’n Ander soort “voorspoed-evangelie”

April 30, 2010 in Sonder kategorie

My jongste rubriek in die Kerkbode:

Altesaam 61% van Christene in die VSA glo dat God wil hê hulle moet welvarend wees. Byna ’n derde stem saam dat, as ’n mens jou geld vir God gee, God jou met meer geld sal seën. So is bevind in ’n opname deur die tydskrif Time in 2006. Dis teen die agtergrond van sulke bevindings dat Jonathan Wilson-Hartgrove sy boekie God’s Economy skryf – met die veelseggende subtitel Redefining the Health and Wealth Gospel.

Die filosoof Slavoj Žižek skryf iewers dat elke totalitêre ideologie vir sy oortuigingskrag op ’n geldige menslike waarde steun – soos individualiteit, sosialiteit of gelykheid. Wilson-Hartgrove meen kennelik dat iets soortgelyks ook verwronge weergawes van die evangelie geld: elke ketter het sy letter. Daar is vir hom naamlik geen twyfel dat die voorspoed-evangelie (wat ook in Suid-Afrika en die res van ons kontinent toenemend populêr word) ’n dwaalleer is nie, maar dan ’n dwaalleer wat op ’n waarheidsmoment berus: dat Jesus ons nooi om God se oorvloed hier en nou te geniet.

Die probleem is net, sê Wilson-Hartgrove, dat ons met te min tevrede is. Ons dink die beste waarvoor ons vir hierdie lewe kan hoop, is om in ’n “ekonomie van skaarste” genoeg rykdom te kan versamel (en vashou!) om vir ons en die mense naby aan ons gerief en finansiële sekuriteit te verseker. Maar juis dit maak dit vir ons onmoontlik om aan God se “ekonomie van oorvloed” deel te hê. Soos C.S. Lewis ook sê: Die probleem is nie dat ons te véél begeer nie, maar te min.

Uit hierdie perspektief gaan dit in die prediking en lewe van Jesus om die aankondiging en demonstrasie dat die koninkryk van God onopvallend en misterieus – maar steeds konkreet en prakties – onder die oppervlak van die wêreldse koninkryke aanbreek en dat almal daarna genooi word. In hierdie subversiewe, alternatiewe koninkryk of ekonomie gaan dit om ’n nuwe gemeenskap wat tot stand kom: ’n gemeenskap waarin mense alles wat hulle besit deel en weggee, ander se belange bo hul eie dien, enigiemand – ook kansvatters en onwaardiges – sonder voorbehoud verwelkom, en sodoende hul vertroue stel in die Goddelike oorvloed waarin daar vir almal genoeg is.

Wilson-Hartgrove erken die belang daarvan dat Christene hulle vir regverdiger regeringsbeleid, ook op ekonomiese gebied, moet beywer, maar die primêre roeping van die kerk, meen hy, is om die beter, radikaal anderse samelewing konkreet te beliggaam, want juis dit daag die bestaande orde uit. Daarom is hy skepties oor ’n piëtistiese geloof wat aan die aardse hier en nou wil ontvlug, maar ewe skepties oor ’n teologie wat geregtigheid met die middele van die wêreld se skaarste-logika wil realiseer. Om op die oorvloed van God te vertrou deur alles, ook jouself, weg te gee, lyk vir die wêreld na dwaasheid, maar Jesus se kruis en opstanding inspireer gelowiges om dit te waag.

Hoe lyk dié oorvloed dan? Volgens Wilsom-Hartgrove sluit dit nie luukse motors, ontwerpersklere, vet beursies, waterdigte versekeringspolisse en finansiële mag in nie, maar wel genoeg om van te leef, asook vriendskap, hoop en vreugde. En soos Jesus sê: dis iets waarvoor rykes blind is; die armes verstaan dit beter.

’n Student erken onlangs aan my dat hy dit moeilik vind om te verstaan hoe die nagmaal as deelname aan die komende Godsryk beleef kan word. “Dit voel beslis nie so nie,” verduidelik hy. Is dit miskien omdat ons eers eenkant in ons middelklas- voorstedelike gemeentes die nagmaal gebruik en dán met voedingskemas, werkskeppingsprojekte en nagskuilings na die “minder bevoorregtes” uitreik? Wat sou gebeur as “ons” en “hulle” sáám die maaltyd sou nuttig?

