Is die Godsvraag opsioneel?

Januarie 11, 2010 in Sonder kategorie

My jongste rubriek in die Kerkbode het pas verskyn. Hier volg dit:

In sy boek God, een open vraag praat die teoloog Anton Houtepen van “agnosme” as ’n opkomende kulturele tendens. Daarmee bedoel hy iets anders as agnostisisme (onsekerheid of God bestaan) of ateïsme (ontkenning dat God bestaan), want, meen hy, al hoe meer Europeërs gee géén antwoord op die vraag of God bestaan nie. Dié vraag interesseer hulle nie. Is die Godsvraag dan opsioneel?

Die Nederlandse koerant Trouw berig, onder die opskrif “God wijkt, maar religiositeit blijft”, oor die uitslag van ’n opname oor spiritualiteit. Die meeste respondente beoefen blykbaar ’n soort “geestelikheid” – van meditasie of rus op Sondae tot sport of die kyk van rolprente – en baie glo in ’n “hoogste wese”, maar min glo in ’n “persoonlike God”. Hulle beskou hul “geestelike” praktyke as maniere om hul batterye te herlaai, nie as uitdrukking van geloofsoortuigings nie.

Baie Christene sal dit jammer vind dat die persoonlike Godsbegrip minder aanhang in Nederland geniet. Baie sal ook die verskuiwing van aktiewe teenstand teen geloof na ’n oënskynlike onverskilligheid daaroor betreur. Met iemand wat God se bestaan bevraagteken, kan mens debatteer, maar wat sê jy vir iemand wat dié vraag nie eens stel nie? Is aktiewe vyandigheid nie beter as traak-my-nie-agtigheid nie? Dink maar aan wat Openbaring 3:15-16 oor “lou” teenoor “koud” of “warm” sê.

Maar gestel die Godsvraag is onontwykbaar, ook vir mense wat nie die wóórd “God” gebruik nie. Dalk is die vraag of “’n God bestaan” ’n verwarde vraag wat die aandag van die eintlike vraag aflei.

Die woord “God” kom van die voor-Christelike Germaanse “gott”; die Hebreeuse Godsname “El” en “Elohim” het ’n pre-Israelitiese, heidense oorsprong; die Nuwe Testament se “Theos” is aan die Griekse veelgodedom ontleen; Afrika-Godsname soos “Modimo” en “Nkulunkulu” stam van die tradisionele Afrikagodsdienste. Kennelik word “God” nie slegs as ’n eienaam (vir die drieënige God) gebruik nie, maar ook generies: om te verwys na wat-ook-al vir wie-ook-al die “hoogste” of mees deurslaggewende werklikheid is.

Luther sê iewers: “Dit waaraan jou hart kleef en wat jy vereer, is jou god.” Paul Tillich praat oor God as “the ground of being”, en Vincent Brümmer het dit oor die “primêre sinsdeterminant” – wat vir Christene die God van die Bybel is, maar vir andere telkens iets anders. Selfs Richard Dawkins erken in sy boek The God Delusion dat die vraag “Hoekom is daar iets en nie niks nie?”, deurdat dit wetenskaplik onbeantwoord moet bly, ’n soort “mistiek” by hom oproep. Dit herinner aan Eberhard Jüngel se boektitel Gott die Geheimnis der Welt (God die geheimenis van die wêreld).

Die misterie agter alles, dit wat uiteindelik tel, heet God. Wat sou dit beteken om te ontken dat dit bestaan? “You’ve gotta serve somebody,” sing Bob Dylan tereg. Was Middeleeuse denkers soos Anselmus en Aquinas dalk reg dat die ontkenning van God se bestaan logies absurd is? Calvyn skryf die bestaan van God “is nie ’n leerstuk wat eers op skool aangeleer word nie, maar een waarvan elke mens reeds van die moederskoot meester is, iets waarvan die natuur self geen mens laat vergeet nie, al poog baie met mening om dit te doen”. ’n Voor-Christelike Afrikaspreuk lui: “Niemand vertel ’n kind van God nie.”

Miskien is die eintlike Godsvraag nie óf daar ’n God is nie, maar hóé ons oor God moet dink. En dalk is dié vraag nie opsioneel nie omdat alle mense, ook al besef hulle dit nie, ’n antwoord daarop gee en dus ’n Godsbeeld het. Of God persoonlik of onpersoonlik is – dít is die soort vrae waaroor Christene sinvol met andere in gesprek kan tree. Nie óf God is nie, maar wié God is.

