Jy blaai in die argief vir 2010 Junie.

Wegneem-filosofie

Junie 30, 2010 in Sonder kategorie

Stel jy belang in filosofie (al is jy dalk nie ’n “professionele” filosoof nie)? Wel, ek het twee heerlike webwerwe ontdek waarop voedsame en smaaklike (hoewel nie noodwendig altyd gesonde nie) “philosophy light”, oftewel wegneem-filosofie (of “complexity made simple”, soos Desmond Painter onlangs na ‘n filosofiese artikel verwys het), geniet kan word.

 

Die een is die New York Times se blog The Stone, waarop vooraanstaande hedendaagse filosowe soos Peter Singer, Nancy Bauer en J.M. Bernstein op ’n ingeligte en deurdagte dog toeganklike manier (vir lesers wat darem bereid is om te konsentreer) gedagtes wissel. Dis ’n lekker manier om jou breinselle aktief te hou terwyl jy ook op die hoogte van nuwe denkrigtings (weliswaar hoofsaaklik in die Amerikaanse konteks) bly, en ook van tyd tot tyd van ou en nuwe publikasies te hore kom.

 

Die ander webwerf (waaroor ek juis op bogenoemde blog uitgevind het) is AskPhilosophers.org, waar ’n span filosowe kort antwoorde waag op vrae van die publiek oor ’n magdom onderwerpe, van “sex” en “freedom” tot “death” en “gender”. Dis sommer net groot pret om die vrae en antwoorde te lees, en soms selfs insiggewend en informatief.

 

Dit alles het my laat dink aan daardie Woody Allen-fliek (watter een is dit nou weer?) waarin sy karakter vertel dat hy ’n keer ’n beroemde besoekende rabbi gevra het wat die sin van die lewe is, en dié hom toe geantwoord het – maar in Hebreeus …

 

Lees gerus ook Allen se Complete Prose, met hoofstukke soos “My Philosophy” en “My Apology”.

 

* Stuur ’n pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

“Na raming”

Junie 28, 2010 in Sonder kategorie

My jongste Brandpunte-rubriek in die Nederlandse Maandblad Zuid-Afrika:

 

’n Vriend in Nederland stuur onlangs vir my ’n hoofstuk uit Jan Kuitenbrouwer se boek De woorden van Wilders en hoe ze werken. Daarin pas Brouwers die begrip ‘framing’, soos dit deur George Lakoff en andere gebruik is, op Geert Wilders se sêgoed toe. Een voorbeeld is Wilders se geliefde ‘islamisering’. Nes met die Amerikaanse ‘tax relief’, word so ’n woord gebruik om ’n beleid of verskynsel skynbaar bloot aan te dui, terwyl daardeur in werklikheid ’n waardeoordeel gesuggereer word. Die suggestie is gewoonlik (semi-)onbewus. ’n Woord wat vanself bepaalde positiewe of negatiewe beelde en gevoelens by mense oproep, word gebruik om te verwys na iets wat die spreker daarmee positief of negatief wil kleur.

 

‘Het jy ook voorbeelde van hierdie tegniek uit die Suid-Afrikaanse politiek?’ vra my vriend. Die antwoord is: ja. Voordat ek voorbeelde bespreek, eers ’n taalkundige opmerking. Anders as in Nederlands, beteken ‘raam’ in sy letterlike betekenis in Afrikaans dieselfde as ‘frame’ (en kan dit, soos in Engels, as naamwoord óf werkwoord dien). In Engels kan ‘framing’ metafories egter ook beteken om ’n onskuldige skuldig te laat lyk (‘I was framed’). Lakoff en kie voeg ’n verdere metaforiese betekenis daaraan toe, naamlik dat ’n publieke saak (byvoorbeeld belastingvermindering) ook, soos ’n persoon, ‘framed’ kan word. Iets onskuldigs begin dan ‘skuldig’ lyk, of omgekeerd. Hierdie twee metaforiese gebruike geld nie die Afrikaanse ‘raming’ nie, maar laasgenoemde het wel ’n sekondêre metaforiese betekenis wat weer in Engels (en Nederlands?) onbekend is. ‘Na raming’ kan naamlik ook ‘ongeveer’ of ‘na skatting’ beteken. Met ‘framing’ vind daar mos ook ’n soort inskatting of beoordeling plaas – ’n rowwe skets of voorstelling wat iets in ’n goeie of slegte lig stel. Met al hierdie meersinnigheid sal ek dus die woord ‘raam’ en ‘raming’ as Afrikaanse vertaling van ‘frame’ en ‘framing’ gebruik.

  

Rasgebaseerde benadering
Seker die bekendste raam in die SA openbare diskoers is die woord ‘transformasie’. Dit kan in alledaagse taal wel neutraal en selfs negatief gebruik word, maar gewoonlik het dit ’n positiewe strekking: dit dui op ingrypende verandering ten goede. Die soort beelde wat deur die woord ‘transformasie’ opgeroep word, is byvoorbeeld dié van ’n persoon wie se voorkoms of gesondheid drasties verbeter het, of ’n huis of tuin wat herontwerp en verfraai is. In SA word dit met die oorgang van apartheid na demokrasie verbind, maar dis net die implisiete agtergrond. Meer spesifiek verwys dit na die verandering van ’n verskeidenheid instellings se rasseprofiel. Gesien die feit dat swart mense nog in die meeste instellings onderverteenwoordig is, en dat dit die gevolg van rassediskriminasie in die verlede is, kan verandering ten goede (so word geredeneer) ook slegs op grond van ras geskied. Werkgewers moet dus onder druk geplaas, of gedwing, word om voortdurend die getal swart mense in veral senior poste op te stoot. Hoëronderwys-instellings moet nie net, soos private ondernemings en staatsdepartemente, hul personeelkorps meer divers maak nie, maar ook maniere vind om dit te bewerkstellig dat die aantal swart studente en beurshouers steeds toeneem. Sportmanne en -vroue moet nie net op grond van prestasie by spanne ingesluit word nie, maar ook op grond van velkleur. Deur hierdie beleid ‘transformasie’ te noem, word dit vir skeptici moeilik gemaak om kritiek daarop te lewer, want wie kan nou teen transformasie wees? Baie min Suid-Afrikaners sal verskil oor die feit dat hul samelewing in vele opsigte moet verander – ook wat die blywende gevolge van rassediskriminasie in die verlede betref. Waaroor daar verskil van mening is, is oor die vraag of hierdie verandering die beste op grond van ras nagejaag kan word.

 

 Kritici van hierdie pro-swart diskriminasie – soos die voormalige anti-apartheid-stryder Neville Alexander – meen dat ’n voortgesette fokus op ras slegs die negatiewe sosiale gevolge van die vorige politieke bedeling in stand hou. Hy (en andere) argumenteer verder dat die rassefokus die feit verbloem dat diegene wat voordeel uit ‘transformasie’ trek meestal nie die mees benadeeldes of agtergesteldes is nie, maar juis die relatief bevoorregtes met politieke konneksies. Vir ’n instelling wat naarstiglik probeer om, sê maar, meer swart mense in hoë poste aan te stel, of meer swart studente (in sekere studierigtings) in te skryf, is dit makliker om juis daardie swart individue wat reeds goeie opleiding, ervaring en geldelike middele het aan te lok as om vir die moeisame langtermyn-alternatief van, byvoorbeeld, ’n belegging in onderwys en opleiding te kies.

