Jy blaai in die argief vir 2010 Maart.

“Letterlik” is nie dieselfde as “waar” nie

Maart 31, 2010 in Sonder kategorie

My jongste rubriek in die Kerkbode:

“Lees jy die Bybel letterlik?” vra iemand my onlangs weer. Niemand kan op dié vraag “Ja” antwoord nie.

Selfs die fundamentalistiese Bybellesers verstaan tog nie Jesus se gelykenisse as feitelike weergawes van historiese gebeure nie? (Om te vra wanneer en waar die verlore seun geleef het, is om die verhaal mis te verstaan.) Wanneer God ons rots genoem word, lei ons nie daaruit af dat God uit minerale saamgestel is nie. Of, soos die filosoof Ludwig Wittgenstein verduidelik het: as ons van God se oog lees, dink ons nie aan wenkbroue nie.

Daar is ook letterlike gedeeltes in die Bybel – tekste waarin woorde op die gewone manier gebruik word. Dat Dawid koning was, of Salomo die tempel laat bou het, word deur die Bybelskrywers letterlik bedoel. Dis anders as om Jesus Koning te noem, of na die gelowiges as God se tempel te verwys.

Dan is daar die omstrede gevalle: Is Jona letterlik deur ’n groot vis ingesluk of het dié verhaal ’n simboliese betekenis? Was daar regtig iemand soos arme ou Job of moet ons die boek Job as ’n soort novelle oor menswees voor God lees? Was Maria biologies ’n maagd toe sy Jesus verwag het, of wil dié verhaal in ’n mitologiese toonaard iets oor Jesus se Goddelike oorsprong sê? Bedoel Jesus, wanneer Hy sê: “Dit is my liggaam … ”, dat die brood letterlik in sy lyf verander, of wil dit sê dat die opgestane Christus deur sy Gees by die gelowiges is wanneer hulle die brood tot sy gedagtenis deel?

Wanneer daar meningsverskil oor sulke Bybeltekste is, gaan dit nie altyd oor of dié tekste geglo kan word nie, maar dikwels oor wat die skrywers daarmee bedoel het. Die vraag is dan nie óf ons die teks moet glo nie, maar wát dit is waarop die teks aanspraak maak. Wie daarop aandring dat hierdie tekste by voorbaat letterlik verstaan moet word, sal ook Jesus se gelykenisse as historiese verslae moet lees en aanvaar dat God ooghare het. Die vraag of ’n Bybelgedeelte letterlik verstaan moet word, is ’n verstaansvraag, nie ’n geloofsvraag nie.

Nie net fundamentaliste vergeet soms dié onderskeid nie. Baie “liberale” Christene wat sukkel om te glo wat sekere tekste beweer, soek ’n uitweg deur sonder goeie gronde aan te voer dat dié tekste nooit letterlik bedoel was nie. ’n Voorbeeld is die getuienis oor die leë graf ná Jesus se opstanding. Dat mense daaraan twyfel, verras nie, maar dit beteken nie die evangeliste het dit nie letterlik bedóél nie.

Die einste “liberales” maak ook soms die teenoorgestelde “fundamentalistiese” fout: om figuurlike tekste letterlik te lees. Ek is byvoorbeeld glad nie so seker dat, soos dikwels beweer word, die ou Israeliete hul voorstelling van die doderyk “daaronder” en God se woonplek “daarbo” letterlik opgeneem het nie. Die letterlike lees berus dalk op blote aannames oor die naïwiteit van antieke samelewings.

Om iets figuurlik of metafories te noem is nie om die waarheid daarvan te bevraagteken nie. Dat God ons rots is, bly waar, al word “rots” figuurlik bedoel. Net so is ’n letterlik bedoelde teks nie noodwendig waar nie. Baie letterlike bewerings – soos die pre-Copernicaanse oortuiging dat die son om die aarde draai – is vals. Die vraag oor of ’n Bybelteks geglo kan word, kom eers ter sprake nádat vasgestel is of dit letterlik of figuurlik bedoel is.