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na [email protected] om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word. 

20 antwoorde op Is die Godsvraag opsioneel?

  1. Ja, maar my punt is dat ook die “postmoderne mens” waarna jy verwys nogtans voortdurend met die Godsvraag besig is, en dat die tydjies wat ons afknyp om gou bietjie oor “God” te dink weinig met hierdie werklike, dikwels onbewuste besig wees met God, met die absolute, te doen het. Die vraag is dan nie “Bestaan God?” nie, maar “Bestaan ateiste?”, “Bestaan agnositici?”, “Bestaan ‘agnoste’?”. Ek vermoed die antwoord is nee. Almal se hart klou vas aan iets, almal het ‘n “ultimate concern” ens.

  2. Free Graphics – MySpace/Xanga/Friendster

  3. Ek vermoed die antwoord le iewers in die mens se vrees vir God… Dis makliker om met sterretekens en kristalle om te gaan vir jou siel se heil as om gekonfronteer te word met ‘n persoonlike God wat meer van jou verwag as ‘n louwarm reaksie teenooor Hom.

  4. Ucacisa het gesê op Januarie 11, 2010

    Gerrit ek is ‘n ateis en bestaan beslis. Ek ken ook ‘n hele norring ander mense wat ateiste is, so jou vermoede dat hulle nie bestaan nie is verkeerd.

  5. As mense God in oortuigde Christene sien, sal hulle belangstel in wie hy is, want sulke mense is verstommend anders. Ons lees in 1 Pet 3:15: “In julle harte moet net heilige eerbeid wees vir Christus die Here. Wees altyd gereed om ‘n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ‘n verduideliking eis van die hoop wat in julle lewe. Maar doen dit met beskeidenheid en met eerbied vir God. Sorg dat julle gewete skoon bly ….”.

    Petrus skryf dit aan ontmagtigde, verontregte Christene wat die verwondering van ander mense oproep deur die hoop waarmee hulle alles verduur.
    Dis omtrent soos Paulus en Silas wat stukkend geslaan in die nag in die tronk lofliedere sing. Of soos Jesus wat aan die kruis vir sy ma sorg, vir sy kruisigers bid en die evangelie aan ‘n skurk verkondig. Sulke optrede laat mense na ‘n verduideliking vra. En die verduideliking is wie die Lewende God is. As ons saam met die stroom gaan, ewe hard kla en kritiseer, ewe verknog is aan materiele welvaart en genot, sal mense beswaarlik belangstel as ons met hulle oor God wil praat – hy maak dan geen verskil aan ons nie!

    DC Coetsee

  6. Jip, maar dan gaan dit dalk oor “eerder ‘n God wat my maaksel is as ‘n God waarvan ek die maaksel is”, met ander woorde nog steeds oor ‘n god, al word dit nie so genoem nie.

  7. Dis natuurlik ‘n hiperboliese uitspraak om te beweer ateiste bestaan nie. Ek het meer ongelowige familie en vriende as gelowiges, so ek weet. As mens nou tegnies wil raak, hang dit af van die wyse waarop die woord “God” gebruik word. Wanneer dit spesifiek na byvoorbeeld die God van die Bybel verwys, dan is daar natuurlik baie mense wat nie in so ‘n God glo nie, maar wanneer dit meer generies gebruik word om na die absolute te verwys (hoe dit ook al voorgestel word), dan, hou ek vol, glo almal in ‘n god, ook Richard Dawkins.

  8. Ucacisa het gesê op Januarie 12, 2010

    Gerrit, ‘n God is in my verwysingsraamwerk ‘n entiteit wat, soos ‘n poppemeester, die toutjies trek om “dinge” te laat gebeur of om dit nie te laat gebeur nie. ‘n God is die “agterdeur” wat gebruik word om dit wat die mens nie onmiddelik kan verklaar nie te verklaar, of ‘n verklaring onnodig te maak. ‘n God is die “prostetiese toestel” waartoe mense hulle toevlug neem as hulle bollie aangejaag het; die susmiddel vir gewetes want God en of sy mitologiese seun sal vergewe as mense net opreg bely.

    Dawkins mag een hê, hoewel ek twyfel, maar ek wil vir jou sê soos La Place vir Napoleon gesê het, “Ek het die hipotese nie nodig gehad nie.”