 

 In stede van ’n rasgebaseerde benadering stel Alexander voor dat die betekenis van ‘transformasie’ verander word om te verwys na die verskaffing van onderwys, opleiding, dienste en geleenthede aan daardie landsburgers wat dit tans die nodigste het (en wat in elk geval meestal, hoewel nie eksklusief nie, swart is), asook na infrastruktuur-ontwikkeling. Alexander is ook onder diegene wat van mening is dat ’n aggressiewe beleid van veeltaligheid, eerder as die huidige Engels- (en daarom: elite-) georiënteerde taalbenadering, veel meer as rasgebaseerde pogings kan doen om mense wat steeds onder die gevolge van onreg in die verlede ly se omstandighede te verbeter. In sy eie woorde: ‘A policy of de facto unilingualism, that is one that in effect promotes English… as the only language of power for use in high-status functions, necessarily at this moment and for the foreseeable future excludes the vast majority of ‘the common people’ from the most important decision-making processes, marginalises and disempowers them, and ultimately undermines the very democracy South Africans pride themselves on having attained.’

 

 Glibberige begrip
Die uitdaging wat iemand soos Alexander in die gesig staar, is dat wat hy met rasionele argumente betoog moeilik hond haaraf maak teen ’n strategie van raming of ‘framing’, wat op ’n subliminale, eerder as rasionele, vlak funksioneer. Wanneer Suid-Afrikaners die woord ‘transformasie’ hoor, dink hulle onwillekeurig aan pro-swart diskriminasie. Die strewe na ’n beter, meer gelyke en menswaardige samelewing word sodoende met slegs een moontlike model van sosiale verandering verbind, sodat ’n debat oor hóé die samelewing omvorm moet word byna onmoontlik word. Die raam van ‘transformasie’ laat eintlik net ruimte vir vrae soos: Is jy daarvóór of daartéén? Kies jy vir transformasie of stagnasie? Streef jy na ’n beter toekoms of hunker jy terug na die verlede?

 

Ander rame wat daartoe bydra, is ‘regstellende aksie’ (‘affirmative action’) en ‘swart ekonomiese bemagtiging’. Soos met ‘transformasie’ word die spesifieke strategieë waarna hiermee verwys word so nou met positiewe waardes soos regstelling, affirmasie en bemagtiging verbind dat dit byna onbehoorlik word om dit te opponeer, want wie kan nou teen sulke lofwaardige ideale wees?

 

Raming kom ook van die kant van sommige teenstanders van ‘transformasie’. Hulle pleit dikwels vir ’n klem op ‘meriete’ eerder as ras. Die woord ‘meritokrasie’ word ook gebruik. Die gedagte is dat mense aangestel, tot studie toegelaat of beurse gegee, moet word, nie op grond van ras nie, maar op grond van meriete. Maar soos ‘transformasie’ is meriete ’n glibberige begrip. Wat beteken dit? Moet dit op bekwaamheid dui? Hoekom dan nie van bekwaamheid praat nie? ‘Meriete’ het ondertone van verdienste, selfs inherente gehalte. Die suggestie is dat swart mense wat vooruitkom in die lewe dit nie verdien nie, of nie oor die kwaliteite en bekwaamhede beskik om hul werk te doen nie. In sekere kringe – byvoorbeeld die wit middelklas – slaag ’n term soos ‘meriete’ goed daarin om die transformasie-problematiek ’n sekere kleur (ekskuus vir die woordkeuse) te gee, maar dit slaag nog nie daarin om die voorstanders van ‘transformasie’ in ’n hoek te druk nie.

 

Identiteit versus geregtigheid
Negatiewe raming – hier kom die Engelse ‘framing’, in die sin van ‘vir ’n skurk uitmaak’, werklik tot sy reg – kom ook voor. So word wit, manlike Afrikaanssprekende voorstanders van veeltaligheid ‘taalbulle’ genoem. ’n Bul is ’n groot, lomp, stomme dier wat (soos in die Engelse spreekwoord) heel onsensitief ’n ‘China shop’ binnestorm. Hy is manlik en aggressief. So is (volgens die raam) ook diegene wat die oorheersing van Engels teenstaan. Hulle is (natuurlik) teen transformasie, hunker terug na die verlede en is heimlike rassiste. Wie wil nou met sulke mense geassosieer word? Die ‘taalbulle’-raam is uiters suksesvol. Dit maak dat die talle swart en vroulike voorstanders van veeltaligheid hulle versigtig en terughoudend daaroor uitspreek (ten minste in die openbaar), sodat hul stemme nouliks impak maak. Wanneer sommiges dit tog waag om hulle ondubbelsinnig daaroor uit te spreek, word hulle óf geïgnoreer (dit wat nie in die raam pas nie, word misgekyk), óf daarvan verdink dat hulle deur die ‘taalbulle’ gekoöpteer of misbruik word. Vanselfsprekend veroorsaak die raam ook dat wit mans – die ‘taalbulle’ par excellence – niks kan sê of doen om aan die ‘taalbul’-stigma te ontsnap nie.

 

In die algemeen word die taalkwessie so geraam dat dit enige energieke taalaktivisme uit die staanspoor verdag laat lyk. Taal – of meer presies: ander tale as Engels – word outomaties met identiteit, kultuur en etnisiteit verbind. Natuurlik word dan gesê dat hierdie sake belangrik is, maar onmiddellik ook bygevoeg dat probleme soos armoede, werkloosheid en aansteeklike siektes prioriteit moet geniet. Wie kan – as die raam van ‘identiteit versus geregtigheid’ eers aanvaar word – nie met dié prioritisering saamstem nie? Buitendien dra die begrippe ‘identiteit’, ‘kultuur’ en ‘etnisiteit’ reeds negatiewe assosiasies in ’n land waar dit in die verlede as politieke rame misbruik is. Dat taalbeleid dalk juis ’n geregtigheidskwessie is en alles met die stryd teen armoede, werkloosheid en aansteeklike siektes te make het, is ’n moontlikheid wat binne hierdie raam nie eens oorweeg kan word nie. Nog rame, waarby ek nie hier kan stilstaan nie, is ‘nasiebou’, ‘patriotisme’, ‘versoening’, ‘diversiteit’ en ‘diensbillikheid’.

 

Kan rame teengegaan word sonder om bloot nuwe misleidende en eensydige rame in hul plek te plaas? Miskien lê deel van die antwoord daarin om die breë publiek toenemend bewus te maak van wat rame is en hoe hulle werk. Of is dít net nog ’n raam?

 

Gerrit Brand is als senior lector systematische theologie verbonden aan de Universiteit van Stellenbosch. Hij schrijft deze rubriek op persoonlijke titel.

Nico Smith

Junie 20, 2010 in Sonder kategorie

Die eerste keer dat ek van Nico Smith gehoor het, was toe ek ’n berig oor hom in, ek dink, die Vrye Weekblad gelees het. Wat ’n heerlik verfrissende, subversief-bevrydende ervaring om as jong teologiestudent oor so ’n anderster dominee te lees – een wat sonder om doekies om te draai teen die bestaande politieke orde praat en ook daad by die woord gevoeg het deur sy akademiese pos aan die Universiteit Stellenbosch (US) se fakulteit teologie prys te gee en ’n beroep na die township Mamelodi buite Pretoria te aanvaar. Meer nog: om self in die township te gaan woon – destyds iets ondenkbaars, en boonop onwettigs, vir enige wit mens. By die artikel was ’n foto van ’n man met langerige hare, ’n armband (’n armband!) en so ’n wrang dog vrolike, lewensomhelsende laggie. En so wás Nico.

 

Later sou ek ook die boek Wit Afrikane?, wat deur ’n klompie jong intellektuele, onder andere Nico se skoonseun Murray Hofmeyr, saamgestel en aan Nico opgedra is. Dit het my sterk onder die indruk gebring van hoeveel jong Afrikaners se denke en lewenshouding ten goede deur Nico beïnvloed is.

