Bekering en bekoring

Januarie 11, 2010 in Sonder kategorie

Op die Versindana-webwerf word tans gesels oor die tema “My ‘bekering’ tot die poësie”. Nogal iets om oor na te dink.

In digterlike logika moet bekering noodwendig iets met bekoring te doen hê – die twee klink dan so dieselfde. En dis juis waarin die bekoring vir my lê: die manier waarop poësie die taal, en daardeur die werklikheid, ontsluit. Die werklikheid, ja, want gedigte is nie net verbeeldingsvlugte nie; dit wil iets laat sien, iets wat dalk versluier sou gebly het as die digter dit nie ontsluier het nie, maar wat nietemin waar sou wees. Selfs gedigte wat uit oënskynlik “betekenislose” klanke bestaan, of wat regte woorde in skynbare “nonsens”-konstruksies gebruik, openbaar ten minste iets oor taal en betekenis, dalk spesifiek oor poësie. Ja, digters maak waarheidsaansprake, nes wetenskaplikes. Dat bekering en bekoring saamhang – dat ’n mens bekeer raak tot wat jou bekoor – is nou maar eenmaal waar, of ons dit so insien of nie. Die toevallige klankmatige resonansie in die taal, oftewel die muse, maak die digter se oë bloot daarvoor oop sodat hy of sy dit vervolgens in ’n gedig kan oorvertel, oor die ontsluiering kan bieg.

Digters kan egter nie net bieg nie, maar ook lieg. Soos Jan Lion Cachet in “Di Afrikaanse taal”: “… Hul skel my uit fer Hotnots myd; / Mar ek gé daar ni om; / Want an myn lipiis kan jy siin, / Fan wat geslag ek kom …” Oor dié lieg (Afrikaans as suiwer Europese taal) moes al baie gebieg word!

Moet ook nie dink die waarhede wat wel deur digters blootgelê word, is noodwendig ernstig, swaar of diepsinnig nie. Humoristiese, spot- en lawwe versies kan ook iets oor die werklikheid laat sien, naamlik hoe snaaks dit dikwels is. Aan die ander kant wys Kurt Vonnegut daarop dat juis die tragiese dikwels die snaakste is. So it goes …

 

Die punt is, daar’s dinge wat net deur poësie gesê kan word, en dis dikwels dinge wat die moeite werd is om te hoor. Ludwig Wittgenstein skryf as ’n mens iets nie kan sê nie kan jy dit ook nie fluit nie, maar ek is nie so seker nie. Hier is Breyten Breytenbach: “ek het probeer / ek het hard en bitter geprobeer / om ’n groot gedig te skryf / en soms darem dit opgebring / wat in die plek daarvan kon staan.” Daar skryf hy dit toe tog!

Oor poësie en waarheid nog dit: “metafories” staan nie, soos baie mense dink, teenoor “regtig” nie. Wanneer iets metafories beweer of beskryf word, word dit steeds beweer of beskryf. Dit geld, terloops, ook “metafisies” – die feit dat die metafisiese altyd metafories beskryf moet word, hang hiermee saam.

Kortom, poësie dra kennis oor, en daardeur kry dit ’n houvas op mens, want “mens” rym met “wens” – die mens is ’n vraatsige, nuuskierige wese. Poësie bekoor soos die slang in die paradys: met die belofte van “die kennis van goed en kwaad” (Hebreeus vir “alle kennis”). Natuurlik kan dit die belofte nie gestand doen nie, en word met elke ontsluiering ook veel versluier, maar so werk bekoring mos.

Moet dus nie dink dit gaan net oor kopsake, oor inhoude, nie. Poësie praat nie net nie, maar doen. Die digkuns is die uiterste illustrasie van die vertrekpunt in  JL Austin se klassieke How to do things with words. Gedigte kan dinge laat gebeur – dink maar aan hoe Diana Ferrus se gedig oor Saartjie Baartman laasgenoemde se oorskot via ’n voorlesing in die Franse parlement na Suid-Afrika teruggebring het. Die betekenis van woorde, en van digterlike woorde by uitstek, lê nie net in die bedoeling van die spreker (volgens Wittgenstein die “gebruik” wat die spreker daarvan maak) nie. Ook nie net in die leksikale eienskappe daarvan, die samehang met ander tekse of die verstaan deur die eerste hoorders nie, maar in wat die woorde uitrig, laat gebeur, bewerk (die Duitse woord “Wirkungsgeschichte”, letterlik werkingsgeskiedenis, bring dit mooi na vore). Woorde wat weer en weer op nuwe maniere kan werk, is lewende woorde.

