“PC” staan nie net vir “personal computer” nie

April 13, 2010 in Sonder kategorie

My jongste Brandpunte-rubriek in die Nederlandse Maandblad Zuid-Afrika:

 

 Die afkorting PC staan in Suid-Afrika nie net vir personal computer nie, maar ook vir politically correct. In Afrikaans is dit PK, politiek korrek. Dit is min of meer die teenoorgestelde van wat in Nederland “fout” heet.

  

Indien ek as buitestander dit reg verstaan, is mense in die Lae Lande “fout” as hulle regse neigings, of selfs net ’n regse vlekkie iewers in hul geskiedenis, het; ’n mens kan op grond van guilt by association ook as “fout” kwalifiseer. Daar is dan as ’t ware politiek iets fout met jou.Toegegee, ek het die woord “fout”, op z’n Nederlands, so leer verstaan in ’n tyd toe die meerderheidstandpunt inderdaad was dat daar politiek iets fout is met regs. Dit mag wees dat, met die onlangser swaai na regs in die Nederlandse en breër Europese politiek, dit wat destyds as “fout” beskou is nou deur baie mense as prysenswaardig, as korrek, gesien word.

  

 Kritiese verwysingspunt

 In Mzanzi (’n informele plaaslike naam vir Suid-Afrika onder polities korrektes) is die kritiese verwysingspunt – die paradigmatiese voorbeeld van wat polities ínkorrek is – nie fascisme (soos in Europa, ten minste tot onlangs) nie, maar apartheid. Apartheid was so on-PK as kan kom, en enigiets wat selfs maar in die geringste mate daarna ruik, of selfs net verlangs daarvan verdink kan word dat dit bes moontlik daarna sou kón ruik, deel in die smet daarvan.

Voorbeelde

 ’n Paar voorbeelde: Vir wit mense om swart mense te kritiseer is politiek inkorrek, want dit sou kan suggereer dat swartes onbekwaam is of dat wittes steeds dink hulle kan oor swartes baas speel – soos in die slegte ou dae. Klagtes deur wittes weerspieël in elk geval ’n soort onsensitiwiteit, want hoekom kla hulle nou oor misdaad of swak dienslewering as hulle nie in die verlede teen apartheid beswaar aangeteken het nie. Dis nog boonop ondankbaar ook, want wittes behoort hul sterre te dank dat hulle, gesien wat in die verlede gebeur het, hoegenaamd nog in Suid-Afrika getolereer word.

Dis ewe politiek inkorrek vir swartes om die owerheid te kritiseer, want daarmee word duidelik dat hulle hul by die wittes skaar, nes die swart tuislandleiers, polisiemanne en verraderlike informante van die apartheidsjare. Sulke kritici word afwysend “coconuts” genoem: donker van buite, wit van binne.

  

 Om vir die regte van Afrikaans op te kom is erg politiek inkorrek. Trouens, om hoegenaamd bewustelik as Afrikaanssprekende die openbare domein te betree is om die merk van die apartheidsdier te vertoon. Immers, wie oor Afrikaans se posisie in die land bekommerd is, verlang noodwendig terug na die dae toe wit Afrikaners die baas van die plaas was – al is die bekommerdes self nie wit nie, of voormalige stryders teen apartheid. Bruines wat hulle met so iets vereenselwig, is “gekoöpteer” (deur wittes, natuurlik) en, as hulle alte veel Afrikaans praat, “Bolanders” (ongesofistikeerde plaasjapies).

  

Moet jou ook nie te veel vir die gebruik van ander Afrikatale, soos Sotho, Zoeloe of Venda, beywer nie, want onthou, die apartheidsregering het die gebruik van Afrikatale aktief bevorder. Laat kinders eerder in Engels skoolgaan en druip as dat hulle in hul moedertaal onderrig word soos Verwoerd graag wou gehad het.

Sekere politieke standpunte is anatema. Daar kan nie eens oor gepraat word nie; net oë hemelwaarts geslaan word. ’n Mens kritiseer nie regstellende aksie (Nederlands: positieve diskriminatie) nie, al is die vertrekpunt van jou argument ook hóé links georiënteer en op die bemagtiging van agtergesteldes gerig. Ja, ook al is jy swart en het jy self nog nie, soos heelparty kitsmiljoenêrs, daaruit ryk geword nie.

