Jy blaai in die argief vir 2010 Mei.

Lombaard skryf Buchan brou

Mei 31, 2010 in Sonder kategorie

Mei se LitNet-essay is deur ‘n leidende Suid-Afrikaanse navorser oor spiritualiteit, Christo Lombaard, en is getitel “Buchan brou”. Ek stem nogal saam met wat hy daarin oor die Angus Buchan-verskynsel skryf. Ja, dis ‘n onderwerp waaroor al baie gepraat is, maar die waarde van Lombaard se essay is dat hy dieper en verder kyk, en sodoende aspekte aan die lig bring wat dikwels misgekyk word. Lees dit en gesels hier saam.

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Van blou en groen stormramme

Mei 31, 2010 in Sonder kategorie

Soos enige regdenkende mens sou verwag, het die Bulle toe vernietigend oor die Stormers gestorm. Maar al was dit voorspelbaar, was dit tog mooi om te sien. Beter rugby was daar nog nooit nie, en Fourie du Preez in die besonder het sy beste wedstryd tot nog toe gehad – wat nogal iets is. Na regte moes hy speler van die wedstryd gewees het, maar dit was hy al soveel keer dat ek verstaan hoekom die eer toe aan François Hougart gegee is. Dis duidelik dat hy (Hougart) sterk op pad is om die voormalige Blou Bul Bryan Habana, wat die enigste regte drie aan die Stormers-kant gedruk het (January se poging, al het die “blinne referee” dit toegeken, was net so min ’n drie soos Schalk Suur Druiwe Burger se mislukte traai), se skoene vol te staan.

Die besonderse atmosfeer in Soweto was ook, sover ‘n mens oor die TV kon agterkom, iets om te beleef. As ek die Leeus se bestuur was (ek is ontsettend dankbaar ek is nie), sou ek Ellispark toegemaak en voortaan die Sowetoveld as tuisveld benut. Maar nou ja, niks sal daardie arme span seker op sy voete kan bring nie.

Daar ís iets wat meer vreugde verskaf as die Stormers se lyding en vernedering: die feit dat die Australiërs en Nieu-Seelanders droëbek van die spreekwoordelike kantlyn die manjifieke rugbyskouspel moes aanskou. Dis nou oor en oor bevestig dat dit nie toeval is dat nie een van hulle met die Wêreldbekertoernooi die finaal gehaal het nie. Hulle is gewoon nie goed genoeg nie. Met die korps spelers wat nou in Suid-Afrika beskikbaar is, kan Peter de Villiers (in wie ek, soos van die begin af, groot vertroue stel) maklik twee Springbokspanne kies wat die komende Wêreldbeker kan wen. En gaan dit nie lekker wees om die All Blacks in hul eie land weer eens van daardie beker te weerhou nie!

Mag die beste span (niemand twyfel nou meer watter span dit is nie) net aanhou wen en wen!

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Die tien gebooie van sportspan-ondersteuning

Mei 25, 2010 in Sonder kategorie

Hoekom ondersteun ons sportspanne? En hóé moet ons dit doen?

Saterdag speel die rugbyspan wat ek ondersteun (in die Wes-Kaap, waar ek werk, moet ’n mens versigtig wees om te veel besonderhede te gee …) teen nog ’n Suid-Afrikaanse span in die Super 14-finaal. Ek sien vreeslik uit na die wedstryd, veral omdat my span gaan wen. Van my vriende en kennisse kies egter nie so ondubbelsinnig kant nie. “Ja, span X is my span,” sê hulle, “maar ek hou baie van hoe span Y die laaste tyd speel, so ek is ’n bietjie in twee geskeur.”

