These Gauls are crazy

November 16, 2009 in Sonder kategorie

Toe ek Vrydagaand die uitvoering van die Suid-Afrikaanse en Franse volkslied voor die rugbytoets sien, was dit vir my duidelik dat dit doelbewus so deur die Franse beplan is: Kry ’n ou wat nie kan sing nie, en selfs nie die woorde ken nie, om die SA volkslied lagwekkend uit te voer. Volg dit dan op met die Franse volkslied soos opruiend gesing deur ’n dawerende topklas-tenoor. Daarna kom dan ’n gewyde oomblik van stilte – ek weet nou nog nie vir wie dit was nie – en dan die hoogtepunt: ’n Hane-span wat so aangevuur is dat selfs nie die beste span in die wêreld hulle kan wen nie. (Of die Franse ook agter die keuse van Schalk Burger in die Springbokspan gesit het, kan ek nie met sekerheid sê nie, maar dit was wel tot hul voordeel.)

Wat my nou opval van Suid-Afrikaners is dat hulle die SA ambassade in Frankryk verantwoordelik hou. Tipies van ons nasie: die fout moet iewers by ons lê. Die ambassade het maar net ’n lys van SA sangers in Frankryk beskikbaar gestel. Daaruit is die sanger gekies. Die keuse is ?f sonder, ?f (vir my meer waarskynlik) op grond van, ’n oudisie gedoen, en geoefen is daar kennelik nie. Dit was ’n berekende poging om SA te verneder en Frankryk op te hemel. So eenvoudig is dit myns insiens.

Nog iets wat my van my landgenote se reaksie tref, is hul geaffronteerdheid: so asof die een of ander vorm van heiligskennis gepleeg is. Maar die volkslied is tog net so min heilig soos die vlag of die staat, is dit nie? As mense wil kwaad wees, laat dit dan wees omdat ’n mooi lied lelik gesing is, of omdat die Franse so ooglopend hul mag as gasheer misbruik het vir ’n nasionalistiese skouspel ten koste van hul gaste.

Maar dis net as mense nou regtig kwaad moet wees. Eintlik was die hele petalje vir my nogal vrek snaaks.

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na [email protected] om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

26 antwoorde op These Gauls are crazy

  1. Ja, op die een of ander manier hou ek nogal van daai Rasta se selfvertroue!

  2. Om nie eers te praat van Can Kowski or can’t he nie

  3. Daai rasta is ‘n inspirasie. Hy hou vol hy het mooi gesing, en hoekom nie? Moet hy nou jammer s^e? natuurlik nie; hulle het hom gevra om te sing, en toe sing hy. Maar ja, die Franse verstaan kultuurpolitiek… Ek verstaan net nie waarom iemand nog nie vantevore aan volkslied sabbotasie gedink het nie?! Dit is, soos jy uitwys, ‘n briljante strategie! Van nou af moet alle spanne maar liefs hulle eie sanger en backtracks saamneem. Net vir in geval.

  4. gelukkig tog het ek die hele ding gemis, en hoor nou net die naskokke galm. daar is baie belangriker dinge in die wêreld om oor opgewonde te raak…

  5. As ons dit met die Marsellaise gedoen het, het dit aanleiding gegee tot die derde wereldoorlog.

  6. Ek dink jy’s reg, maar ek dink nie dit strek die Franse tot eer nie. Nasionalisme bly maar ‘n lelike ding.

  7. Dis eintlik jammer jy’t dit misgeloop. Dit was regtig snaaks.

  8. En het ek gewroeg oor my Engelse opskrif! Dit kom van die Asterix-reeks af, waar die Galiers dikwels opmerk: “These Romans are crazy.” Maar dis natuurlik nie in Engels geskryf nie. Ek sou eintlik graag die oorspronklike Frans wou gebruik, maar ek weet nie wat dit is nie, want ek besit nie ‘n Franse Asterix-boek nie. ‘n Paar Asterix-boeke is al in Afrikaans vertaal, maar die vertalings is baie wisselvallig en onvolledig, en as ‘n mens daardie geykte frase in Afrikaans aanhaal, sal mense waarskynlik nie die konneksie maak nie.