Ook kritiek op die uitspattige rykdom van die Wabenzi, mense wat danksy hul velkleur en die regte politieke konneksies oornag geldmagnate geword het en hulle in peperduur Mercedez-Benz-motors laat rondry (vandaar die benaming), dui op ’n diepgewortelde rassistiese oortuiging dat swartes nie die reg het om, soos wittes, ryk te wees nie. Dit maak ook nie saak of die betrokke ryke sy of haar geld deur korrupsie bekom het nie, want wie dáároor praat, werk mee aan die instandhouding van die korrupte-Afrikaan-stereotipe. Dis “Afropessimisties”, ’n ernstige sonde.

Brand South Africa

Ja-nee, om politiek korrek te wees moet ’n mens positief wees. Die staatsondersteunde handelsmerkbevorderaar “Brand South Africa” werk hard om ’n aantreklike beeld van Suid-Afrika na die buiteland uit te straal; die media en gewone burgers moenie dié werk ongedaan maak deur boodskappe oor misdaad, korrupsie en wanbestuur die wêreld in te stuur nie. Dis onpatrioties en dus anti-reënboognasie – ver van politiek korrek af. Mense wat postapartheid-Suid-Afrika so afkraak, suggereer dat dit in die ou dae beter was, en is dus rassiste.

Politieke korrektheid, weer, vereis nie net, soos reeds genoem, dat ’n mens “op die positiewe fokus” nie, maar ook dat jy, in plaas daarvan om “alewig te kritiseer”, kyk hoe jy “self ’n bydrae kan lewer”. Dis ook absoluut essensieel om polities verwerplikes uit te wys en sleg te sê, en sodoende jou eie politieke reinheid ten toon te stel. Gunsteling teikens hiervoor is daardie arme verlore siele waarna in polities korrekte kringe afwysend as “taalstryders” of “taalbulle” verwys word en diegene wat regstellende aksie kritiseer, maar eintlik sal enigiemand wat kritiek op die regering uitspreek as teiken deug. Die idee is om te wys Ons is nie almal so nie (’n roman deur Jeanne Goosen, wat egter self jammerlik misluk in politieke korrektheid).

Nog ’n belangrike merker van politieke korrektheid is taalgebruik. Taal moet “inklusief” wees (vermy geslagsterme of gebruik net vroulikes). Dit moet ook “sensitief” wees (dink aan hoe dit gaan oorkom). Dit help as ’n mens die owerheidsektor se newspeak kan besig – daardie magdom van afkortings wat soos woorde funksioneer en wat ek nooit kan onthou nie. ’n Mens noem Boesmans nie Boesmans nie (al noem hulle hulself so), maar “Koisan” (al is dit ’n naam wat deur kolonialiste bedink is). En die regering is nie “the government” nie, maar “Government”, ’n soort persoonsnaam.

Die naam politieke korrektheid word nie deur polities korrektes so genoem nie (net soos, wêreldwyd, neoliberaliste nie hulself so noem nie). Om die waarheid te sê, dis glad nie politiek korrek om oor politieke korrektheid te praat nie. (Hierdie rubriek is byvoorbeeld politiek erg inkorrek.) Ander woorde wat gebruik word, is die reeds genoemde “patrioties” en “positief”, maar daar is ook “konstruktief”, “progressief” en “trots Suid-Afrikaans”. (“Links” is ’n bietjie lastig, want van die regering se skerpste kritici kom uit dié hoek.) Die interessantste term wat ek nog gehoor het, is “ideologically sound”.