Daar is nog verdere, moeiliker vrae – soos wat dit presies beteken om die Bybel te “glo”. En die teoloog Karl Barth se onthutsende retoriese vraag: “Wat is die belydenis van die gesag van die Skrif as sodanig anders as ’n leë uitroep van ‘Here! Here!’?”

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Prokureur skryf oor sy taaltriomf

Maart 31, 2010 in Sonder kategorie

Vandeesmaand se LitNet-essay is deur die prokureur Cerneels Lourens wat onlangs die staat suksesvol in die hof aangevat het oor dié se versuim om wetgewing oor die regering se gebruik van amptelike tale aan te neem. Lourens deel sy gedagtes oor die belang van hierdie beslissing.

Self dink ek dis ’n groot deurbraak. In al die emosie oor taal vergeet ons dikwels dat een van die belangrikste redes hoekom die regering veeltaligheid aktief moet bevorder, is dat die Grondwet dit vereis, sodat versuim om dit te doen die regstaat ondermyn. Dit het ook implikasies vir die howe self, wat immers ook regeringsorgane is en taalverpligtinge het, maar dit nie uitvoer nie, en dikwels verkeerdelik aanvoer dat die gebruik van tolkdienste in gevalle waar betrokkenes in ’n saak nie Engels of Afrikaans verstaan nie, voldoende is.

Lourens se oorwinning is dus nie net van belang vir Afrikaans nie, maar vir veeltaligheid in die breedste sin.

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Poligamie – die Suid-Afrikaanse debat

Maart 25, 2010 in Sonder kategorie

My jongste maandelikse rubriek in die Nederlandse tydskrif Maandblad Zuid-Afrika:

Poligamie is tans ’n lewende gespreksonderwerp in Suid-Afrika. Die rede daarvoor is dat die president, Jacob Zuma, onlangs ’n soveelste eggenote by gekry het. Hoewel dit heeltemal in ooreenstemming met die tradisionele Zoeloe-kultuur (en Zuma ’n Zoeloe) is, is dit ’n gebruik wat al vir ’n eeu of meer deur “opgevoede” Afrikane afgekeur word.

Ek plaas “opgevoede” in aanhalingstekens omdat, in die diskoers waaroor ek dit hier het, slegs formele opleiding in die Westerse skool- en akademiese tradisie as egte opvoeding beskou word – ’n idee wat deur Westerse sendelinge en kolonialiste na Afrika gebring, en deur baie Afrikane geïnternaliseer, is. Laasgenoemde is verstaanbaar, gesien die feit dat, in die koloniale magsdinamika, dit voordelig vir ondergeskiktes was om die dominante kultuur te bemeester, sodat dié kultuur ’n verhewe status verkry het. Die skaarste van hierdie soort kulturele kapitaal het tot die gesogtheid daarvan bygedra en terselfdertyd die meerderheid Afrikane van die voordele daarvan uitgesluit – dit geld tot vandag toe.

Dit was dus (en bly in groot mate steeds) in die Westers-opgevoede, swart stedelike elite se materiële belang om hul assosiasie met die moderne Westerse kultuur te demonstreer, en hulle sigbaar van die “barbaarse” Afrikatradisies te distansieer. Veral opvallende elemente van laasgenoemde, soos tradisionele kleredrag en ja, ook poligamie, moes (en moet) dan afgesweer word. Dit het saamgehang met vaardigheid in die koloniale taal – in Suid-Afrika se geval Engels – en formele skool-, akademiese en professionele kwalifikasies. Binne hierdie denkraamwerk kan iets soos poligamie in die geval van landelike tradisionele leiers nog neerbuigend getolereer word, maar dat die president van ’n moderne staat aan sulke praktyke meedoen, en boonop gereeld al dansend in tradisionele Zoeloe-drag in die openbaar verskyn, is byna ondenkbaar.

Dit roep by baie mense – wit én swart – ’n diep gewortelde afkeer in, en vrees vir, die “primitiewe” na vore.

