Is geloof toneelspel?

November 19, 2009 in Sonder kategorie

(Die jongste aflewering van my “Geeste”-rubriek in die Kerkbode het onlangs verskyn. Lees dit hier.)

“Is teologie poësie?” vra CS Lewis ’n keer in ’n lesing met dié titel, of is dit meer soos wetenskap? En natuurlik is sy antwoord dat daar in albei vergelykings iets steek, maar dat teologie – mense se woorde oor God – uiteindelik tog iets heel eiesoortigs is.

GK Chesterton gebruik ’n ander vergelyking: In sy biografie St Francis of Assisi skryf hy Fransiskus se geloof was “nie soos ’n teorie nie, maar soos ’n liefdesverhouding” (iets wat Vincent Brümmer in die opdrag van sy boek What are we Doing when we Pray? ook op die geloof van die NG kerkvaders John Murray, Nicolaas Hofmeyr en Andrew Murray van toepassing maak).

Self wonder ek al geruime tyd of geloof nie met toneelspel vergelyk kan word nie.

Shakespeare verklaar mos (in As you Like it): “All the world’s a stage, / And all the men and women merely players: / They have their exits and their entrances; / And one man in his time plays many parts …” S? sit die wêreld in mekaar: soos ’n verhoog waarop die “drama” van ons lewe hom afspeel. Ons alledaagse taalgebruik weerspieël dit. Ons praat van die “rol” wat iemand speel, hoe mense “optree”, die “agtergrond” waarteen hulle dit doen.

Is geloof dalk om toneel te speel, om te “leef asof”? Asof God “die Vader, die Almagtige, Skepper van die hemel en die aarde” is; asof Jesus die “Christus”, God se “eniggebore Seun, ons Here” is; asof Hy “opgestaan het uit die dode, opgevaar het na die hemel, en sit aan die regterhand van God …”; kortom: asof die dinge wat Christene bely waar is?

Dis dalk te veel gesê, want mense wat hierdie dinge bely, leef nie altyd asof hulle dit regtig glo nie. Watter gelowige leef regtig deurgaans “asof”? Die gevaar, wanneer geloof as “optrede” voorgestel word, is dat dit tot ’n prestasie verwring word – ’n manier om God se goedkeuring te wen. Soos in ’n oudisie …

Nederiger sou ’n mens dalk kan sê: geloof is om te probéér “leef asof”. Om te oefen (en dalk al hoe beter te word?) daarmee. Volgens ’n populêre definisie is ’n dissipel iemand wat leer hoe om in God se koninkryk te leef. Om die verbeelding vir hierdie soort oefening op te skerp het Jesus telkens sy gelykenisse ingelei met die woorde: “Die koninkryk van God is soos …” Asof Hy sy hoorders wil aanspoor om te vra: Hoe sou ’n mens in dáárdie soort wêreld optree? Wat sou ’n mens se rol wees?

Hoeveel gelowiges kan egter eerlik sê dat hulle, ook wanneer hulle dit nie regkry om te “leef asof” nie, ten minste probeer? Nee wat, as dit is wat geloof beteken, bestaan daar nie iets soos gelowiges nie.

Miskien is geloof dan nie om te “leef asof” nie, en ook nie om te probéér “leef asof” nie, maar eerder om jou daartoe genoop, geroepe, te voel om te probeer. Maar hoe kom dit?

Die teoloog Hans Urs von Baltasar praat van die heilsgebeure waarvan die Bybel getuig as ’n “Teodrama” – die verhaal van God se verskyning op die verhoog van die geskiedenis. Nie dat God nie al die tyd al as dramaturg, vervaardiger en regisseur betrokke was nie; “teater van sy glorie,” het Calvyn die skepping genoem. Die punt is dat nie ons nie, maar God, die inisiatief in hierdie drama neem.

’n Mens gaan kyk toneelstukke óf om aan die werklikheid te ontsnap, óf om nuwe perspektief op die werklikheid te kry. Maar gestel jy sou tot die oortuiging, of selfs net die vermoede, kom dat die toneelstuk waarna jy kyk, waardeur jy meegesleur en betrek word, die eintlike werklikheid is?

