Die dood van Eugene Terre’blanche

April 6, 2010 in Sonder kategorie

Ek was, om dit sagkens te stel, nog nooit ‘n aanhanger of bewonderaar van Eugene Terre’blanche nie. Inteendeel, sy politiek en sy visie oor Afrikanerskap staan lynreg teenoor myne. Ek dink ook dat hy dikwels op moreel verwerplike maniere opgetree, en groot skade aan mense en aan ons samelewing berokken, het. Nogtans is ek hartseer oor die moord op hom, want hy was ‘n mens soos ek en jy, en dis altyd hartseer wanneer ‘n mens sterf, en nog hartseerder wanneer dit weens haat en geweld gebeur.

In die huidige openbare gesprek oor Terre’blanche se dood is daar drie reaksies wat vir my uiters problematies is. Eerstens is daar diegene wat hulle in sy dood verlekker. Ek dink daar is maar min menslikheid in ‘n mens oor as hy/sy bly kan wees of lekker kry oor die dood van ‘n medemens. Die feit dat ‘n ander mens as ‘n “vyand” of “sleg” beskou word, maak nie die dood van daardie mens minder van ‘n tragedie nie. Inteendeel, gesien die feit dat elke mens wat gebore word oor die potensiaal beskik om goed te doen, iets vir ander te beteken en ‘n positiewe verskil te maak – die belofte van “geboortelikheid” waarvan Hannah Arendt geskryf het – maak dit dalk selfs meer tragies wanneer iemand sterf sonder dat, of voordat, daardie belofte in noemenswaardige mate verwesenlik is.

Om die mees ekstreme voorbeeld te noem: As ‘n massamoordenaar soos Adolf Hitler sterf (en ek beweer geensins hiermee dat Terre’blanche ‘n massamoordenaar was nie), dan verskaf dit my geen bevrediging nie, want dit plaas as ‘t ware – ten minste menslik gesproke – ‘n finale punt by daardie mens se verhaal. Daar sal geen inkeer, geen omkering, geen berou meer in daardie mens se lewe wees nie. Sy menslike potensiaal is finaal verlore. In werklikheid is geen mens natuurlik alleen maar sleg of goed nie, maar ek gebruik ‘n ekstreme voorbeeld om die punt te maak dat die dood van enige mens, hoe goed of sleg ook al, altyd vir medemense ‘n pynlike saak behoort te wees.

Daarom is ek ook hartseer oor die lewe van die twee vermeende moordenaars wat so ‘n donker en vernietigende rigting ingeslaan het. Dis aaklig dat iemand wat as ‘n onskuldige baba vol belofte gebore is op die punt kan uitkom waar ‘n ander se lewe vir hom so min beteken dat hy dit willens en wetens, en wreedaardig, kan vernietig.

‘n Tweede soort reaksie wat my teen die bors stuit, is die een wat die “persepsies” wat deur Terre’blanche se dood ontstaan vooropstel. Op die TV-nuus het ek byvoorbeeld gehoor dat die moord op Terre’blanche “op die slegste denkbare tyd” gebeur het – nie omdat dit rassespanning verder aanwakker nie, maar omdat dit kort voor die Wêreldbeker-sokkertoernooi ‘n Suid-Afrika se beeld skade berokken. Die SA “handelsmerk” is dus belangriker as ‘n menselewe of die werklike verhoudings tussen die mense van Suid-Afrika.

Uit ‘n radiogesprek van vanoggend blyk dieselfde soort perspektief: As gevolg van die moord op Terre’blanche skryf die buitelandse media, veral die boniepers, vreeslike dinge oor die vlak van geweld in Suid-Afrika. Die beriggewer vergelyk dit met stories oor leeus wat in SA op straat rondloop – ‘n onsinnige vergelyking, aangesien leeus nié in SA op straat rondloop nie, maar wreedaardige moorde wel deeglik elke dag gepleeg word. Die “persepsie” dat Suid-Afrika ‘n gevaarlike plek is om te besoek, is ‘n ongelukkige persepsie, maar helaas ook waar, en myns insiens is die ongelukkige werklikheid – die grootskaalse minagting vir menselewens wat ons nasionale kultuur kenmerk – veel erger as die ongelukkige persepsie. Weer eens wil dit lyk asof wat buitelanders van ons dink vir sommige mense belangriker as as wat in werklikheid met ons mense hier in SA gebeur, en dat persepsies belangriker as die erkenning van probleme in die werklikheid geag word.

