Is geweld teen mans dan OK?

November 25, 2009 in Sonder kategorie

Die 16 Dae van Aktivisme teen Geweld teen Vroue en Kinders het weer begin. Dis goed dat hierop gefokus word (hoewel ek skepties is oor “aktivisme” met staatsteun). Daar is immers Suid-Afrikaners, mans én vroue, wat dink geweld teen vroue en kinders is aanvaarbaar, selfs noodsaaklik as deel van “dissipline”. Ons woon in ’n patriargale en gewelddadige samelewing. Bewusmaking is noodsaaklik.

Maar iets val my deesdae op: Ons is nie ewe besorg oor geweld teen mans nie. Word dit aanvaarbaarder geag as geweld teen vroue en kinders? Hoekom? Soos Shylock, as Jood, in Shakespeare se The Merchant of Venice, kan mans dalk vra: “If you prick us, do we not bleed? If you tickle us, do we not laugh? If you poison us, do we not die?”

Tinyiko Maluleke het ’n tyd gelede, in ’n bloginskrywing met die treffende titel “Dying to be Men”, oor een aspek van hierdie probleem geskryf: die grootskaalse geweld tussen mans onderling. Mans word opgevoed – onder meer deur inisiasie-rites – om hul geslagsidentiteit aan geweld en gevaar te verbind: ’n ware man as iemand wat klappe kan uitdeel én vat, wat nie skroom om sy, of ander, se lewe in gevaar te stel om dié “manlikheid” te bewys nie.

Dis egter nie net mans wat geweld teen mans pleeg nie.

Nie te lank gelede nie kyk ek ’n aflewering van Desperate House Wives – een van daardie frustrerende episodes wat uit ’n terugblik op vorige episodes in die reeks bestaan. Een van die herhalende “temas”, merk ek toe, is die vrou-klap-man-scenario. Dit gebeur in ’n verskeidenheid van verhaalkontekste: man beledig vrou, vrou klap man; man en vrou kry stry, vrou klap man; man het skelmpie, vrou klap man, en so meer. In byna al die gevalle word dit komies uitgebeeld.

Dit het my laat besef hoe algemeen hierdie soort voorstelling in veral die Westerse kultuur is: soos die ou cliché in soveel grappe van die kwaai vroutjie wat haar man, ná ’n laatnag-kuier saam met sy pelle, koekroller in die hand by die voordeur inwag. Vergelyk dit met tonele of vertellings waarin ’n man ’n vrou klap. Sulke tonele word gewoonlik nie komies aangebied nie en dra meestal die boodskap dat die man ’n monster is.

Ek is grootgemaak om te glo (en glo steeds) dat, as ’n man net een keer aan sy vrou of vriendin slaan, of selfs net dreig om dit te doen, daardie vrou summier die verhouding behoort te beëindig. Ek onthou nog hoe geskok ek was toe die kinders (seuns én meisies) in my voorligtingklas in die landelike skool waar ek toe onderwyser was my vra of ’n man dan nooit sy vrou mag slaan nie, en my ongelowig aflag toe ek bevestig dat ek ernstig bedoel dat dit nóóit mag gebeur nie. Dit het my geskok, want in die morele diskoers wat ek met alle liberale middelklas-Suid-Afrikaners (en die vervaardigers van Desperate House Wives) deel, is man-op-vrou-geweld absoluut verbode. Maar wat van vrou-op-man-geweld?

Dink hieraan. Ons lag as ’n man sê: “My vrou slaan my morsdood as ek dit doen.” Maar ons voel kriewelrig as ’n vrou sê: “My man slaan my morsdood …” Geweld op vroue is ’n misdaad, geweld op mans ’n grap.

Ons bewonder ‘n “sterk vrou” wie se man “doodsbang is vir haar”, maar ‘n “sterk man” wat vrees by sy vrou inboesem, word (tereg) op sy beste van “emosionele mishandeling” verdink.

Dit manifesteer ook op die gebied van lyfstraf. Hoewel hierdie vorm van geweld op kinders nog in baie Suid-Afrikaanse huishoudings voorkom, en sowel sosiaal as wetlik geduld word, is dit op skole nou verbode. Ek onthou egter nog mý skooldae, toe seuns mog pak kry, maar meisies nie. Hoe lekker het die “manne” nie gespog met hul letsels nie …

Die denke agter die toleransie van vrou-op-man-geweld is dieselfde as dié wat Maluleke met man-op-man-geweld verbind: Manlikheid beteken – klaarblyklik selfs vir liberale middelklasmans en -vroue – “om ’n pak te kan vat”. Of dit nou jou pa (of ma!) of onderwyser is wat jou slaan, of ’n ander man met wie jy om ’n vroulike “prys” meeding, of ’n lid van die vyandige bende, of ’n speler in die ander rugbyspan, of die voorbokke in jou inisiasie of ontgroening, of jou opponent op die bokskryt, of ja, die vrou in jou lewe wat jou ’n taai klap gee – ’n “ware man” huil nie daaroor nie.