  9. Edward, as jy God so omskryf, glo ek ook nie in God nie, maar ek het mos in my skrywe hierbo verduidelik hoekom ek dink die woord “God” kan na verskillende soorte opvattings oor die absolute verwys. Ek onderbou dit ook histories deur daarop te wys dat die woord deur die geskiedenis op talle verskillende maniere gebruik is. Natuurlik word dit ook soms, in die Joods-Christelike tradisie, as ‘n eienaam gebruik vir ‘n spesifieke Gods”karakter”, dus ‘n spesifieke Godsbegrip, en natuurlik is daar miljoene mense wat nie in daardie God glo nie. Wat jy hier skryf is dus nie strydig met wat ek geskryf het nie.

  10. Net nog ‘n punt: Afgesien daarvan dat jy nie onderskei tussen “God” as eienaam en “God” as generiese term nie, meen ek dat jou voorstelling van wat Christene oor God glo ‘n wanvoorstelling is, ten minste vir sover dit die beste en invloedrykste Christelike denkers deur die eeue betref, maar dis ‘n ander debat, en een waaraan ek glad nie in my inskrywing deelgeneem het nie.

  11. Inderdaad.

  12. Ek dink ek verstaan wat jy sê Gerrit, ons almal het hierdie behoefte om iemand anders as ons self te prys of te blameer. Onlangs “Avatar” gekyk en die onderliggende temas is insiggewend. Die wesens op hierdie planeet leef inherent geïntegreerd met hulle omgewing. Miskien het ons mensdom baie lank gelede ook so geleef. ‘n Respek vir die natuur, lewendige organismes en ander mense.Asook respek vir onsself. So wat daarvan as die een groep mense die son aanbid of die ander een die maan. Dit wil my al hoe meer voorkom dat dit maak nie saak wie jy aanbid nie maar hoe jy leef.

  13. Ek dink “wie [of wat] jy aanbid” het nogal ‘n invloed op “hoe jy leef”. “Waar jou hart is, daar sal jou huis ook wees.” En: “Jy kan nie twee here dien nie.” (Dit impliseer die twee here sal strydige dinge van jou vra.) Iemand skryf: Jy word soos dit wat jy aanbid. Nog iemand: Jy word soos dit waarna jy verlang. Verder is dit wat mense as God dien nie altyd ‘n “iemand” nie; dit kan ook ‘n iets wees.

  14. Kolosile, wat jy noem “waar hyself en alles wat hy om hom waarneem vandaan kom” is een betekenis (die generiese) van die woord “God”. As ‘n mens kyk hoe die verskillende Godsname wat ek in my inskrywing noem deur die millenia gebruik is, is “oorsprong van alles”, “ground of being” of iets dergeliks omtrent die enigste gemene deler tussen hulle. In spesifieke geloofstradisies word dit dan natuurlik ingevul met ‘n persoonlike God of ‘n onpersoonlike God, ‘n goeie God of ‘n slegte of apatiese God, ens. Dan word die woord “God” nie meer generies gebruik nie, maar as ‘n eienaam. Wanneer ek aanvoer dat alle mense in ‘n God glo, bedoel ek “God” in die generiese betekenis, nie “God” as ‘n eienaam nie. Ook iemand wat se hy of sy weet nie wie of wat agter alles sit, hoekom daar iets is en nie niks, nie, verwys daarmee na “God”, maar vul die Godsbegrip net nie verder in nie.

    Wat evolusie betref: Selfs die spesifiek Christelike Godsbegrip is “so ruim is dat dit ook die verskynsel van evolusie kan insluit”. Baie Christene aanvaar immers die evolusieteorie. Maar miskien bedoel jy evolusie as ‘n soort absolute. Iemand soos Dawkins mik nogal in daardie rigting: hy spekuleer selfs oor die evolusie van heelalle en dergelike sake. Maar selfs hy moet dan uiteindelik toegee (en doen dit ook) dat evolusie slegs kan werk op dit wat is, en dat dit dus nie die vraag hoekom daar iets is en nie niks nie kan beantwoord nie. Hy weet nie hoekom daar iets is en nie niks nie. Dit respekteer ek, maar ek sou byvoeg: Wat ookal die rede is hoekom daar iets is en nie niks nie, al kan ons niks verder daaroor se nie, kan gerus maar “God” genoem word. Daarna begin die gesprek dan oor wie, wat of hoe God is, en oor of ons hoegenaamd iets oor God kan weet. Ek probeer nie voorgee dat alle mense daaroor saamstem nie!