Sulke woorde word in mense verwek, maar ontsnap aan hul bestiering; kry ’n eie lewe en ’n nageslag. Nie net voorbeelde nie, maar ook woorde, kan wek én trek. Hierin lê die mistiek van taal, wat veral deur die digkuns geopenbaar word: dat dit wel deeglik betekenis het, en dus reg of verkeerd verstaan kan word, maar dat daardie betekenis vrugbaar en veelvuldig is, en nie deur ’n tegniek of metode vasgepen kan word nie. Dit doen iets met jou, eerder as dat jy iets daarmee doen, en dít geld nie net die lesers nie, maar ook die skrywers van gedigte.

Wie dít snap, kan dalk iets begin verstaan van wat gelowiges bedoel wanneer hulle die Bybel “Woord van God” noem: nie “woorde van God” asof die outeurs ’n hemelse diktee afgeneem het nie. Nie (soos CS Lewis dit ’n keer ietwat ongelukkig verwoord het) “God’s statement to us of certain quite unalterable facts about his own nature” nie. Nie ’n versameling foutlose bewerings nie. Nee, dit gaan oor die vernuwende, transformerende krag van woorde! Woorde waarvan poësie ’n belangrike deel uitmaak. Dink maar aan die Psalms (en aan Cas Vos se boektitel The Theopoetry of the Psalms), aan Paulus se gedig oor die liefde in 1 Korintiërs 13 (“Al sou ek die tale van mense en engele spreek …”) of aan Jesus se revolusionêre gedig bekend as die Saligsprekinge (Matteus 5:3-12).

In die digterlike logika van die Bybel  word die werklikheid nie net onhul deur die Woord nie, maar ook geskep, onderhou en vernuwe. Om dié punt tuis te bring, haal die Nieu-Testamentikus (en Anglikaanse biskop) NT Wright, in sy boek The Last Word, die digterlike Godspraak in Jesaja 55:10-11 aan: “Want soos die reën en die sneeu van die hemel neerdaal en daarheen nie terugkeer nie, maar die aarde deurvogtig en maak dat dit voortbring en uitspruit en saad gee aan die saaier en brood aan die eter; so sal my woord wees wat uit my mond uitgaan: dit sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur.” Of soos nog ’n gedig dit stel: “In die begin was die Woord … Die Woord het vlees geword en onder ons kom woon …” Ook dié digterlike woord het deur die eeue verlok en verlei, bekoor en bekeer.

Digters, of dan gedigte, herinner ons, demonstreer aan ons, laat ons aan die lyf voel, dat daar nie net een soort taal – die taal van die wetenskap of die taal van die korporasie of die staat – is nie, maar baie verskillende soorte taal, en dat die veelheid van dinge wat deur taal gebeur die veelkantigheid van die werklikheid aan ons openbaar. Dis mos wat “bekering” (ook die Griekse “metanoia”) etimologies beteken: omkering – soos in onderstebo keer, maar ook omdraai wanneer jy domweg ’n dwaalweg ingeslaan het.

Meer outobiografies: In my geval het die blootstelling aan die bekerende krag van poësie – speels en dramaties, humoristies en tragies, ontstigtend en vertroostend, verruklik en bekoorlik – onder meer gekom deur my ouers se slaaptydliedjies (soos “Lam-tie-tie, dam-tie-tie”, “Simbamba” en “Slaap piekanienie”); AG Visser se verruklike kinderverse; die aansteeklike entoesiasme van my hoërskool-Afrikaansonderwyser Dirk Taljard; die ontdekking (en my pogings tot nabootsing) van Pink Floyd, Bob Dylan, Leonard Cohen, Koos du Plessis, David Kramer en kie; die ontmoeting met die anderster taal van die Bybel; en die nadenke oor (en gebruik van) taal in die filosofie. Iemand wat van vroeg in sy lewe aan die bekoring van gedigte blootgestel word, kan nooit weer daaraan ontsnap nie.

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na [email protected] o moor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

1 antwoord op Bekering en bekoring

  1. ditsem.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.