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na [email protected] om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

23 antwoorde op Is geloof toneelspel?

  1. Toneel en drama is nie die werklikheid nie. Maar die gehoor dooen iets wat genoem word “willing suspension of disbelief” m.a.w. hulle weet hulle is in ‘n teater, maar hulle is bereid om hulle totaal in te leef in die gebeure op die verhoog, totdat die ligte weer aankom.
    Ek waardeer jou vergelyking van geloof en teater, maar ek moet erken dit stem my ongemaklik. Geloof is per slot van rekening presies dit. Geloof in iets waarvoor jy nie altyd redelike bewyse of verduidelikings het nie. Baie van my vriende wat stoei met geloof se vraag is atyd: Hoe WEET ek? En die antwoord is, jy weet nie, jy moet glo.
    En ek is ongemaklik met jou vergelyking omdat ek juis nie wil twyfel nie. Maar as ek my geloof met ‘n toneelstuk moet vergelyk… Nou ja. Ek weet mos toneel is nie waar nie…
    Maar as alles wat ons “glo” wel waar is? Dan is dit tyd om ernstig te raak oor dit wat ons as Christene belei en doen.

  2. Geloof is nie toneelspel nie, dis “soos” toneelspel. Daarin is geloof nie uniek nie. Alle lewensvorme – wetenskap, persoonlike verhoudings, noem maar op – is eweseer (soos) toneelspel: dit behels ‘n “doen asof”. Geloof is dus nie meer “twyfelbaar” as ander lewensvorme nie. Maar nes ander lewensvorme is dit ook nie immuun teen twyfel nie. Trouens, twyfel is ‘n funksie van geloof.

  3. Dankie. Ek hoor jou. En ja… Twyfel is deel van geloof, maar moet dit dan nou partykeer so ‘n groot deel wees?

  4. Ek hou van die vergelyking.
    Ek verstaan geloof (soms/onder andere) as ‘n oefening in verbeeldingskrag – en ek wonder of dit raakpunte het met jou vergelyking.
    Geloof sou dan wees om ons te verbeel dat die werklikheid ook anders kan wees as dit wat ons net om ons sien en ervaar. Natuurlik is hierdie verbeelding nie iets wat ons sommer net opmaak nie, maar ons verbeelding word gestimuleer deur die geloofstradisie waarin ons staan, die getuienisse van ander mense met verbeeldingskrag (waarvan ons ook lees in die Bybel), en ek wil amper byvoeg, die Heilige Gees ook (maar dalk moet ek myself dan te veel dogmaties verantwoord).
    Die ooglopende raakpunt is dalk die volgende: wanneer iemand (regtig?) aangegryp word deur hierdie verbeelding word dit inderwaarheid die werklikheid – leef hulle “asof” dit die werklikheid is.

    En partykeer dink ek eredienste op Sondae behoort niks anders te wees as ‘n plek waar mense se verbeeldings ge’stretch’ word nie.

  5. Wetenskap is sekerlik nie ‘n “doen asof” nie! D.m.v. die wetenskaplike proses, kom ons steeds nader aan ‘n reële werklikheid. Om mense op die maan laat land is níe ‘n “doen asof” nie.

  6. Ek hou daarvan: Geloof is om jou te verbeel! In die etiek word dikwels van die noodsaak van verbeelding gepraat, van “morele visie”. (Die naam van my blog sinspeel nie net op die belang van denke [“Dink tog net!”] nie, maar ook op die verbeelding: “Dink net …”) Ook wetenskapshistorici wys op die belang van verbeelding by groot wetenskaplike ontdekkings.

  7. Mens kry toneelspel en toneelspel … Het jy al “Godspell” gesien?

  8. Geloof is nie kennis nie – per definisie. Sodra iets “kennis” word, is geloof oorbodig. Sou ek wéét dat God bestaan, sou ek nie hoef te glo nie. In die afwesigheid van enige objektiewe kennis van God, is daar niks om aan te glo nie. Anders is die geloof aan feetjies net so geldig as geloof in God.