Kompleks

Hoe dit ook al sy, die saak is, soos alles in Suid-Afrika, nogal kompleks. Baie dinge wat as politiek inkorrek beskou word, is inderdaad verwerplik: openlik rassistiese praatjies om braaivleisvure, die kru seksisme waaronder baie vroue in Suid-Afrika nog ly, vooroordele en geweld teen homoseksueles en so meer. Terwyl politieke korrektheid – ás politieke korrektheid – basies maar ’n sieklike soort sosiale etiket is, en boonop dien om politieke opposisie te neutraliseer, kan besware teen verskynsels soos rassisme, seksisme en homofobie (waar dit werklik voorkom en nie bloot vermoed word nie) tog op eg etiese gronde berus. In Suid-Afrika is daar egter geruime tyd al ’n gewoonte om sulke besware as “politieke korrektheid” af te maak: “Ag, spaar ons tog die politieke korrektheid!”

Ja, politieke korrektheid kan ook ’n teerkwas word – onder diegene wat hulself slagoffers van ’n oordrewe politieke korrektheid voel. Dit sou selfs nie vergesog wees nie om anti- politieke korrektheid as self ’n andersoortige politieke korrektheid te bestempel. In sekere kringe (dink aan boomryke, weelderige woonbuurte in Kaapstad of Johannesburg, of aan die reeds genoemde braaivleisvure) is selfs die geringste geurtjie van politieke korrektheid uiters sosiaal onaanvaarbaar, of dan politiek inkorrek. In sulke kringe dien dit as ’n soort statussimbool “om dit te sê soos dit is”, to call a spade a spade. Dit word as byna heroïes, in ’n macho-sin, beskou om oorwegings soos menseregte, gelykberegtiging, inklusiwiteit en bemagtiging bespotlik te maak of dit af te lag wanneer teen gevare soos rassisme, seksisme, homofobie of eliteisme gewaarsku word.

Opportunisme

Heelparty rubriekskrywers, radiopersoonlikhede, romansiers, digters, dramaturge, filmmakers, komediante en politici het al groot naam gemaak deur hulself bewustelik as politiek inkorrek te brand. As ’n resensent oor ’n boek skryf: “Hierdie boek sal polities korrektes onstel”, is die kans goed dat daardie boek soos soetkoek gaan verkoop, al het dit weinig literêre, akademiese of vermaakwaarde. Daar kan dus ’n stuk opportunisme in modieuse politieke inkorrektheid skuil.

Die wortels kan egter ook dieper lê. Net soos wit Engelssprekendes se geldige kritiek op ’n ekstreme Afrikanernasionalisme in die verlede nie altyd net deur ’n sin vir menslikheid en geregtigheid aangevuur is nie, maar ook soms deur ’n mate van ressentiment oor ’n verlies aan mag aan die Afrikaners, berus ’n groot deel van sommige wittes, Engels én Afrikaans, se swartgalligheid teenoor die huidige politieke orde nie net op geldige kommer, of irritasie oor “politieke korrektheid”, nie, maar op daardie einste ressentiment jeens die “barbare” wat nou aan die mag is.

Daar is ook materiële voordele: Die sóórt politieke korrektheid waarvoor iemand kies, word dikwels bepaal deur die mark wat hy of sy wil bereik. “So it goes,” sou Kurt Vonnegut sê. Elke politieke korrektheid roep sy teenbeeld op.

Van politieke korrektheid gepraat. Ek sien daar is intussen ’n uitgebreide miniseminaar daaroor gereël. Klik hier, lees en gesels saam.

Gerrit Brand is als senior lector systematische theologie verbonden aan de Universiteit van Stellenbosch. Hij schrijft deze rubriek op persoonlijke titel.

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld aan [email protected] om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

11 antwoorde op “PC” staan nie net vir “personal computer” nie

  1. katrina het gesê op April 13, 2010

    Waar is die goeie ou dae toe PK nog vir Poskantoor gestaan het? Ek het al amper vergeet daarvan! En jy’s natuurlik reg met jou skrywe. Ek voel dit in die omgewing waar ek woon lekker aan my bas, op alle vlakke. Nou wat doen ons nou, hmm? Lê laag, so tussen die vloer en die politoer of wat?