Onrealisties? Te idealisties? Vertel dit vir Jesus.

 

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na [email protected] om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

16 antwoorde op ’n Ander soort “voorspoed-evangelie”

  1. Neffertiti het gesê op April 30, 2010

    Die welvaartsgodsdiens is maar deel van die mens se psige tot die soeke van die ewige lewe.
    Die woord is uitreik, Gerrit.

  2. Die “uitryk” was seker ‘n Freudiaanse (of dalk Marxistiese?) glips! Dankie, ek het dit nou reg gemaak.

  3. shlwanjan het gesê op April 30, 2010

    Daar is ‘n ander soort “voorspoed teologie” wat my bekommer. Ek het laas jaar twee boeke present gekry van welmenende Christen vriende. Een van Choo Thomas (Die Hemel is ‘n Werklikheid) en een van John Bevere (Driven by Eternity).

    Altwee se sentrale boodskap is die verwerwing van Ewige Saligheid, in die eerste plek deur Genade, maar daarna word uitgebrei oor die “kwaliteit” van beloning – vergelykbaar met “My Mansion is going to be Bigger than Your Mansion”, in verhouding met hoeveel invloed die persoon hier op aarde gehad het op die saligheid van ander siele. Dit het weer ‘n slegte smaak in die mond gelaat, vir my. Dit laat mens voel daar is net nooit – selfs in die hiernamaals – ontsnapping van die ewige kompetisie om te kyk wattter mens die beste presteer in vergelyking met sy mede sterflinge nie. (Toe ek jou opskrif gelees het, het ek eers gedink dis waaroor die inskrywing dalk gaan.)

  4. Nou toe nou, hoe meer dae, hoe meer dinge! (Of hoe meer “mansions” …) Inderdaad, die mens vind dit moeilik om afskeid te neem van die gevoel dat hy dit wat hy ontvang het, verdien het – selfs wanneer dit by “mansions in the sky” kom. Dis dalk die grootste “skande” van die evangelie dat dit hierteen indruis.

  5. Nou laat ons hoor!

  6. “Dwaalleer” beteken hier so iets soos ‘n weergawe van die evangelie wat lynreg teen die bedoeling van Jesus en die vroegste kerk se bedoelings indruis. Soos Wilson-Hartgrove dit sien (en ek stem saam), is die soort waardes en lewensorientering waarvoor die gangbare voorspoed-evangelie staan juis dit waarteen Jesus hom verset het. Dit gaan dus oor ‘n totale omkering van die evangelie.

  7. gerritbrand het gesê op Mei 1, 2010

    Ek hou daarvan! Teologies (dalk puntenerig?) hou ek net nie van “voordat Hy weer sal kom om ons te kom haal” nie, want my verstaan van die “wederkoms” is nie dat Jesus ons kom wegvat nie, maar dat sy heerskappy sigbaar word en dat die hele skepping vernuwe en herskep word. Projekte soos die een wat jy voorstel, kan as voorsmakies van, en heenwysings na, daardie hernieude skepping gesien word en kan selfs van die boustene wees waaruit dit sal bestaan.

