Só moet oor die Malema-verskynsel gepraat word

Junie 2, 2010 in Sonder kategorie

Vandeesmaand se miniseminaar gaan oor die Malema-verskynsel. Ja, daar is al baie oor gepraat, maar oor die algemeen is wat mense daaroor kwytraak maar taamlik sensasioneel en/of oppervlakkig. Wat nodig is, is behoorlike analise. Die deelnamers aan die miniseminaar is die onafhanklike kommentator Henry Jeffreys, die sosioloog Irma de Plessis en die politieke filosoof Vasti Roodt. Net so belangrik is egter dat meer mense sal deelneem, byvoorbeeld deur hier saam te gesels.

Self vind ek die drie bydraes, en die verskillende hoeke waaruit hulle die Malema-verskynsel beskou, baie insiggewend en grootliks oortuigend. Ek dink die modieuse mantra dat die media Julius Malema “te ernstig opneem” of “te veel aandag aan hom gee”, is kortsigtig. Malema beklee ‘n senior leiersposisie in die regerende party. Wat hy doen het gevolge vir die rigting waarin ons samelewing beweeg. Buitendien gaan dit nie net oor Malema nie, maar oor die wyse waarop die party hom hanteer. Wanneer daar byvoorbeeld nie streng teen hom opgetree word nie, stuur dit ook ‘n boodskap uit oor wat vir die party as sodanig aanvaarbaar en onaanvaarbaar, gewens of ongewens, is. En die boodskap wat oorkom, is onrusbarend: vermeende korrupsie, haatspraak en geweld is in orde; al wat onaanvaarbaar is, is konflik in die party.

Selfs hierdie insig krap egter nog net aan die oppervlak, want die vraag is: hoekom? Hoekom staan sake so? Wat, indien enigiets, kan daaraan gedoen word. Na die lees van die drie uitmuntende bydraes is dit nog nie my indruk dat ‘n antwoord op laasgenoemde vraag al gevind is nie, maar oor eersgenoemde (en dis ‘n belangrike eerste stap!) word waardevolle verklarende insigte gebied, waaraan ek ook sou toevoeg iemand soos Leopold en Ingrid Scholtz se publikasies oor die kultuur van die ANC en die historiese oorspronge en ontwikkeling daarvan.

Dat dit ‘n belangrike gesprek is, staan in elk geval soos ‘n paal bo water.

Jaco Barnard-Naudé reageer op SêNet op Irma du Plessis se bydrae tot hierdie miniseminaar

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

11 antwoorde op Só moet oor die Malema-verskynsel gepraat word

  1. gerritbrand het gesê op Junie 2, 2010

    Ja, en apartheid was ‘n nadraai van Britse imperialisme en die Anglo-Boereoorlog. En dit was ‘n nadraai van … tot by die “sondeval”. Toegegee, maar dit hou die vraag oop: hoe nou? Dit lyk my deel van die “oplossing”, of deel van die manier om sulke gevaarlike tendense teen te gaan, is om die waarheid te ontbloot. Maar die kans is goed dat dit nie slaag nie.

  2. Hierdie is ‘n oningeligte, oppervlakkige skoot in die lug, maar ek dink, sonder om dieper te dink en te delf en te ontleed, dat Malema die politieke situasie of stabiliteit in die land toets. En daarmee ook te sien hoe ver die blankes, op die huidige oomblik, gedruk kan word.

    Dit is interresant om te sien hoe vinnig mense keer vir hul paaltjies as daar van ‘n volkstaat gepraat word. Kom ons noem dit dan eerder ‘n onafhanklike area of deel en verllor die woorde ‘staat’ en ‘volk’. Dan kan die wat daar wil gaan woon dit doen sonder om as ‘n rassis of ‘n hardkoppige dwarstrekker bestempel te word nie.

    Ek vir een sien geen fout met so volkstaat of area nie. As ons dan nie welko is in Suid-Afrika nie… gee ons ‘n plekkie waar ons na onsself kan omsien. Maak vir my sin.

    Jammer ek wyk skoon weg van die oorspronklike gesprek.

  3. Die Malema diskussie is regtig al so afgesaal en oorbespreek. Tussen preekstoel, tafeldoek en seepkis is alles al gese!….Next!

  4. Beste beskrywing ongelukkig in Engels: Moot and stale argument/discussion.

  5. gerritbrand het gesê op Junie 3, 2010

    Ek haal maar aan uit my inskrywing hierbo: “Ja, daar is al baie oor gepraat, maar oor die algemeen is wat mense daaroor kwytraak maar taamlik sensasioneel en/of oppervlakkig. Wat nodig is, is behoorlike analise.”

    Gestel iemand sou 30 jaar gelede se die apartheid-kwessie “is regtig al so afgesaal en oorbespreek”. Solank as wat die probleem daar is, moet dit bespreek word, vir beter insig.

