‘n Menseregteskending ontsluier

Mei 12, 2010 in Sonder kategorie

Gestel ons regering sou ’n wet aanneem wat nie net pornografie in enige vorm en alle uitbeelding van vroue as seksobjekte (byvoorbeeld in advertensies) nie, maar ook die gewade van Katolieke nonne, sari’s en konserwatiewe vroulike kleding in die algemeen (te lang rompe, te hoë halse, alle hoofbedekkings en so meer) verbied en ’n strawwe boete vir oortreders voorskryf. Sou u dié wetgewing steun?

En gestel die regering sou ter motivering van dié wetgewing argumenteer dat pornografie, objektivering van vroue, nonne-gewade en konserwatiewe kleding deur geen godsdiens vereis word nie, en dat dit verder vroue se menseregte aantas. Sou dié argument jou oortuig?

Wel, in Frankryk gaan wetgewing nou aangeneem word wat die dra van sluiers verbied, en die argumente wat ter motivering daarvan voorgehou word, is dat die dra van sluiers nie deur die Islam vereis word nie en dat dit vroue se menseregte aantas. Miskien is ek dom, maar ek kan nie ’n wesensverskil verskil sien tussen hierdie besluit en die hipotetiese SA wetgewing wat ek hierbo beskryf het nie. En ek vind dit ewe absurd en verwerplik.

Wat het die vraag of die Islam vroue verplig om sluiers te dra of nie met die saak te doen. As die dra van sluiers vroue se menseregte aangetas het, sou dit verbied moes word, ongeag of die Islam, die Christelike geloof of die Paganisme dit vereis of nie. Buitendien verskil Moslems onderling oor of die Koran die dra van sluiers vereis. Gaan die Franse parlement nou wetlik bepaal watter teologiese standpunte die korrektes is? Gaan ons binnekort besluite van parlementsweë kry oor of Christene seks voor die huwelik mag hê? Is dit die rol van die regering om sulke beslissings te maak?

Verder sukkel ek om in te sien hoe die dra van sluiers as sodanig vroue se menseregte aantas. Ek sê “as sodanig”, want dis vanselfsprekend onaanvaarbaar en onwettig om ’n vrou teen haar sin te dwing om ’n sluier te dra, nes dit ewe onaanvaarbaar en onwettig sou wees om ’n vrou te dwing om soos ’n non aan te trek, haar borste te laat vergroot of naak vir ’n foto te poseer. Beteken dit vroue mag nie uit vrye keuse hierdie dinge doen nie? Is dit nie juis ’n verbod op sulke keuses wat vroue se menseregte aantas nie?

Gewoonlik wanneer ondersteuners van die Wes-Europese antisluier-veldtog op ’n betoog soos myne reageer, verduidelik hulle – dikwels taamlik heftig en emosioneel – hoekom hulle sluiers (ten minste op Moslem-vrouekoppe) verwerplik vind. Baie van hierdie oorwegings verdien om gedebateer te word – ook deur Moslemvroue wat self kies om ’n sluier te dra en ander redes daarvoor het as wat deur baie buitestanders gesuggereer word.

Maar gestel dit sou op die een of ander manier “verkeerd” wees vir Moslemvroue om sluiers te dra. Dan sou die sprong van daar af na die nodigheid van ’n wetlike verbod op sluiers nog steeds non sequitur wees. Immers, die hele punt van ’n liberaal-demokratiese staatsbestel waarin individuele regte en vryhede erken word, is dat morele kodes nie deur die regering afgedwing kan word nie. Die regering kan byvoorbeeld nie mense verbied om ateïsme te verkondig net omdat die meerderheid in daardie regering ateïsme as iets boos beskou nie. Net so kan die regering nie homoseksualiteit verbied sou die meerderheid parlementslede dit verkeerd vind nie.

Dis doodeenvoudig nie die owerheid se taak om morele kodes op die bevolking af te dwing nie – of dit nou “goeie” of “slegte” morele kodes is, en of ek of jy daardie morele kodes onderskryf of nie. Soos John Steward Mill dit gestel het: Individue moet toegelaat word om te doen net wat hulle wil, solank hulle nie ander daardeur te na kom (“injure”) nie, Waaraan hy toegevoeg het: om iemand aanstoot te gee is nie om hom of haar in dié sin te na te kom nie.

Wat ek hier betoog, is nie politiek-filosofiese rocket science nie; ’n kind kan dit verstaan. Maar Wes-Europa, waar hierdie liberale insigte gebore is, is besig om sistematies daarvan afskeid te neem. En die rede hiervoor – dit was ook die rede hoekom mense van Wes-Europese afkoms in Suid-Afrika bereid was om die regte en vryhede van swart Suid-Afrikaners te verkrag – is dat Wes-Europeërs deur die “vreemde” kultuur van die ander bedreig voel.

