Jy blaai in die argief vir 2009 November.

Hoe vind ek ‘n God wat oordeel?

November 6, 2009 in Sonder kategorie

(Die eerste aflewering van my nuwe “Geeste”-rubriek in die Kerkbode het pas verskyn. Lees dit hier.)

Christene praat nie meer oor Gods oordeel nie. Dit word nie soseer verwerp nie; eerder verwaarloos, stilgeswyg, vergeet. Of slegs op “hulle” toegepas.

Só lyk die diagnose van die Switserse teoloog Matthias Zeindler in sy nuwe boek, Gott der Richter (God die regter). Dis ’n fout, reken Zeindler, want hoe vreemd dit ook mag klink: ons het behoefte aan ’n God wat oordeel.

Om dit te illustreer roep Zeindler die moderne literatuur as getuie – onder meer’n gedig deur sy landgenoot Kurt Marti (my vertaling):

Dit sou baie here dalk pas

as met die dood alles vereffen

die heerskap van die here

die knegskap van die knegte

bevestig sou word vir altyd

dit sou baie here dalk pas

as hulle in ewigheid

here sou bly in ’n duur private graf

en hul knegte

knegte in goedkoop grafte in ’n ry

maar daar kom ’n opstanding

wat anders gans anders is as wat ons dag

daar kom ’n opstanding wat is

die opstand van god teen die here

en teen die heer van alle here: die dood

 

Die uitsig op só ’n opstand(ing), sê Zeindler, is goeie nuus, nie net vir knegte nie, maar ook vir here (en dames!), want ook hulle is aan ’n heerskappy onderworpe – van die dood, wat hul identiteit permanent in die ontmenslikende heer-kneg-verhouding wil vasmessel. Die dood is nie die groot gelykmaker nie!

Is dit dalk die hoop, nie op die “opstanding van die vlees” nie, maar op “grondig vergaan” (soos ’n Elisabeth Eybers-gedig dit stel), wat wensdenkery is? (“dié geleentheid / bied hom slegs een keer in ‘n leeftyd,” spot Eybers in ’n ander doodsgedig!) Op so ’n “goedkoop genade” (Bonhoeffer) durf ons nie reken nie, wil Marti se gedig sê; “daar kom ’n opstanding” wat oordeel oor, én bevry van, ons berusting by heer Dood se uitspraak. Sodat ons met Dylan Thomas kan sê: “Rage, rage against the dying of the light.” Of met Johanna Nurse Malobola (in Antjie Krog se vertaling): “dood, … as ek jou van agter kan neertrek soos ’n leeu / en jou wurg aan die keel / as ek jou met my voete in die grond in kan spring …”

Dáárom, sê ’n David Bosch-boektitel, is die evangelie Goeie nuus vir armes … en rykes.

Wie hul ore vir die oordeel sluit, kan ook die vryspraak nie hoor nie. Aan die kruis, verduidelik nog ’n Switserse teoloog, Karl Barth, is God se oordeel oor die mense nie afgeweer nie, maar voltrek – dáárin lê ons verlossing. Daar is troos in die wete dat niks vir God verborge is nie, dat ons geoordeel, en só van illusies en selfgeregtigheid bevry, kan word. Oordeel is nie teendeel nie, maar onderdeel, van God se genade.

Sowel in Die dieper reg as in Liberale nasionalisme ontwikkel N.P. van Wyk Louw die gedagte dat die voortbestaan van ’n volk, as dit nie “voortbestaan in geregtigheid” is nie, ’n oordeel van sy eie inhou: dat so ’n volk iets afstootliks, ook vir homself, word, en daarmee die wil verloor om te bestaan. Die sondes van die vaders, sou André du Toit dit later noem …

En vandag?

As jy jou Christus wil laat noem,

moet jou nabootsing oortuig.

As jy wil wys God is aan jou kant,

moet jy jou slim posisioneer.

As jy op die Grondwet wil neerkyk,

moet jy ‘n sierlike hemelvaart kan uitvoer.

As jy wil koningkraai tot Jesus kom,

is jou ambisie min:

Soos ’n dief in die nag

het hy jou onder jou neus

kaal uitgetrek,

sonder om te bluf,

deur net te is wat hy is.

Kan jy hom dít nadoen?