Derdens is daar natuurlik diegene wat Terre’blanche se tragiese dood as ‘n geleentheid sien om politieke punte aan te teken. Lesers sal weet na wie ek verwys. Wat my hiervan ontstel, is enersyds die gevoelloosheid daarvan: ‘n Medemens se dood word nie as ‘n pynlike tragedie ervaar nie, maar as ‘n wonderlike geleentheid. Hoe barbaars! Andersyds vind ek dit siek dat die moord op Terre’blanche soveel aandag kry terwyl die moorde op ander boere, en op ander landsburgers in die algemeen, nie naastenby soveel ontsteltenis by mense opwek nie. Is daardie ander mense se lewe dan minder werd? Is hul dood minder erg?

Ter afsluiting wil ek graag darem vertel oor een uitlating van Terre’blanche wat my ‘n keer lekker laat lag het – ‘n oomblik toe ek iets van ‘n identifikasie met hom kon voel en in daardie opsig nogal uitsonderlik. In ‘n dokumentêr wat ‘n Brit ‘n keer oor verregste groeperings in SA gemaak het was Terre’blanche besig om op ‘n kaart van SA die grense aan te dui van die Boerestaat waarop hy reken die Afrikaner geregtig is – basies die grense van die ou Boererepublieke – toe die Brit hom verbysterd vra of hy besef dat Johannesburg binne daardie grense val: Dink Terre’blanche regtig dit sal ooit gebeur dat Johannesburg, die ekonomiese enjin van die land, weer aan die Boere behoort? Terre’blanche het hom eers kwaaierig aangekyk en toe met ‘n viltpen ‘n kring om, en ‘n kruis deur, Johannesburg getrek en gesê: “There, you can have it, we don’t want it.”

Hoekom dit my so laat lag, en my selfs vir ‘n oomblik ‘n stukkie begrip vir Terre’blanche gegee, het, weet ek nie – veral aangesien ek self mal oor die stad Johannesburg is – maar so is dit. Daar was ‘n oomblik toe Terre’blanche die “vertoonkunstenaar” selfs aan my ‘n glimlag besorg het.

Nog iets, in Kurt Vonnegut se woorde: “He didn’t ask to be born anyway.”

Tinyiko Maluleke, een van Suid-Afrika se voorste intellektuele, het ‘n baie goeie inskrywing op sy blog gelaai. Klik hier om dit te lees.

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na [email protected] om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

19 antwoorde op Die dood van Eugene Terre’blanche

  1. menoporsche het gesê op April 6, 2010

    Ook maar mens!

  2. gerritbrand het gesê op April 6, 2010

    Toegegee.

  3. Kirpan het gesê op April 6, 2010

    Dit is onbegryplik watter haatdraënde mense daar is. Ek het gekyk op Belgiese en Nederlandse reaksies. Díe mense geniet van moorde en hulle is maar jammer dat hulle nie self die werkie kon verrig nie. Ek besef dat Nederland en België baie klein landjies is en dat die mense daar baie min weet van situasies in ander lande.
    Ek kan egter sê dat baie van die tekste wat jy lees georchestreerde, gearrangeerde uitlatings is.
    Mens moet dit maar veronagsaam. Die gehalte van die mense is nie hoog nie en ‘iedereen het ‘n mening oor alles’.
    Daar is verslaggewers wat die indruk wek dat hulle spesialiste is op ‘n gebied. Daar is in Nederland een wat ek noem: die chauffeursvrou. Ooral waar sy kom praat sy of sy die waarheid in pag het. Maar dit is onmoontlik om oor alles verstandig te kan praat. Andersyds: sy doen haar werk goed en ongelukkig sal die meeste mense dus dink dat dit ‘n deskundige is wat praat.
    Suid Afrika moet maar goed die dood van mnr Terre’blanche verklaar so dat ook die res van die wêreld weet wat die dryfveer was en hoe presies die moord gepleeg was. Die res van de wêreld kry dan ‘n bietjie insig in die leweshoudinge in Suid Afrika