Dit herinner aan die ou cliché: “Mag die beste span wen.” Of, net so erg: “Rugby het gewen.” Dit laat my ook dink aan daardie verwerplike spesie die sport-fynproewer, wat nie bankvas en konsekwent agter een span staan nie, maar elke jaar in elke sportsoort kyk watter span die meeste potensiaal toon, dan op grond daarvan ’n voorspelling waag, en die res van die seisoen met Stoïsynse afstandelikheid kyk of sy voorspelling uitkom. Ag, kom nou, dis mos nie waaroor sport gaan nie!

Die funksie van sport as vermaak, soos ek dit sien, is om as uitlaatklep te dien vir al daardie houdings en gedragsvorme waarvoor daar in ’n beskaafde samelewing andersyds nie plek is nie. In die politiek, die ekonomie, die beroepslewe, die openbare debat en so meer is daar nie plek vir vooroordeel, eenogigheid, chauvinisme en vyandbeelde nie, maar lede van die spesie homo sapiens het nou maar eenmaal hierdie slegte geneigdhede, en sport as vermaak se nut lê daarin dat dit ’n ruimte bied waarin sulke barbaarshede sonder veel skade aan die mensdom na hartelus uitgeleef kan word.

Hoe tree ’n ware sportentoesias dan korrek op?

Eerstens ondersteun hy lewenslank net een span deur dik en dun, ongeag hoe goed of hoe sleg daardie span vaar.

Tweedens moet daar ten minste een binnelandse en een buitelandse span wees waarteen hy uit beginsel altyd is – wanneer hulle speel (hoe goed of “mooi” ook al), hoop hy hulle verloor.

Derdens gaan dit vir hom oor wen, oor wen alleen en oor niks anders as wen nie. (Totale vermorseling van die anders span is ’n welkome bonus.)

Omdat dit oor wen gaan, en oor niks anders nie, is hy, vierdens, altyd kwaad en onstig wanneer sy span verloor.

Tog probeer hy, vyfdens, sy teleurstelling nie wys nie omdat daar min dinge so vertroostend is as om die ondersteuners van die opponerende wenspan te onstig en frustreer deur hul oorwinning te relativeer en af te maak (byvoorbeeld deur dit aan die skeidsregter, ’n toevallige opportunistiese drie, die afwesigheid van sleutelspelers in die verloorspan of iets dergeliks toe te skryf).

Sesdens verlustig hy hom skaamteloos in die smart van die opponente wanneer hulle span verloor, en vryf hy dit weke lank genadeloos in – simpatie is verbode, sadisme verpligtend.

’n Ware sportentoesias is, in die sewende plek, eenogig: sy span het altyd meer uitmuntende spelers as die ander spanne; vuil spel is altyd deur die ander span begin; en wanneer ’n strafskop teen sy span toegeken word, is die “blinne referee” (vergelyk David Kramer se liedjie met dié naam) ’n inkompetente moroon.

In die agtste plek lees ’n goeie ondersteuner net rugbyskrywers, en luister hy net na rugbykommentators, wat skaamteloos sy span op- en ander spanne afskryf – en stem hy heelhartig en luidrugtig met dié “uitmuntende” joernalis se sienings saam.

In die negende plek probeer ’n lojale ondersteuner ook sy kinders indoktrineer om sy span te ondersteun, al woon hulle in ’n ander omgewing as die een wat deur dié span verteenwoordig word. (Helaas slaag hy nie altyd daarin nie, maar dan het hy ten minste probeer …)

En laastens, in die tiende plek, loop hy nie, behalwe in die mees ekstreme noodsituasies, ’n enkele wedstryd waarin sy span speel mis nie – sy lewensin draai immers vir daardie 80 minute om die verloop en uitkoms van die spel. (Die feit dat ’n private betaalkanaal tans oor eksklusiewe rugby-uitsaairegte beskik, wat beteken dat die meerderheid rugbyentoesiaste – om van potensiële ondersteuners nie te praat nie – moeilik toegang daartoe het, is dus ’n soort misdaad teen die mensdom.)

