Jy blaai in die argief vir 2010 Januarie.

Terugblik in drievoud – uittredende Matie-raadslede vertel oor Afrikaanskwessie

Januarie 13, 2010 in Sonder kategorie

Drie van die Matie-raadslede wat ’n paar jaar gelede deur die konvokasie verkies is met die uitgesproke doel om die agteruitgang van Afrikaans as akademiese taal aan die universiteit te probeer stuit, se ampstermyn verstryk binnekort. Hulle is Hermann Giliomee, Lina Spies en Christo Viljoen. Al drie het ’n storie om te vertel en wie hier klik, kan al drie stories lees. Klik dan weer hieronder op “Lewer kommentaar” om daaroor saam te gesels.

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Is die Godsvraag opsioneel?

Januarie 11, 2010 in Sonder kategorie

My jongste rubriek in die Kerkbode het pas verskyn. Hier volg dit:

In sy boek God, een open vraag praat die teoloog Anton Houtepen van “agnosme” as ’n opkomende kulturele tendens. Daarmee bedoel hy iets anders as agnostisisme (onsekerheid of God bestaan) of ateïsme (ontkenning dat God bestaan), want, meen hy, al hoe meer Europeërs gee géén antwoord op die vraag of God bestaan nie. Dié vraag interesseer hulle nie. Is die Godsvraag dan opsioneel?

Die Nederlandse koerant Trouw berig, onder die opskrif “God wijkt, maar religiositeit blijft”, oor die uitslag van ’n opname oor spiritualiteit. Die meeste respondente beoefen blykbaar ’n soort “geestelikheid” – van meditasie of rus op Sondae tot sport of die kyk van rolprente – en baie glo in ’n “hoogste wese”, maar min glo in ’n “persoonlike God”. Hulle beskou hul “geestelike” praktyke as maniere om hul batterye te herlaai, nie as uitdrukking van geloofsoortuigings nie.

Baie Christene sal dit jammer vind dat die persoonlike Godsbegrip minder aanhang in Nederland geniet. Baie sal ook die verskuiwing van aktiewe teenstand teen geloof na ’n oënskynlike onverskilligheid daaroor betreur. Met iemand wat God se bestaan bevraagteken, kan mens debatteer, maar wat sê jy vir iemand wat dié vraag nie eens stel nie? Is aktiewe vyandigheid nie beter as traak-my-nie-agtigheid nie? Dink maar aan wat Openbaring 3:15-16 oor “lou” teenoor “koud” of “warm” sê.

Maar gestel die Godsvraag is onontwykbaar, ook vir mense wat nie die wóórd “God” gebruik nie. Dalk is die vraag of “’n God bestaan” ’n verwarde vraag wat die aandag van die eintlike vraag aflei.

Die woord “God” kom van die voor-Christelike Germaanse “gott”; die Hebreeuse Godsname “El” en “Elohim” het ’n pre-Israelitiese, heidense oorsprong; die Nuwe Testament se “Theos” is aan die Griekse veelgodedom ontleen; Afrika-Godsname soos “Modimo” en “Nkulunkulu” stam van die tradisionele Afrikagodsdienste. Kennelik word “God” nie slegs as ’n eienaam (vir die drieënige God) gebruik nie, maar ook generies: om te verwys na wat-ook-al vir wie-ook-al die “hoogste” of mees deurslaggewende werklikheid is.

Luther sê iewers: “Dit waaraan jou hart kleef en wat jy vereer, is jou god.” Paul Tillich praat oor God as “the ground of being”, en Vincent Brümmer het dit oor die “primêre sinsdeterminant” – wat vir Christene die God van die Bybel is, maar vir andere telkens iets anders. Selfs Richard Dawkins erken in sy boek The God Delusion dat die vraag “Hoekom is daar iets en nie niks nie?”, deurdat dit wetenskaplik onbeantwoord moet bly, ’n soort “mistiek” by hom oproep. Dit herinner aan Eberhard Jüngel se boektitel Gott die Geheimnis der Welt (God die geheimenis van die wêreld).

