Die jeug van vandag?

Junie 15, 2010 in Sonder kategorie

Vanoggend hoor ek op die radio ’n gesprek met ’n groepie “jong mense” (dis nou volwassenes wat graag nog sekere voordele van kinderskap vir hulself opeis). Soos mens kan verwag, kla hulle oor die feit dat hul “stem nie gehoor word nie”, dat politieke leiers nie hul (die “jeug”) se belange dien nie, en dat hul sienings en ervarings nie ernstig opgeneem word nie. Hulle praat ook oor die nasionale jeugkommissie wat nie goed werk nie, die party-jeugligas (veral die ANC-jeugliga) wat nie regtig namens hulle praat nie en so meer.

Wag ’n bietjie, dink ek toe. Toe ek laas gehoor het, het die meerderheid stemgeregtigde Suid-Afrikaners (of dan ten minste ’n baie noemenswaardige deel van die kieserskorps – kan iemand dalk met die syfers help?) juis tot die bevolkingsgroep genaamd “jong mense” behoort. Dit beteken dat hierdie einste “jong mense” die huidige regering gekies het – by die stembus. Om uit vrye wil iemand as jou verteenwoordiger aan te wys en dan te kla dat hy of sy jou nie verteenwoordig nie, klink vir my te dik vir ’n daalder. Ja, natuurlik is daar “jong mense” wat nie vir die huidige regerende party gestem het nie, maar die oorgrote meerderheid het wel (of het buite stemming gebly, wat op dieselfde neerkom) – anders sou daardie party nie meer die regerende party gewees het nie, of hoe? Dis so obvious dat dit al ’n cliché geword het: In ’n demokrasie kry die bevolking die regering wat hulle verdien.

Wat meer is: daar is niks wat die klaende “jong mense” daarvan weerhou om self tot die politiek toe te tree nie – hetsy deur by ’n jeugliga aan te sluit of deur in ’n verkiesing te staan. Wat dit betref het die “jeug” geen nadeel teenoor ander Suid-Afrikaners nie. Waarom dan kla? Wat die jeugkommissie betref: dit lyk vir my na ’n volslae mors van geld en energie. Juis so ’n kommissie is in wese neerbuigend en stuur die boodskap uit dat die jeug nie op gelyke vlak met ander landsburgers ernstyig opgeneem kan word nie. Skrap dit en laat die jeug hulself organiseer as hulle regtig wil.

Ek moet ook sê: Die verteenwoordigers van die party-jeugligas wat op die program saamgepraat het, het my nie beïndruk nie. Hulle klink soos lede van ’n junior stadsraad – asof hulle met speel besig is eerder as met regte politiek. Om te dink dat die jeugliga van dekades gelede, toe onderwysgeleenthede baie beperk was, mense soos Nelson Mandela opgelewer het. Daardie “jeug” het die ANC oorgeneem en in ’n nuwe rigting gestuur.

Laastens is in die radiogesprek gereageer op sekere inkomende SMS’e en e-posse (ek belowe dit was nie van my nie!) wat neerhalend na die gespreksdeelnemers as “coconuts” (donker van buite, wit van binne) verwys. Ek keur dié benaming nie goed nie, maar kan ook nie saamstem met die “jong mense” op die program se reaksie daarop nie.

Die kern van die betrokke luisteraars se klag was dat die radiogespreksgroep nie verteenwoordigend van die “jeug” in Suid-Afrika is nie. Vir wie net kleure tel, sou dit na ’n vreemde klag lyk, want daar was swart, wit en bruin deelnemers (die Indiër-“jeug” sou seker wil kla …). Maar kleur is nie alles nie. Al die deelnemers aan die gesprek is uit voormalig wit en meestal privaatskole afkomstig en praat foutlose Engels.

Hul reaksie op die kritiese luisteraars was dat mense nie na hul aksent moet luister nie, maar na wat hulle sê, en dat dit onbillik is om hulle te kritiseer omdat hulle vooruitgekom het in die lewe. Toegegee, maar dit neem niks weg van die eenvoudige feit dat hulle nie verteenwoordigend van die “jeug” in SA is nie. Die oorgrote meerderheid “jong mense” in die land kan nie Engels praat om hul lewe te red nie (letterlik) en is produkte van hopelose township-skole. As die meer bevoorregte jonges van alle rasse (en hulle ís bevoorreg, of hulle dit wil weet of nie) hul “stem wil laat hoor”, kan hulle gerus in opstand kom teen ’n diskriminerende onderwysstelsel waarin die meerderheid wit leerlinge en studente in hul moedertaal kan leer, terwyl die meerderheid swart studente nie dié reg gegun word nie en as gevolg daarvan nie hul potensiaal kan vervul nie.

