Terugblik in drievoud – uittredende Matie-raadslede vertel oor Afrikaanskwessie

Januarie 13, 2010 in Sonder kategorie

Drie van die Matie-raadslede wat ’n paar jaar gelede deur die konvokasie verkies is met die uitgesproke doel om die agteruitgang van Afrikaans as akademiese taal aan die universiteit te probeer stuit, se ampstermyn verstryk binnekort. Hulle is Hermann Giliomee, Lina Spies en Christo Viljoen. Al drie het ’n storie om te vertel en wie hier klik, kan al drie stories lees. Klik dan weer hieronder op “Lewer kommentaar” om daaroor saam te gesels.

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na [email protected] om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

16 antwoorde op Terugblik in drievoud – uittredende Matie-raadslede vertel oor Afrikaanskwessie

  1. carinp het gesê op Januarie 13, 2010

    Transfomasie is nodig – afrikaans bly ons hartsgeveg. Om die balans te vind, dalk moeiliker as wat ons dink,

  2. Ek stem saam. Ek is sterk ten gunste van meertalige instellings, maar ‘n voorwaarde is dat die gebruik van tale dan goed bestuur en gereguleer word. Waar dit nie gebeur nie, verdring een taal die ander en ontstaan konflik. Daarvan sien ons helaas talle voorbeelde in Suid-Afrika, want ons leer nie by die internasionale ervaring nie.

  3. In baie gevalle is balans nie eens nodig nie omdat een van die redes vir die gebruik van Afrikaans juis die noodsaak van transformasie is. Dink maar aan die Wes- en Noord-Kaap waar Afrikaans die meerderheidstaal is en oorwegend deur arm voorheen benadeeldes gepraat word. Meer Engels beteken in so ‘n konteks meer wittes en minder transformasie.

  4. Stellenbosch behoort ‘n tuiste te wees vir Bruin en Wit Afrikaans sprekende studente. Daar is UCT en UWK wat net om die draai van Stellenbosch is wat vir Engelsprekende sprekers wat dit so verkies ‘n tuiste kan wees in Engels. Waarom nog ‘n Engelse Universiteit in die Kaap vestig? Dit gaan in elk geval net meer wit Engelse sprekers trek en hoe help dit transformasie? Afrikaans is ‘n sterk akademiese taal. Dit sal tragies wees as dit verwater na niks toe nie! Dit is waarna toe ons oppad is indien die reg van ten minste een Afrikaanse Universiteit nie erken word nie. As daar gaan onderig op tersiere vlak in Afrikaans beskikbaar is nie, waarom sal ouers dan hulle kinders wil laat onderrig kry in Afrikaanse skole? As daar nie Afrikaanse skole is is dit die begin van die einde van die proses. Voor ek nou weer gekruisig word as negatief en die argument gebruik word dat Afrikaans sterker as ooit te vore is. Mag dalk waar wees, maar ons praat nou lang termyn. Dit sal gaan soos met ‘n groot getal kinders wat in die buiteland saam met hulle ouers is. In die begin word daar Afrikaans gepraat en dan al hoe minder tot die kind of hulle kinders net Engelsprekend is. Ek het my onderrig in Afrikaans ontvang en nagraads klaar gemaak in Afrikaans. Ek is enige tyd net so goed en beter as my kollegas wat dit in Engels gekry het in die werks plek. So Engels is nie ‘n voorvereiste vir sukses soos menige ouers glo nie. Viva Afrikaans en Viva Moedertaal Onderrig!

  5. Ek stem saam dat ‘n mens met die lang termyn in gedagte en prosesmatig oor die saak moet dink, en dat daar dan definitief rede tot kommer is. Die “goed gaan” met Afrikaans op kuns- en literere vlak, en die lekker geld wat die media en ander nog uit Afrikaans maak, is die vrug van institusionele investerings in Afrikaans in die verlede. As Afrikaans in die onderwys ‘n al hoe kleiner posisie beklee (en dis ongetwyfeld, empiries nagaanbaar besig om te gebeur), sal dit op die ou end ook in die kunste en so meer begin wys. Dit het al met ander tale gebeur en kan beslis ook met Afrikaans gebeur. Daarom stem ek ook saam met jou dat daar ‘n Afrikaanse universiteit behoort te wees, spesifiek vir die groot aantal Afrikaanssprekendes wat behoefte daaraan het en daarby baat kan vind.