  8. bigdee het gesê op Mei 3, 2010

    Ek is in die kerkbanke grootgemaak en ek het seker die Bybel al 10 keer van hoek tot kan deur gelees.Ek is nie teoloog nie maar ek is wel ‘n besorgde christen. Ek is besorg oor daar deesdae meer inligting op die internet beskikbaar is as wat daar in my lokale kerk beskikbaar is. ekwil graag ‘n christen bly maar ek het meer vrae as antwoorde. Van die vrae is fundamenteel vir my saligheid. Dit is die dinge wat ek nodig het om ‘n goeie ‘christen’ te wees. En dit gaan nie oor die doop en die nagmaal nie. Dit gaan oor baie basiese dinge waarop daar net meersinnige antwoorde is. In File ase kind het die besorgde ma vir haar man gesê: Gee vir my ‘n KLAAR antwoord. Dis die een dink wat my steeds ontwyk, hierdie klaar antwoord. Ek het vir ‘n begin fundamentele probleme met die die konsep van ‘n drie eenheid. Dit is loshande die mees vewarrende ding in ons geloof bestaan. Dit is ook nêrends in die Bybel so neergeskryf nie. Alles wat oor die drie eenheid te sê is is afleiding wat gemaak word uit woorde soos “ons” en ‘die Woord en someer. Gierdie is die tipiese voorbeelde van wat ek beskou as ‘n onklaar antwoord.
    Die ander ding wat ek mee wroeg al vir ‘n geruime tyd, is die oneffektiwiteit van ons gebede. Daar is geen gebed waarvan ek weet wat nie ‘n sekondêre verduideliking in die wetenskap het nie. Ek is nie so kleinlik om in toeval te glo nie, maar ek sal wel sê dat alle toevallighede nie wonderwerke is nie. En ons as twyfelende christene is maar te gou om op te spring en die toeval in ‘n wonderwerk te omskep en dit aan ONS God toe te sê. Ons beweeg nie in ‘n aura van kragtigheid nie maar eerder as soekende siele wat so hoop dat ons oor iets sal val wat vir ons sin maak.
    Het christene dan opgehou dink oor wie hulle is en wat ons dien? Is daar dan soveel onderwysers dat dit nie meer nut het vir christene om vir hulleself te dink nie? Op watter stadium het dit lasterlik geraak om te sê: Ek dink nie die ding is reg vertaal nie? Het ons te bang geword vir ons vermoë om vir onsself te besluit en waarvoor presies is ons bang? Ek hou ‘n lys op my lessenaar van vrae wat nie antwoorde in die kerk het nie. Een so ‘n vraag is: Presies waar woon God? My Bybel sê hy bly in die harte van mense, ander keer sê dit Hy woon in die Hemel (wie weet waar dit is) en weer op ‘n ander plek sê dit dat God alom teenwoordig is. In alle gevalle is god darem manlik!

    Fit het tyd geword dat ons die fondasies van ons geloof begin oopkrap om die waarheid te hervind van grondvlak af. Dit is nie meer goed genoeg om net te sê ons weet nou ten dele nie. Want ek jan nie net ten dele aanbid nie. Ek wil die volle krag van my goddelikheid nou beleef en hiervoor het ek klaar antwoorde nodig.

    Ek lees ‘n artikel in die jongste ‘juig’ tydskrif waarin beweer word dat pornografie vir God ontneem van sy glorie. Is die God wat ons dien dan so magteloos en kleinserig dat pornografie hom van heerlikheid kan ontneem? Indien wel sal ek vir my ‘n sterker een moet soek ….

    Ek merk dat jy dwaalleer definieer as iets wat lynreg teen Jesus se bedoeling indryf. Ek dink as ons ‘n kans het om ons Calvinistiese gewoonte aanbidding die stryd wil aansê, sal ons heel eerste groot genoeg moet wees om te sê dat ons nie regtig weet wat Jesus bedoel het nie – anders sou ons ten minste al die dinge kon doen wat hy gedoen het, laat staan nog groter dinge as hy!

  9. gerritbrand het gesê op Mei 3, 2010

    Dit hang seker af wat jy met “terug ontvang” bedoel. As jy bedoel dat diegene wat byvoorbeeld geld vir God se saak gee in ruil daarvoor geld sal ontvang, dan moet ek met jou verskil. As jy egter bedoel dat die rykdom van God se heerskappy, om in gemeenskap met God en in die gemeenskap van gelowiges te kan leef – dat dit die rykdom is wat ‘n mens “terug kry” wannneer jy jouself en als wat jy het aan God gee (terwyl jy verstaan dat God se koninkryk, hoewel dit nog moet kom, ook reeds hier in ons midde is), dan stem ek saam.

    Waarmee ek beslis verskil, is die gedagte dat, as dit sleg met ‘n mens gaan, dit noodwendig die gevolg van ‘n onheilige, ongehoorsame of ongelowige lewe is. Daarteen spreek onder meer die hele boek Job asook Jesus se antwoord op die vraag of die man wat blind gebore is se blindheid aan sy eie sonde of aan die sonde van sy ouers te wyte is. Die idee dat ‘n moreel goeie lewe tot voorspoed lei en ‘n moreel slegte lewe tot teenspoed is nie Christelik nie.