Laat ons dus eerlik wees: Die Franse se beoogde verbod op sluiers – nes die Switsers se onlangse verbod op die bou van verdere Moskees – berus op vreemdelinge-haat en basta. Besluite wat so geneem word, is uiters kortsigtig en sal, tensy daar ’n radikale kentering en ommekeer in die Europese politiek kom, op die lang duur tot toenemende konflik en destabilisasie in Wes-Europa lei. ’n Mens kan nie aanhou om ander mense se regte so aan te tas (ja, dis nie die sluiers nie, maar die verbod daarop, wat mense se regte aantas!) sonder om die saad van maatskaplike verwoesting te saai nie.

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

16 antwoorde op ‘n Menseregteskending ontsluier

  1. gerritbrand het gesê op Mei 12, 2010

    Inderdaad. Gaan Ortodokse Jode haarstyl en kleding ook verbied word? Of sommige Moslem-mans se gewoonte om langbroeke en langmou-hemde selfs op ‘n warm dag te dra? Of priesters se rokke? Klere as sodanig? En naaktheid? Malligheid!

    Oor daardie orrelisgeval verskil ek met jou. Dit gaan daar nie oor kerklidmaatskap of ampsbevoegdheid nie, maar oor ‘n werkskontrak. Deur die orrelis op grond van sy seksuele gedrag in sy private lewe af te dank, het die betrokke gemeente nie volgens die kontrak met sy werknemer opgetree nie.

  2. gerritbrand het gesê op Mei 12, 2010

    Geen van die kwessies wat jy noem, gaan oor die dra van sluiers as sodanig nie. Die dra van handsakke of langmoubaadjies kan ook potensieel sekuriteit- en ander risiko’s inhou, maar dit regverdig nie ‘n algehele verbod op handsakke en baadjies nie.

  3. gerritbrand het gesê op Mei 12, 2010

    Dit gaan hier nie oor weiering om in diens te neem nie, maar oor afdanking. Sover ek weet, het die kontrak tussen die gemeente en die orrelis nie bepaal dat die genoemde geestelike of morele vereistes geld nie. In die geval van ‘n predikant geld dit outomaties omdat die predikant hom, as deel van die werksooreenkoms, aan die opsig en tug van die gemeente, soos deur die kerkorde bepaal, onderwerp.

  4. Kirpan het gesê op Mei 12, 2010

    Lande maak wette. In ander lande stem ons soms nie saam met daardie wette nie. Persoonlik sou ek verkies dat díe lande nie ‘n soort van ‘politieke korrekheid’ dan daarby gaan vertoon om redene te versin. Hulle is teen iets en ons het ander opvattings. Jy kan kla of jammer. Daar is lande in Afrika wat wette of gebruike het waarmee ek nie kan leef nie. Ek gaan die lande ook nooit besoek nie. Maar kennelik is vir baie mense die bestaan van die wette of gebruike nie ‘n rede om weg te bly nie. Veral sportwedstryde word gewoon gehou asof dit om ‘n normale land gaan. Net by Suid Afrika was daar ‘n soort boycott in die tyd van apartheid. Ek glo nie dat dit met al die heftigheid ooit weer vertoon is terwyl die misdade groter en talryker is nie.
    Ek het in Iran en in Pakistan gewoon en ek weet hoe die mense daar met wette (en gebruike) moet leef wat vir hulle ongelukkig is.
    Tog bly die wette. Dus die eerste wat my gevra word is of ek drank kan saamneem. En oor seksuele gebruike sal ek maar nie praat nie. Mense het dus geleer te lewe met wette wat hulle self nooit had gemaak nie.
    Miskien val dit op omdat dit nou oor Frankryk gaan of Switserland maar oral is dit so.
    Of weet ons dat beswaar maak of kritiek lewer in al die andere gevalle nutteloos is?

  5. gerritbrand het gesê op Mei 12, 2010

    Ek dink jy’t ‘n punt beet. Dit gaan in die Europese politiek al hoe minder oor beginsels soos geregtigheid, gelykheid, vryheid, ondernemingsgees of wat ook al, en al hoe meer oor identiteit. Mense wil goed voel oor hulself, rustig voel oor wie hulle is, veilig voel in hul gemaksone. In die proses probeer hulle die onaangename werklikhede wat in die weg van hierdie versugting staan wegwens. Maar wat weggewens word, het ‘n nare gewoonte om hom telkens weer – maar dan leliker – te laat geld. Ons in SA weet dit mos maar alte goed uit ons geskiedenis. Die Europeers behoort dit uit hul geskiedenis van fascisme ook te weet (die Jode is ook as vreemdelinge met vreemde, onaanvaarbare praktyke en waardes, en as ‘n gevaar vir Europa se beskawing en kultuur, beskou en behandel), maar blykbaar is daardie geskiedenis vergete.

