Praat van die duiwel

April 15, 2010 in Sonder kategorie

My jongste rubriek in die Kerkbode:

“Ek weet daar sal mense wees wat nou wil sê: ‘Wil jy nou regtig op hierdie dag en datum weer ons ou vriend die duiwel bysleep, met sy hoewe en horings en al?’ Ek moet sê ek weet nie eintlik wat die dag en datum daarmee te make het nie. En ek is nie gepla met die hoewe en die horings nie. Maar verder is my antwoord: ‘Ja, ek wil.’”

Só skryf C.S. Lewis in sy klassieke Mere Christianity (Afrikaanse vertaling: Doodgewoon Christen). Dat die vraag (en antwoord) nie wyk nie blyk daaruit dat die invloedryke 20ste-eeuse teoloog Karl Barth in sy monumentale Kirchliche Dogmatik etlike bladsye aan die onderwerp wy, en dat nuwe, meer populêre boeke daaroor, soos Stephan Joubert en andere se Bestaan die Duiwel Regtig?, ook in die 21ste eeu steeds die lig (of dan die duisternis …) sien. Ongelukkig is nie alle skryfsels hieroor ewe waardevol nie.

Enersyds is daar mense wat so met “ons ou vriend die duiwel” gefassineer is dat dit byna op ’n soort eerbetoon neerkom. Teen dié beoefenaars van die “demonologie” spreek Barth hom skerp uit. Hul spekulasies, skryf hy, getuig van “’n heimlike respek en bewondering, of ten minste ’n atmosfeer van nuuskierigheid, terwyl afkeer die enigste moontlike houding is”.

Dit gaan dikwels ook gepaard met ’n taamlik massiewe voorstelling van die demoniese in byna menslike terme, en ’n bygelowige koppeling daarvan met onskuldige verskynsels soos Harry Potter, popmusiek, karate en joga – ’n benadering van “raak nie, smaak nie, roer nie aan nie” (Kol 2:21).

’n Byna teenoorgestelde siening is dat die Bybelse spreke oor die duiwel bloot ’n kleurryke manier is om te verwys na die kwaad wat mense doen. Wat hierdie “liberale” beskouing misken, is dat die kwaad ook mense doen – as ’t ware ’n wil van sy eie het.

Die “as ’t ware” is belangrik hier, want dit skerm teen die sensasionele fantasieë van die demonoloë, maar die “wil van sy eie” moet ook ernstig geneem word: Mense raak verstrengel in, uitgelewer aan, die kwaad, aan “strukturele sonde”. Die kwaad is sterker as ons mense, sodat selfs goedbedoelendes dikwels onbewus daaraan meewerk. Juis daarom het ons ’n Christus Victor, ’n oorwinnaar-Christus, nodig.

Wie hierdie Bybelse perspektief vergesog vind, moet maar die letterkunde raadpleeg – soos N.P. van Wyk Louw se “Ballade van die Bose”: “Ek is jou wese se ondergrond en ek trap in jou spoor soos ‘n goeie hond.” Of die filosofie – onder andere Michel Foucault met sy denke oor die outonome karakter van mag: dat mag nie soseer iets is wat deur mense uitgeoefen word nie, maar dat mense deur mag gebruik word.

Die Nuwe Testament verbind die “owerhede en magte” (byvoorbeeld in Ef. 6:12) met die politieke maghebbers van die tyd – of eintlik: die magskonstellasie, die magsdinamika, van die Romeinse Ryk, wat mense inslurp en vernietig. Daarvoor staan ook die “dier” en die “sedelose vrou” van Openbaring. Nie net die politieke maghebbers “aanbid” en “dien” hierdie magte nie; dit infiltreer mense se harte ook op meer subtiele maniere. Nes die verbruikerskultuur van ons tyd, en sy waardes en prioriteite, waaraan elkeen van ons maar moeilik ontsnap.

Die gevaar bly maar dat ons óf die outonomie van die bose onderskat en naïef optimisties dink oor die mens se vermoë om die kwaad uit die weg te ruim, óf in bygelowigheid die duiwel agter elke bossie gaan soek, maar hom miskyk daar waar hy juis sy knoeiwerk doen – in Louw se woorde: “Ek is ín jou gevleg, gerank, soos ‘n wortel in die donker bank.”