Daar het julle dit: die tien gebooie van sportspan-ondersteuning. Wie hierdie gebooie nie nougeset gehoorsaam nie het nie die vaagste benul waaroor sport gaan nie en hou, om daardie rede, ’n groot gevaar vir die samelewing in, aangesien hy sport as sosiale uitlaatklep deur sy optrede ondermyn en buitendien heel moontlik sy eie antisosiale, chauvinistiese tendense buite die sportpaviljoen tot nadeel van almal sal uitleef. So iemand behoort hom te skaam. Sulke mense kan nie vertrou word nie.

Mag die beste span (dis nou my span) Saterdag wen!

My tien geboeie het babas gekry – in ‘n sokkerkonteks! Gaan kyk wat Carina van der Walt oor taal- en landsgrense daarmee gemaak het.

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.ac.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Omdat God hulle verlei

Mei 21, 2010 in Sonder kategorie

My jongste Kerkbode-rubriek:

In ’n gesprek met my studente oor universalisme – die siening dat alle mense gered sal word – word die vraag geopper: Werk so ’n oortuiging nie morele onverskilligheid in die hand nie? Hierdie vraag kan egter nie net in verband met universalisme (’n onderwerp vir ’n ander dag) gestel word nie, want aan enige Christen wat in verlossing uit genade alleen glo, kan gevra word: Hoekom goed doen as jou heil reeds verseker is?

Sommige Christene word so deur dié vraag gekwel dat hulle die evangelie van vrye genade begin bevraagteken. In die plek daarvan kom weer ’n soort werkgeregtigheid – of dit nou in die outydse vorm van die hellevuur vir oortreders is, of in die meer hedendaagse gestalte van ’n oproep tot sukses en selfverwesenliking. “Do more, try harder,” som Micheal Horton The Gospel of the American Church in sy boek Christless Christianity op.

Het die ateïs Richard Dawkins dalk gelyk dat (sommige) godsdienstige mense basies immoreel is, aangesien hulle net goed kan doen as hulle ’n god het om voor bang te wees? Die sterk punt in Dawkins en andere se ateïstiese manifeste is hul verdediging van die stelling dat ’n mens nie in die bestaan van ’n God hoef te glo om moreel te kan lewe nie. Die filosoof Immanuel Kant het lank gelede al daarop gewys dat wie sy plig uit vrees vir straf doen nie deugsaam optree nie. Hierin sou die Gereformeerde kerkvader Calvyn hom gelyk gee: Sondaars (dis nou ons almal) doen inderdaad “goeie” dinge, maar dan om verkeerde redes (byvoorbeeld uit vrees of hoogmoed, of om geprys of beloon te word) – selfs mense se “goeie werke” is dus sondig.

Maar as vrees vir God nie ’n goeie rede is om die goeie te doen nie, wat sou dan die regte motivering wees? Die Heidelbergse Kategismus verbind dit aan dankbaarheid: Omdat God my uit vrye guns alleen vergewe en verlos, wil ek uit dankbaarheid God se wil doen.

Dis al ’n hele stuk nader aan die waarheid, maar dis ook vir misverstand vatbaar. Die idee van dankbaarheid kan ons op ’n dwaalspoor lei solank ons nog ’n arbitrêre verband tussen verlossing déúr, en gehoorsaamheid áán, God trek – asof dié twee sake los van mekaar gedink kan word. Dat God ons red, is dan vers 1, en ons gehoorsaamheid (omdat ons dankbaar is) vers 2.

In werklikheid is daar egter net één vers: “Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie” (Mk. 1:15). Die “koninkryk” of “heerskappy” van God verskil van menslike heerskappye deurdat dit nie op dwang nie, maar op liefde, berus. Om “die koninkryk in te gaan” beteken om ’n sfeer van vriendskap met God te betree, en vriendskap word gedóén. Die hoogste geluk ís niks anders nie as om uit liefde God se wil te doen. Dis nie iets anders (die spreekwoordelike mansion in the sky) in ruil waarvoor ons dan God dien nie.

