Joodse praatjies

November 26, 2009 in Sonder kategorie

(Hieronder volg die jongste aflewering van my tweeweeklikse Geeste-rubriek in die Kerkbode.)

Miskien die radikaalste politieke gedig wat die laaste aantal jare geskryf is, is die lirieke van Leonard Cohen se lied “Democracy”, met as herhalende refrein: “Democracy is coming to the USA.” Radikaal, omdat dit suggereer dat die VSA nog demokraties moet word. Is Amerika dan nie die inkarnasie van demokrasie nie?

Cohen – wat in sy gedigte en lirieke met diep teue uit sy Joodse tradisie put – se aankondiging van die goeie-nuus-met-’n-snykant, dat demokrasie op pad is, herinner aan die opsomming van Jesus se verkondiging in Markus 2: “Die tyd het aangebreek en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie!” Evangelie ja, ’n blye tyding, maar nie iets waarvoor die maghebbers van die Romeinse Ryk, of hul meelopers onder die elite van die onderworpe Jode in Jesus se tyd, sou hande klap nie. Wil hierdie Jood dan suggereer dat die Pax Romana, die Vrede van Rome, nie ware vrede is nie?

Die Joodse wysgeer Jacques Derrida het mos gesê demokrasie is altyd aan die kom (en dus nooit reeds met ons nie). So ook Romand Coles in sy Beyond Gated Politics[1]: “democracy is democratization.” Solank as wat mense, individueel en gemeenskaplik, se inspraak in besluite wat hulle raak nog uitgebrei kan word, bly demokrasie iets wat nog moet, en kán, gebeur. Om op die tekortkomings in die bestaande orde te wys is nie om “negatief” te wees nie, maar om die droom lewend te hou.

Soos Cohen dit in ’n ander lied stel: “There’s a crack in everything. / That’s how the light gets in.” Wanneer die krake toegepleister word, word dit donker. Wat is ideologie (in slegte sin) anders as om voor te gee dat daar geen krake meer is nie: “die einde van die geskiedenis”, “die 1000-jarige ryk”, “die Volksrepubliek van …”, of daardie berugte afgod genaamd TINA (“there is no alternative”)? Karl Marx (ook ’n Jood) het dit “vals bewussyn” genoem. Wanneer dit heers, moet digters soos Cohen ons herinner aan wat ons ten diepste weet: “Everybody knows that the boat is leaking, / everybody knows that the captain lied.”

Dis hoekom die eskatologie – die leer van die “laaste dinge” – so belangrik vir die Christelike geloof is: omdat dit ons herinner dat hoe dinge nou is, nie is hoe dit m?ét wees, of vir altyd sál wees, nie. Soos Bob Dylan (nogmaals ’n Jood) in “Franky Lee and Judas Priest” vermaan: “Dont go mistaking paradise for that home across the road.” In Lukas 17:22-23 waarsku Jesus immers: “Hulle sal wel vir julle sê: ‘Kyk, daar is Hy!’ of: ‘Kyk, hier is hy!’ Maar moenie gaan nie en moenie agter hulle aanhardloop nie!” Teoloë noem dit die “eskatologiese voorbehoud”.

Christene glo nie aan vooruitgang nie – ten minste nie as ’n omvattende proses waarin die wêreld al hoe beter word nie. Die rede hiervoor is dat die hoogtepunt van die geskiedenis, volgens die evangelie, in die verlede lê: in die lewe, dood en opstanding van Jesus Christus. In hom het die “laaste dinge” reeds gekom; daarom sal diegene wat die oog op hom gevestig hou nooit deur absolute aansprake oor betreklike dinge mislei word nie – ons weet hoe die “oorspronklike” daaruitsien!

Daarom sien ons die namaaksels vir wat dit is. Sien ons die krake.

Eskatologie is nie wensdenkery nie; dit maak juis realisme moontlik. En wie regtig glo dat (soos Adrio König se bekende boek heet) Jesus die Laaste (oorspronklik Jesus die Eskatos) is, sal self ook, saam met ander realiste, iets van die lig deur die krake begin weerspieël.

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na [email protected] om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.


[1] Aangehaal in Coles en Stanley Hauerwas se Christianity, Democracy, and the Radical Ordinary.

18 antwoorde op Joodse praatjies

  1. Ek vra net, sluit die eskatologie ook wetenskap in of wat?
    Indien wel, is daar ‘n onderskeid tussen die biologiese en fisiese wetenskappe?

  2. Jip! Niemand of niks ontsnap dit nie …

    Histories gesien, kan ‘n sterk saak daarvoor uitgemaak word dat die moderne wetenskap aan die uitsig op die eskatos te danke is. Immers, in die voor-Christelike denke (Plato, Aristoteles) was die werklikheid noodsaaklik soos dit is. Onder die invloed van die Christelike denke het die oortuiging posgevat dat, aangesien die werklikheid deur ‘n vrye aktor geskape is, en aangesien daar van ‘n eskatologiese herskepping sprake is, niks hoef te wees soos dit is nie. Die werklikheid is kontingent. Dit beteken as jy wil weet hoe dit in mekaar sit, kan jy dit nie slegs met logika uitdink (soos Plato en Aristoteles gedink het nie), maar moet jy gaan kyk. Siedaar, die geboorte van die empiriese, eksperimentele metode!