Die misterie agter alles, dit wat uiteindelik tel, heet God. Wat sou dit beteken om te ontken dat dit bestaan? “You’ve gotta serve somebody,” sing Bob Dylan tereg. Was Middeleeuse denkers soos Anselmus en Aquinas dalk reg dat die ontkenning van God se bestaan logies absurd is? Calvyn skryf die bestaan van God “is nie ’n leerstuk wat eers op skool aangeleer word nie, maar een waarvan elke mens reeds van die moederskoot meester is, iets waarvan die natuur self geen mens laat vergeet nie, al poog baie met mening om dit te doen”. ’n Voor-Christelike Afrikaspreuk lui: “Niemand vertel ’n kind van God nie.”

Miskien is die eintlike Godsvraag nie óf daar ’n God is nie, maar hóé ons oor God moet dink. En dalk is dié vraag nie opsioneel nie omdat alle mense, ook al besef hulle dit nie, ’n antwoord daarop gee en dus ’n Godsbeeld het. Of God persoonlik of onpersoonlik is – dít is die soort vrae waaroor Christene sinvol met andere in gesprek kan tree. Nie óf God is nie, maar wié God is.

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word. 

Bekering en bekoring

Januarie 11, 2010 in Sonder kategorie

Op die Versindana-webwerf word tans gesels oor die tema “My ‘bekering’ tot die poësie”. Nogal iets om oor na te dink.

In digterlike logika moet bekering noodwendig iets met bekoring te doen hê – die twee klink dan so dieselfde. En dis juis waarin die bekoring vir my lê: die manier waarop poësie die taal, en daardeur die werklikheid, ontsluit. Die werklikheid, ja, want gedigte is nie net verbeeldingsvlugte nie; dit wil iets laat sien, iets wat dalk versluier sou gebly het as die digter dit nie ontsluier het nie, maar wat nietemin waar sou wees. Selfs gedigte wat uit oënskynlik “betekenislose” klanke bestaan, of wat regte woorde in skynbare “nonsens”-konstruksies gebruik, openbaar ten minste iets oor taal en betekenis, dalk spesifiek oor poësie. Ja, digters maak waarheidsaansprake, nes wetenskaplikes. Dat bekering en bekoring saamhang – dat ’n mens bekeer raak tot wat jou bekoor – is nou maar eenmaal waar, of ons dit so insien of nie. Die toevallige klankmatige resonansie in die taal, oftewel die muse, maak die digter se oë bloot daarvoor oop sodat hy of sy dit vervolgens in ’n gedig kan oorvertel, oor die ontsluiering kan bieg.

Digters kan egter nie net bieg nie, maar ook lieg. Soos Jan Lion Cachet in “Di Afrikaanse taal”: “… Hul skel my uit fer Hotnots myd; / Mar ek gé daar ni om; / Want an myn lipiis kan jy siin, / Fan wat geslag ek kom …” Oor dié lieg (Afrikaans as suiwer Europese taal) moes al baie gebieg word!

Moet ook nie dink die waarhede wat wel deur digters blootgelê word, is noodwendig ernstig, swaar of diepsinnig nie. Humoristiese, spot- en lawwe versies kan ook iets oor die werklikheid laat sien, naamlik hoe snaaks dit dikwels is. Aan die ander kant wys Kurt Vonnegut daarop dat juis die tragiese dikwels die snaakste is. So it goes …

 

Die punt is, daar’s dinge wat net deur poësie gesê kan word, en dis dikwels dinge wat die moeite werd is om te hoor. Ludwig Wittgenstein skryf as ’n mens iets nie kan sê nie kan jy dit ook nie fluit nie, maar ek is nie so seker nie. Hier is Breyten Breytenbach: “ek het probeer / ek het hard en bitter geprobeer / om ’n groot gedig te skryf / en soms darem dit opgebring / wat in die plek daarvan kon staan.” Daar skryf hy dit toe tog!