Om morele reëls nougeset na te kom is miskien nie maklik nie, maar met genoeg inspanning kan dit gedoen word (vra maar die ryk jong man van Lukas 18:21). Om dit entoesiasties, met oorgawe te doen en jou vreugde daarin te vind is egter nie moeilik nie; dis onmoontlik – behalwe as God dit moontlik maak.

Gelowiges doen die goeie, nie omdat hulle móét of omdat hulle God ’n guns wil bewys nie, maar omdat hulle kán – omdat God, in Christus en deur die Gees, dit vir hulle moontlik en aanloklik maak om dit te doen. Omdat hulle dit nie kan help nie. Omdat God hulle verlei.

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Achmat oor “intellektuele ontneming”

Mei 19, 2010 in Sonder kategorie

In Reisiger, die tweede deel van Elsa Joubert se outobiografie (sjoe, party mense kan darem skryf!), vertel sy van haar eerste skeepsreis wat onder meer ‘n stop by Mosambiek gemaak het, en verwys dan na haar medereisigers, wat dit nie so goed soos sy met die Nederlander Joop kon vind nie, as “kloustrofobies Engels”. Wonderlik hoe een so ’n frase ’n hele ideologie deurmekaar kan krap. In die heersende Suid-Afrikaanse diskoers is dit immers Afrikaans en die ander Afrikatale wat normaalweg as “kloustrofobies”, as parogiaal en beperkend, voorgestel word, terwyl Engels as oop en bevrydend gesien word. Maar Joubert is reg: dis juis diegene wat nié net Engels kan gebruik nie wat die vars lug van ’n wyer wêreld kan inasem.

Nog iets wat ek pas gelees het, wys – weliswaar minder literêr, maar nogtans akkuraat en treffend – op ’n verdere opsig waarin dit bevrydend kan wees om verder as Engels te kyk – maar dan bevrydend in politieke sin. Zackie Achmat skryf naamlik in die Sentrum vir Reg en Maatskaplike Geregtigheid se Writing Rights oor “Language and the Intellectual Dispossession of African and Coloured Working Class Children In South Africa”. Daarin maak hy duidelik dat dit in taalbeleid en -praktyk nie in die eerste plek oor identiteit gaan nie, maar oor geregtigheid – dat taal ’n klasse-aangeleentheid is. Daarmee sluit hy (dalk onbewustelik) aan by NP van Wyk Louw wat gesê het taal is ’n “broodsaak”, en by Noam Chomsky se woorde: “Questions of language are basically questions of power.”

Lees Achmat se artikel. En lees dit weer. Stuur dit wyd uit. Praat daaroor. Sy boodskap is een wat Suid-Afrika moet hoor.

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Die kerk moet oor seksuele oriëntasie tot inkeer kom

Mei 17, 2010 in Sonder kategorie

Allan Boesak en ander “geestelike leiers” het ’n belangrike memorandum oor “diskriminasie teen mense wat lesbies, gay, biseksueel, transgender en interseks is” onderteken. Hiermee voeg ek my handtekening by.

Ek doen dit spesifiek as Christen, as teoloog en as NG kerklidmaat (maar nie as “geestelike leier” nie – wat is dit in elk geval?). Met ander woorde, die rede hoekom ek dink die kerk en die breër samelewing behoort af te sien, nie net van diskriminasie – byvoorbeeld deur uitsluiting – teen die betrokke minderheidsgroep nie, maar ook van die morele veroordeling van hierdie seksuele oriëntasies en verhoudings, is dus nie dat “sekulêre” oorwegings hier vir my swaarder as geloofsoorwegings weeg nie, maar juis omdat ek die Bybelse getuienis oor God se liefde vir mense ernstig probeer neem.