 

My eerste persoonlike ontmoeting met hom was aan huis van sy dogter Lientjie en skoonseun Murray in die Thathevondo-woud naby Thohoyandou in Limpopo, waar ons ook toe ’n tyd lank gewoon en gewerk het. Hulle het op die stoep gesit toe ons kom hallo sê. Hy het presies soos in daardie foto gelyk. Toe ek ’n sigaret aansteek, het hy ook vir een gevra. (’n Paar jaar later het hy ’n keer toe hy weer ’n sigaret by my geneem, en ek hom uitgevra, het oor hoekom ek hom dan so selde sien rook, verduidelik dat hy glo alle plesiere moet in matigheid geniet word; hy was gekant teen geheelonthouding. As eksroker wens ek vandag nog dat ek dit, soos hy, kon regkry om net soms te rook!) Hy het daardie dag baie gepraat en baie gelag. Hy het my ook sterk aangeraai om die geleentheid wat toe pas my kant toe gekom het om in Nederland by sy vriend Vincent Brümmer my doktorsgraad te gaan doen, aan te gryp.

 

Ek en my vrou was op daardie stadium lidmate van die Verenigende Gereformeerde kerk Tshilidzini in Thohoyandou, wat toevallig deur Nico opgerig is. Sy vrou, Ellen, het as dokter die hospitaal wat vandag nog die belangrikste in die omgewing is, begin. Nico het baie gelag oor die manier waarop dit alles gebeur het: Hulle was op pad terug van die Krugerwildtuin toe hulle deur die omgewing gery en die roeping gevoel het om as sendelinge daar betrokke te raak. Deur kontak met Hendrik Verwoerd via dié se skoonseun Carel Boshoff is die stuk grond in die Venda-“tuisland” vir die sendingstasie aan hulle beskikbaar gestel. Ja, die hele sending is onderneem binne die denkraamwerk van ’n kombinasie van apartheidsdenke en piëtisme. Dit is juis op grond van hierdie sendingervaring dat Nico later professor in sendingwetenskap aan die US geword het. En ywerige lid van die Broederbond. Maar dit is ook vanuit dieselfde ervaring – sowel in Venda as in Stellenbosch – dat hy mettertyd tot radikaal ander insigte gekom het.

 

Een bekende storie is dat Nico, kort na hul aankoms, deur ’n groep Duitse sendelinge en hul gemeentelede verwelkom is. Toe dit middagetetyd word, het Nico eenkant gestaan omdat hy geglo het dis verkeerd dat wit en swart saam eet. Een van die Duitse vroue wat verstaan het (maar sekerlik nie goedgekeur het nie) hoe destyds se Afrikanernasionaliste se koppe werk, het sy ete vir hom buite toe geneem. Toe Nico later hieraan teruggedink het, het hy hom diep daaroor geskaam. Dit was dan ook die inspirasie vir een van sy wonderlikste inisiatiewe as predikant in Mamelodi: Koinonia, ’n aksie om gereeld wit en swart mense saam te laat eet – ’n radikaal kritiese praktyk in daardie tyd en myns insiens een van die beste vergestaltings van wat die Nagmaal veronderstel is om te wees.

 

Toe ek eenkeer uit Nederland op besoek in Suid-Afrika was, het ek vir Nico op sy plot buite Pretoria gaan besoek om met hom oor my proefkrif in wording te praat. Hy was toe professor in sendingwetenskap aan Unisa. Hy het my op die plot rondgewys – onder meer die ou klipkraal wat hy daar ontdek het en aan die heroprig was. Twee mans was ook besig om ’n tradisionele Afrika-hut te bou – volgens Nico se instruksies – wat hy as ’n verblyfplek vir oorsese besoekers wou aanwend. Nico het geweet hoe om planne op te trek, fondamente te grawe en messelwerk te doen – nie net in letterlike sin nie.

 

’n Voorbeeld hiervan was sy toetrede tot die toerismebedryf, gemotiveer deur verhale wat hy gehoor het oor die onkritiese en selfs rassistiese manier waarop sommige wit toergidse Suid-Afrika aan buitelandse toeriste beskryf het. Hy was ook besorg oor die feit dat byna geen swart toergidse al die bedryf betree het nie. Sy plan was om jong aspiranttoergidse saam met hom op sy reise te neem en hulle sodoende te help oplei. Alles wat Nico gedoen het, was gemik op die bestryding van onreg en die herstel van mense se waardigheid. Hy was ’n baie suksesvolle en populêre toergids.

 

By die verdediging van my proefskrif in Utrecht was Nico as medepromotor teenwoordig. Ek het die eer gehad om ’n vraag deur hom, in Afrikaans, te beantwoord – ook in Afrikaans. Dis vir my ’n enorme eer dat sy naam voor in my proefskrif pryk. Ná die promosieplegtigheid het ek aan huis by Vincent en Jean Brümmer ’n geselligheid vir my promotore, medestudente en vriende in Nederland gehou. Nico het die pap gemaak en die vleis gebraai terwyl hy tong in die kies vir die Nederlanders verduidelik oor “minerale-soute” (bloed) en ander braaiterme en -reëls – iets waaraan alle teenwoordiges my nog steeds dikwels herinner. Nico was ’n warm, opgewekte, joviale mens met ’n wonderlike sin vir humor.

 

Daarna het ek en my gesin die voorreg gehad om hom dikwels ook op sosiale vlak te ontmoet. Ek en hy kon gereeld oor sake van die dag praat – kerklike gebeure (veral die hartseer onwilligheid van die NG Kerk, mý kerk, om die Belydenis van Belhar as belydenisskrif te aanvaar), teologiese ontwikkelings (Nico het altyd op datum gebly met die nuutste denkrigtings), politieke gebeure en so meer. Wat my altyd weer van hom getref het, is hoe hy sy skerp kritiese opmerkings, vertellings en argumente kon kombineer met ’n egte respek en waardering ook vir sy politieke en teologiese teenstanders. My indruk is dat hy nooit iemand gehaat het of ’n persoonlike wrok teen iemand gekoester het nie. Baie mense het sy uitlatings en optredes – onder meer sy onlangse boek oor sy jare in die Broederbond – as ’n uitdrukking van bitterheid gelees, maar wie hom persoonlik geken het, het geweet dis nie waar nie. In hierdie opsig was en is Nico vir my ’n inspirerende voorbeeld van “die waarheid in liefde praat” (Ef. 4).

 

Wat dit betref, kan ek met vrymoedigheid, selfs in ’n huldeblyk, sê dat ek oor baie dinge met Nico verskil het. Vir die taalaktivisme waarby ek intens betrokke was en is, het hy nie ooghare gehad nie. Oor sy idee dat die NG Kerk deur regsaksie gedwing moet word om met die VGK saam te smelt, was ek nie te spreke nie – nie net sou so ’n aksie nooit kan slaag nie; dit is ook ongewens. Sy onlangse betoog dat wit mense, en Afrikaners in die besonder, nie so skerp krities oor die huidige regering en die toestand van die land moet wees nie omdat dit die wrewel teenoor wit mense sou opjaag en selfs tot rassegeweld kan lei, vind ek misplaas. Sy skeptisisme oor die blywende relevansie van die Gereformeerde tradisie deel ek hoegenaamd nie. Ook nie sy oorwegend positiewe beoordeling van (wat my betref) oppervlakkige “vernuwende” bewegings in die teologie, soos die “Nuwe Hervorming” en die Jesus-seminaar nie. Ek het soms die indruk gehad dat Nico baie hedendaagse debatte en konflikte steeds vanuit sy weerstand teen die destydse hegemonie van Afrikanernasionalisme benader en bedink het.

 

Die wonder van vriendskap is egter dat ’n mens oor baie dinge kan verskil – nee, móét verskil – in ’n gees van wedersydse respek, agting, waardering en openheid. Waar ons saamgestem het, het hy my intellektueel onderskraag; waar ons verskil het, het hy my geslyp en selfkrities gehou. Aan sy opregtheid en integriteit het ek nooit getwyfel nie, en sy ruimhartigheid het my laat voel dat ek sonder skroom my gedagtes – spesifiek ook my kritiese gedagtes teenoor sommige van sy standpuntnames – met hom kon deel.