Oor poësie en waarheid nog dit: “metafories” staan nie, soos baie mense dink, teenoor “regtig” nie. Wanneer iets metafories beweer of beskryf word, word dit steeds beweer of beskryf. Dit geld, terloops, ook “metafisies” – die feit dat die metafisiese altyd metafories beskryf moet word, hang hiermee saam.

Kortom, poësie dra kennis oor, en daardeur kry dit ’n houvas op mens, want “mens” rym met “wens” – die mens is ’n vraatsige, nuuskierige wese. Poësie bekoor soos die slang in die paradys: met die belofte van “die kennis van goed en kwaad” (Hebreeus vir “alle kennis”). Natuurlik kan dit die belofte nie gestand doen nie, en word met elke ontsluiering ook veel versluier, maar so werk bekoring mos.

Moet dus nie dink dit gaan net oor kopsake, oor inhoude, nie. Poësie praat nie net nie, maar doen. Die digkuns is die uiterste illustrasie van die vertrekpunt in  JL Austin se klassieke How to do things with words. Gedigte kan dinge laat gebeur – dink maar aan hoe Diana Ferrus se gedig oor Saartjie Baartman laasgenoemde se oorskot via ’n voorlesing in die Franse parlement na Suid-Afrika teruggebring het. Die betekenis van woorde, en van digterlike woorde by uitstek, lê nie net in die bedoeling van die spreker (volgens Wittgenstein die “gebruik” wat die spreker daarvan maak) nie. Ook nie net in die leksikale eienskappe daarvan, die samehang met ander tekse of die verstaan deur die eerste hoorders nie, maar in wat die woorde uitrig, laat gebeur, bewerk (die Duitse woord “Wirkungsgeschichte”, letterlik werkingsgeskiedenis, bring dit mooi na vore). Woorde wat weer en weer op nuwe maniere kan werk, is lewende woorde.

Sulke woorde word in mense verwek, maar ontsnap aan hul bestiering; kry ’n eie lewe en ’n nageslag. Nie net voorbeelde nie, maar ook woorde, kan wek én trek. Hierin lê die mistiek van taal, wat veral deur die digkuns geopenbaar word: dat dit wel deeglik betekenis het, en dus reg of verkeerd verstaan kan word, maar dat daardie betekenis vrugbaar en veelvuldig is, en nie deur ’n tegniek of metode vasgepen kan word nie. Dit doen iets met jou, eerder as dat jy iets daarmee doen, en dít geld nie net die lesers nie, maar ook die skrywers van gedigte.

Wie dít snap, kan dalk iets begin verstaan van wat gelowiges bedoel wanneer hulle die Bybel “Woord van God” noem: nie “woorde van God” asof die outeurs ’n hemelse diktee afgeneem het nie. Nie (soos CS Lewis dit ’n keer ietwat ongelukkig verwoord het) “God’s statement to us of certain quite unalterable facts about his own nature” nie. Nie ’n versameling foutlose bewerings nie. Nee, dit gaan oor die vernuwende, transformerende krag van woorde! Woorde waarvan poësie ’n belangrike deel uitmaak. Dink maar aan die Psalms (en aan Cas Vos se boektitel The Theopoetry of the Psalms), aan Paulus se gedig oor die liefde in 1 Korintiërs 13 (“Al sou ek die tale van mense en engele spreek …”) of aan Jesus se revolusionêre gedig bekend as die Saligsprekinge (Matteus 5:3-12).

In die digterlike logika van die Bybel  word die werklikheid nie net onhul deur die Woord nie, maar ook geskep, onderhou en vernuwe. Om dié punt tuis te bring, haal die Nieu-Testamentikus (en Anglikaanse biskop) NT Wright, in sy boek The Last Word, die digterlike Godspraak in Jesaja 55:10-11 aan: “Want soos die reën en die sneeu van die hemel neerdaal en daarheen nie terugkeer nie, maar die aarde deurvogtig en maak dat dit voortbring en uitspruit en saad gee aan die saaier en brood aan die eter; so sal my woord wees wat uit my mond uitgaan: dit sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur.” Of soos nog ’n gedig dit stel: “In die begin was die Woord … Die Woord het vlees geword en onder ons kom woon …” Ook dié digterlike woord het deur die eeue verlok en verlei, bekoor en bekeer.