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na [email protected] om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Ja vir nuwe uitsaaiwetsontwerp

November 2, 2009 in Sonder kategorie

Indien ’n nuwe wetsontwerp aanvaar word, sal die finansiering van die SAUK nie meer deur TV-lisensies nie, maar deur ’n stewige toevoeging aan ons belasting, geskied. As dit ook beteken dat die openbare uitsaaier voortaan volledig deur die staat gefinansier word – met ander woorde, dat afgesien word van die huidige gemengde model waarvolgens die SAUK ’n groot deel (tans die grootste deel) van sy koste uit advertensiegelde moet delg, steun ek dié voorstel heelhartig, want eers dan sal ons ’n egter openbare uitsaaier kan hê.

Markfundamentaliste sal die teenoorgestelde voorstel: dat die SAUK geprivatiseer word en dan, soos enige kommersiële uitsaaier, sy eie gelde genereer. So kan staatsuitgawes verminder, en belasting verlaag, word (die hoogste goed vir die markfundamentalis), en sal ’n beter diens aan die publiek gelewer word (vraag en aanbod synde die “onsigbare hand” in wie se goedgunstige voorsienigheid markfundamentaliste hul vertroue stel). Ek is egter nie ’n markfundamentalis nie.

Uit ’n andersoortige hoek kan die beswaar dalk kom dat die SAUK se gedeeltelike afhanklikheid van advertensiegelde help om politieke onafhanklikheid te verseker. Sal ’n uitsaaier wat uitsluitlik van die staat afhanklik is vir sy finansiering nie slegs na daardie meester se pype dans nie? Bring die afhanklikheid van ’n tweede heer (ene Mammon) nie die nodige balans nie? Ek is nie so seker nie. Solank kommersiële uitsaaiers steeds toegelaat word om, naas die openbare uitsaaier, hul ding te doen – en veral om ook nuus te verskaf – sal meerdere stemme steeds gehoor word en sal daar grense wees aan hoe ver die openbare uitsaaier kan gaan met propagandistiese steun aan die partylyn.

Dit sal natuurlik ook help as die wetgewing tegelykertyd aangepas word om die onafhanklikheid van die SAUK-raad te versterk. Maar afgesien daarvan is dit nou maar eenmaal so dat geen openbare instelling se onafhanklikheid uitsluitlik van wetgewing en strukture afhang nie, maar ten minste ook deels van die optrede van diegene wat die instelling bestuur. Met verwysing na die regbank as ’n instelling wat veronderstel is om onafhanklik te wees, het regter Kriegler ’n keer aan pres. Brand van die Vrystaatse Republiek (geen verwantskap nie) se bekende uitlating herinner, spesifiek die woorde wat volg op “Alles sal regkom”, naamlik: “mits elkeen sy plig doen”.

Verder is dit buitendien twyfelagtig of die vrye mark noodwendig so ’n ideale heer is om, naas die staat, lojaliteit mee te deel.

Hoekom is ’n openbare uitsaaier nodig? Omdat daar ’n uitsaaier moet wees wat dinge kan uitsaai wat nie noodwendig kommersieel geregverdig kan word nie. Wanneer ’n egte openbare uitsaaier sy aanbod beplan, is sy belangrikste vraag nie “Wat wil die meeste kykers sien?” nie, maar eerder: “Watter soort inhoud sal ’n waardevolle diens aan die samelewing lewer?” Dit gaan dan nie net oor die inhoud (meer kwaliteitprogramme) nie, maar ook oor balans (’n verskeidenheid stemme en belangegroepe), ontwikkeling (meer plaaslike inhoud) en Grondwetlike prioriteite (gelykberegtiging van al die amptelike tale, byvoorbeeld). Die najaag van hierdie soort doelwitte kan eenvoudig nie op ’n winsgewende (en nog minder op ’n winsmaksimaliserende) grondslag gedoen word nie.

’n Ironie van die meer sosialistiese benadering tot ’n openbare uitsaaidiens wat ek verdedig, is dat dit op die langer termyn ook ekonomiese groei help stimuleer, al is dit nie die primêre doelwit daarmee nie. Immers, waar ’n vraag vir kwaliteit- inheemse inhoud in ’n verskeidenheid tale deur die staat geskep word, ontstaan nuwe markte en nuwe industrieë, wat op hul beurt nuwe kundigheid, ervaring en kreatiwiteit genereer.

Nog iets: Ek hoop dat, onder die nuwe benadering, die staat ook sal toesien dat sportuitsendings uit die gulsige hande van private uitsaaiers geneem, en aan die breë publiek teruggegee, sal word. As dit beteken dat professionele sport ook in gedrang kan kom …

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na [email protected] om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.