Jy blaai in die argief vir 2010 April.

’n Ander soort “voorspoed-evangelie”

April 30, 2010 in Sonder kategorie

My jongste rubriek in die Kerkbode:

Altesaam 61% van Christene in die VSA glo dat God wil hê hulle moet welvarend wees. Byna ’n derde stem saam dat, as ’n mens jou geld vir God gee, God jou met meer geld sal seën. So is bevind in ’n opname deur die tydskrif Time in 2006. Dis teen die agtergrond van sulke bevindings dat Jonathan Wilson-Hartgrove sy boekie God’s Economy skryf – met die veelseggende subtitel Redefining the Health and Wealth Gospel.

Die filosoof Slavoj Žižek skryf iewers dat elke totalitêre ideologie vir sy oortuigingskrag op ’n geldige menslike waarde steun – soos individualiteit, sosialiteit of gelykheid. Wilson-Hartgrove meen kennelik dat iets soortgelyks ook verwronge weergawes van die evangelie geld: elke ketter het sy letter. Daar is vir hom naamlik geen twyfel dat die voorspoed-evangelie (wat ook in Suid-Afrika en die res van ons kontinent toenemend populêr word) ’n dwaalleer is nie, maar dan ’n dwaalleer wat op ’n waarheidsmoment berus: dat Jesus ons nooi om God se oorvloed hier en nou te geniet.

Die probleem is net, sê Wilson-Hartgrove, dat ons met te min tevrede is. Ons dink die beste waarvoor ons vir hierdie lewe kan hoop, is om in ’n “ekonomie van skaarste” genoeg rykdom te kan versamel (en vashou!) om vir ons en die mense naby aan ons gerief en finansiële sekuriteit te verseker. Maar juis dit maak dit vir ons onmoontlik om aan God se “ekonomie van oorvloed” deel te hê. Soos C.S. Lewis ook sê: Die probleem is nie dat ons te véél begeer nie, maar te min.

Uit hierdie perspektief gaan dit in die prediking en lewe van Jesus om die aankondiging en demonstrasie dat die koninkryk van God onopvallend en misterieus – maar steeds konkreet en prakties – onder die oppervlak van die wêreldse koninkryke aanbreek en dat almal daarna genooi word. In hierdie subversiewe, alternatiewe koninkryk of ekonomie gaan dit om ’n nuwe gemeenskap wat tot stand kom: ’n gemeenskap waarin mense alles wat hulle besit deel en weggee, ander se belange bo hul eie dien, enigiemand – ook kansvatters en onwaardiges – sonder voorbehoud verwelkom, en sodoende hul vertroue stel in die Goddelike oorvloed waarin daar vir almal genoeg is.

Wilson-Hartgrove erken die belang daarvan dat Christene hulle vir regverdiger regeringsbeleid, ook op ekonomiese gebied, moet beywer, maar die primêre roeping van die kerk, meen hy, is om die beter, radikaal anderse samelewing konkreet te beliggaam, want juis dit daag die bestaande orde uit. Daarom is hy skepties oor ’n piëtistiese geloof wat aan die aardse hier en nou wil ontvlug, maar ewe skepties oor ’n teologie wat geregtigheid met die middele van die wêreld se skaarste-logika wil realiseer. Om op die oorvloed van God te vertrou deur alles, ook jouself, weg te gee, lyk vir die wêreld na dwaasheid, maar Jesus se kruis en opstanding inspireer gelowiges om dit te waag.

Hoe lyk dié oorvloed dan? Volgens Wilsom-Hartgrove sluit dit nie luukse motors, ontwerpersklere, vet beursies, waterdigte versekeringspolisse en finansiële mag in nie, maar wel genoeg om van te leef, asook vriendskap, hoop en vreugde. En soos Jesus sê: dis iets waarvoor rykes blind is; die armes verstaan dit beter.

’n Student erken onlangs aan my dat hy dit moeilik vind om te verstaan hoe die nagmaal as deelname aan die komende Godsryk beleef kan word. “Dit voel beslis nie so nie,” verduidelik hy. Is dit miskien omdat ons eers eenkant in ons middelklas- voorstedelike gemeentes die nagmaal gebruik en dán met voedingskemas, werkskeppingsprojekte en nagskuilings na die “minder bevoorregtes” uitreik? Wat sou gebeur as “ons” en “hulle” sáám die maaltyd sou nuttig?