Digters, of dan gedigte, herinner ons, demonstreer aan ons, laat ons aan die lyf voel, dat daar nie net een soort taal – die taal van die wetenskap of die taal van die korporasie of die staat – is nie, maar baie verskillende soorte taal, en dat die veelheid van dinge wat deur taal gebeur die veelkantigheid van die werklikheid aan ons openbaar. Dis mos wat “bekering” (ook die Griekse “metanoia”) etimologies beteken: omkering – soos in onderstebo keer, maar ook omdraai wanneer jy domweg ’n dwaalweg ingeslaan het.

Meer outobiografies: In my geval het die blootstelling aan die bekerende krag van poësie – speels en dramaties, humoristies en tragies, ontstigtend en vertroostend, verruklik en bekoorlik – onder meer gekom deur my ouers se slaaptydliedjies (soos “Lam-tie-tie, dam-tie-tie”, “Simbamba” en “Slaap piekanienie”); AG Visser se verruklike kinderverse; die aansteeklike entoesiasme van my hoërskool-Afrikaansonderwyser Dirk Taljard; die ontdekking (en my pogings tot nabootsing) van Pink Floyd, Bob Dylan, Leonard Cohen, Koos du Plessis, David Kramer en kie; die ontmoeting met die anderster taal van die Bybel; en die nadenke oor (en gebruik van) taal in die filosofie. Iemand wat van vroeg in sy lewe aan die bekoring van gedigte blootgestel word, kan nooit weer daaraan ontsnap nie.

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za o moor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Kersfees: liewer laat as nooit

Januarie 4, 2010 in Sonder kategorie

Ek het die afgelope Kersdag weer vir die eerste keer in jare die geleentheid gehad om ‘n Kersdiens te lei – in die hemel, oftewel Nature’s Valley. Ek wou my besinning sommer daardie dag al op DinkNet laai, maar het so gesukkel om dit met die vreemde rekenaar tot my beskikking reg te kry dat ek maar opgegee en gewag het tot ek weer tuis is. So, hier is dit nou. (Die Skriflesing was uit Johannes 1:1-18.)

Daar is ‘n vraag waarop elke mens ‘n antwoord moet gee, of dit nou uitdruklik of implisiet, bewustelik of onbewustelik is. Die vraag is: Waarvan kan ’n mens in hierdie lewe seker wees? Waarop kan jy reken? En waarmee moet jy rekening hou? Op hierdie vraag moet elke mens ’n antwoord gee, of dit nou uitdruklik of by implikasie, bewustelik of onbewustelik, gedoen word.

Daar is baie moontlike antwoorde op hierdie vraag. Vir sommiges – dalk vir die meeste van ons met tye – is dit iets banaals soos “Bars of betaal is die wet van Transvaal”; “There is no such things as a free lunch”; of, in die beroemd geworde slagspreuk uit Bill Clinton se destydse suksesvolle veldtog in die Amerikaanse presidentsverkiesing: “It’s the economy, stupid.” Laat ons maar eerlik wees: Ons leef in ’n tyd waarin finansiële werklikhede, die sogenaamde wette van die mark, deur baie as die eerste en laaste waarheid oor ons lewe ervaar word – as dit waarop ons, in uiteindelike sin, kan reken, en waarmee ons rekening moet hou, die sogenaamde “bottom line”.

Daarom dat dit as ’n deug beskou word om alles – van skole en universiteite tot staatsdepartemente en ja, ook die kerk – soos sake-ondernemings met ’n winsoogmerk te bestuur. Om met ander waardes, ander maatstawwe, ander maniere van doen, rekening te hou is, volgens hierdie beskouing, om aan illusies te ly, om onrealisties te wees, jou aan wensdenkery skuldig te maak.