  9. Ek hou van die sabotasie-idee. Laat die gasheerspan altyd die ander span se volkslied probeer belaglik maak. Dit sal die nodige humor inbring om die hele konsep van volksliedere so belaglik te laat lyk soos dit is. En dit kan groot pret wees. Ek nomineer die Kompleks-span vir die volgende uitvoering van die Franse volkslied.

  10. Absoluut! Ek wou sy naam ook noem, maar ek weet hoe mens dit spel nie. Ek moet toegee hy’t later beter gevaar – toe hy van die veld af was.

  11. Daar was wel ‘n baie sterk stormwind hier in Stellenbosch gisteraand, maar ons het dit oorleef, en die son het toe weer opgekom, ja. Ek onthou daai dae. Vreeslike sonde as die vlag na sononder nog hang of natreen. En mense wat die vlag verbrand het, is sommer tronk toe. Afgodery.

  12. kuypers het gesê op November 16, 2009

    Een van die sielvolste antieke beeldhouwerke is “The Dying Gaul”. Opvallend is die tipiese haarstyl en moustage –hare was lank gedra en met ‘n kleimengsel in sulke lang slierte gemaak – so amper Rasta-agtig. Wonder nou maar net is ons “To Loose Rata” dalk ‘n afstammeling van daardie een. En o,ja, ek kon ook geen snars van ons Rasta se singery verstaan nie. Het hy dalk in ‘n geheime Keltiese taal gesing?

  13. Ek dink jy’t ‘n belowende teorie daar beet! Vanmiddag hoor ek op die radio mense praat van die “verleentheid” wat in die toekoms voorkom moet word. Vir wie is dit ‘n verleentheid? Vir die sanger dalk, ja, en vir die Franse. Maar beslis nie vir my nie.

  14. Ja. Hy is nou sonder twyfel die voorste aanspraakmaker op daardie plek.

  15. Ek het pas die leserskommentaar onder ‘n berig oor hierdie onderwerp iewers anders op die internet gelees. Ek vind die vlak van Suid-Afrikaners se woede en die beledigings wat hulle die sanger toesnou daar veel meer onthutsend as die arme man se vrot sang. Soos dit maar gaan met swak sang in die openbaar, was hierdie ook ‘hillarious’. Maar wat is dit met Suid-Afrikaners en woede?! Hoe kwaad kan ‘n mens nou regtig oor so iets raak?! Dit is in elk geval onregverdig om, soos op daardie webblad waarna ek verwys, die heeltyd te fokus op die feit dat die man ‘n rastafarier is en dan sy beweerde dwelmgebruik nie. Reggae is ‘n wonderlike idioom, en ‘n GOEIE reggae volkslied kan dalk net die ding doen!!

  16. Ja, en as daar meer Rastafariers in SA was, sou ons land waarskynlik ‘n mensliker plek gewees het om in te woon. Minder woedend, minder gewelddadig, minder materialisties, meer anti-empire. Ek begin nou dink hulle moet daardie Rasta-sanger uit Frankryk bring om by die Sokkerbeker-wedstryde waarin SA speel weer ons volkslied te sing!

  17. gcv het gesê op November 16, 2009

    Julle mis die punt! Hierdie ou is nes Malema, slimmer as wat ons dink. Kyk maar ‘n bietjie hoe gaan sy CD-verkope nou die hoogte in skiet. Hy laat my dink aan Florence Foster Jenkins (luister na http://www.youtube.com/watch?v=MM6qntPpyZ0&feature=related) – wie op die ou einde baie suksesvol was net omdat sy so verstommend swak gesing het!