  10. gerritbrand het gesê op Mei 3, 2010

    Deon, dis goed dat gelowiges eerlike vrae oor hul eie geloof stel, nes dit goed is dat nie-gelowiges sulke vrae oor die geloof stel. Die Bybelskrywers (dink bv. aan die Psalms, en Jesus se aanhaling uit ‘n Psalm: “My God, my God, waarom …) vra self sulke vrae. Dis deel van wat die groot Middeleeuse teoloog Anselmus genoem het “fides quaerens intellectum”, dws geloof op soek na begrip.

    Die vrae wat jy stel – drie-eenheid, gebedsverhoring, die vraag na “waar” God is en so meer – is baie belangrike vrae, en elkeen verdien ‘n deeglike bespreking. Vir my om hier so kortweg my blik op die betrokke sake te probeer weergee, sou nie reg doen aan die vrae nie. My inskrywing hierbo gaan maar oor een spesifieke saak.

    Daarom kortliks net dit: die leer van die drie-eenheid wil niks anders duidelik maak nie as dat die God van Israel wat die heelal geskep het en onderhou, die God waarmee ons in Jesus te doen het, en God as die Gees wat vernuwend in ons en die skepping werk – dat dit een en dieselfde God is. Soos een bekende boek oor die drie-eenheid se titel dit stel: “These three are one”.

    Wat gebedsverhoring betref: Die feit dat ‘n gebeurtenis natuurlik verklaar kan word, beteken nie dat dit nie deur God veroorsaak is nie. Nie net “wonderwerke” wat die natuurwette “oortree”, is dade van God nie. Ook dit wat binne die normale gang van sake, volgens die natuurwette, gebeur, kan ‘n handeling van God wees. Die vraag: “Is hierdie genesing (of reenbui, of bevryding, of …) waarvoor ons gebid het gebedsverhoring of is dit ‘n toevallige, natuurlik verklaarbare gebeurtenis?” is ‘n vals vraag. Dit is ‘n daad van God, direk of indirek, want alles wat gebeur wat goed, dws in ooreenstemming met God se wil, is, is aan God te danke.

    Waar is God? Die klassieke Christelike antwoord is dat God oral is. God se ruimte omsluit ons ruimte net soos ons driedimensionele ruimte ‘n tweedimensionele werklikheid kan omsluit. Daarom is God inderdaad in ons “harte”, in die “hemel” (wat met die aarde verstrengel is) ens.

    Dis nie waar dat God oral in die Bybel manlik voorgestel word nie. God word onder andere as ‘n moeder en as ‘n hen voorgestel.

    Laastens: die vrae wat jy stel, is nie nuut nie. Regdeur die geskiedenis van die Christelike denke is hierdie en baie ander vrae al oor en oor bespreek en bedink. Lees die kerkvaders, lees die Middeleeuse denkers, lees die Reformatore, lees die beste moderne en hedendaagse teoloe. Maar moenie verwag dat jy maklike antwoorde gaan kry nie. Die werklikheid is nie maklik nie; dis kompleks.

  11. gerritbrand het gesê op Mei 5, 2010

    SpekBek, om ‘n standpunt teen iets in the neem impliseer hoegenaamd nie die aanspraak om alle waarheid in pag te he nie, en om die feit dat ons almal ten dele ken en beslis ook baie verkeerde opvattings het waarvan ons nie weet nie, ontneem ons nie van die noodsaak om keuse te maak nie. Net so beteken die kompleksiteit van hermeneutiek nie dat ons daaraan kan ontsnap om sekere interpretasies bo ander te verkies nie – al weet ons ons kan verkeerd wees. Die oop gesprek waarmee ons by mekaar probeer leer en ons eie standpunte krities leer beoordeel, vereis juis dat ons standpunte op die tafel sit en oordele daaroor vel. Natuurlik is daardie oordele nooit finaal nie.

    Laastens, as ons so bang is dat ons ‘n fout sal maak met ons interpretasies van wat Jesus se bedoelings was dat ons dan liewer niks daaroor se nie – of dat ons dan maar aanvaar Jesus se bedoelings was maar wat ook al ons graag wil he dit moet wees – dan hou die gesprek sommer uit die staanspoor op.

    Natuurlik is religie ‘n magspel.