Nog ’n gewilde aanspraakmaker op die status van laaste waarheid oor ons lewe, dit waarop uiteindelik gereken kan word, is die ontdekkings van die moderne wetenskap, die sogenaamde wette van die natuur. Dit is asof dit vir baie van ons tydgenote – en, weer eens, dalk vir die meeste van ons met tye – ’n gevoel van veiligheid gee om te glo dat, op letterlik alle terreine van die lewe, die wetenskap vir ons sekere en finale antwoorde kan gee, dat geen ander manier van dink of verstaan nodig, of selfs geoorloof, is nie. Die wetenskap is dan, by wyse van spreke, “the only game in town”, selfs wanneer dit by sinsvrae en morele vrae kom.

Die prys vir hierdie verabsolutering van die wetenskap, hierdie sug na voorspelbaarheid en eenvoud, eerder as verrassende kompleksiteit, is dat alles wat vir ons kosbaar is, ons hoogste waardes, toenemend tot “maar net” hierdie of daardie blinde natuurwet gereduseer word – die verskynsel van sogenaamde “nothing-but-ism”. En as die reëlmatighede in die werklikheid as die enigste en laaste waarheid gesien word – ’n stel absolute wette – is die gevolg dat die mens self ontmenslik word, gestroop van ’n vrye wil, van verantwoordelikheid en aanspreeklikheid, van mens wees voor die aangesig van ’n God wat in die wêreld handel. C.S. Lewis noem dit “the abolition of man”, die afskaffing van die mens. So lyk dit wanneer ’n blinde, onpersoonlike werklikheid tot die grond van ons bestaan verhef word.

Sommige mense verabsoluteer weer politieke of kulturele werklikhede tot die status van ’n uiteindelike allesbepaler – die ras, die volk, die party, die staat, die liberale demokrasie of die komende klaslose utopie.

In reaksie hierop, en op die ander voorbeelde wat ek genoem het, ontken sommiges weer dat daar enige waarheid buite ons denke bestaan, en verklaar hulle dat dit óns is wat die werklikheid met ons taal en denke konstrueer, dit maak wat dit is. Die geskiedenis, maatstawwe van reg en verkeerd, die ganse werklikheid is dan wat ook al ons mense sê dit is. Soos een filosoof dit stel: “Die waarheid is dit waarmee jou eweknieë jou laat wegkom.” In hierdie soort beskouing is dit menslike kreatiwiteit, die menslike spel met gedagtes, die mens se wil tot mag (om nog ’n filosoof aan te haal), wat uiteindelik bepaal hoe die wêreld daaruitsien. Die mens hoef net met homself rekening te hou.

In die tyd van die vroeë kerk, toe die Johannes-evangelie geskryf is, is daar, sowel in die Joodse as in die Grieks-Romeinse kultuur, ook verskillende antwoorde gegee op die vraag na die hoogste waarheid oor ons lewe.

As ’n mens ’n Jood sou vra waarop ’n mens uiteindelik kan reken, en waarmee jy bo alles rekening moet hou, sou hy of sy bes moontlik na die “Woord” van God, die dabar in Hebreeus, verwys het. Daarby is dan eerstens aan die sogenaamde wet van Moses, die Torah, die eerste vyf boeke van die Hebreeuse Bybel, verwys. Dit is deur ou Israel, en deur die Jode van Jesus se tyd, nie net as ’n stel voorskrifte gesien nie, maar as ’n Goddelike krag wat in die wêreld werksaam is. Die weg na die lewe, so is geglo, loop deur gehoorsaamheid aan die Torah, maar ’n gemeenskap wat hom nie aan dié wet steur nie, stuur op die dood af.

Wanneer Israel die Woord in die Torah verontagsaam het, het daardie Woord hom kragtig laat geld deur die profete. “Die Woord van die Here het gekom tot …” so en so, word dikwels van ’n profeet gesê. Of die profeet verklaar self: “So sê die Here …” Die Woord kan dus verskillende vorme aanneem. Wanneer die volk van God nie meer daarna wil luister nie, laat die Woord homself nie onbetuig nie, en neem Hy as ’t ware besit van mense deur hulle te laat profeteer. Profete bring nie net onheilsboodskappe nie, maar ook die vooruitsig op ’n herstelde gemeenskap met God nadat die oordeel voltrek is.