Omdat die kerk se maatskaplike betrokkenheid, haar “politiek”, myns insiens altyd in die eerste plek op die interne lewe van die kerk as ’n anderster, alternatiewe gemeenskap moet fokus (die ou cliché van “be the change you want to see”), moet ek dan ook my geloofskaarte op die tafel sit en dit onomwonde stel dat ek dit onchristelik vind om mense op grond van (die verantwoordelike uitlewing van) hul seksuele oriëntasie van volle kerklidmaatskap of van enige amp in die kerk uit te sluit. Eties lê dit op dieselfde vlak as om mense op grond van ras, taal of geslag uit te sluit. Solank sulke uitsluiting steeds in ’n denominasie plaasvind, doen dit afbreuk aan die geloofwaardigheid van sy openbare getuienis in die algemeen – net soos die Afrikaanse “susterkerke” se ondersteuning van apartheid in die verlede aan hul openbare getuienis afbreuk gedoen het.

Ek doen daarom, op hierdie Internasionale Dag teen Homofobie en Transfobie, ’n beroep op my eie kerk, en op alle Christene, om na die stem van God (eerder as na ’n simplistiese uitleg van Bybeltekste, wat op minagting vir God se Woord neerkom) te luister. Soos die genoemde memorandum dit stel: “Ons glo die Heilige Gees lei die kerk tot groter begrip oor sake rakende menslike seksualiteit en help ons om lidmate te help om hul seksualiteit en geloof te integreer. Ons glo die Gees kweek in ons ’n groter begrip vir God se liefde en genade vir alle mense, ongeag hul seksuele oriëntasie.”

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Lojaliteit aan Die Party is alles

Mei 14, 2010 in Sonder kategorie

So Julius Mal-ema word toe ligweg deur die ANC oor die vingers getik. Maar let op: van die vier klagtes teen hom is hy slegs oor een berispe: die feit dat hy, deur sy aanval op Die Leier, verdeeldheid in Die Party kon veroorsaak.

Die feit dat hy sy steun vir Robert Mugabe en sy regering in Zimbabwe uitgespreek het, ’n buitelandse joernalis wat lastige vrae stel grof uitgeskel en by ’n perskonferensie uitgejaag het, en by herhaling ’n lied wat mense tot moord op ’n etniese minderheid aanspoor, gesing het – selfs nadat die sing daarvan deur ’n hof verbied is – word nie deur die ANC as strafwaardig, of selfs afkeurenswaardig, beskou nie. Verder word die ernstige vrae wat oor ’n wye front oor Mal-ema se finansiële posisie en die aard van sy verhouding met mense en instansies in die sakewêreld gestel word nie eens ondersoek nie, wat nog te sê veroordeel. Die ANC het dus nou op die hoogste vlak amptelik te kenne gegee dat hierdie soort gedrag in orde is.

Nie laat dit verras nie. Ook senior figure in die ANC, soos Zuma se eksvrou, Nkosazana, het Mugabe en kie al lof toegeswaai.

’n Selfs nog meer senior figuur in Die Party, Gwede Mantashe, het, nes Mal-ema, ná die hofuitspraak oor die lied “Skiet die Boer” gesê die ANC sal nie die hof hierin gehoorsaam nie – en daardeur duidelik gemaak dat die party hom nie as aan hofbeslissings onderhewig beskou nie. Buitendien het Zuma mos self op die rug van “Bring my Masjiengeweer” president geword.

Ook growwe aanvalle op, en dreigemente teen, die media is algemene praktyk onder ANC-leiers. Al wat hulle in Mal-ema se geval vir ’n oomblik hul wenkbroue laat lig het (voordat hulle dit traak-my-nie-agtig weer laat sak het), is die feit dat dit hier om ’n buitelandse joernalis gaan en dus moontlik Suid-Afrika se beeld na buite kon skaad. In SA is die “beeld” immers alles, die substansie niks. Daarom dat Zuma ook pas weer in die parlement gesê het dis “onpatrioties” om ’n boodskap die wêreld in te stuur dat ons regering die Grondwet minag. Al is dit toevallig die waarheid.