As dosent werk ek daagliks met groot plesier met “jong mense”. Wat ek hierbo sê, bedoel ek nie veralgemenend nie. Ek bedoel dit wel teenoor daardie “jong mense” wat alewig kla omdat hulle “nie na geluister word nie”, terwyl dit in werklikheid hulle self is wat hulle nie ernstig opneem nie. Hou op kla en doen julle ding!

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

15 antwoorde op Die jeug van vandag?

  1. hilgaard het gesê op Junie 15, 2010

    Ek dink jy het seker ‘n fout gemaak met die stelling dat die “meerderheid swart studente nie die reg het om in hulle moedertaal te kan leer nie”.Die probleem is nie dat hulle nie die geleentheid het om in hulle moedertaal te leer nie,(Hier in KZN is dit Zoeloe)maar dat hulle moedertaal nie op die selfde vlak as Afrikaans en Engels erken word nie.Om enigsens erens te kom moet hulle Engels goed kan praat maar die onderwysers wat hulle leer is ook nie Engels behoorlik magtig nie.Ek gee toe dat die standaard van baie van die township en plattelandse skole nie goed is nie maar die taalprobleem sal eers aangespreek moet word voordat ‘n mens erens sal kom.Wat daarvan dat afgestudeerde onderwysers wat Engels goed magtig is as ‘n gemeenskaps diensjaar na sulke skole in die townships en platteland ontplooi word om die probleem van swak Engels aan te spreek.Die verdere probleem in die verband is natuurlik dat baie (Opgevoede)ouers hulle kinders na die Engelse skole stuur om hulle so Engels te laat leer maar dan self nie met die kinders in Engels praat nie.

  2. Ek werk met tieners en wat my opval is dat die kwessie van “entitlement” groei, eerder as afneem. Wil eerder ontvang, as gee, hierdie geslag. Hoe op aarde verander mens dit?

  3. Kelly, ek hoor wat jy se, maar my indruk is dat op alle terreine, ook in die kerke, daar agteroor gebruik word om “jong mense” te akkommodeer en hulle stem te laat hoor. Hulle word selfs gesmeek en gelok om deel te neem en van hulle te laat hoor. Myns insiens is dit neerhalend teenoor die “jeug”, want dit suggereer dat hulle nog kinders is wat nie op eie inisiatief en uit eie besluite te handel nie. Onthou, as ek “jeug” en “jong mense” in aanhalingstekens sit, dan is dit omdat ek verwys na studente, jong werkendes (en werkloses) ens., nie na skoolkinders nie. Die kategorie waarna ek verwys, is volwassenes en moet soos volwassenes optree en behandel word. Weer eens, ek beweer nie dit geld alle, of die meeste, “jong mense” nie. Aan die kampus waar ek werk, is daar aktiewe studente aksies rondom, byvoorbeeld, die taalkwessie. Aan ons fakulteit is die studente-verteenwoordigers ook baie aktief en het byvoorbeeld verlede jaar ‘n hele volwaardige akademiese kongres gereel. Maar mens merk ook op dat juis hierdie “jong mense” nie op hul status as “jong mense” ry en spesiale behandeling op grond daarvan vra nie. My indruk is dat, sodra ‘n “jong mens” AS “jong mens” praat, as’t ware met ‘n beroep OP die status van “jong mens”, ‘n mens maar kan weet dat dit iemand is wat spesiale behandeling soek. Kortom: Pasop vir “jeugleiers”!

  4. Hilgaard, wat ek bedoel met “nie die reg het nie” is juis dat hul reg nie erken word nie. M.a.w. hulle het die reg, sowel moreel as grondwetlik, maar die reg word miskien.

    Een aanname waarop jou reaksie lyk te berus (miskien lees ek jou verkeerd?), is dat die noodsaak om goeie Engels te leer in spanning staan met die wenslikheid van onderrig deur die moedertaal. Dit is egter nie waar nie. Juis leerlinge wat deur hul moedertaal onderrig word, is die beste instaat om addisionele tale aan te leer. Die noodsaak om Engels te leer, geld dus net as nog ‘n verdere rede om moedertaalonderrig te gebruik.