Met ander woorde: Praat van die Duiwel, dan trap jy op sy stert.

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld aan [email protected] om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

21 antwoorde op Praat van die duiwel

  1. UNPOCO het gesê op April 15, 2010

    Is dit nie haas tyd dat die mens die duiwel begrawe en behoorlik begrafnis hou nie? ‘n Behoorlike verassing sal seker voldoende wees? Dan kan die mens sy oë begin rig na waar sy hulp vandaan kom en niemand hê om te blameer vir die dom, lelike dinge wat hy doen nie.

  2. aardvoel het gesê op April 15, 2010

    ‘n Oud professor van my het gereeld gesê “‘n mens moet nie die duiwel die eer gee wat hom nie toekom nie”.

  3. kuypers het gesê op April 15, 2010

    Dit is ‘n raakvat artikel, dankie. “The Devil is in the eye of the beholder”, seker daaroor het die Nuwe Testament die Romeinse heerskappy as die Bose gesien en die Britse Gemenebes weer Hitler.
    Dit sal nogal sin maak om in ons tyd en vir ons mense saam te dink oor wat Boos is, nie net die Sewe Drake nie.

  4. Neffertiti het gesê op April 15, 2010

    Ag nee, die duiwel bestaan mos net in ons gedagtes.

  5. Die duiwel met stert en horings, ja, maar nie die duiwel as simbool van die kwaad wat in baie opsigte die beheer van mense oorstyg nie. Ook in “sekulere” kringe – dink aan die sielkunde/psigiatrie, sosiologie, ekonomie, mediastudie en dergelike – is daar ‘n diep besef van hierdie gegewe. Al wat die Christelike geloof daaraan toevoeg, is dat daar uiteindelik ‘n groter mag as die mag van die kwaad is, en dat juis dit die mens kan moed gee om die kwaad te weerstaan – uit die hoop en oortuiging dat dit uiteindelik wel “begrawe” gaan word.

  6. Amen.

  7. Jy snap dit.

  8. Daar ook, ja – ons gedagtes wat in so ‘n groot mate duister vir ons is en ons parte speel. Nie net ons individuele gedagtes nie, maar ook ons kollektiewe gedagtes – die diskoerse en ideologiee waaraan ons uitgelewer is (veral wanneer ons dit ontken). Maar nie net in ons individuele en kollektiewe gedagtes nie – ook in maatskaplike strukture. As die bose “net” in ons (individuele) gedagtes bestaan het, sou ons sommer tjop-tjop daarvan ontslae kon raak, maar dis nie die werklikheid waarin ons leef nie.

  9. In die teks staan in soveel woorde “wapenrusting”. Lei jy daaruit af dat Christene letterlik militere drag moet aantrek? Vermoedelik nie. Net so beteken die feit dat die teks na “bose geeste” verwys nie outomaties dat ons aan onsigbare spokies moet dink nie. Volgens my skrywe hierbo gaan dit buitendien nie sommer net oor politieke maghebbers nie – lees weer. Dit gaan oor ‘n mag waaroor selfs die maghebbers nie mag het nie. Ook die mag waarvan Louw en Foucault praat, is onsigbaar en “in die lug”.

  10. Wie’t gese die duiwel bestaan nie? Die vraag is wat verstaan ons onder “die duiwel”? My eie mening is dat die duiwel juis “so amok maak” omdat mense daaraan dink as ‘n mensagtige spook wat in popmusiek en karate aan die werk is. Intussen is hy in hulle aan die werk.

  11. ‘n Mens moet enige Bybelteks teen sy historiese en kulturele agtergrond lees – en teen die agtergrond van ander tekste deur dieselfde skrywer.

  12. Ek is nie slimmer as enigiemand nie. Dis wat ‘n blog lekker maak: ek hoef nie net te skryf wat ek dink nie, maar kan hoor wat ander dink oor wat ek dink. Dis baie nodig!