  15. Wat ek “God” (in generiese sin) noem, is nie ‘n antwoord op die vraag waar ek vandaan kom nie, behalwe dan in die sin van: “wat ook al die antwoord mag wees (en of ons weet wat dit is of nie)”. Immers, die vraag “hoekom” impliseer ‘n “daarom”, al vul ons die daarom nie in nie. Tot op sekere hoogte verskil ons eintlik maar oor woordgebruik. Jy wil nie die woord “God” (generies) gebruik om te verwys na wat ook al die rede mag wees hoekom daar iets is en nie niks nie. Ek wil. Die rede vir my keuse is nie om, se maar, die Christelike God by ‘n agterdeur in te smokkel nie, maar om die eintlike saak waaroor sogenaamde ateiste en agnostici met sogenaamde teiste verskil (en waaroor sogenaamde “agnoste” dink dat hulle geen mening het nie) skerper in fokus te bring. (Terloops, die gedagte wat jy, in jou vorige kommentaar, aan Spong ontleen, ontleen hy aan ‘n antieke Griekse skrywer. Dis ook nie net God vir wie ons “na ons beeld” voorstel nie, maar eintlik die hele werklikheid.)

  16. “Sunday Morning” is een van my gunsteling-liedjies! Ek sing dit self graag. Ou Kris is darem ‘n digter duisend. Ek het die vakansie weer baie na sy musiek geluister. Hy bekeer ‘n mens selfs tot country.

  17. Ek dink daar kan wel sinvol oor die wyd-soos-die-Heer-se-genade-Godsbegrip (excuse the pun) gedebateer word, maar dan nie oor of ‘n God bestaan nie, maar eerder oor wie, wat, hoe God is. Dis die punt van my oorspronklike inskrywing.

    Wat “hoekom” betref, bedoel ek daarmee nie hoekom in dieselfde sin as wanneer ‘n mens vra hoekom iemand iets gedoen het nie. M.a.w. ek loop nie die vraag of die werklikheid deur iemand gewil is, of “vir ‘n rede daar is”, vooruit nie. Ek bedoel hoekom in die suiwer oorsaaklike sin: Hoekom val die appel van die boom? (Omdat daar ‘n wet van swaartekrag is – “daarom”.) Hoekom trek groter planete meer hemelliggame aan? (Omdat die swaartekrag van voorwerpe met ‘n groter massa ook sterker is – daarom). En dan ook: Hoekom is daar iets en nie niks nie? (Omdat … daarom). Die antwoord kan wees: Ek weet nie. Niemand kan weet nie. God die Vader het so besluit. Die werklikheid vloei spontaan uit die Goddelikheid (Aristoteles) en God weet nie eens daarvan nie. Of wat ook al. “God” (generies) trek nie een van hierdie antwoorde voor nie. Dit dui op ‘n spasie wat deur verskillende mense verskillend ingevul word.

  18. oomjan het gesê op Januarie 15, 2010

    Jy “interpreteer” sommer hoe Dawkins daaroor voel?

    Net soos die mense wat vir Eistein besluit wat sy geloofsoortuigings is?

    Vertaal jou antwoord in Engels, ons e mail dit vir Dawkins, en dan kan ons sommer uit die perd se bek hoor, hoe lyk dit?

  19. Oom Jan, dit kom uit die perd se bek, naamlik uit “The God Delusion”. Daarin skryf Dawkins self dat die een vraag wat nie wetenskaplik beantwoord kan word nie die vraag is hoekom daar iets is en nie niks nie (dis ‘n ander vraag as die vraag hoekom ons heelal bestaan – ‘n vraag wat Dawkins wel spekulatief probeer beantwoord deur na die moontlikheid van meerdere heelalle, en ‘n evolusionere proses wat sekere heelalle laat “oorleef”). Hy kies om die vraag nie te beantwoord nie, maar hom te verlustig in die misterie daarvan, ‘n posisie wat ek kan respekteer. Al wat ek in my inskrywing hierbo doen, is om te argumenteer dat die woord “God”, vir sover dit generies gebruik word, wyer gebruik moet word as wat onder andere Dawkins dit gebruik. Binne die betekenis wat ek voorsteel aan “God” (generies) geheg moet word, het Dawkins ook ‘n Godsbegrip. Natuurlik stem Dawkins nie saam dat die woord “God” so gebruik moet word nie, want dit pas sy agenda beter om dit nie so te definieer nie. Maar die verskil is hier nog steeds ‘n verskil oor woordgebruik, nie oor dit wat met die woordgebruik aangedui word nie. Dis ‘n konseptuele punt, nie ‘n feitelike punt nie.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.