Onrealisties? Te idealisties? Vertel dit vir Jesus.

 

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Annelise sit poligamie-debat voort

April 27, 2010 in Sonder kategorie

Die uitgebreide miniseminaar oor poligamie, onder meer na aanleiding van pres. Jacob Zuma se beoefening daarvan en die uiteenlopende reaksies daarop, is nou uitgebrei met Annelise se bydrae tot die gesprek. Klik hier om dit te lees, en hier vir al die bydraes tot dusver.

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Charlyn Dyers skryf oor swart en Afrikaans

April 27, 2010 in Sonder kategorie

Onlangs is ’n beraad oor swart Afrikaanssprekendes se betrokkenheid by die taal by UWK gehou. Die taalkundige Charlyn Dyers het op my versoek ’n essay oor (’n aspek van) dié onderwerp geskryf. (Klik hier om dit te lees, en dan hieronder op “Lewer kommentaar” om daaroor saam te gesels.)

Self het ek groot waardering vir Dyers se fassinerende inligting oor aspekte van Afrikaans se hedendaagse ontwikkeling wat dikwels in “elite”-kringe misgekyk word, asook vir haar sterk nierassige blik op sake. Waarmee ek nie saamstem nie is haar suggestie (so lees ek in elk geval die slotparagrawe van haar essay) dat Afrikaans ge-ontpolitiseer kan of moet word. Feit is, taal het alles met mag te doen, en politiek is die spel van mag. Die feit dat jong mense op allerlei interessante nuwe maniere met Afrikaans en ander inheemse tale omgaan, beteken nie dat hulle nou skielik nie meer benadeel word deur die oorheersing van Engels nie.

Maar miskien verstaan ek Dyers verkeerd. Wat ek wel weet, is dat sy nie net belangrike navorsing oor taaltendense doen nie, maar ook by talle projekte om mense ander tale te help leer betrokke is. Onder meer.

Lees ook Andre van der Walt se baie skerp bydrae oor hierdie tema elders op LitNet.

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Praat van die duiwel

April 15, 2010 in Sonder kategorie

My jongste rubriek in die Kerkbode:

“Ek weet daar sal mense wees wat nou wil sê: ‘Wil jy nou regtig op hierdie dag en datum weer ons ou vriend die duiwel bysleep, met sy hoewe en horings en al?’ Ek moet sê ek weet nie eintlik wat die dag en datum daarmee te make het nie. En ek is nie gepla met die hoewe en die horings nie. Maar verder is my antwoord: ‘Ja, ek wil.’”

Só skryf C.S. Lewis in sy klassieke Mere Christianity (Afrikaanse vertaling: Doodgewoon Christen). Dat die vraag (en antwoord) nie wyk nie blyk daaruit dat die invloedryke 20ste-eeuse teoloog Karl Barth in sy monumentale Kirchliche Dogmatik etlike bladsye aan die onderwerp wy, en dat nuwe, meer populêre boeke daaroor, soos Stephan Joubert en andere se Bestaan die Duiwel Regtig?, ook in die 21ste eeu steeds die lig (of dan die duisternis …) sien. Ongelukkig is nie alle skryfsels hieroor ewe waardevol nie.

Enersyds is daar mense wat so met “ons ou vriend die duiwel” gefassineer is dat dit byna op ’n soort eerbetoon neerkom. Teen dié beoefenaars van die “demonologie” spreek Barth hom skerp uit. Hul spekulasies, skryf hy, getuig van “’n heimlike respek en bewondering, of ten minste ’n atmosfeer van nuuskierigheid, terwyl afkeer die enigste moontlike houding is”.

Dit gaan dikwels ook gepaard met ’n taamlik massiewe voorstelling van die demoniese in byna menslike terme, en ’n bygelowige koppeling daarvan met onskuldige verskynsels soos Harry Potter, popmusiek, karate en joga – ’n benadering van “raak nie, smaak nie, roer nie aan nie” (Kol 2:21).

’n Byna teenoorgestelde siening is dat die Bybelse spreke oor die duiwel bloot ’n kleurryke manier is om te verwys na die kwaad wat mense doen. Wat hierdie “liberale” beskouing misken, is dat die kwaad ook mense doen – as ’t ware ’n wil van sy eie het.