  2. Nee, ons spot. Solank ons terselfdertyd net met onsself ook spot.

  3. Inderdaad. ‘n Mens kan hom oor meeste dinge met vrug raadpleeg.

  4. Netso. En die situasie word verdoesel deur sowel die “daders” as die “kritici” van politieke korrektheid.

  5. Kirpan het gesê op April 17, 2010

    Die agtergrond van die gebruik van ‘fout’ in Nederland stam uit die tweede wêreldoorlog. Mense wat pro-Duits was of by die NSB was is ‘fout’ genoem. Latere gebruik verwys eintlik na die eerdere gebruik. Afhanklik in welke kringe jy vertoef het sal die teenstanders as fout gekarakteriseer wees.

    Ek meen dat “korrek” moet wegbly uit díe uitdrukking. Dit is nie korrek maar berekenend én tydgebonde.

  6. Ek besef dit. Wanneer mense vandag “fout” genoem word, is dit by wyse van assosiasie met die Duitsers in die oorlogstyd (al is die een wat so getipeer word nie noodwendig iemand wat self met die Duitsers van daardie tyd identifiseer nie). Net so word mense in Suid-Afrika as politiek inkorrek beskou by wyse van assosiasie met apartheid (al is die persoon wat so beskou word nie noodwendig ‘n apartheid-simpatisant nie).

  7. Kirpan het gesê op April 19, 2010

    Maar die uitdrukking “politiek inkorrek” is tog ‘n vreeslike taalmanipulasie en deswege self inkorrek.
    Moet jy meehuil met die wolwe in die bos? Moet jy mense (is die volgende ook Afrikaans ?) na die mond praat?
    Die sg. ‘politiekekorrekheid’ word m.i. veral ingeskakel met wat in die mode is.
    Jy mag nog so inkorrek wees teenoor enigiets, enige bevolkingsgroep maar wanneer díe groep, díe onderwerp nou net nie die belangstelling het nie dan kan jy gerus so inkorrek wees as jy wil. Mense sal lag. Grappe oor die ‘zwarte kousen kerk’ mag maar grappe oor moslims mag nie. Of hoe is dit?

  8. Ek stem saam met jou. Dis eintlik die punt van my hele betoog. Jammer dat ek dit nie duidelik genoeg oorgedra het nie!

  9. Goedjie het gesê op April 29, 2010

    Dankie vir ‘n interessante artikel.

    PC of Political Correctness or Politieke Korrektheid is ‘n lui manier van dink. Dit is om verskillende etiese debatte onder een noemer te klassifiseer en dan almal gelyk te stel en te verdoem. Die doelwit is juis om debat te vermy.

    As mens na die geskiedenis van die term kyk, blyk dit dat dit eerstens deur linkses gebruik is om die oordrewe en ongenuanseerde gehoorsaamheid aan die partybeleid by linkse, te kritiseer. Later ontwikkel dit as ‘n term binne die diskoers van ‘n regse aanval op nuwe idees soos feminisme of multikultualisme of dekonstruksie binne die Amerikaanse universiteite. Nog later word “PC” ‘n tegniek waarop Amerikaanse regses probeer om liberales te skei in liberales en radikales. Die tegniek is gewoonlik om te se dat vryheid van spraak aangetas word. So word byvoorbeeld verskillede sake aangebied (vroue wat kla oor “daterape”, mense wat kla oor die uitbeelding van geestesiektes in drama, die ban op fasciste as sprekers op kampusse) as almal voorbeelde waar positiewe dinge (vroueregte, regte vir geestesiekes, anti-fascisme) so ver geneem is dat dit verander het in die onderdrukking van vryheid, meestal vryheid van spraak.

    Soos jy tereg se, niemand noem hulself polities korrek nie. Dit is byna onmoontlik om te veg teen die aanklag van politieke korrektheid. Die debat stop daar met ‘n “Jy is! Nee, ek is nie!”. Ek verkies om te se ek glo ek kan my etiese keuses verantwoord.

  10. Ek dink jy moes die stuk geskryf het! Baie interessant.

  11. gerritbrand het gesê op Junie 8, 2010

    Van politieke korrektheid gepraat. Ek sien daar is intussen ’n uitgebreide miniseminaar daaroor gereël. Klik op die nuwe skakel aan die einde van my inskrywing hierbo, lees en gesels saam.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.