En oor twyfelagtige geldelike praktyke hoef ons nie eens te praat nie; in die ANC, met die president vooraan, is dit byna ’n vereiste vir die bekleding van leiersposte.

Mal-ema se optrede strook dus in alle opsigte met die kenmerkende optrede van partyleiers. Dis vanselfsprekend dat Die Party nie ’n probleem daarmee sal hê nie.

Daar is mense wat redeneer die bestraffing van Mal-ema oor sy kritiek op Zuma kom in die ANC-konteks op ’n baie skerp veroordeling neer, aangesien die ANC tradisioneel nie alte maklik sy lede in dissiplinêre verhore tot orde roep nie. Dis ’n bietjie soos om ’n korrupte polisieman te prys wanneer hy by hoë uitsondering ’n misdadiger in hegtenis neem – gesien die feit dat hy normaalweg in ruil vir omkoopgeld misdadigers teen vervolging beskerm. Verwronge morele logika as jy my vra.

Nog mense gryp na die strooihalm van “sekere ANC-lede” wat krities oor hierdie dinge is en binne partystrukture daarteen probeer optree. Dit mag wees, maar al waaraan dit my herinner, is aan daardie NP-lede van vroeër jare wat hulself as “verlig” beskou het en gereken het hulle kan die party “van binne” verander. Feit is: net soos toe is daar tans weer net een onvergeeflike sonde in die regerende party: dislojaliteit in eie kring. Misdade teen die samelewing kan maar oorgesien word.

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

‘n Menseregteskending ontsluier

Mei 12, 2010 in Sonder kategorie

Gestel ons regering sou ’n wet aanneem wat nie net pornografie in enige vorm en alle uitbeelding van vroue as seksobjekte (byvoorbeeld in advertensies) nie, maar ook die gewade van Katolieke nonne, sari’s en konserwatiewe vroulike kleding in die algemeen (te lang rompe, te hoë halse, alle hoofbedekkings en so meer) verbied en ’n strawwe boete vir oortreders voorskryf. Sou u dié wetgewing steun?

En gestel die regering sou ter motivering van dié wetgewing argumenteer dat pornografie, objektivering van vroue, nonne-gewade en konserwatiewe kleding deur geen godsdiens vereis word nie, en dat dit verder vroue se menseregte aantas. Sou dié argument jou oortuig?

Wel, in Frankryk gaan wetgewing nou aangeneem word wat die dra van sluiers verbied, en die argumente wat ter motivering daarvan voorgehou word, is dat die dra van sluiers nie deur die Islam vereis word nie en dat dit vroue se menseregte aantas. Miskien is ek dom, maar ek kan nie ’n wesensverskil verskil sien tussen hierdie besluit en die hipotetiese SA wetgewing wat ek hierbo beskryf het nie. En ek vind dit ewe absurd en verwerplik.

Wat het die vraag of die Islam vroue verplig om sluiers te dra of nie met die saak te doen. As die dra van sluiers vroue se menseregte aangetas het, sou dit verbied moes word, ongeag of die Islam, die Christelike geloof of die Paganisme dit vereis of nie. Buitendien verskil Moslems onderling oor of die Koran die dra van sluiers vereis. Gaan die Franse parlement nou wetlik bepaal watter teologiese standpunte die korrektes is? Gaan ons binnekort besluite van parlementsweë kry oor of Christene seks voor die huwelik mag hê? Is dit die rol van die regering om sulke beslissings te maak?

Verder sukkel ek om in te sien hoe die dra van sluiers as sodanig vroue se menseregte aantas. Ek sê “as sodanig”, want dis vanselfsprekend onaanvaarbaar en onwettig om ’n vrou teen haar sin te dwing om ’n sluier te dra, nes dit ewe onaanvaarbaar en onwettig sou wees om ’n vrou te dwing om soos ’n non aan te trek, haar borste te laat vergroot of naak vir ’n foto te poseer. Beteken dit vroue mag nie uit vrye keuse hierdie dinge doen nie? Is dit nie juis ’n verbod op sulke keuses wat vroue se menseregte aantas nie?

