Annelise sit poligamie-debat voort

April 27, 2010 in Sonder kategorie

Die uitgebreide miniseminaar oor poligamie, onder meer na aanleiding van pres. Jacob Zuma se beoefening daarvan en die uiteenlopende reaksies daarop, is nou uitgebrei met Annelise se bydrae tot die gesprek. Klik hier om dit te lees, en hier vir al die bydraes tot dusver.

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na [email protected] om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

4 antwoorde op Annelise sit poligamie-debat voort

  1. DonkerNag het gesê op April 27, 2010

    Interessant die idees van Annelise. Persoonlik glo ek dat as jy die stap vat om jouself te verbind tot ‘n persoon op ‘n emosionele wyse of dan die tradisionele manier van die huwelik jy die stap neem na deeglike besinning en die feit dat jy haar of hom lief het. Saam met dit hang natuurlik al die aspekte van belang soos respek, kommunikasie ens. Vir my as ongetroude is die strewe dus om ‘n maat te vind waar daar in liefde sonder jaloesie omgegaan sal word. As dit in plek is, waarom sal ek en sy dan wil omgaan met ander as dit reeds teenwoordig moet wees in ons verhouding? Dalk ‘n baie vereenvoudige siening maar dis my opinie. Ek ken ook mense in ‘n oop verhouding en wat ek sien is dat hulle meer soos goeie vriende of kamer maats opereer as mense wat werklik commit is om hulle verhouding te laat werk

  2. Dis inderdaad ‘n sterk argument teen sowel poligamie as oop verhoudings (ek dink mens moet sorgvuldig tussen die twee praktyke onderskei, soos Annelise ook doen): Dit wil voorkom asof die onbeskryflik diep intimiteit tussen getroudes in ‘n poligame huwelik in die praktyk geneig is om te wyk sodra intimiteit na meer as een persoon uitgebrei word. Dit meen ek as getroude wat nie persoonlike ervaring van poligamie of oop verhoudings het nie (!), en dus grootliks op grond van aanvoeling en observasie.

    Aan die ander kant beweer mense soos Annelise uit eie ervaring dat dit wel kan werk, met behoud van ‘n diepe intimiteit. Ek neem aan dit gaan daaroor dat mense nie altyd alles vir hul lewensmaat kan wees nie, en dat verhoudings met andere dan die spanning daarrondom as ‘t ware verlig.

    Daarteenoor het ek ‘n sterk gevoel dat, in ‘n monogame huwelik, juis die aangewesenheid op mekaar, die verbintenis wat daardeur geimpliseer word – om te werk aan die verhouding as dit na een of albei kante nie bevredig nie – en die weerloosheid wat daarmee gepaard gaan, die twee betrokkenes baie na aan mekaar bring op ‘n manier wat in geen ander soort verhouding moontlik is nie. Kritici van poligamie sou weer redeneer dat daardie einste situasie te maklik aanleiding gee tot bitterheid, jaloesie, onvergenoegdheid en uiteindelik geheime buite-egtelike verhoudings, en ‘n mens moet toegee dat dit in baie gevalle wel so uitwerk.

    Miskien is dit ‘n kwessie van ‘n besluit of ‘n mens bereid is om die risiko van lewenslange, eksklusiewe toewyding aan een persoon te neem, ter wille van die moontlike “opbrengste” (die diepe intimiteit), of liewer wil veilig speel deur as ‘t ware jou “belegging” te “diversiviseer”, met verlies van die “opbrengs”, maar ook van die risiko.

    Meer fundamenteel gaan dit dalk oor die vraag of ‘n mens se eie bevrediging wel die belangrikste dryfveer in jou besluite moet wees? Vind mens sin daarin om soveel as moontlik uit ander te kry, of om soveel as moontlik aan (‘n) ander te gee?

  3. Die Bybelse geskrifte weerspieel verskillende tydvakke, kulturele agtergronde en waardestelsels, so daar is nie een ondubbelsinnige antwoord op jou vraag nie. (Sommige tekste in die Bybel is vir hedendaagse Christene ietwat van ‘n verleentheid omdat dit veel “vryer” oor seks lyk te praat as wat ‘n mens dalk sou verwag.) Maar jy’s reg, daar loop ‘n sterk lyn deur die Bybelse geskrifte teen losbandigheid.

    Die vraag is net: Wat word onder losbandigheid verstaan? Dis nie altyd ewe duidelik nie. Wanneer is seksuele gedrag losbandig? Dit lyk vir my – om dit erg simplisties en veralgemenend te stel – dat ons seksuele gedrag, soos ons ander gedrag, van respek vir ons medemens moet getuig, dat ons nie in die eerste plek sal handel om ons eie selfsugtige behoeftes te bevredig nie (hoewel die bevrediging van behoeftes in sigself goed is), maar om ander se belange te dien, en dat ons verantwoordelikheid vir ons optrede en die gevolge daarvan sal aanvaar.

    Dit laat egter nog steeds baie moontlikhede oop. Wat presies “verbode”, en wat “toelaatbaar”, is op seksuele gebied is nie iets wat lynreg uit die Bybel afgelees kan word nie, maar waaroor ons met verantwoordelikheid moet besin in die lig van die genoemde (en ander) Bybelse waardes.

    Laastens is die miniseminaar en my blog nie net op Christene gerig nie, maar op almal wat in die onderwerp belang stel, so ‘n mens probeer argumente aanbied wat dalk wyer as net Christelike kringe kan tref.

  4. Juis omdat mense self daaroor besluit: dan kan hulle gedagtes wissel oor die redes vir hul keuses, die voor- en nadele van sekere moontlike keuses, wat hulle uit ervaring geleer het, morele oorwegings ens.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.