Jy blaai in die argief vir 2009 Desember.

Daar is net een ekonomie

Desember 16, 2009 in Sonder kategorie

(Hieronder volg my jongste skrywe vir die Kerkbode, wat aanlyn verskyn het omdat daar nie vandeesmaand ‘n gedrukte uitgawe verskyn nie.)

“(It’s) the economy, stupid!” Só het een van die slagspreuke in Bill Clinton se suksesvolle veldtog in die Amerikaanse presidentsverkiesing van 1992 gelui. Die suggestie was dat Clinton se teenstander, George Bush sr., vir die land se ekonomiese probleme verantwoordelik was, maar nog ’n rede vir die slagspreuk se populariteit – dit word vandag nog in allerlei vorme en verbande gebruik – was die dieper boodskap daarin: dat enige intelligente mens, enigiemand wat nie ’n “domkop” is nie, tog weet dat die ekonomie alles bepaal. Wie die ekonomie verstaan, verstaan alles.

 

In die Christelike geloofstradisie is die woord “ekonomie” (Grieks: oikonomia), wat oorspronklik iets soos “huishouding” beteken het, ook bekend. Die kerkvader Irenaeus het die begrip “heilsekonomie” vir God se heilsame sorg vir, en bestuur van, die skepping gebruik. Die leer van die drieëenheid neem dan ook sy vertrekpunt in die “ekonomiese (‘huishoudelike’) triniteit” – die eenheid en drievoudigheid wat van God se handelinge as Vader, Seun en Gees in die heilsgeskiedenis afgelees kan word. (Die “immanente triniteit” beteken bloot dat God in sigself nie anders as dit is nie.)

 

’n Verwante woord is “ekumene” – die (soeke na) eenheid en samehorigheid in die diverse kerk – op grond van die insig dat daar in die een God se huishouding, ondanks die “baie wonings”, net vir een kerk plek is – die ekumene as uitvloeisel van die Goddelike ekonomie.

 

’n Tema wat die laaste tyd sterk op die kerke se agenda kom, is die ekologie, nog ’n verwante woord en saak. Dink maar aan die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke se Climate Change – A Challenge to the Churches in South Africa, wat onlangs verskyn het en waarin nuwe perspektiewe op die ekologiese krisis ontsluit word juis deur die ekosisteem vanuit die heilsekonomie te bekyk: vanuit God as Skepper, Redder en Vernuwer.

 

“Ekonomies”, weet ons, kan ook “spaarsamig” beteken. Hierdie begrip maak eweneens deel van die Christelike taal uit – nie net wanneer, in reaksie op ekologiese en verwante finansiële vraagstukke, Gereformeerdes en ander Christene oor deugde soos soberheid en eenvoud, en sondes soos vermorsing, gierigheid en vertoon, nadink nie, maar ook wat die spreke oor God self betref – soos wanneer die teoloog Maurice Wiles die maatstaf van “economy” as noodsaaklike teenvoeter vir “imaginative expansiveness” in die teologie aanbeveel, en daarop wys dat dit ook die “pruning of some luxuriant growths” ter wille van “healthy future growth” behels.

 

In dié Adventstyd is dit dalk goed om weer oor Charles Dickens se klassieke novelle A Christmas Carol (1843) na te dink. Die les wat die hoofkarakter, die suinige en hartvogtige ou Ebenezer Scrooge, daarin moet leer, is niks anders nie as die Kersboodskap: dat daar ’n ander soort boekhouding, ’n ander soort rykdom en armoede, ’n ander soort ekonomie, is as die een wat Scrooge se sakemanslewe oorheers – een waarin mense, en die verhoudings tussen hulle, oneindig meer tel as wins en produktiwiteit.

 

Reeds vanaf Dickens se tyd is die betekenis van “ekonomie” stelselmatig verskraal, totdat dit vandag ’n byna uitsluitlik monitêre strekking het. Hoe arm het ons nie geword nie!

 

Nie dat dit wat vandag “ekonomie” heet – markte en hul dinge – niks met die heilsekonomie te doen het nie. Daar is uiteindelik net een ekonomie, God se huishouding, waarbinne ook die wêreld van geld en goed aan ’n genadiger heerskappy onderwerp word. Om dit mis te kyk – om te glo dis geld wat die aarde laat draai – is die opperste dwaasheid. Daarom kan, waar God se wysheid hierdie dwaasheid deurbreuk, en ons verras en verbyster (soos met Scrooge gebeur het), die evangelie ook dié verklaring aanbied (maar in ’n nuwe, blye betekenis): “Dis die ekonomie, domkop!”

 

(Klik hier vir my gedig “Aflegging”, waarin die Goddelike ekonomie ook aan die orde kom.)

 

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Die Kaapstad-stadion: net wins of aanwins?

Desember 10, 2009 in Sonder kategorie

En daar lê die ding … Dis nou die nuwe Kaapstad-stadion. En al die ander 2010-stadions. Ek het nog nie mooi gaan kyk nie (as Transvaler het ek vroeër jare altyd gespot oor die sogenaamde Druiwegordyn; deesdae word ek self kennelik daardeur ingeperk en ontdek ek dat dit nie net die suide van die noorde skei nie, maar ook die Bolandse binneland van die stad …), maar so ’n groot bouwerk het altyd ’n impak op die landskap, op die atmosfeer van ’n plek, op die lewenswyse, die kultuur, die ekonomie, noem maar op. In die jongste miniseminaar het LitNet drie mense met ’n aanvoeling vir argitektuur en estetika – Hannes Meiring, Melvyn Minnaar en Marilyn Martin – gevra wat hulle van die Kaapstad-stadion dink. Klik op hulle name en lees, en kom gesels dan hier saam verder – ook oor die ander nuwe stadions in die land.

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Ernst Conradie skryf oor Darwin, Calvyn, evolusie en geloof

Desember 4, 2009 in Sonder kategorie

“Die viering vanjaar van die geboorte van Johannes Calvyn (1509-1564) val saam met dié van Charles Darwin (1808-1881). Terselfdertyd word die publikasie van Calvyn se Institusie van die Christelike godsdiens (1559) saam met dié van Darwin se The origin of species (1859) herdenk. Maar wat het Christelike geloof nou eintlik met evolusie te make? En Calvyn met Darwin? …”

Só begin Ernst Conradie se (myns insiens baie insiggewende) nuwe essay, “Evolusie en Christelike geloof – wat is die vraag nou eintlik?”, in die LitNet-Seminaarkamer. Lees dit en gesels dan hieronder daaroor saam.

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Brood en sirkusse – vir wie?

Desember 3, 2009 in Sonder kategorie

In my jongste Brandpunte-rubriek in die Nederlandse Maandblad Zuid-Afrika probeer ek antwoord op die vraag: “Het Suid-Afrikaners al ‘n toerismementaliteit ontwikkel?” Klik hier om dit te lees, en gesels hieronder saam.

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.