En vroue? Hulle is mos broos, swak en hulpeloos. Daarom is dit verkeerd om aan hulle te slaan. Dis soos geweld teen kinders, soos boelie. Hierdie soort motivering vir die verwerping van geweld teen vroue en kinders (let op hoe die twee kategorieë saamgedink word!) hoor ek alte dikwels agter die veldtogte van diegene wat hulle kwansuis vir vroueregte beywer.

Op ’n sekere vlak hang die morele oproep “Slaan nooit aan ’n vrou nie!” in die heersende diskoers dus saam met die implisiete reël “Slaan maar gerus aan ’n man”; en die veldtog teen die geweld wat uit patriargale waardes voortvloei, met die onderskrywing van daardie einste patriargale waardes. Huidige pogings om geweld teen vroue en kinders te beveg, is dus op ’n diep vlak self-ondermynend. Miskien sal ons eers uit hierdie dilemma ontsnap as ons ons teen geweld as sodanig, eerder as net teen geweld teen sekere seksies van die samelewing, rig. Iets soos 16 Dae van Aktivisme teen Geweld teen Medemense. (En medediere?)

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na [email protected] om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

19 antwoorde op Is geweld teen mans dan OK?

  1. ajhart het gesê op November 25, 2009

    Um, a silly question in our society, really. While you may have been raised to not commit acts of madness on women and children, you’re a minority within a minority.

    Right now in SA a large proportion of violent crimes, sexual assaults, molestation and abuse are committed by men.

    The real question is, considering the stats show that at least one man in your circle has committed one of these acts, are you carrying the non-abuse message to the men you know?

  2. Ek probeer, Jo. Selfs hierbo, meen ek, doen ek dit. Doen jy dit vir sover die boodskap van “non-abuse” ook op mans as slagoffers van geweld betrekking het? (Ek vind dit interessant dat ek met niks verskil wat jy skryf nie, maar dat jy dit aanbied asof jy daarmee met my wil verskil.)

    ‘n Toetsvraag: Is ‘n vrou wat haar man klap net so ‘n groot skurk soos ‘n man wat sy vrou klap? (Ek reken ja.)

  3. Hi Gerrit, baie dankie dat jy hierdie uiters relevante gesprek vanaf die ‘minder gewilde’ invalshoek verhelderend belig! Ek is (as man) saam met jou dit eens dat geweld in geheel – en nie eensydig nie – hanteer moet word … Ek het onlangs navorsing oor manlike identiteit en verwante kwessies gedoen en deel dit graag as bydrae tot die gesprek, by http://www.ngkok.co.za/Artikels/JSvdWatt_DTh_Masculanities.pdf

  4. Dankie dat jy laat weet. En dit nogal by my kollega Daniel Louw! Dit troos my dat ‘n kenner op die gebied, soos jy, darem nie dink ek skryf ‘n klomp nonsens nie. Ek gaan gou inloer by jou navorsing.

  5. Terloops, ‘n deel van jou kommentaar op Tinyiko Maluleke se bloginskrywing in Julie – “Isn’t the gospel this, that we can be liberated from the idol of our manhood, and given a new identity? That means we receive a gift, rather than achieving something. Now that’s liberating!” – bevestig ironies genoeg een van die sleutelpunte in my navorsing, dit is (aangehaal uit die opsomming daarvan):
    Manwees, gesien vanuit ‘n eskatologiese perspektief, is dus meer as viriliteit wat gemanifesteer moet word deur doen-funksies. Die kultureel-bepaalde verstaan van manlikheid – in terme van brutale mag en beheer – word in hierdie opsig ‘ontman’ binne hierdie navorsingstuk. In die lig van Christus se opstanding is daar nuwe hoop vir die herinterpretasie van manlikheid. Die postmoderne man se opstanding word daarom nie gewaarborg deur die “Viagra tower blou pil” nie, maar eintlik deur die opstanding van Christus, wat daagliks nuwe sinvolle dimensies van hoop in die geglobaliseerde lewensmatriks vrystel en bevestig.
    Die krag van manlikheid lê dus in die beliggaming van weerloosheid en wederkerige relasionaliteit, tesame met die weerstand bied teen unilaterale en hiërargiese verhoudings. Binne hierdie konteks is manwees nie gelyk aan die grootte van doelwitte wat bereik is of sukses, prestasie of kragtige penetrasie nie. Nee, manwees omvat eerder die kapasiteit vir liefdevolle, gasvrye verhoudings asook die afmeting van die siel se diepte van karakter, d.i. die kapasiteit daarvan om die ‘moed om te wees’ te beliggaam.