Die “as ’t ware” is belangrik hier, want dit skerm teen die sensasionele fantasieë van die demonoloë, maar die “wil van sy eie” moet ook ernstig geneem word: Mense raak verstrengel in, uitgelewer aan, die kwaad, aan “strukturele sonde”. Die kwaad is sterker as ons mense, sodat selfs goedbedoelendes dikwels onbewus daaraan meewerk. Juis daarom het ons ’n Christus Victor, ’n oorwinnaar-Christus, nodig.

Wie hierdie Bybelse perspektief vergesog vind, moet maar die letterkunde raadpleeg – soos N.P. van Wyk Louw se “Ballade van die Bose”: “Ek is jou wese se ondergrond en ek trap in jou spoor soos ‘n goeie hond.” Of die filosofie – onder andere Michel Foucault met sy denke oor die outonome karakter van mag: dat mag nie soseer iets is wat deur mense uitgeoefen word nie, maar dat mense deur mag gebruik word.

Die Nuwe Testament verbind die “owerhede en magte” (byvoorbeeld in Ef. 6:12) met die politieke maghebbers van die tyd – of eintlik: die magskonstellasie, die magsdinamika, van die Romeinse Ryk, wat mense inslurp en vernietig. Daarvoor staan ook die “dier” en die “sedelose vrou” van Openbaring. Nie net die politieke maghebbers “aanbid” en “dien” hierdie magte nie; dit infiltreer mense se harte ook op meer subtiele maniere. Nes die verbruikerskultuur van ons tyd, en sy waardes en prioriteite, waaraan elkeen van ons maar moeilik ontsnap.

Die gevaar bly maar dat ons óf die outonomie van die bose onderskat en naïef optimisties dink oor die mens se vermoë om die kwaad uit die weg te ruim, óf in bygelowigheid die duiwel agter elke bossie gaan soek, maar hom miskyk daar waar hy juis sy knoeiwerk doen – in Louw se woorde: “Ek is ín jou gevleg, gerank, soos ‘n wortel in die donker bank.”

Met ander woorde: Praat van die Duiwel, dan trap jy op sy stert.

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld aan dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Witbooi en Blackie

April 14, 2010 in Sonder kategorie

Witbooi en Blackie

(Met apologie aan C. Louis Leipoldt)

 

“Yet we are tied to one another by a million visible and invisible threads.”

– Thabo Mbeki (9 Februarie 2001)

 

Witbooi en Blackie het saam gelewe

In ’n wye, droewe land

Waar ’n koue wind elke mens laat bewe

By ’n blik op die ander kant

 

Witbooi en Blackie het saam geswerwe

Na ’n toekoms buite sig

Uit ’n donker gister so swaar geërwe

In genadelose lig

 

Witbooi en Blackie het saam gesanik

Ongelukkig oor hoe dit gaan

Geen een kon egter (so verstaan ek)

Die ander se taal verstaan

 

Witbooi en Blackie het saam gesterwe

Hulle kon ook net só ver trek

Hoe mooi is hul storie se vlymskerp skerwe

Gestrooi op ’n vreemde plek

 

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld aan dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

“PC” staan nie net vir “personal computer” nie

April 13, 2010 in Sonder kategorie

My jongste Brandpunte-rubriek in die Nederlandse Maandblad Zuid-Afrika:

 

 Die afkorting PC staan in Suid-Afrika nie net vir personal computer nie, maar ook vir politically correct. In Afrikaans is dit PK, politiek korrek. Dit is min of meer die teenoorgestelde van wat in Nederland “fout” heet.

  

Indien ek as buitestander dit reg verstaan, is mense in die Lae Lande “fout” as hulle regse neigings, of selfs net ’n regse vlekkie iewers in hul geskiedenis, het; ’n mens kan op grond van guilt by association ook as “fout” kwalifiseer. Daar is dan as ’t ware politiek iets fout met jou.Toegegee, ek het die woord “fout”, op z’n Nederlands, so leer verstaan in ’n tyd toe die meerderheidstandpunt inderdaad was dat daar politiek iets fout is met regs. Dit mag wees dat, met die onlangser swaai na regs in die Nederlandse en breër Europese politiek, dit wat destyds as “fout” beskou is nou deur baie mense as prysenswaardig, as korrek, gesien word.