  6. gerritbrand het gesê op Mei 12, 2010

    Netso!

  7. gerritbrand het gesê op Mei 12, 2010

    Ek dink mens moet helder tussen die feitelike en die normatiewe onderskei. Ja, lande maak wette, ook wette waarvan baie mense nie hou nie, en dit sal altyd so wees. Ja, protes teen wette wat as verkeerd beskou word, is dikwels nie effektief nie. Dit alles is feitelike gegewens. Die vraag of spesifieke wette ‘n goeie idee is, is ‘n ander, meer normatiewe vraag. Ek dink Moslemlande wat vroue dwing om sluiers te dra, maak ‘n fout, en ek dink Europese lande wat vroue verbied om sluiers te dra, maak eweneens ‘n fout. In albei gevalle oorskry die staat sy legitieme gesag. Ek beoordeel dit normatief as verkeerd omdat ek staatsbeleid meet aan eise soos demokrasie, vryheid, menswaardigheid ens. Al sou dit niks “help” om dit verkeerd te noem nie, sal ek dit nog steeds as verkeerd beskou, want dis nou maar eenmaal hoe ek dit beoordeel.

  8. vuurklip het gesê op Mei 12, 2010

    Daar is ‘n wesenlike verskil tussen die dra van die burka en nonne se dra van die habyt.

    ‘n Non dra haar habyt “vrywillig” danksy of ondanks indoktrinasie – Vroue in sommige onderafdelings van die Islam is verplig om die burka te dra.

    ‘n Non kan ter enigertyd haar habyt afgooi en haar geloof afsweer – die straf daarenteen in die Islam om die geloof te verwerp, is die doodstraf.

    Sou jy ook ‘n wet wat die mutilasie van vroulike genitalië verbied teëstaan?

  9. gerritbrand het gesê op Mei 13, 2010

    Baie vroue wat nonne word, doen dit onder geweldige druk van hul familie, kerklike gemeenskap en kultuur. Wanneer dit gebeur, is dit verkeerd. As ‘n vrou dit egter vrywillig kies, is dit in orde. Maar selfs al doen sy dit onder druk, sal ek skrikkerig daarvoor wees om haar besluit onwettig te laat verklaar. Dis natuurlik iets anders as sy fisiek teen haar sin gedwing word om dit te doen.

    Netso trou baie vroue onder druk van hul ouers en/of gemeenskap. Daar vind selfs vandag nog ook huwelike plaas wat tussen die ouers en die bruidegom gereel word. Vroue wat onder sulke omstandighede tot die huwelik instem, doen dit weliswaar onder druk, maar om dit op daardie gronde te verbied sou absurd wees.

    Die meeste vroue wat hul borste laat vergroot, face lifts kry ens doen dit onder enorme sosiale en dikwels ook persoonlike druk deur hul eggenoot of ander. Moet dit daarom ontwettig wees om sulke sjirurgiese prosedures te ondergaan?

    Natuurlik is daar vroue wat fisiek, deur dreigemente ens geforseer word om burkas te dra, te trou, seksueel met iemand te verkeer (mens noem dit verkragting), nonne te word, konserwatief aan te trek, as prostitute te werk, ontkleedansers te wees ens. Soos alle ander vorme van swang is dit verkeerd en behoort dit onwettig te wees, aangesien dit op die betrokke vroue se vryheid inbreuk maak. Dis heeltemal iets anders as om te suggereer dat die huwelik, burkas of nonskap verbied moet word.

    Mutilasie van vroulike genitalië? Dit gebeur in die VSA, waar vagina-“vermooiing” tans onder wit middelklasvroue sterk in die mode is – ‘n prosedure wat tot ‘n verlies aan seksuele sensasie kan lei. Ek keur dit, nes die meer tradisionele mutilasies in byvoorbeeld sommige Afrika-kulture, ten sterkste af. Feit is, dit gaan hier oor ‘n baie regstreekse liggaamlike ingreep – een wat skadelik en gevaarlik is. Van ‘n burka, ‘n bikini of ‘n Ortodoks-Joodse haarstyl kan dit nie gese word nie.