  18. Afrikaners (Suid-Afrikaners)is duidelik nie meer so plesierig nie………hulle sou dit dalk net snaaks gevind het as dit in ‘n Schuster movie voorgekom het…..en die sanger te veel kerrie vooraf gehad het en dan nog op die maat van die lied gepo..p het. Net Schuster mag. Sela.

  19. Komodo het gesê op November 17, 2009

    Bwahahahaha!
    Janee, dis selfs OK om op ‘n Springboktrui te kots.
    Of nee wag, dit was net by wyse van spreke. Om veragting te betoon.

    Erens se my gevoel vir my dat iemand besig was om vir Suid-Afrika ‘n middelvinger te wys. En nee, some of us didn’t get it, it seems. Ons vind dit pragtig en oorspronklik.

    Mooi man.

    Ja man, en nasionalisme is ‘n vieslike ding. Kyk hoe het dit die Franse opgesweep. Die nare Hane het met nasionalistiese vuur soos ware barbare tekere gegaanen die arme Bokkies skoon van die veld af geboelie. Miskien moet ons volgende keer ook ‘n bietjie nasionalisme toelaat, al wettig ons dit net vir die arme bokkies?

  20. Die punt wat ek in my inskrywing hierbo maak, is juis dat iemand (die Franse) “‘n middelvinger vir SA gewys” het. Vind jy dit nie snaaks nie? OK dan, mense vind verskillende goed snaaks. Dat nasionalisme mense kan opsweep, het ek nog nooit betwyfel nie. Selfs nie dat dit in rugby nogal nuttig kan wees nie – inteendeel! (Ek dink, terloops, die hele doel met kompeterende spansport is om ‘n uitlaatklep vir barbaarse sentimente soos nasionalisme te bied.) Maar ek dink wel nasionalisme word te ernstig opgeneem as mense woedend daaroor raak. Nasionalisme is immer inherent belaglik. Of so beleef ek dit ten minste.

  21. Ja, Suid-Afrikaners sukkel met lag as dit by hul heilige koeie kom. Dis nie anders met ander stamme nie.

  22. Ek hoop eintlik vir sy part so. Maar sjoe, hy kan regtig nie sing nie. Op Cape Talk het hy oor die telefoon weer ‘n keer probeer (omdat hy beweer het hy kon homself op die rugbyveld nie hoor nie), en dit het maar dieselfde geklink.

  23. Vetjan het gesê op November 17, 2009

    Hahaha, maar ou Ras Dumisani het wondere gedoen vir nasiebou , dis seker die eerste keer dat die jong kommuniste liga en die gemiddelde rugby ondersteuner roerend eens is oor iets 🙂

  24. Daar het jy dit!

  25. Komodo het gesê op November 18, 2009

    Is dit nie ‘n vorm van nasionalisme wat jou noop om saam te stem daarmee dat ‘n gedeelte van die geld wat jy aan nasionale en plaaslike belasting afstaan vir jou medelandgenote se gesondheidskoste, kindertoelae en gratis water en krag aangewend word nie? Hoekom vind jy nasionalsime belaglik?

  26. Ek vind nasionalisme belaglik omdit dit belaglik is – dit laat mens lag (en huil). Met nasionalisme bedoel ek nie ‘n staat wat maatskaplike versorging doen (die belastingkwessie wat jy opper) nie. Ek bedoel verering van die nasie, verheerliking van die (en ‘n spesifieke) nasiestaat, ‘n verabsolutering van nasionale identiteit. Ek dink as die nasie ‘n alte groot rol in iemand se identiteitsbesef speel, daardie persoon ‘n nasionalis is. Praktyke wat nasionalisme uitdruk en versterk, is volksliedere, vlae, landswapens, marsjerende soldate, daai soort ding. Daarom dink ek dis goed om sulke dinge nie te ernstig op te neem nie. Dis afgodediens. Die enigste soort volksliefde wat ek in ‘n mate kan verstaan, is wat Van Wyk Louw in gedagte gehad het toe hy geskryf het ‘n mens het jou volk lief “om sy ellende”.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.