  

 Kritiese verwysingspunt

 In Mzanzi (’n informele plaaslike naam vir Suid-Afrika onder polities korrektes) is die kritiese verwysingspunt – die paradigmatiese voorbeeld van wat polities ínkorrek is – nie fascisme (soos in Europa, ten minste tot onlangs) nie, maar apartheid. Apartheid was so on-PK as kan kom, en enigiets wat selfs maar in die geringste mate daarna ruik, of selfs net verlangs daarvan verdink kan word dat dit bes moontlik daarna sou kón ruik, deel in die smet daarvan.

Voorbeelde

 ’n Paar voorbeelde: Vir wit mense om swart mense te kritiseer is politiek inkorrek, want dit sou kan suggereer dat swartes onbekwaam is of dat wittes steeds dink hulle kan oor swartes baas speel – soos in die slegte ou dae. Klagtes deur wittes weerspieël in elk geval ’n soort onsensitiwiteit, want hoekom kla hulle nou oor misdaad of swak dienslewering as hulle nie in die verlede teen apartheid beswaar aangeteken het nie. Dis nog boonop ondankbaar ook, want wittes behoort hul sterre te dank dat hulle, gesien wat in die verlede gebeur het, hoegenaamd nog in Suid-Afrika getolereer word.

Dis ewe politiek inkorrek vir swartes om die owerheid te kritiseer, want daarmee word duidelik dat hulle hul by die wittes skaar, nes die swart tuislandleiers, polisiemanne en verraderlike informante van die apartheidsjare. Sulke kritici word afwysend “coconuts” genoem: donker van buite, wit van binne.

  

 Om vir die regte van Afrikaans op te kom is erg politiek inkorrek. Trouens, om hoegenaamd bewustelik as Afrikaanssprekende die openbare domein te betree is om die merk van die apartheidsdier te vertoon. Immers, wie oor Afrikaans se posisie in die land bekommerd is, verlang noodwendig terug na die dae toe wit Afrikaners die baas van die plaas was – al is die bekommerdes self nie wit nie, of voormalige stryders teen apartheid. Bruines wat hulle met so iets vereenselwig, is “gekoöpteer” (deur wittes, natuurlik) en, as hulle alte veel Afrikaans praat, “Bolanders” (ongesofistikeerde plaasjapies).

  

Moet jou ook nie te veel vir die gebruik van ander Afrikatale, soos Sotho, Zoeloe of Venda, beywer nie, want onthou, die apartheidsregering het die gebruik van Afrikatale aktief bevorder. Laat kinders eerder in Engels skoolgaan en druip as dat hulle in hul moedertaal onderrig word soos Verwoerd graag wou gehad het.

Sekere politieke standpunte is anatema. Daar kan nie eens oor gepraat word nie; net oë hemelwaarts geslaan word. ’n Mens kritiseer nie regstellende aksie (Nederlands: positieve diskriminatie) nie, al is die vertrekpunt van jou argument ook hóé links georiënteer en op die bemagtiging van agtergesteldes gerig. Ja, ook al is jy swart en het jy self nog nie, soos heelparty kitsmiljoenêrs, daaruit ryk geword nie.

Ook kritiek op die uitspattige rykdom van die Wabenzi, mense wat danksy hul velkleur en die regte politieke konneksies oornag geldmagnate geword het en hulle in peperduur Mercedez-Benz-motors laat rondry (vandaar die benaming), dui op ’n diepgewortelde rassistiese oortuiging dat swartes nie die reg het om, soos wittes, ryk te wees nie. Dit maak ook nie saak of die betrokke ryke sy of haar geld deur korrupsie bekom het nie, want wie dáároor praat, werk mee aan die instandhouding van die korrupte-Afrikaan-stereotipe. Dis “Afropessimisties”, ’n ernstige sonde.