  10. Unicorn007 het gesê op Mei 13, 2010

    N Ernstige “own goal” vir die Franse hierdie. Die toonaangewers in die Rennaissance met VRYHEID, gelykheid en broederskap is nou weer terug by marie Antoinette.

  11. gerritbrand het gesê op Mei 13, 2010

    Netso. Dalk eerder ‘n “foul”?

  12. hacjones het gesê op Mei 14, 2010

    Ek stem. Dis belaglik. Maar al gesien hoe senuagtig kassiere word as ‘n (Hehe) “Ninja” die bank instap? Eintlik is dit deel van “Groot Outoriteit’ (“Demokraties” verkose.) se desperate allesoorheersende behoefte om alle fasette van gemeenskap te beheer. Vader weet hoekom.

  13. gerritbrand het gesê op Mei 14, 2010

    Wat ‘n mens beheer, hoef jy nie te vrees nie. Of so dink mense.

  14. kuypers het gesê op Mei 16, 2010

    Die huidige wêreldwye herlewing van Godsdiens (of dit Islam of Christen of Judaïese of Hindoeïsme mag wees)strek wyer as die gekletter oor ‘beskawings’ wat deur Godsdiens-ekstremisme of fundamentalisme gedreig word.
    Ek stem saam met Scott M. Thomas dat die globale kultuur-verskuiwings en Godsdiens-verskuiwings wat ontketen is ‘n geweldige groot uitdaging vir ons interpretasie van die moderne wêreld inhou, of wat soos jy ook tereg met die moderne Franse staat se geworstel met die Islamitiese vroue se kopdoek beskryf.
    Dit blyk asof die regerings met mekaar wedywer om hulle interpretasie van modernisme op hulle onderdane af te dwing. Selfs ook hier ter lande waar ons aan die een hand met seker die mees verligte moderne grondwet sit maar aan die ander hand, soos in die Malema/ANS konflikie, lojaliteit teenoor die ghuru op ‘n hoër pedestal as selfs die hoekstene van die grondwet plaas.
    Pavlos Hatzopoulos het gesê dat die herlewing van Godsdiens (deesdae) onderdrukking tot gevolg het; by tye deur die afdwing van Godsdienswette op ‘n gemeenskap van mense; by ander tye deur die assosiasie van Godsdiens met “terreur”, as gevolg van die veronderstelling dat Godsdiens geneig is om in wilde ekstreme te verval.
    Maar ek wonder om beter insig te kry of die rol van Godsdiens nie van ‘n ander perspektief gesien moet word nie. Moet Godsdiens dalk nie as die opwekker van onderdrukking geëtiketteer word nie maar wel as die “slagoffer”? ‘n Slagoffer omdat die ‘verwerping’ of ‘ontkenning’ van Godsdiens geneties in die moderne staatsbestel ingegraveer is.
    In hierdie oomblik in tyd – om Thomas Hobbes te parafraseer – maak God maak plek vir die groot Leviatan (die soewereine staat), daardie sterfbare god wie aan die nuwe moderne mens sy vrede en sekuriteit moet gee en wie Godsdiens geprivatiseer het deur die beginsel cuius regio eius religio (die heerser bepaal die godsdiens van sy gebied). Het politiek van die Leviatan gevolglik met betrekking tot Godsdiens uiteindelik die bedreiging vir orde, sekuriteit en beskaafdheid geword?

  15. gerritbrand het gesê op Mei 17, 2010

    Beslis! Konseptueel sou ek die punt net anders maak: Daar is nie ‘n “herlewing van godsdiens nie”, want godsdiens was nooit weg nie! Wat tans aan die gebeur is, is dat die godsdiens van die staat, van Leviatan, uitgedaag word deur ander, meer tradisionele godsdienstige tradisies. Ek sien dit baie in dieselfde lyn as byvoorbeeld die vroee Christendom se uitdaging van die absolutisme van die Romeinse Ryk. Die Islam in Europa bevraagteken deur sy blote bestaan ‘n kritiek op die godsdiens van die nasiestaat. Laasgenoemde het in die moderne era sy eie godsdienste aard verdoesel deur hom as “sekuler”, as a-godsdienstig, voor te stel en dan alle ander godsdienste godsdiens te noem en uit die opebare domein te verdring. But the game is up.

  16. kuypers het gesê op Mei 17, 2010

    Stem saam … Godsdiens was nooit ‘weg’ nie. Net verban uit die openbaar en geinternaliseer, behawe waar die nasiestaat anders wou deur ‘n spesifieke godsdiens of selfs ‘sekuleriteit’ as ‘n godsdiens voor te skryf en ander af te wys.

    Groetnis

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.