    Soos jy het ek ook tot op nagraadse vlak in Afrikaans gestudeer. Dit het my nie verhoed om my vak te bemeester of om ook in Engels te publiseer, te kan klasgee en so meer nie. Inteendeel.

  6. Die kontras tussen die gevoel van mislukking en verraad in bostaande skrywes en die triomfantelisme waarmee hulle verkiesing tot die raad destyds aangekondig is, wissel so tussen skreiend en skaterend. Iewers tussen Hermann en Christo retireer ‘n laaste maal, en Do Not Go Gently. Hoor mens Chris Brink iewers fluister: I told you so.

    Hoe ookal, die afblaas van die tog is ‘n hoogs voorspelbare uitkoms. Stellenbosch se verlede wat sy toekoms probeer voorskryf was nooit bestem om te werk nie.

    Totaal en al afwesig in die terugskouinge is enige sin vir aandadigheid in die huidige situasie. Maar die feit is dat hoe harder die taalbulle (tans taal-osse) geveg het vir Afrikaans, hoe meer het hulle ruimte geskep vir Engels.

    Dis natuurlik baie maklik om die skuld hiervoor op die “vyand” te plaas. Almal wat die onbestrede feite en wyse raad so blatant verontagsaam het. Direk en indirek word dit mildelik uitgedeel. Als lekker gemaklik en knus, soos dit in die old boys’ club hoort.

    Die oorsprong van die probleem word egter hierdeur al dieper verdring. En dit is dat Stellenbosch van die begin af nie die behoefte aan transformasie direk aangespreek het in die terme wat die beste geskik is daarvoor nie. Totaal blind vir die realiteit dat jy ook ras uitsluit wanneer jy taal uitsluit, is sistematies beweeg om gevestigde Stellenbosch te buffer teen die noodsaaklikheid van plek maak vir swartmense. Al prewelend aan die mantra van nie-rassigheid en met die Weskaapse demografie onder die arm is daar gepoog om kleurling en blanke as Afrikaanse broers te laat saamspan en die swartes uit te crowd.

    But as reality does so often, it intruded. En die basiese realiteit is dit: gemeenskaplikheid en kollektiwiteit konstitueer taal, en taal is dus ondergeskik daaraan. Die institusionele commitments van die kollektief, insluitende besluite oor taal, deurdrenk die besluite van individue en groepe binne daardie kollektief.

    En in Suid-Afrika is die institusionele commitment wat taal betref Engels. Soos jy so graag oor god sê: die vraag is nie of dit is en of dit nie is nie, maar hoe en op watter wyse dit is.

    Slaap rustig dapper stryders, als is nie nag nie.

  7. etienne, jy skryf oor “die realiteit dat jy ook ras uitsluit wanneer jy taal uitsluit”. Sluit UCT en UWK ook ras uit wanneer hulle taal (Afrikaans) uitsluit? Watter taal in die Wes-Kaap sluit die meeste Wes-Kapenaars in? Watter bevolkingsgroep (taal- en rasgewys) in die Wes-Kaap het die laagste vlak van toetrede tot universiteitsopleiding? Watter uitwerking het die toename in Engels-aanbod en die afname in Afrikaans-aanbod aan die US op die rassesamestelling gehad, spesifiek wat wit en swart betref? Die antwoorde op hierdie vrae is straight forward feite-antwoorde.

  8. Die kanse dat die mense in die Weskaap met die laagste toegang tot universiteitsopleiding, die taal wat hulle praat sal herken in die Afrikaans wat op Stellenbosch gebesig word, is nagenoeg nul. So ja, daardie ras word sistematies uitgesluit by UCT (meeste se Engels is pretty horribaal)en Stellenbosch. Ek weet nie hoe sake by die UWK staan nie.

    Die demografie van die Weskaap het dus min met die voortbestaan van standaardAfrikaans by Stellenbosch uit te waai. Des te meer as jy in ag neem dat hierdie voorgehou word as onontbeerlik vir die voortbestaan van Afrikaans landswyd en nie net in die Weskaap nie(die “Stellenbosch as enigste primêr Afrikaanse universiteit in SA” gedagte).