Brand South Africa

Ja-nee, om politiek korrek te wees moet ’n mens positief wees. Die staatsondersteunde handelsmerkbevorderaar “Brand South Africa” werk hard om ’n aantreklike beeld van Suid-Afrika na die buiteland uit te straal; die media en gewone burgers moenie dié werk ongedaan maak deur boodskappe oor misdaad, korrupsie en wanbestuur die wêreld in te stuur nie. Dis onpatrioties en dus anti-reënboognasie – ver van politiek korrek af. Mense wat postapartheid-Suid-Afrika so afkraak, suggereer dat dit in die ou dae beter was, en is dus rassiste.

Politieke korrektheid, weer, vereis nie net, soos reeds genoem, dat ’n mens “op die positiewe fokus” nie, maar ook dat jy, in plaas daarvan om “alewig te kritiseer”, kyk hoe jy “self ’n bydrae kan lewer”. Dis ook absoluut essensieel om polities verwerplikes uit te wys en sleg te sê, en sodoende jou eie politieke reinheid ten toon te stel. Gunsteling teikens hiervoor is daardie arme verlore siele waarna in polities korrekte kringe afwysend as “taalstryders” of “taalbulle” verwys word en diegene wat regstellende aksie kritiseer, maar eintlik sal enigiemand wat kritiek op die regering uitspreek as teiken deug. Die idee is om te wys Ons is nie almal so nie (’n roman deur Jeanne Goosen, wat egter self jammerlik misluk in politieke korrektheid).

Nog ’n belangrike merker van politieke korrektheid is taalgebruik. Taal moet “inklusief” wees (vermy geslagsterme of gebruik net vroulikes). Dit moet ook “sensitief” wees (dink aan hoe dit gaan oorkom). Dit help as ’n mens die owerheidsektor se newspeak kan besig – daardie magdom van afkortings wat soos woorde funksioneer en wat ek nooit kan onthou nie. ’n Mens noem Boesmans nie Boesmans nie (al noem hulle hulself so), maar “Koisan” (al is dit ’n naam wat deur kolonialiste bedink is). En die regering is nie “the government” nie, maar “Government”, ’n soort persoonsnaam.

Die naam politieke korrektheid word nie deur polities korrektes so genoem nie (net soos, wêreldwyd, neoliberaliste nie hulself so noem nie). Om die waarheid te sê, dis glad nie politiek korrek om oor politieke korrektheid te praat nie. (Hierdie rubriek is byvoorbeeld politiek erg inkorrek.) Ander woorde wat gebruik word, is die reeds genoemde “patrioties” en “positief”, maar daar is ook “konstruktief”, “progressief” en “trots Suid-Afrikaans”. (“Links” is ’n bietjie lastig, want van die regering se skerpste kritici kom uit dié hoek.) Die interessantste term wat ek nog gehoor het, is “ideologically sound”.

Kompleks

Hoe dit ook al sy, die saak is, soos alles in Suid-Afrika, nogal kompleks. Baie dinge wat as politiek inkorrek beskou word, is inderdaad verwerplik: openlik rassistiese praatjies om braaivleisvure, die kru seksisme waaronder baie vroue in Suid-Afrika nog ly, vooroordele en geweld teen homoseksueles en so meer. Terwyl politieke korrektheid – ás politieke korrektheid – basies maar ’n sieklike soort sosiale etiket is, en boonop dien om politieke opposisie te neutraliseer, kan besware teen verskynsels soos rassisme, seksisme en homofobie (waar dit werklik voorkom en nie bloot vermoed word nie) tog op eg etiese gronde berus. In Suid-Afrika is daar egter geruime tyd al ’n gewoonte om sulke besware as “politieke korrektheid” af te maak: “Ag, spaar ons tog die politieke korrektheid!”

Ja, politieke korrektheid kan ook ’n teerkwas word – onder diegene wat hulself slagoffers van ’n oordrewe politieke korrektheid voel. Dit sou selfs nie vergesog wees nie om anti- politieke korrektheid as self ’n andersoortige politieke korrektheid te bestempel. In sekere kringe (dink aan boomryke, weelderige woonbuurte in Kaapstad of Johannesburg, of aan die reeds genoemde braaivleisvure) is selfs die geringste geurtjie van politieke korrektheid uiters sosiaal onaanvaarbaar, of dan politiek inkorrek. In sulke kringe dien dit as ’n soort statussimbool “om dit te sê soos dit is”, to call a spade a spade. Dit word as byna heroïes, in ’n macho-sin, beskou om oorwegings soos menseregte, gelykberegtiging, inklusiwiteit en bemagtiging bespotlik te maak of dit af te lag wanneer teen gevare soos rassisme, seksisme, homofobie of eliteisme gewaarsku word.