  12. bigdee het gesê op Mei 5, 2010

    Dankie Gerrit en Speursersant vir die kommentaar op my nota. Ek wil nie dat die ding in ‘n woeste debat ontaard nie omdat hierdie ongelukkig ‘n baie persoonlike reis is wat nie passasiers kan akkomodeer nie. Sommige van die goed waarop ek afgekom het is te kontroversieel om hier te bespreek en soos jy tereg opmerk Gerrit, sommige goed is net te kompleks om sommer net so te verduidelik.
    Niemand het my gesê die dag toe ek my kinderhartjie vir Jesus gegee het dat daar soveel geheime gaan wees wat meeste van die kerk gangers maar mee tevrede sal wees nie. Ek is nie. My Pa was ‘n briljante wetenskaplike en hy het my vertel dat ‘n “teorie” net as geldig beskou kan word as daar nie uitsonderings op is nie. Die oomblik as iemand ‘n uitsondering vind word die teorie in sy totaliteit ongeldig en moet herskryf of aangepas word. En so word die wetenskaplike waarheid verfyn. Wat die drie-eenheid betref wil ek dit net duidelik maak dat ek dit ook al my lewe gehoor het soos wat speursersant dit veduidelik het – niks nuuts nie. Die dilemma is dat dit feitlik onmoontlik is om te konseptualiseer . Maar dit sou ek nog kon verdra as die hele aangeleentheid wondere verrig het in die geestelike welstand van die aanhangers van Christus en die kruisdood. Dit blyk egter steeds ‘n teorie te wees. Soveel opinies, soveel teorië, en vol gate is hulle beslis vir my. Ek toets soms goed deur dit aan ‘n kind te verduidelik. Hulle sny jou met een sin aan skerwe as jy van die drie eenheid praat, en tog word daar van ons verwag om soos kinders te glo.
    Ek dink die groot probleem is dat ons vergeet dat God ‘n geestelike wese is. Daarom beskik hy nie oor die luukshede van die natuurlike liggaam nie (hande, mond, ore, stem ens) en het gevolglik ook nie die behoefte om op ‘n lappie grond met die naam van ‘hemel’ of wat ook al nie. Hy het ook nie in syAlmagtgheid ons beskerming nodig nie en kan nie van glorie ontneem word nie. Hy/Sy is net. Ek glo ook dat daar net een God is en dat Hy net op een plek woon en dit in alle mense se harte. Christus sover dit my aangan is nie God of ‘n God nie. Hy is wel die verlosser en het dit wat Hy gedoen het volmaak kom afhandel en niks uitgesluit nie. Ek dink ook hy was die grootste leraar wat ooit op die aarde geloop het en ek dink hy is grensloos misverstaan deur sy studente (waarvan ons ook deel is). Dis nog steeds duister oor waar hy die eerste 30 jaar van Sy lewe was en hy was mar bra stil ook aangesien daar net ‘n fraksie van sy woorde in die Bybel opgeteken is. Die Heilige Gees is die gees van die mens wat in elk geval heilig is maar wat deur die mense sodanig ontken en onderdruk word dat dit nie as Heilig na buite uitgestraal kan word nie en dus onsigbaar is. Dit maak ook die mense se geestelike goddelikheid steriel en is die oorsaak van gebede wat nie verhoor word nie en die sukkelende bestaan wat ons voer.
    Julle sien, die antwoorde is nie so belangrik soos die krag waarvan ons leer nie. Die antwoorde op vrae kan maar oop lê vir interpretasie, maar as daar christene is wat effektief kan bid, al is dit net om die seisoene te beheer (soos Elia) dan moet ons kennis neem en hulle nie uitkryt vir mense wat met demoniese goed doenig is nie al kan hulle nie volgens ons ontoereikende en selfsugtige definisie, as christene geklassifiseer word nie. Ek neem ook aan dat hulle op iets afgekom het wat ‘n stukkie van hulle heiligheid ontsluit het en selfs dalk vegelyk kan word met die belofte van die sogenaamde “groter goed” wat Jesus gesê het ons sal kan doen. Dis vir my die moeite werd om te ondersoek.
    Daar is nog die ander sakie oor Christus naamlik dat ek voel ons het vasgehaak by die kruis. Is dit dan nie volmaak afgehandel en oor en gedaan nie. As dit die basis van wedergeboorte is, en ons aanvaar dit so, moet ons dan kruisies om ons nekke dra en altyd terug val na die geboortedag toe? Wanneer gaan ons groei? Wanneer gaan ons geestelike so volwasse wees dat ons nie meer nodig het om te sê: Onthou