  6. gerritbrand het gesê op Junie 3, 2010

    Self sou ek geen beswaar daarteen he as ‘n sekere groep mense ‘n volkstaat kry nie. Dis net dat ek self nie graag daarin sal wil bly nie!

  7. gerritbrand het gesê op Junie 3, 2010

    Dis darem nie net wittes wat die waarheid oor Malema ontbloot nie. Beslis nie. En die feit dat die waarheid die ANC se “argwaan” oproep, wys dalk net hoe effektief dit is. Mense word kwaad as hulle bereig en onseker van hulself voel. Die ou apartheidsregering se argwaan is ook deur die ontbloting van waarheid opgewek, en kyk waar is hulle vandag. Dit gaan daaroor om ‘n immorele regerende party se vermeende morele legitimiteit af te breek deur dit te ontmasker vir die immorele magsmisbruik wat dit in werklikheid is.

  8. neef het gesê op Junie 3, 2010

    ‘n Verdere rede om die gesprek aan die gang te hou is dalk die volgende: Daar is skielik (in die kringe waarin ek beweeg, altans) weer baie gesprekke oor ‘n beter toekoms in ander lande – na dit eintlik vir ‘n lang tyd stil was. Meesal is die rede vir hierdie gevoelens die kombinasie van dit wat Julius verteenwoordig en die gebrek aan integriteit/rigting van die huidige regering. ‘n Verdere vrees is dat die realiteit van ‘n Malema-presidensie dalk nie vergesog is nie – ek was voor Polokoane in verskeie gesprekke waar “kenners” kategories was oor die feit dat die ANC nooit iemand soos Zuma sou verkies as president nie…..

  9. gerritbrand het gesê op Junie 3, 2010

    Net so, Neef. Al die “kenners” het gese nee wat, Zuma gaan in die tronk beland en Motlhante gaan president word …

  10. LETTIE BEARE SKRYF:

    “Malema sal nooit in hierdie land weggedink kan word nie. Soos die spreekwoordelike volstruis kan Suid-Afrikaners, wat Malema betref, nie hulle koppe in die sand steek nie. Hy het gekom om te bly en is die spieël waarin ons moet kyk om die “anderkant” van onsself te sien. Hierdie “anderkant” is ons verlede, ons hede en ons toekoms. Die anderkant is die donker kant wat binne ons almal is. Die kant wat ons nie kan wegdink nie, al wil ons hoe graag. Wie is hierdie ons? Ons almal wat in en deur apartheid gebore is en selfs na apartheid gebore is en wat nog lank n’a apartheid sal bly bestaan. Die donker kant is wit en swart. Die wittes en swartes in Suid-Afrika wat nog altyd dakke oor hul koppe gehad het, altyd kos op hul tafels gehad het, altyd geleenthede gehad het om aan te gryp en ‘n sig op die toekoms kon hê omdat hul omstandighede dit toegelaat het. Hulle was die mense wat s’o versiende was dat hulle kortsigtig en blind was vir die dinge reg onder hul neuse.

    “In Suid-Afrika het ons geboorte gegee aan mense wat so kortsigtig was dat hulle nie ver kon sien nie.Mense wat nie geleenthede, dakke of kos gehad het nie. Mense wat net moes oorleef. Mense wat as kinders vegters moes word om iets te bereik, want daar was niks anders wat hulle eintlik kon bereik nie. Mense soos Malema. ‘n Negejarige seuntjie wat nog met karretjies moes speel, moes noodgedwonge ‘n vegtertjie teen apartheid word. Dink net aan die moed wat dit hom moes gekos het. Malema is goed vir Suid-Afrika, want in almal van ons is daar Malemas. Daardie rassistiese grappe wat nog steeds by braaivleisvure in liberale en rykmansbuurte die plek neem van ordentlike en opbouende gesprekke, daardie die eposse en teksboodskapppe op rekenaars en selfone wat agteraf vermaak. “Daardies” is maar dieselfde as “Kill the Boer, kill the Farmer.”

    “Die anderkant.”

  11. Ek kan nie met Lettie saamstem nie. As ‘n mens die argument aanvaar dat Malema se malligheid deur sy jeugervarings verklaar kan word, en dat dit daarom nie gekritiseer en verwerp mag word nie, dan raak dit ook ‘n probleem om, soos Lettie, die rassisme om braaivleisvure, of van apartheid self, te kritiseer. Immers, ook daardie vorme van verkeerde optrede kan sosiologies en sielkundig verklaar word. As Lettie konsekwent is, moet sy dit dus ook verskoon. Dan kan mens seker die Engelse blameer? Maar wag bietjie, die Engelse se sondes …

    Nee wat, Malema is ‘n groot mens soos ek en jy en moet vir sy optrede verantwoordelik gehou word. Om dit te ontken, kom op baie erger minagting van hom as persoon neer – selfs op rassisme – as die kritiek teen hom.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.