Wanneer behoudend-Christelike, liberale of feministiese besware dan in die openbare debat oor die kwessie aangevoer word, moet ’n mens dus in gedagte gehou dat ’n groot deel van die emosie wat die debat kenmerk nie na daardie argumente nie, maar na ’n soort oer-vooroordeel, teruggevoer kan word. Wanneer ’n Franse, Italiaanse of Amerikaanse staatshoof (om maar enkele voorbeelde te noem) met ’n hele rits vroue in die bed spring – sonder om met hulle te trou – reageer middelklas-Suid-Afrikaners, soos middelklas-mense oor die wêreld heen, nie naastenby so krities en negatief daarop as wat hulle in die geval Zuma doen nie. Dit wys dat die negatiewe reaksie op Zuma se poligamie nie net op morele oorwegings berus nie. (Toegegee, Zuma het ook al verskeie buite-egtelike kinders verwek – die kritiek op hom gaan nie net oor poligamie nie – maar ook dit onderskei hom nie van talle ander politieke leiers wat ligter daarvan afkom nie.)

Nog ’n aanduiding dat dit hier nie net gaan oor die uitdruklike argumente wat teen Zuma se gedrag aangevoer word nie, is dat dieselfde kritici – geloofsgroepe, vroueregte-aktiviste en so meer – in baie gevalle nie ewe krities en afwysend reageer op veel ernstiger misstappe deur hul president nie. Zuma het immers onder hoogs problematiese omstandighede – met ’n onafgehandelde kriminele saak wat oor sy kop hang – president geword, en het sedertdien op talle maniere demokratiese instellings ondermyn en totalitêre uitlatings, byvoorbeeld oor die Goddelike reg van sy party om te regeer, gemaak. Myns insiens behoort dit Suid-Afrikaners veel bekommerder te maak as wat Zuma in sy private lewe aanvang.

Keur ek dan poligamie goed?

Ek is versigtig om hieroor ’n eenduidige antwoord te gee. Poligamie – sowel in die tradisionele Afrikakultuur as in, byvoorbeeld, sekere Islamitiese samelewings – word dikwels as vernederend en ontmagtigend teenoor vroue uitgebeeld. Terwyl ek sal toegee dat dit dikwels in die praktyk so funksioneer, is dit geen logiese noodsaaklikheid dat dit slegs daardie vorm kan aanneem nie. Ek weet persoonlik van vroue in poligame huwelike wat beter kwalifikasies en groter sosiale status as hul man het en hulle beslis ook nie deur hul man laat onderdruk of beheer nie. Dit gaan hier boonop oor vroue wat vrylik en bewustelik gekies het om hulle in so ’n huwelik te begeef. Die aanname dat vroue noodwendig teen hul sin daarin gedwing of gemanipuleer word, is myns insiens seksisties omdat dit op ’n vooroordeel van vroue as die “swakker geslag” berus.

As Christen neem ek kennis dat allerhande Bybeltekste aangehaal word om poligamie te veroordeel (al word poligamie nie oral in die Bybel afgekeur nie), maar ek dink nie ’n mens behoort Bybeltekste as reglynige gedragsreëls te hanteer nie; dit moet meer oor die gees van die Bybelse getuienis gaan. Die vraag moet wees of liefde, sorg en agting vir die medemens deur ’n bepaalde praktyk gedien word. Kan ’n mens ontken dat onbaatsugtige wedersydse liefde ook in poligame huwelike voorkom? En kom dit in alle monogame huwelike voor? Is oorheersing oor vroue net tot poligame huwelike beperk?

Daar is ook die kwessie van dubbele standaarde. Baie hedendaagse Westerse liberales wat hulself as progressief beskou, eksperimenteer met alternatiewe verhoudingstipes soos sogenaamde “oop huwelike”, of wys die huwelik as instelling heeltemal van die hand en beskou losser, kortstondiger romantiese verbindings as meer bevrydend. Vir my lyk dit duidelik dat ’n vaste verbinding tussen geliefdes, ’n onvoorwaardelike daar wees vir mekaar, eties te verkies is, en dat los en vas seksuele avonture gevaar loop om ’n verbruikerslogika op menslike verhoudings toe te pas – dat juis in sulke “bevryde” seksuele gedrag mense met minagting behandel kan word. Ten minste relatief gesproke gee geïnstitusionaliseerde poligame huwelike – wat immers lojaliteit en wedersydse ondernemings en verpligtinge impliseer – sterker uitdrukking aan ’n erkenning van menswaardigheid as dit wat deesdae “opeenvolgende monogamie” (serial monogamy) heet.