 

Iets waarvoor ek hom altyd gerespekteer het, is die manier waarop hy steeds, as ’n saak van beginsel, na homself as ’n Afrikaner verwys het – nie uit nasionalistiese trots nie (daaraan sou ek ’n afkeer hê), maar juis omdat hy nie die maklike, goedkoop opsie gekies het om deur ’n ontkenning van sy Afrikanerskap aan die problematiese aspekte van sy erfenis, en aan die verantwoordelikhede wat dit meebring, te ontsnap nie. Ek bly skepties oor Afrikaners wat so graag benadruk dat hulle nie Afrikaners is nie, en hulself sodoende op die skouer klop. Nico het daardie skeptisisme gedeel.

 

Iets soortgelyks het sy gesindheid teenoor die NG Kerk gekenmerk. Hy het my eenkeer vertel die enigste rede hoekom hy hom, ook as VGK-ampsdraer, steeds by die NG Kerk betrokke bly voel het – ten spyte van dié kerk se “hoerering” met ’n onbybelse, anti-evangeliese apartheidsteologie – is “dat ’n mens se ma jou ma bly, ook al word sy ’n prostituut”. Dit mag vir sommige mense kras klink, maar vir my het daar altyd ’n groot diepsinnigheid in geskuil: Die NG Kerk was Nico se “ma”, het aan hom geboorte gegee. Op ’n wonderlike manier, en langs ’n vreemde, misplaaste pad – onder meer via die verwronge sendingmotiewe wat hy op ’n tyd gekoester het – het hy gegroei tot iemand wat teologies ver van die destydse NG Kerk staan, maar wat nietemin die begin van sy weg steeds na dié moeder kon terugvoer. Dit sluit aan by die manier waarop hy oor hierdie weg gepraat het: nooit as iemand wat homself as ’n morele held of dapper denker gesien het nie, maar as iemand wat deur kragte buite sy beheer in ’n bevrydende rigting gestuur is. As sodanig was sy lewe ’n uitmuntende illustrasie van “regverdiging” en “heiligmaking” uit God se genade alleen.

 

Verlede jaar was Nico en Ellen in Stellenbosch vir ’n kongres ter viering van die fakulteit teologie se 150-jarige bestaan. ’n Mens kon sien dat hy oud geword het, maar dieselfde lewenslustigheid, warmte, opgewektheid en humor was nog voluit teenwoordig. Nico het pas verneem dat ek as dosent by die fakulteit aangestel is en was hartlik bly en opgewonde daaroor. Hy was bekommerd oor die feit dat so min jong teoloë in Suid-Afrika die Afrikateologie ernstig opneem, en het my aangespoor om die bietjie werk wat ek op dié terrein gedoen het voort te sit. Soos altyd was dit sommer net lekker om vir hom en Ellen te sien.

 

Ek mis al klaar vir Nico, maar ek weet ook dat ek, en letterlik duisende ander mense uit ’n verstommende verskeidenheid agtergronde, hom altyd net met vreugde en dankbaarheid, en met ’n glimlag, sal onthou.

 

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Die jeug van vandag?

Junie 15, 2010 in Sonder kategorie

Vanoggend hoor ek op die radio ’n gesprek met ’n groepie “jong mense” (dis nou volwassenes wat graag nog sekere voordele van kinderskap vir hulself opeis). Soos mens kan verwag, kla hulle oor die feit dat hul “stem nie gehoor word nie”, dat politieke leiers nie hul (die “jeug”) se belange dien nie, en dat hul sienings en ervarings nie ernstig opgeneem word nie. Hulle praat ook oor die nasionale jeugkommissie wat nie goed werk nie, die party-jeugligas (veral die ANC-jeugliga) wat nie regtig namens hulle praat nie en so meer.

Wag ’n bietjie, dink ek toe. Toe ek laas gehoor het, het die meerderheid stemgeregtigde Suid-Afrikaners (of dan ten minste ’n baie noemenswaardige deel van die kieserskorps – kan iemand dalk met die syfers help?) juis tot die bevolkingsgroep genaamd “jong mense” behoort. Dit beteken dat hierdie einste “jong mense” die huidige regering gekies het – by die stembus. Om uit vrye wil iemand as jou verteenwoordiger aan te wys en dan te kla dat hy of sy jou nie verteenwoordig nie, klink vir my te dik vir ’n daalder. Ja, natuurlik is daar “jong mense” wat nie vir die huidige regerende party gestem het nie, maar die oorgrote meerderheid het wel (of het buite stemming gebly, wat op dieselfde neerkom) – anders sou daardie party nie meer die regerende party gewees het nie, of hoe? Dis so obvious dat dit al ’n cliché geword het: In ’n demokrasie kry die bevolking die regering wat hulle verdien.

Wat meer is: daar is niks wat die klaende “jong mense” daarvan weerhou om self tot die politiek toe te tree nie – hetsy deur by ’n jeugliga aan te sluit of deur in ’n verkiesing te staan. Wat dit betref het die “jeug” geen nadeel teenoor ander Suid-Afrikaners nie. Waarom dan kla? Wat die jeugkommissie betref: dit lyk vir my na ’n volslae mors van geld en energie. Juis so ’n kommissie is in wese neerbuigend en stuur die boodskap uit dat die jeug nie op gelyke vlak met ander landsburgers ernstyig opgeneem kan word nie. Skrap dit en laat die jeug hulself organiseer as hulle regtig wil.

Ek moet ook sê: Die verteenwoordigers van die party-jeugligas wat op die program saamgepraat het, het my nie beïndruk nie. Hulle klink soos lede van ’n junior stadsraad – asof hulle met speel besig is eerder as met regte politiek. Om te dink dat die jeugliga van dekades gelede, toe onderwysgeleenthede baie beperk was, mense soos Nelson Mandela opgelewer het. Daardie “jeug” het die ANC oorgeneem en in ’n nuwe rigting gestuur.

Laastens is in die radiogesprek gereageer op sekere inkomende SMS’e en e-posse (ek belowe dit was nie van my nie!) wat neerhalend na die gespreksdeelnemers as “coconuts” (donker van buite, wit van binne) verwys. Ek keur dié benaming nie goed nie, maar kan ook nie saamstem met die “jong mense” op die program se reaksie daarop nie.

Die kern van die betrokke luisteraars se klag was dat die radiogespreksgroep nie verteenwoordigend van die “jeug” in Suid-Afrika is nie. Vir wie net kleure tel, sou dit na ’n vreemde klag lyk, want daar was swart, wit en bruin deelnemers (die Indiër-“jeug” sou seker wil kla …). Maar kleur is nie alles nie. Al die deelnemers aan die gesprek is uit voormalig wit en meestal privaatskole afkomstig en praat foutlose Engels.

Hul reaksie op die kritiese luisteraars was dat mense nie na hul aksent moet luister nie, maar na wat hulle sê, en dat dit onbillik is om hulle te kritiseer omdat hulle vooruitgekom het in die lewe. Toegegee, maar dit neem niks weg van die eenvoudige feit dat hulle nie verteenwoordigend van die “jeug” in SA is nie. Die oorgrote meerderheid “jong mense” in die land kan nie Engels praat om hul lewe te red nie (letterlik) en is produkte van hopelose township-skole. As die meer bevoorregte jonges van alle rasse (en hulle ís bevoorreg, of hulle dit wil weet of nie) hul “stem wil laat hoor”, kan hulle gerus in opstand kom teen ’n diskriminerende onderwysstelsel waarin die meerderheid wit leerlinge en studente in hul moedertaal kan leer, terwyl die meerderheid swart studente nie dié reg gegun word nie en as gevolg daarvan nie hul potensiaal kan vervul nie.

As dosent werk ek daagliks met groot plesier met “jong mense”. Wat ek hierbo sê, bedoel ek nie veralgemenend nie. Ek bedoel dit wel teenoor daardie “jong mense” wat alewig kla omdat hulle “nie na geluister word nie”, terwyl dit in werklikheid hulle self is wat hulle nie ernstig opneem nie. Hou op kla en doen julle ding!