Opportunisme

Heelparty rubriekskrywers, radiopersoonlikhede, romansiers, digters, dramaturge, filmmakers, komediante en politici het al groot naam gemaak deur hulself bewustelik as politiek inkorrek te brand. As ’n resensent oor ’n boek skryf: “Hierdie boek sal polities korrektes onstel”, is die kans goed dat daardie boek soos soetkoek gaan verkoop, al het dit weinig literêre, akademiese of vermaakwaarde. Daar kan dus ’n stuk opportunisme in modieuse politieke inkorrektheid skuil.

Die wortels kan egter ook dieper lê. Net soos wit Engelssprekendes se geldige kritiek op ’n ekstreme Afrikanernasionalisme in die verlede nie altyd net deur ’n sin vir menslikheid en geregtigheid aangevuur is nie, maar ook soms deur ’n mate van ressentiment oor ’n verlies aan mag aan die Afrikaners, berus ’n groot deel van sommige wittes, Engels én Afrikaans, se swartgalligheid teenoor die huidige politieke orde nie net op geldige kommer, of irritasie oor “politieke korrektheid”, nie, maar op daardie einste ressentiment jeens die “barbare” wat nou aan die mag is.

Daar is ook materiële voordele: Die sóórt politieke korrektheid waarvoor iemand kies, word dikwels bepaal deur die mark wat hy of sy wil bereik. “So it goes,” sou Kurt Vonnegut sê. Elke politieke korrektheid roep sy teenbeeld op.

Van politieke korrektheid gepraat. Ek sien daar is intussen ’n uitgebreide miniseminaar daaroor gereël. Klik hier, lees en gesels saam.

Gerrit Brand is als senior lector systematische theologie verbonden aan de Universiteit van Stellenbosch. Hij schrijft deze rubriek op persoonlijke titel.

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld aan dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Is moordliedjies soms OK?

April 12, 2010 in Sonder kategorie

In die warm diskussies oor “Skiet die Boer” en dergelike moordliedjies word dikwels gesê dat dié liedjies in die konteks van die struggle wel sin gemaak het. Hierdie analise word dan deur ondersteuners van die voortgesette gebruik van sulke liedjies as ’n argument gebruik. Die betoog loop so: Die liedjies is deel van die edele historiese erfenis en kultuur van die ANC en sy massa ondersteuners, en daarom onaantasbaar.

Maar ook huidige kritici van Malema en ander se oproerige sing van skiet- en kill-musiek, lyk dit vir my, gee toe dat dié liedjies in die verlede ’n plek gehad het. Maar het dit?

Was dit ooit – selfs tydens die hoogtepunt van die struggle – OK om liedjies te sing wat mense tot moord op lede van ’n sekere ras- of etniese groep aanspoor? Terwyl uit die struggle-hoek liedjies soos “Dubula iBhunu”, “Kill the Boer, kill the farmer” en ja, ook Zuma se gunsteling, “Umshini Wami”, gesing, en slagspreuke soos “One settler one bullit” die rondte gedoen, het, het sekere wit rassiste hulle verlustig in sêgoed soos: “Die enigste goeie k—– is ’n dooie k—–.” En terwyl laasgenoemde “spreekwoord” met gruweldade soos dié op Vlakplaas en Strydomplein saamgehang het, het die “geliefde” struggle-liedjies met halsnoermoorde en lukrake skietery op kerkgangers geresoneer. En Zuma se liedjie het die ritme verskaf waarop immigrante sommer die ander dag nog in ons townships afgemaai is.

Oor die vraag of die ANC en sekere ander bevrydingsbewegings se keuse vir ’n geweldadige stryd teen die apartheidsbewind ’n wyse besluit was, sal nog lank gedebateer kan word, maar selfs al sou dit wees, dan sou dit nie daaruit volg dat die sing van sulke liedjies in die konteks van so ’n stryd vir vryheid geregverdig was nie. Immers, alle weergawes van die maatstawwe vir ’n regverdige oorlog bepaal dat burgerlikes nie aangeval mag word nie, en sluit sekerlik uit dat willekeurige geweld teen lede van spesifieke etniese, rasse-, taal- of godsdiensgroepe deel van ’n “regverdige” stryd kan uitmaak. Laasgenoemde het ’n akkurater naam, te wete aanhitsing tot volksmoord. Wie daaraan meedoen, bevind hom in die geselskap van Adolf Hitler en kie.