    Laastens is jy reg oor die feit dat baie ouers self kies om hul kinders na skole te stuur waar die meeste leerlinge en onderwysers Engelssprekend is. Dis natuurlik hul reg om dit te doen. Navorsing het egter bewys dat “onderdompeling” in Engels slegs suksesvol kan wees solank die nie-Engelssprekendes in die betrokke skool in die minderheid is. As al die skole wat tans ‘n meerderheid Engelssprekende leerlinge het soveel nie-Engelssprekendes inneem dat nie-Engelssprekendes daar die meerderheid word, is daar nie meer sprake van “onderdompeling” nie. En selfs dan sal die oorgrote meerderheid van nie-Engelssprekendes steeds in skole wees wat van die begin af geen, of byna geen, Engelssprekendes in het nie, om die eenvoudige rede dat Engelssprekendes ‘n miniskule minderheid in die land is.

    Die “voordeel” van Engels aanleer dmv onderdompeling is dus noodsaaklik net vir ‘n klein minderheid van nie-Engelssprekendes beskore. Enige nie-Engelssprekende “jong mens” wat Engels goed geleer praat het danksy onderdompeling in ‘n skool waar die meerderheid leerlinge en onderwysers Engelssprekend is, is dus per definisie bevoorreg teenoor die meerderheid wat nie daardie geleentheid gehad het, of ooit kan he, nie. As sodanig het hulle ‘n verpligting, vanuit hul bevoorregte, posisie om hulle vir moedertaalonderrig vir die meerderheid te beywer.

    Engels-lesse sal baie min help solank leerlinge nie deur hul moedertaal leer nie. Eers as moedertaalonderrig die norm word, sal Engels-lesse effektief wees.

  5. In my ervaring is daar gelukkig baie studente en jong volwassenes wat nie net wil ontvang nie, maar ook wil gee. Met skool kinders het ek lanklaas gewerk. Ek hoop nie jou ervaring weerspieel die algemene tendens nie!

  6. Werk jy hoofsaaklik met studente by Stellenbosch?

  7. Ek is ‘n dosent, dus onderrig aan studente is ‘n primere taak. Doserende personeel van die fakulteit word egter ook dikwels gevra om kursusse vir predikante in die praktyk (ook jong predikante) aan te bied. Daarbenewens het ek tot ‘n aantal jaar gelede ook skoolgehou, jeugwerk in die kerk behartig ens. Dis uit hierdie beperkte ervaring dat ek praat wanneer ek opmerk dat, in my waarneming, daar darem ook baie “jong mense” is wat nie die kla-spel speel nie.

  8. hilgaard het gesê op Junie 16, 2010

    Ek stem heeltemal saam dat moedertaal sprekers die beste instaat is om n ander taal aan te leer.Die probleem wat ek egter ervaar is dat baie ouers(die meer opgevoedes)juis dit nie verstaan nie.Hulle dink dat as jy jou kind ‘n ander taal wil laat leer moet jy die kind so vroeg as moontlik in ‘n skool sit waar Engels die onderrigtaal is.Dit veroorsaak weer dat sulke kinders op die ou end sukkel om hulle moedertaal behoorlik te bemeester(en daarmee saam hulle kultuur).”Onderdompeling” is in elk geval nie meer prakties moontlik nie vanwee die demografiese werklikheid soos jy tereg aandui.Wat my soms dwars in die krop steek is dat Afrikaanse ouers dieselfde idee het t.o.v. Engels as die Zoeloe ouers.

  9. Dis glad nie beperkte ervaring nie. Dit sluit ‘n bree spektrum in na my mening, so dis goeie nuus dat jy dit beter ervaar as ek. My ervaring: stadskinders (ALLE rasse en geslagte) van Durban en Johannesburg van top privaatskole…dalk ander soort kind.

  10. loudavisi het gesê op Junie 16, 2010

    Ek stem so in my binneste saam met ipv.
    Kinders is die groot ontvangers hier rond, en as mens nie gee nie, doen hulle NIKS.
    Kan nie take afhandel nie, beskik oor min vaardighede ens.

    Ek praat van laerskool kinders. Dis net die room en die “Ek willers” wat by jou uitkom..

    Ons hier onder sukkel om hulle by julle te kry – sien jy?

  11. Wat kan ek se?

  12. Netso.

  13. Ja, ek is nie altyd so seker dat die privaatskool-opset beter is nie.

  14. HarryLouw het gesê op Junie 17, 2010

    Bakhand staan het ‘n kultuur geword.

  15. Dis baie waar. Lees ‘n bietjie my inskrywing van 29 Oktober en die skakel daar na Marinus Schoeman se uitstekende essay “Onmag as magstrategie”.
    http://blogs.litnet.co.za/gerritbrand/onmag-as-magstrategie

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.