Die taal wat God self praat

Februarie 5, 2010 in Sonder kategorie

(Hieronder volg die jongste aflewering van my tweeweeklikste rubriek in die Kerkbode)

 

Die God van die Bybel is ’n God wat praat, skryf N.T. Wright in The Last Word. Maar watter taal praat God dan?

Umberto Eco vertel in sy La ricerca della lingua perfetta nella cultura europea (in Nederlands: Europa en de volmaakte taal) oor die lang soeke na die “volmaakte taal”, wat in die moderne era die vorm aanneem van ’n versugting dat één taal, byvoorbeeld Engels, die enigste wêreldtaal moet wees, dikwels omdat dié taal as inherent superieur beskou word. Andere wil ’n nuut geskepte taal vir internasionale kommunikasie, soos Esperanto, bevorder om sodoende taaloorheersing uit te skakel.

In die premoderne tyd is die volmaakte taal volgens Eco as die taal van God, die hemelse taal, voorgestel. Dit sou Latyn kan wees (die Latynse Bybelvertaling is as die kerklik gesanksioneerde weergawe gesien), of Hebreeus (die taal wat Adam en Eva vermoedelik sou gepraat het), dalk ’n taal wat weens die sondeval (dink aan die verhaal van die Babelse verwarring) verlore geraak het, of selfs ’n natuurlike taal waarmee mense as ’t ware gebore word, maar wat hulle dan mettertyd afleer. Om laasgenoemde te ontdek, het een vors selfs gereël dat die vroedvroue onder sy beheer ’n aantal pas geborenes isoleer en glad nie met hulle praat nie – om dan te kyk watter taal hulle spontaan sou besig. Die eksperiment het misluk, want die baba’s het gesterf …

Eco self meen die inheemse taal van Europa is eintlik vertaling: Wanneer kommunikasie tússen tale plaasvind, kom die wesenlike identiteit van Europa tot uitdrukking. Hiermee kies hy teen die romantiese nasionalisme, waarvolgens volk, taal en grondgebied as identiteitsbepalers móét saamval.

Is vertaling dalk ook God se taal?

Lamin Sanneh lyk dit in sy Translating the Message te suggereer. Navorsing het getoon dat die Christendom in Afrika die vinnigste gegroei het in gebiede waar die Bybel in die plaaslike taal beskikbaar was, en dat inheemse Afrika-kerke soos die ZCC ook juis in daardie gebiede ontstaan het. Dit dui daarop dat verinheemsing van die geloof deur vertaling van die boodskap aangewakker word – dikwels teen die bedoeling van die sendelinge in!

Daar is Christene, veral in behoudende evangelikale kringe, wat die inspirasie, gesag en onfeilbaarheid van die Bybel streng gesproke slegs aan die sogenaamde “oorspronklike manuskripte” toeskryf. Hiermee stem Sanneh nie saam nie. Hoor ons dan nie die Woord van God wanneer ons die Bybel in ons moedertaal lees nie? Volgens Sanneh is ’n wesenlike onderskeidende kenmerk van die Christelike geloof dat sy heilige skrif ook in vertaling Woord van God bly. Hierin verskil die Christelike geloof van onder meer die Islam, waarin slegs die Koran in Arabies as Gods openbaring beskou word.

Sanneh wys daarop dat die Nuwe Testament, as Christelike basisteks, reeds ’n Griekse vertaling is van ’n evangelie wat die eerste keer in Hebreeus of Aramees verkondig is. Deur die eeue het die evangelie telkens by wyse van vertaling – talig én kultureer – deur die wêreld versprei. Reeds in God se selfopenbaring aan Israel word die ewige Goddelike Woord in mensetaal vertaal, en – nog tasbaarder – in Christus word God self in ’n mens “vertaal”. G’n wonder nie dat, toe die Gees op die apostels uitgestort is, hulle in al die tale van hul toehoorders begin praat het (Handelinge 2).

Net soos “heidene” nie besny hoef te word om tot die liggaam van Christus te mag behoort nie, hoef hulle ook nie ’n nuwe taal te leer om God se Woord te kan hoor nie. Voor God maak geen taal jou meer mens as ’n ander nie.

Wat beteken d?t vir hoe ons in die kerk en die breër samelewing mekaar se tale behandel?

 

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na [email protected] om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

5 antwoorde op Die taal wat God self praat

  1. “Bloot”? Ek dink dis meer as dit. Enige vertaling behels interpretasie. Willard Quine (ek dink dit was hy?) het selfs aangetoon dat, in beginsel, twee verskillende vertalings van dieselfde teks albei 100% akkuraat kan wees, al weerspreek hulle mekaar. Dis een van die paradokse van die logika. (Nie dat ek die argument kan volg nie …)

    Die konseptuele raamwerk (die indeling van ons indrukke en ervarings in konsepte) verskil tussen tale, sodat ‘n een-op-een-vertaling (die vervanging van een konsepnaam met ‘n ander) nie moontlik is nie. ‘n Vertaalde teks beteken altyd, en noodwendig, iets anders as die vertaalde teks. (Met teks bedoel ek sowel geskrewe as mondelinge “tekste”.)