    Die strategie wat die taalbulle gevolg het, om vyande soos Chris Brink te probeer verslaan eerder as om die beweerde vriende op die Kaapse vlakte te bemagtig, wys onteenseglik dat die voortbestaan van Afrikaans vir hulle swaarder weeg as die belange van die mense wat hulle so graag as “feite” bysleep.

    En die mense van die vlakte het hulle klaar uitgekyk en klaar besluit: hulle sal liewer vir die Engelstalige antie Helen Zille stem wat haar moue oprol en werk as vir mense wat so sonder ent oor simboliek en taal wil babbel.

  9. etienne, jy skryf: “Die demografie van die Weskaap het dus min met die voortbestaan van standaardAfrikaans by Stellenbosch uit te waai.” Dit verraai ‘n ernstige misverstand. Dit gaan vir my hoegenaamd nie oor die belang van die uitgeslote groep vir die voortbestaan van Afrikaans aan die US nie, maar oor die belang van die voortbestaan van Afrikaans aan die US vir die bemagtiging van die uitgeslote groep.

    Oor jou suggestie dat “die soort Afrikaans wat aan die US gebesig word” vir hulle van geen waarde is nie kan ek maar net se: As dosent aan die US is my ervaring baie anders. Ek vind dat studente van daardie groep erg deur die gebruik van Engels ontmagtig, en sterk deur Afrikaans bemagtig, word.

    Wat UWK betref: Dis al jare lank eentalig Engels, en daarom doen daardie universiteit ook nie juis veel om veral plattelandse bruin mense te bemagtig nie – iets wat dit met groot welslae gedoen het toe dit nog Afrikaans-medium was.

  10. Dis die soort instellings en tegnologie waarin veel meer geinvesteer behoort te word. Eerder as om almal een taal te laat praat (wat nog nooit enige plek in die wereld gerealiseer kon, of sal, word nie), moet praktiese maniere uitgedink word om enersyds die rykdomme van taalverskeidenheid te ontgin, en andersyds kommunikasie tussen sprekers van die verskillende tale te bevorder.

  11. Die punt oor die Bruin mense se persepsie van Afrikaans aan die US was nie een van waarde nie, in elk geval nie in die algemeen nie, maar van “self-herkenning”.

    Die artikel in LitNet Akademies “Die poeliesman het ’n gun: Die prestasie van Kaapssprekende plattelandse leerders op ’n Afrikaans-medium taaltoets wat dialek-neutraal sou wees” gee op die heel minste ‘n aanduiding dat daar ‘n baie groter disjunk tussen standaard-Afrikaans en Kaaps-Afrikaans is as wat algemeen aanvaar word en wat deur die begrip dialek weergegee word.

    Die paragraaf waarmee die skrywers hulle slotopmerkings open, gee iets van hierdie moontlikheid weer (alhoewel die moontlikheid nie deur die skrywers van die artikel oorweeg word nie):

    “Tydens die vertaling en aanpassing van die Afrikaanse weergawe van die Diagnostic Evaluation of Language Variation is dieselfde riglyne gevolg as dié wat deur die opstellers van die oorspronklike, Amerikaanse Diagnostic Evaluation of Language Variation gevolg is. Soos genoem, onderskei die Amerikaanse weergawe van die toets suksesvol tussen tipies-ontwikkelende en taalgestremde kinders ongeag die kinders se dialekstatus. Dit is daarom teleurstellend dat die Afrikaanse weergawe van die toets leerders wat in hul gemeenskap [Bruin Afrikaanssprekende plattelandse omgewing – etienne] tipies funksioneer, as taalgestremd diagnoseer”.

    Die artikelskrywers maak ‘n saak uit vir sosio-ekonomiese oorsake, maar hoe jy ookal daarna kyk, is kloof tussen Stellenbosch as bakermat van standaard Afrikaans en hierdie mense se taalwêreld enorm. Stellenbosch praat nie vanuit hulle wêreld nie en spreek daarom ook baie letterlik nie tot hulle nie.