  4. cdvanwyk het gesê op April 6, 2010

    Die moord op Eugene Terre’blanche was absoluut so onnodig gewees en dit kon nie op ‘n slegter tyd gekom het nie. In ‘n moderne demokrasie is moord mos nie ‘n oplossing om ‘n loongeskil tussen ‘n werkgewer en twee werknemers te besleg nie.
    Dalk moet hierdie gesien word as ‘n ingreep in ons geskiedenis om ons wakker te skud en daadwerklik vir almal hoop gee in plaas daarvan om die vure van anargie en rewolusie aan te blaas. Daar is duisende mense in ons land wat bang, hooploos, werkloos, honger, depressief ens. is.

    Ons land kort nou leierskap om ons vorentoe te neem.

  5. natied het gesê op April 6, 2010

    Jy verwoord my eie gevoelens Gerrit. ET was vir my ‘n gevaarlike toneelspeler en ‘n verleentheid vir ordentlike Afrikaners maar die standaard van die openbare debat het so verlaag dat hy nou heel aanvaarbaar is in die geledere van die Winnies, Normaindias, Yengenis, Kompelas, Niehause, Shaiks, Sutcliffs, Malemas en Zumas. Om die waarheid te se, ons leier wat nie leiding gee nie laat die vorige Apartheidpremiers soos bakens van moraliteit lyk.

  6. natied het gesê op April 6, 2010

    Cornelis, ek wil jou darem net daarop wys dat ‘n geslag Nederlanders en Belge met koue sweet uitgeslaan het as hulle Terre’Blanche met sy onvolledige hakekruis en sy weergawe van die Bruinhemde op televisie gesien het. Dit het herinner aan iets wat hulle sien opkom en aan hul lywe gevoel het. En, Nederland en Belgie is beslis nie die enigste lande wat nie weet wat in ander aangaan nie. Voordat Naspers vir Leopold Scholtz in Europa gehad het, het baie Suid-Afrikaners ook nie juis geweet daar is ‘n wereld buite Engeland nie. Nou nog besef baie, ook op Stellenbosch,nie dat jy uitnemend kan wees sonder om Engels te wees nie. Dit terloops.

  7. gerritbrand het gesê op April 6, 2010

    Ek het self vyf jaar in Nederland gewoon. Dis waar wat jy skryf, maar ek weet nie of dit net daar waar is nie. Wat weet ons in Suid-Afrika regtig oor wat in Iran gebeur, in Amerika, selfs in Zimbabwe? Ja, of in die township om die draai? Tog is ons vol menings daaroor. Wat die haatdraendheid betref: dis hier net so erg soos daar, ook wanneer dit by Terre’blanche se dood kom. Ek verstaan nou hoekom volksmoord so maklik gebeur: Daar is baie meer mense as wat ons dink wat glad nie omgee as ‘n medemens sterf, selfs wreed sterf, nie – mits daardie medemens dit op die een of ander manier “verdien”. Skep dan net die omstandighede waarin sulke mense straffeloos afgemaai kan word, en die res gebeur vanself …

  8. gerritbrand het gesê op April 7, 2010

    Albert Cruywagen se kommentaar op Facebook: “Dankie Gerrit, vir ‘n nuwe kyk na die saak. Interessant watter wye en uiteenlopende reaksie dit ontlok!”

  9. BertieDuP het gesê op April 9, 2010

    As jy moes wag totdat jy 100% geweet het wat iewers anders aangaan het jy nooit ‘n opinie gehad nie. Re Herbert Simon, die kuns is om met beperkte kennis betyds doeltreffende besluite te neem. Veralgemenings kan ok geldig wees.