  9. Wetenskap is wel ‘n “doen asof”. Wanneer ‘n mens die werklikheid mbv wetenskaplike metodes ondersoek, gaan jy daarvan uit (doen jy asof) die werklikheid reelmatig, kenbaar en verklaarbaar is, asof daar ‘n objektiewe werklikheid is (dat dit nie net ons verbeelding of ‘n droom is nie) en so meer. ‘n Mens kan daardie aannames nie binne die wetenskap self bevraagteken nie, want die wetenskap word daardeur gekonstitueer. Om die konstituerende aannames van die wetenskap as ‘n praktyk of lewensvorm wetenskaplik te wil toets, sal op ‘n sirkelredenasie neerkom.

  10. Nou kry ek skaam vir my eie gebrek aan verbeelding (of interpretasie) omdat ek nog nooit die dubbelsinnigheid in die blog-naam raakgelees het nie…

    En dan, terwyl ek op die punt van interpretasie/hermeneutiek is, laat beide die vergelykings (toneelspel en verbeelding) baie ruimte vir besinning oor hermeneutiek. In toneelspel, soos meeste kunsvorme, kan ons net die ooglopende betekenisse raaksien, of ook dié wat meer subtiel en verskuil is. Wat betref verbeelding: ‘n mens sou keer op keer nuut kan verbeel en verbeeldings sou ook uiteenlopend van mekaar (mag) verskil, en ewe legitiem wees.

    As dit nou alles op geloof van toepassing is, of gemaak word, wel… hoe opwindend!

  11. Ek stem nie saam nie. As jy kennis as absolute sekerheid definieer, en geloof as die afwesigheid daarvan, dan kan die meeste wetenskaplike (en ander) kennis wat ons het nie meer as kennis beskryf word nie. Ek definieer kennis (om te weet) as ware geloof (om iets te glo wat waar is). As jy iets glo en dit is ook waar, dan weet jy dit. Om iets te glo is dan deel van wat dit beteken om iets te weet. As jy iets glo, maar dis nie waar nie, dan weet jy dit nie. Verskillende mense kan dus saamstem oor of persoon X iets glo, maar verskil oor of persoon X dit weet. Persoon X sal egter van alles wat hy/sy glo, ook se dat hy/sy dit weet. Die gelowige (en sy/haar medegelowiges) sal se hy/sy weet dat God bestaan (wat impliseer dat hy/sy dit glo), terwyl ateiste sal se die gelowige glo dit, maar weet dit nie. Net so sal die ateis se hy/sy weet God bestaan nie (wat impliseer dat hy/sy dit glo), maar gelowiges sal se dat, hoewel die ateis dit glo, hy/sy dit nie weet nie.

  12. In een opsig is jy (vuurklip) natuurlik reg dat geloof nie kennis is nie: geloof is meer as kennis. Dis ook vertroue, toe-eiening, verbintenis. Geloof as ‘belief’ is net een deel van geloof as ‘faith’.

  13. Ag, verlang ek nou na my filosofie dae in Anton van Niekerk se klas…….sug……..dis donners lekker om hier te lees……dankie. En ek weet ek dra nou nie juis by tot die gesprek nie….weldra. eendag.

  14. Anton sal bly wees om te hoor dat jy sulke mooi dinge van hom skryf! Ja, hy kan ‘n lesing gee.

  15. Maar die Nuwe Testament wil Jesus “totaal vermenslik”. In die NT, en in die ortodokse Christelike tradisie, is Jesus nooit as minder menslik voorgestel namate hy as meer Goddelik gesien is nie. Dis die hele punt van die “vere deus, vere homo”: Jesus is heeltemal mens en heeltemal God. En dis as mens dat hy God is.

  16. Die Christelike geloof het te maak met werklikhede: die lewende, almagtige, heilige, soewereine, drie-enige onbegryplike skepper-God en sy skepping (ingesluit die mens wat volkome goed en wonderlike geskep is, maar wat as gevolg van sy/haar eie keuse onherroeplik met sonde besmet is). Die Bybel en die geskiedenis vertel ‘n ongelooflike verhaal van hoe hierdie God, ondanks die mensdom se arrogansie, domheid, doofheid en blindheid, die mensdom nie afgeskryf het nie, maar verlossing en hoop en herstelde verhoudings moontlik gemaak het. Dis soos jy sê: “God neem die inisiatief in hierdie drama” – maar uiteindelik IS dit die “eintlike werklikheid”. As ek dit begryp, is hier geen plek vir toneelspel nie: geloof het inhoud (dit het te maak met werklikhede) en dit het te maak met werklike verhoudings (om God en my medemens lief te hê – liefde soos beskryf in 1 Kor 13:4-7).
    DC Coetsee

  17. Volgens die Nuwe Testament sit Chritus AS MENS aan die rgterhand van die Vader. Die menswording is nie opgehef in sy opstanding en verheerliking nie. Christus bly vir altyd God en mens; daardie band word nooit weer gebreek nie.

