Charlyn Dyers skryf oor swart en Afrikaans

April 27, 2010 in Sonder kategorie

Onlangs is ’n beraad oor swart Afrikaanssprekendes se betrokkenheid by die taal by UWK gehou. Die taalkundige Charlyn Dyers het op my versoek ’n essay oor (’n aspek van) dié onderwerp geskryf. (Klik hier om dit te lees, en dan hieronder op “Lewer kommentaar” om daaroor saam te gesels.)

Self het ek groot waardering vir Dyers se fassinerende inligting oor aspekte van Afrikaans se hedendaagse ontwikkeling wat dikwels in “elite”-kringe misgekyk word, asook vir haar sterk nierassige blik op sake. Waarmee ek nie saamstem nie is haar suggestie (so lees ek in elk geval die slotparagrawe van haar essay) dat Afrikaans ge-ontpolitiseer kan of moet word. Feit is, taal het alles met mag te doen, en politiek is die spel van mag. Die feit dat jong mense op allerlei interessante nuwe maniere met Afrikaans en ander inheemse tale omgaan, beteken nie dat hulle nou skielik nie meer benadeel word deur die oorheersing van Engels nie.

Maar miskien verstaan ek Dyers verkeerd. Wat ek wel weet, is dat sy nie net belangrike navorsing oor taaltendense doen nie, maar ook by talle projekte om mense ander tale te help leer betrokke is. Onder meer.

Lees ook Andre van der Walt se baie skerp bydrae oor hierdie tema elders op LitNet.

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na [email protected] om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

1 antwoord op Charlyn Dyers skryf oor swart en Afrikaans

  1. Maak gerus daardie draai! Ons moet ook wegkom van die idee dat mag boos is en vermy kan word. Dis omdat ons aan mag as dominerende mag dink – hoe meer mag jy het, hoe minder het ek. Sulke mag bestaan wel en oorheersing van een taal oor ander is ‘n teksboekvoorbeeld daarvan. Die vraag word nou: watter bemagtigende mag is sterk genoeg om die onderdrukkende mag mee teen te gaan? (Dit help immers nie een dominerende mag vervang ‘n ander nie – al is dit wat meestal gebeur.) Die idee dat mag vermy kan word, is gewoonlik ‘n strategie om ‘n bepaalde vorm van dominerende mag te verdoesel.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.