  6. Ou-Top het gesê op November 25, 2009

    Ek sien heelwat ouens wat oor die jare kleiner geword het terwyl hul vrouens al groter geword het. Hulle is gewoonlik poepbang vir hul vrouens, wil of kan die eers saam met ons gaan rugby kyk of visvang nie. Ek vermoed hulle word geslaan by die huis as hulle nie luister nie.
    Iemand het laasjaar hier op n blog geskryf van so n ou, toe word die vrou vinnig en ernstig siek, hy sit in die huis en wag dat die hosptaal moet bel om te sê sy het gesterf. Die oproep kom, maar hulle sê sy het wonderbaarlik herstel en sit met haar tas in die portaal en wag dat hy haar kom haal. Hy staan met die foon in sy hand in die gang en iemand hoor hom prewel,” Maar Here, ons het haar dan in die palm van ons hand gehad en daar kom sy weg.”
    Ja, ek dink dis nogal erger daar buite as wat ons dink.

  7. Ongetwyfeld! Maar dit bly my opval dat ons hierdie soort stories as snaaks ervaar, terwyl ons dieselfde storie, as die geslagte omgeruil was, nie snaaks vind nie, maar eerder “in slegte smaak”. En ek is seker dit het iets met die macho-ideaal te doen. ‘n Man moet dit kan vat. As sy vrou hom verneder, onderdruk, mishandel, dan is hy bowendien ‘n sissie en verdien hy dit, daai soort logika.

  8. Jy mag ‘n punt beet he. Miskien is daar wel waarde daarin om ‘n sterk openbare bootskap uit te stuur wat vir vroue en kinders wat hulle as slagoffers in so ‘n situasie bevind bewus maak dat daar ‘n ander manier is om daarna te kyk: dat daar mans is wat dit nie doen nie, vroue wat dit nie vat nie, ‘n morele raamwerk waarbinne dit verwerp word.

  9. Heeltemal reg.

  10. maskie het gesê op November 25, 2009

    een ding wat baie keer mis gekyk word is die emosienele geweld wat vrouens op mans uithaal .. en dit is baie meer as fisiese geweld en in baie gevalle word dit totaal misgekyk.

    statistiek weerspieel ook nie die ware feite nie. Mans wat misbruik of teen wie geweld plaasvind rapporteer in die meeste gevalle dit nie want dis mos nie hoe ons grootgemaak is nie. So Jo vir geen oomblik kan mens statistiek gebruik om te wil beweer dat meer mans as vrouens die ander party misbruik nie.

    Ek dink waarop gekonsentreer moet word is om geweld en misbruik teenoor kinders te beveg. Dis waar ons aandag moet le en dan kan ons dalk ‘n samelewing tot stand bring waar daar minder geweldadig teenoor mekaar opgetree word.

  11. Ek dink ‘n veldtog teen geweld, fisiek of emosioneel, teen volwassenes of kinders, mans of vroue, is wat nodig is. Breyten Breytenbach het eenkeer na SA as “moermekaarland” verwys; dit was spot-on. Ons wil alles met kragdadigheid oplos, of dit nou misdaad, dissiplineprobleme, verhoudingsprobleme, swak morele waardes of wat ook al is. Intussen vererger ons net al daardie probleme deur geweld as die oplossing te probeer gebruik.

  12. Ek vermoed jy’s een van daai vroue! Hoe definieer jy “daarna soek”?

  13. Ek is nie so seker nie. Dink jy nie geweld teen mans (veral deur vrouens) is veel meer “onder-gedokumenteer” as geweld teen vrouens (deur mans) nie? Dis juis wat my in die heersende diskoers opval: dat geweld deur vrouens, en teen mans, in baie gevalle gewoon nie as geweld erken word nie. En dit geld sowel fisieke as emosionele geweld.

    Dan jou definisie van “soek daarvoor”. Dink jy dit sou aanvaarbaar wees vir ‘n man om ‘n vrou te slaan omdat sy ongevraagd seksuele toenadering soek, haar plig versuim, dronk is of hom beledig? Indien nie, hoekom is die omgekeerde (‘n vrou wat haar man om hierdie redes slaan) dan aanvaarbaar? Dis juis hierdie dubbele standaarde wat ek bevraagteken.