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Julie Claassens oor Dorothy Irene Height en menswaardigheid

Junie 10, 2010 in Sonder kategorie

Julie Claassens is vandeesmaand se essayis. Sy skryf oor “Menswaardigheid en die peetma van die Civil Rights-beweging in die VSA: Dorothy Irene Height (1912-2010)”. Julie is een van daardie voorste akademici wat amper na Amerika afgerokkel is, maar gelukkig nou in Suid-Afrika ’n vaste plek gekry het. Lees gerus wat sy skryf en gesels hier saam daaroor. Julle gaan nog baie van haar hoor!

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Christene wat nie in God glo nie?

Junie 9, 2010 in Sonder kategorie

Jan Sheppard doen op Facebook ’n baie interessante en oorspronklike stukkie dinkwerk. Hy skryf:

“Daar is nog ‘n derde groep, ons wat nie glo in enige God nie maar nog Christelik is. Christelik nie omdat ons glo dat Jesus liggaamlik opgestaan het nie maar omdat sy lewe op aarde so ‘n groot invloed op die mense se leefwêreld gehad het wat na 2000 jaar nog kragtig is.

“Ons ongelowige Christene voel tuis tussen Christene 6 dae van die week, net die gedeelte waar hulle die kerkding doen sny ons uit ons lewens en selfs daar kan ons ‘n bruggie oorbou en vir jare daarmee saamleef…

“Ek weet dat mense verklaar dat jy nie ‘n ongelowige Christen kan wees nie, ek weet ook dat ek en baie ander presies dit is.
Ons is geneig om ‘n leemte binne ons te vul, dinge wat ons nie verstaan nie moet aan iets toegedig word laat ek dit die x-faktor noem, Christene noem dit God, Moslems noem dit Allah…”

Waarom ek toe, vir wat dit werd is, antwoord:

Wat my altyd opval, is dat mense praat oor of God bestaan sonder om duidelik te maak wat met ‘God’ bedoel word.

“Die woord ‘God’ kan as soortnaam of as eienaam gebruik word. As eienaam verwys dit na wat Pascal genoem het ‘die God van Abraham, Isak en Jakob’ (teenoor ‘die God van die filosowe’), die persoonlike, handelende God van die Bybel, dus.

“As soortnaam verwys ‘God’ na wat die teoloog Paul Tillich ‘die grond van die syn’, en die godsdiensfilosoof Vincent Brummer die ‘primere sinsdeterminant’, noem: God as die mees werklike en die mees waardevolle. ‘n ‘Ateis’ soos Richard Dawkins vra byvoorbeeld die klassieke vraag: ‘Hoekom is daar iets en nie niks nie?’ (waaraan mens kan toevoeg: ‘Hoekom is dit soos dit is en nie anders nie?’), en antwoord dan dat dit ‘n misterie is. In daardie konteks praat hy selfs van ‘n ateistiese mistiek. So gee hy dan (al wil hy nie!) eintlik toe dat daar ‘n ultieme werklikheid is: die misterie van wat ook al agter alles sit. Dit is waarheen die woord ‘God’ as soortnaam verwys.

“Dit bly vir my ‘n vraag of dit selfs logies moontlik is om te ontken dat God in hierdie sin bestaan. ‘God’ as soortnaam dui op ‘n ontologiese ‘amp’, as jy wil. Natuurlik vul elkeen daardie ‘amp’ met ‘n spesifieke voorstelling van wie of wat dan nou daardie ‘amp’ – die ‘amp’ van die mees werklike en die mees waardevolle – beklee. En wanneer na hierdie bekleder van die ‘amp’ met die woord ‘God’ verwys word, word ‘God’ nie meer as ‘n soortnaam nie, maar as ‘n eienaam, gebruik.

“Die Joods-Christelik-Islamitiese tradisie, waartoe die mens Jesus behoort, gee een antwoord daarop: JHWH is God; JHWH is die mees werklike, die mees waardevolle. Volgens Jesus self, en volgens sy getuies en volgelinge, word ons in hom met hierdie einste God gekonfronteer. Enigiemand wat glo dat die ultieme, die absolute, die hoogste werklikheid in Jesus sigbaar en beliggaam word, glo dus ook in JHWH soos Jesus JHWH verstaan het, glo dus dat JHWH, die Vader van Jesus, die Gods-‘amp’ beklee.

“Maar ook diegene wat nie die God van Israel, Jesus en die kerk as die mees werklike en die mees waardevolle beskou nie – wat nie glo dat hierdie persoonlike, handelende God bestaan nie; of meer presies: wat nie glo dat die grond van die syn persoonlik en handelend is nie – het nog steeds ‘n Godsbegrip. Daardie Godsbegrip kan meer of minder duidelik omskrewe wees: van Plato se hoogste idee en Aristoteles se eerste oorsaak tot Kant se postulaat van die praktiese rede of Dawkins se misterie.

“Wat meer is: ook al word die ‘amp’ (die soortnaam) in die gedagtes van ‘n ‘ateis’ nie gevul (die eienaam) nie, kan so iemand nie daarvan wegkom om van dag tot dag te leef, besluite te neem, te beslis waarmee om rekening te hou of wat om waardevol te ag nie. ‘n Mens se gedrag en beslissings word, of jy dit nou wil weet of nie, deels bepaal deur sekere aannames oor wat die werklikste en die waardevolste is, oor wie of wat die Gods-‘amp’ beklee.

“En wat beteken ‘glo’? Dit beteken ‘om te leef vanuit die aanname dat …’. Wie leef vanuit die aanname dat in Jesus die werklikste en die waardevolste ontdek word, glo dat die hoogste en die werklikste soos Jesus is. So iemand is ‘n Christen – een wat, soos alle mense, in God glo en wat boonop ‘n spesifieke, Joods-Christelik-Islamitiese invulling aan daardie ‘amp’ gee. Of so iemand nou wil toegee dat dit so is of nie, verander daar niks aan nie.”

En in ’n tweede ronde byvoeg:

Nog iets: Ek kan verstaan dat jy en baie andere ‘nie … glo dat Jesus liggaamlik opgestaan het nie’, maar Christelik is ‘omdat sy lewe op aarde so ‘n groot invloed op die mense se leefwêreld gehad het wat na 2000 jaar nog kragtig is’. Natuurlik is ‘n liggaamlike opstanding moeilik om te glo!

“Maar onthou wel dit: As Jesus se dissipels nie daarvan oortuig was dat hy liggaamlik uit die dood opgestaan het nie, sou sy lewe nie ‘so ‘n groot invloed op die mense se leefwereld gehad het’ nie. Selfs Nuwe-Testamentici wat, soos jy, die liggaamlike opstanding te dik vir ‘n daalder vind, soos John Dominic Crossan, stem saam dat, sonder die oortuiging dat so ‘n opstanding plaasgevind het, die voortgaande getuienis oor, en aanhang van, Jesus nie verklaar kan word nie. Wat Jesus op morele vlak geleer het, was immers glad nie so uniek in die Joodse konteks van destyds nie, en vanuit die kruis gesien, was Jesus ‘n mislukte messias. Soos Tom Wright uitwys: daar was meerdere aanspraakmakers op messiasskap, en telkens het hul dood, ook in die oe van hul volgelinge, bewys dat hul aanspraak vals was. In die geval van Jesus het daar na sy dood iets gebeur wat sy volgelinge laat oordeel het dat hy opgestaan het en daarmee as messias en Here bevestig is.

“Hiervan was hulle so seker dat hulle bereid was om openlik die keiser se aanspraak op ampte soos ‘seun van God’ en ‘Here’ teen te spreek, die opstanding van iemand wat deur die Romeine as oproermaker ter dood veroordeel is te verkondig en daarvoor enige prys, selfs marteling en dood, te betaal. Ook dit vra om ‘n verklaring. Natuurlik bewys dit nie die opstanding nie, maar ‘n werklike liggaamlike opstanding verklaar dit wel goed. Aan die ander kant is geen oortuigende alternatiewe verklarings nog aangebied nie.