  18. My vergelyking van geloof met toneelspel wil nie iets oor die waarheid of valsheid van die geloof laat blyk nie, maar oor die manier waarop geloof as lewensvorm met waarheidsaansprake as konstituerende voorveronderstellings saamhang.

  19. En dankie vir jou vriendelike terugvoering! (Kritiek en meningsverskil is net so welkom.)

  20. Nee, jy doen nie “asof” nie – jy ondersoek die reëlmaat, probeer verklaar, probeer die reële wereld benader.

  21. Jy beskryf die praktyk, die lewensvorm, die taalspel, van die empiriese wetenskap. Ek praat oor die voorveronderstellings waarop daardie praktyk berus. Voorveronderstellings soos dat die werklikheid wat jy waarneem werklik bestaan, dat daar ‘n reelmaat is om te ontdek, dat daar oorsaak en gevolg is, dat daar ‘n ware verklaring vir elke verskynsel is, dat die metode van hipoteses stel en hulle toets die aangewese manier is om nader aan die waarheid te beweeg. Dis alles, soos Karl Popper betoog het (maar jy kan maar Hume ook daaroor lees), is aannames wat nie empiries getoets kan word nie, want sodra jy dit empiries wil toets, neem jy reeds aan dat die aannames korrek is, en verval jy dus in ‘n sirkelredenasie.

  22. Hierdie is ‘n bietjie van ‘n eierdans! As jy iets glo, is dit onafhankild daarvan of dit waar is of nie. Jy kan nie weet of God bestaan nie – jy kan net glo. Al bestaan hy nie, kan jy steeds glo. Daar is wel nie so iets as absolute sekerheid tov enige wete nie, maar ons tree op binne die beperkinge van wat ons wel weet, bv hoe die Sonnestelsel inmekaar steek sodat ons instrumente op Mars kan laat land. Suiwer denkende Ateïste beweer nie dat God nie bestaan nie – dis net dat hy/sy nie glo nie – God mag wel deeglik bestaan, maar in die afwesigheid van getuienis, hoef jy dit nie te aanvaar nie. In die afwesigheid van objektiewe getuienis is daar ‘n probleem om te bepaal waar jy die streep trek tov wat om te aanvaar of nie.

  23. Jy skryf: “God mag wel deeglik bestaan, maar in die afwesigheid van getuienis, hoef jy dit nie te aanvaar nie.” Ek stem saam. Jy hoef nie. Dis eintlik my hele punt. Daar is in ons elkeen se mondering goed wat ons as die waarheid aanvaar wat ons, of ander mense, nie “hoef” te glo nie. Elke lewensvorm, elke praktyk, berus op sulke aannames.

    “Eierdans”? Ek dink nie so nie. Ek tref ‘n baie “straight forward” onderskeid tussen 1) wat die geval is, 2) wat iemand dink die geval is en 3) wat ander mense dink oor wat ander dink oor wat die geval is. Wanneer jy dink iets is die geval, dan glo jy dit. Wanneer dit wat jy dink die geval is inderdaad ook die geval is, dan glo jy dit nie net nie (dit ook), maar jy weet dit. Wanneer ek dink/glo dat wat jy dink/glo die geval is wel die geval is, dan dink/glo ek dat jy dit weet. Wanneer ek dink/glo dat wat jy dink/glo die geval is nie die geval is nie, dan dink/glo ek dat jy dit nie weet nie, al dink/glo jy dat jy dit wel weet. Daar is nie ‘n “objektiewe” staanplek hierbuite van waar ‘n mens aan hierdie kompleksiteit kan ontsnap nie.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.