Dan praat ons nie eens van seksuele ontrouheid deur “monogaam”-getroudes nie. Dit tref my telkens weer hoe die skerpste kritici van poligamie veel minder skerp op hierdie sonde reageer – ook sover dit openbare figure betref. As ’n Steve Hofmeyr (bekende musikant) of Joost van der Westhuizen (bekende rugbylegende) deur die media “uitgevang” word dat hulle buite-egtelike verhoudings het, is selfs die vurigste moraliste haastig om te “vergewe” (asof die bekendes teen húlle gesondig het!) en verskonings vir hul gedrag aan te bied, maar wanneer ’n ander openbare figuur in alle eerlikheid en openheid die verpligtinge en verantwoordelikhede van ’n vaste verhouding met meer as een vrou op hom neem, is daar geen genade nie.

Self dink ek monogame huwelike is verkieslik, omdat dit groter intimiteit, en minder jaloesie en wantroue, in die hand kan werk. Dis egter geen waarborg daarvoor nie, en dis nie te sê dat daar nie ook “mooi” poligame huwelike kan wees nie. Ons leef nie in ’n volmaakte wêreld nie, en geen van ons kulturele praktyke – en dit sluit monogame huwelike in – is absoluut suiwer of onaanvegbaar nie. Mense maak hul keuses vanuit konkrete omstandighede – persoonlik, kultureel, ekonomies en so meer – wat dit nie altyd moontlik maak om die “ideale” te doen nie, en waarin ’n minder as volmaakte reëling soms steeds die beste, of ten minste ’n verdedigbare, opsie is. Hoewel ek dus gemakliker met monogame as met poligame huwelike is, is ek ewe ongemaklik met ’n simplistiese en absolutistiese afwysing van laasgenoemde, veral as dit met rasse- en kulturele vooroordele saamhang. Selfs al glo “ons” dat die kulturele tradisie van poligamie ’n swak punt van die betrokke kulture is, moet ons dit nie doen vanuit die illusie dat al “ons” kulturele tradisies volmaak en onaanvegbaar is nie.

’n Gevaar van oordrewe moralistiese reaksies op poligamie is dat dit, ironies genoeg, juis kritiese gesprekvoering oor die kwessie onmoontlik kan maak. Teenoor die wit en swart Suid-Afrikaners wat as ’t ware skaam kry vir Zuma se gedrag, is daar swart meningsvormers wat die subliminale rassisme in die kritiek aanvoel en dan die teenargument gebruik dat poligamie deel van Afrikakultuur is en basta. Die “dit-is-my-kultuur”-argument is eties twyfelagtig (dit sou byvoorbeeld beteken dat apartheid in orde was omdat rassisme nou maar eenmaal wittes se kultuur was), maar dis ’n argument wat baie gou na vore kom wanneer mense voel dat daar op hulle en hul kultuur neergesien word. Mettertyd is dit dan nie net die kritici van ’n kultuur nie, maar ook die apologete van daardie kultuur, wat dit stereotipeer. Dan word die stereotiepe ’n werklikheid – ’n self-vervullende profesie – wat onkrities en met uitdagende trots geleef word en die plek inneem van die komplekser, dubbelsinniger en buigsamer kulturele praktyke waaruit dit voortgevloei het.

Hierdie boodskap is nie net vir Suid-Afrika van belang nie, maar ook vir Wes-Europa, waar die dikwels histeriese en bevooroordeelde vrees vir, en kritiek op, Moslemvroue se tradisionele hoofbedekkings (of die bou van Moskees, soos in Switserland) reeds besig is om morele kompleksiteit, en sensitiewe kritiese diskoers daaroor, te vervang met ’n gevaarlike waar maak van dit wat gevrees word. Ook daar roep dit die vraag op: Is die eie kultuur dan so onproblematies? Kan dáár nie ook etiese vraagtekens by geplaas word nie? Verdraagsaamheid en wedersydse respek, waarvan nederigheid en selfkritiek die keersy is, is besig om al hoe skaarser in ons wêreld te word.