Dit gaan dan, nogmaals, nie net om aankondiging, om die uitspreek van ’n woord, nie, maar om ’n Woord wat die profetiese aankondiging ook waar máák, wat dit laat gebeur. Dis asof God deur sy Woord die wêreld telkens weer in ooreenstemming met daardie einste Woord bring, dit daaraan onderwerp. ’n Wyse mens, ’n realis wat die lewe verstaan, is dan ook een wat hom “hou aan God se Woord”, hom daarin “verlustig” en dit “dag en nag oordink”, soos die Psalmdigter dit stel.

In die wysheidsliteratuur, veral in die boek Spreuke, word die Woord weer met wysheid, insig en begrip in verband gebring. Daar is, volgens hierdie siening, ’n ordening van die werklikheid – lewenswette, sou ’n mens kan sê – waarop ’n verstandige mens ag sal slaan, maar wat deur die dwaas verontagsaam word. Deel van hierdie wysheid kan deur wyse mense ontdek word deurdat hulle die wêreld om hulle, die mense, diere en plante, dophou en deur meer ervare mense onderrig word. Die diepste wysheid wat gevind kan word – die diepste verstaan van wat uiteindelik die goeie lewe bepaal – is egter die ontdekking dat God die gewer van wysheid is.

Die Woord as wysheid word soms as iets persoonliks, byvoorbeeld as “Vrou Wysheid”, voorgestel. Of as God se handlanger by die Skepping, om daarmee te kenne te gee dat die wysheid as ’t ware in die skepping ingebou is, en dat die werklikheid daarom net reg verstaan word as met die wysheid van God rekening gehou word. Hierdie gedagtegang sluit aan by die Skeppingsverhaal in Genesis 1, waar vertel word hoe God deur sy woord alles wat bestaan in aanskyn geroep het.

In die Griekse vertaling van die Ou Testament, wat deur die meeste vroeë Christene gebruik is, word die “Woord” – dabar in Hebreeus – met Logos vertaal. Daarmee word ook ’n brug geslaan na die Griekse denke. Net soos die Hebreeuse dabar, beteken die Griekse Logos nie net woord of taal nie, maar ook rede of verstand. Ten diepste verwys dit na ’n ewige rasionele orde waarop die werklikheid berus, wat selfs meer werklik is as ons gewone sigbare werklikheid. Mense se idees en begrippe, en alle materiële dinge, is eintlik maar dowwe afskynsels van ’n ewige, volmaakte orde van idees, van die Logos.

Al hierdie opvattings oor, en voorstellings van, die Woord, die Logos, sowel van Joodse as van Griekse kant, is in die lug, deel van die algemene kultuur, wanneer die skrywer van die Johannes-evangelie sy boek inlei met die woorde van wat waarskynlik ’n vroeg-Christelike lied was:

“In die begin was die Logos daar, en die Logos was by God, en die Logos was self God. Hy was reeds in die begin by God. Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ’n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie. In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.”

Met hierdie inleidende woorde sou die meeste mense, Jode én nie-Jode, in die tyd van die Johannes-evangelie se ontstaan geen probleme ondervind nie. Wat die Jode betref, is die heel eerste frase, “In die begin …”, reeds geyk; dit kom ooreen met die eerste woorde van die bekende skeppingsverhaal in Genesis 1, die openingswoorde van die Torah. Daar is niks vreemds of verrassends daaraan nie, en niemand sou daarteen aanstoot neem nie.

In die laaste sinnetjie van hierdie inleidende woorde sit egter ’n doelbewuste dubbelsinnigheid opgesluit: Wanneer ons lees die duisternis kon die lig nie “uitdoof” nie, is dit interessant dat die woord wat met “uitdoof” vertaal word ook “herken” of “begryp” kan beteken: “Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie herken nie.”