  10. BertieDuP het gesê op April 9, 2010

    Feit is die afgelope maande het ‘n sake by ‘n brandpunt gebring waarin een of ander tyd ‘n openbare figuur aangeval sou word. Vir ons as wit Suid-Afrikaners is dit uit strategiese oogpunt aansienlik beter dat ‘n wit simboliese figuur eerste die die slagoffer geword het, sodat ons nie as die agressors voorgehou kan word nie.

  11. gerritbrand het gesê op April 9, 2010

    Daar was al baie wit aggressors. Dink maar aan die Skielik-skietery of, as jy dan ‘n bekende soek, die moord op Chris Hani. Vir my maak die kleur van die moordenaar of vermoorde nie saak nie. As ‘n mens vermoor word, is daar geen manier waarop ek my oor enige aspek daarvan kan verbly nie.

  12. gerritbrand het gesê op April 9, 2010

    Inderdaad. Hoe verbind jy dit met die gesprek hier?

  13. dinkweer het gesê op April 9, 2010

    Stem saam met die kern van wat jy sê. Kan ek die tema verder voer? Pla die terminologie wat die afgelope paar jaar soms – deur sommige -in die Ned Geref Kerk gebruik word jou nie ook nie? Dat gepraat word van ‘n gemeente se “mensekapitaal”, se “mensepotensiaal” se “menslike hulpbronne” en verskeie ander soortgelyke begrippe uit die sakewêreld jou nie ook nie? Word die lidmaat nie daardeur bloot ‘n “bate” ‘n “voorwerp” ‘n “hulpbron” tot voordeel van die gemeente nie?

    Nee, nie almal doen dit nie. Ek het soms die indruk dat dit veral saamhang met die organisering van die gemeente as ‘n “korporatiewe eenheid” met ‘n “gemeentebestuurder” en dies meer. Nou gaan dit nie meer om Christus se verhouding (genade) tot die lidmaat nie, maar om die gemeente as ‘n grootheid en die lidmaat as die gemeente se bate in diens van die gemeeete. Gelukkig – genadiglik – is “my” dominee anders.

  14. Ek is dit hartlik met jou eens. Ek sou wel versigtig wees om die verhouding van Christus met die individuele lidmaat voorop te stel – dit gaan myns insiens om die gemeente as gemeenskap van gelowiges waarin ek as individu nie vir myself belangriker is as die ander nie, en waarby ek nie in die eerste plek betrokke is vir wat ek daaruit kan kry nie, maar vir wat ek vir, en saam met, ander kan doen – maar jy slaan die spyker op die kop wanneer jy die korporatisering van die kerk as ‘n afwyking van die kerk se roeping uitwys. Mense wil ‘n gemeente (nes alles anders) soos ‘n sake-onderneming “bestuur”, maar daar is ‘n goeie rede hoekom dit nie soos ‘n sake-onderneming bestuur moet word nie: Dit is nie ‘n sake-onderneming nie. En wander dit wel as een bestuur word, word die gemeente iets onpersoonliks, ‘n operasie, ‘n dinamika, ‘n outonome mag, en daarom nie meer iets van mense nie.

  15. dinkweer het gesê op April 11, 2010

    Stem saam met jou kritiek op my oorbeklemtoning van die verhouding Chritus – individuele lidmaat.

  16. BertieDuP het gesê op April 11, 2010

    n Mens moet iewers bakens stel anders eindig jy terug by Kain. Ek verwys na die afgelope maande seder dit ‘n verstekopsie geword het om wit mense wat van swart mense oor bykans enige onderwerp verskil van rassisme te beskuldig.

  17. BertieDuP het gesê op April 11, 2010

    n Mens moet iewers bakens stel anders eindig jy terug by Kain. Ek verwys na die afgelope maande seder dit ‘n verstekopsie geword het om wit mense wat van swart mense oor bykans enige onderwerp verskil van rassisme te beskuldig.

  18. Ek stem saam.

  19. JWinAus het gesê op April 14, 2010

    Waarskynlik die beste artikel wat ek gelees het oor ET se moord. Nugter en met respek, soos dit hoort. Dankie

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.