Poligamie – die Suid-Afrikaanse debat

Maart 25, 2010 in Sonder kategorie

My jongste maandelikse rubriek in die Nederlandse tydskrif Maandblad Zuid-Afrika:

Poligamie is tans ’n lewende gespreksonderwerp in Suid-Afrika. Die rede daarvoor is dat die president, Jacob Zuma, onlangs ’n soveelste eggenote by gekry het. Hoewel dit heeltemal in ooreenstemming met die tradisionele Zoeloe-kultuur (en Zuma ’n Zoeloe) is, is dit ’n gebruik wat al vir ’n eeu of meer deur “opgevoede” Afrikane afgekeur word.

Ek plaas “opgevoede” in aanhalingstekens omdat, in die diskoers waaroor ek dit hier het, slegs formele opleiding in die Westerse skool- en akademiese tradisie as egte opvoeding beskou word – ’n idee wat deur Westerse sendelinge en kolonialiste na Afrika gebring, en deur baie Afrikane geïnternaliseer, is. Laasgenoemde is verstaanbaar, gesien die feit dat, in die koloniale magsdinamika, dit voordelig vir ondergeskiktes was om die dominante kultuur te bemeester, sodat dié kultuur ’n verhewe status verkry het. Die skaarste van hierdie soort kulturele kapitaal het tot die gesogtheid daarvan bygedra en terselfdertyd die meerderheid Afrikane van die voordele daarvan uitgesluit – dit geld tot vandag toe.

Dit was dus (en bly in groot mate steeds) in die Westers-opgevoede, swart stedelike elite se materiële belang om hul assosiasie met die moderne Westerse kultuur te demonstreer, en hulle sigbaar van die “barbaarse” Afrikatradisies te distansieer. Veral opvallende elemente van laasgenoemde, soos tradisionele kleredrag en ja, ook poligamie, moes (en moet) dan afgesweer word. Dit het saamgehang met vaardigheid in die koloniale taal – in Suid-Afrika se geval Engels – en formele skool-, akademiese en professionele kwalifikasies. Binne hierdie denkraamwerk kan iets soos poligamie in die geval van landelike tradisionele leiers nog neerbuigend getolereer word, maar dat die president van ’n moderne staat aan sulke praktyke meedoen, en boonop gereeld al dansend in tradisionele Zoeloe-drag in die openbaar verskyn, is byna ondenkbaar.

Dit roep by baie mense – wit én swart – ’n diep gewortelde afkeer in, en vrees vir, die “primitiewe” na vore.

Wanneer behoudend-Christelike, liberale of feministiese besware dan in die openbare debat oor die kwessie aangevoer word, moet ’n mens dus in gedagte gehou dat ’n groot deel van die emosie wat die debat kenmerk nie na daardie argumente nie, maar na ’n soort oer-vooroordeel, teruggevoer kan word. Wanneer ’n Franse, Italiaanse of Amerikaanse staatshoof (om maar enkele voorbeelde te noem) met ’n hele rits vroue in die bed spring – sonder om met hulle te trou – reageer middelklas-Suid-Afrikaners, soos middelklas-mense oor die wêreld heen, nie naastenby so krities en negatief daarop as wat hulle in die geval Zuma doen nie. Dit wys dat die negatiewe reaksie op Zuma se poligamie nie net op morele oorwegings berus nie. (Toegegee, Zuma het ook al verskeie buite-egtelike kinders verwek – die kritiek op hom gaan nie net oor poligamie nie – maar ook dit onderskei hom nie van talle ander politieke leiers wat ligter daarvan afkom nie.)

Nog ’n aanduiding dat dit hier nie net gaan oor die uitdruklike argumente wat teen Zuma se gedrag aangevoer word nie, is dat dieselfde kritici – geloofsgroepe, vroueregte-aktiviste en so meer – in baie gevalle nie ewe krities en afwysend reageer op veel ernstiger misstappe deur hul president nie. Zuma het immers onder hoogs problematiese omstandighede – met ’n onafgehandelde kriminele saak wat oor sy kop hang – president geword, en het sedertdien op talle maniere demokratiese instellings ondermyn en totalitêre uitlatings, byvoorbeeld oor die Goddelike reg van sy party om te regeer, gemaak. Myns insiens behoort dit Suid-Afrikaners veel bekommerder te maak as wat Zuma in sy private lewe aanvang.

Keur ek dan poligamie goed?