(LEES DR EVE, ANNELISE EN AMANDA GOUWS SE KOMMENTAAR OP HIERDIE INSKRYWING)

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Reaksie op Marietjie Luyt se brief

Maart 18, 2010 in Sonder kategorie

In haar brief “Hoekom smelt die ys dan (Gerrit Brand)” skryf Marietjie Luyt ek voer aan (in my DinkNet-inskrywing oor die onderwerp) “dat die omvang van klimaatsverandering nie so ernstig is as wat tot onlangs toe gemeen is nie”. Nêrens in die betrokke inskrywing, of in enige ander skryfsel, maak ek egter dié bewering nie. Wat ek wel doen, is om op enkele gevalle te wys waarin afwykende stemme deur die wetenskaplike gemeenskap afgemaak is, maar dit later tog geblyk het dat dié stemme ’n punt beet gehad het. Wat klimaatsverandering betref, verwys ek dan na die navorsingsbedrog waaroor Leopold Scholtz in ’n artikel in Die Burger geskryf het. Die feite hieroor word deur niemand waarvan ek weet, ontken nie. Marietjie verwys in haar reaksie op my skrywe glad nie hierna nie, asof dit geen verskil maak nie. Dit vind ek nogal vreemd.

Anders as ek, vind Marietjie Scholtz se artikel “glad nie so danig uitstekend nie”, maar sy verduidelik nie hoekom, of teen watter deel van die inhoud van daardie artikel sy spesifiek besware het, nie. Wat sy wel doen, is om na anekdotiese (haar eie woordkeuse) getuienis te wys (wat van geen wetenskaplike belang is nie), en na allerlei inligting op die internet wat bevestig dat klimaatsverandering plaasvind. Dit raak myns insiens nie die geldigheid van Scholtz se artikel of my inskrywing nie. In laasgenoemde probeer ek gewoon ’n saak uitmaak vir oop debat in die wetenskap, en wys ek op die gevaar van ortodoksie en verkettering in die wetenskap omdat dit nie die wetenskap of die samelewing ’n guns bewys nie.

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Om regstellende aksie reg te stel

Maart 4, 2010 in Sonder kategorie

Sodra in Suid-Afrika oor die R-woord (regstellende aksie) gepraat word, kom die begrip meriete ter sprake – en nie net van een kant nie.

Diegene wat regstellende aksie kritiseer, redeneer dikwels dat poste, bevorderings, studiegeleenthede, plekke in sportspanne en so meer nie op ras- of geslagsgronde nie, maar op meriete, toegeken moet word. Anders gestel: mense wat vir sulke geleenthede in aanmerking wil kom, moet dit met harde werk, verworwe ervaring, prestasies en bewese kwalifikasies verdien. Hierdie standpunt word soms “meritokrasie” genoem.

Teenoor hierdie soort kritiek antwoord apologete van ras- en geslagsgebaseerde regstellende aksie – hetsy in sy bestaande vorm of soos dit ideaal gesproke sou moet werk – dat dit daarin juis om meriete gaan, en dít in tweërlei sin: Eerstens is dit moontlik dat die meriete van sommige mense uit die aangewese groepe misgekyk word omdat hul formele CV, indien die omstandighede waaruit hulle kom nie in ag geneem word nie, ’n valse refleksie van hul verdienste is, of omdat rassevooroordeel die beoordeling van hul meriete kan skeeftrek.

Tweedens kan geredeneer word dat mense wat in die verlede sistematies benadeel is nou voorkeurbehandeling verdien – net soos iemand wie se eiendom onregmatig beskadig is op skadevergoeding kan aanspraak maak.

Die voorstanders van hierdie twee teenoorstaande standpunte deel wel een aanname, naamlik dat verdienste, of dan meriete, deurslaggewend moet wees in besluite oor watter voordele of geleenthede aan wie toegeken moet word. In dié sin kan ook die teenstanders van meritokrasie meritokrate genoem word!