Hiermee word die minder vanselfsprekende gedeelte wat volg eintlik al subtiel gesuggereer:

“Die ware lig wat elke mens verlig, was aan kom na die wêreld toe. Hy wás in die wêreld – die wêreld het deur Hom tot stand gekom – en tog het die wêreld Hom nie erken nie. Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie … Hom nie aangeneem nie.”

By die aanhoor van hierdie woorde sou die meeste Jode én nie-Jode tog hul ore begin spits. Dat die Woord, die Logos, van die begin af “in die wêreld” was – dis nie ’n nuwe gedagte nie. Maar dat, benewens hierdie ewige en vanselfsprekende daarwees, die Logos “na sy eiendom toe gekom het” – dat hy op die een of ander manier sedertdien nog meer daar is as wat hy vroeër was – is minder vanselfsprekend. En dat “sy eie” Hom nie “erken” of “aangeneem” het nie, klink, om die minste te sê, vreemd. Wat word met hierdie woorde bedoel?

Lees ons verder, hoor ons dat dit hier oor ’n mens gaan: “Die Logos het mens geword en onder ons kom woon.” Die ou vertaling praat hier van “vlees geword”, en dit is ook die bedoeling van hierdie uitdrukking om te beklemtoon dat dit hier om ’n mens van vlees en bloed gaan, ’n mens soos ons. Dit word verder onderstreep deur die uitdrukking wat hier met “onder ons kom woon” vertaal is – letterlik: “sy tent onder ons kom opslaan”. Stel jou dit voor: die ewige woord, die wet en wysheid van God, die bestaansgrondslag van die heelal, het as ’n mens sy tentjie hier kom opslaan!

Terselfdertyd word met hierdie uitdrukking ’n bykomende, spesifiek Joodse motief opgeneem: die Tent van Ontmoeting, die Tabernakel, wat tydens die Israeliete se woestynjare as hul tempel gedien het, die tent wat later deur die tempel in Jerusalem vervang is, die plek waar God op ’n besondere manier tussen sy mense teenwoordig is, waar sy heilige teenwoordigheid, sy sjekina – ’n Hebreeuse term waarop die Griekse woord vir “tent” in hierdie teks sinspeel – ervaar kan word. Die vlees en bloed van ’n mens, word hier gesuggereer, het die tempel, die woonplek, van God onder die mense, die tent van ontmoeting, geword.

Daarom die woorde wat volg: “Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.”

Na wie word hier verwys? sou die destydse hoorders dalk wonder. “Seun van God” het vir die Jode na koning David en sy nageslag verwys – so is die konings van Israel in die Ou Testament benoem. En in die Romeinse Ryk van daardie tyd is ’n keiser soos Augustus ook “Seun van God” genoem (en boonop “Here” en “God uit God”). Tussen die Joodse en die Griekse gebruik van hierdie metafoor kom iets tot uiting van ’n magtige heerser wat God op aarde verteenwoordig, en selfs Goddelik genoem kan word. En is dat nie wat ons sal verwag as die ongehoorde sou gebeur, as die ewige Logos in menslike vorm sou verskyn, nie? ’n Man van naam, ’n koning of keiser, iemand met rykdom, mag en aansien, die soort mens voor wie ander spontaan buig, selfs kruip, iemand met die mistiek en sigbare heerlikheid of glorie van roem en aansien.

Ja, tot vandag toe is dit die soort mense wat verheerlik en vereer, nageboots en gevly, word. Hoor maar hoe smag mense na “’n sterk leier”. Kyk maar hoe groot is ons bewondering vir mense met mag, roem en rykdom, ja, hoe aanbid ons sulke idols, sulke “ikone”.

Maar die mens waarna hierdie vroeg-Christelike himne verwys, is nie só ’n mens nie – en dis waar die eintlike verrassing in hierdie teks lê:

“Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang. God het die wet deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom. Niemand het God ooit gesien nie. Sy enigste Seun, self God, wat die naaste aan die Vader is, dié het Hom bekend gemaak.”