“Maar goed, baie historiese feite kan (nog) nie verklaar word nie. Boonop stem ek saam met die wetenskapsfilosofiese benadering waarvolgens “bonatuurlike” verklarings nie in die geskiedswetenskap oorweeg kan word nie. Maar let op: in die geskiedenis is hierdie ‘metodologiese naturalisme’ ‘n uitgangspunt, ‘n vertrekpunt, ‘n aanname, en nie ‘n resultaat van navorsing nie – as dit laasgenoemde was, was die argument sirkuler en daarom ongeldig. So uiteindelik kom dit neer op ‘n niewetenskaplike beslissing: Gaan ek leef vanuit die aanname dat die getuienis oor Jesus se opstanding waar is en al die implikasies daarvan? Self vind ek dat so ‘n ‘leef vanuit’ die lewe ryker, sinvoller en hoopvoller maak, en mens (in Tillich se frase) by uitstek die ‘courage to be’ gee – selfs al sou dit uiteindelik blyk dat die uitgangspunt foutief was.”

Ek wag nog op Jan se reaksie (as hy wil reageer). As dit inkom, sal ek dit hieronder as kommentaar plaas. (Jan, jy kan dit natuurlik self ook doen.)

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Teenhegemoniese onderwys?

Junie 8, 2010 in Sonder kategorie

Aan die Universiteit Stellenbosch (US), waar ek werk, is ’n gesprek oor die “pedagogie van hoop” aan die gang. Hierdie frase, waarmee die huidige rektor, Russel Botman, sy termyn ingelui het, resoneer met die eerste oogopslag met Paulo Freire se klassieke Pedagogie van die Verdruktes, waarin vir ’n teenhegemoniese onderwys gepleit word. Die gesprek aan die US gaan egter juis oor die vraag of “pedagogie van hoop” in die hierdie rigting verstaan moet word. Sommige deelnemers aan die gesprek is skrikkerig vir wat hulle as ’n alte “ideologiese” verstaan van Botman se ideaal beskou, terwyl ander weer vrees dat dié ideaal tot ’n blote bemarkingslagspreuk kan vervlak as dit nié met die Freire-tradisie verbind word nie. Ek behoort tot laasgenoemde groep.

Terselfdertyd is ek betrokke by die gesprek oor ’n Vrye Afrikaanse Universiteit, daardie “mal idee” (sy eie woorde) van Christo van der Rheede wat soveel aanklank gevind het, nie net by Afrikaanssprekendes nie, maar ook in Nederland en Vlaandere. Ook hierdie ideaal is van die begin, veral deur Breyten Breytenbach en Neville Alexander, as teenhegemonies vertolk. Daarom die woord “vrye”, wat nie net gratis (en daarom inklusief en bemagtigend) beteken nie, maar ook vry – van staatsbeheer, winsbejag en heersende ideologieë. Die idee is nie net om gehalte-universiteitsopleiding in Afrikaans te gee en die bemeestering van ander Afrikatale deel van daardie opleiding te maak nie, maar ook om ’n nierassige Afrikaanse “intellektuele klas” tot stand te bring en ’n onafhanklike kritiese diskoers in Afrikaans te stimuleer.

Maar is die ideaal van ’n doelbewus teenhegemoniese onderwys verdedigbaar?

Op sy New York Times-blog skryf Stanley Fish onlangs oor nuwe wetgewing in die staat Arizona wat die skoolvak “ethnic studies” verbied vir sover dit uitdruklik daarop gemik is om spesifieke politieke waardes te bevorder. Fish meen hierdie verbod is tereg, maar spreek hom ook krities uit oor die bewoording van die wetgewing, wat weer bepleit dat kinders op skool geleer moet word om mense as individue te beskou en te respekteer. Hy noem die geskil hieroor tussen die wetgewer en die Mexican American Studies Department “a clash between two bad paradigms”.

Fish se betoog is helder en moeilik om te weerlê. Hy skryf onder meer: “To be sure, the knowledge a student acquires in an … course that stays clear of indoctrination may lead down the road to counter-hegemonic, even revolutionary, activity; you can’t control what students do with the ideas they are exposed to. But that is quite different from setting out deliberately to produce that activity as the goal of classroom instruction.”

Hy verwys ook na die standpunt van ’n bekende politieke wetenskaplike: “James Bernard Murphy has been arguing for years that teaching civic virtue is not an appropriate academic activity, both because schools are not equipped to do it and because the effort undermines the true function of education — ‘enthusiasm for the pursuit of knowledge’ — and even corrupts it. Teaching students either to love or criticize their nation, Murphy wrote in The Times in 2002, ‘has all too often prompted textbook authors and teachers to falsify, distort and sanitize history and social studies.’”

Ek stem saam met Fish en Murphy. Ek dink nie dis skole en universiteite se taak om die toeëiening van sekere waardes of oortuigings as uitkoms van hul onderrig na te streef nie. Daarom dink ek ook dis ’n fout dat, in ons skoleleerplan, godsdiensonderrig, benewens onderrig óór die verskillende godsdienstige tradisies, ook daarop gemik is om sekere gesindhede jééns ander godsdienste by leerlinge te kweek, en is ek gekant teen curricula, ook op universiteitsvlak, wat goeie burgerskap of iets dergeliks wil bevorder. Dit kan nie as ’n onderdeel van suksesvolle leer beskou word dat ’n leerling of student sekere waardes of oortuigings geïnternaliseer het nie. Waar dit gebeur, vind indoktrinasie plaas.

Vanwaar dan my steun vir teenhegemoniese onderwys? Wel, ek dink dat enige onderwysinstelling wat onbevange daarop gerig is om kennis en insig te genereer en oor te dra vanself teenhegemonies sal funksioneer, omdat so ’n instelling nie die heilige politieke en ideologiese koeie van sy plek en tyd sal ontsien nie. Ook die ongemaklike waarhede sal vertel, en ongemaklike standpunte geanaliseer, word. In ’n konteks waar universiteite tussen korporatisering aan die een kant en gedienstigheid aan die staat andersyds gevang is, is dit ’n baie dapper en moeilike ideaal om na te streef.

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Het Suid-Afrika wêreldvreemde kerke nodig?

Junie 6, 2010 in Sonder kategorie

My jongste Brandpunte-rubriek in die Nederlandse Maandblad Zuid-Afrika:

 

Hoe moet geloofsgemeenskappe in Suid-Afrika hulle teenoor die staat en die breër maatskaplike konteks verhou? Gesien die feit dat die oorgrote meerderheid Suid-Afrikaners met die een of ander georganiseerde godsdienstradisie identifiseer – met die meeste wat hulself as Christen beskou – is dit ’n vraag waaraan ontleders van die Suid-Afrikaanse samelewing nie kan ontsnap sonder om ’n sleutelfaktor mis te kyk nie.

 

In sy boek The Tenderness of Conscience wys die teoloog en politikus Allan Boesak onder meer daarop dat historici en ander sosiaal-wetenskaplikes dikwels die enorme rol wat godsdienstige, en met name Christelike, motiverings in sowel die stryd teen, as die regverdiging van, apartheid gespeel het onderskat en daardeur noodwendig ’n wanvoorstelling van die verlede gee.