Christene kan aan albei kante van die debat gevind word, en dikwels doen ons ewe lustig aan die meriete-diskoers mee. Maar druis dié diskoers nie lynreg teen die evangelie in nie? Is die goeie nuus wat Christene verkondig nie juis dat niemand meriete voor God het, dat God ons sonder verdienste aan ons kant liefhet, en dat die enigste mens wat ooit meriete voor God gehad het uit genade sy lewe vir ons, wat sonder meriete is, gegee het nie? Waar sou ons gewees het as God volgens ons verdienste met ons gehandel het?

Die evangelie is, soos die Bybel dit stel, “dwaasheid” en ’n “struikelblok” – dit gee “aanstoot” – nie in die eerste plek weens wetenskaplike of filosofiese besware wat daarteen ingebring kan word nie, maar juis omdat dit om die boodskap van onverdiende genade draai en sodoende ons gekoesterde aanspraak op meriete radikaal nekomdraai. Vir die selfgesentreerde mens wat ons almal is, is dit ’n belediging, ’n aantasting van ons selfwaarde en trots, juis omdat dit ons bevry van die tirannieke illusie dat ons ons reg om te wees, en om God se gawes te ontvang, kan verdien. As, en in die mate dat, ons tóg hierdie boodskap glo en aanneem, kan dit met reg ’n wonderwerk genoem word.

En gestel die wonderwerk gebeur? Is ons dan nie daartoe geroep om heilig te wees soos wat God heilig – dit wil sê anders – is nie (Matt. 5:48)? Wat ook beteken: “Wees barmhartig soos julle Vader barmhartig is” (Luk. 6:36). As God sy reën ook op onregverdiges laat val (Matt. 5:45), sal ons daardie einste reën dan op grond van “meriete” toeken of weerhou? Of op grond van “meriete” daarop aanspraak maak? Wat het ons wat ons nie ontvang het nie?

Hierteen sou die meritokraat dalk beswaar maak: “Beteken ‘barmhartigheid’ dan dat mense in poste aangestel moet word waarvoor hulle nie opgewasse is nie?” Of: “Die regstelling wat ek eis, is nie genade nie; ek verdien dit!”

Karl Marx het lank gelede die kommunistiese ideaal só opgesom: “Van elkeen volgens sy vermoë, aan elkeen volgens sy behoefte.” Daarmee het hy, dalk onwetend, sy Joodse erfenis en Christelike opvoeding verklap. Handelinge 2:45 lui byvoorbeeld: “En hulle eiendomme en besittings het hulle verkoop en die opbrengs onder almal verdeel, volgens wat elkeen nodig gehad het.”

Só lyk ’n gemeenskap wat die boodskap van die kruis regtig verstaan en prakties uitleef: nie wat ek verdien nie, maar wat jy nodig het; nie wat jy my skuld nie, maar wat ek ontvang het om jou mee te dien. Ook dit kan ons motiveer om bekwame mense in diens te stel, nie oor hul “meriete” nie, maar omdat hulle doeltreffend diens kan lewer. En dit kan ons aanspoor om wat verkeerd is reg te stel – nie omdat benadeeldes dit “verdien” nie, maar omdat hulle dit nodig het. Eers op hierdie grondslag, en met hierdie oogmerk, kan Christene begin om die hoe-vraag sinvol te stel.

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Klimaatsverandering, vigs en heilige koeie in die algemeen

Maart 1, 2010 in Sonder kategorie

’n Uitstekende artikel deur Leopold Scholtz oor the rise and fall of the climate change empire (nie sy formulering nie!) het Saterdag in Die Burger verskyn. Dit blyk, merk hy op, dat van die fondamente waarop die hele klimaatsverandering-diskoers berus, van klei is en nou in duie stort – soms omdat dit nie op grondige wetenskaplike navorsing berus nie, en soms weens doodgewone bedrog deur navorsers. Hy verwys ook na sielkundige navorsing wat al gedoen is om te verklaar hoekom mense – ook wetenskaplikes – so moeilik oorreed kan word om van gekoesterde standpunte af te sien, die getuienis ten spyt.