    Die kern van my antwoord berus op wat jy self skryf: “die bybel op sy eie is al klaar moeilik om te verstaan.” Inderdaad, so wie is ek om dit eenvoudiger te maak? Jesus se eie manier van praat en optree, is paradoksaal, verwarrend, dikwels moeilik om te verstaan – soos ‘n goeie gedig. Juis omdat ons dit nie maklik in eenvoudige formules kan vasvat nie bly geloof ‘n leerskool – “fides quaerens intellectum”, geloof op soek na begrip. As dit is hoe die Here sy Woord aanbied – moeilik om te verstaan – dan moet ons daardie Woord respekteer en, hoe vreemd dit ook mag klink, dit vir onsself en ander ook moeilik maak om te verstaan.

    Anders gestel: Ons moet telkens as ons dink ons verstaan, daardie verstaan bevraagteken, kompliseer, soos Jesus gedoen het. Elke keer as sy dissipels gedink het nou het hulle dit, het hy die hele appelkar omgegooi met nog ‘n verrassende en verwarrende uitspraak of daad.

    Wat die duiwel betref: as ons dink ons verstaan, dan praat ons oor die duiwel, maar trap op sy stert.

  13. O ja, die deel van die Kerkbode wat aanlyn gelees kan word, kan jy kry deur bo-aan my inskrywing op die woord “Kerkbode” te klik. Op die webwerf waar jy dan uitkom, sal jy ook meer inligting kry oor hoe jy die volledige publikasie in die hande kan kry.

  14. hacjones het gesê op April 27, 2010

    SATAN, n. One of the Creator’s lamentable mistakes, repented in sashcloth and axes. Being instated as an archangel, Satan made
    himself multifariously objectionable and was finally expelled from Heaven. Halfway in his descent he paused, bent his head in thought a
    moment and at last went back. “There is one favor that I should like
    to ask,” said he.
    “Name it.”
    “Man, I understand, is about to be created. He will need laws.”
    “What, wretch! you his appointed adversary, charged from the dawn
    of eternity with hatred of his soul — you ask for the right to make
    his laws?”
    “Pardon; what I have to ask is that he be permitted to make them
    himself.”
    It was so ordered.

  15. Uit Ambrose Bierce se The Devil’s Dictionary, of hoe? Wonderlike boekie!

  16. hacjones het gesê op April 27, 2010

    Yep. En die evolusie van die “bose” so deur die eeue is nogal heel amusant.

  17. Gerrit, ek het so pas ‘n tong in die kies pos gepen oor die duiwel sonder om te weet dat jy ook die afgelope ruk die duiwel in geraak het! Kyk gerus na my komiese kykie na die onderwerp. Ek wonder of ons ‘n slag sal saamstem? By die boeke waarna jy verwys het, kan ek dalk Elaine Pagels (1996) se goeie studie, ‘The Origin of Satan’ voeg.

  18. Ekskuus, ek sien nou eers die datum, April. Jou duiwelsieninge is dus al bietjie ou nuus.

  19. Jou duiwelswerk is netjies! Dankie vir die skakel.

    Vir my is dit nie belangrik dat mense met my moet saamstem nie, maar wie weet? Ek sal uitkyk vir die Pagels-boek. Soos jy weet, is daar so baie boeke waarby ‘n mens wil uitkom! Ek het pas ook vinnig deur ‘n nuwe boek getitel “Sin – A History” geblaai. Baie interessant.

  20. Daar is twee dinge waaroor die duiwel mal is:
    1. As jy hom oorskat
    2. As jy hom onderskat
    Gerrit Brand, jy onderskat die duiwel!

  21. Daniel, ek onderskat nie die Duiwel nie. Ek is toenemend diep onder die indruk van die mate waarin mense, gemeenskappe en die hele skepping onder outonome mag van boosheid gevange is. Ek is wel versigtig om daardie boosheid in alte persoonlike terme te verstaan, want daarmee doen ons dit te veel eer. Lees maar weer mooi wat ek geskryf het.

    Die grootste gevaar mbt die duiwel is nie dat ons dit oorskat nie, maar dat ons dink ons het ‘n greep daarop, ons kan dit uitwys, dophou. Mense wat presies die hoe, wat en waar van die duiwel ken, praat van hom terwyl hulle onwetend op sy stert trap. Pasop!

    Die belangrikste bly egter dat die magte en owerhede deur Christus aan die kruis gespyker, in die openbaar ten toon gestel en oorwin is. Dis die belangtrikste en diepste waarheid oor die duiwel. Wie dit verheer verheerlik ou Nick eerder as om die Here te vereer.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.