 

Plek in die samelewing?
Terselfdertyd was en is die maniere waarop Christelike en ander geloofsgemeenskappe hul plek in die samelewing verstaan baie uiteenlopend: van Jehova-getuies wat hulle heeltemal aan die openbare lewe onttrek tot groeperings uit verskillende kerklike denominasies wat ’n soort burgerlike godsdiens, ’n godsdiens ter onderskraging en legitimering van die staat, beoefen. Laasgenoemde tipe het onlangs opnuut na vore gekom toe, met die seën van pres. Jacob Zuma, ’n groep verteenwoordigers van verskillende godsdienste onder leiding van Ray McCauley, pastoor van Rema, ’n charismatiese megakerk in Johannesberg, byeen geroep is om die regering oor godsdiensverwante sake te adviseer.Die feit dat McCauley skatryk is, dat heelparty ewe welvarende politici uit die regerende party lidmate van sy kerk is en dat hy tydens die laaste verkiesing vir Zuma ’n helde-ontvangs in ’n erediens van dié kerk gegee het – terwyl baie Christene en ander Suid-Afrikaners hulle krities uitgelaat het oor Zuma se openbare optrede (vermeende korrupsie, ondermyning van die regbank, minagting vir die Grondwet) – het, saam met die feit dat die groep wat deur McCauley saamgeroep is alles behalwe verteenwoordigend is, taamlike skeptisisme opgeroep.

 

Wat is mag?
Opvallend is egter dat baie, dalk die meeste, kritici van die Zuma-McCauley-inisiatief minder besorg was oor die gevaar dat geloofsgroepe deur die staat gekoöpteer kan word as oor die feit dat hul eie groep nie ’n ewe oop deur na die presidensie geniet nie. Christene in SA volg toenemend die dominante Amerikaanse kerkbegrip na – nie net wat betref ’n soort voorspoedsevangelie (in SA deur kerkleiers soos McCauley verpersoonlik) nie, maar ook deurdat dit as die ideale stand van sake beskou word as Christene regstreekse toegang tot, en invloed op, politici kan uitoefen. Daaragter skuil ’n taamlik naïewe opvatting van wat mag is en hoe dit werk. Die gedagte is dat, aangesien die staat die meeste mag het, Christene hul ideale vir die samelewing – of dit nou ekonomiese geregtigheid is, soos meer linksgesinde gelowiges bepleit, of meer preutse wette oor pornografie en dergelike persoonlike sondes, soos meer konserwatiewes verlang – die beste kan verwesenlik as hulle ’n mate van beheer oor daardie mag kan kry.Daarby kom dan – nie net tipies Amerikaans nie, maar eintlik tipies Protestants – dat kerke hulle, sonder om te blik of te bloos, in nasionale terme identifiseer. In die VSA pryk die landsvlag, en in SA selfs vandag nog plek-plek die Britse Union Jack, in sommige kerke naas die kruis, maar ook waar dit nie gebeur nie het kerke oor die algemeen geen moeite daarmee om hulself byvoorbeeld die Protestantse Kerk in Duitsland, die Protestantse Kerk in Nederland of die Verenigende Gereformeerde Kerk in SA (VGKSA) te noem nie. Ook in SA is die breedste sinode van kerke soos die Nederduitse Gereformeerde Kerk en die VGKSA nasionaal in omvang; verbande wat wyer as dit strek, heet nie ‘sinode’ nie, maar ‘raad’, ‘alliansie’ of  ‘gemeenskap’, en het geen bindende gesag ten opsigte van lidkerke nie.

 

Maatskaplike rolspeler
Dis asof dit as heel vanselfsprekend geld dat die grense van die kerk met die grense van die nasiestaat saamval. Hoewel die gedagte van ’n volkskerk, soos dit met tye in veral die wit, Afrikaanse Gereformeerde kerke verstaan is, vandag deur die meeste kerke (ook daardie einste wit, Afrikaanse Gereformeerde kerke) afgewys word, bly dit maar ’n vraag of die meeste kerke nie in elk geval in die praktyk soos volkskerke funksioneer nie. In verklarings deur amptelike kerkliggame val dit byvoorbeeld op hoe gemaklik die persoonlike voornaamwoord ‘ons’ eers na die betrokke kerkgemeenskap en dan weer na die nasie verwys, asof die twee nie juis van mekaar te onderskei is nie.Behalwe vir die teologiese beswaar dat hierdie soort selfidentifikasie oënskynlik die kerk se Christelikheid met sy nasionaliteit gelyk stel, kan betoog word dat dit ook geneig is om die kritiese funksie wat kerke in die samelewing sou kan vervul te neutraliseer. ’n Kerk wat homself beskou as ’n ‘rolspeler’ in ’n groter nasionale projek (of dit nou ‘transformasie’, ‘versoening’, ‘demokratisering’ of iets anders is) sal moeilik die soort radikale vrae oor die status quo vra wat deur, byvoorbeeld, die profete van die Ou Testament of deur Jesus en sy eerste volgelinge gevra is – die soort vrae wat tot vervolging van gelowiges aanleiding kan gee. ’n Mens kan jou nouliks voorstel dat, sê maar, Paulus ooit die eerstepersoon-meervoud sou gebruik om nie net na die gemeenskap van gelowiges nie, maar ook na die Romeinse Ryk, te verwys!

 

Ontmaskering van onreg
Kritiese stemme uit die kerke word wel van tyd tot tyd gehoor. Onlangs, byvoorbeeld, het die moderamen van die VGKSA ’n skerp verwoorde verklaring uitgeryk waarin onder meer kommer uitgespreek word oor ‘opruiende uitlatings’ deur politieke leiers (met name die sing van liedjies soos ‘Skiet die Boer’), die ongelyke verspreiding van welvaart in die land en die onvoldoende mate waarin die huidige kiesstelsel egte inspraak aan landsburgers gee en verantwoordbaarheid onder politici bevorder. Dat ’n oorwegend swart kerk só teen die stroom kan ingaan (die oorgrote meerderheid swart kiesers steun immers steeds die tans regerende party), wek bewondering en moet toegejuig word. Dis myns insiens een van die belangrikste kerklike dokumente wat in die laaste tyd die lig gesien het, omdat dit ’n wending van sogenaamde ‘kritiese solidariteit’ jeens die staat na ’n vreeslose en ongekwalifiseerde opstaan vir die evangeliese waarheid, en ’n ontmaskering van onreg, ook in ‘eie’ kring, verteenwoordig.Dit val egter op dat, ook in hierdie dokument, die ‘ons’ nie altyd duidelik tussen kerk en nasie onderskei nie. Daar word dan aan die einde van die dokument gesê dat ‘ons’ (hoeveel onse hierdie bond uitmaak, is uit die teks nie duidelik nie) op die huidige kommerwekkende situasie moet reageer met onder meer ‘organisasie, mobilisasie en demonstrasie’, ‘druk’ en ‘diepte-diskoers, dialoog en lewendige debat’. Dis alles lofwaardige vorms van openbare optrede, maar as die ‘ons’ veronderstel is om na die kerk te verwys, is dit tog vreemd dat hier niks gesê word oor hoe die kerk se eie interne gemeenskapslewe daar moet uitsien nie.