Gewoonlik wanneer ondersteuners van die Wes-Europese antisluier-veldtog op ’n betoog soos myne reageer, verduidelik hulle – dikwels taamlik heftig en emosioneel – hoekom hulle sluiers (ten minste op Moslem-vrouekoppe) verwerplik vind. Baie van hierdie oorwegings verdien om gedebateer te word – ook deur Moslemvroue wat self kies om ’n sluier te dra en ander redes daarvoor het as wat deur baie buitestanders gesuggereer word.

Maar gestel dit sou op die een of ander manier “verkeerd” wees vir Moslemvroue om sluiers te dra. Dan sou die sprong van daar af na die nodigheid van ’n wetlike verbod op sluiers nog steeds non sequitur wees. Immers, die hele punt van ’n liberaal-demokratiese staatsbestel waarin individuele regte en vryhede erken word, is dat morele kodes nie deur die regering afgedwing kan word nie. Die regering kan byvoorbeeld nie mense verbied om ateïsme te verkondig net omdat die meerderheid in daardie regering ateïsme as iets boos beskou nie. Net so kan die regering nie homoseksualiteit verbied sou die meerderheid parlementslede dit verkeerd vind nie.

Dis doodeenvoudig nie die owerheid se taak om morele kodes op die bevolking af te dwing nie – of dit nou “goeie” of “slegte” morele kodes is, en of ek of jy daardie morele kodes onderskryf of nie. Soos John Steward Mill dit gestel het: Individue moet toegelaat word om te doen net wat hulle wil, solank hulle nie ander daardeur te na kom (“injure”) nie, Waaraan hy toegevoeg het: om iemand aanstoot te gee is nie om hom of haar in dié sin te na te kom nie.

Wat ek hier betoog, is nie politiek-filosofiese rocket science nie; ’n kind kan dit verstaan. Maar Wes-Europa, waar hierdie liberale insigte gebore is, is besig om sistematies daarvan afskeid te neem. En die rede hiervoor – dit was ook die rede hoekom mense van Wes-Europese afkoms in Suid-Afrika bereid was om die regte en vryhede van swart Suid-Afrikaners te verkrag – is dat Wes-Europeërs deur die “vreemde” kultuur van die ander bedreig voel.

Laat ons dus eerlik wees: Die Franse se beoogde verbod op sluiers – nes die Switsers se onlangse verbod op die bou van verdere Moskees – berus op vreemdelinge-haat en basta. Besluite wat so geneem word, is uiters kortsigtig en sal, tensy daar ’n radikale kentering en ommekeer in die Europese politiek kom, op die lang duur tot toenemende konflik en destabilisasie in Wes-Europa lei. ’n Mens kan nie aanhou om ander mense se regte so aan te tas (ja, dis nie die sluiers nie, maar die verbod daarop, wat mense se regte aantas!) sonder om die saad van maatskaplike verwoesting te saai nie.

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Zuma se belofte

Mei 11, 2010 in Sonder kategorie

Ek is alles behalwe ’n Jacob Zuma-aanhanger, en ek dink nie sy administrasie hou veel belofte in nie (inteendeel), maar ek was wel vroeër vanjaar opgewonde oor ’n belofte wat hy in ’n toespraak gemaak het, naamlik dat die regering “werkboeke” vir elke skoolvak in al die amptelike tale aan leerlinge beskikbaar gaan stel. Dit dui op ’n kentering in regeringskringe met betrekking tot die kwessie van moedertaalonderrig.