Nog ’n geldige punt wat Scholtz maak, is dat die gangbare ontledings van die (reeds wankelrige) gegewens oor klimaatsverandering uit die staanspoor reeds denkende wenkbroue moes laat lig het, want hoe realisties is dit in elk geval om akkurate langtermynvoorspellings oor toekomstige veranderings in die globale klimaat te maak as weerkundiges nie eens aanstaande week se weerstoestande in Koekenaap vreeslik akkuraat kan voorspel nie? Tog het baie min mense vrae gestel, en dié wat dit wel gewaag het, is deur sowel die wetenskaplike gemeenskap as die media veroordeel en as onverantwoordelike afwykendes gebrandmerk.

Intussen het Rian Malan se Resident Alien onlangs verskyn (klik hier vir Gawie Botma, en hier vir Robert Brand, se bespreking van die boek). Twee artikels daarin, “The Body Count” en “Among the Aids Fanatics”, gaan oor die mistastings en gekonkel met vigs-statistieke. Toe hy deur die Rolling Stone Magazine (RSM) gevra is om oor oudpres. (toe nog president) Thabo Mbeki se afwykende beskouings oor vigs te skryf, het Malan dit aanvanklik benader as ’n geleentheid om Mbeki goed by te kom, maar toe hy die saak ondersoek, ontdek hy tot sy verbasing dat die syfers wat allerweë aanvaar is, onmoontlik akkuraat kan wees. RSM het destyds nie kans gesien om Malan se artikel net so te plaas nie – te omstrede – maar intussen het die wind in ’n ander rigting begin waai. Net gisteraand sê ’n gesiene plaaslike viroloog vir my dat Malan al die tyd reg was, en liggame soos die Wêreldgesondheidsorganisasie verkeerd.

Die interessante is dat, net soos in die geval van klimaatsverandering, dit eintlik nie vir ’n onbevange ondersoeker moeilik moes gewees het om lankal te sien dat Malan reg is nie. Die gegewens wat hy ter ondersteuning van sy standpunt voorgehou het, was eenvoudig oorweldigend. Tog is hy so uitgelag en veroordeel dat die see hom nie meer skoon kon was nie, tot so ’n punt dat dit sy persoonlike lewe ontwrig het. Nogmaals ’n geval van ’n hardkoppige onwilligheid tussen selfs die topkenners op ’n sekere terrein om hoegenaamd die moontlikheid te oorweeg dat hulle op ’n verkeerde spoor kan wees. Ja, in baie gevalle korrigeer die wetenskap homself mettertyd, maar soms vat dit darem baie langer as wat nodig is!

Daar is ook vigs-“afwykendes” wat baie fundamenteler kritiese vrae oor die heersende teoretiese verstaan van vigs stel. Van hulle is bekroonde wetenskaplikes en kenners op hul veld, selfs Nobelpryswenners. Of hulle in die toekoms, soos Malan, gevindikeer sal word, weet ek nie – ek maak nie voorspellings oor die klimaat óf oor wat wetenskaplikes in die toekoms gaan doen nie! – maar een ding lyk vir my duidelik: Dis nie ’n gesonde situasie wanneer mense wat heersende beskouings bevraagteken tot ketters verklaar en na die buitenste duisternis van die wetenskaplike wêreld verban word nie. Die wetenskap is nie ’n soort magiese middel wat vanself werk nie; dit werk net selfkorrigerend vir sover die beoefenaars daarvan hulle aan goeie wetenskaplike praktyk hou, en soos Karl Popper lank gelede al aangetoon het: die wetenskap maak vordering deurdat wetenskaplikes bestaande teorieë onophoudelik verkeerd probeer bewys. Wie “afwykende” sienings teen elke prys wil beveg, is geen vriend van die wetenskap nie.

Net vir die duidelikheid: Ek ontken nie dat koolstof-emmisie en besoedeling in die algemeen afgeskaal moet word, of selfs dat dit vroeër of later die klimaat kan affekteer, nie. Wie my daarvan verdink, moet maar weer lees wat ek hierbo skryf. Net so ontken ek nie dat mense wat met vigs gediagnoseer is ernstige gesondheidsprobleme in die gesig staar, of dat hulle van goeie mediese sorg voorsien moet word, nie.

Hoor net hoe verklaar ek my ortodoksie …

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.