Ek is versigtig om hieroor ’n eenduidige antwoord te gee. Poligamie – sowel in die tradisionele Afrikakultuur as in, byvoorbeeld, sekere Islamitiese samelewings – word dikwels as vernederend en ontmagtigend teenoor vroue uitgebeeld. Terwyl ek sal toegee dat dit dikwels in die praktyk so funksioneer, is dit geen logiese noodsaaklikheid dat dit slegs daardie vorm kan aanneem nie. Ek weet persoonlik van vroue in poligame huwelike wat beter kwalifikasies en groter sosiale status as hul man het en hulle beslis ook nie deur hul man laat onderdruk of beheer nie. Dit gaan hier boonop oor vroue wat vrylik en bewustelik gekies het om hulle in so ’n huwelik te begeef. Die aanname dat vroue noodwendig teen hul sin daarin gedwing of gemanipuleer word, is myns insiens seksisties omdat dit op ’n vooroordeel van vroue as die “swakker geslag” berus.

As Christen neem ek kennis dat allerhande Bybeltekste aangehaal word om poligamie te veroordeel (al word poligamie nie oral in die Bybel afgekeur nie), maar ek dink nie ’n mens behoort Bybeltekste as reglynige gedragsreëls te hanteer nie; dit moet meer oor die gees van die Bybelse getuienis gaan. Die vraag moet wees of liefde, sorg en agting vir die medemens deur ’n bepaalde praktyk gedien word. Kan ’n mens ontken dat onbaatsugtige wedersydse liefde ook in poligame huwelike voorkom? En kom dit in alle monogame huwelike voor? Is oorheersing oor vroue net tot poligame huwelike beperk?

Daar is ook die kwessie van dubbele standaarde. Baie hedendaagse Westerse liberales wat hulself as progressief beskou, eksperimenteer met alternatiewe verhoudingstipes soos sogenaamde “oop huwelike”, of wys die huwelik as instelling heeltemal van die hand en beskou losser, kortstondiger romantiese verbindings as meer bevrydend. Vir my lyk dit duidelik dat ’n vaste verbinding tussen geliefdes, ’n onvoorwaardelike daar wees vir mekaar, eties te verkies is, en dat los en vas seksuele avonture gevaar loop om ’n verbruikerslogika op menslike verhoudings toe te pas – dat juis in sulke “bevryde” seksuele gedrag mense met minagting behandel kan word. Ten minste relatief gesproke gee geïnstitusionaliseerde poligame huwelike – wat immers lojaliteit en wedersydse ondernemings en verpligtinge impliseer – sterker uitdrukking aan ’n erkenning van menswaardigheid as dit wat deesdae “opeenvolgende monogamie” (serial monogamy) heet.

Dan praat ons nie eens van seksuele ontrouheid deur “monogaam”-getroudes nie. Dit tref my telkens weer hoe die skerpste kritici van poligamie veel minder skerp op hierdie sonde reageer – ook sover dit openbare figure betref. As ’n Steve Hofmeyr (bekende musikant) of Joost van der Westhuizen (bekende rugbylegende) deur die media “uitgevang” word dat hulle buite-egtelike verhoudings het, is selfs die vurigste moraliste haastig om te “vergewe” (asof die bekendes teen húlle gesondig het!) en verskonings vir hul gedrag aan te bied, maar wanneer ’n ander openbare figuur in alle eerlikheid en openheid die verpligtinge en verantwoordelikhede van ’n vaste verhouding met meer as een vrou op hom neem, is daar geen genade nie.

Self dink ek monogame huwelike is verkieslik, omdat dit groter intimiteit, en minder jaloesie en wantroue, in die hand kan werk. Dis egter geen waarborg daarvoor nie, en dis nie te sê dat daar nie ook “mooi” poligame huwelike kan wees nie. Ons leef nie in ’n volmaakte wêreld nie, en geen van ons kulturele praktyke – en dit sluit monogame huwelike in – is absoluut suiwer of onaanvegbaar nie. Mense maak hul keuses vanuit konkrete omstandighede – persoonlik, kultureel, ekonomies en so meer – wat dit nie altyd moontlik maak om die “ideale” te doen nie, en waarin ’n minder as volmaakte reëling soms steeds die beste, of ten minste ’n verdedigbare, opsie is. Hoewel ek dus gemakliker met monogame as met poligame huwelike is, is ek ewe ongemaklik met ’n simplistiese en absolutistiese afwysing van laasgenoemde, veral as dit met rasse- en kulturele vooroordele saamhang. Selfs al glo “ons” dat die kulturele tradisie van poligamie ’n swak punt van die betrokke kulture is, moet ons dit nie doen vanuit die illusie dat al “ons” kulturele tradisies volmaak en onaanvegbaar is nie.

