waarop hy sy swart mede-landgenote omhels het (ja, selfs die petroljoggies by die kleinste petrolstasie!) en met hulle gekommunikeer het in hulle taal; hulle as “MENSE” gereken het, en nie bobbejane, soos ons mee grootgeword het nie. Ras was nie vir jou ‘n probleem nie. For him there was only one race and that was the human race! Ja, hy het ook nooit met afsku gepraat van sy opponente nie, maar hulle altyd ook as mense geag wat na die beeld van God geskape was, al het hy hulle denke met afsku behandel. Dit was hoekom almal – ja, sowel sy aanhangers as sy vyande – hom innerlik kon aanhoor, en sy denke hulle meer getref het as wat die meeste sal erken. Soos vermeld op sy begrafnis, het hy ALMAL benader deur op hulle gesigte te sien geskrywe staan: Handle with Care; Fragile; Made in the image of God! Hy het ook vele sendelinge bevry van ‘n pietistiese Christenskap, (myself inkluis) waarin net die wen van siele (sic!) belangrik was. Mag sy invloed nou – na sy dood – nog sterker deurkom, en die vele vir wie hy diep, diep geraak het, aanhou trap in sy teologiese spoor, noudat daar nog steeds so baie van die goed waarteen hy met passie gekant was, binne die NG Kerk bly voortwoeker, onder die dekmantel van Bybelse denke. Lekker rus, Nico. Ons sal jou nooit vergeet nie. Dit was lekker om jou te kon ken! Die land wat jy verlaat het, is ‘n beter plek as gevolg van jou! Ellen, mag die mooi herinneringe aan jou dierbare man jou bybly, en bly inspireer, en om met hom steeds in jou gedagtes, asook in julle kinders en kleinkinders s’n, dankbaar en geinspireerd voort te LEWE, omdat ons weet dat niks, ja, selfs die DOOD, ons ooit kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus onse Here is nie! Ons salueer sy nagedagtenis!

  21. Dankie hiervoor, allie.

  22. proregno het gesê op Junie 28, 2010

    Gerrit skryf: “Wat ’n heerlik verfrissende, subversief-bevrydende ervaring om as jong teologiestudent oor so ’n anderster dominee te lees – een wat sonder om doekies om te draai teen die bestaande politieke orde praat en ook daad by die woord gevoeg het deur sy akademiese pos aan die Universiteit Stellenbosch (US) se fakulteit teologie prys te gee en ’n beroep na die township Mamelodi buite Pretoria te aanvaar.”

  23. proregno het gesê op Junie 28, 2010

    Ja, ‘n bedeling het verby gegaan en ek los dit in die Here se hande om daaroor te oordeel.

    Nou is die vraag waar is die volgende geslag ‘sosiale profete’ wat teen die huidige regime gaan profeteer en daad by die woord voeg ?

    Hier en daar hoor ons kosmetiese kritiek (teen misdaad, uitbuiting, wanbestuur, ens), maar oor die algemeen geen fundamentele Bybelse kritiek wat die huidige onchristelike orde (ontkenning van die Here se heerskappy, verwerping van Sy wet, lastering van sy Naam, verbreking van sy rusdag, wettiging van aborsie en homoseksualisme, verwerping van die doodstraf, grondroofplanne, ens.) direk aanspreek nie.

    Ek vermoed ook ons gaan dit nie hoor nie, want die huidige (jonger) teologiese en politieke elite en denkers in die verskillende instellings meen die nuwe SA is ‘n utopia op aarde.

    Ja, solank jy anti-apartheid is, is verder alles OK, en kan al ander God se gebooie vertrap word …

    Verder is dit natuurlik maklik om profeet te wees en ‘n dooie perd (apartheid) nogsteeds aan te hou skop, maar, soos Jesus sê, om profeet in jou eie tyd te wees is ‘n heel ander (gevaarlike) ding (Matt.5:10-12; 13:57).

    Het Luther nie ook iets gesê in die lyn van dit help nie jy profeteer oor alles en nog wat nie, maar jy profeteer nie juis teenoor daardie sake wat huidiglik die strydpunt(e) is nie ?

  24. proregno het gesê op Junie 28, 2010

    Die volgende woorde is baie waar van ons tye, veral die liberale teologiese leierskap wat die nuwe SA ‘rein’ verklaar het met hul ‘social gospel’:

    “The social gospel is really a civil gospel; it espouses salvation by the state and its laws, and its hope shifts from God to the state. This has a major impact on the doctrine of the atonement. In the 1930s, a pastor who adopted the social gospel began to preach also against the orthodox doctrine of Christ’s atonement; he ridiculed it in language used by others who preceded him, calling it “butcher shop theology” to preach atonement by the blood of Jesus. This juxtaposition of the social or statist gospel and the denunciation of the blood atonement doctrine was an essential and logical one. If salvation is an act of state, the work of men who are essentially good and who unite to make a better world, to look for a change in men through Christ’s atonement rather than through the civil gospel is not only false but misleading. As a result, whenever the civil revolution flourishes, Christianity is under attack.’ (p. 272).

    There appears to be a studied blindness on those who promote this civil gospel: they can see evil in political structures other than their own, but the evils in front of them are invisible.
    The advocates of the civil gospel are ready to see a fascist state as evil, but not a truly democratic and socialistic state. Sin, however, is not a monopoly of the left or the right, but common to all men.’ (RJ Rushdoony, Sovereignty, 2007, p. 273)

    En daarom is Chadwick se woorde so waar ook vir ons tye:

    “The state seeks a church that it can use, that is subordinate to its own authority, and that acknowledges the state’s sovereignty and dutifully goes through its ritual motions without disturbing the power structures the state has painstakingly amassed over time. Rubber-stamp religion is acceptable to the power state; a faith in a sovereign God that is actually taken seriously presents the state with a problem.

    [Owen Chadwick:] “Government likes religion to bless its acts, crown its dictators, sanction its laws, define its wars as just, be decorous masters of national ceremonies. And since on grounds of religion religious men may criticize acts or laws or wars or modes of waging war, government prefers quietness and contemplation to excess of zeal.” (p. 311)

  25. proregno het gesê op Junie 28, 2010

    Ek het my boodskap in 3 dele gestuur, want die blog wou nie die hele boodskap saam stuur nie. Lees dus my boodskap in die volgorde:
    18:51
    18:57
    18:58

    Groete, Slabbert

  26. Slabbert, myns insiens is skerp profetise kritiek op die huidige orde bitter nodig, al stem ek nie saam met al die punte waarop jy meen die kritiek gefokus moet wees nie. Ek sou die klem wil plaas op onreg, uitbuiten van en minagting vir die armes en gemarginaliseerdes, korrupsie en geweld – daardie misdade teen God se kinders wat tans deur sowel die staat as die breer samelewing gepleeg word.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.