Die vleesgeworde Woord, die Logos in ons midde, die lig wat die duisternis verdryf, die een wat in sy persoon die tent van ontmoeting is, waarin die heerlikheid, genade en waarheid van God woon, die Christus, die Gesalfde, die Messias, die wysheid waardeur die wêreld bestaan, die Seun van God, is nie die Romeinse keiser of ’n nuwe Joodse koning op die troon in Jerusalem nie – is nie ’n mens met geld, mag en roem nie – maar is Jesus van Nasaret, die babatjie van eenvoudige ouers vir wie daar nie plek in die herberg was nie, wat by sy geboorte in ’n krip neergelê is, wat uit ’n obskure plattelandse streek in ’n vergete uithoek van die magtige Romeinse ryk kom, wat, in sy eie woorde, nie ’n plek gehad het om sy kop neer te lê nie, wat hom in woord en daad met tollenaars, prostitute, onreines en ander uitgeworpenes vereenselwig het, wat, in die woorde van Fillipense 1:7 “die gestalte van ’n slaaf aangeneem” het, en hom “verneder het tot die dood, ja, die dood aan ’n kruis”. Ja, deur die leiers van sy eie mense is hy as ’n verworpe Godslasteraar verwerp, en deur die keiser se verteenwoordiger as ’n oproermaker, ’n rebel, ’n gevaar vir die goeie orde, ter dood veroordeel. Van hierdie mens word gesê dat Hy die Logos, die Woord, is wat vlees geword, en onder ons kom woon, het.

Die verrassing lê nie daarin dat oor die Logos gepraat word nie. Dit lê selfs nie soseer in die bewering dat die Woord, die wysheid, van God ’n mens geword het nie. Nee, die verrassing van hierdie teks, die verrassing van Kersfees, lê daarin dat hierdie dinge van ’n mens soos Jesus gesê word.

Soos enige goeie gedig, gebruik hierdie teks bekende, selfs afgesaagde, oorgebruikte woorde en begrippe op ’n verrassende, ongewone manier om sodoende die aannames, verwagtings en waardes wat gewoonlik deur daardie woorde opgeroep word, onderstebo te keer: Woorde soos “Logos”, “Seun van God”, “Christus”, “Here” en “Koning” kan daarna nooit meer dieselfde beteken nie, want dit wat skynbaar swak en onaansienlik is, is op ’n vreemde manier magtiger en heerliker as dit wat vir ons glorieryk en sterk voorkom. Dit waarop ons in die laaste instansie kan reken, en waarmee ons uiteindelik moet rekening hou – om by ons oorspronklike vraag terug te kom – is nie die politieke mag van keisers en konings, die mag van die staat, nie; nie die wette van die ekonomie, die geskiedenis of die natuur nie; nie die krag van roem, rykdom en aansien nie; maar die genade en waarheid, die heerlikheid, van ’n onaansienlike mens, ’n oënskynlike mislukkeling wat ’n vroeë, skandelike dood gesterf het, maar wat sy lewe daaraan gewy het om ’n mensliewende God te beliggaam.

Christene hou daarvan om te sê: “Jesus is koning”, “Jesus is Lord”, en dergelike lofuitinge. As ons maar net onthou dat die klem daarby nie op die laaste woord nie, maar op die eerste, moet val: nie “Jesus is koning” en “Jesus is Lord”, asof Jesus maar net nog ’n magtige tiran, nog ’n populêre politikus, nog ’n idol of ikoon is, nie, maar eerder: “Jesus is koning” en “Jesus is Lord”. Ja, en Jesus is die Logos, die Seun van God, die werklikheid waarop ons kan reken, en met wie ons rekening moet hou, as ons realisties oor die lewe wil wees. Dit beteken: die keiser is dit nie, die staat is dit nie, die aandelebeurs is dit nie, die ras of volk is dit nie, ons eie slimheid, woordvaardigheid en vernuf is dit nie, selfs die wette van die natuur is dit nie – en dít is juis die goeie nuus van Kersfees, van die Woord wat mens geword het.

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.