’n Gevaar van oordrewe moralistiese reaksies op poligamie is dat dit, ironies genoeg, juis kritiese gesprekvoering oor die kwessie onmoontlik kan maak. Teenoor die wit en swart Suid-Afrikaners wat as ’t ware skaam kry vir Zuma se gedrag, is daar swart meningsvormers wat die subliminale rassisme in die kritiek aanvoel en dan die teenargument gebruik dat poligamie deel van Afrikakultuur is en basta. Die “dit-is-my-kultuur”-argument is eties twyfelagtig (dit sou byvoorbeeld beteken dat apartheid in orde was omdat rassisme nou maar eenmaal wittes se kultuur was), maar dis ’n argument wat baie gou na vore kom wanneer mense voel dat daar op hulle en hul kultuur neergesien word. Mettertyd is dit dan nie net die kritici van ’n kultuur nie, maar ook die apologete van daardie kultuur, wat dit stereotipeer. Dan word die stereotiepe ’n werklikheid – ’n self-vervullende profesie – wat onkrities en met uitdagende trots geleef word en die plek inneem van die komplekser, dubbelsinniger en buigsamer kulturele praktyke waaruit dit voortgevloei het.

Hierdie boodskap is nie net vir Suid-Afrika van belang nie, maar ook vir Wes-Europa, waar die dikwels histeriese en bevooroordeelde vrees vir, en kritiek op, Moslemvroue se tradisionele hoofbedekkings (of die bou van Moskees, soos in Switserland) reeds besig is om morele kompleksiteit, en sensitiewe kritiese diskoers daaroor, te vervang met ’n gevaarlike waar maak van dit wat gevrees word. Ook daar roep dit die vraag op: Is die eie kultuur dan so onproblematies? Kan dáár nie ook etiese vraagtekens by geplaas word nie? Verdraagsaamheid en wedersydse respek, waarvan nederigheid en selfkritiek die keersy is, is besig om al hoe skaarser in ons wêreld te word.

(LEES DR EVE, ANNELISE EN AMANDA GOUWS SE KOMMENTAAR OP HIERDIE INSKRYWING)

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na [email protected] om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

5 antwoorde op Poligamie – die Suid-Afrikaanse debat

  1. Die “opgevoedes” is dikwels eintlik opgewoedes! Dankie vir die uitwys van die tikfout. Dis reggestel.

  2. cdvanwyk het gesê op Maart 30, 2010

    Uiters goeie artikel wat getuig van deernis en balans rakende ons baie ingewikkelde en diverse opset in Suid-Afrika. Ons moet elkeen elke dag ons bydrae lewer (hoe gering ookal) om ‘n verskil te maak en “grense oor te steek”.

  3. Uitstekende opmerking. Christina Landman het onlangs, in ‘n skrywe hier op LitNet, ook op hierdie kwessie gewys. Ek stem saam met jou. Dis nie goeie praktyk om sekere dinge net vir sekere kultuurgroepe wettig te maak nie. Ons howe het eintlik reeds so bevind toe ‘n Rastafarier aansoek gedoen het om die gebruik van dagga vir lede van sy geloofsgemeenskap te wettig. Nee, het die hof besluit, die verbod geld almal. Die regering sou kan besluit om, in die lig daarvan dat die inbreuk wat hierdeur op die geloofsvryheid van Rastafariers gemaak word onaanvaarbaar is, die verbod op te hef, maar dan word dit vir almal opgehef.

  4. Jy lees my intensie reg. Dis nie soseer dat ek poligamie voorstaan nie as dat ek die kompleksiteit van die kwessie in ‘n multikulturele konteks, en die simplistiese moralisme wat die debat daaroor kenmerk, aan die lig wil bring.

  5. gerritbrand het gesê op April 9, 2010

    Ene “Kira” skryf aan my:

    “Kom ek toe nou vandag op hierdie pos en die hele polemiek af – baie interessant, dink ek by myself, want in my wereld is oop verhoudings alledaags en ek kan partymaal self nie glo hoe goed dit werk nie, hoe almal heel gelukkig en tevrede is om hulle lewensmaats te deel en dan natuurlik ook self ‘n ietsie op die kantlyn te kry. Ek self is in ‘n soortgelyke verhouding betrokke – manlief en vroulief is getroud, albei is in die BDSM leefstyl, manlief het sy eie slavin (dis nou ekke) en vroulief het haar eie Meester. Almal kuier lekker oor en weer aan huis, is moerse pelle, respekteer mekaar en is lief vir mekaar op hulle eie manier. Dit werk wraggies – vanuit my eie oogpunt het ek iemand wat vir my lief is, altyd daar is vir my, vir my presies gee wat ek nodig het, maar hy is nie heeltyd by my nie en ons hoef nie absoluut alles vir mekaar te wees nie – dit hou die verhouding vars en baie meer hanteerbaar en natuurlik baie meer eerlik en openlik. Dit is vir my in elkgeval ‘n baie beter opsie as die gebruiklike serenario waar die man die vrou agter haar rug verneuk of vice versa en soos ek die dinge om my bekyk, begin dit vir my lyk asof daar bitter min huwelike bestaan waar beide partye eerlik kan se dat hulle mekaar nog nooit ooit verneuk het nie.”

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.