Aanhitsing tot geweld is altyd verkeerd, selfs in gevalle (indien daar sulke gevalle is) waar die oorwoë gebruik van geweld self dalk geregverdig kan wees. Die struggle-liedjies wat moord en doodslag bepleit, is dus net so min deel van die bevrydingsbewegings se “edele” struggle as “Die enigste goeie k—– …” deel uitmaak van ’n “edele” blanke erfenis. Dis eerder iets waarvoor mense hulle diep behoort te skaam. Sies man!

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld aan dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Wat Dr Eve, Annelise en Amanda Gouws oor my poligamie-inskrywing dink

April 8, 2010 in Sonder kategorie

In die Seminaarkamer kan ’n nuwe bydrae ter voortsetting van die LitNet-debat, vroeër vanjaar, oor poligamie gelees word. Daarin reageer die seksioloog Marlene Wasserman (“Dr. Eve”) op my onlangse inskrywing oor hierdie onderwerp. Nog twee respondente, die skrywer Annelise en die politieke wetenskaplike Amanda Gouws, se kommentaar verskyn ook eersdaags (ook in die Seminaarkamer). Lees gerus en gesels saam.

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld aan dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Die dood van Eugene Terre’blanche

April 6, 2010 in Sonder kategorie

Ek was, om dit sagkens te stel, nog nooit ‘n aanhanger of bewonderaar van Eugene Terre’blanche nie. Inteendeel, sy politiek en sy visie oor Afrikanerskap staan lynreg teenoor myne. Ek dink ook dat hy dikwels op moreel verwerplike maniere opgetree, en groot skade aan mense en aan ons samelewing berokken, het. Nogtans is ek hartseer oor die moord op hom, want hy was ‘n mens soos ek en jy, en dis altyd hartseer wanneer ‘n mens sterf, en nog hartseerder wanneer dit weens haat en geweld gebeur.

In die huidige openbare gesprek oor Terre’blanche se dood is daar drie reaksies wat vir my uiters problematies is. Eerstens is daar diegene wat hulle in sy dood verlekker. Ek dink daar is maar min menslikheid in ‘n mens oor as hy/sy bly kan wees of lekker kry oor die dood van ‘n medemens. Die feit dat ‘n ander mens as ‘n “vyand” of “sleg” beskou word, maak nie die dood van daardie mens minder van ‘n tragedie nie. Inteendeel, gesien die feit dat elke mens wat gebore word oor die potensiaal beskik om goed te doen, iets vir ander te beteken en ‘n positiewe verskil te maak – die belofte van “geboortelikheid” waarvan Hannah Arendt geskryf het – maak dit dalk selfs meer tragies wanneer iemand sterf sonder dat, of voordat, daardie belofte in noemenswaardige mate verwesenlik is.

Om die mees ekstreme voorbeeld te noem: As ‘n massamoordenaar soos Adolf Hitler sterf (en ek beweer geensins hiermee dat Terre’blanche ‘n massamoordenaar was nie), dan verskaf dit my geen bevrediging nie, want dit plaas as ‘t ware – ten minste menslik gesproke – ‘n finale punt by daardie mens se verhaal. Daar sal geen inkeer, geen omkering, geen berou meer in daardie mens se lewe wees nie. Sy menslike potensiaal is finaal verlore. In werklikheid is geen mens natuurlik alleen maar sleg of goed nie, maar ek gebruik ‘n ekstreme voorbeeld om die punt te maak dat die dood van enige mens, hoe goed of sleg ook al, altyd vir medemense ‘n pynlike saak behoort te wees.

Daarom is ek ook hartseer oor die lewe van die twee vermeende moordenaars wat so ‘n donker en vernietigende rigting ingeslaan het. Dis aaklig dat iemand wat as ‘n onskuldige baba vol belofte gebore is op die punt kan uitkom waar ‘n ander se lewe vir hom so min beteken dat hy dit willens en wetens, en wreedaardig, kan vernietig.