  12. etienne, jy vertel my niks nuuts nie. In alle tale in die wereld (ook Engels!) is hierdie punt van variasies binne die taal, en die impak van standaardvorme op diegene wat uit huis uit ander vorme besig, ‘n belangrike kwessie. Waar Afrikaans as skooltaal of universiteitstaal gebruik word, moet met hierdie saak geworstel word. Ek is ‘n voorstander van ‘n meer inklusiewe standaard – nie net vir Afrikaans nie, maar vir alle gestandardiseerde tale. Jy lyk egter te suggereer dat dit iets is waaroor net Afrikaans problematies geag moet word. Daaroor verskil ek met jou. Ek dink ook jy trek te maklik ‘n reguit lyn tussen Kaapse Afrikaans en bruin. Hier in die Stellenbosch-omgewing, en eintlik in die hele Boland, praat bruines nie Kaaps nie, maar so ‘n “suiwer” Standaardafrikaans dat my Standaardafrikaans nie meer op standaard voel nie.

  13. Nou ja toe, en dit sonder dat hulle ooit naby die Universiteit van Stellenbosch gekom het. Nou kan almal mos rustig word, die toekoms van standaard Afrikaans is veilig in die volksmond, al word Maties totaal Engels.

  14. Dit gaan nie vir my oor Afrikaans nie, maar oor die geleentheide wat Afrikaans vir die gemarginaliseerde gebruikers daarvan kan inhou indien taalbeleid met daardie doel voor oe ontwikkel word. Afrikaans sal nog lank oorleef; die “stryd” gaan oor of dit ook as akademiese, en wyer: as openbare, taal sal oorleef, sodat diegene wat daardeur bemagtig kan word die bemagtiging kan smaak. Anders beteken dit die wit Afrikaners is deur hul Afrikaans bemagtig, maar sodra die ander gebruikers van die taal ook die geleentheid kry, word die taal afgeskaf – en dit met die steun van baie wit Afrikaansgebruikers wat dink hulle doen daardeur iets progressiefs en bevrydends.

  15. Ek dink nie die mense in die Weskaap (en sluit maar die Noordkaap en Karoo daarby in) voel vreeslik gevlei dat die gedoente om Afrikaans as akademiese taal te handhaaf spesiaal om hulle onthalwe gebeur nie.

    As dit vir vandag se Afrikaners goed genoeg is om hulle akademiese opleiding primêr in Engels te ontvang, dan is dit sekerlik goed genoeg vir voorheen benadeeldes.

    Die idee van Afrikaans as medium van bemagtiging lyk net na nog ‘n foefie om die voorheen benadeeldes in hulle bekende ou plek onder aan die voedselketting te hou terwyl die boertjies weer al die Engels vir hulle vat.

    Die verstrengelde argument vir die behoud van Afrikaans as dominante taal op Stellenbosch wat jy aanvoer, waarin Afrikaans sowel ekstern tot en voorwaarde vir bemagtiging in die Weskaap is, kan dalk die feit versluier dat dit eintlik oor die behoud van Afrikaans gaan.

    Maar dit kan nie die realiteit verander dat wat die mense in die Weskaap betref, Afrikaans reeds sy beurt gehad het om te bemagtig, en kennelik daarin misluk het nie. En dat bemagtiging vir hulle te belangrik is om Afrikaans ‘n tweede kans te gee nie.

  16. etienne, dalk is daar mense wat Afrikaans “in hulle naam” wil handhaaf, maar jy laat buite rekening dat die leidende figure in die huidige poging tot behoud van Afrikaans self uit die geledere van “hulle” kom. Bekyk jy die saak nie te veel uit ‘n wit perspektief, en in abstraksie, nie? Natuurlik is daar wit nasionaliste, selfs rassiste, wat Afrikaans wil bevorder, maar deur net na hulle te kyk verklap jy dat jy diep in jou hart glo Afrikaans behoort aan hulle en nie aan die meerderheid Afrikaanssprekendes ook nie, en misken jy die taalbeweging onder bruin intellektuele. Byna alle Afrikaanssprekendes wat slegs Afrikaans kan praat, en daarom deur Engels uitgesluit word, is nie wit nie. Ja, Afrikaans het “sy bemagtigingswerk gedoen”, soos jy dit stel, maar slegs vir wittes. Die ander is daarvan uitgesluit en word nou weer daarvan uitgesluit – deur die einste histories Afrikaanse instellings wat hulle in die verlede uitgesluit het. Dis duidelik dat jy ‘n diep gly vang in baie mense wat hulle vir die behoud van Afrikaans bevorder, maar dit kan tot sekerlik nie as ‘n goeie argument geld nie?

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.