Teenhegemoniese onderwys?

Junie 8, 2010 in Sonder kategorie

Aan die Universiteit Stellenbosch (US), waar ek werk, is ’n gesprek oor die “pedagogie van hoop” aan die gang. Hierdie frase, waarmee die huidige rektor, Russel Botman, sy termyn ingelui het, resoneer met die eerste oogopslag met Paulo Freire se klassieke Pedagogie van die Verdruktes, waarin vir ’n teenhegemoniese onderwys gepleit word. Die gesprek aan die US gaan egter juis oor die vraag of “pedagogie van hoop” in die hierdie rigting verstaan moet word. Sommige deelnemers aan die gesprek is skrikkerig vir wat hulle as ’n alte “ideologiese” verstaan van Botman se ideaal beskou, terwyl ander weer vrees dat dié ideaal tot ’n blote bemarkingslagspreuk kan vervlak as dit nié met die Freire-tradisie verbind word nie. Ek behoort tot laasgenoemde groep.

Terselfdertyd is ek betrokke by die gesprek oor ’n Vrye Afrikaanse Universiteit, daardie “mal idee” (sy eie woorde) van Christo van der Rheede wat soveel aanklank gevind het, nie net by Afrikaanssprekendes nie, maar ook in Nederland en Vlaandere. Ook hierdie ideaal is van die begin, veral deur Breyten Breytenbach en Neville Alexander, as teenhegemonies vertolk. Daarom die woord “vrye”, wat nie net gratis (en daarom inklusief en bemagtigend) beteken nie, maar ook vry – van staatsbeheer, winsbejag en heersende ideologieë. Die idee is nie net om gehalte-universiteitsopleiding in Afrikaans te gee en die bemeestering van ander Afrikatale deel van daardie opleiding te maak nie, maar ook om ’n nierassige Afrikaanse “intellektuele klas” tot stand te bring en ’n onafhanklike kritiese diskoers in Afrikaans te stimuleer.

Maar is die ideaal van ’n doelbewus teenhegemoniese onderwys verdedigbaar?

Op sy New York Times-blog skryf Stanley Fish onlangs oor nuwe wetgewing in die staat Arizona wat die skoolvak “ethnic studies” verbied vir sover dit uitdruklik daarop gemik is om spesifieke politieke waardes te bevorder. Fish meen hierdie verbod is tereg, maar spreek hom ook krities uit oor die bewoording van die wetgewing, wat weer bepleit dat kinders op skool geleer moet word om mense as individue te beskou en te respekteer. Hy noem die geskil hieroor tussen die wetgewer en die Mexican American Studies Department “a clash between two bad paradigms”.

Fish se betoog is helder en moeilik om te weerlê. Hy skryf onder meer: “To be sure, the knowledge a student acquires in an … course that stays clear of indoctrination may lead down the road to counter-hegemonic, even revolutionary, activity; you can’t control what students do with the ideas they are exposed to. But that is quite different from setting out deliberately to produce that activity as the goal of classroom instruction.”

Hy verwys ook na die standpunt van ’n bekende politieke wetenskaplike: “James Bernard Murphy has been arguing for years that teaching civic virtue is not an appropriate academic activity, both because schools are not equipped to do it and because the effort undermines the true function of education — ‘enthusiasm for the pursuit of knowledge’ — and even corrupts it. Teaching students either to love or criticize their nation, Murphy wrote in The Times in 2002, ‘has all too often prompted textbook authors and teachers to falsify, distort and sanitize history and social studies.’”

Ek stem saam met Fish en Murphy. Ek dink nie dis skole en universiteite se taak om die toeëiening van sekere waardes of oortuigings as uitkoms van hul onderrig na te streef nie. Daarom dink ek ook dis ’n fout dat, in ons skoleleerplan, godsdiensonderrig, benewens onderrig óór die verskillende godsdienstige tradisies, ook daarop gemik is om sekere gesindhede jééns ander godsdienste by leerlinge te kweek, en is ek gekant teen curricula, ook op universiteitsvlak, wat goeie burgerskap of iets dergeliks wil bevorder. Dit kan nie as ’n onderdeel van suksesvolle leer beskou word dat ’n leerling of student sekere waardes of oortuigings geïnternaliseer het nie. Waar dit gebeur, vind indoktrinasie plaas.

Vanwaar dan my steun vir teenhegemoniese onderwys? Wel, ek dink dat enige onderwysinstelling wat onbevange daarop gerig is om kennis en insig te genereer en oor te dra vanself teenhegemonies sal funksioneer, omdat so ’n instelling nie die heilige politieke en ideologiese koeie van sy plek en tyd sal ontsien nie. Ook die ongemaklike waarhede sal vertel, en ongemaklike standpunte geanaliseer, word. In ’n konteks waar universiteite tussen korporatisering aan die een kant en gedienstigheid aan die staat andersyds gevang is, is dit ’n baie dapper en moeilike ideaal om na te streef.

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

4 antwoorde op Teenhegemoniese onderwys?

  1. hacjones het gesê op Junie 8, 2010

    Jy raak vir my ‘n teer puntjie aan! Ek het jarre gelede, ag ek kan nie eens die naam van die traktaatjie onthou nie, van Freire se werk gelees. Dit het my diep beindruk. Veral: (En dis miskien nie so “Akademies” belangrik nie.)Hoe hy die idee van onderwys as ‘n elitistiese bedryf met ‘n baie praktiese idee die nek ingeslaan het… “Jy het nie eens ‘n klaskamer nodig nie… onderwys onder die bome kan net so effektief wees as binne ‘n luukse komper gedrewe klaskamer…” ens. Met sy filosofie en die se maar soortgelyke kognitiewe tegnieke van ‘n Feuerstein kan mens revolusioner met die onderwys omgaan. Ek moet egter erken dat ek effens revolusioner van aard is. Daarom die anngetrokkenheid tot die “wille denkers..”

  2. gerritbrand het gesê op Junie 9, 2010

    Daar is iets inherent revolusioneres aan die akademiese bedryf as sodanig. Wat beteken dat nie alle professionele akademici die akademiese bedryf beoefen nie! Daardie punt van skool onder die bome is baie geldig. In SA fokus ons primer op hulpbronne en geld (nie dat dit onbelangrik is nie), maar die inhoud ly skade. En dan is moedertaalonderrig ook nog vir die meerderheid nie beskore nie.

  3. hacjones het gesê op Junie 9, 2010

    ‘n Gewaardeerde Prof het op ‘n slag vir my gese: “Om ‘n ordentlike akademikus te wees moet ‘n beduidende persentasie van jou medekollegas jou gif wil gee..”
    Om radikaal met kennis en idees om te gaan!
    Ons sit met dieselfde probleem in die opleiding binne die bedryf… die fokus is op sertifikate ipv praktiese vaardighede. Die sogenaamde uitkomsgerigte opleiding bied geen uitkoms nie.

  4. gerritbrand het gesê op Junie 9, 2010

    Stephen Martin vertel my dat die teoloog Stanley Hauerwas (wat die Christelike geloof as inherent samelewingskrities en die kerk as alternatiewe gemeenskap beskou) ‘n keer gevra is of ‘n Christen, sonder om sy geloof te verraai, ‘n verkose politieke amp kan beklee. Sy antwoord was: ja, maar net vir een termyn! Waarmee hy natuurlik bedoel het dat, as so iemand aan sy Christelike oortuigings getrou bly, hy nie herkies sal word nie. Wat jy se, geld dus meerdere bedrywe!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.