Ongelukkig het die media byna nie hiervan kennis geneem nie (die grootste deel van die SA media trek voordeel uit die oorheersing van Engels, is dus blind vir die nadelige maatskaplike gevolge daarvan, en vind meertaligheidsinisiatiewe daarom nie juis nuuswaardig nie). Gevolglik het ’n mens ná die toespraak nie veel meer oor die beloofde werkboeke verneem nie, en begin wonder of dit maar weer een van daardie edele planne is waarvan uiteindelik niks kom nie. (Die regering se Taal-in-onderwys-beleid, wat al vroeg in die nuwe Suid-Afrika aanvaar is, beloof immers om “moedertaalgebaseerde meertalige onderwys” in werking te stel, maar lê sedertdien en stof vergaar sonder dat enigiets prakties daaruit gekom het.)

Nou is daar egter aan die parlementêre portefeuljekomitee vir basiese onderwys ’n onderneming gegee, naamlik dat die beloofde werkboeke teen Augustus/September vanjaar beskikbaar gestel sal word. Teken die datum aan: As dit gebeur soos belowe is, sal ek die regering hemelhoog prys …

Die dag dat alle Suid-Afrikaners, en nie net Engels- en (sommige) Afrikaanssprekende leerlinge nie, deur die medium van hul moedertaal onderrig word, sal geletterheid, syfervaardigheid en die algemene vlak van skoolonderwys drasties verhoog. Werkboeke in al die amtelike tale kan ’n belangrike stap in dié rigting wees. Laat ons wag en kyk.

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Moet navorsing só aangespoor word?

Mei 7, 2010 in Sonder kategorie

Bert Olivier en Louis Jonker lewer in die Seminaarkamer die eerste twee bydraes tot die afgelope maand se miniseminaar oor die navorsingsubsidiestelsel in Suid-Afrika.

Is dié stelsel – waarvolgens universiteite (en, deur hulle, akademici) geldelik deur die staat vir navorsingsuitsette beloon word – suksesvol? Dra dit by tot ’n groter navorsingsuitset? Indien wel, is dit dan ’n geval van kwantiteit eerder as kwaliteit? Wat is die negatiewe onbedoelde gevolge van die stelsel? Is daar sekere soorte navorsing, of sekere navorsingspublikasies, wat onregverdig benadeel of voorgetrek word? Kan ander Afrika-lande, wat in die algemeen die behoefte het om navorsingsuitsette te verhoog, baat daarby vind om ook die SA stelsel in werking te stel, soos onlangs deur Christoff Pauw gesuggereer, en deur andere bestry, is?

As akademikus raak hierdie vrae my regstreeks. Ek dink egter dis ook in alle Suid-Afrikaners se belang om oor hierdie stelsel ingelig te wees, aangesien dit húl belasting-geld is wat vir navorsingsubsidies aangewend word – en dit gaan hier nie om klein bedrae nie!

Verder sal die LitNet-gemeenskap dit dalk interessant vind om te weet dat die tydskrif LitNet Akademies deels deur hierdie stelsel bemoontlik word. LitNet Akademies is ’n geakkrediteerde tydskrif, wat beteken dat akademici wat daarin publiseer geld vir hul universiteit (en daardeur regstreeks of indirek ook vir hul eie navorsingsbegroting) verdien. Saam met die R8 000 per aanvaarde artikel in dié tydskrif wat deur die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans aan die skrywer (beroepsakademikus of nie) uitbetaal word, dien dit as sterk aansporing vir SA akademici om ook in Afrikaans te publiseer. (Die doel met LitNet Akademies is juis om iets aan die verminderende aantal akademiese publikasies in Afrikaans te doen – en sover lyk dit asof dit ’n groot impak maak.) LitNet Akademies is dus een voorbeeld van hoe die subsidiestelsel, warts and all, kreatief benut kan word om spesifieke gewenste navorsingstendense doeltreffend aan te moedig.

(Hou die Seminaarkamer ook dop vir Francis Galloway, bekende akademiese uitgewer en redakteur van LitNet Akademies, se bydrae tot die miniseminaar, wat binnekort sal verskyn.)

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.