  14. Klink ingewikkeld! Maar net om dit nog ingewikkelder te maak: Die vrye wil (ook van diegene wat nie daaraan glo nie) speel darem ook ‘n rol. En ek dink daardie biologiese faktore word sosiaal gemedieer. Ek betwyfel die algemene aanname dat vroue van nature minder aggressief en gewelddadig as mans is. Ek dink vroulike aggressie en geweld neem wel dikwels ander vorme aan, en dat dit baie keer glad nie as aggressie en geweld erken word nie.

  15. Beste Gerrit, Die deernis en besonderse wyse waarmee jy met hierdie aangeleentheid omgaan is prysenwaardig. Ek hoop net baie meer mense sal dit te lees kry. Dit is ‘n tema wat te maklik onder die maatemmer weggesteek word. Die ergste is dat die mans in stilte swaarkry, want ‘n man gaan bespreek nie maklik sy probleme met ander mans nie. Dankie vir hierdie artikel.

  16. Gerrit ek is getroud met ‘n vrou wat gedurig twis soek. Sy is ook oor alles ontevrede. Sy stuur al die argumente na fisiese geweld toe. Sommmige kere sal sy my probeer klap en met die huisraad gooi. Na agt jaar het ek nog nie my hande vir haar gelig nie, maar glo my dit raak al hoe moeiliker om elke keer weg te stap.

    As ek wegry bombardeer sy my met lelike sms’e. Wat ek probeer se is dat sommige vroue tot die uiterste gaan sodat mans aan hulle kan slaan. Dit het dalk iets te doen met hoe hulle grootgeword het.

    In die proses ly die kinders ook onder die voortslepende twis. Hulle word ook doelbewus benadeel om my in ‘n argument in te trek. Emosioneel word ek tot die uiterste getreiter. Sy het ook alleen praatreg in die huis en ek moet dikwels ander leke se ingeligte menings sluk. Ek het eenkeer vir haar gese dat sy net ‘n goeie pak slae kort.

    Haar onmiddelike woorde was dat ek nog die aand in die tronk sal slaap. Wat ek eintlik wil se is dat sommige vroue hierdie WETTE misbruik om varklik te wees. Mens hoor ook altyd net hulle halwe kant van die storie. Mans word te alle tye as die GROOT VARK in die verhaal uitgewys.

    Ek dink as meeste mans in my skoene was sou hulle al hul vrou ‘n oorveeg gegee het. Daar is wel mans wat hul vroue vir die pret aanrand en dis nie aanvaarbaar nie. In my geval word ek al vir baie jare na geweld gedryf. Ek besef dat mans wat hul vroue vir die eerste keer klap word dikwels daarnatoe gedryf. Daarna word dit ‘n gewoonte as daar ‘n stryery ontstaan.

    Ek dink vroue moet gaan kyk na watter rol hulle speel as daar geweld teen hulle is. Ek het besluit om eerder te skei voordat my vrou se honger na ‘n pak slae my lewe vernietig

  17. Die belangrikste punt vir my is dat daar ‘n verband tussen die (meermale aanvaarde) geweld teen mans, en die (meermale veroordeelde) geweld teen vroue is: albei berus op ‘n sekere verstaan van manlikheid en vroulikheid. Deur stil te bly oor geweld teen mans, of dit minder ernstig op te neem, versterk ons die ideologiese onderbou van geweld teen vroue.

  18. As ek dogters gehad het, sou my raad aan hulle gewees het: Moet nooit toelaat dat ‘n man selfs een keer fisieke geweld teen jou gebruik nie. As dit die eerste keer gebeur, los hom summier en gaan kla hom by die polisie vir aanranding aan, hoe vernederend dit ook al vir jou mag wees. Soos dit is, het ek nie dogters nie, maar seuns. My raad aan hulle sal nie anders wees nie. As hulle kinders het wat dit moet aanskou, des te meer. Dit is elke man en vrou se plig om nie toe te laat dat iemand anders hulle of hul kinders fisiek of emosioneel geweld aandoen nie – en om nie deur sulke geweld self tot geweld uitgelok te word nie, maar eerder weg te stap. Uiteindelik is dit jou eie besluit om te neem (ek ken buitendien nie jou en jou vrou se omstandighede nie), maar ek kan wel sterk aanraai dat jy ook met ‘n professionele terapeut gaan praat om jou daarin te ondersteun.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.