  13. bigdee het gesê op Mei 5, 2010

    Daar is nog die ander sakie oor Christus naamlik dat ek voel ons het vasgehaak by die kruis. Is dit dan nie volmaak afgehandel en oor en gedaan nie. As dit die basis van wedergeboorte is, en ons aanvaar dit so, moet ons dan kruisies om ons nekke dra en altyd terug val na die geboortedag toe? Wanneer gaan ons groei? Wanneer gaan ons geestelike so volwasse wees dat ons nie meer nodig het om te sê: Onthou net waar jy vandaan kom nie? Ek wil graag sien dat moderne Christene eerder aanvaar dat dit hulle geboortedag was en sê – So What, dis jare gelede, kyk hoe groot het ek intussen geword!!! Soos ek sê, dis kontroversieel maar miskien het ons aanhangers van Christus geword en nie van die God wat Christus ons oor kom leer het nie. Ek moet vra, maak dit sin om die boodskapper/leraar te aanbid? Moelike een ….
    Ek wil hier afsluit maar voor ek dit doen moet ek dit net duidelik stel dat ek nie ‘n aanhanger is van een of ander ‘haya haya’ sekte nie. Ek is ‘n Christen in murg en been en tot verdere kennis sal dit so bly. Dit het bloot vir my ondraaglik geraak om uit te sien na ‘n heerlikheid van eendag wat niemand weet waar dit is, hoe dit is, hoe dit lyk en of dit bestaan nie. So ‘n duistere prys is nie vir my die moeite werd om my lewe daarvolgens in te rig en dalk steeds die risiko te loop om hierdie komplekshede mis te vat in die proses nie. In meeste gevalle is die somtotaal van ons evangeliesasie poging van die volk afgewater tot ‘voel skuldig’ en ‘wees bang’ as jy nie vir my luister nie. Beide konsepte grens aan demoniese strategië. Ek is nie bang nie en ek voel nie skuldig nie. Tot sover …

  14. gerritbrand het gesê op Mei 6, 2010

    Bigdee, niks wat jy skryf, is so “kontroversieel” soos jy dink nie. Dis deur die eeue al baie geskryf en gedebateer.

    Als wat jy skryf, is verder net so min bewysbare teorie as wat meer tradisionele sienings oor God is. Geloof is nie wetenskap nie. Wat gelowiges oor God bely (of dit nou tradisioneel of “kontroversieel” is), is nie wetenskaplike hipoteses nie. Om sulke oortuigings aan wetenskaplike kriteria te meet is soos om ‘n rugbyspeler se prestasie te meet aan die aantal lopies wat hy geneem het: Rugby kan nie aan krieketstandaarde gemeet word nie.

    Ek verskil met jou oor die drie-eenheid, die Goddelikheid van Christus en die belangrikheid van die kruis, maar dis groot onderwerpe waaroor ‘n mens die beste oor ‘n braaivleisvuur kan bespreek, nie op ‘n ruimte soos hierdie een nie.

    Sterkte met jou reis! “Soek en jy sal vind.”

  15. gerritbrand het gesê op Mei 19, 2010

    WILHELM VAN DEVENTER SKRYF:

    “Terwyl ons oor allerlei soorte voorspoedsevangelies filofiseer, het ek in al my jare van betrokkenheid by die armste van die armes nog nie ‘n enkele een van hulle teëgekom wat oor hierdie onderwerp praat nie of nie presies verstaan wat Matt 5:3-12 beteken nie. Vir hulle is eenvoud die vreugde van die lewe – dis net ‘n stukkie brood wat liefde is (Jannie du Toit). Daarom Here, maak ons tog asseblief eenvoudig soos hulle wat na-aan die aarde leef, die sterre sien, die wind hoor en glo (Ernst van Heerden).”

  16. gerritbrand het gesê op Mei 19, 2010

    Netso, Wilhelm. Dis juis die voorspoed waaroor ek dit het!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.