Is moordliedjies soms OK?

April 12, 2010 in Sonder kategorie

In die warm diskussies oor “Skiet die Boer” en dergelike moordliedjies word dikwels gesê dat dié liedjies in die konteks van die struggle wel sin gemaak het. Hierdie analise word dan deur ondersteuners van die voortgesette gebruik van sulke liedjies as ’n argument gebruik. Die betoog loop so: Die liedjies is deel van die edele historiese erfenis en kultuur van die ANC en sy massa ondersteuners, en daarom onaantasbaar.

Maar ook huidige kritici van Malema en ander se oproerige sing van skiet- en kill-musiek, lyk dit vir my, gee toe dat dié liedjies in die verlede ’n plek gehad het. Maar het dit?

Was dit ooit – selfs tydens die hoogtepunt van die struggle – OK om liedjies te sing wat mense tot moord op lede van ’n sekere ras- of etniese groep aanspoor? Terwyl uit die struggle-hoek liedjies soos “Dubula iBhunu”, “Kill the Boer, kill the farmer” en ja, ook Zuma se gunsteling, “Umshini Wami”, gesing, en slagspreuke soos “One settler one bullit” die rondte gedoen, het, het sekere wit rassiste hulle verlustig in sêgoed soos: “Die enigste goeie k—– is ’n dooie k—–.” En terwyl laasgenoemde “spreekwoord” met gruweldade soos dié op Vlakplaas en Strydomplein saamgehang het, het die “geliefde” struggle-liedjies met halsnoermoorde en lukrake skietery op kerkgangers geresoneer. En Zuma se liedjie het die ritme verskaf waarop immigrante sommer die ander dag nog in ons townships afgemaai is.

Oor die vraag of die ANC en sekere ander bevrydingsbewegings se keuse vir ’n geweldadige stryd teen die apartheidsbewind ’n wyse besluit was, sal nog lank gedebateer kan word, maar selfs al sou dit wees, dan sou dit nie daaruit volg dat die sing van sulke liedjies in die konteks van so ’n stryd vir vryheid geregverdig was nie. Immers, alle weergawes van die maatstawwe vir ’n regverdige oorlog bepaal dat burgerlikes nie aangeval mag word nie, en sluit sekerlik uit dat willekeurige geweld teen lede van spesifieke etniese, rasse-, taal- of godsdiensgroepe deel van ’n “regverdige” stryd kan uitmaak. Laasgenoemde het ’n akkurater naam, te wete aanhitsing tot volksmoord. Wie daaraan meedoen, bevind hom in die geselskap van Adolf Hitler en kie.

Aanhitsing tot geweld is altyd verkeerd, selfs in gevalle (indien daar sulke gevalle is) waar die oorwoë gebruik van geweld self dalk geregverdig kan wees. Die struggle-liedjies wat moord en doodslag bepleit, is dus net so min deel van die bevrydingsbewegings se “edele” struggle as “Die enigste goeie k—– …” deel uitmaak van ’n “edele” blanke erfenis. Dis eerder iets waarvoor mense hulle diep behoort te skaam. Sies man!

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld aan [email protected] om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

6 antwoorde op Is moordliedjies soms OK?

  1. Nie vir almal nie, maar ek’s bly jy dink so.

  2. Ek dink dis ook nie OK as soldate in ‘n oorlog juis hierdie soort liedjies sing om hulle op te rui nie. Daar is baie soorte liedjies wat mense se vrees kan besweer, hulle dapperder kan laat voel of wat ook al (“Wie is die dapper generaal, De Wet!”, byvoorbeeld …); die liedjies hoef nie rassisme en volksmoord aan te moedig nie. Soldate doen tipies in oorlogstye allerhande dinge, byvoorbeeld om hele dorpsgemeenskappe uit te wis of op groot skaal vroue te verkrag om sodoende van hul oortollige aggressie en spanning ontslae te raak. Die feit dat dit algemeen in oorlogstyd voorkom, maak dit nie aanvaarbaar of toelaatbaar nie. Ek sien hierdie soort liedjies, ook in oorlogstyd, as op dieselfde vlak.

  3. Kyk my antwoord op Lo-Ammi hieronder.

  4. BertieDuP het gesê op April 13, 2010

    Die punt is, as die oorlog verby is kan jy nie aangaan om dit te sing nie. Tweedens, gaan soek maar in die FAK, is daar liedjies wat sê maak dood die Engelse/Swartes. Derdens De la Rey kan hoegenaamd nie vergelyk word met liedere wat “Maak dood die boer” bevat nie – geen sulke geweldsaanhitsing kom daarin voor nie! Jy kan sing en opruiend sing, maar “Maak dood” met verwysing na ‘n spesifieke groept mense na die vrede gesluit is, is absoluut onaanvaarbaar. Of is die oorlog vir sommige nie verby nie?

  5. Ek stem saam.

  6. Het ek ooit die SAW se oorlogsoptrede verdedig? Beslis nie.

    Verder, ek veroordeel nie soldate in die algemeen nie. Ek wys daarop dat oorlog dikwels (byna altyd?) tot sekere uitwasse aanleiding gee – waarvan geweld teen burgerlikes en grootskaalse marteling en verkragting tipiese voorbeelde is. Daaruit volg dit nie dat alle soldate in so ‘n oorlog hulle daaraan skuldig maak nie.

    Rassehaat en aansporing tot volksmoord bly altyd verkeerd, ook in die konteks van oorlog – miskien dan juis meer omdat dit gebeur in ‘n konteks waar die uitbreek van roekelose geweld reeds ‘n sterk risiko is.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.