    Wat daar by kom, is dat, in verskillende tale, dieselfde boodskap verskillende resonansies het. “Apart” roep in Afrikaans iets anders op as in Nederlands, vanwee die geskiedenis van die woord “apartheid”. Wanneer die naam “God” (self al ‘n vertaling) in Sotho met “Modimo” vertaal word, word een naam nie net met ‘n ander vervang nie, maar ‘n magdom assosiasies word in die Godsbegrip ingedra – onder meer “badimo” (voorouers) en, volgens Gabriel M. Setiloane, “go dima” (diffusie).

    Teologies is Sanneh se punt dus: 1) ‘n vertaling van die Bybel beteken iets anders as die “oorspronklike”, maar 2) die vertaling bly ewe veel Woord van God. Daarin setel die misterie van die Woord.

  2. Izakdv het gesê op Februarie 8, 2010

    Ter plaatse is daar steeds mense wat glo God praat slegs uit die 1933-vertaling!

  3. Wat-wou 1933-vertaling! As Hollands goed genoeg was vir Paulus, is dit goed genoeg vir my.

  4. In die konteks van vertaling van poesie, het ek elders iets geskryf wat ek glo ook op Bybel- en ander vertaling van toepassing is: Die digter is kommunikator. Die leser/hoorder van poesie is ontvanger. Die gedig is die kommunikasiemedium. Taal (woorde) is die kode van daardie medium. In poesie word daardie woorde deur selfopgelegde reels beperk. Minimalisering of ekstraksie is een van daardie reels. Die ekstrak word dikwels verkry deur kultuur-eie simbole, stylfigure en idiome te gebruik. die vertaler van poesie is eers ontvanger van die kommunikasie (ekstrak). Hy/sy vertolk dit en word daarna weer kommunikator daarvan aan ‘n nuwe reeks ontvangers in ‘n nuwe taal (kode). Die vertaler moet die oorspronklike ekstrak op verteerbare en aangename wyse in die nuwe kode opdis. Ek dink Lo-ammi is reg as sy taal as “bloot” ‘n modus (ek noem dit kode) beskryf. Dis die vaardige en kunstige gebruik van die taal deur die vertaler wat die nuwe produk aanvaarbaar en selfs aangenaam maak. Ek stem egter saam met Gerrit (of Sanneh) dat daar by die Woord van God ‘n verdere dimensie, of “misterie” intree wat ons nie kan verklaar nie.

  5. Wat jy hier uiteensit (dankie daarvoor) herinner my baie aan die “dinamies ekwivalente” vertaalideaal wat aan die 1983-vertaling van die Bybel in Afrikaans ten grondslag gele het: ‘n Onderskeid word tussen die “oppervlak-” en “dieptestruktuur” van ‘n teks getref, en die oogmerk met vertaling moet dan wees om, byvoorbeeld, die Hebreeuse met ‘n Afrikaanse oppervlakstruktuur te vervang, maar die dieptestruktuur onveranderd te behou. Wat in die Afrikaanse weergawe gese word – die boodskap wat oorgedra word – is dan presies dieselfde as wat in die oorspronklike Hebreeus gese/oorgedra is. Of dit is ten minste die ideaal.

    My lees en nadink oor die aard van taal het my oortuig dat hierdie ideaal onbereikbaar is – nie net in die praktyk nie, maar selfs in beginsel. Dit deug nie eens as regulatiewe ideaal nie. Ek sou op die verskillende taalfilosofiese en taalwetenskaplike redes hiervoor kan ingaan, maar laat ek eerder ‘n voorbeeld gebruik.

    In Hans du Plessis se vertaling van sekere Bybeltekste in Griqua-Afrikaans vertaal hy die frase “Al praat ek die tale van mense en engele …” (soos dit in die Afrikaanse vertaling van Paulus se oorspronklike Grieks weergegee word) as: “Al praat ek die tale van mense en engelse …” Dit roep natuurlik ‘n glimlag by die leser op, veral gesien die oorheersing van Engels (die “taal van Engelse”) in ons konteks, maar openbaar ook iets aangrypends oor daardie konteks, want inderdaad, wie die “taal van engelse” praat, maar nie die liefde het nie, mis die punt. Dit gaan in die lewe nie oor “smart” wees nie, maar oor lief he!

    En tog, die gebruik van die woord “engelse” in die Griqua-vertaling – en die nuwe betekenisdimensies wat dit aan die teks toevoeg – is so “akkuraat” as kan kom, want wat in Standaardafrikaans “engele” heet word inderdaad in Griqua-Afrikaans “engelse” genoem. Die blote feit van die vertaling – die oorplasing in ‘n ander taalnetwerk of -ruimte – voeg betekenisse by (en verskuil waarskynlik ook betekenisse wat kragtens soortgelyke assosiasies in die oorspronklike Grieks opgeroep is).

    Daarom is alle vertaling oordrag, ja, maar dan in die sin van “traditor” wat nie net oordrag (tradisie) nie, maar ook verraad, beteken. ‘n Onvermydelike, onomkombare verraad. Wat nie noodwendig ‘n slegte ding is nie …

    (Oor die “poesie” waarna jy so gereeld verwys, sou ek ook iets kan se, maar laat ek dit liewer nie doen nie. Behalwe dalk dit: Ek is ook lief daarvoor!)

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.