 

Om wêreldvreemd te leef
Is die kerk nie veronderstel om ’n alternatiewe gemeenskap te wees waarin ’n ander dinamika, ’n ander orde, ’n ander ‘koninkryk’, sigbaar en tasbaar word nie? Natuurlik moet rykdom in die breër samelewing meer regverdig verdeel word en moet Christene doen wat hulle kan om dit te laat gebeur, maar is die primêre roeping van die kerke nie om hul eie geld en goed intern meer gelykop te verdeel nie? Is dít nie die radikaalste manier waarop die heersende orde in die wêreld teengegaan en ondermyn kan word nie? Doen die kerke dit? Hoe gebruik die kerke taal? (Die verklaring is, na my wete, net in Engels uitgeryk, wat beteken dat heelparty lidmate van die VGKSA – veral die armstes – dit nie kan verstaan nie.) Hoe gaan die kerk as instelling en die kerk in die gestalte van individuele gelowiges met sy/hul eiendom om? Hoe demokraties en insluitend is die kerk se eie strukture? In hoe ’n mate vind gemarginaliseerde en te na gekome groepe (soos homoseksueles) in die kerk ’n tuiste? Ek stel hierdie vrae nie retories, asof ek die antwoorde reeds vooruit weet, nie, maar omdat ek wil duidelik maak wat, na my mening, belangrike vrae is wat nié in die genoemde kerkdokument gestel word nie.Daar is teoloë soos Stanley Hauerwas en Jonathan Wilson-Hartgrove, wat reken die kerk se eerste taak is nie om die samelewing te (help) hervorm nie, maar om regtig kerk te wees – om self steeds hervorm te word tot ’n andersoortige gemeenskap wat deur sy blote bestaan ’n getuienis teen die heersende orde lewer. Hiervolgens is die goeie nuus nie dat gelowiges geroep word om die koninkryk van die hemel te gaan ‘bou’ nie, maar dat dié koninkryk reeds, soos Jesus dit gestel het, ‘in ons midde’ is. Hoofstroom-kerke het deur die eeue so gewoond daaraan geraak om politieke en ekonomiese mag en invloed te hê dat hulle dalk by ‘sektariese’ groepe soos die Jehova-getuies, by ‘fundamentaliste’ soos die groeiende Pentekostalistiese kerke en by godsdiensminderhede in hul eie omgewing, soos Moslems in Suid-Afrika en
Europa, sal moet gaan leer wat dit beteken om – as ’n politieke daad – ‘wêreldvreemd’ te leef.

 

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Van waar dié vryheid?

Junie 4, 2010 in Sonder kategorie

My jongste Kerkbode-rubriek

Is geloof ’n keuse? Hierdie vraag word opgeroep deur die Christelike oortuiging dat, enersyds, dié wat glo nie daarop kan roem nie omdat hulle dit aan genade te danke het, maar dat, andersyds, hulle wat die genade weerstaan “sonder verskoning” is. Dit lyk teenstrydig, want as dit ’n mens se eie skuld kan wees dat jy iets nié doen nie, is dit sekerlik jou verdienste as jy dit wel doen? En indien jy iets net kan doen as dit aan jou gegee word, kan jy tog nie vir die nalaat daarvan verkwalik word nie?

Die laat-Middeleeuse denker Duns Scotus kom met ’n voorstel: Daar is twee soorte wilsvryheid, formele en materiële vryheid. Formele vryheid is die vermoë van elke mens om vir of teen iets te kies; noem dit maar keusevryheid. Materiële vryheid is weer die vermoë om dit wat gekies word te realiseer; noem dit handelingsvryheid. ’n Gevangene het die formele vryheid om te besluit om uit die gevangenis te stap, maar nie die materiële vryheid om dit te doen nie. Tot sover Scotus.

Ons materiële vryheid (anders as God s’n) is van nature beperk, en dis maar goed so. Daar is egter ’n materiële vryheid waaroor God wil hê mense moet beskik: die vryheid om uit liefde Gods wil te doen. Sonde bestaan daarin dat mense, al bly hul formele vryheid onaangetas sodat hulle kan kies om God te dien, nie in staat is om dié keuse uit te voer nie. Eerstens weet hulle nie wat God wil nie; tweedens is hulle nie in staat om dit te doen nie; en derdens is hul pogings om dit te doen teësinnig.

Verlossing bestaan dan daarin dat God in Christus sy wil bekend maak, as Vader die omstandighede skep waarin ons dit kan doen, en as Gees ons tot die vreugdevolle doen daarvan inspireer en aanvuur. So vind versoening plaas, word vriendskap met God herstel.

Deel van wat God wil, is dat ons hom vertrou, ons op hom verlaat, ons lewensin in vriendskap met hom soek uit die wete dat ons daarvoor gemaak is: “to glorify God and enjoy him forever” (Westminster Shorter Catechism). Oftewel: God wil hê ons moet glo. Maar kan ons geloof kies?

Geloof is ’n lewenswyse, vriendskap met God. As sodanig berus dit op oortuigings aangaande God, byvoorbeeld dat God ons liefhet. Kan iemand wat nie hiervan (of van iets anders) oortuig is nie op ’n dag kies om dit te glo? Sekerlik nie.

Daar is egter ’n ander kant: Al kan ek nie kies om enigiets wat ek graag sou wíl glo te glo nie, kan ek kies om krities oor my oortuigings te besin, openhartig na ander te luister, die moontlikheid te oorweeg dat ek verkeerd kan wees. Indirek kan die manier waarop ek my verstand gebruik, beïnvloed waarvan ek oortuig raak. Ek is dus tog medeverantwoordelik vir wat ek glo.

Daarby kom dat ’n mens nie doodseker oor iets hoef te wees om daaruit te leef nie. Mense gaan verhoudings aan, al twyfel hulle soms of die ander hulle liefhet. Hulle belê hul geld in aandele sonder die waarborg van ’n opbrengs. Netso kan mense besluit om met geloofsuitgangspunte te leef, al twyfel hulle soms oor die waarheid daarvan – iets soos: “Al weet ek nie of dit waar is nie, kies ek om te leef met die hoop dat dit is.”

Al is geloof nie moontlik sonder dat God dit moontlik máák nie, speel menslike keuse ’n rol. Scotus sou sê: al moet die materiële vryheid aan ons geskenk word, maak formele vryheid deel van die geloofsdinamika uit. Waar kom dié vryheid vandaan?

Klik hier vir ’n Kerkbode-nuusberig oor ’n vorige inskrywing op hierdie blog.

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Só moet oor die Malema-verskynsel gepraat word

Junie 2, 2010 in Sonder kategorie

Vandeesmaand se miniseminaar gaan oor die Malema-verskynsel. Ja, daar is al baie oor gepraat, maar oor die algemeen is wat mense daaroor kwytraak maar taamlik sensasioneel en/of oppervlakkig. Wat nodig is, is behoorlike analise. Die deelnamers aan die miniseminaar is die onafhanklike kommentator Henry Jeffreys, die sosioloog Irma de Plessis en die politieke filosoof Vasti Roodt. Net so belangrik is egter dat meer mense sal deelneem, byvoorbeeld deur hier saam te gesels.

Self vind ek die drie bydraes, en die verskillende hoeke waaruit hulle die Malema-verskynsel beskou, baie insiggewend en grootliks oortuigend. Ek dink die modieuse mantra dat die media Julius Malema “te ernstig opneem” of “te veel aandag aan hom gee”, is kortsigtig. Malema beklee ‘n senior leiersposisie in die regerende party. Wat hy doen het gevolge vir die rigting waarin ons samelewing beweeg. Buitendien gaan dit nie net oor Malema nie, maar oor die wyse waarop die party hom hanteer. Wanneer daar byvoorbeeld nie streng teen hom opgetree word nie, stuur dit ook ‘n boodskap uit oor wat vir die party as sodanig aanvaarbaar en onaanvaarbaar, gewens of ongewens, is. En die boodskap wat oorkom, is onrusbarend: vermeende korrupsie, haatspraak en geweld is in orde; al wat onaanvaarbaar is, is konflik in die party.

Selfs hierdie insig krap egter nog net aan die oppervlak, want die vraag is: hoekom? Hoekom staan sake so? Wat, indien enigiets, kan daaraan gedoen word. Na die lees van die drie uitmuntende bydraes is dit nog nie my indruk dat ‘n antwoord op laasgenoemde vraag al gevind is nie, maar oor eersgenoemde (en dis ‘n belangrike eerste stap!) word waardevolle verklarende insigte gebied, waaraan ek ook sou toevoeg iemand soos Leopold en Ingrid Scholtz se publikasies oor die kultuur van die ANC en die historiese oorspronge en ontwikkeling daarvan.

Dat dit ‘n belangrike gesprek is, staan in elk geval soos ‘n paal bo water.

Jaco Barnard-Naudé reageer op SêNet op Irma du Plessis se bydrae tot hierdie miniseminaar

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.