‘n Tweede soort reaksie wat my teen die bors stuit, is die een wat die “persepsies” wat deur Terre’blanche se dood ontstaan vooropstel. Op die TV-nuus het ek byvoorbeeld gehoor dat die moord op Terre’blanche “op die slegste denkbare tyd” gebeur het – nie omdat dit rassespanning verder aanwakker nie, maar omdat dit kort voor die Wêreldbeker-sokkertoernooi ‘n Suid-Afrika se beeld skade berokken. Die SA “handelsmerk” is dus belangriker as ‘n menselewe of die werklike verhoudings tussen die mense van Suid-Afrika.

Uit ‘n radiogesprek van vanoggend blyk dieselfde soort perspektief: As gevolg van die moord op Terre’blanche skryf die buitelandse media, veral die boniepers, vreeslike dinge oor die vlak van geweld in Suid-Afrika. Die beriggewer vergelyk dit met stories oor leeus wat in SA op straat rondloop – ‘n onsinnige vergelyking, aangesien leeus nié in SA op straat rondloop nie, maar wreedaardige moorde wel deeglik elke dag gepleeg word. Die “persepsie” dat Suid-Afrika ‘n gevaarlike plek is om te besoek, is ‘n ongelukkige persepsie, maar helaas ook waar, en myns insiens is die ongelukkige werklikheid – die grootskaalse minagting vir menselewens wat ons nasionale kultuur kenmerk – veel erger as die ongelukkige persepsie. Weer eens wil dit lyk asof wat buitelanders van ons dink vir sommige mense belangriker as as wat in werklikheid met ons mense hier in SA gebeur, en dat persepsies belangriker as die erkenning van probleme in die werklikheid geag word.

Derdens is daar natuurlik diegene wat Terre’blanche se tragiese dood as ‘n geleentheid sien om politieke punte aan te teken. Lesers sal weet na wie ek verwys. Wat my hiervan ontstel, is enersyds die gevoelloosheid daarvan: ‘n Medemens se dood word nie as ‘n pynlike tragedie ervaar nie, maar as ‘n wonderlike geleentheid. Hoe barbaars! Andersyds vind ek dit siek dat die moord op Terre’blanche soveel aandag kry terwyl die moorde op ander boere, en op ander landsburgers in die algemeen, nie naastenby soveel ontsteltenis by mense opwek nie. Is daardie ander mense se lewe dan minder werd? Is hul dood minder erg?

Ter afsluiting wil ek graag darem vertel oor een uitlating van Terre’blanche wat my ‘n keer lekker laat lag het – ‘n oomblik toe ek iets van ‘n identifikasie met hom kon voel en in daardie opsig nogal uitsonderlik. In ‘n dokumentêr wat ‘n Brit ‘n keer oor verregste groeperings in SA gemaak het was Terre’blanche besig om op ‘n kaart van SA die grense aan te dui van die Boerestaat waarop hy reken die Afrikaner geregtig is – basies die grense van die ou Boererepublieke – toe die Brit hom verbysterd vra of hy besef dat Johannesburg binne daardie grense val: Dink Terre’blanche regtig dit sal ooit gebeur dat Johannesburg, die ekonomiese enjin van die land, weer aan die Boere behoort? Terre’blanche het hom eers kwaaierig aangekyk en toe met ‘n viltpen ‘n kring om, en ‘n kruis deur, Johannesburg getrek en gesê: “There, you can have it, we don’t want it.”

Hoekom dit my so laat lag, en my selfs vir ‘n oomblik ‘n stukkie begrip vir Terre’blanche gegee, het, weet ek nie – veral aangesien ek self mal oor die stad Johannesburg is – maar so is dit. Daar was ‘n oomblik toe Terre’blanche die “vertoonkunstenaar” selfs aan my ‘n glimlag besorg het.

Nog iets, in Kurt Vonnegut se woorde: “He didn’t ask to be born anyway.”

Tinyiko Maluleke, een van Suid-Afrika se voorste intellektuele, het ‘n baie goeie inskrywing op sy blog gelaai. Klik hier om dit te lees.

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.