  3. gcv het gesê op November 26, 2009

    Ek is geen teoloog nie, en gaan geen aanspraak maak op diepere kennis van eskatologie en ander teologiese redenasies nie. Nogtans wonder ek maar net oor sommige stellings soos “Christene glo nie aan vooruitgang nie…”; “ons weet hoe die “oorspronklike” daaruitsien!..” Is alles wat ons “weet” as Christene nie maar gebaseer op menslike interpretasie nie? En beteken dit nie dat as ons regtig wil “weet”, ons empiries eksperimenteel moet kan ondersoek nie?

    (Of is dit dalk ‘n kwessie van TINA?)

  4. Jy vra: “Is alles wat ons ‘weet’ as Christene nie maar gebaseer op menslike interpretasie nie?” Beslis. So ook alles wat ons “weet” as mense, Christene of te not. Dit sluit wat ons op grond van empiriese navorsing weet ook in, omdat sulke navorsing altyd ook op sekere aannames berus (soos dat dit wat ons waarneem onafhanklik van ons waarneming bestaan), wat self nie vir empiriese ondersoek vatbaar is nie. Kortom: alle kennis is geinterpreteerde kennis. Wie dit ontken, mislei homself. Wie dit besef, kan ten minste bewustelik verantwoordelikheid aanvaar vir die raamwerk van waaruit hy sy ervarings interpreteer.

    ‘n Kwessie van TINA? Nee, juis nie. Daar is (deterministiese) interpretasies van wetenskaplike bevindings wat op TINA-aanbidding neerkom, maar uiteindelik ondermyn dit die sinvolheid van die wetenskap self (kyk my antwoord op Nefertiti hieronder). In die lewensbeskoulike tradisie van waaruit ek oor dinge probeer nadink, is dit eintlik die hele punt dat TINA altyd, in welke konteks dan ook, ‘n valse god is. (Ek hoop nie wat ek hier skryf, is te kripties nie!)

  5. Dit was nou lekker om te lees.

  6. En dis lekker om te hoor!

  7. Weereens glashelder geskryf.

  8. Nou ja, Bob Dylan is net soveel Christen as Jood, en Leonard Cohen put baie uit die Christelike tradisie. Ek sou in elk geval die Judaisme en die Christendom nie alte sterk teen mekaar afspeel nie. Een voorbeeld: ‘n Britse teoloog vertel dat sy Joodse vriend, ‘n rabbi, eenkeer vir hom gese het hy glo nie in die inkarnasie (vleeswording) nie, maar is bereid om toe te gee dat Jesus God beliggaam (“embody”). Maar “inkarnasie” beteken niks anders nie! Die Jode herinner die Christene dat, al het die koninkryk in Christus gekom, moet dit ook nog kom. En die Christene herinner die Jode dat, al moet die koninkryk nog kom, het dit ook reeds gekom.

    Ook demo- en teokrasie sou ek nie teen mekaar afspeel nie. Die heerskappy van God bestaan juis daarin dat mense tot hul reg kom. Die gebruik van die begrip “koning” vir God/Jesus is doelbewus paradoksaal: Die koning is die dienskneg. God se mag is nie ‘n mag ten koste van mense se mag nie, maar die soort mag wat mense bemagtig. Dalk sou mens selfs kon se dat teokrasie niks anders sal wees nie as volmaakte demokrasie? (In die Bybel is die gedagte dat die gelowiges ook “konings” is wat oor die skepping moet “heers” immers ‘n sterk tema.)

  9. Bly jy vind dit helder. Ek is altyd bang dis te kripties.

  10. Dié het my al heeldag aan die dink! Briljant!

  11. Ja, die Joodse denkers is dikwels briljant …

  12. Ek sien …

  13. gcv het gesê op November 27, 2009

    Net terloops – Oom Leonard is sedert die 70’s betrokke by Zen-Bhuddisme en eindelik in 1996 as monnik aanvaar.

  14. Dit maak hom nie minder Jood nie. Ek het baie waardering vir die Bhoeddisme as praktyk.

  15. Jou eskatologie, klink maar skatologies…

  16. JC het dalk ge-inkarneer, maar iemand soos Boeddha bv het ge-re-inkarneer, maw, bewustelik teruggekom met ‘n doel…Tibetaanse lammas doen dit nou nog, so bv die Sestiende Dalai Lama, hulle is die dapper reisigers wat weer en weer terug re-inkarneer van oorkant uit die dood uit, om alle lewende wesens te red…so is daar ook ‘n Boeddha in die Hel…maar die wetenskap is nog effe te stadig om op te vang met Boeddhisme…ons wag geduldig…

  17. Die wetenskap kan net so min “opvang” met Bhuddisme as wat Bhuddisme met die wetenskap, of waterballet met krieket, kan “opvang”.

  18. Ek is seker die twee woorde het ‘n gedeelde oorsprong, waarskynlik iets met ‘n eindpunt te doen. Nog nooit voorheen daaraan gedink nie!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.